Saartjie se dapper daad
Bettie Naudé
Dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis teen die heuwel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Op ’n helder, sonnige dag kan ’n mens vanuit Saartjie se venster op die boonste verdieping Johannesburg se wolkekrabbers sien. Lynnekom word as ’n voorstad van Johannesburg beskou, maar dit is ’n stil plekkie met ’n tipies plattelandse atmosfeer. Al die inwoners ken mekaar en kom goed oor die weg. Op die oomblik is die hele vallei in ’n sagte, rooi skynsel gehul. Dit is skemer – ’n tyd van vrede. Maar skielik word die stilte verbreek deur ’n klavier wat hard in dokter Baumann se huis gespeel word. ’n Opgewekte deuntjie weerklink deur die buurt. Dan begin iemand sing. Dis ’n pragtige, suiwer stem. Menige inwoner se voete begin op maat van die vrolike musiek tik. Hulle glimlag en sê met ’n teer kyk in die oë: “Die Saartjie... Ai, dié Saartjie...”
Die Saartjie-reeks
1. Saartjie
2. Saartjie se vakansie
3. Saartjie se geheim
4. Saartjie se donkie
5. Saartjie se nuwe maat
6. Saartjie se slim plan
7. Saartjie se papegaai
8. Saartjie se held
9. Saartjie se geveg
10. Saartjie se skatte
11. Saartjie se kliek
12. Saartjie se kêrel
13. Saartjie se dapper daad
14. Saartjie se piekniek
15. Saartjie se prys
16. Saartjie se moleste
17. Saartjie se dagboek
18. Saartjie se gevaar
19. Saartjie se verjaarsdag
20. Saartjie se drome
21. Saartjie se sirkus
22. Saartjie se boetie
23. Saartjie se wedstryd
24. Saartjie se afskeid
Inhoud
Hoofstuk 1
Kris het probleme
Hoofstuk 2
Saartjie probeer help
Hoofstuk 3
Lynnekom se spoke (1)
Hoofstuk 4
Lynnekom se spoke (2)
Hoofstuk 5
Peter van Zimbabwe
Hoofstuk 6
Saartjie en Peter
Hoofstuk 7
Avonture in die stad
Hoofstuk 8
Saartjie se dapper daad
1
Kris het probleme
Die veertienjarige Saartjie Baumann klim by Lynnekom se halte van die bus af. Sy dra ’n ligblou rok wat presies dieselfde kleur as haar oë is. Saartjie het ’n seldsame kombinasie van blou oë en donker hare. ’n Aantreklike ry sproete versier haar effense wipneus se brug. Wanneer sy soos nou glimlag, verskyn daar twee sjarmante kuiltjies in haar wange. Saartjie glimlag oor die fliek wat sy vanmiddag gesien het. Dit was pragtig! Anna en Lina sou dit só geniet het! Saartjie is vanmiddag alleen in stad toe, want haar twee boesemvriendinne kon nie saamgaan nie. Anna mag vir vier Saterdae nie gaan fliek nie, want sy het te swak in hul laaste toetsreeks gevaar. Nou is dit haar straf. Lina kon nie saamgaan nie, want sy moes saam met haar ouers by “die kwaaiste oom en tannie in die hele wêreld” gaan kuier. Hulle besoek hierdie oom en tannie van haar een keer ’n maand en Lina is altyd nors daaroor. Sy het Saartjie al baie saamgenooi, maar Saartjie stel nie daarin belang om ook onder die knorrige oom en tannie deur te loop nie! Saartjie Baumann, Anna Strydom en Lina Rens is gedurig bymekaar. Hulle was saam op laerskool hier in Lynnekom, en hulle is nou ook saam by die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad. Lynnekom is ’n voorstad van Johannesburg en hulle drie is hier bekend – of is dit miskien berug? – as die Drie Muskiete. Saartjie loop nog steeds glimlaggend en dink aan die pragtige film wat sy vanmiddag gesien het. Dit was vir haar wonderlik toe die heldin sommer reg aan
die begin van die fliek vir die ryk man met die groot snor sê: “Ek wil nie met jou dans nie,” en na die arm man toe omdraai en sê: “Ek sal graag met jou wil dans.” Saartjie kry weer lekker terwyl sy aan daardie toneel dink. Die pragtige heldin se voorgevoel was reg. Sy het dadelik geweet die een man is ’n goeie mens en die ander ene nie, én dat rykdom niks met die saak te doen het nie. Later het dit dan ook uitgekom dat die ryk man die skurk is, en die arm ou die held. Saartjie stap ingedagte. Sy het ’n baie sterk verbeeldingskrag en beweeg nou in ’n droomwêreld van haar eie. Sy beleef weer die insidente in die film en verbeel haar sy is die heldin. Saartjie maak nou net soos die heldin in die storie gemaak het, toe sy by die yslike danssaal ingestap het. Sy knik vriendelik met haar kop vir al die dansende pare wat stil gaan staan om haar skoonheid te bewonder. Sy stap trots en regop met die stil straat in Lynnekom af en knik grasieus met haar kop – eers na die een kant en dan na die ander kant toe. Sy maak ook elke nou en dan ’n elegante buiginkie. Saartjie spring nou vorentoe in die storie en beleef weer een van die laaste tonele waarin die heldin se oë soos kole vuur gloei en sy vir die ryk man sê: “Leave me alone! I hate cowards!” Dit was fantasties! Saartjie het gevoel sy wil sommer daar, ín die fliek, begin juig en hande klap. Sy het toe sommer geweet die film gaan ’n gelukkige einde hê. Maar vroeër was Saartjie bekommerd, want nadat hulle die eerste keer vasgesit het, het die ryk man met sy snor, sjarmante maniere en baie geld, later ’n goeie indruk op die heldin begin maak. Sy het al meer saam met hom begin uitgaan en al minder saam met die arm ou. Maar een aand is sy en die ryk man deur ’n bende voorgekeer. Dis tóé dat die heldin sien wat ’n lafaard hierdie man is. Sy bly trots en regop staan terwyl hulle haar met ’n rewolwer dreig en haar pêrels van haar nek afruk. Maar die ryk man slaan in sweet uit en smeek om genade. Toe die bende in hul motor wegjaag, draai die heldin na die bewende man langs haar en sê vir hom dat sy lafaards haat.
Só het sy uitgevind vir wie sy regtig lief is. Sy het dadelik teruggegaan na die arm man toe. Die prent eindig waar hulle in mekaar se arms voor hul huisie by die see staan en kyk hoe die son die weste rooi inkleur, en stadig in die oseaan wegsink, terwyl daar die mooiste dromerige musiek speel. Dit was vir Saartjie ’n absoluut wonderlike fliek. Sy loop nou daaraan en dink dat sy ook net soos die heldin reeds aan die begin gesien het die man met die snor is nie watwonders nie, al het hy so baie geld. Saartjie weet nie hoekom nie, maar sy beskou iemand met ’n snor altyd as ’n skelm. Miskien is dit as gevolg van al die boeke en flieks waarin die skurk altyd so ’n welige snor het. Maar daardie toneel – en Saartjie glimlag sommer weer – waarin die heldin se oë so vlam, en sy vir die man met die snor sê om haar uit te los want sy haat lafaards, sal sy nooit vergeet nie! Saartjie is nou naby die Baumanns se groot dubbelverdiepinghuis. Sy kom by Anna-hulle se huis, maar is salig onbewus van haar omgewing. Sy lewe haar totaal in in die film se gebeure. Sy gaan staan stil en gooi haar kop onwillekeurig effens agtertoe. Dit is mos wat die heldin gedoen het net ná die bende weggejaag het. In haar verbeelding kyk sy nou stip na die ou met die snor. Saartjie se oë vlam. Sy maak ’n verergde handgebaar en sê: “Leave me alone! I hate cowards!” Sy dink sy speel net so skitterend toneel soos daardie wêreldberoemde Hollywood-aktrise in die film. Saartjie is só verdiep in haar eie droomwêreld dat sy glad nie die sproetgesig by die Strydoms se hekkie raaksien nie. Dis Muggie, Anna se sesjarige sussie. Muggie maak die wêreld soms baie moeilik vir Saartjie-hulle, want sy wil altyd oral saam met hulle heen gaan. As hulle weier, sit die astrante klein snip só ’n keel op dat ’n mens se ore dit nie kan hou nie. Muggie staan en gaap Saartjie oopmond aan. Saartjie beleef nou weer die toneel
waarin die heldin en die man van haar drome (die arm een sonder ’n snor) in mekaar se arms na die sonsondergang oor die see staan en staar terwyl daar sagte musiek op die agtergrond speel. Daar is ’n veraf blik in Saartjie se oë en ’n soet glimlag speel om haar mondhoeke. Skielik wip sy soos sy skrik, want hier reg by haar hoor sy Muggie se skril stemmetjie: “Haai, wat maak jy?” Muggie se woorde ruk Saartjie terug uit haar droomwêreld. Sy grinnik verleë vir Muggie wat haar so fronsend dophou. “Haai,” sê Saartjie, “ek het jou sowaar nie eers gesien nie.” “Ek weet jy het nie,” sê Muggie. “Wat het jy gedoen?” “Hoe bedoel jy wat het ek gedoen?” “Hoekom het jy so gestaan en jou hand geswaai en goete in Engels gesê en toe weer net so gestaan en soos ’n siek hoender gelyk?” Saartjie lag. Dit moes baie snaaks gelyk het! Dan maak sy keel skoon en sê uit die hoogte: “Ek het diep gedink, Muggie.” “Waaroor?” “Sommer oor dinge – goed wat niks met jou te doen het nie,” antwoord Saartjie en begin aanstap. Muggie brom en Saartjie glimlag net toe sy iets hoor van “simpel mense wat in die straat gaan staan en hul arms swaai en met hulleself praat.” Saartjie is maar bly dis net Muggie wat haar gesien het en nie een van die ouer kinders nie. Hulle sou haar weer vir hoe lank daaroor gespot het. Die sypaadjie wat voor Saartjie-hulle se huis verbygaan, is met groot betonblokke geplavei. Sy sug en gaan staan toe sy by die plek kom waar die plaveisel begin. Dit is nou al jare, vandat die blokke daar gelê is, haar selfopgelegde taak om nooit daaroor te loop nie, maar altyd te spring – en as
haar voet dan aan een van die gleuwe tussen die blokke raak, moet sy weer van voor af begin. Die hele Lynnekom ken hierdie snaakse gewoonte van haar en almal dink dit is maar simpel. Saartjie dink ook so, maar sy kan eenvoudig nie sover kom om net gewoonweg oor die blokke te loop nie. Sy verbeel haar die vreeslikste ongelukke sal haar dan tref! Sy was nege jaar toe sy begin het om oor die blokke te spring en sy is nou al veertien. Sy het nog nie een keer oorgeslaan nie en nog nooit gekul nie. As haar voet net effens aan ’n gleuf raak, begin sy altyd weer van voor af, al is die versoeking soms baie groot om haar voet net so effens te verskuif. Saartjie kyk vies na die plaveisel. Dan vat sy haar handsak styf in haar hand vas en begin spring! Sy wip vinnig en sekuur van die een blok na die ander. Sy hou ver van die gleuwe af weg. Sy sal sowaar skree van moedeloosheid as haar voet nou aan ’n gleuf moet raak en sy weer met haar pragtige klere en al van voor af moet begin. Saartjie spring egter end-uit sonder om aan ’n enkele gleuf te raak. Sy kom uiteindelik moeg by die hekkie aan. “So ja,” sê sy en stap met die tuinpaadjie op huis toe. Sy is in hierdie einste huis gebore en woon nou al veertien jaar hier. Die Baumanns se mooi dubbelverdiepinghuis is teen ’n heuwel gebou. Uit haar kamer op die boonste verdieping kyk Saartjie oor die hele Lynnekom uit en op helder dae kan sy selfs Johannesburg se wolkekrabbers in die verte sien. Dokter Baumann is ’n beroemde spesialis in die stad en hy en sy vrou het drie kinders. Kris, die oudste, is nou een-en-twintig en ’n derdejaarstudent aan die universiteit. Dan is daar natuurlik Saartjie en die negejarige Apie, of Abraham, maar niemand noem hom so nie, behalwe sy ma wanneer sy kwaad is. Apie is ’n koddige skepseltjie wie se twee voortande makeer. Hy hou vol hy het hulle verloor toe hy eendag uit ’n boom geval het. Die feit dat hy ook ’n yslike blouoog gehad het toe hy by die huis kom, het hom glad nie van sy storie laat afsien nie.
Saartjie stap by die voordeur in en gaan reguit sitkamer toe waar sy stemme hoor. “Hallo, Mamma,” sê sy. Haar ma glimlag vriendelik en kyk van haar breiwerk af op. Saartjie sien Kris staan voor die venster en kyk mismoedig buitentoe. “Haai, Kris,” sê sy. “Ek het jou nie eers gesien nie.” “Haai,” brom hy net. “Wat het oor jou lewer geloop?” vra Saartjie fronsend. “Jy lyk soos iemand wat die wêreld se probleme op jou skouers dra.” “Los my uit!” gil Kris op haar. Saartjie vee die krul van haar voorkop af weg en sê: “Hoe kan ek jou uitlos as ek nie eers met jou begin het nie? Ek groet jou vriendelik en jy byt omtrent my kop af...” “Ek wens julle wil my almal uitlos!” skree Kris en skiet soos blits by die vertrek uit en met die trap op na sy kamer toe. Saartjie kyk hom verbaas agterna. Mevrou Baumann brei maar verder. “Dis nou wat ek goeie maniere noem!” sê Saartjie. “Jy is te jonk om te verstaan,” sê haar ma, wat ook maar effens bleek lyk ná haar oudste se skielike uitbarsting. “Kris bedoel nie regtig wat hy sê nie – en hy is nie vir jou kwaad nie.” “Hoe kan Mamma sê hy bedoel nie wat hy sê nie?” wil Saartjie weet. “Ek het gehoor wat hy vir my gesê het!” “Ek het ook gehoor, Saartjie,” sê haar ma glimlaggend, “maar jy moet jou nie aan hom steur nie. Hy het net voor jy ingekom sy probleme met my bespreek. Hy is omgekrap, maar hy sal daaroor kom. Ons gaan maar almal vroeër of later deur so ’n tydperk in ons lewe – jy sal ook nog.”
Martha Baumann sug swaar. Saartjie kyk fronsend na haar ma. Hoekom is Kris nou skielik so omgekrap? Sy verstaan dit glad nie. En watter tydperk is dit waardeur sy ook nog eendag sal moet gaan? Wat is dit wat ’n mens so lelik omkrap? “Sal ek ook eendag deur so ’n dinges... so ’n tydperk gaan, Ma?” Saartjie en haar ma kyk albei vinnig om. Apie loer oor die rugkant van die groot rusbank na hulle. Sy tongpunt speel deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het. “Abraham,” sê sy ma kwaai, “was jy die hele tyd daar op die bank?” “Ja, Ma. Ek het hier gesit en lees toe Kris inkom en oor al daardie goete praat. Ek het toe maar liewer tjoepstil gesit, Ma weet, want ek het gedink dis beter, anders gee hy my dalk sommer ’n oorveeg, Ma weet.” Martha Baumann kan nie help om te glimlag nie. Sy besef dit was heel moontlik wys van Apie om stil te bly toe Kris so teenoor haar uitgepak het. “Waaroor het Kris gepraat, Mamma?” vra Saartjie. “Wat is verkeerd?” “Ék weet,” sê Apie tevrede. “Ek sal jou aanraai om alles wat jy gehoor het te vergeet, Abraham,” sê hul ma streng. “Hoe kan ek goete vergeet wat ek nou net gehoor het, Ma?” wil Apie weet. “Mens kan mos nie sommer net vir jou kop sê ‘vergeet’ en dan vergeet hy alles wat hy gehoor het nie,” sê Apie en maak ’n sisgeluid deur die gaping in sy tande. “Dis mos onmoontlik!” “Kris het met my gesels oor dinge wat jou nie aangaan nie en waarvan jy niks weet nie, Abraham.” Mevrou Baumann kyk kwaai na haar jongste. “En dis nou die einde van die saak.” “Ja, Ma,” sê Apie. “Mens kan maar sê ek was nie eers hier nie. Sy ou liefdesgoete kan my tog nie worrie nie.”
“Abraham!” “Ja, Ma?” Apie kyk onskuldig na sy ma. “Ek het jou al ’n honderd keer gesê om nie Engelse woorde te gebruik as jy Afrikaans praat nie!” “Ja, Ma. Ekskuus, Ma,” sê Apie en voeg dan vinnig by: “Maar ek is goed met Engels, dink Ma nie?” “Ja, jy is. Maar ’n mens meng nie jou taal so nie.” “Ja, Ma,” sê Apie gedwee. Apie loop by die vertrek uit en gaan na sy kamer toe. Dinge begin hom nou hier verveel. Die biblioteekboek wat hy lees, is ook nie juis watwonders nie. Hy sal maar in sy kamer gaan strokiesverhale lees. Hy kan dit nie hier doen nie, want sy ouers word mos kwaad as hulle hom met Die Skim sien. Toe Apie uit is, sê Saartjie: “Ek kan nog nie verstaan hoekom Kris so onbeskof was nie, Mamma. Wat het dit met liefde te doen?” “Ag, Saartjie, vergeet tog nou maar daarvan,” sê haar ma en sug. “Een van die dae is Kris oor die ding en dan sal hy almal om verskoning vra dat hy so humeurig was.” “Maar waaroor is hy so omgekrap?” vra Saartjie. “Jy is nog te jonk om te verstaan, my kind. Dinge tussen Kris en Isabel is deesdae glad nie lekker nie. Dis al.” “O,” sê Saartjie, “dis uit tussen hulle! Hoekom het Mamma nie net vir my gesê nie?” Sy gooi haar kop effens agteroor en vervolg: “Onthou, ek is darem al veertien jaar oud!” Haar ma glimlag en gaan met haar breiwerk aan. Honderde vrae maal deur Saartjie se kop. Haar broer se liefdesteleurstelling interesseer haar geweldig. Dit klink mos vreeslik romanties. Het hy vir Isabel afgesê of sy vir hom – en hoekom? Hulle gaan dan al soveel jare uit.
Saartjie besef dit sal nie help om haar ma verder uit te vra nie. Maar gelukkig is dit ook nie nodig nie! Apie het mos alles gehoor. “Ek gaan bietjie kamer toe, Mamma,” sê Saartjie en rek haarself lui uit net om te wys dat sy alle belangstelling in Kris se hartsake verloor het. Eintlik brand Saartjie van nuuskierigheid. Sy neem haar broer nou glad nie meer kwalik dat hy so ongeskik was nie. As mens ’n liefdesteleurstelling gehad het, weet jy mos nie eintlik wat jy doen nie – altans dis wat in boeke en flieks gebeur. Saartjie stap kastig verveeld by die vertrek uit. Sy loop stadig by die trap op, gaan gooi haar handsak op haar bed neer en mik vinnig na Apie se kamer toe. Sy gaan nou alles uitvind. Wanneer Saartjie aan Apie se deur klop, prop hy eers gou die strokiesverhaal onder sy kussing in en sê dan: “Kom in.” Saartjie stap in en maak die deur agter haar toe. “O, dis jy,” sê Apie vies en haal die strokies weer onder sy kussing uit. “Hoe weet jy ek gaan nie op jou klik nie?” vra Saartjie met ’n grinnik. “Jy bedoel oor ek hierdie goete lees?” vra Apie. “Ja.” “Ek weet sommer net jy sal nie,” sê Apie en begin verder lees hoe die Skim sommer ’n dosyn ouens op een slag met sy vuiste uitmekaar moker. Apie is heeltemal reg. Saartjie sal hom nie gaan verklik nie. Hulle twee stry nou wel baie, maar hulle sal mekaar nooit verraai nie. Soos Apie altyd sê – hy en sy suster staan saam teen die buitewêreld! Apie bly verdiep in die Skim se avonture. Saartjie wonder wat die beste manier sal wees om hom te laat praat oor wat hy van Kris se liefdesprobleme gehoor het. Sy weet as sy oorgretig klink, sal hy sy tong so deur die opening in sy mond laat gly en vra: “Wat’s dit vir jou werd?” Hy en sy maat, Bennie, wil altyd weet wat inligting vir ’n mens werd is en hulle
sal dit nooit vir jou verniet gee as hulle munt daaruit kan slaan nie. Saartjie besef sy moet maak of sy nie regtig belangstel nie en maar net toevallig oor Kris gesels. Sy kom sit op die stoel langs Apie se bed. Hy kyk nie eens op nie. Die Skim is nou besig om ’n verwoede leeu met sy kaal hande beet te pak. “Apie,” sê Saartjie en kyk kastig ongeërg by die venster uit. “Ja?” Haar boetie kyk nog steeds nie op nie. “Wat het Kris alles vir Mamma gesê?” “Dit was vir jou snaaks!” sê Apie en kyk nou glimlaggend op. “Ek sit daar en probeer nie eers wegkruip nie, maar hulle sien my sowaar nie! Ek was later so dik van die lag dat ek my hemp se mou in my mond moes sit.” Saartjie besluit sy sal liewer maar nie vra hoekom hy nie eerder sy sakdoek in sy mond gesteek het nie. “Heng, ja,” sê sy kastig vriendelik, “dit was seker baie moeilik om jou in te hou.” Apie grinnik. Ja-nee, dit was nogal. Dan tel hy sy strokiesverhaal op en lees verder. “Jy’t my nog nie gesê waaroor Mamma en Kris gepraat het toe jy so amper gelag het nie,” herinner Saartjie hom. “Het ek nie?” Apie kyk weer op. “Nee.” “Hoekom wil jy weet?” “Aag, sommer,” sê Saartjie en probeer lyk asof sy glad nie sal omgee as sy nie weet nie. Apie kyk na haar en sy tongpunt begin so hier voor in sy mond speel. “Hoekom vra jy nie vir Ma om jou te vertel nie?” vra hy.
“Sy wil nie.” “So dan wíl jy graag weet,” sê Apie en glimlag skielik breed. “Kos why jy het mos vir Ma ook gevra.” “Wel,” sê Saartjie, “ek sal nie omgee om te weet nie…” Dan kom die vraag wat Saartjie liewer wou vermy het. Apie sit sy strokies opsy en vra: “Wat’s dit vir jou werd?” Sy oë glinster eintlik van genot. “Nie veel nie,” sê Saartjie, “want ek stel nie eintlik belang nie.” Haar boetie kyk haar met ’n grinnik aan. Hy glo haar heel duidelik nie. Saartjie kry ’n plan en sê: “Maar kom ek sê jou wat ek sal doen...” “Wat?” Apie skuif nuuskierig nader. “Ek het vyf rand oor van die fliek. Vertel my alles en die geld is joune. Maar verstaan my goed: dis ál wat ek het.” Apie dink so ’n bietjie hieroor na. Eintlik kan hy sy geluk nie glo nie. Hy weet iets wat sy suster wil weet en waarvoor sy selfs bereid is om hom te betaal! Dis nou nie juis baie geld nie, maar wat. Dis immers iets. “Nou goed,” sê Apie, “gee vir my die geld!” Saartjie weet hy sal nie ’n woord vertel voor hy die geld het nie. “Ek is nou terug,” sê sy en is gou by die deur uit. Apie tel die strokiesverhaal weer glimlaggend op. Vyf rand – en sommer net so! Dis nou vir jou maklik geld maak! Saartjie is gou terug en gee die vyf rand vir hom. Hy steek dit dadelik in sy sak. Saartjie kom sit weer op die stoel en sê: “Toe, vertel nou. Vertel alles wat jy gehoor het.” Noudat hy die geld het, is Apie heeltemal gewillig om sy deel van die transaksie na te kom. Maar hy kan nie so mooi onthou hoe die gesprek tussen hul broer en
ma begin het nie. “Kris het daar ingekom,” sê Apie fronsend, “en oor allerhande goete gepraat... Ek weet nie meer watse goete alles nie...” Saartjie besluit om liewer niks te sê nie en Apie maar op sy manier te laat vertel. “Maar toe hy sê sy hart is gebreek,” gaan Apie aan, “het ek begin luister. Toe het ek geweet hulle weet nie ek is daar nie. Ek het oor die bank se agterkant geloer om te sien hoe ’n ou lyk wie se hart gebroke is, maar Kris het nie vir my anders as gewoonlik gelyk nie.” Saartjie glimlag en sê: “En toe? Wat sê hulle toe?” “Niks nie. Kris het net so stil bly sit en voor hom op die vloer gekyk en kort-kort sulke lang sugte gegee. En toe sien ek Ma sit haar hand so oor syne en sê: ‘Wat het gebeur, my seun? Vertel vir my.’ En toe begin Kris vertel.” “Wat het hy vertel?” Saartjie skuif effens nader. Apie vertel vir haar Kris het swaar gesug en gesê Isabel is nie meer sy meisie nie – sy het ’n ander kêrel. Dis ’n man van die stad en hy het ’n groot, blink kar. “En toe sê hy iets wat hom amper laat huil het.” “Wat was dit?” vra Saartjie. “Hy’t gesê Isabel wil niks meer met hom te doen hê nie. Sy sien hom glad nie meer raak nie. Sy’s net heeltyd by die ou met die blink kar.” Apie bly stil. Sy voorkop is ’n frons soos wat hy dink aan watter “goete” hy nog alles gehoor het. “Ma het Kris probeer troos, maar hy wou nie getroos wees nie,” vertel Apie dan verder. “Hy het gesê hy sal in sy lewe nooit weer na ’n meisiemens kyk nie.” “En wat nog?” vra Saartjie die ene ore. “Is dit nie genoeg vir vyf rand nie?” wil Apie weet. “Ja, seker,” sê Saartjie, “maar het hulle niks verder gesê nie?”
“Nee, nie juis nie. Hulle het toe sommer net so gepraat. Ma het gesê Isabel sal moeg raak vir die ou met blink kar en weer na Kris toe terugkom en toe sê hy – dit was asof hy vergeet het hy’t gesê hy sal nooit weer na ’n meisiemens kyk nie – hy hoop dit sal so wees, want hy sal Isabel nooit kan vergeet nie, kos why, hy het haar lief. Dis wat hy gesê het.” Apie kyk na Saartjie. Hy voel dis darem nou oorgenoeg vir vyf rand. “Wie is die man?” vra Saartjie. “Watter man?” “Die ander ou – die een met die blink kar?” “Nee, ek weet nie. Kris het nie sy naam gesê nie. Hy het net die hele tyd daar gesit en gesug en gesê hy kan nie verstaan wat Isabel in die ou sien nie, want almal weet hy’s ’n papbroek. En toe sê Ma...” Apie frons weer soos wat hy probeer onthou. “Wat het Mamma toe gesê?” vra Saartjie dadelik. “Ma het gesê Isabel is dalk agter die blink kar aan en nie die ou nie – en toe raak Kris kwaad en sê Isabel is nie só nie. So toe moes Ma maar weer keer en sê sy’s jammer en sy weet Isabel is nie só nie. Sy het dit glo net gesê oor sy teleurgesteld is, want sy hou so baie van Isabel. Toe sê Kris Isabel is wonderlik en toe sug Ma en sê ook Isabel is wonderlik.” Apie het nou klaar gepraat. Hy voel hy het sy deel van die transaksie baie mooi nagekom. Saartjie het mos waarde vir haar vyf rand gekry. Hy loer na Die Skim. Hy wonder of sy strokiesheld daardie rower wat so stilletjies van agter af aangesluip kom betyds gaan raaksien. “Is jy seker Kris het nie die man se naam genoem nie?” vra Saartjie. “Ja.” “Het hy ’n beskrywing van hom gegee?” “Nee, hy het net gesê die ou het ’n blink kar en almal weet hy’s ’n papbroek.”
“Het hy gesê of die ou ’n snor het?” “Nee, maar ek weet wat dink jy.” “Wat dink ek?” vra Saartjie effens vies. Sy gaan duidelik niks verder uit Apie kry nie. “Jy dink as hy ’n snor het, is hy ’n kroek!” Saartjie kan nie help om te glimlag dat haar boetie haar so goed ken nie. Sy staan op en mik deur toe. “Is jy nou tevrede?” vra Apie. Saartjie is seker Apie het vir haar alles vertel wat hy gehoor het, maar sy sê: “Ek wonder of so ’n klein bietjie inligting vyf rand werd is.” “Jy kan maar wonder,” sê Apie, “maar jy gaan nie jou geld terugkry nie.” Hy begin hom nou weer verdiep in die Skim se wonderlike avonture. In haar kamer sit Saartjie en dink oor alles wat sy gehoor het. Sy kry Kris baie jammer. Dit moet vreeslik wees om deur so ’n liefdesteleurstelling te gaan. Sy wonder hoe sy haar broer kan help. Sy wil hê hy moet Isabel terugkry, want hulle hou almal baie van haar. Isabel en Kris is al jare lank meisie en kêrel. Hulle was altyd saam op hoërskool en albei was op die leerderraad in matriek. Toe is hulle saam universiteit toe, waar hulle nou nog saam is. Isabel Theron woon ook hier in Lynnekom. Almal het gedink sy en Kris gaan nog eendag trou. “Die liefde is darem maar snaaks,” sê Saartjie hardop vir haarself. “Hulle was soveel jare saam en nou is hulle net skielik nie meer bymekaar nie.” Saartjie besluit sy moet iets aan hierdie saak doen. Sy en haar vriendinne, Anna en Lina, moet die paartjie help om weer bymekaar uit te kom. Sy weet nog nie hoe nie, maar sy weet dit moet gedoen word! Saartjie staar ingedagte by haar kamer se venster uit. Sy hou van die idee dat die Drie Muskiete vir Kris gaan help. Hulle moet seker maak Isabel neem nie weer notisie van die ou met die blink motor nie.
2
Saartjie probeer help
Saartjie is nog steeds besig om te wonder hoe sy en haar vriendinne kan sorg dat Kris en Isabel weer kêrel en meisie word, toe haar ma haar vir ete kom roep. Kris sê nie ’n woord aan tafel nie. Hy sit net mismoedig voor hom en uitstaar en gee af en toe ’n swaar sug. Saartjie gesels ook nie veel nie. Sy sit en planne beraam. Maar Apie gesels aanhoudend. Hy vertel van al hul pret en kaskenades by die skool. “Weet julle wat,” verduidelik hy al kouende, “Bennie het ’n dinges by ’n ander ou gekoop en ons het groot sports daarmee gehad het. Nog ’n stukkie vleis asseblief, Ma.” “Hou jou bord – en hou asseblief jou taal suiwer,” sê sy ma en skep vir hom nog vleis in. Apie knik en eet smaaklik verder. Kris proe-proe net aan die kos en staar afwesig voor hom uit. Saartjie probeer hom aan die gesels kry en vra: “Hoekom eet jy nie? Die wildsvleis is baie lekker.” “Ek’s nie honger nie,” brom Kris net. “Mens hoef nie honger te wees om van hierdie kos te hou nie,” sê Apie al kouende. Ná ’n paar oomblikke voeg hy by: “Maar die liefde is ’n snaakse
ding...” Kris gluur sy klein boetie aan. “Wat bedoel jy daarmee?” vra hy. “Niks,” sê Apie. “Ek sê maar net die liefde is ’n snaakse ding. Wat’s fout daarmee?” Kris gluur nog kwater na Apie, maar voor hy iets kan sê, keer dokter Baumann: “Toe nou, julle twee. Ons wil nie ’n bakleiery aan tafel hê nie. Jy was besig om te vertel van jou en Bennie se dinge, Apie.” “O ja, Pa,” sê Apie. “Nou, julle sien, die saak staan só – daai dinges...” “Watse dinges?” vra Saartjie. “Ek gaan mos nou vertel watse dinges,” snou Apie haar toe. “Gee ’n mens kans!” Almal bly stil. Apie kou eers nóg ’n mondvol kos en sê dan: “Nou wel, daai dinges is ’n snaakse ding. Dis ’n gewone stukkie papier, maar wat so snaaks is, dis swart en blink aan die een kant en as jy dit op ’n ander stuk papier sit, dan lyk dit of daar ’n swart inkkol op die papier is.” Apie kou gou weer. Sy ma en pa en Saartjie wag belangstellend dat hy verder moet vertel, maar Kris sit en staar net die niet in. “Ons het heeldag groot sports… ek bedoel vet pret gehad deur die dinges op ouens se boeke te sit as hulle nie kyk nie, maar die laaste periode was die beste! Ou Nukke was toe by ons...” “Wie, Apie?” vra sy ma. “Ou Nukke, Ma weet – Juffrou Necker.” Saartjie glimlag. Sy onthou die onderwyseres maar te goed van haar laerskooldae af hier op Lynnekom. “Wel, ons het gesit en lees en Ou Nukke was voor by die tafel met die besig. Ek het met die dinges wat soos ’n inkkol lyk in my hand gesit en dit het my hand begin brand, kos why ek het gevoel...”
“Abraham!” sê dokter Baumann streng. “Skuus, Pa,” sê Apie vinnig, “die dinges het my hand gebrand, want ek het gevoel ek moet dit darem net een keer propperlies... ag, ekskuus, ek bedoel ordentlik gebruik voor die klok lui vir huis-toe-gaan-tyd.” Apie eet vinnig die laaste mondvol kos op sy bord, sit sy mes en vurk neer en vee sy mond met sy servet af. Dan vertel hy opgewonde verder: “En toe kry ek my kans – Ou Nukke staan op en gaan by die klas uit, maar die lê nog steeds oop op die tafel en onderaan die lys name is daar ’n hele stuk skoon bladsy – wit en silwerskoon. Toe kyk ek na Bennie en hy kyk na my en ek sê: ‘Hoessit?’ en hy sê: ‘Hoessit?’ Toe sê ek: ‘Wie?’ en hy sê: ‘Traak my nie.’ Toe sê ek: ‘Ek?’ en hy sê: ‘Orraait!’... Ag, ek bedoel ‘goed’. En toe staan ek op!” Daar speel ’n glimlag om dokter Baumann se mondhoeke. Mevrou Baumann kyk na haar man en hy knipoog vir haar. Saartjie sit en glimlag, want sy geniet die manier waarop Apie die storie vertel. Kris sug ook nie meer so baie en so hard nie. Dit is asof hy nou ook luister. “Toe loop ek met die dinges... die papiertjie wat soos ’n inkkol lyk voor na die tafel. Al die ouens in die klas sit en lees, maar Bennie hou my dop. Toe sit ek die dinges vinnig op die skoon deel van die neer. Dit het nés ’n groot swart inkkol gelyk! Toe draai ek vinnig om en gaan sit weer op my plek.” Apie vat sy beker warm sjokolade by sy ma aan, drink eers ’n sluk en begin dan weer vertel. Almal is die ene ore. “Toe ek weer langs Bennie sit, fluister hy: ‘Ons gaan ons nou propperlies’ – dis sy woord, Pa, dis wat hy gesê het – ‘doodlag’. Net toe kom Ou Nukke weer by die klas in. Ek en Bennie maak of ons vir die vale lees, maar loer so effens by ons boeke verby. Ou Nukke stap na die tafel toe, maar dan gaan staan sy skielik doodstil. Sy kyk met groot oë na die inkkol en net om seker te maak sy sien reg, gryp sy haar brilletjie en loer daardeur ook... maar die inkkol is nog steeds daar!” Jan Baumann begin nou hardop lag. Dan begin Martha en Saartjie ook. Selfs Kris sit en glimlag. Apie weet beslis hoe om ’n storie te vertel! “En toe,” vertel Apie met lus verder, “toe gil die juffrou skielik en ons almal wip soos ons skrik. Ek en Bennie het natuurlik nog so ’n entjie hoër as die ander gewip asof ons baie ernstig gesit en lees het, maar intussen wou ons omtrent bars
van die lag. Ek moes my hempsmou sit en kou om nie hardop te lag nie.” “Toe beduie Ou Nukke na die groot inkkol op haar pragtige en sê: ‘Wie het dit gedoen? Wie het die ink hierop uitgegooi? Die een wat dit gedoen het, staan op!’” Saartjie kan die onderwyseres in haar verbeelding hoor. Juffrou Necker raak nogal gou ontsteld en dan word haar stem baie skril. “Maar ek het mos nie ink op die uitgegooi nie, so toe staan ek nie op nie,” sê Apie ewe parmantig. “’n Paar ouens het vinnig na my en Bennie gekyk, want hulle’t geweet ons het ’n dinges wat soos ’n inkkol lyk, maar ons het so woes vir hulle gegluur dat hulle geweet het hulle sal ná skool les opsê en toe maar liewer net stil gebly. Ou Nukke het skoon aan die bewe geraak van kwaadgeit en oor en oor gesê: ‘Die een wat dit gedoen het, gaan swaar gestraf word’ terwyl sy oor haar brilletjie na ons loer.” Op hierdie dramatiese oomblik besluit Apie om eers gou ’n slukkie warm sjokolade te vat. Die ander is ongeduldig dat hy moet aangaan, maar drink nou maar ook eers van hul koffie. “Ons sit toe almal so stil soos muise,” gaan Apie met ’n grinnik voort, “en toe mompel Ou Nukke iets van sy moet red wat daar te redde is en dán sal sy met die sondebok afreken. Toe gaan sy haastig by die klas uit om by Ou Mossie – meneer Mosterd, julle weet – daardie groot bottel rooi goed te gaan haal wat inkkolle uithaal. Ek vlieg toe op en gryp die dinges. Toe is die papier weer net so mooi skoon soos dit was.” “Jou klein rakker,” sê dokter Baumann, nou ook met ’n grinnik. “Ek het net klaar vir die klas gesê ek en Bennie sal die ou wat klik ná skool bykom, toe ek Ou Nukke se voetstappe hoor,” vertel Apie trots verder. “Ek skiet toe soos weerlig terug na my bank. Ek het skaars gesit toe Ou Nukke by die deur inkom.” Apie vat eers weer ’n slukkie warm sjokolade. “Die juffrou stap reguit tafel toe,” sê hy met blink oë, “en toe steek sy in haar spore vas. Sy staar na die wat skielik weer spierwit is. Sy kyk wéér ’n keer en dan loer sy oor haar bril. ’n Klomp ouens in die klas begin giggel. Ou
Nukke voel met haar vingers so oor die plek op die bladsy waar die inkkol was. ‘Dis snaaks,’ mompel sy en loer weer oor haar bril na die plek, ‘dis silwerskoon.’ Sy kan dit glad nie verstaan nie. Sy lyk skoon dronkgeslaan en krap haar kop... Toe bars almal uit van die lag – en ek en Bennie lag die hardste.” “Ek hoop sy het uitgevind wie dit was,” sê Martha Baumann laggend, “en vir jou en Bennie ’n goeie loesing gegee.” “Sy’t nie self uitgevind nie, Ma, maar toe ons sien sy begin ook lag, het ek en Bennie vir haar die dinges wat soos ’n inkkol lyk, gewys en sy het toe nog meer gelag en nie eers gepraat van straf nie. Sy’s nogal ’n sport.” “’n Wat?” vra Apie se pa wat só lag dat hy nie juis kwaad kan lyk nie. “’n Sport, Pa,” sê Apie. “Wat’s die regte woord daarvoor, Pa?” “Hmm...” sê Jan Baumann en maak keel skoon. Hy draai na sy vrou en vra: “Wat’s die regte woord nou weer, Vroutjie?” Martha Baumann maak ook keel skoon en skielik speel daar ’n ondeunde glimlag om haar mondhoeke: “Apie het mos vir jou gevra, my man.” Dokter Baumann kyk nou na Saartjie en Kris vir hulp. Kris se gedagtes is weer elders, maar Saartjie maak darem of sy dink. Haar voorkop is geplooi, maar haar oë glinster van genot. “Hm… ’n Sport...” sê dokter Baumann. “Dis ’n gawe persoon, jy weet, Apie.” “Ja, so soort van, Pa,” sê Apie, “maar dis nie heeltemal wat dit is nie.” “Ja – wel,” sê sy pa en hoes, “in elk geval, ek hoop julle het daardie dinges... eh... daardie poets-papiertjie opgeskeur, want dit kan groot moeilikheid veroorsaak.” “Ons wou dit hou vir later, Pa,” sê Apie, “maar toe waai die wind dit uit my hand weg en ons kon dit nie weer kry nie.” “Ook maar beter so,” sê sy ma. “’n Ander onderwyser of onderwyseres sal miskien nie so ’n sport... eh... ek bedoel so gaaf soos juffrou Necker wees nie.”
Almal behalwe Kris lag. Nadat dokter Baumann gedank het, staan Kris met ’n swaar sug van die tafel af op. Saartjie kry hom jammer. So ’n liefdesteleurstelling moet ’n baie moeilike storie wees! “Ek wonder wat kan ek vanaand doen?” sê Kris en kyk mismoedig by die venster uit. Dis die eerste Saterdagaand in baie jare dat hy nie weet wat om met homself aan te vang nie. Hy en Isabel het altyd op naweekaande uitgegaan. “Gaan jy dan nie kuier nie?” vra dokter Baumann terwyl hy sy pyp stop. Hy sien hoe sy vrou vinnig vir hom wys hy moet dit los, maar dis nou te laat. “Waar kuier, Pa?” vra Kris en sug swaar. “By Isabel, natuurlik.” “Nee, Pa,” sê Kris en lyk soos ’n martelaar wat sy wrede, onverdiende straf soos ’n held dra, “ek gaan nooit weer vir haar kuier nie.” “O so, is dit hoe sake staan?” “Ja, Pa – dis hoe sake staan, maar ek wil nie daaroor praat nie,” sê Kris en loop by die vertrek uit. Dit is ’n Saterdagaand en hy sit by die huis. Hoe kan die lewe so onregverdig wees? Kris loop stadig met die trap op na sy kamer op die boonste verdieping. Jan Baumann kyk vraend na sy vrou. “Ek sal jou nou-nou vertel,” sê sy sag. “Kan ek vir ’n rukkie na Anna toe gaan, Mamma?” vra Saartjie. “Ja, maar moenie te lank wegbly nie, hoor?” “En kan ek bietjie na Bennie toe gaan, Mamma? Ek’s sommer nou-nou weer terug,” sê Apie. “Goed, Apie, maar nie te lank nie!”
“Nee, Ma.” Apie en Saartjie is soos twee warrelwinde by die huis uit. Die Baumanns is nie bang om hul kinders op ’n lieflike someraand vir ’n uur of wat buite te laat speel nie. Lynnekom is so ’n rustige voorstad dat dit nie gevaarlik is nie. Buitendien is Anna-hulle hul bure, en Bennie-hulle woon net twee huise verder as Anna-hulle. Wanneer Saartjie by die Strydoms se huis aankom, kry sy vir Anna se pa en ma en haar sussie, Muggie, in die sitkamer. “Naand, tannie Lena. Naand, oom Louis. Haai, Muggie,” groet sy. “Waar’s Anna?” “In haar kamer,” sê die tannie vriendelik. “Lina is ook daar.” “Dankie, Tannie.” Die Strydoms se huis is feitlik Saartjie se tweede tuiste, net soos die Baumanns se huis Anna se tweede tuiste is. Saartjie en Anna is reeds maats van daardie eerste dag toe hulle albei hul plomp babahandjies na mekaar toe uitgesteek het. Saartjie gaan by Anna se kamer in en sê: “Haai!” “Haai jouself,” groet Anna en Lina op die tipies Lynnekomse manier en sy kom sit by hulle op die bed. “Wat’s wat?” vra Saartjie. “Niks nuus nie,” sê Lina en Anna skud ook haar kop. “En by jou?” vra Anna. “Groot nuus,” antwoord Saartjie en haar blou oë vonkel eintlik. Anna en Lina kyk vinnig na mekaar en skuif nader aan Saartjie. Hulle wil dadelik die groot nuus hoor. Hierdie drie meisies – die Drie Muskiete – is ewe oud. Anna het ’n ronde gesig wat altyd lag. Sy sal Saartjie slaafs navolg in alles wat sy doen. Lina Rens is ’n
lang, skraal meisie met twee blonde vlegsels wat teen haar rug afhang. Saartjie en Anna was van graad een tot nou in graad nege nog altyd saam op skool. Lina het eers in graad vyf bygekom. Die eerste dag hier in Lynnekom se laerskool was Lina die enigste een wat gesien het hoe Saartjie en Anna kattekwaad aanvang. Maar toe die onderwyseres wou weet wie dit was, het Lina net ongeërg by die venster uitgestaar. Sy het nie ’n woord gesê nie en van daardie dag af was Lina en die ander twee boesemvriendinne. “Laat ons nou hoor, Saartjie,” sê Anna nuuskierig. “Wat is die groot nuus?” “Julle ken mos vir Kris en Isabel, nè?” Lina dink dis sommer ’n lawwe vraag. Natuurlik ken hulle vir Kris en Isabel. “Dit was ’n retoriese vraag,” sê Saartjie. Om te wys hoe geleerd sy is, verduidelik sy: “’n Retoriese vraag het nie ’n antwoord nodig nie.” “Moenie sulke ompaaie vat nie,” sê Anna ongeduldig. “Vertel vir ons die groot nuus!” “Wel,” sê Saartjie en lê gemaklik agteroor op die bed, “dis uit tussen hulle!” Anna en Lina kyk fronsend na mekaar. Dan vra Lina die vraag wat in albei se oë te lees is: “Wat bedoel jy ‘uit’?” “Presies wat ek sê,” sê Saartjie en maak ’n klapgeluid met haar duim en voorvinger. “Klaar! Verby! Hulle is nie meer kêrel en meisie nie!” “Onmoontlik!” sê Lina. “Ek glo dit nie,” sê Anna geskok. “Hulle is dan al kêrel en meisie van ek só klein was.” Sy beduie met haar hand omtrent so hoog soos die bed van die vloer af. “Wel, dis ongelukkig waar,” sê Saartjie. Sy vertel vir haar vriendinne alles wat sy weet, en die twee luister aandagtig. Sy vertel ook hoe omgekrap Kris is en hoe hy sommer ’n mens se kop wil afbyt.
“Dis wat ’n liefdesteleurstelling aan ’n mens doen,” sê Saartjie en probeer lyk soos iemand wat alles van sulke dinge af weet. Anna en Lina luister met groot oë. Saartjie klink sowaar soos ’n deskundige op hierdie gebied. “Ja-nee,” sê Saartjie met ’n sug, “so ’n liefdesteleurstelling kan jou hele lewe vernietig.” Sy sug en loer onderlangs om te sien watter uitwerking hierdie dramatiese stelling op die ander twee het. Dit lyk nogal asof Anna diep onder die indruk van haar woorde is, want sy sug ook. Maar Lina bederf alles deur te sê: “Ag, Saartjie, vergeet nou die toneelspelery en vertel vir ons meer van Kris en Isabel.” Saartjie kyk vies na Lina en mompel iets van mense wat verbeeldingloos is, maar dan gaan sy aan met haar storie. Sy vertel van die man met die blink kar wat glo die moeilikheidmaker is. Dit was glo hy wat vir Kris by Isabel “uitgesit” het. “Of sy blink kar,” sê Lina. “Nee, Kris sê Isabel is te wonderlik om hom net vir ’n ander ou se kar te los.” “So dit beteken hy is nog verlief op haar,” sê Anna asof sy ’n groot ontdekking gemaak het. “Natuurlik is hy,” sê Saartjie. “Anders sal hy mos nie soos ’n siek hoender daar by die huis rondloop nie!” Die drie meisies sit en dink oor die hele gedoente. “Dis Isabel wat vir Kris gelos het,” sê Saartjie. “Ons moet dit onthou.” Die ander twee knik om te wys hulle sal. “Julle weet,” sê Anna, “dis rêrig tragies. Ek het my ma en pa al so baie hoor sê dis wonderlik dat Kris en Isabel al soveel jare saam is.” “Die hele Lynnekom het nog altyd gesê hulle pas so mooi bymekaar,” sê Lina.
“Hulle is vir mekaar gemaak,” sê Anna sugtend. “Ons kan nie toelaat dat hulle uitmekaar gaan nie,” sê Saartjie. “Ons moet iets aan die saak doen.” Anna en Lina kyk na mekaar en knik. “Maar wat?” vra Lina. En dit is natuurlik die probleem. Wat kan hulle doen? “Ons moet dink,” sê Saartjie. Die drie meisies sit met fronsende voorkoppe soos hulle dink. Dis stil in die kamer. Ná ’n rukkie word hulle moeg om so doodstil te sit en begin onderlangs na mekaar loer. Elkeen kyk hoe die ander lyk as hulle kastig hard dink. Skielik bars al drie uit van die lag. “Ek weet nie hoekom ons lag nie,” sê Saartjie ná ’n rukkie skuldig. “Ons het werk om te doen. Ons moet daardie twee verliefde skapies weer bymekaar uitbring.” “Ja,” sê Lina, “ons moet die wolf met die blink kar uit die pad kry.” “Ek wonder of hy ’n snor het,” sê Saartjie peinsend. “Wat het ’n snor met die saak te doen?” vra Anna. “Ek hou nie ouens met ’n snor nie. Hulle is altyd kroeks, soos Apie sal sê. In daai fliek wat ek vanmiddag gesien het, het die ou wat op die ou end nie die mooi meisie gekry het nie, ook ’n snor gehad, sien?” Anna en Lina sien of verstaan nie juis nie, maar hulle wil nie nou oor ’n snor stry nie. Hulle wil vir Kris en Isabel help om weer bymekaar uit te kom. Saartjie dink weer aan die middag se fliek en sê dan skielik: “Wag ’n bietjie!” Anna en Lina kyk na haar. Saartjie byt effens op haar onderlip en vee met haar hand oor haar voorkop. “Weet julle wat?” vra sy skielik.
Hulle skud hul koppe. “Die ou in die fliek,” sê Saartjie opgewonde, “die ou met die snor wat nie die beeldskone heldin gekry het nie – hy’t haar nie gekry nie omdat hy ’n bangbroek was!” “Waarvoor was hy bang?” vra Lina. “Vir ’n bende wat hom en die meisie voorgekeer en toe al haar juwele en sy geld gevat het,” vertel Saartjie. “En terwyl die meisie trots en regop gestaan het, het die ou met die snor gebewe en gesoebat hulle moet tog asseblief sy lewe spaar.” “Enige ou, snor ofte nie, sou mos bang gewees het,” sê Lina droog. “Sulke bendes skiet ’n mens sommer dood.” “Nee, Lina, ’n regte man is nie bang vir gevaar nie!” sê Saartjie seker van haar saak. “Die heldin het toe só min van die ou met die snor gedink dat sy niks verder met hom te doen wou hê nie. Meisies hou nie van lafaards nie.” Saartjie se vriendinne dink na oor wat sy gesê het en uiteindelik sê Lina: “Bedoel jy ons moet die ou met die blink kar bang maak sodat Isabel niks meer van hom moet dink nie?” “Dis presies wat ek bedoel,” sê Saartjie opgewonde. “Want dan sal sy Kris mos weer terugvat.” “En sê nou maar hy is nie ’n bang ou nie?” vra Anna. “Sê nou hy’s só dapper dat Isabel net nog meer van hom hou?” “Apie sê Kris het gesê almal weet daai ou is ’n papbroek.” “Maar wie sê hy’s regtig ’n papbroek?” wil Lina weet. Saartjie trek haar skouers op. Sy weet nie. Sy sê mos maar net wat sy gehoor het. “Nou maar goed, sê nou ons besluit om hom bang te maak,” sê Anna, “hoe gaan ons dit doen?” Saartjie kyk ingedagte voor haar op die vloer. Sy dink ernstig oor hierdie probleem na. Hoe op aarde gaan hulle dit doen?
“Ons kan ons tog nie soos ’n bende vermom en hulle dan voorkeer nie,” sê Lina. “Ons is te kort en klein en wie weet, miskien is hy glad nie bang nie en dan moker hy sommer links en regs onder ons.” “En dan vat hy ons nog polisie toe ook,” sê Anna. “So wat is daar dan wat enige ou – al is hy nie ’n papbroek nie – se broekspype sal laat bewe?” sê Saartjie. Die drie kyk na mekaar. Dan begin hulle skielik glimlag en Saartjie sê: “Dink julle ook waaraan ek dink?” “Waaraan dink jy?” vra die ander twee feitlik gelyktydig. Saartjie aarsel net ’n oomblik, dan sê sy in ’n growwe, hol stem: “Spoke! Wandelende geeste van die nag!” Anna en Lina lag en hulle ril effens. Saartjie se stem het kompleet soos iemand uit die doderyk s’n geklink. Hulle verseker haar vinnig dat hulle ook aan spook se kind gedink het. “Al is ’n man ook hóé dapper,” sê Lina, “as hy ’n spook sien, skrik hy hom boeglam. Dis nou maar wors, soos Apie sou sê.” “Dis net so,” sê Saartjie opgewonde. “Hy sal aan die bewe raak en dan vir die vale hardloop. En enige man wat vir iets weghardloop, daal sommer baie ver in ’n meisie se oë.” “Maar Isabel moet die bangbroekigheid sien,” sê Anna, “anders help dit mos niks nie.” “Natuurlik moet sy dit sien,” stem Saartjie saam. “En sê nou maar net sy hardloop eerste weg?” vra Lina. Saartjie weet nie wat om te antwoord nie en sê: “Jy maak dinge verniet so ingewikkeld. Isabel sal nie weghardloop nie, want die spoke sal daar by haar huis wees!” Hulle dink na oor Saartjie se woorde. Dan sê Lina: “Dis nogal ’n goeie idee. Ons
kan die tweetjies gaan vastrap as hulle daar in Isabel-hulle se tuin in die somerhuisie sit en handjies vashou.” Hoe meer Saartjie, Anna en Lina oor die plan gesels, hoe meer opgewonde raak hulle. Hulle het nog die ou wit lakens wat hulle ’n slag gebruik het om mee spook te speel. “En onthou Kris se rooi neus,” sê Saartjie opgewonde. Anna en Lina lag. Hulle onthou daardie neus baie goed. Dit is so ’n groot, rooi neus wat ’n mens oor jou eie neus sit. Kris het dit eenkeer by ’n konsert gebruik en Saartjie het dit geleen om Galpil en die seuns bang te maak toe hulle eenkeer van Lina-hulle perskes wou deps. Die een oomblik was daar ’n wit gesig en die volgende oomblik was daar ’n bloedrooi neus op die gesig. Galpil-hulle het hulle boeglam geskrik. “Ons moet ons planne haarfyn uitwerk,” sê Saartjie saaklik. “Niks mag skeefloop nie.” Die meisies sit opgewonde koppe bymekaar en bespreek hoe presies hulle alles gaan doen. Ná ’n rukkie sê Saartjie laggend: “Daai vent gaan hom só boeglam skrik dat hy nooit weer vir Isabel sal kom kuier nie. Hy gaan Lynnekom se spoke nooit vergeet nie!”
3
Lynnekom se spoke (1)
Op pad terug huis toe ontmoet Saartjie vir Apie. By die betonplaveisel begin sy spring. Saartjie hop vinnig en sekuur tot by hul voorhekkie. “Hoe weet jy jou voete het nie aan die strepe geraak nie?” vra Apie. “Dis mos donker!” “Ek ken die blokke al só goed dat ek dadelik sal weet as ek op ’n gleuf trap,” sê Saartjie. “Dis ’n simpel besigheid,” sê Apie. “Wanneer gaan jy dit eendag los?” “Sodra ek weet daar sal nie iets vreesliks met my gebeur as ek dit los nie,” antwoord Saartjie. Apie maak ’n paar minagtende sisgeluide deur die opening voor in sy mond. Dis die lafste affêre waarvan hy nog ooit gehoor het – om vir jare aanmekaar so van een blok na die ander te spring en nie soos ’n gewone mens oor die goed te loop nie. “Weet jy wat?” vra Apie skielik toe hulle met die paadjie op huis toe stap. “Nee, wat?” sê Saartjie ingedagte. Sy loop en dink aan hoe hulle weer vir Kris en Isabel bymekaar gaan kry. “Bennie se nefie wat in Zimbabwe bly, kom volgende week hier vir hom kuier.” “Hoe kry hy dit reg? Dis mos nie nou vakansie nie. Gaan hy dan nie skool toe nie?”
“Bennie sê die ouens in Zimbabwe se vakansies is anders as ons s’n. As ons vakansie het, het hulle skool en as ons skool het, het hulle vakansie. Dis snaaks, nè?” “Hm,” sê Saartjie. “Wat’s Bennie se nefie se naam?” “Peter.” “O.” “Bennie hou nie eintlik van hom nie. Hy sê die ou kan baie grootpraat, so nou wil hy vir Peter aan julle afsmeer.” “Hoekom aan ons?” “Omdat die ou so oud soos julle is. Hy sal makliker by julle inpas as by my en Bennie.” “Hoekom smeer Bennie hom nie liewer aan Galpil-hulle af nie?” “Hy gaan dit ook probeer. Solank ek en hy net nie vir die week met Peter opgeskeep sit nie.” Galpil – of soos hy gedoop is, Lodewyk le Fras de Waal – is net so oud soos Saartjie-hulle en was nog altyd in dieselfde klas as die Drie Muskiete. Galpil, Piet en Gert is gedurig bymekaar. Die meisies hou nogal van hulle, maar hulle sit ook partykeer vas. Saartjie dink Galpil sal glad nie ’n slegte ou wees nie as hy net sy nare gewoonte kan afleer om almal “ou perd” of “pêrre” te noem. Dié aand krap Saartjie in ’n laai in haar kamer en kry uiteindelik die ou laken wat hulle gebruik het om Galpil-hulle so bang mee te maak. Sy haal ook twee lang, swart kouse uit. As sy dit onder die laken dra, sal dit mos in die donker lyk of sy in die lug sweef. Saartjie weet waar Kris die rooi neus bêre en besluit om dit so gou as wat sy ’n kans kry te gaan deps. Kris sal dit seker nie eers agterkom nie en al vind hy ook uit mag hy nie kwaad word nie, want sy doen dit mos alles vir hom. Die volgende oggend ná Sondagskool gesels die drie vriendinne weer oor Isabel
en Kris se romanse – die romanse wat nie meer bestaan nie. “Ek het Isabel vroeg vanmôre gesien. Sy’t verby ons huis kerk toe gestap,” sê Lina. “Maar weet julle wat? Sy lyk nie vir my so gelukkig met die wolf met die blink kar nie.” “Hoekom nie?” wil Saartjie dadelik weet. “Het jy hom dan ook gesien?” “Nee, hy was nie by nie, maar Isabel het vir my so treurig gelyk... so... Ek weet nie hoe nie.” “Miskien was sy treurig oor die wolf nie by haar was nie,” stel Anna voor. “Of miskien oor sy na Kris verlang,” sê Saartjie. “Ek weet nie wat dit is nie,” sê Lina, “maar julle weet mos hoe vrolik Isabel altyd is en hoe vriendelik sy ons altyd groet. Wel, toe ek vir haar ‘Haai!’ skree, het sy skaars geglimlag en gesê: ‘Môre, Lina.’ Toe loop sy weer stadig aan met haar oë op die grond.” Saartjie en Anna frons. Dis darem vreemd. Hulle ken Isabel mos nie só nie. “Ek verstaan dit nie,” sê Saartjie kopskuddend. “Isabel was nogal altyd vriende met ons, al ís sy nou al een-en-twintig. Onthou julle daai keer toe ons haar en Kris met modder betakel het? Toe draai Bennie en Apie teen ons en help vir Kris, maar Isabel het ons kant gekies! Onthou julle nog hoe’t sy Kris se gesig met die modder besmeer?” Almal lag. Hulle onthou maar te goed. Isabel is ook glad nie suinig nie. Die meisies onthou hoe sy al baie keer vir hulle ’n paar rand gegee het as hulle so skimp van al die lekker lekkers in die kafee, maar dat ’n mens geld nodig het om dit te koop… “Weet julle wat dink ek moet ons doen?” sê Saartjie. Anna en Lina kyk vol afwagting na haar. “Ek dink ons moet sommer nou vir Isabel gaan kuier! Dan kan ons haar mos goed deurkyk en uitvind hoekom sy so treurig is.”
“Ja,” sê Lina opgewonde, “én dan kan ons die wêreld daar deurkyk en sien wat ons moet doen om die wolf met die blink kar lekker bang te maak.” “Weg is ons!” sê Anna ingenome. “Isabel gee mos altyd vir ons koeldrank en koekies as ons daar by haar kom.” “Ek wonder net of ons vandag sal kry,” sê Saartjie. “Onthou, ek is nie nou meer haar kêrel se sussie nie.” Anna glo dit sal niks aan die saak verander nie. Isabel is so gaaf dat sy hulle nog net soos altyd sal behandel. Die meisies stem saam dat dit beter sal wees as hulle liewer niks sê oor die verhouding wat verbreek is nie. “Ons maak maar liewer of ons niks weet nie,” stel Saartjie voor. Die drie stap vinnig met die hoofstraat af na waar Isabel en haar ouers woon. Isabel is meneer en mevrou Theron se enigste kind. Haar pa is ’n bankbestuurder hier in Lynnekom. Toe hulle naby die huis met die groot tuine kom, gaan staan Saartjie skielik botstil. “Sien julle wat ek sien?” vra sy en wys met haar vinger. Anna en Lina kyk en snak na asem. Daar staan ’n groot, blink motor voor Isabelhulle se huis! Die Drie Muskiete kyk na mekaar en dan stap hulle vasberade nader. Hulle bekyk die motor aandagtig. “Dis nie ’n Lynnekommer se kar nie,” sê Lina. “Natuurlik nie,” sê Anna. “Ons weet mos wie s’n dit is. Dis daai nare ou s’n!” Lina en Saartjie knik net kop. Dis beslis die vent wat Kris se meisie afgevat het se motor. “Gaan ons nou nog kuier?” vra Anna huiwerig.
“Natuurlik!” sê Saartjie beslis. “Ons wil hom mos ontmoet om te sien of hy ’n bang ou is, of nie.” Dan voeg sy glimlaggend by: “En ek wil sien of hy ’n snor het.” Die meisies stap by die hekkie in en met die tuinpaadjie op na die voordeur toe. Hulle is in hul beste klere uitgevat. Saartjie hou ’n gesangeboekie en Bybel in haar hand vas. Anna en Lina het elkeen ook ’n gesangeboekie. Hulle sit hul vroomste Sondaggesigte op. Naby die stoep se trappies gaan staan hulle skielik stil en draai hul koppe effens om beter te kan hoor. Daar kom stemme van die somerhuisie langs die huis af. Saartjie stap sonder om te huiwer soontoe. Anna en Lina volg kort op haar hakke. Isabel en die man bly stil toe hulle die meisies met hul gesangeboekies na hulle toe sien aangestap kom. Isabel glimlag. Die man kyk vies na haar en brom: “Is dit ’n afvaardiging van die kerk?” “Nee, hulle’s vriende van my,” sê Isabel en glimlag vir die drie. Saartjie dink dit sal seker nie gepas wees om “Haai!” te skree nie, aangesien hulle hul Sondagklere aanhet en boonop nog gesangeboeke ook by hulle het. Sy knik daarom maar sedig met haar kop en sê: “Goeiemôre, Isabel.” Dan draai sy na die man en glimlag skielik breed. Sy was toe heeltyd reg! Hy hét ’n snor! Saartjie sê: “Goeiemôre, Meneer.” Anna en Lina groet ook stywerig. “Haai, julle ouens,” sê Isabel vriendelik. “Ek het julle lanklaas gesien. Kom sit hier by ons.” Die man met die snor groet glad nie. Hy kyk net vies na die drie meisies. Saartjie, Anna en Lina kom sit penregop op die bankie oorkant die twee grasstoele waarop Isabel en die vent met die snor sit. Hulle kyk belangstellend na “daai wolf met die blink kar” soos Lina hom noem. “Hoe gaan dit met julle?” vra Isabel belangstellend.
“Goed,” sê Saartjie. Dan vra sy versigtig: “En met jou?” “Nee, ons hou uit,” sê Isabel en dis amper of daar ’n treurige trek om haar mond kom. Anna vang Saartjie se oog en trek haar voorvinger ongemerk oor haar bo-lip. Saartjie knik ongemerk met haar kop om te wys sy het dit reeds gesien. “Jy moet ligloop vir hierdie vriendinnetjies van my, Theodor,” sê Isabel vir die man langs haar. “Hulle lyk vandag so sedig, maar hulle vang baie kattekwaad aan. Hulle laat Lynnekom se mense baie lag met hul kaskenades.” “So?” sê die man net en streel sy snor. Hy kyk vies na die drie wat ewe fraai en fyntjies daar sit. Hy is duidelik nie ingenome met hulle wat juis nou kom kuier het nie. Isabel is ook mooi uitgevat in haar Sondagklere, maar die vent met die snor lyk meer of hy gaan piekniek hou. Hy dra ’n wit broek en ’n helderrooi hemp. Om sy nek is daar ’n swierige serp. Saartjie kyk afkeurend na hom. Hy is glad reg aangetrek vir ’n Sondag nie. Die Drie Muskiete gesels gewoonlik baie lekker met Isabel, maar vandag is daar ’n stroefheid wat almal aanvoel. Dis hierdie Theodor se skuld, dink Saartjie. Theodor... wat ’n aaklige naam! Anna en Lina sit ook met suur gesigte asof hulle nou net kasterolie gedrink het. Dis baie duidelik dat die drie meisies niks van Theodor hou nie. En dis net so duidelik dat hy ook niks van hulle hou nie. Hy sit amper openlik na hulle en gluur. As hy dink hy gaan ons bangmaak deur so woes te kyk, dink Saartjie, dan wag daar ’n verrassing vir hom. Sy sit gemaklik agteroor op die bankie soos iemand wat heerlik kuier. Anna en Lina skuif ook sodat hulle gemakliker sit. Hulle is nie van plan om gou te loop nie – veral nie omdat hierdie ou hulle so suur aankyk nie. Isabel glimlag nog steeds vriendelik. Theodor is miskien vies, maar sy is bly die meisies het kom kuier. Dit lyk vir Saartjie of Isabel glad nie so baie van hierdie ou hou nie – in elk geval nie op die manier wat Kris dink nie.
“Ons het al tee gehad,” sê Isabel, “maar ek gaan gou vir julle koeldrank en koekies haal.” “Moenie moeite doen nie,” sê Saartjie, want sy ken mos haar maniere, maar terselfdertyd stoot sy darem die bankie terug sodat Isabel kan verbykom. “Dis nie moeite nie,” sê Isabel en voeg laggend by: “Gesels julle solank met die oom.” Theodor kyk vies op en brom iets van hom wat niemand se “oom” is nie. Saartjie kry tot in haar tone lekker. Daar is ’n ongemaklike stilte. Theodor kyk voor hom op die grond en streel kortkort oor sy snor. Saartjie, Anna en Lina sit stip na hom en kyk. Skielik knipoog Saartjie ondeund vir haar vriendinne. Hulle knipoog terug. Nou gaan hulle ’n bietjie pret hê! “Oom?” sê Saartjie onskuldig en glimlag vriendelik. “Wat’s dit?” vra hy en kyk op na die drie wat met engelgesiggies na hom sit en kyk. “Woon Oom hier in Lynnekom?” “Nee,” kom dit kortaf. Die man streel weer sy snor. Saartjie kyk na die ander twee. Hy is beslis nie ’n baie gesellige ou nie. Sy besluit dis nou die regte tyd om hom bietjie skrik te maak oor wat nog gaan kom. “Lynnekom is ’n snaakse plek, Oom weet...” Dit lok geen reaksie uit nie. Theodor bly met sy snor speel en kyk nie eers op nie. “Weet Oom hoekom is dit so ’n snaakse plek?” vra Saartjie. Die man kyk op en sug. Die kinders is lastig! “Nee. Hoekom?”
“Omdat hier so baie spoke is!” Saartjie se oë is groot. “Spoke?” “Ja, Oom. Oom sien, Lynnekom is glo gebou op grafte uit die dae van die Anglo-Boereoorlog. Daarom spook dit vir ’n vale hier!” “So?” Theodor se dik wenkbroue is die ene vraagtekens. “Ja, Oom,” sê Saartjie en haar stem klink onheilspellend. “Wel, ek glo nie in spoke nie, en ek is ook nie bang vir hulle nie – al ís daar sulke goed!” snou die man Saartjie toe. “Buitendien, ek is nie lus om nou na spookstories te sit en luister nie.” Die man se houding maak dit baie duidelik dat hy niks verder te sê het nie. Hy sit net voor hom en uitkyk en streel sy snor. Isabel daag uiteindelik met die skinkbord koeldrank en koekies op. “Het julle lekker gesels?” vra sy. Die meisies antwoord nie. Theodor sê net: “Huh!” Die Drie Muskiete sit nou en smul aan die koekies en koeldrank. Hulle hou glad nie van Theodor nie. Saartjie besluit sommer daar en dan dat hulle hom baie banger gaan maak as wat nodig is. Dit sal hom miskien bietjie maniere leer. Terwyl die drie so heerlik eet, loer Saartjie kort-kort na Isabel. Sy lyk glad nie gelukkig nie en daar is ’n hartseer kyk in haar oë. Skielik staan Theodor op. “Ek loop nou maar,” sê hy vies en kyk nors na die meisies. “Lyk my nie ons gaan vanoggend weer alleen wees nie, Isabel.” Saartjie byt effens op haar onderlip en vee met die agterkant van haar hand oor haar voorkop. “Is ons in die pad?” vra sy.
“Natuurlik nie, Saartjie!” sê Isabel opreg. “Bly hier. Ek stap net gou saam met Theodor tot by die hekkie.” Die man stap vies saam met Isabel by die somerhuisie uit. Hy groet die meisies nie eens nie en hulle groet hom ook nie. Ná ’n oomblik hoor hulle hoe hy vir Isabel sê: “Ek sien jou môreaand weer – so halfnege se kant. Ek hoop ons sal dan alleen kan kuier.” Die meisies hoor nie wat Isabel antwoord nie. “Ek hou niks van hom nie,” sê Saartjie eerste. “Ek ook nie,” sê Anna. “Ek wonder wat sien Isabel in hom?” sê Anna. “Dit moet seker maar die blink kar wees!” “Moenie simpel wees nie!” snou Saartjie haar toe. “Lyk hy vir julle soos ’n ou wat vir spoke sal skrik?” vra Lina. “Daar is nie ’n mens in die wêreld wat nié vir spoke skrik nie,” sê Saartjie beslis. “Toe jy van spoke begin praat het,” sê Lina, “het ek goed gekyk, maar ek kon nie sien dat sy broekspype bewe nie.” “Wag maar tot hy die spoke sien,” sê Saartjie. “Mens is mos nie bang as jy net van spoke hoor nie. Maar as jy hulle sien, is dit ’n ander saak.” Dan hoor hulle Isabel aankom en praat nie verder oor spoke nie. “So ja, outjies,” sê sy en lyk bly dat Theodor uiteindelik gery het, “nou kan ons lekker gesels.” Hulle sit heerlik en ginnegaap oor allerhande dinge. Netnou se stroefheid is nou heeltemal weg. Maar Isabel is nie so opgeruimd soos gewoonlik nie. Sy sug een of twee keer swaar – net soos Kris, dink Saartjie. Is Isabel se hart dan ook gebreek?
Skielik vra Isabel terwyl sy haar stem ongeërg probeer hou: “En hoe gaan dit met die familie, Saartjie?” “Nee, goed. Hulle wonder net almal hoekom hulle jou nooit meer sien nie.” Isabel sit aandagtig na haar mou en staar. Sy trek kastig ’n rafeltjie af en begin dit dan stadig met haar duim en voorvinger in ’n bolletjie rol. Uiteindelik vra sy kastig terloops: “En Kris? Hoe gaan dit met hom?” “Nee, goed dankie,” sê Saartjie en moet hard konsentreer om nie te glimlag nie. Sy kan sien Isabel brand van nuuskierigheid om meer van Kris te hoor, maar Saartjie sê niks nie. Sy dink by haarself sy sal wel antwoord as Isabel haar reguit iets vra. Maar Isabel sien nie daarvoor kans nie. Sy dink aan haar en Kris se lang verhouding en die aaklige uitval wat alles beëindig het. Sy kan nog steeds nie glo Kris het alles so verkeerd opgeneem nie. Die hele moeilikheid het begin toe Theodor eendag by die universiteit aangebied het dat sy saam met hom kan huis toe ry, want hy gaan Lynnekom se kant toe. Isabel was maar te dankbaar om nie weer bus te hoef te ry nie, en het dadelik die uitnodiging aanvaar. Kris was natuurlik woedend – onredelik woedend, volgens Isabel. Sy sou saam met Kris bus gery het as hul lesings dieselfde tyd geëindig het. Dan sou sy nie saam met Theodor gery het nie! Maar hoekom moes sy alleen met die bus huis toe gaan as sy in Theodor se motor kon ry? Hoekom wou Kris dit nie verstaan nie? Daar is mos niks mee verkeerd nie. Kris was bitter ontsteld. Hulle het ’n lelike uitval gehad en toe net daar hul mooi verhouding van soveel jare verbreek. Isabel sien Theodor deesdae baie, maar nooit meer vir Kris nie. Isabel sug swaar en sê: “Ag, ekskuus, outjies, ek voel deesdae so treurig.” Sy probeer meer opgeruimd lyk. “Ek weet sowaar nie hoekom ek so sug nie!” Ek weet – dink Saartjie – dis omdat jy net so baie na Kris verlang soos hy na jou! Saartjie sê dit natuurlik nie vir Isabel nie, maar sy is oortuig daarvan dat sy reg is. As sy nou sou vertel hoe baie Kris ook sug en dat sy hart gebroke is en dat hy soos ’n siek hoender by die huis ronddwaal, sal Isabel só bly wees dat hy ook
sleg voel, dat sy dadelik na hom toe sal gaan. Dan sal hulle sommer dadelik opmaak en weer soos twee verliefde duifies wees. Dit is natuurlik wat Saartjie-hulle wil hê. Maar hulle wil darem eers ook ’n bietjie pret hê. Dit gaan lekker wees om weer ’n slag spook te speel. En wat meer is: as Isabel sien hoe ’n papbroek Theodor is, sal sy hom nooit weer voor haar oë wil sien nie. Maar as sy nou met Kris opmaak, sal sy nog nie gesien het hoe bang is Theodor nie, en dan sal sy hom nog voor haar oë kan verdra, en dan sal daar een van die dae weer moeilikheid tussen haar en Kris wees. Nee, Lynnekom se spoke moet hul werk doen – en hulle moet dit ordentlik doen. “Ek weet nie hoekom ons almal so ernstig is nie,” sê Isabel skielik laggend. “Dit lyk of ons by ’n begrafnis is.” Saartjie, Anna en Lina lag, en dan staan Saartjie op. Die ander twee volg haar voorbeeld. “Ons moet weg wees,” sê Saartjie vir Isabel. “Dankie vir die lekker koeldrank en koekies!” Anna en Lina bedank haar ook en Isabel stap saam met hulle tot by die hekkie. Saartjie bespied die omgewing onderlangs. Sy wil mooi kyk hoe en van watter kant af hulle na die somerhuisie toe moet aangesweef kom. By die hekkie besluit Saartjie dit sal miskien goed wees om Isabel oor die spoke te waarsku, want netnou skrik sy só groot dat sy flou word of iets. “Het jy gehoor dit spook deesdae so baie op Lynnekom?” vra Saartjie. Isabel skud haar kop. “Ja, dit gaan glo woes hier rond,” vertel Saartjie. “Maar ek het gehoor ’n mens moenie vir die spoke skrik as jy hulle sien nie. Hulle is glo onskadelik.” So ja, nou voel Saartjie beter. Isabel is gewaarsku. Isabel wonder waarom Saartjie nou juis van spoke praat, maar voor sy kan vra, groet Saartjie vinnig en die drie stap haastig weg.
’n Entjie van die huis af begin hulle giggel en dan lag hulle sommer hardop. “Nou is Isabel gewaarsku,” sê Saartjie. “So as sy die spoke sien en haar verstand gebruik, sal sy sommer weet dis ons.” “Ek hoop nie sy sê dit dan vir daai wolf met die blink kar ook nie,” sê Lina. “Dit sal alles bederf.” “Sy sal nie,” is Anna se mening. “Julle weet, dit lyk nie of sy regtig so baie van daai nare ou hou nie – blink kar ofte nie!” Saartjie en Lina stem saam. “Dit gaan dinge baie makliker maak,” sê Saartjie. “Kom ons maak Snor sommer môreaand al bang. Hy het mos gesê hy kom halfnege – en dan gaan hy en Isabel seker weer daar in die somerhuisie sit...” “Dis net die regte tyd,” sê Lina opgewonde, “want ons ouers gaan almal na daai vergadering in die stadsaal toe!” Saartjie en Anna is verlig. Dit beteken dit gaan maklik wees om by die huis weg te glip! Lina se huis is die naaste aan Isabel-hulle s’n. Saartjie en Anna sal hul ouers vra om hulle daar af te laai sodat hulle huiswerk kan doen. Sodra die volwassenes by die vergadering is, sal hulle gou die spookgewade aantrek en net skuins oor die straat by Isabel-hulle se tuin inglip. Dan maak hulle vinnig vir Theodor bang en verdamp weer. Teen die tyd wat hul ouers terugkom, sal hulle drie al weer hard besig wees met skoolwerk. Niemand sal eers weet hulle was vir ’n rukkie by die huis uit nie. Só word die hele plan afgespreek. Dié Maandagmiddag sit Saartjie en Anna al hul lakens en swart kouse in hul boeksakke. Saartjie het reeds toe sy van die skool af gekom het, en Kris nog by die universiteit was, in sy laai gaan krap en die rooi neus in die hande gekry. Aan etenstafel vra Saartjie die aand ewe onskuldig: “Kan ek vanaand by Lina gaan huiswerk doen, Mamma? Anna gaan ook. Ons het wiskunde waarmee ons mekaar wil help.”
“Wat sê jy, Jan?” vra haar ma vir haar pa. “Ja, dis in die haak,” antwoord hy. “Ons kan haar sommer op pad na die vergadering toe daar aflaai en haar dan ná die tyd weer daar kry.” “Dankie, Pappa,” sê Saartjie. Sy het geweet dit sal nie ’n probleem wees nie. “Wat van my?” vra Apie skielik en sy tongpunt speel deur die opening waar sy twee voortande makeer. “Abraham!” sê sy ma kwaai. “Ag, ekskuus, Ma.” Die tongpunt verdwyn vinnig. Sy ma hou nie van hierdie gewoonte van hom nie. “Wat van jou?” vra dokter Baumann glimlaggend vir Apie. “Kan ek by Bennie gaan huiswerk doen?” Die ouers kyk na mekaar. Sy ma sê: “Jy gaan altyd na hom toe. Laat Bennie liewer ’n slag hiernatoe kom.” Apie dink hieroor na en besluit dat hulle hier net soveel pret sal hê as by Benniehulle, want sy ouers gaan mos uit wees. “Reg, Ma. Kan ek hom maar bel en vra?” Sy ma knik en Apie vra om van die tafel verskoon te word. Hy wil sy maat sommer dadelik oornooi. Die telefoon is op ’n tafeltjie in die een hoek van die sitkamer. Apie skakel Bennie-hulle se nommer en dan skree hy: “Hei, Ben ou Pen, is dit jy?” Blykbaar het Ben ou Pen geantwoord, want Apie skree nou hy het gedog dis hy. Die res van die gesin kyk glimlaggend na mekaar. Saartjie en Kris vryf albei hul ore. Hulle kon nog nooit vir Apie laat verstaan dat dit nie nodig is om so hard oor ’n telefoon te skree nie. Hy wil dan altyd weet hoe anders die ou aan die ander kant sal hoor wat hy sê. ’n Mens moet mos skree. Bennie moes gevra het wie dit is wat praat, want Apie skree nou: “Dis ek – Aap
ou Skaap!” Bennie vra seker hoe dit gaan, want Apie skree: “Nee, goed. En met jou, Ben ou Pen?” Dit gaan seker met Ben ou Pen ook goed, want Apie skree nou hy is bly om dit te hoor. Uiteindelik kom Apie uit by hoekom hy bel. Hy skree Bennie moet sy huiswerk bring en dit hier by hom kom doen. Al die grootmense gaan vergadering toe en dit sal lekker wees as hulle saam kan sit en werk. Dan bly Apie stil. Bennie sê iets. Apie skree weer: “Hoe kan jy nie weet watse huiswerk nie? Slaap jy heeldag in die klas? Bring net jou boeke. Ek sal jou wys watse goete ons moet doen.” Apie is vir ’n oomblik stil en die res van die gesin se oortromme kry kans om ’n bietjie te rus. Dan skree Apie weer: “Sal jou pa-hulle jou bring? Reg, Ben ou Pen, dan sien ek jou nou-nou. Ons gaan vet pret hê... eh... ek bedoel, ons gaan lekker huiswerk doen!” Apie plak die foon neer en kom sit weer aan tafel. Hy vat ’n sluk van die warm sjokolade wat sy ma vir hom aangegee het. Dan sê hy: “Bennie kom.” “Ons het so gehoor,” sê Saartjie droogweg en vryf haar oor – die een wat naaste aan die telefoon is. Ná ete maak die Baumanns gereed om Saartjie by Lina se huis te gaan aflaai. Net voor hulle ry, sê Martha Baumann vir Kris: “Wat gaan jy vanaand doen?” “Niks nie, Ma.” Kris sug asof hy die wêreld se probleme op sy skouers dra. “Wat is daar nou vir ’n ou om te doen?” “Toemaar,” sê Saartjie gerusstellend, “onthou: elke wolk het ’n silwer randjie en as die nag op sy donkerste is, is die dag naby...” “Dankie, Saartjie,” sê Kris suur, “maar dit werk nie in die regte lewe só nie...”
Toe Saartjie-hulle by Lina se huis kom, is Anna al daar. Saartjie se ouers laai haar gou af en ry verder. Die drie meisies sit in Lina se kamer. Hulle is alleen in die huis. “Nou kom, ouens,” sê Saartjie opgewonde, “laat ons sien hoe lyk ons.” Hulle trek die lang swart kouse aan en gooi die wit lakens oor hulle sodat hulle net deur die gaatjies wat daarin geknip is, kan loer. Dan sit Saartjie Kris se groot rooi neus aan. Sy lyk vreeslik koddig en Anna en Lina skree soos hulle lag. “Maar sal daai wolf met die blink kar die neus sien?” vra Lina. “Dis effens maanlig,” sê Saartjie laggend. “Ek sal só staan dat hy dit moet sien.” Lynnekom se spoke is gereed. Saartjie kyk op haar horlosie. Dis nou maar eers agtuur. “Ons het nog ’n halfuur,” sê sy. Die drie “spoke” gaan sit op die bed, maar dan sê Saartjie: “Hoekom sal ons nou hier sit en wag? Kom ons loop ’n ompad en kyk wat daar te siene is.” Haar oë vonkel ondeund. “Hoe bedoel jy ‘kyk wat daar te siene is’?” vra Lina. “Ons kyk of daar iemand anders is wat ons op pad na Isabel-hulle toe kan bangmaak.” Anna en Lina is dadelik opgewonde oor Saartjie se voorstel. Wie sê nou nee vir ’n bietjie ekstra pret? Soos een man, of liewer, soos een spook staan die drie op en stap by die deur uit.
4
Lynnekom se spoke (2)
Dit is donker buite. Die sekelmaan het agter die wolke verdwyn. Die Drie Muskiete stap na Lina-hulle se voorhekkie toe. Saartjie loop voor. Lina is agter haar en dan Anna. Skielik begin Lina giggel. “Wat’s dit?” vra Saartjie en draai om. “Jy moet sien hoe lyk jy van agter af!” sê Lina. “Kompleet nes ’n spook!” Saartjie stap so ’n entjie weg sodat Anna ook kan kyk. “Jy weet, Saartjie,” sê Anna, “as ek nie geweet het dis jy nie, het ek vir ’n vale gehardloop.” Die meisies lag te lekker en die een probeer om meer soos ’n spook te lyk as die ander. Met die lang swart kouse en die swart skoene aan hul voete lyk dit of hulle deur die lug sweef. Saartjie weet sommer hulle gaan baie pret hê. “Wag maar tot die maan uitkom en hulle my rooi neus sien!” sê sy. Die drie staan hoog in hul skik by die hekkie. Hulle loer versigtig op en af in die straat en soek hul eerste slagoffer. “Ons moet net nie naby die lamppale gaan nie,” sê Lina. Saartjie maak ’n paar roggelgeluide agter in haar keel. “Wat doen jy nou?” vra Anna.
“Ek maak net my stembande los sodat ek so laag soos ’n spook kan praat,” sê sy en maak weer so ’n paar growwe geluide. Anna en Lina kyk haar geamuseerd aan. Dan sê Saartjie: “So ja, nou’s my stem gereed. Laat ek maar die praatwerk doen.” Die meisies kyk weer in die straat af. Hulle sien nêrens ’n lewende wese nie. Dit lyk sowaar of almal in Lynnekom vanaand vergadering toe is. “Kom ons loop met die agterste straat langs,” stel Lina voor. Die drie stap weg. Iemand wat nie weet dit is hulle nie, sal baie groot skrik. Hulle lyk kompleet soos drie spoke wat oor die aarde sweef. Wanneer die meisies in die agterstraat kom, gaan staan hulle skielik botstil. ’n Entjie voor hulle is die hotel se agterplaas en reg oorkant is daar ’n straatlamp wat ’n dowwe ligkol op die pad en sypaadjie gooi. Hulle sien duidelik hoe oom Jorsie, Lynnekom se man van twaalf ambagte en dertien ongelukke, by die deur uitgeslinger kom. Almal hier ken oom Jorsie en sy streke. Hy is ’n ou man, klein en tengerig gebou, wat altyd ’n groot wolpet dra. Die pet is heeltemal te groot vir sy kop. As dit nie vir sy twee groot bakore was nie, sou die pet oor sy oë afgesak het. Oom Jorsie se hande staan vir alles reg en hy doen allerhande los werkies, maar hy het ongelukkig ’n drankprobleem. Hy is meer aangeklam as wat hy nugter is. Die dominee en die verskillende vroueverenigings het al baie probeer om hom te laat insien hoeveel skade dit hom berokken, maar dit het alles net mooi niks gehelp nie. Hulle het die stryd nou maar gewonne gegee. Dit is vir Saartjie, Anna en Lina baie duidelik dat oom Jorsie vanaand ook weer hoog in die takke is. Hy kom al singende met die halfdonker straat afgestap: “O brandewyn, laat my staan...” “Dís ons kans!” fluister Saartjie. “Ons gaan hom só groot laat skrik dat hy nooit weer na ’n bottel sal kyk nie.” Die meisies gaan staan teen die heining.
“Wanneer hy reg oorkant ons is,” fluister Saartjie, “gaan ek van voor af na hom toe stap. Anna, dan kom jy van die linkerkant af aan en jy sweef van die regterkant na hom toe, Lina. Ons gaan staan wanneer ons so ’n paar tree van hom af is kyk dan eers wat gebeur.” Die drie staan doodstil. Hulle haal opgewonde asem. Oom Jorsie kom al swaaiende en singende aan. Hy sing nou hard: “My bonnie lies over the ocean...” Toe hy by die deel kom wat sê: “Bring back, oh, bring back, oh, bring back my bonnie to meeeeeeee...” steier hy effens en op daardie selfde oomblik kom Saartjie op hom afgestap. Ná ’n paar tree gaan staan sy doodstil en wag dat Anna en Lina van die kante af moet inbeweeg. Oom Jorsie knip sy oë. Hy kyk verstom na die wit gedaante hier voor hom en sê dan met ’n hees stem: “Ek glo dit nie.” Hy begin hard sing die brandewyn moet hom laat staan – hy dink natuurlik dis die drank wat hom sulke snaakse dinge laat sien! Die oubaas strompel vorentoe en Saartjie beweeg ligvoets agteruit. Dit lyk kompleet asof die ding so deur die lug sweef. Oom Jorsie steek weer in sy spore vas. Hy sing nie meer nie. Hierdie vreemde affêre steek hom dwars in die krop. Hy vryf sy oë en kyk weer, maar die wit ding bly nog steeds daar staan. Die oom vryf weer – dié keer so hard dat die wolpet skoon oor sy oë gly. Hy ruk die pet vinnig af. Hy wil sien wat aangaan. Hy wil nie onverwags oorrompel word nie. Oom Jorsie staar stip na die wit gedaante voor hom. Saartjie moet op haar onderlip byt om nie te lag nie. Die oubaas wieg nou glad nie meer heen en weer nie, maar sy broekspype het skielik onbedaarlik aan die bewe gegaan. In ’n poging om homself moed in te praat, sê hy weer: “O brandewyn, laat my staan” en dan: “Ek glo dit nie.” Hy bewe nou behoorlik soos ’n riet en lek kort-kort oor sy droë lippe. Saartjie besluit sy moet iets doen voor hy flou word sonder dat hulle enige pret gehad het. Sy sê in ’n lae, hol stem: “Wat glo jy nie?”
Selfs Anna en Lina voel koue rillings langs hul ruggrate afhardloop. Saartjie se stem klink asof dit uit die doderyk kom. Oom Jorsie is só lam geskrik dat hy nie ’n geluid kan uitkry nie. Sy mond gaan oop en toe, maar daar kom niks uit nie. “Jou dag het aangebreek, Jorsie,” sê Saartjie onheilspellend. “Die uur van afrekening is hier!” Dit klink vir die verskrikte en oorblufte oom Jorsie asof haar hol stem van ver af aangesweef kom, van ’n plek waar dit wemel van die dooies. Die arme oom se tande klap só geweldig op mekaar dat hy hoegenaamd nie iets kan sê nie. “Kyk regs van jou!” beveel die spookstem. Oom Jorsie maak so en snak na asem wanneer hy sien hoe ’n ander gedaante nou na hom toe aangesweef kom. “Kyk links van jou!” Oom Jorsie sien ’n derde gedaante – en sy pet val summier oor sy oë! Hy pluk die ding verskrik van sy kop af en probeer gou skat of die gedaantes in daardie oomblik nog nader gekruip het. Lina begin stadig vorentoe beweeg. Dan kry oom Jorsie uiteindelik ’n geluid uit. “Ag, hemeltjie!” skree hy, “Help my tog!” Hy kyk vreesbevange rond. Die spoke beweeg nou in ’n kring om hom en daar is nêrens uitkomkans nie. Dit voel of die gedaantes oral om hom is en of hulle enige oomblik sulke lang, klam vingers gaan uitsteek om hom aan sy nek te wurg... en te wurg… Oom Jorrie kyk met oë vol vrees na die spook wat gepraat het. “Asseblief, meneer Groot Spook,” sê hy doodbenoud, “gee my nog ’n klein ou kansie. Vergewe nog hierdie een keer vir ou Jorsie... Asseblief tog... Ai toggie...” Die oubaas begin soos ’n klein kindjie kerm.
“Jy drink gans te veel, Jorsie,” kom die lae spookstem. “Ag toggie... Asseblief tog... Laat my asseblief net gaan... Asseblief toggie...” “Die drank is sleg vir jou gesondheid,” sê die spookstem weer. “Ja, Meneer; ek weet, Meneer... My hart is klaar... gedaan... Maar daar sal nie weer ’n druppel drank oor my lippe kom nie… Nie ’n enkele druppel nie... Laat my net gaan, asseblief toggie!” Die drie spoke staan doodstil om die oubaas wat soos ’n riet bewe. Hy soebat eenstryk deur en loer kort-kort of die ander twee spoke hom nog steeds omsingel. Dit begin vir hom lyk of hulle al hoe nader aan hom kom en oom Jorsie begin harder as ooit soebat. Net toe kom die maan agter ’n wolk uit en Saartjie sê: “Jou arme sukkelaar, kyk na my. Kyk na my neus!” Oom Jorsie staan en staar. Sy mond val nog groter oop en hy bibber en bewe asof dit ’n ysige winternag is. Hy het nog nooit so ’n afgryslike ding gesien nie! “Dis hoe jou neus gaan lyk as jy aanhou drink!” sê Saartjie streng. “Ek sal ophou... Ek belowe... Asseblief tog... Daar sal nooit weer ’n druppel drank oor my lippe kom nie... Asseblief tog, Meneer... Wees my genadig!” Dit lyk of oom Jorsie nou gaan begin huil. Sy senuwees is gedaan. “Reg, jy kan gaan,” kom die lae, hol stem uit die doderyk, “maar as jy nie jou woord hou nie, kom ons terug, hoor jy?!” “Ag, dankie... Dankie tog...” prewel oom Jorsie. Saartjie sweef voor hom weg en sê: “Hardloop, Jorsie – voor ons besluit om jou weg te vat!” Oom Jorsie laat hom nie twee keer nooi nie. Hy begin nael asof daar baie meer as net sewe duiwels agter hom aan is. Hy verslap sy pas net een keer om sy pet uit sy oë te kry sodat hy darem kan sien waar hy hardloop. Saartjie, Anna en Lina krul eintlik om soos hulle lag.
“Jy was wonderlik, Saartjie!” sê Anna. “Ek het self elke keer koue rillings gekry toe jy praat.” “Ek is seker oom Jorsie het só groot geskrik dat hy nooit weer gaan drink nie!” sê Lina. Saartjie kyk op haar horlosie. “Ons moet nou wikkel na Isabel-hulle toe,” sê sy, “anders is ons laat.” Lina stel voor dat hulle eers nog ’n slagoffer soek, want sy is seker Isabel en “daai wolf met die blink kar” sal nog lank in die somerhuisie sit en handjies vashou. Anna maak beswaar. Isabel en “daai nare ou” mag wel miskien nog lank daar sit, maar hulle drie spoke het nie baie tyd om te mors nie. Hulle moet terug in Linahulle se huis wees voor hul ouers van die vergadering af kom. Saartjie stel voor dat hulle na Isabel se huis toe gaan, maar die kans waarneem om ’n bietjie pret te hê as hulle iemand langs die pad teëkom. Die ander twee is tevrede hiermee. Hulle draai om en stap met die straat af. Naby die hoek kom daar skielik ’n fiets om die draai. Die meisies spring vinnig weg sodat hulle teen die heining op die sypaadjie staan. Die fiets se lig is só skerp dat hulle nie kan sien wie dit is nie. “Sal ons uitspring en hom skrikmaak?” vra Lina. “Wag!” fluister Saartjie en haar stem bewe. “Kyk daar op sy kop!” Die ander twee kyk en hulle sien dit ook! Dis die Suid-Afrikaanse Polisiediens se wapen! Die meisies druk hulle nou nog stywer teen die heining vas. Die konstabel ry niksvermoedend op sy fiets verby. Saartjie-hulle hou asem op en slaak ’n sug van verligting toe hy om die volgende hoek gaan. “Sjoe,” sê Saartjie, “dit was darem vir jou amper!”
Anna en Lina vee die sweet van hul voorkoppe af. Ja-nee, dit was so hittete. Die drie stap vinnig verder. Eers wanneer hulle doodseker is die konstabel gaan nie terugkom nie, begin hulle weer ontspan. Saartjie begin nou selfs grootpraat. “Julle weet,” sê sy, “ons moes daardie konstabeltjie bang gemaak het. Hy sou net so groot soos oom Jorsie geskrik het. Almal is bang vir spoke, en ek wed julle ’n polisieman óók...” “Maar onthou,” sê Anna, “hy’t ’n rewolwer. Sê nou hy’t só groot geskrik dat hy sy rewolwer uitgepluk en geskiet het!” Saartjie en Lina besef dit kon gebeur het. Hulle is nou maar bly hulle het die konstabel nie ook probeer bangmaak nie. Soos Saartjie sê, dan was hulle dalk nou regte spoke! Toe die drie meisies in die volgende straat na die bankbestuurder se huis toe afdraai, kom daar weer iemand op ’n fiets aangery. Wanneer hy onder ’n lamplig deurry, herken hulle hom – dit is Lynnekom se posman, Frikkie Booysen. Hy is seker op pad terug poskantoor toe, want hy huur ’n kamer aan die agterkant van die gebou. “Hy skeep sy werk deesdae vreeslik af,” sê Saartjie. “Almal kla oor hy die verkeerde briewe in die verkeerde posbusse sit. Kom ons leer hom ’n les!” Die drie meisies staan doodstil teen ’n motorhuis se wit muur. Frikkie moet hier voor naby hulle verbygaan. Die posman kom fluitend op sy fiets aangery. Toe hy reg by die drie “spoke” kom, roep Saartjie met haar hol spookstem: “Frikkie!” Die posman sit sy voet op die grond om te stop, maar klim nie van sy fiets af nie. “Wie’t my geroep?” vra hy. “Frikkie!” sê Saartjie weer en hy draai om. Skielik sien hy die drie spoke. Hy snak na asem en sy oë rek wyer en wyer.
Hulle het nie bene nie, is die eerste gedagte wat by Frikkie opkom. Dit beteken hulle kan my nie vang nie, is sy tweede gedagte. Hy lig sy voet van die grond af op en om vinnig te trap. “Frikkie!” skree Saartjie. “Staan stil!” Frikkie aarsel ’n oomblik en dan maak hy maar so. Dit help nie om moeilik te wees as ’n spook jou roep nie. Die gedoente kan ’n man dalk iets aandoen. Jy weet nooit nie. Die drie spoke kom nader gesweef. Frikkie begin soebat. Hy sê hy is van die Boland af en hy is ’n goeie kêrel. Hy stuur elke maand die helfte van sy salaris vir sy ma daar onder in die Kaap en wat sal van sy arme moeder word as sy nie meer sy geldjies kry nie? Frikkie sê dit alles in een asem nog lank voor Saartjie-hulle eers by hom is. Saartjie besef hulle kan nie te lank met hom staan en gesels nie. Die drie gedaantes kom ’n paar tree van die bibberende Frikkie af tot stilstand – en net toe loer die maan agter ’n wolk uit. “Kyk na my neus, Frikkie,” beveel Saartjie met haar hol, diep stem. Die posman kyk en sy oë peul amper uit sy kop. Hierdie geeste het nie bene of gesigte nie – maar die een met die vreesaanjaende stem het ’n groot rooi neus, die liederlikste neus wat hy nog ooit gesien het! “As jy aanhou om so agterlosig te wees en die verkeerde briewe by die verkeerde huise aflewer,” sê Saartjie, “gaan jy net so ’n neus kry! Maak dat jy hier wegkom! Ry!” “Jissie...” Dit lyk amper of Frikkie van pure verligting gaan omkap. “Ek sal nooit weer een enkele fout maak nie,” sê hy en wip op sy fiets se saal en trap vir ’n vale. Daar was seker nog nooit vantevore of hierná iemand hier in Lynnekom wat ’n fiets so vinnig getrap het nie. Frikkie is in ’n japtrap by sy kamer agter die poskantoor. Hy sluit die deur bewend toe en sak hygend op die vloer neer. Praat van ’n noue ontkoming… Saartjie, Anna en Lina stap laggend verder. Dit was alles net ’n bietjie
onskuldige pret. Maar nou gaan die aand se belangrikste spokery begin – die gedoente wat Kris en Isabel weer bymekaar moet uitbring. Die meisies kom by die bankbestuurder se huis aan. Daar staan ’n groot, blink motor voor die huis. Hulle gaan staan by die hekkie en kan “daai nare ou” soos Anna hom noem, of “daai wolf met die blink kar” soos Lina hom noem, of “Snor” soos Saartjie hom noem, of Theodor soos Isabel hom noem, hard in die somerhuisie hoor gesels. “Onthou nou,” gee Saartjie haar laaste bevele in ’n fluisterstem, “julle bly ’n entjie agter my. Ek gaan reguit na die somerhuisie toe loop sodat dit lyk of ek aangesweef kom. Wanneer ek by die ingang kom, sal ek gaan staan. En dan, wanneer hulle my oopmond sit en aangaap, moet julle twee ook aangesweef kom.” “Hoe gaan hy verby ons kom as hy wil weghardloop?” vra Anna. “Hy gaan nie by ons verbykom nie,” sê Saartjie. “Hy sal ’n ander plan moet maak. Hy sal oor die muurtjie agter in die somerhuisie moet spring.” Anna mompel sy hoop Saartjie is reg. Sê nou net hy vlieg hulle in en begin sommer wild en wakker onder hulle slaan? Die Drie Muskiete se harte klop vinnig terwyl hulle geluidloos by die hekkie inglip. Voor in die somerhuisie is daar ’n opening waar ’n mens inloop. Dit is ’n ronde huisie met ’n baksteenmuurtjie van omtrent ’n meter hoog rondom. Die dak rus op ’n paar pilare. Isabel en Theodor sit op die bankie reg oorkant die ingang. As hulle nou net hul koppe draai, sal hulle die drie swewende gedaantes duidelik sien naderkom. Toe hulle omtrent twintig tree van die somerhuisie af is, wys Saartjie Anna en Lina moet wag. Sy sluk en stap dan stadig en grasieus vorentoe. Die sekelmaan is nou agter die wolke en dis pikdonker. Saartjie kom al nader. Theodor is net mooi besig om sy arm om Isabel te probeer sit. Sy skuif vies weg.
“Hoekom is jy so snaaks met my?” vra Theodor en probeer sy arm weer om Isabel sit. Maar dan kyk hy by haar kop verby en sy arm bly net so in die lug hang. Sy oë peul amper uit sy kop. “Hè... Isabel... hè...” “Moet asseblief nie jou arm om my sit nie,” sê Isabel beslis. “Ek hou nie daarvan nie.” Dit is egter nou die laaste gedagte in Theodor se kop! Hy beduie na die ingang en stamel: “Kyk... Kyk... Wat’s dit daardie?” Isabel kyk vererg na Theodor. Sy wonder watter streke hy nou weer wil uithaal. Dan sien sy die vrees op sy gesig en sy mond wat oophang. Isabel swaai om. Sy sien nou ook die wit gedaante wat na die somerhuisie aangesweef kom – reguit na hulle toe! Sy voel hoe haar bene lam word en is dankbaar hulle sit, anders sou sy sowaar omgeslaan het. Saartjie swenk effens weg sodat sy van voor af na die somerhuisie kan aansweef. Isabel en Theodor se koppe draai saam soos hulle haar dophou. Die twee klou soos vreesbevange kinders aan mekaar vas. Saartjie is nou reg voor die somerhuisie en sy stap stadig na die opening toe. Isabel en Theodor staar met ingehoue asems na haar. Saartjie gaan staan doodstil en kyk na hulle. Dit is pikdonker en sy lyk kompleet soos ’n spierwit gedaante sonder bene. Theodor se hart klop tien keer wilder as Isabel s’n, want terwyl sy die spook so beangs aankyk, val iets haar skielik by – Saartjie! Saartjie het mos van spoke gepraat – spoke wat glo nie gevaarlik is nie. “Daar... daar is nóg twee,” fluister Theodor skielik skaars hoorbaar. Isabel sien hoe die ander twee spoke aangesweef kom en by die eerste een aansluit. Drie spoke, dink sy – Saartjie, Anna en Lina! Hulle doen mos altyd alles saam. Die drie spoke staan doodstil. Hulle lyk só vreesaanjaend dat Isabel begin twyfel of dit die meisies is. Daar gly ’n yskoue rilling gly langs haar ruggraat af. Sê nou dis regte spoke?
Nee, Isabel wil liewer nie aan so iets dink nie. Dit móét Saartjie, Anna en Lina wees! “Moet... moet... ek vir hulle iets vra?” stamel Theodor. “Ja. Vra wat hulle wil hê,” sê Isabel. “Wat... wat wil julle hê?” vra Theodor en probeer hard om sy stem nie te laat bewe nie. “Ons wil jóú hê,” kom Saartjie se hol stem wat klink of dit baie eeue laas gebruik is. “Ons wil jou hê... jou hê... Ons wil nuwe bloed hê...” Isabel word yskoud, maar dan onthou sy dat Saartjie mense en stemme so goed kan na-aap. Theodor is asvaal en die sweet pêrel op sy voorkop. Dis nie net sy broekspype wat bewe nie – sy hele lyf bibber! Net toe kom die maan uit en die twee sien Saartjie se bloedrooi neus. Isabel trek haar asem vinnig in. As dit Saartjie is, kan sy mos nie so ’n neus hê nie! Maar dan onthou Isabel van die neus wat Kris gehad het vir daardie konsert waarin hy ’n hanswors was. Isabel is nou seker die drie spoke is Saartjie, Anna en Lina. Sy voel só verlig dat sy hard op haar onderlip moet byt om nie hardop te begin lag nie. Theodor sit en klappertand asof dit in die hartjie van die winter is. “Dit help nie jy sit net so nie,” fluister Isabel. “Sit hulle op hul plek. Klim met jou vuis onder hulle in.” Sy geniet die petalje nou terdeë. “Wie – ek?” vra Theodor in ’n piepstemmetjie. “Ja, jý.” “Mens kan nie teen geeste baklei nie,” sê Theodor benoud. “As hulle jou klap of iets, sit die merk vir die res van jou lewe daar!” Isabel moet nou baie hard konsentreer om nie te lag nie.
“Kom!” sê Saartjie onheilspellend vir haar twee vriendinne. “Kom ons gaan gryp hom!” Die drie beweeg stadig vorentoe. “Nee!” skree Theodor angsbevange. “Neeee! Ek het julle niks aangedoen nie!” Hy pleit nou vir ’n vale, maar dit help nie. Die drie spoke sweef al nader en nader. “Hardloop, Isabel!” skree Theodor skielik. “Hardloop!” Hy los vir Isabel net daar en vlieg soos ’n warrelwind oor die muurtjie en nael dat hy so klein word. Hy strompel oor die blombeddings, pyl reguit voorhekkie toe en mik vir sy motor. Isabel bars uit van die lag. Sy kan dit nie langer inhou nie. Saartjie, Anna en Lina begin ook nou lag en die vier skater te heerlik. “Hoe het jy geweet dis ons?” vra Anna deur haar trane. “Ek kon mos sien!” sê Isabel. “Maar ek moet erken, ek was die eerste paar oomblikke baie benoud...” “Jy het darem ’n bangbroek vir ’n kêrel,” sê Saartjie grinnikend. “Wie sê hy’s my kêrel?” vra Isabel verontwaardig. Intussen wil Theodor net sy motor se deur agter hom toeklap toe hy die meisies se uitbundige gelag hoor. Sy hart klop nog wild, maar daar is nou ’n diep frons tussen sy oë. Watse gelag kan dit wees? Skielik onthou hy van die drie meisies wat hom vertel het dat dit so vreeslik hier in Lynnekom spook. Vreemd, daar was drié spoke… Theodor klim uit sy motor en luister na die gelag. Hy is nou nie meer bang nie. Hy is woedend. Dís natuurlik wat dit is – hulle het hom vir die gek gehou! Hy het die hele tyd geweet iets is nie pluis nie toe die drie spoke daar staan. Maar hy het op daardie stadium so groot geskrik dat hy nie mooi helder kon dink nie.
Theodor klap sy motordeur boos toe en stap vinnig terug na die somerhuisie. Hy is briesend. Hy besef wat ’n swak indruk hy op Isabel moes gemaak het. Saartjie is net besig om vir haar te wys hoe oulik die spookgewaad gemaak is toe die meisies die haastige voetstappe hoor. Hulle swaai om en sien Theodor verwoed aangestap kom. “O gonna, wat nou?” vra Anna en skuif agter Isabel in. “Hoe durf julle!” roep Theodor uit. Hy bewe nou van woede, nie meer van vrees nie. Saartjie en Lina glip ook vinnig agter Isabel in. “Hoe durf ons wat?” vra Isabel kil. “Ek praat met die meisiekinders!” snou Theodor haar toe. “Hoe durf julle my so vir ’n gek hou?” gil hy vir Saartjie-hulle. Die windlawaai met die snor en blink motor se selfrespek het duidelik ’n knak gekry. “Ek is sommer lus en gee julle elkeen ’n loesing!” sis hy. “Waag dit net!” verdedig Isabel en sit haar arm beskermend om die drie spoke. “Dan sal jy met my te doen kry!” “Is jy wraggies aan hul kant?” vra Theodor hy gegrief. “Natuurlik is ek... En ek dink dis beter dat jy nou ry. Baie dankie vir al die kere wat jy my opgelaai het. Jy hoef dit nie meer te doen nie – en ek wil ook nie hê jy moet weer vir my kom kuier nie.” Theodor staan behoorlik en blaas soos wat hy hom moet inhou om Saartjie-hulle nie te lyf te gaan en hul nekke om te draai nie. Ná ’n paar oomblikke sê hy net boos: “Ga!” en swaai om en strompel blindelings weg. Saartjie wil giggel, maar sy is darem ook skrikkerig. Dit is dalk te gevaarlik om nou te lag.
“So ja,” sê Isabel glimlaggend toe hulle Theodor se motor hoor wegtrek, “dis oor en verby.” “Ek hoop nie jy’s kwaad vir ons nie, Isabel?” vra Anna benoud. “Ons het hom nou weggejaag en dalk wou jy hom gehad het?” “Moenie laf wees nie,” lag Isabel. “Jy’t mos gehoor wat sê ek vir hom. Ek wonder heeltyd al hoe om van hom ontslae te raak.” Almal lag nou weer heerlik. “Jy weet, Isabel,” sê Saartjie skielik en gee ’n ongemaklike hoesie, “ek het ’n ouboet...” “Ja, ek weet jy het ’n ouboet, Saartjie,” sê Isabel. “Sy naam is Kris – en weet jy wat weet ek nóg?” “Wat?” vra Saartjie effens uit die veld geslaan. “Ek weet julle’t Theodor hierdie poets gebak omdat julle so graag wil hê ek en Kris moet weer uitgaan. Ek lees julle al soos ’n boek!” Die Drie Muskiete glimlag verleë. “En weet julle wat weet ek nóg?” vra Isabel. Die “spoke” skud hul koppe. “Ek gaan nou vir julle koekies en koeldrank gee – en terwyl julle dit verslind, gaan ek vir Kris ’n brief skryf en jy gaan dit vanaand vir hom gee, Saartjie.” Saartjie is natuurlik meer as bereid om dit te doen. Sy sê ook sy hoop haar broer sal hierna nie meer soos ’n beer met ’n kopseer daar by die huis rondloop en almal se koppe wil afbyt nie. Die meisies kuier en eet heerlik by Isabel. Toe hulle moet loop omdat dit laat word, gee Isabel vir Saartjie die brief wat sy intussen geskryf het en sê: “Gee dit asseblief vanaand nog vir hom, hoor.” Isabel waarsku die drie ook om liewer nou hul spookklere uit te trek, want
netnou skrik iemand en skiet dan op hulle. Die meisies vertel maar liewer nie vir haar dat hulle die gewapende konstabel so ampertjies bang gemaak het nie! Saartjie-hulle is skaars terug by Lina se huis of hul ouers kom hulle oplaai. Nadat Saartjie vir haar ouers nag gesê het, gaan sy na Kris se kamer toe. Sy sien ’n fyn ligstrepie onder die deur deurskyn. Sy klop saggies. ’n Nors stem sê: “Kom in.” Saartjie draai die knop en gaan in. Kris sit en skryf ’n brief. Saartjie sien hoeveel velle opgefrommelde papier daar rondlê. Dis duidelik ’n baie belangrike brief wat Kris probeer skryf. Sy is seker dit is ’n liefdesbrief vir Isabel. “Wat staan jy daar soos ’n bobbejaan?” brom Kris. “Kan jy nie sien ek’s besig nie?” “Jy hoef nie my kop af te byt nie. Ek het net vir jou iets gebring.” “Wat? Jy’t niks om vir my te bring nie.” “Oukei,” sê Saartjie snipperig, “as jy nie die brief wat Isabel vir jou stuur wil hê nie, sal ek maar loop.” Saartjie draai om. Daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke. Kris kan sy ore nie glo nie. Hy vlieg op. “Wat?” skree hy. “Wat sê jy? Waar is die brief?” “Wat maak dit saak?” vra Saartjie vermakerig. “Jy wil dit mos nie hê nie.” “Ek wil! Natuurlik wil ek die brief hê! Gee dit vir my!” Kris sien hoe Saartjie met die agterkant van haar hand oor haar voorkop vee. Dit is nie ’n goeie teken nie. Hy weet hoe vasberade sy is wanneer sy dit doen. Hy sê dadelik sagter en vriendeliker: “Ekskuus dat ek ongeskik was, Saartjie. Dis oor ek in so ’n toestand is. Gee asseblief nou vir my die brief.” “Met plesier,” sê Saartjie glimlaggend en gee dit vir hom.
Kris lees dit dadelik, sommer so voor haar. Sy gesig begin straal van vreugde en dan lees hy dit weer. “Saartjie,” sê hy opgewonde en gryp haar en bokspring met haar in sy arms in die kamer rond, “jy’s die wonderlikste sussie in die hele wêreld! Ek is mal oor jou!” Dan lees Kris die brief vir die derde keer en sê dromerig: “Sy het my lief... Sy sê dit hier... Sy het my lief… baie lief... En ek het haar net so lief!” Saartjie glimlag tevrede, sê vir haar broer nag en maak sy deur sag agter haar toe. Kris hoor haar nie eens nie. Hy staan met die brief in sy hand en staar droomverlore voor hom uit… Saartjie kruip in die bed. Dit was ’n lang en opwindende aand. Sy gee ’n lang gaap en haar ooglede is swaar van die vaak. Ja-nee, sy en haar vriendinne het vanaand goeie werk gedoen – én baie pret gehad. Sy gaap weer. Haar oë val toe en daar is ’n sagte glimlag om haar mondhoeke. Saartjie slaap rustig…
5
Peter van Zimbabwe
Saartjie was reg. Sy en haar vriendinne hét daardie aand toe die spoke so in Lynnekom gebaljaar het, goeie werk gedoen. Oom Jorsie sit sy mond die hele volgende week nie aan drank nie. Hy sê vir almal hy gaan nooit weer drink nie en dit lyk nogal of hy dit bedoel. Hy vertel vir die mense alkohol akkordeer nie met sy gesondheid nie, want hy het ’n swak hart. Die hele Lynnekom is in hul noppies wanneer hulle van oom Jorsie se besluit hoor en boonop sien hy hou daarby. Dominee versprei die blye nuus met groot dankbaarheid. Hy is oortuig daarvan dit is die manier waarop hy en die gemeente se kerkraad en susters vir oom Jorsie gehelp en gebid het, wat hom hierdie groot besluit laat neem het. Maar dis nie al nie. Baie mense praat oor hoe beleefd die posbode, Frikkie, deesdae is. Hy kom sy pligte stiptelik na en daar beland skielik glad nie meer verkeerde briewe in posbusse nie. Daar is nou weer vrede in die Baumanns se huis. Kris is glad nie meer nors nie. Hy stap met ’n breë glimlag rond en is die vriendelikheid vanself. Dit lyk of hy en Isabel nou maller as ooit oor mekaar is. Ja-nee, soos Apie sou gesê het as hy van alles geweet het: “Saartjie-hulle het daardie aand goeie werk gedoen. Dis nou maar wors.” Een middag sit Saartjie en klavier speel. Sy hou van Strauss se lewendige walse. Saartjie speel baie goed klavier en het al baie medaljes op kunswedstryde gewen. Sy is so verdiep in haar spel dat sy nie die voordeur hoor oopgaan nie.
Apie en Bennie kom vinnig in. Hulle steur hulle nie aan Saartjie se gespeel nie, want hulle is aan die stry. Apie sê: “Laat die ou vir jou by die huis wag, man. Ons gaan swem.” “Maar ek sê jou mos ek kan nie gaan swem nie.” Aan die moedeloosheid in Bennie se stem is dit duidelik dat dit al die soveelste keer is wat hy dit vir Apie sê. “Jy kán!” skree Apie. “Ek kan nie!” skree Bennie. Hy word nou regtig kwaad vir Apie se lollery. “Jy kán!” “Ek kan nie!” “Jy kán!” “Ek kan nie!” Saartjie draai om op die klavierstoeltjie. Sy kan haarself nie meer behoorlik hoor speel nie, só lawaai Apie en Bennie. Dit klink of hulle dink die een wat die hardste skree, die argument gaan wen. Saartjie slaan so hard as wat sy kan met albei haar hande op die klavier se basnote. Dit maak ’n harde lawaai en Apie en Bennie is skielik tjoepstil. Hulle het groot geskrik. Die geluid van die note sterf stadig weg. “Hoekom skree julle so op mekaar?” vra Saartjie. “Het julle nie maniere nie? Julle kan mos sien ek speel klavier.” Die twee seuns kyk na haar. “Jy bedoel jy probéér klavier te speel,” brom Apie. “Ek het jou nie gevra om snaaks te wees nie. Gaan skree op ’n ander plek!” sê Saartjie kwaai. Die seuns gluur woes na mekaar. Saartjie sien skielik Bennie is vreeslik netjies uitgevat.
“Gaan jy kerk toe?” vra sy geamuseerd. “Moenie laf wees nie,” sê Bennie. “Dis mos nie Sondag nie.” “Hy’s simpel,” sis Apie deur die opening tussen sy voortande. “Wie trek nou in die middel van die week só aan?” “My ma het gesê ek moet!” kap Bennie bitsig terug. “Hoekom?” vra Saartjie nuuskierig. “Want my nefie kom vandag.” Saartjie onthou skielik Apie het haar al van hierdie nefie van Bennie vertel. “My pa bring hom nou-nou van die stasie af, maar hierdie ou,” en Bennie wys vies na Apie, “hou nou aan ek moet saam met hom gaan swem.” “Ons gaan vinnig – net in en uit,” sê Apie, “dan’s ons weer terug.” “Ek sê jou mos ek kan nie,” sê Bennie ergerlik. “Peter gaan nou enige oomblik hier wees!” “Jy kán!” “Ek kan nie!” “Jy kán!” Die seuns begin weer skree. “Bly stil!” beveel Saartjie. Hulle maak so, maar gluur mekaar boosaardig aan. “Jy’s laf, Apie. Bennie kan mos nie gaan swem as hy vir sy nefie wag nie,” sê Saartjie. Bennie knik heftig kop. Apie kyk vies voor hom uit en mompel dat sy eie suster nou glad ook teen hom is.
“Maar sê my, hoekom is jy so uitgevat?” vra Saartjie vir Bennie. “My ma sê mens kan my nefie altyd deur ’n ring trek,” verduidelik Bennie en hy pluk-pluk aan sy kraag om te wys hoe ongemaklik hy in hierdie klere voel. “My ma sê ek moet darem ten minste ook netjies lyk wanneer hy hier aankom.” Bennie trek ’n vies gesig. Hy verkies beslis sy gewone klere. Apie aanvaar nou uiteindelik sy maat kan nie saam met hom gaan swem nie. “Hoe ’n ou is dié Peter?” vra hy skielik. Saartjie wil ook weet. “My ma sê altyd ek moet soos hy wees,” sê Bennie mismoedig. “Hy’s glo die slimste seun in die skool, én in die hele Zimbabwe – en hy werk hard en hy’s altyd so voorbeeldig en als...” “Hoe oud is hierdie engeltjie?” vra Saartjie. “Veertien – maar hy’s sowaar al in matriek.” Apie en Saartjie se monde val oop van verbasing. “Hy is net so oud soos jy, Saartjie,” gaan Bennie aan. “Dis hoekom ek wil hê jy en jou maats moet my help om hom besig te hou. Ek en hy kom nie klaar nie. Hy is vreeslik vol van homself – praat die heeltyd net groot.” Bennie bal sy vuiste en voeg by: “Toe ons verlede jaar in Zimbabwe was, het ek hom eendag amper met my vuis bygedam.” “Hoekom het jy nie?” wil Apie weet. “Hy was net bietjies te groot,” mompel Bennie. Apie dink ’n oomblik na. Dan stoot hy sy bors uit en sê: “Toemaar, as hy hom die week wat hy hier is snaaks hou en met jou sukkel, dan sê jy net vir my.” “Wat sal dit help?” vra Saartjie glimlaggend. “Baie,” sê Apie kordaat. “Ek en Bennie sal hom sáám aanvat!” “O,” sê Saartjie droogweg. Te oordeel aan Apie se uitdagende houding sou mens dink hy gaan hierdie Peter alleen aanvat, maar nee – hy sal dit darem nie sonder
Bennie se hulp waag nie! “Sodra hy aankom, sal ek hom hier na jou toe bring,” sê Bennie vir Saartjie. “Hmmm,” mompel sy net. Sy is nie juis lus om hierdie Peter van Zimbabwe te ontmoet nie. “Kom, Bennie,” sê Apie, “siende dat jy te bang is om te gaan swem, sal ek maar saam met jou daar by julle huis vir die ou loop wag. Maar ek trek nie ook my Sondagklere aan nie, hoor! Ek doen dít nie eers vir ’n kóning nie!” Bennie mompel dat hy dit ook nie eers vir die koning sal doen nie, maar sy ma het hom gedwing om dit vir Peter te doen – en Apie weet mos hoe snaaks ma’s partykeer kan wees. Apie loop met sy arm om Bennie se skouer saam met hom by die deur uit. Hy voel jammer vir sy maat... Hy weet hoe ma’s kan lol. Saartjie glimlag. Sy stap kombuis toe en gaan kry vir haar iets om aan te peusel uit die spens. Later besluit sy om nóg ’n bietjie te gaan klavier speel. Sy val weer lustig met ’n Strauss-wals weg. Saartjie speel nou die pragtige “Blou Donau”. Die klanke vul die hele vertrek en is selfs tot buite op die sypaadjie hoorbaar. Menige verbyganger begin saggies saamneurie. ’n Ou oom en tannie kyk na mekaar en glimlag. Die oom sê saggies: “Die Saartjie... ai, dié Saartjie tog – sy kan darem vir jou speel, hoor!” Saartjie leef haar volkome in die stuk in. Sy speel sag... dan weer harder... al harder... en dan skielik weer sag en strelend… Sy gewaar nie vir Bennie, Apie en Peter by die oop venster nie. Saartjie speel die laaste akkoord en dit klink soos ’n eggo van ver... daar ver waar die Donau-rivier vloei en waar die waters so blou is. Sy sit in vervoering terwyl die laaste akkoord sag wegsterf. Dit is ’n paar oomblikke lank doodstil behalwe vir die sonbesies se geskree in die tuin. Dan klap Peter opgewonde hande en roep uit: “Manjifiek! Bravo!” Saartjie wip soos sy skrik. Sy swaai om en sien vir Apie, Bennie en die seun wat sy nie ken nie, buite by die venster staan. Apie en Bennie kyk verbaas na Peter.
Hulle het nog nooit sulke Afrikaanse woorde gehoor nie. Saartjie is ook só verbaas dat sy net kan sê: “Hè?” “Dis manjifiek! Bravo!!” sê die seun weer opgewonde. Saartjie sluk. Sy stoot ’n krul met die agterkant van haar hand van haar voorkop af weg. “Wie... wie’s jy?” vra sy. Bennie maak keel skoon en sê: “Dis die ou van wie ek jou vertel het, Saartjie. Dis my nefie, Peter.” Dan kyk hy na Peter en sê: “Dis Saartjie.” Bennie glimlag tevrede. Hy het hulle mos mooi voorgestel, net soos sy ma gesê het hy moet. Peter maak ’n elegante buiginkie en sê: “Ek is geëerd om jou te ontmoet, Saartjie.” Saartjie is skoon uit die veld geslaan. Sy knik net met haar kop en sê: “Ek ook.” Apie en Bennie gaap Peter oopmond aan. Lynnekom se kinders gebruik nooit sulke groot woorde nie. “Ek het julle mos gesê hy’s ’n snaakse ou,” brom Bennie onderlangs vir Apie. Peter is ’n lang, skraal seun met ’n bos blonde hare wat ’n massa krulle is. Hy is baie netjies uitgevat en lyk beslis of ’n mens hom deur ’n ring kan trek, soos Bennie se ma sê. Saartjie kyk aandagtig na die Zimbabwiër. Hy maak ’n goeie indruk op haar met sy elegante manier van praat en sy mooi maniere. “Is die ou altyd so?” vra Apie fluisterend vir Bennie. Bennie knik met sy kop. “Ongelukkig altyd.” Peter hoor hulle natuurlik. “Wie’s jou ‘ou’?” vra hy kwaai vir Apie. Apie skrik. Peter is baie groter as wat hy hom voorgestel het. Selfs al baklei hy en Bennie saam, sal hulle sukkel om
hierdie ou op sy plek te sit. “Dis sommer ’n manier van praat,” sê Apie en probeer vriendelik glimlag – maar dit lyk eerder na ’n grynslag. “Ek het net gewonder of jou hare altyd só is en hoekom jy dit nie laat sny nie... Dis maar al...” “Vir jou inligting dan,” sê Peter en stoot sy vingers deur sy blonde krulle, “my hare is altyd so. My artistieke temperament laat my nie toe om my hare te sny nie.” Apie en Bennie sluk. Saartjie is skoon verbaas en sê onwillekeurig: “Jissie!” Peter kyk skuins by sy neus af na haar. “Mag ek vra of daardie onelegante uitlating op mý gemik was?” Saartjie is skoon dronkgeslaan. “Jy bedoel die... die ‘jissie’?” vra sy. “Dis presies wat my bedoeling was en nog steeds is.” “Nee,” sê Saartjie vinnig, “dit was nie op jou gemik nie.” Peter glimlag droogweg, amper asof hy ’n groot oorwinning behaal het. Saartjie kyk peinsend na hom. Sy het nog nooit so ’n soort seun ontmoet nie. Sy weet nie wat om te dink nie. Bennie staan en glimlag en skud sy kop heen en weer. Hy het hulle mos gesê Peter is ’n snaakse soort ou. Hierdie nefie van hom is sowaar ’n skepsel van ’n ander wêreld. “Mag ek die geleentheid benut,” sê Peter nou vir Saartjie, “om jou te felisiteer met die meesterlike wyse waarop jy Strauss se bekendste en gewildste wals vertolk het.” Apie en Bennie kyk met groot oë na hom. Saartjie byt op haar onderlip en vee weer oor haar voorkop. Sy wonder of hy probeer snaaks wees en of hy maar altyd so is. “Dankie,” sê sy dan maar net en voeg vriendelik by: “Kom in.”
“Dit was ’n veeleisende rit van Bulawayo af,” antwoord Peter uit die hoogte. “Dit sal ’n lafenis wees om te sit, eerder as om hier buite by die venster te staan.” Peter stap om die huis na die voordeur toe. Saartjie sê net by haarself: “Wel!” en haar oë vonkel. Sy kan nie wag om hom aan Anna en Lina voor te stel nie! Apie en Bennie besluit hulle sal ook liewer sit as om so rond te staan. Hulle stap egter nie om voordeur toe nie, maar klouter sommer deur die venster. “Bennie,” sê Saartjie opgewonde, “jy wil mos hê ons moet almal vir Peter ontmoet. Gaan roep gou vir Anna en Lina en sê hulle moet hiernatoe kom.” “Ek bring sommer vir Galpil-hulle ook,” sê Bennie en grinnik. Dit gaan vet pret afgee. Bennie klim vinnig weer by die venster uit. Hy gaan die kinders haal om sy nefie van Zimbabwe te kom ontmoet. Peter kom by die vertrek in en gaan sit in ’n leunstoel. Saartjie is nog steeds voor die klavier. Apie sit op ’n stoel reg oorkant Peter en staar hom aan terwyl sy tongpunt gedurig deur die opening voor in sy mond speel. “Ja-nee, Saartjie,” val Peter ewe gesellig weg, “Strauss is wat my betref die topkomponis sover dit ligter klassieke werke aangaan. Ek is ’n Straussliefhebber en ek moet erken jy het die ‘Blou Donau’ amper so goed vertolk soos wat ek dit gewoonlik doen...” Saartjie snak na haar asem. So ’n verwaande vent! Hy het met die eerste oogopslag nogal ’n goeie indruk op haar gemaak – hy het mos “manjifiek” en “bravo” geskree en duidelik gewys hy hou van haar klavierspel – maar nou het hy alles bederf. “Speel jy dan ook klavier, Peter?” vra sy ná ’n oomblik. “Natuurlik,” sê hy en vee met sy vingers deur sy goue lokke. “Ek bespeel die piano al etlike jare.” Apie skud sy kop. Hy kan dit sowaar nie glo nie. Hy het nog nooit van ’n ou op skool gehoor wat soveel groot woorde ken nie!
“Kom speel dan asseblief vir ons iets,” sê Saartjie glimlaggend. “Nie nou nie,” sê Peter en lyk effens ongemaklik. “Baie dankie vir die aanbod, maar soos ek reeds genoem het – dit was ’n lang en vermoeiende treinrit.” “Ek sien,” sê Saartjie veelseggend. Sy onthou mos nou Bennie het gesê hierdie Peter kan so grootpraat. Apie sit nog steeds met groot oë na die wonderwerk hier voor hom en staar. Peter vra vies: “Wat kyk jy?” “Sommer,” sê Apie en maak sisgeluide om Peter te laat verstaan dat kyk mos vry is. “Hoekom kyk jy so?” wil Peter nou weet. “Omdat jy weird lyk,” antwoord Apie. “Weird?” Peter se winkbroue is vraagtekens. “Daardie woord kom nie in my woordeboek voor nie. Ek dra geen kennis daarvan nie.” “Dit beteken snaaks,” sê Saartjie smalend. “Apie bedoel jy lyk vir hom eienaardig.” Peter kyk vies na Apie wat die hele tyd na hom bly staar terwyl sy rooi tongpunt deur die opening voor in sy mond speel. Anna en Lina kom by die tuinhekkie in. Saartjie sien hulle en sy glimlag. Sy kan nie wag om die uitdrukkings op hul gesigte te sien wanneer hulle Peter sien en hoor praat nie. Toe die twee meisies by die sitkamer instap, kom Peter vinnig op die been. Apie vra verbaas: “Hoekom staan jy op?” “As dames by ’n kamer inkom,” sê Peter uit die hoogte, “staan ’n ware heer altyd op.” “Heng,” sê Apie en staan dan ook maar brommend op.
Daar is ’n uitdrukking van volslae verstomming op Anna en Lina se gesigte. ’n Seun van hul ouderdom het nog nooit hier in Lynnekom opgestaan as hulle by ’n vertrek inkom nie. En sy lang hare! Lina wonder of Zimbabwe nie haarkappers het nie. Daar speel ’n glimlag om Saartjie se mondhoeke. “Laat ek julle voorstel,” sê sy. “Dis Bennie se nefie, Peter van Zimbabwe. En dis Anna en Lina.” “Haai,” sê Lina en waai liggies met haar hand. “Haai,” sê Anna skamerig. “Dis vir my ’n eer en genoeë om met julle kennis te maak,” sê Peter soos iemand wat spraaklesse neem en streel met sy vingers oor sy hare. Die twee meisies gaap hom oopmond aan. Dan begin Lina giggel. “Onthou julle wat oom Jorsie nou die aand gesê het toe hy ons sien?” vra sy vir Saartjie en Anna. Haar vriendinne begin nou ook giggel. Hulle onthou hoe die oom na asem gesnak het toe hy die drie kastige spoke sien en toe stamel: “Ek glo dit nie!” “Wel,” sê Lina laggend vir die ander twee wat nou onbedaarlik giggel, “dis wat ek ook nou sê.” “Mag ek vra,” verneem Peter sedig, “watter stimulus julle lagspiere so geprikkel het?” Die Drie Muskiete lag nou nog harder. Lina hou eintlik haar maag vas en sy kan net kopskuddend sê: “Nee, sowaar... Dis... dis nie moontlik nie.” Peter gaan fronsend sit en ná ’n oomblik volg Apie sy voorbeeld. Saartjie besef skielik hulle is darem nou ’n bietjie onbeskof. “Ekskuus, Peter. Ons het maar net gelag oor iets snaaks wat nou die aand met ons gebeur het.”
Anna en Lina bedaar nou ook en kom sit op die rusbank. “Waar gaan jy skool, Peter?” vra Anna. “Ek is ’n leerder aan die Rhodes Seunskool in Bulawayo,” antwoord hy. “Dit word beskou as die beste skool in die Suidelike Halfrond.” Die meisies kyk na mekaar. Sjoe, maar die ou kan darem vir jou grootpraat. “In ons beroemde skool,” sê Peter en kyk onderlangs na Apie, “is goeie maniere een van die belangrikste vereistes waaraan leerders moet voldoen.” Hy skuif ’n entjie verder van Apie af weg. Hy dink duidelik hierdie klein smeerlap sal nooit as ’n leerder by sy skool aanvaar word nie. “Snaaks,” sê Saartjie wat nou al baie geïrriteerd met Peter se grootpratery is, “ek het nog nooit van daardie wafferse Rhodes-skool gehoor nie.” “Ek ook nie,” sê Anna en Lina feitlik gelyktydig. “Dit,” sê Peter, “openbaar eenvoudig ’n gebrek aan kennis – ’n tragiese maar tipiese verskynsel onder Lynnekom se jeug, te oordeel aan Bennie.” Dit kos Saartjie, Anna en Lina ’n hele rukkie om uit te pluis wat Peter bedoel, maar Apie probeer nie eers nie. Hy sit maar net kopskuddend na Bennie se briljante nefie en luister. “Ek kan nie sien,” sê Saartjie, “hoe wys dit nou juis ’n gebrek aan kennis as mens nog nie van ’n ou skooltjie soos Rhodes gehoor het nie.” Peter sit penregop en stoot sy bors uit. “Rhodes is die mees befaamde en beroemde skool in die hele Suidelike Halfrond.” “Hoekom nie in die wêreld nie?” wil Saartjie laggend weet. “Ek hou nie daarvan as iemand snedige opmerkings oor my binnekortse alma mater maak nie,” sê Peter kil. “Kan ons asseblief van die onderwerp afstap?” Apie kyk fronsend na hom. “Van wie se ma het jy gepraat?” “So ’n onsinnige vraag regverdig nie ’n antwoord nie,” sê Peter snedig.
Die drie meisies kyk na mekaar. Hulle is skoon uit die veld geslaan. Is dit moontlik dat iemand, al is hy nou ook hoe slim, so selfvoldaan en vol aansit kan wees? Om alles nog erger te maak het hierdie Peter duidelik ook nie ’n sin vir humor nie. Saartjie hoor die hekkie oopgaan. Sy kyk by die venster uit en grinnik by haarself. Dit is Galpil en sy twee vriende, Gert en Piet, saam met Bennie. Dit gaan kostelik wees om Peter se reaksie te sien wanneer Galpil hom “ou perd” noem! Saartjie hoor hoe die seuns al stryende met die tuinpaadjie afgestap kom. Sy hoor hoe Galpil sê hy gaan Bennie se nek omdraai as Bennie nie vir hulle elkeen ’n hand vol lekkers koop nie. Dis wat hy hulle belowe het daar onder die koelteboom waar hulle na duiwe sit en kyk het toe hy hulle weggeroep het om die “ou perd” van Zimbabwe te kom ontmoet. Die seuns stap by die sitkamer in. Apie spring vinnig op. Hy wil vir Peter wys hy ken sy maniere en dat ’n beroemde skool soos Rhodes maar te bly sal wees om hom as ’n leerder te aanvaar – ás hy natuurlik sou belangstel om soontoe te gaan. Apie is baie afgehaal toe hy sien Peter bly sit. Hy besef skielik ’n mens staan seker net op as daar dames by ’n vertrek inkom en met ’n ongeërgde houding, asof hy bloot opgestaan het om sy bene ’n bietjie te rek, gaan Apie weer sit. Galpil, Gert en Piet kyk verbaas na Peter. Saartjie glimlag. Hulle lyk klaar al so verras – en hulle het hom nog nie eers gehoor praat nie. Galpil se hare is deurmekaar en sy kouse het al weer tot op sy skoene afgesak. Sy hemp hang soos gewoonlik agter by sy broek uit. Al drie kyk na Peter se goue lokke en dan sê Gert: “Oom Schalk sal hom graag onder hande wil kry.” Oom Schalk is Lynnekom se haarkapper. “Ja, en hy sal hom vir drie ouens laat betaal,” mompel Piet. Galpil het nog niks vir Peter gesê nie en besef skielik dit is ongemanierd om net so te staan en staar. Hy loop met ’n uitgestrekte hand na Peter toe en sê: “Haai, ou perd. Skud bietjie blad.” Die Zimbabwiër gee so ’n slap hand wat Galpil vir die vale skud.
“Dis Peter, Bennie se nefie,” sê Saartjie vinnig. “Peter, dis Galpil.” “Wie?” vra Peter en vryf sy hand wat Galpil so hard gedruk het. “Galpil. En die ander twee is Gert en Piet.” Hulle skud ook blad en nou vryf Peter éérs sy hand. “Ek is geëerd,” mompel hy. “Jy’s wat?” bulder Galpil verbaas. “Geëerd.” “O.” Galpil kyk na Saartjie-hulle. Die vraag in sy oë is duidelik – is hierdie ou perd simpel, of wat? Net om iets te sê, vra die seuns vir Peter of hy van sport hou. “Vanselfsprekend,” sê hy, “maar nie bloot as fisiese mededinging nie.” Galpil, Gert en Piet gaap hom soos visse op droë grond aan. Galpil herstel eerste van die skok en al wat hy kan sê, is: “Hè?” “Ek bedoel,” verduidelik Peter, “sport dien vir my ook as belangrike teenwig vir die moontlike ooreising van intellektuele kragte tydens intellektuele skoolaktiwiteite.” Almal luister aandagtig of daar darem iets van sy woorde is wat hulle kan verstaan. Saartjie begin wonder of Hoërskool Saamwerk hier in Johannesburg regtig so wonderlik is as wat hulle dink! Sy het skaars ’n benul waarvan Peter praat. “Volg jy my?” vra Peter vir Galpil. “Verseker, ou perd, verseker,” sê Galpil. “Dis ’n goeie punt daai... ’n baie goeie punt...” Galpil het natuurlik ook nie ’n idee waarvan Peter praat nie. Galpil wil hier wegkom. Hy en Peter praat beslis nie dieselfde taal nie.
“Ons moet terug by ons duiwe kom,” sê hy, en Gert en Piet knik gretig. Hulle wil ook so gou as moontlik hier uitkom. “Jy bly mos vir ’n week hier, nè, ou perd?” sê Galpil. “So dan sal ons jou seker weer sien.” Die drie seuns groet en loop vinnig uit. “Hulle’s lafaards om so vinnig weer te waai,” fluister Saartjie vies. “Ek neem hulle nie kwalik nie,” fluister Lina. “Wie wil nou met ’n woordeboek sit en gesels?” Peter sit ingedagte voor hom en uitstaar en hoor Saartjie en Lina nie eens nie. Hy kyk nou op en sê: “’n Eienaardige tipe – sowaar ’n eienaardige tipe.” “Wie? Wat?” vra Saartjie. “Dié... Galpil,” antwoord Peter. “Die aanspreekvorm ‘ou perd’ dui sekerlik op ’n sekere tipe agtergrond of ingesteldheid... Ek moet tog ’n bietjie daaroor oplees...” Saartjie kyk peinsend na Peter waar hy nou so ernstig sit en dink. Hy is slim – daaroor kan niemand stry nie. Hy is so oud soos hulle en sowaar al in matriek! Maar hy het ongelukkig g’n sin vir humor nie en praat gans te veel groot. Saartjie hoor weer die hekkie oopgaan en sien haar ouers inkom. Sy moet hierdie wonderkind seker aan hulle voorstel, dink sy en glimlag droogweg. Dokter Baumann en sy vrou kom by die sitkamer in. Peter spring galant op – en Apie natuurlik ook. “Hallo, Mamma; hallo, Pappa,” groet Saartjie. Die ander kinders groet ook almal. “Julle klompie lyk lekker gesellig,” sê mevrou Baumann. “Dis Peter dié, Mamma. Hy is Bennie se nefie van Zimbabwe,” sê Saartjie. “Geëerd, Mevrou,” sê Peter hoflik.
Mevrou Baumann kyk verras op. Maar dan onthou sy Bennie se ma het haar vertel van dié seun wat glo so uitsonderlik op alle gebiede is. “En Peter,” sê Saartjie trots, “dis my pa, dokter Baumann.” Peter kom vinnig vorentoe en hou sy hand uit. “Ek is besonder geëerd om u te ontmoet, Dokter. My tante hier in Lynnekom het my vertel van die skitterende werk wat u op die gebied van snykunde verrig.” “O so?” sê Jan Baumann nederig. “Dankie.” “My plan is om my ook op chirurgie toe te lê, Dokter. Ek gaan volgende jaar aan Oxford studeer...” “Volgende jaar?” Dokter Baumann kyk verbaas na die lang seun met die skrander gesig en blonde hare. “Ja, Dokter. Ek het my visier op die Excelsior-beurs.” “Nou toe nou,” sê dokter Baumann en vergeet skoon om aan sy pyp te suig. Die Excelsior-beurs word deur Oxford Universiteit toegeken aan die beste matrikulant in die hele Statebond. “Kom, my man,” sê mevrou Baumann glimlaggend, “jy moet nog ’n paar oproepe maak.” “Ek is hier vir ’n hele week, Dokter,” sê Peter. “Ek sal dit hoog op prys stel as u my ’n keer saam hospitaal toe kan neem sodat ek kan sien wat eendag vir my voorlê.” “Sekerlik,” sê dokter Baumann wat nog steeds effens dronkgeslaan lyk. Saartjie se ouers knik vriendelik en stap by die vertrek uit. “Ons moet nou ook gaan,” sê Peter en kyk na Bennie. “Jou ouers wag seker al.” Peter groet die meisies beleefd. Bennie mompel iets wat veronderstel is om “totsiens” te wees en die twee is by die huis uit. Hulle stap met die tuinpaadjie af na die voorste hekkie toe – Peter ’n entjie voor Bennie.
“Ek hou nie van hom nie,” sê Saartjie toe die twee by die hekkie uit is. “Ek ook nie!” sê Lina beslis. “Dis wat ek ook sê,” sê Anna. “Ek hou niks van hom nie!” “Ek ook nie,” brom Apie. “Hy dink hy’s so watwonders slim!” Saartjie sê peinsend: “Hy dink nie net so nie – hy ís baie slim. Besef julle ouens hy is so oud soos ons en sowaar al in matriek?!” Anna en Lina knik. Hulle besef dit. “Ongelukkig weet hy dit en nou loop hy daarmee en spog,” sê Lina. “En dan praat hy ook nog so aansitterig! Nee wat, ek hou niks van hom nie.” “Hy is gans te vol van homself,” sê Saartjie. “Hy dink hy’s beter as ander mense,” sê Anna. “Maar hy’s sommer ’n bog,” sê Lina. “Miskien ’n slim bog – maar nog steeds net ’n bog.” Ja-nee, die Lynnekommers hou sover niks van Peter van Zimbabwe nie. Miskien is hulle so ’n klein bietjie jaloers op hom en voel hulle effens ongemaklik in sy geselskap, maar hulle sal dit nooit erken nie. “Kom ons vergeet nou van die ou,” sê Saartjie. Anna en Lina stem saam. Hulle gaan die week wat hy hier in Lynnekom is, tog seker nie veel van hom sien nie. “Ek sal hom die hele tyd moet sien,” sê Apie mismoedig. “Hoekom?” vra Anna en staan op. “Wel, hy kuier by Bennie en ek sien Bennie elke dag, kos why Bennie is mos my pêl.” Saartjie en Lina staan ook op.
Saartjie kyk so langs haar neus af na Apie en boots Peter uitstekend na: “Leer jou ouers en onderwysers jou nie om jou taal suiwer en korrek te gebruik nie?” Anna en Lina lag, maar Apie sê: “Jy dink seker jy’s snaaks, nè?” en maak sisgeluide om te wys hy is lelik omgekrap. Saartjie, Anna en Lina loop laggend by die huis uit. Saartjie stap ’n entjie saam met haar vriendinne. Hulle is heel opgeruimd. Hulle het besluit om hulle nie aan die Zimbabwiër te steur nie. Hy moet sy gang gaan en hulle sal hulle s’n gaan. Min weet Saartjie dat haar naam nog saam met Peter s’n in koerante regoor die land gaan verskyn!
6
Saartjie en Peter
In die Baumanns se huis word daar dié aand aan tafel oor Peter gesels. “Hy is ’n merkwaardige seun,” sê dokter Baumann. Saartjie en Apie sit maar net en eet sonder om kommentaar te lewer. Mevrou Baumann vertel nou dat sy Peter se foto ’n paar maande gelede in die koerant gesien het. Hy is glo die slimste leerder in die hele Zimbabwe. Hy word as ’n super-genie bestempel en het ’n IK van 180. “Wat is dié IK-affêre, Ma?” vra Apie. Dit klink amper vir hom soos ’n soort siekte. “Dis moeilik om te verduidelik,” antwoord sy ma. “Jy sal tog nie verstaan nie.” “Ek’s nie dom nie, Ma.” Apie wikkel sy neus op en af om te wys hy is vies. “Ek’s miskien nie so slim soos daai Peter nie, maar ek’s nie dom nie!” “Ek sê nie jy is dom nie, my kind,” antwoord mevrou Baumann glimlaggend. “Ek bedoel maar net dit is baie moeilik om vir iemand van jou ouderdom te verduidelik wat presies ’n mense se IK oftewel jou intelligensiekwosiënt is. Dit is ’n manier waarop kenners jou verstandelike vermoëns meet en bepaal hoe slim jy is.” Apie eet in stilte verder. Hy dink diep na oor hierdie IK-besigheid. Ná ’n hele paar minute vra hy skielik: “Hoe, Ma?” “Hoe wat, Apie?”
“Hoe meet hulle jou verstandelike vermo-… hoe slim jy is?” Mevrou Baumann sug. “Verduidelik jy, Jan,” sê sy vir haar man. Dokter Baumann sug ook, maar wend ’n poging aan. “Hulle laat jou toetse skryf en dan word dit gemerk en die resultate word vergelyk met sekere vasgestelde standaarde en daarvolgens word jou IK bepaal. Verstaan jy nou, seun?” Daar speel ’n stout glimlag om dokter Baumann se mondhoeke. Apie is nou vas. As hy sê hy verstaan nie, sal almal aan tafel mos dink hy is dom. “Ja, Pa,” sê Apie vinnig, “ek dink ek verstaan.” “Ek is bly,” sê sy pa. “Dan is daar geen verdere verduidelikings nodig nie.” Apie knik effens onwillig met sy kop. Dokter Baumann eet nou rustig verder. Hy voel hy het hom goed van hierdie moeilike taak gekwyt. Die moeilikste is natuurlik nie om te verduidelik wat ’n IK is nie, maar om Apie se mond oor die onderwerp te snoer. “Weet julle waarvan hou ek in Peter?” sê Martha Baumann skielik. Niemand kan raai nie – veral nie Saartjie en Apie nie. Daar is niks juis waarvan hulle in hom hou nie. Hul ma kry ’n sagte glimlag en sê dan met ’n veraf kyk in haar oë: “Ek is nie so beïndruk met sy hoë IK nie, want dis iets waarmee ’n mens gebore word. Ek hou van hom omdat hy so beleefd is, en sulke mooi maniere het.” Mevrou Baumann kyk nou na Saartjie en Apie en voeg droogweg by: “Lynnekom se kinders kan baie by hom leer.” Apie trek ’n suur gesig en sê: “Hy gee my ’n pyn op my maag.” “Abraham! Ons is aan tafel.” “Ja, Ma. Jammer, Ma,” maak Apie verskoning. Saartjie sit met net so ’n vies trek op haar gesig. Al sê sy nie so nie, is dit baie
duidelik dat Peter haar ook ’n pyn op die maag gee. “Ek wonder,” sê Apie ingedagte terwyl hy sy warm sjokolade stadig omroer, “hoekom is sy naam nou kastig Peter en nie sommer plein Piet nie?” “Jy bedoel seker sommer nét Piet?” vra sy ma. “Ja, Ma, dis wat ek bedoel.” Apie kyk verbaas na haar. Hulle moenie vir hom kom vertel die woord “plein” is nou ook al Engels nie! “Sy naam is natuurlik Peter en nie Piet nie, omdat hy só gedoop is,” sê sy ma. Apie sê niks nie, want hy wil nie weer tereggewys word nie, maar hy dink by homself dat dit wys dat Peter se ouers net so “weird” soos hy is. Piet is mos ’n mooi naam, ’n goeie naam. Peter is sommer simpel. “Ek wonder,” dink Saartjie hardop, “hoekom laat sny hy nie sy hare nie?” “’n Genie is gewoonlik maar eksentriek,” sê haar ma. “Dis waarskynlik een van sy eienaardighede.” “Ek dink hy laat dit nie sny nie, omdat hy dink hy’s mooi,” sê Saartjie. “Mooi?” vra Apie verbaas. “As daai langderm mooi is, is ek ook!” “Ek sê nie hy is mooi nie,” antwoord Saartjie. “Ek sê hý dink hy’s mooi. Hy is vreeslik verwaand.” “Wat’s dit?” vra Apie en loer agterdogtig na Saartjie oor sy koppie warm sjokolade. “Wat’s wát?” “Wat’s verwaand?” “Ag, Apie, ek is nie nou lus om te verduidelik nie,” sê Saartjie. “Is ‘verwaand’ goed of sleg? Sê my net dit.” “Sleg, sou ek sê.”
“Nou dan is jy reg, Saartjie.” “Reg waarmee?” “Oor Peter. Hy is verwaand. Ek sê ook so.” Die ouers luister glimlaggend na Saartjie en Apie se gesprek. Een ding is baie duidelik – Peter is allesbehalwe gewild. Saartjie het gedink sy sal nie veel van die Zaimbabwiër sien nie, maar net die volgende middag maak hy weer sy opwagting. Sy doen huiswerk in die eetkamer. Die hele tafel is vol boeke. Haar ma is besig met naaldwerk in die werkkamer langsaan. Apie dwaal verveeld in die tuin rond. Kris is by die universiteit en hul pa doen ’n operasie by ’n hospitaal in die stad. Saartjie kyk moedeloos na die algebraprobleme in haar boek. Sy kan die goed eenvoudig nie verstaan nie. Dis ’n deurmekaarspul van x2 en y2, en minusse en plusse, en die joos weet wat alles. As haar pa of Kris hier was, kon een van hulle haar nou gehelp het. Haar ma het vroeër vanmiddag probeer, maar ná ’n rukkie moed opgegee en net gesê: “Jammer, ek het daardie goed lankal vergeet.” Saartjie wonder of sy na Lina of Anna toe sal gaan, maar besluit dan dit sal net tydmors wees, want hulle verstaan nog minder as sy. Sy kyk vir die soveelste keer uit tuin toe en sien dan vir Bennie en Peter by die hekkie inkom. Apie kom nader en gesels met hulle. Saartjie hou haar asem op. Sy hoop nie hulle kom na haar toe nie. Dan sien sy Apie beduie vir Peter huis se kant toe. Apie en Bennie skiet soos twee warrelwinde by die hekkie uit – reguit spruit toe. Saartjie verwens haar klein niksnuts van ’n boetie. Wag maar, sy sal hom nog hiervoor kry. Peter kom na die huis toe aangestap. Saartjie sug en dan skree sy: “Mamma!” “Ja, Saartjie?” “Hier kom Mamma se genie met die goeie maniere aan!”
Haar ma loer laggend by die eetkamer in. “Nou kan jy hom sommer vra om jou met daardie algebra te help, Saartjie. Ek is seker hy sal dit kan doen.” “Nooit nie, Mamma. Hy sal net weer so ’n alwetende glimlag op sy bakkies kry. Ek wil nie hê hy moet weet ek sukkel nie.” “Nes jy verkies,” sê haar ma. “As jy wil koppig wees, is dit jou saak.” Peter klop liggies aan die deur en Saartjie staan vies op om te gaan oopmaak. Sy hoop nie hy gaan die hele middag hier sit en slimstories verkoop – en dit boonop in sulke hoogdrawende taal dat g’n mens hom kan verstaan nie! Saartjie maak die deur nors oop. “Goeiemiddag, Saartjie,” groet Peter. “Mag ek maar binnekom?” “Hoekom nie?” sê sy stug. Peter is effens uit die veld geslaan, maar dan sien hy mevrou Baumann. “Goeiemiddag, Mevrou,” sê hy en stap in. “Is dit nie ’n perfekte, wolklose dag nie?” “Middag, Peter,” sê Martha Baumann wat nog steeds in die gangdeur staan. “Kom sit gerus, maar verskoon tog hoe dit hier lyk. Saartjie is besig met haar huiswerk.” “Dis alles in die haak, Mevrou. Dit lyk mos maar altyd so effens wanordelik wanneer ’n mens in jou studies verdiep is. Kan ek vir Mevrou ’n stoel nadertrek?” “Nee dankie, Peter. Ek is besig in die werkkamer. Sit jy maar hier by Saartjie, dan sluit ek later by julle aan wanneer dit teetyd is.” “Dankie, Mevrou.” Peter staan galant opsy sodat mevrou Baumann kan verbykom. Saartjie dink daaraan dat as haar twee voortande soos Apie s’n weg was, sy nou
ook sisgeluide sou gemaak het! Peter wag eers tot Saartjie gaan sit voor hy hom gemaklik maak. “Gaan maar voort,” sê hy goedgunstig. “Moet asseblief nie dat ek jou steur nie.” Saartjie wens sy kan aangaan, maar hierdie algebra is vir haar een te veel. Sy besef dit is seker net iets kleins wat sy nie verstaan nie, en as sy dit onder die knie kan kry, sal al haar probleme opgelos wees, maar wat ís dit? Sy kyk na Peter. Hy is besig om sy vingers deur sy blonde hare te trek. Dit irriteer haar. Die laaste ding wat sy wil doen, is om hom vir hulp te vra! Dan kyk hy na die boek voor haar. “Doen jy algebra?” vra hy. “Lyk dit miskien vir jou of ek besig is om kruisies op die papier te trek?” vra Saartjie vies. Peter trek sy vingers weer deur sy hare en kyk uit die hoogte na haar. “Sarkasme is ’n toevlug vir die armes van verstand,” sê hy. “Dink jy ek het nie verstand nie, hè?” vra Saartjie bitsig. “Dink jy ek kan nie hierdie eenvoudige ou algebra doen nie?” “Ek het dít nie gesê nie,” sê Peter kalm. Hy tel die algebraboek op en kyk daarna. Saartjie wens hy wil haar help, maar sy sal sowaar nie vra nie. “Ja-nee, dis sommer kinderspeletjies hierdie,” sê Peter en sit die boek weer voor haar neer. Saartjie byt op haar onderlip. Dit mag vir hóm kinderspeletjies wees, maar kyk hoe sit sy hier en swoeg. Dan dink sy aan ’n plan. Miskien kan hy haar tóg help – sonder dat hy eers weet hy doen dit. Sy moet net goed kyk en mooi luister. “Alles is mos vir jou maklik, nè?” sê Saartjie effens smalend vir Peter.
“Die meeste dinge, ja,” sê hy selfvoldaan. Oe! So ’n verwaande vent! “Nou bewys dit dan vir my,” sê Saartjie vermakerig. “Doen bietjie ’n probleem dat ek sien.” Peter het twee penne in sy baadjiesak. Hy haal die een uit en druk ’n knoppie agteraan. Die pen se punt kom uit. Peter trek ’n vel papier nader en kyk in die algebraboek. Saartjie lê eintlik oor die tafel om beter te kan sien. Wanneer Peter fronsend opkyk, verduidelik sy vinnig: “Ek wil doodseker maak jy kan dit doen. Dalk praat jy net groot.” “Nooit, dis sommer kinderspeletjies,” sê Peter en kyk weer in die boek. Saartjie hoop maar net hy gaan die ding nie só vinnig oplos dat sy nie sal kan volg wat aangaan nie. Peter redeneer die probleem hardop met homself uit. “x is hier gelyk aan y en y is gelyk aan…” Saartjie luister aandagtig. Bennie se nefie doen die probleem op die papier en is in ’n kits klaar. Saartjie staar na die oplossing. Hy moet dit tog net nie nou opskeur nie! “Daar’s hy,” sê Peter. “Sien jy? Dit wás toe kinderspeletjies.” Hy gee die papier vir haar. Saartjie sit terug. Sy bestudeer die probleem soos hy dit uitgewerk het. Ná ’n rukkie kyk sy vinnig op en verduidelik: “Ek kyk net of jy dit reg gedoen het.” Saartjie sien nou hoekom sy die hele middag so gesukkel het. Sy was toe reg. Daar ís net een klein puntjie waarvan sy vergeet het, maar nou verstaan sy dit. Hierdie algebra lyk nou vir haar ook na kinderspeletjies. “Jou antwoord is reg,” sê sy vir Peter. “Natuurlik is dit,” sê hy. “Ek kan nie nou gesels nie,” sê Saartjie dan haastig, “want ek het nog ’n probleem om te doen.”
Peter tel ’n boek op en begin daarin lees. Saartjie doen die tweede probleem. Net om seker te maak loer sy kort-kort vinnig na die papier waarop hy die eerste probleem gedoen het. Sy volg dieselfde metode as Peter. Wanneer sy klaar is, glimlag Saartjie. Sy weet sommer sy is reg, maar sy moet darem honderd persent seker maak. “Ag, die goed is sommer eenvoudig,” sê sy en gooi die papier na Peter toe. Hy tel dit op en kyk na haar werk. Saartjie se hart klop vinnig. “As ’n mens die grondbeginsels van algebra en wiskunde begryp, kan jy enige gekompliseerde probleem maklik en eenvoudig oplos,” sê hy hoogdrawend. Saartjie wonder of hy iets spesifieks van haar berekening gaan sê. Hy kyk weer na die papier en sê dan: “Jou antwoord is heeltemal korrek.” Saartjie se gesig straal. Sy voel nou sy het hierdie algebra onder die knie. “Natuurlik is dit reg,” sê sy. “Ek ken mos die basiese beginsels.” “Ja, jy ken dit,” stem Peter saam en hy gee die papier weer vir haar terug. Dan sê hy sagter, met ’n glimlag om sy mondhoeke: “Jy ken dit nóú...” Saartjie trek haar asem vinnig in. Hy het geweet! Hy het die hele tyd geweet – dís hoekom hy die probleem kastig hardop uitgeredeneer het en so ’n rooi streep getrek het onder die plek waar sy versigtig moet wees om nie verkeerd te gaan nie. Sy wil haar eers vervies, maar dan begin Saartjie lag. Dis tog maar die beste. So tussen die lag deur sê sy: “Dankie vir jou hulp, Peter.” Hy knik ewe ernstig sy kop. Ag, wat ’n droë vent, dink Saartjie. Hy glimlag sowaar nie eers nie. Dan sê Peter uit die hoogte: “Onthou, dis altyd beter om maar te vra as ’n mens iets nie weet nie.” “Ja, is seker,” sê Saartjie met ’n sug.
Saartjie hou nou effens meer van Peter. Sy is dankbaar dat hy haar gehelp het. Sy sou nog meer van hom gehou het as hy saam met haar gelag het – as hy nie so selfversekerd, verwaand en sonder humorsin was nie – maar nou ja… Saartjie begin ontdooi en gesels tussen haar huiswerk deur met die Zimbabwiër. Sy kan mos nie aanhou katterig wees met iemand wat haar gehelp het nie. “Hoe kry jy dit reg dat jou pen met dieselfde punt blou en rooi skryf?” vra Saartjie. “Dis ’n spesiale pen wat my pa vir my in Amerika gekoop het,” verduidelik Peter. “Ek het twee daarvan.” Hy gee die een pen vir Saartjie aan en wys haar hoe dit werk. Saartjie se oë straal. Sy sal wát gee om so ’n skryfding te kan hê! ’n Mens druk net ’n knoppie agteraan die pen, dan skryf dit rooi, dan druk jy die knoppie weer in ’n ander posisie en die pen skryf blou. Die derde posisie is vir groen en die vierde vir bruin. “Dis ’n wonderlike pen!” sê Saartjie opgewonde. “Kan ’n mens dit hier in Johannesburg koop?” “Ek glo nie,” sê Peter. “En indien wel, sal dit ’n ontsaglike som geld kos.” Saartjie skryf ’n bietjie met die pen en dan trek sy sommer net vir die lekker rooi, groen en bruin strepe. “Sjoe, jy’s gelukkig!” sê sy en glimlag vriendelik vir Peter. “Jy het sowaar twee van hulle!” “Ja,” sê Peter. Hy vat die pen vinnig by Saartjie en sit dit terug in sy sak by die ander een. Hy het twee en hy wil baie duidelik nie hê die twee moet een word nie. Hy wil al twee vir homself hê. Uiteindelik bring Lizzie, die Baumanns se huishulp, die tee in. Peter is net so beleefd en galant soos gister toe hulle hom ontmoet het en Saartjie se ma gesels heerlik met hom. Saartjie sê nie veel nie. Sy sit en dink. Hoe kan sy een van daardie wonderlike penne in die hande kry? Sy is mal daaroor en hy het
mos nie twee nodig nie! Saartjie probeer dink aan wat sy besit wat sy miskien vir die pen kan ruil. Wat het sy waarin Peter sal belangstel? Sy dink aan haar album met foto’s van filmsterre. Dit is waarskynlik haar kosbaarste besitting, maar sy sal selfs bereid wees om dit te verruil vir die pen wat in vier kleure kan skryf. Die vraag is net – sal Peter in so iets belangstel? Wanneer hulle klaar tee gedrink het en haar ma terug na die werkkamer toe gaan, dam Saartjie hom by. Sy het ’n groot transaksie om te beklink. Saartjie gooi haar kop effens agteroor en vee met die agterkant van haar hand die krul van haar voorkop af weg. Dan sê sy vir Peter: “Daardie pen waarvan jy twee het... Wil jy nie een met my ruil nie?” Enige normale mens sou seker nou gevra het: “Wat gee jy my?” Maar nie Peter nie. Hy sê eenvoudig net: “Nee.” Hy gee Saartjie nie eers kans om van haar wonderlike foto-album te vertel nie. “Nee, wát?” vra Saartjie effens oorbluf. “Nee, ek wil nie ruil nie.” Saartjie kyk verslae na hom en sê dan vies: “Vra jy nie eers wat ek jou in ruil vir die pen wil gee nie?” “Hoekom moet ek vra?” Peter kyk na die boek waarin hy gelees het. “Wel,” sê Saartjie verbaas, “jy stel darem seker belang.” “Nee, ek stel nie belang nie,” sê Peter beslis. “Want ek wil nie een van my penne verruil nie. Jy sal dus met my saamstem dat dit onder hierdie omstandighede ’n verkwisting van tyd is om vir my te vra wat ek bereid is om in ruil daarvoor te aanvaar.” Peter slaan sy oë weer af na die boek toe. Saartjie byt op haar onderlip. Hoe kan enigiemand só selfversekerd wees? Sy kan hom nie verstaan nie. Hy het haar nie eers kans gegee om oor die groot transaksie te gesels nie – wat nog te sê van dit beklink? Saartjie is sommer van voor af weer vies vir hom. Hy is onmoontlik. Dis wat hy is – eenvoudig
onmoontlik! Saartjie gaan maar weer met haar huiswerk aan. Sy praat glad nie meer met Peter nie. Hulle het tog niks om vir mekaar te sê nie. Ná ’n rukkie sit hy die boek waarin hy gelees het neer en staan op. “Baie dankie vir die beskuit en tee,” sê Peter hoflik. “Dit was heerlik.” “Nie te danke nie,” mompel Saartjie. Dan sien sy weer die penne in sy sak. Sy wil só graag een hê. Dis die moeite werd om nog een keer te probeer. “Jy weet, Peter, ek het die mooiste album vol foto’s van beroemde filmsterre. Dit het my jare gevat om al die foto’s bymekaar te kry.” “So?” sê hy net en trek sy lang vingers deur sy hare. Saartjie sluk vinnig en sê dan: “Ek sê jou wat, net omdat ek van jou hou en omdat jy my met die algebra gehelp het – al het ek jou nie gevra nie – sal ek die foto-album vir jou gee! Ek sal my kosbare album vir jou gee in ruil vir een van daardie penne.” Sy glimlag liefies vir Peter. Hy moet besef sy bewys hom ’n ontsaglike groot guns – natuurlik net omdat sy van hom hou en hy haar gehelp het! Maar Peter oorweeg haar aanbod glad nie eers nie. Met tipiese hoogdrawendheid sê hy: “Ek stel hoegenaamd nie in filmsterre belang nie. Dankie, maar nee dankie.” Peter is al by die deur. “Dra asseblief my innige dank aan jou ma oor vir die heerlike beskuit en tee,” sê hy en maak die deur oop. “Tot siens, Saartjie.” Saartjie sê niks nie. Sy sit hom net vies en aankyk. Hy stap uit en maak die deur agter hom toe. Ná ’n rukkie kom Martha Baumann hoor hoe Saartjie se huiswerk vorder. “Peter sê dankie vir die beskuit en tee, Mamma,” sê Saartjie.
“O, hy is darem ’n goeie seun,” sê haar ma. “En hy het sulke goeie maniere!” Saartjie antwoord nie hierop nie. “Het hy jou toe met die algebra gehelp?” vra haar ma. “Ja, hy het, maar ek het hom nie gevra nie!” “Verstaan jy die werk nou?” “Ja, dankie, Mamma.” “Dis goed so. Maak nie saak of jy hom gevra het of nie – solank jy die werk net nou verstaan.” “Solank Mamma net onthou ek het hom nié gevra om my te help nie,” sê Saartjie. Mevrou Baumann rol haar oë en stap by die vertrek uit. Saartjie kan tog soms so koppig wees. Saartjie dink weer aan die wonderlike penne wat in vier kleure kan skryf. Hoe kan sy een daarvan in die hande kry? Hierdie probleem hou Saartjie die hele aand besig. Sy snuffel in haar kamer deur die laaie om te sien of daar nie miskien iets waardevols is waarvoor Peter een van sy penne sal verruil nie. Maar selfs Saartjie met haar geweldige verbeeldingskrag kry niks waarin hy sal belangstel nie. Sy kry net ’n klomp ou speelgoed, poppe, waentjies, meubels en poprokke. Saartjie kyk moedeloos na alles en pak dit dan maar weer weg. Peter sal nie eers twee keer daarna kyk nie. Saartjie kyk ook lank na haar boekrak. Daar is baie sprokies en feëverhale wat sy toe sy jonger was, gelees het – en ’n hele paar koshuis- en avontuurverhale. Maar dis hopeloos, die geleerde Peter sal tog nie in sulke ligte leesstof belangstel nie. Saartjie besluit sy sal dit maar net eenvoudig moet aanvaar – sy besit niks wat Peter in ruil vir een van die penne sal aanvaar nie.
Dan begin sy aan geld dink. As sy geld het, kan sy mos vir haarself so ’n pen koop. Sy wonder of daar van dié soort penne in Suid-Afrika te koop is en hoeveel dit sal kos. Peter het gesê hy twyfel of ’n mens sulke penne in Johannesburg kan koop en indien wel, sal dit ’n ontsaglike som geld kos. Maar wat beskou hy as ’n ontsaglike som geld? Is die mense in Zimbabwe ryk? Is sy ouers ryk? Saartjie vee met die agterkant van haar hand die krul van haar voorkop af weg. Sy het nie ’n ontsaglike som geld nie. Sy het net twintig rand – maar op hierdie stadium is dit al wat sy het, so dit ís ’n ontsaglike som geld. Sy besluit sy gaan kyk wat sy met haar twintig rand kan regkry. Sy gaan vir Anna en Lina vra om môremiddag ná skool saam met haar stad toe te gaan sodat hulle so ’n pen wat in vier kleure skryf, kan gaan soek. Miskien is twintig rand genoeg daarvoor. ’n Mens weet nooit. Die volgende oggend vat Saartjie haar beursie met die twintig rand in saam skool toe. In die bus vertel sy vir haar vriendinne van Peter se wonderlike pen. Galpil, Gert en Piet sit in die bankie net voor die drie meisies. Hulle luister ook aandagtig. Anna en Lina is meer as gewillig om ná skool saam met Saartjie stad toe te gaan. Soos Lina opgewek sê – as hulle nie so ’n soort pen vir twintig rand kan kry nie, kan hulle die geld mos vir koeldrank en lekkers gebruik. “Maar sê nou die twintig rand ís te min vir so ’n wonderlike pen?” sê Saartjie mismoedig. “Het julle ouens nie miskien iets waarvoor Peter bereid sal wees om een van sy penne te verruil nie? Ek het vir hom my foto-album vol filmsterre aangebied, maar hy wou niks daarvan weet nie.” Almal dink nou aan wat hulle het en miskien vir Saartjie kan gee sodat sy die pen wat sy so graag wil hê in die hande kan kry. Anna kan aan niks dink nie. Sy het presies dieselfde goed as wat Saartjie het: ou poppe en speelgoed. Lina sê sy het ’n kettie en ’n waterpistool wat nog in ’n goeie toestand is. Maar Saartjie is seker Peter stel nie in sulke kinderspeelgoed belang nie.
“Ja-nee,” sê Galpil, “hy’s wraggies die snaaksste perd wat ek nog in my hele lewe gesien het.” Gert haal ’n effens verroeste knipmes uit sy sak. “Miskien sal die ou só iets wil hê,” sê hy. “Die een lem is gebreek, maar die ander een makeer niks.” Hierdie aanbod word ook van die hand gewys. Saartjie weet sommer Peter is nie die soort wat ’n mes in sy sak dra nie – en dit nogal ’n verroeste een met een gebreekte lem. Sy bedank Gert vir sy aanbod. Piet voel hy moet darem ook belangstelling wys, al kan hy nie iets aanbied nie en sê: “Ekskuus, maar ek het niks waarin daai ou met die meisiehare sal belangstel nie.” Galpil sit en peins. Hy het nog nie iets aangebied nie. “Ek kan vir die perd ’n duif gee,” stel hy voor, maar dan dink hy dat dit darem ’n geweldige opoffering is om te maak en voeg vinnig by: “’n Siek een. Daar is een wat so effens siek is. Daai ou perd sal dit nie eers weet nie.” “Tot die duif dood is,” sê Piet laggend. “Dan sal hy wonder hoekom die duif so gou doodgegaan het.” “Maar dan het Saartjie mos al haar pen,” sê Gert. “Dan kan hy dit nie weer terugvat nie.” Die kinders lag. Hulle hou nogal van die idee om vir Peter ’n siek duif wat nie lank sal lewe nie in ruil vir die pen te gee. “Nee wat,” sê Saartjie, “ek is seker dis net tydmors – ’n verkwisting van tyd, soos Peter sou sê. Hy lyk nie vir my soos iemand wat in duiwe belangstel nie. En buitendien, hy sal daardie spesiale pen nie vir net een duif verruil nie!” Galpil is nou tjoepstil. Hy gee sowaar nie meer as een duif – en dan net daardie siek een – weg nie. Hy mompel nou dat hy ook dink die “ou perd” stel seker nie in duiwe belang nie. Saartjie en haar vriende het baie duidelik niks waarvan Peter sal hou nie, in elk
geval nie genoeg om een van sy penne daarvoor te verruil nie. Saartjie sê sy dink al gooi hulle ook alles saam – haar foto-album, Lina se kettie en waterpistool wat albei nog in ’n goeie toestand is, Gert se verroeste knipmes met die een stukkende lem én Galpil se siek duif – sal Peter nog steeds nie belangstel om te ruil nie. Die ander stem met haar saam. Skielik vra Galpil: “Maar wat doen die perd met twee penne? Hy kan tog nie met een in elke hand gelyktydig skryf nie!” Anna sê droogweg hy is só slim dat dit heel moontlik presies is wat hy doen. “Dis onmoontlik,” sê Lina. “Die enigste rede hoekom hy nie met Saartjie wil ruil nie, is omdat hy te suinig is!” Almal knik instemmend kop. Afgesien daarvan dat Peter verwaand en beterweterig is, geen humorsin het nie en gedurig vir almal probeer wys hy weet meer as hulle, is hy boonop nog suinig ook! Ja-nee, Lynnekom se kinders dink nie veel van die geniale Peter van Zimbabwe nie! Saartjie konsentreer dié dag by die skool hard in die klas en doen alles presies soos sy moet. Sy praat skaars met Anna en Lina. Sy wil nie vandag in die moeilikheid kom nie – sy wil stad toe gaan.
7
Avonture in die stad
’n Mens hoor nog die laaste skoolklok se eggo’s, toe is Saartjie, Anna en Lina al by die hek uit. Hulle is baie haastig, want hulle gaan stad toe om die pen wat in vier kleure kan skryf, te koop. Die eerste groot winkel wat allerhande skryfbehoeftes verkoop, is in Eloffstraat, naby die stasie. Saartjie is seker sy sal hier so ’n pen kry. Die drie meisies stap by die winkel in. Saartjie se hart klop opgewonde. ’n Man met ’n bles en ’n knypbrilletjie wat feitlik op die punt van sy neus sit, kom agter die toonbank uit om hulle te bedien. “En wat kan ek vir julle doen?” vra hy vriendelik. Saartjie vee met die agterkant van haar hand die krul van haar voorkop af weg en sê: “Meneer sien, die saak staan só – ek wil ’n pen hê, maar...” “Og, ons het honderde penne!” val hy haar in die rede. “Duisende!” “Ek weet, Meneer,” sê Saartjie. “Ek kan die duisende penne sien, maar ek soek ’n baie, baie spesiale soort pen.” “Ons hou elke denkbare soort ter wêreld aan, Juffie,” sê die man. “Ons is die grootste penhandelaars in die land! Ons voorsien die hele Suid-Afrika van skryfbehoeftes.” Saartjie kyk glimlaggend na Anna en Lina. Sy is hoog in haar skik. Die grootste penhandelaars in die land! Dit beteken sy gaan die pen wat sy so graag wil hê, hier kry.
“Nou vertel vir my, hoe ’n soort pen is dit, Juffie?” vra die man en vryf sy hande voor hom in die lug. “Meneer sien,” begin Saartjie verduidelik, “dit lyk baie soos ’n gewone vulpen, maar dit is nie een nie.” Die verkoopsman luister aandagtig en knik met sy kop om te wys hy verstaan. Dis lyk soos ’n vulpen, maar dit is nie een nie. “Agter aan die pen is daar ’n knoppie, Meneer sien – en jy druk dit net om die kleure te verander. Daar is vier kleure: rooi, blou, bruin en groen.” “Jy bedoel die pen wat soos ’n gewone vulpen lyk, maar nie een is nie, kan in vier verskillende kleure skryf?” vra die man wat oor sy knypbrilletjie na Saartjie loer. Saartjie knik haar kop. Dis presies wat sy bedoel. “En dit skryf met ink?” wil die man weet. “Met ink, ja,” sê Saartjie en mompel onderlangs vir haar vriendinne iets van waar het ’n mens nou al ooit van ’n pen gehoor wat nie met ink skryf nie. As dit nie met ink skryf nie, is dit mos ’n potlood. Die verkoopsman staar peinsend voor hom op die vloer. Dan kyk hy kopskuddend na al die penne in die groot glastoonbank en vra: “Hoe werk so ’n pen?” Saartjie se moed sak in haar skoene. Dit lyk vir haar die man het nie ’n benul waarvan sy praat nie. “Hoe bedoel Meneer hoe werk so ’n pen?” Saartjie sug. Sy is mos nie die een wat ’n deskundige op die gebied van penne is nie. Hý is – altans, hy behoort te wees. Hierdie winkel voorsien dan die hele Suid-Afrika van skryfbehoeftes. “Hoe kom die vier verskillende kleure ink uit die een pen?” vra die man. “Uit aparte buisies?” “Ek weet nie, Meneer,” sê Saartjie, “ek het nog net een keer so ’n pen gesien, maar ek het dit nie oopgemaak om te kyk hoe dit binne-in lyk nie.”
“Dis darem snaaks,” sê die man en kyk fronsend oor sy knypbrilletjie, “ek het nog nooit van ’n pen gehoor wat in vier verskillende kleure ink kan skryf nie.” “Dit kom glo van Amerika af,” sê Saartjie. “O, nou verstaan ek,” sê die man. “Die Amerikaners maak baie sulke nuwerwetse penne en die meeste daarvan is nie goeie kwaliteit nie. Ons bestel nooit sulke penne wat van die gewone afwyk nie. Ons het nie ’n mark vir allerhande snaakse soorte skryfbehoeftes nie.” “So Meneer-hulle het nie ’n pen wat in vier verskillende kleure kan skryf nie?” vra Saartjie. “Nee, want dit verkoop nie hier nie,” sê die man smalend en voeg dan trots by, “maar laat ek jou wys watter penne ons wél het. Ons voorsien die hele SuidAfrika.” “Maar Meneer kan haar nie voorsien nie?” vra Lina en wys met haar duim na Saartjie. “Ons hou nie sulke belaglike goed aan nie,” sê die verkoopsman en snork nou sommer van minagting. “’n Pen met vier kleure ink... dis net ’n goedkoop foefie.” Hy maak ’n kas oop. “Kom ek wys vir julle ons vulpenne wat uit Brittanje ingevoer is. Hulle is die heel beste kwaliteit.” “Ja, maar hulle kan nie in vier verskillende kleure skryf nie,” sê Saartjie. “En ek soek so iets.” Die man maak klapgeluidjies met sy tong en loer oor sy knypbrilletjie na haar. Hy voel jammer vir hierdie meisietjie wat ’n Amerikaanse nuwigheid verkies bo ’n Britse bobaaspen – ’n kwaliteitproduk wat hulle aan die hele Suid-Afrika voorsien! Maar die winkel se leuse is dat niemand by hulle mag uitstap sonder om geholpe te raak nie. Die man kan Saartjie nie laat afsien van die idee van ’n pen wat vier kleure skryf nie – daarom moet hy ’n ander plan bedink. “Kyk, Juffie, ek dink jy maak ’n fout deur nie een van ons goeie penne te koop
nie, maar ek wil jou nogtans graag help,” sê hy. “Ek sal ons verteenwoordiger in Amerika kontak en hom vra om vir ons ’n pen soos die een wat jy graag wil hê, te stuur. Gee net vir my jou adres, dan laat ek jou weet sodra ek van hom hoor.” “Hoeveel sal so ’n pen omtrent kos, Meneer?” vra Saartjie. Die man loer weer oor sy brilletjie. “Ek kan nie presies sê nie, maar aangesien dit in vier kleure kan skryf, sou ek sê minstens ’n honderd rand.” “’n Hónderd rand?” vra Saartjie verstom. “Ja, ek vermoed dit sal ’n duur pen wees.” “As Meneer die honderd rand deur vyf kan deel, kan ons gesels, anders moet ons maar hiervan vergeet.” Die man grinnik en vryf sy hande weer in die lug voor hom. “Jy maak seker nou ’n grap, Juffie?” Saartjie verseker hom sy is doodernstig. Sy het net twintig rand. En só kom alle verdere onderhandeling tot ’n einde. Die winkel het nie die soort pen wat Saartjie wil hê nie en al het hulle dit ook gehad, sou sy dit nie kon bekostig nie. Die Drie Muskiete groet en loop by die winkel uit. Saartjie is baie teleurgesteld, maar Anna en Lina is nie eintlik nie. Hulle dink aan al die lekkers en koeldrank wat ’n mens met twintig rand kan koop. Die meisies gaan doen navraag by nog ’n paar winkels wat penne en skryfbehoeftes verkoop, maar tevergeefs. Hulle kry nêrens ’n pen soos wat Saartjie wil hê nie. Die drie is later al baie moeg. Saartjie se een skoen druk haar tone en sy loop al mank. “Ek glo nie daar is nog een winkel oor waar ons nie was nie,” sê Lina toe hulle weer met leë hande by ’n plek uitkom. Saartjie se voet is nou baie seer en sy is dors. Sy dink mismoedig daaraan dat
Peter soos gewoonlik reg was – ’n mens kry die soort penne wat in vier kleure skryf net in Amerika. Sy kan maar daarvan vergeet en haar twintig rand op iets anders uitgee. Anna en Lina knipoog vir mekaar en dan sê Lina vir Saartjie: “Jy loop al hoe moeiliker. Ons moet rus.” “Rus en iets eet of drink,” sê Anna vol hoop. Saartjie glimlag. “Nou goed,” sê sy, “kom ons gaan reguit na die naaste kafee toe.” Saartjie word hard op die rug geslaan en met hierdie wyse besluit gelukgewens. Die meisies gaan by ’n kafee in. Hulle gaan sit by ’n tafeltjie en Saartjie sê: “Ons deel ’n roomys en dan drink ons koeldrank.” Sy word weer van harte gelukgewens met hierdie wyse besluit. Net om te wys sy het goeie maniere en stel darem effens belang, vra Anna: “En wat nou van die pen, Saartjie? Gaan jy maar daarvan vergeet?” “Nee, ek gaan nog dink aan ’n manier hoe ek Peter kan ompraat om een van syne vir my te gee.” Anna en Lina wonder hoe sy so ’n suinige ou sover gaan kry, maar sê liewer niks nie. Hulle wil nou net die roomys geniet. Die drie kuier heerlik in die kafee. Saartjie het die skoen wat haar seermaak uitgetrek en dit onder die tafeltjie in geskop. Terwyl die meisies koeldrank drink, voel Saartjie iets teen haar voet en dink dit is die kat. “Weg is jy,” sê sy en stoot die kat weg. Dan drink sy weer verder aan haar koeldrank. Anna sê skielik: “Kyk!” Saartjie en Lina sit met hul rûe na die plek waarna Anna nou stip staar.
“Wat’s dit met jou?” vra Saartjie verbaas. “Kyk!” sê Anna weer. Saartjie en Lina swaai om en kyk in die rigting waarna Anna wys. In die hoek van die kafee staan ’n hondjie met Saartjie se skoen in sy bek. “Ek dog dis ’n kat,” sê Saartjie geamuseerd. Die drie kyk na die hondjie. Sy kop is effens skuins gedraai. Sy oortjies staan regop en hy loer na die meisies bo-oor die skoen wat hy styf in sy bek vashou. “Dink julle as ons opspring, sal hy die skoen los en laat spaander?” vra Saartjie. Lina dink dit sal werk, veral as hulle ’n groot lawaai maak wanneer hulle opspring. “Maar sê nou hy laat vat met die skoen en al?” vra Anna. Die ander twee besef dat dit dalk presies is wat gaan gebeur. Dan is Saartjie haar skoen vir goed kwyt. Saartjie dink ’n oomblik na en sê dan: “Ons moet hom bekruip.” Anna en Lina dink ook dit sal die beste wees. Die drie vriendinne eet hul roomys nou vinnig terwyl hul oë heeltyd op hondjie met die skoen in sy bek bly. Die vabond staar ook net so stip na hulle. “Stadig nou,” waarsku Saartjie toe hulle versigtig opstaan. “Ek sal reguit op hom afloop. Lina, gaan jy links om en Anna, jy regs. As ons ’n paar tree van hom af is, storm ons en gryp hom.” Anna en Lina knik om te wys hulle verstaan. Die drie begin die brakkie met Saartjie se skoen in sy bek bekruip. Hy hou hulle agterdogtig dop. Sy een oortjie lê plat en die ander een staan regop. Hy sien hoe hulle versigtig naderkom en begin versigtig retireer. Saartjie besluit om hom te paai.
“Ounooi se mooi honne... soet honne...” sê sy sag met haar hande voor haar uitgestrek, maar dit lyk of dit die hondjie net nog meer agterdogtig maak. “Mooi honne... soet honne...” paai Saartjie nog steeds terwyl sy en Anna en Lina stadig al nader en nader kom. Die brakkie beweeg agteruit totdat hy heeltemal in die hoek vasgedruk is en nie verder kan gaan nie. “Nou hét ons hom,” sê Saartjie opgewonde. Die wakker hondjie met die ondeunde ogies maak gromgeluide, maar laat los nog steeds nie die skoen nie. “Ek tel tot drie,” sê Saartjie sag vir Anna en Lina, “dan storm ons en gryp hom.” Anna en Lina knik om te wys hulle verstaan. “Een…” sê Saartjie en die drie staan reg. “Twee…” Hulle kom op hul tone om weg te spring. En toe – voor Saartjie “drie” kan sê – storm die hondjie vorentoe. “Gryp hom!” gil Saartjie. Hulle maak so, maar die brakkie glip rats verby die grypende hande, skiet tussen die verbaasde Anna se bene deur en lê oop vir die kafee se deur. Saartjie se skoen is nog steeds styf in sy bek. “Vang hom!” skree Saartjie. “Vang hom!” Die hondjie staan in die deur. Toe hy sien hulle storm op hom af, gee hy ’n harde blaf wat vir die meisies net soos ’n oorwinningskreet klink. Die skoen val uit sy bek, maar hy raap dit vinnig weer op en pyl nou met Eloffstraat af. Die drie meisies is agter hom aan. Saartjie is die beste atleet van die drie en sy is effens voor Anna en Lina, al voel dit vreemd om met een kaal voet en een voet met ’n skoen aan te hardloop. “Moet hom net nie uit die oog verloor nie!” skree sy oor haar skouer en vleg dieselfde paadjies as die hondjie deur die verbaasde voetgangers op die sypaadjie. Anna en Lina is kort op haar hakke.
“Vang hom! Help! Vang hom!” skree Saartjie en wys na die hondjie. Baie van die geamuseerde verbygangers probeer die brakkie gryp, maar hy is so glad soos seep. As die Springbokke só ’n vleuel kan hê, sal hulle enige span ter wêreld kafdraf. Skielik swenk die hondjie links en skiet soos ’n pyl uit ’n boog by ’n winkel in. “Mooi so!” skree Saartjie. “Nou hét ons hom!” Die drie meisies storm op volle vaart ook by die winkel se deur in, maar loop hulle vas in ’n vertoonkas wat voor reg by die deur staan. Dis ’n skoenwinkel en die kas waarteen hulle bots, is vol skoene gepak. Saartjie val eerste en Lina en Anna tuimel bo-oor haar. Dan val die rak langsaan ook nog om en beland skuins teen die muur. Dit is ’n oorverdowende lawaai. Die verskrikte meisies hou net hul koppe vas soos hulle keer vir die skoene wat op hulle neerreën. Wanneer alles weer stil is, maak Saartjie haar styf toegeknypte oë versigtig oop. “Jissie!” is al wat sy verbaas kan sê wanneer sy die hope skoene om haar sien lê. Anna en Lina loer nou ook versigtig onder hul arms uit. “Gonna,” sê Lina. “Heng,” sê Anna. Die drie meisies is stom van verbasing. Hulle soek net een skoen – en nou is hulle omring deur honderde van allerhande kleure en groottes! “Wat... wat het gebeur?” vra Saartjie verward. Anna en Lina probeer nie eens antwoord nie. Hulle het duidelik ook nie die vaagste benul nie. Saartjie kyk na die hope skoene om haar. Dan sien sy twee ’n entjie van die ander af weg. Die twee skoene verskil van al die ander. Daar is twee voete in die twee skoene.
Saartjie kyk huiwerig op en knyp haar oë dan weer styf toe. Sy wil liewer nie sien wat sy sien nie. Net dan val ’n laaste skoen wat nog wankelend aan die kant van die rak gehang het op haar! “Jissie!” sê Saartjie onwillekeurig en vryf haar kop. Ná ’n paar oomblikke maak sy haar oë weer versigtig oop. Die twee skoene met die voete daarin staan nog steeds op dieselfde plek. Saartjie besluit sy moet seker maar iets sê. Sy moet wys sy en haar vriendinne is ordentlike meisies. Saartjie kyk van die skoene af op na die bene, die lyf en dan vas in ’n bejaarde vrou se kwaai gesig. “Middag, Tannie,” sê Saartjie en glimlag vriendelik. Die vrou se oë skiet vlamme. Anna en Lina kyk ook op, maar knyp hul oë dan weer styf toe. Dit is seker die eienares van die winkel, want sy lyk woedend kwaad. “En wat gaan hier aan?” kom die vrou se stem met ’n swaar aksent, so koud soos die koudste windjie wanneer daar sneeu op die Drakensberge se pieke is. Saartjie sluk. Haar oë is groot. Anna en Lina kyk nou ook weer bang na die kwaai vrou. “Ons... ons het niks verkeerd gedoen nie, Tannie,” sê Saartjie verbouereerd, en toe sy daaraan dink dat haar antwoord miskien te parmantig klink, voeg sy by: “Ons sit sommer hier, Tannie. Dis maar al.” “Staan op!” Die drie maak dadelik so. Hulle staan skrikkerig tussen die swetterjoel skoene wat in hope oral rond lê. “Hoekom het julle soos barbare hier ingehardloop?” vra die vrou ysig. Saartjie, Anna en Lina kyk vinnig na mekaar. Anna en Lina pomp Saartjie in die ribbes en stoot haar vorentoe. Dis mos haar skoen wat hulle by die hondjie wou gekry het. Sy moet nou die praatwerk doen.
Saartjie byt effens op haar onderlip. Dan vee sy met ’n tipiese gebaar die krul van haar voorkop af weg en gooi haar kop effens agteroor. Dit was mos maar net ’n ongeluk. Hulle het die hondjie gejaag wat haar skoen gevat het – en toe hardloop hy hier in en hulle kom agterna. Hoe moes hulle geweet het daar staan so ’n tamaai kas en rak vol skoene hier reg by die deur? “Tannie sien,” sê Saartjie en sy klink nou meer seker van haarself, “die ding het só gekom…” Sy verduidelik hoe hulle agter die hondjie aan hier ingehardloop het. Die vrou se assistente, twee dames wat heeltemal in swart geklee is, staan ook nou langs haar. Hulle lyk darem nie heeltemal so kwaai soos die eienares nie. Die een sê iets in ’n vreemde taal vir die eienares. Saartjie-hulle luister mooi, maar kan nie ’n woord verstaan nie. Die eienares sê ook iets in die vreemde taal vir haar assistente. Dan draai sy weer na Saartjie en sê in Afrikaans: “Hoe lyk die hondjie wat jou skoen gevat het?” “Hy’s omtrent só groot, Tannie,” sê Saartjie en wys met haar hande. “En hy’t sulke ondeunde ogies en so ’n groot bruin vlek op sy kop.” “Watter kleur is hy?” “Wit, Tannie. So ’n wit hondjie.” Die eienares sê weer iets in hul taal vir een van haar assistente. Saartjie voel glad nie meer so skrikkerig nie. Die dame klink nou minder kwaai. Die assistent gaan na ’n deur agter in die winkel en verdwyn by ’n vertrek in. Die meisies wonder wat nou aan die gang is. Ná ’n paar oomblikke kom die assistent terug met ’n hondjie in haar arms – en dis die een wat met Saartjie se skoen weggehardloop het! “Dis hy, Tannie!” sê Saartjie opgewonde. “Dis die karnallie!” Die eienares neem die hondjie by die assistent en hou hom liefdevol in haar arms terwyl sy vir hom allerhande troetelwoordjies in haar taal fluister. Hy lek haar hande en kyk uitdagend na die drie meisies. Dit lyk kompleet of daar ’n grynslag op sy gesig is.
“Dis my hondjie – my klein Fido,” sê die vrou vir Saartjie. Saartjie voel nou sommer baie beter. As dit die dame se hondjie is, is dit mos indirek haar skuld dat al hierdie elegante skoene nou so oor die vloer uitgestrooi lê. Dis mos Fido wat dit veroorsaak het – omdat hy met haar skoen weggehardloop het! Sy wonder ook in haar stilligheid of die vrou Frans is, want Fido is mos ’n Franse naam. Saartjie verduidelik nou opgewonde hoe hulle drie ewe onskuldig daar in die kafee gesit en roomys eet het toe die hondjie – sonder dat hulle iets aan hom gedoen het – haar skoen gegryp en die hasepad gekies het. En noudat Saartjie daaraan dink – waar is haar skoen? Die eienares sê iets in hul taal vir die ander assistent en dié een antwoord skouerophalend. “Is julle seker,” vra die eienares dan vir die meisies, “Fido het die skoen nog in sy mond gehad toe hy hier inhardloop?” “Doodseker, Tannie,” sê Saartjie beslis. “My oë was heeltyd op hom. Die brak het my skoen in sy bek gehad toe hy hier ingevlieg het!” “Die wát?!” Die vrou gluur Saartjie woedend aan. “Ekskuus, Tannie,” sê Saartjie verskrik, “ek bedoel die hóndjie het die skoen in sy mónd gehad toe hy hier inhardloop.” Die drie volwasse vrouens praat weer vinnig in hul taal en beduie oor en weer vir mekaar. Saartjie kyk na Anna en Lina. Sy knipoog vir hulle en hulle knipoog terug. Die meisies is nie meer bang nie. Saartjie dink selfs daaraan dat, as hulle haar skoen nie kan kry nie, die eienares van die winkel wat ook die hondjie se eienares is, vir haar ’n nuwe skoen sal moet gee – of liewer, ’n nuwe páár skoene, want ’n mens kan mos nie net met een skoen loop nie. Die eienares verduidelik nou dat haar Fido die skoen seker iewers in die winkel gelos het toe hulle met so ’n geraas hier ingestorm het. Die skoen moet êrens tussen die ander lê.
“Julle moet help soek,” sê sy, maar klink glad nie meer so kwaai nie. Sy besef blykbaar haar klein Fido is die eintlike skuldige een. Die twee assistente en Saartjie, Anna en Lina soek nou tussen die ander skoene rond. Dit behoort maklik te wees om Saartjie se skoen te kry, want dit is ’n ouerige skoolskoen. Al die ander skoene hier is pragtige, elegante dameskoene. “Jissie, maar dié skoene is ongelooflik,” sê Saartjie terwyl sy na hare soek. “Die goed is seker baie duur,” sê Lina. “Hier’s hy!” skree Anna skielik opgewonde en hou Saartjie se skoen in haar hand op. Klein Fido wat lui in sy eienares se arms gelê en die soekery aandagtig dopgehou het, gee weer ’n skril blaffie toe hy die skoen sien. “Nee, jy kry dit nie weer nie,” sê Saartjie en trek die skoen vinnig aan. “Julle kinders kan maar gaan,” sê die eienares. “Dit was seker – soos julle sê – ’n ongeluk. Ons sal die skoene regpak.” Dan sê sy vir haar assistente iets in hul taal en hulle spring aan die werk. “Dankie, Tannie,” sê Saartjie, Lina en Anna feitlik gelyktydig. Hulle maak vinnig spore by die winkel uit voor die vrou miskien van plan verander en besluit om húlle alles te laat regpak. Toe die drie by die deur uitstap, hoor hulle vir Fido blaf en dit klink weer vir hulle soos ’n oorwinningskreet. Die meisies gaan haal gou hul skooltasse by die kafee. Saartjie betaal vir hul roomys en koop van die res van haar twintig rand lekkers vir padkos. In die bus lag en gesels die Drie Muskiete heerlik oor die insident. Dit was nogal snaaks. “Ek moet sê, ek het my boeglam geskrik toe ek opkyk en die kwaai tannie daar sien staan,” sê Saartjie later.
“En om dit nog erger te maak, val daar toe boonop nog ’n skoen op jou kop ook,” voeg Lina by. Die meisies dink weer aan hierdie toneeltjie en skater van die lag. Dié aand by die huis lag Saartjie nie meer so lekker nie. Sy dink aan die pen wat in vier kleure skryf. Sy het spesiaal stad toe gegaan om vir haar so ’n pen te koop met die twintig rand wat sy gehad het, maar sy het sonder die pen én sonder ’n enkele sent teruggekom. Sy sit lank in haar kamer en dink aan allerhande planne om die suinige Peter te oorreed om vir haar een van sy penne te gee. Dan glimlag Saartjie skielik... Miskien... miskien sal dit werk... Peter stel mos so in mediese goed belang.
8
Saartjie se dapper daad
Saartjie hardloop by die trap af en gaan in by die pakkamer net langs haar pa se studeerkamer. Sy skakel die lig aan en begin daar rondsnuffel. Binne ’n paar minute het sy waarna sy gesoek het – ’n groot, dik boek met ’n swart omslag waarop daar in vergulde letters staan: Die Geskiedenis van die Snykunde. Saartjie se oë glinster. Peter die genie sal mos in só ’n boek belangstel. Sy blaas die stof van die omslag af en blaai deur die boek. Dit lyk na nét die ding vir iemand wat eendag ’n beroemde snydokter wil word. Met die boek agter haar rug stap sy na haar pa se studeerkamer toe. Sy klop aan die deur. “Ja?” kom dit van binne af. “Hallo, Pappa,” sê Saartjie en glimlag vriendelik. “Kan ek vir Pappa gaan tee maak?” Dit is ’n oomblik stil. Dokter Baumann frons en dan glimlag hy skielik. Hy wonder wat sy dogter by hom wil hê. “Nee, dankie, Saartjie,” sê hy, “ons het dan nou net klaar geëet.” “Ek het maar net gedink ek vra sommer vir ingeval. Is daar dalk enigiets anders wat ek vir Pappa kan doen?” “Nee, niks nie, dankie,” sê dokter Baumann en glimlag vriendelik. Saartjie is maar bly daar is niks nie. Sy is tog nie lus om te werk nie. Nou kan sy
haar pa met ’n skoon gewete vra wat sy hom wil vra en dit sal vir hom moeilik wees om nee te sê. Hy sal mos onthou hoe sy sommer so uit haar eie aangebied het om vir hom tee te maak of hom met enigiets te help. “Pappa?” “Ja, Saartjie?” “Ek wil graag vir Pappa iets vra. Kan ek maar inkom?” Jan Baumann glimlag. Hy het mos geweet dis nie om dowe neute dat Saartjie skielik so uit haar eie kom aanbied het om tee te maak nie. “Ja, kom gerus binne, my kind.” Saartjie stap by die studeerkamer in. Dokter Baumann sit agter sy lessenaar en steek sy pyp aan. “En toe?” vra hy. “Wat wil jy vra?” Saartjie hou die dik mediese boek nog steeds agter haar rug. “Pappa weet,” sê sy vriendelik, “daar is ’n klomp rommel in die pakkamer.” “O so?” “Ja, ou boeke en goed wat Pappa tog nooit meer sal gebruik nie.” “O so?” Saartjie wens haar pa wil nie so geamuseerd na haar sit en kyk en net elke keer “O so?” sê nie. Sy besluit om sommer reguit vir die boek te vra. “Ek het ’n stokou boek oor snykunde daar tussen die goed gekry. Kan ek dit maar vir Peter gee?” Dokter Baumann kyk fronsend na haar. Hy kan nie dink van watter boek sy praat nie.
“Waar is die boek?” “Hier, Pappa.” Saartjie bring die boek te voorskyn en gee dit vir hom. Haar pa herken die boek dadelik en blaai glimlaggend daardeur. Hy het dit in sy studentejare laas gebruik. “Hoekom wil jy dit vir Peter gee?” vra hy. “Ek wil dit nie eintlik vir hom géé nie, Pappa. Ek wil dit met hom ruil. Hy het twee penne. Dis die wonderlikste penne wat ek nog ooit in my lewe gesien het – hulle skryf in vier verskillende kleure. Nou wil ek hom vra om vir my die een in ruil vir die boek te gee.” Dokter Baumann sien hoe opgewonde Saartjie oor die penne is. Haar oë glinster en daar is twee diep kuiltjies in haar wange soos sy glimlag. Hy weet hy sal hierdie ou boek nooit weer gebruik nie. Dit lê net en stof opgaar – en Peter wil mos ’n dokter word. Miskien sal die boek hom nog meer inspireer. “Goed, Saartjie,” sê haar pa, “jy kan die boek maar kry. Ek hoop net Peter sal bereid wees om een van sy ‘wonderlikste’ penne daarvoor te verruil.” “Ek is seker hy sal, Pappa,” sê Saartjie opgewonde, “want hy wil mos ’n snydokter word.” Saartjie gee vir haar pa ’n drukkie en ’n klapsoen. Met ’n laaste “Baie dankie, Pappa!” hardloop sy by die vertrek uit. Dokter Baumann trek tevrede aan sy pyp. Daar speel ’n glimlag om sy mondhoeke. Ai, dié Saartjie tog! Voor Saartjie bed toe gaan, vee sy die boek se omslag eers mooi netjies af. Die boek lyk glad nie meer so oud nie. Die volgende oggend voor skool, hardloop Saartjie eers gou met die boek onder haar arm na Bennie-hulle se huis toe. Peter sit op die stoep en koerant lees. Saartjie sien hy lees nie soos normale kinders die strokiesverhale nie – hy verdiep hom in die nuusberigte.
Daarom groet sy hom liewer nie soos sy haar vriende altyd groet deur hard “Haai!” te skree nie, maar sê ernstig: “Goeiemôre, Peter.” Hy kyk van die koerant af op. “Goeiemôre, Saartjie.” “Dis darem lekker om vakansie te hê terwyl ons ander skoolgaan,” sê sy vriendelik. “Ja, dit is nogal.” Peter gee vir haar ’n lang, droë verduideliking hoekom Zimbabwe se skole op ander tye vakansie het as die skole hier in Suid-Afrika. Saartjie luister net met een oor. Sy is haastig, want sy moet nog die bus haal. “Dis baie interessant,” val sy Peter in die rede, “maar ongelukkig is ek ’n bietjie haastig.” “Nou wat maak jy dan hier?” vra hy uit die hoogte. “Ek wil met jou praat,” sê Saartjie en glimlag breed, “oor jou twee penne.” “Wat van my penne?” “Jy weet mos ek wil vreeslik graag een hê.” Peter knik met sy kop. “Net so graag soos wat jy ’n snydokter wil word.” Saartjie maak haar tas oop en haal haar pa se universiteitsboek uit. “So, ek het besluit om jou te help.” Peter kyk agterdogtig na haar en na die boek in haar hand. Hy vertrou hierdie affêre glad nie. “Hoe wil jy my help?” vra hy skepties. “Met hierdie boek. Dis een van die bestes wat nog ooit oor hierdie onderwerp geskryf is. Dis in ’n baie goeie toestand en weet jy wat, Peter?” “Wat?” “Ek gaan dit vir jou gee!”
Voor Peter haar aanbod van die hand kan wys, sê Saartjie gou: “Ek gaan die boek vir jou gee en dan gee jy vir my een van jou penne.” “Met ander woorde dis nie ’n geskenk nie – dis ’n ruiltransaksie,” sê Peter vies. “Dis reg, ja, maar dis ’n ongelooflike boek. Kyk net!” Saartjie gee die boek vir hom. Peter begin op sy tyd daardeur blaai. Saartjie kyk op haar horlosie. Sy moet opskud. “Sien jy,” sê sy haastig, “dis ’n fantastiese boek. Wil jy ruil?” Daar is ’n glinstering in Peter se oë. Dit lyk of hy belangstel. “Ek kan nie sommer dadelik sê nie,” antwoord hy. “Ek moet eers seker maak die inhoud is van só ’n aard dat ek baat daarby sal vind en dat...” “Ek het nou tyd daarvoor nie,” val Saartjie hom in die rede. “Ek is haastig. Jy moet nou dadelik sê of jy wil ruil, of nie.” “Jammer, ek kan nie so vinnig ’n oordeel vel oor die gehalte van die boek nie, maar kom ek sê jou wat ek sal doen...” “Ja?” Hierdie keer is dit Saartjie wat agterdogtig lyk. “Ek sal die boek vanoggend deurkyk en jou vanmiddag van my besluit verwittig.” “Jy bedoel jy sal my vanmiddag kom sê of jy wil ruil, of nie?” vra Saartjie. “Dis reg.” Saartjie dink ’n oomblik hieroor na en dan sê sy beslis: “Aikôna!” Peter kyk skuins langs sy lang neus na haar toe af en sê dan: “Ek veronderstel daardie woord dui daarop dat my voorstel jou nie welgeval nie...” “Ja. Jy kan maklik vanoggend die hele boek deurlees, dan weet jy alles wat daarin staan en wil dit teen vanmiddag nie meer hê nie.” “Kyk, Saartjie,” sê Peter, “ek weet ek is slim.”
Sy kners op haar tande. So ’n verwaande vent! “Maar ek is nie só slim dat ek hierdie dik tegniese boek binne ’n paar uur kan deurlees nie,” gaan Peter voort. “Dis buitendien nie die soort boek wat ’n mens deurléés nie. Dis meer ’n boek vir naslaanwerk.” Saartjie aarsel ’n oomblik, maar besluit dan sy sal hom vertrou. Sy moet in elk geval nou hardloop. “Orraait,” sê sy, “sê my dan maar vanmiddag. Maar onthou, dis ’n kosbare boek. Ek wed jou dit kos duurder as die pen.” Saartjie nael bushalte toe. Net toe die bus wegtrek, spring sy in en land veilig op die trappie. “Hoe’s daai?” vra sy laggend vir Anna en Lina wat vir haar plek gehou het. Daar is ’n blos op haar wange en haar oë straal. Die oggend gaan stadig verby. Saartjie wonder meer as een keer of Peter al besluit het om met haar te ruil. Sy dink nogal hy gaan dit doen. Dit het gelyk of hy baie belangstel toe hy so deur die boek blaai. Saartjie is hoog in haar skik toe die hoof laat die dag ’n briefie rondstuur en die onderwyser afkondig dat die skool vandag ’n halfuur vroeër sluit as gevolg van die swaar weer wat in die weste opsteek. Al die kinders moet dadelik reguit huis toe gaan. Saartjie is natuurlik maar net te gretig om dit te doen. Sy gaan net gou eet en dan na Peter toe hardloop. “Sodat hy my van sy besluit kan ‘verwittig’,” beduie sy koggelend vir Anna en Lina in die bus. Sy kyk ook so langs haar neus af soos hy altyd doen. Die donker onweerswolke trek ’n kombers oor die blou lug. Dit lyk amper soos nag buite. Toe Lynnekom se kinders uit die bus borrel, spat hulle in alle rigtings na hul verskillende huise toe. Daar is ’n swaar gerammel in die lug en groot reëndruppels begin val. Saartjie is net mooi in die huis en het haar tas en baadjie skaars neergegooi toe
die storm met alle geweld losbars. Dit stortreën en die weerlig blits vir ’n vale. “Ek is bly jy’s by die huis,” sê haar ma toe Saartjie haar vinnig soen. “Ek het dit net-net gemaak, Mamma. Is Apie al terug?” “Ja, hulle het ook vroeër uitgekom. Hy is in sy kamer.” Dit is ’n geweldige somerstorm. Die reëndruppels spat teen die ruite en die een verblindende weerligstraal ná die ander skiet uit die donker wolkemassa. Dit is ook nie baie lank nie, toe is Apie by sy ma en Saartjie in die sitkamer. “Jissie, dit sous, nè, Ma?” sê die outjie en kom sit styf teen haar op die rusbank. Hy sit doodstil. Die storm word al erger en erger. Saartjie kom sit nou ook op die rusbank. Die drie is tjoepstil. Die reën suis buite. Die een vlaag kom ná die ander. Die geute het lankal oorstroom. Elke slootjie en voortjie is ’n malende massa water. Dit reën lank en hard. Toe dit lyk of dit effens bedaar en die gedonder al ’n bietjie verder klink, staan Saartjie en Apie op en kyk by die venster uit. Die aarde is papsopnat. Daar lê oral plasse water. Die reëndruppels val nog steeds op die straat. “Jissie,” sê Apie, “ek wonder hoe lyk die spruit.” Saartjie wonder ook. Sy besluit sy gaan sodra die reën bedaar saam met haar boetie kyk hoe die spruit lyk. Dit was feitlik ’n wolkbreuk, maar nou word die gerammel al sagter en sagter. Dit reën nog vir ’n paar minute sag en dan begin die onweer opklaar. “Daar steek sowaar al weer ’n stukkie blou lug uit,” sê Saartjie en wys met haar vinger buitentoe. Die storm is uitgewoed. Die wolke trek weg en die son skyn eensklaps weer. Reëndruppels blink op die bome se blare en die voëltjies begin weer sing. Daar verskyn ’n helderkleurige reënboog in die lug.
“Kan ek spruit toe gaan, Mamma?” vra Saartjie. “Ek wil gaan kyk hoe lyk dit daar.” “Ja, maar wees versigtig, hoor!” Apie vra ook en is vinnig by die huis uit. Saartjie gaan trek eers gou haar kortbroek aan. Sy sit haar pet skeef op haar donker krulle en trek haar skoene uit, want wat is lekkerder as om ná dit gereën het kaalvoet buite te loop? Daar is mos honderde glyerige modderplasse en waterstroompies in die veld op pad spruit toe! Saartjie hardloop na Anna se huis toe – sommer reg deur die waterplasse. Dis heerlik ná die verkwikkende reën en Saartjie lag van pure vreugde. Naby die Strydoms se hek kry Saartjie vir Anna. Sy is ook kaalvoet en was juis op pad om vir Saartjie te gaan haal. Die twee hardloop saam na Lina se huis toe. Hulle ontmoet haar halfpad. Sy is ook kaalvoet en was op pad na hulle toe. Die Drie Muskiete het eers ’n vinnige water-en-modder-geveg en hardloop dan saam spruit toe. Die spruit wat gewoonlik net ’n lui stroompie is, is nou ’n yslike groot rivier. Die water borrel en skuim en maal. “Dis pragtig!” sê Saartjie. “Ek wens ons kan altyd so ’n rivier hier by Lynnekom hê. Dan kan ons mos baie gaan swem.” “Mens sal nie hierin kan swem nie,” sê Anna. “Dis te gevaarlik.” Saartjie is ’n uithaler swemmer wat al baie bekers verower het, maar sy besef nou ook dit sal te gevaarlik wees om op die oomblik hier te swem. “Ja, die water kom bietjie té vinnig af,” sê sy. Die meisies staan nog so na die malende watermassa en kyk toe Apie, Bennie en Peter daar aankom. Hulle is ook almal kaalvoet, maar Peter het ’n lang reënjas aan.
“Die genie kry seker koud,” sê Lina toe hulle die seuns gewaar. “Nou kan ek hom sommer vra of hy besluit het om die pen vir die boek te ruil,” sê Saartjie. Toe die seuns by hulle kom, sê Apie en Bennie: “Haai!” “Haai julleself!” groet die meisies op die tipies Lynnekomse manier terug. “Goeiemiddag!” groet Peter. “Ons mense sê nie goeiemiddag nie,” sê Lina vies. “Hoe lyk dit, Peter,” vra Saartjie egter ekstra vriendelik, “gaan jy die boek hou en vir my een van die penne gee?” “Ek sal jou later sê wat ek besluit het.” “Hoekom nie nou nie?” “Omdat ek nou eers gaan swem.” Die meisies kyk verbaas na hom. Hy trek sy jas uit en hulle sien hy het ’n swembroek aan. Daar kom ’n bekommerde uitdrukking op Saartjie se gesig. “Is jy mal, Peter?” sê sy. “Dis te gevaarlik om hier te swem.” “En hoekom is dit gevaarlik?” vra hy uit die hoogte. “Die water is heeltemal te onstuimig,” sê Saartjie. “Die stroom is te sterk,” sê Anna. “Jy’s simpel as jy dink jy gaan lewendig hier uitkom,” sê Lina droogweg. “Jy sal soos ’n hoender verdrink.” Peter kyk na die bruisende watermassa en sê dan: “Julle is laf. In Zimbabwe lyk al die spruite ná die reën so – en dis dan wanneer ek die lekkerste swem.”
“Kán jy ooit swem?” vra Saartjie. “Natuurlik kan ek!” Peter stoot sy maer borskassie uit en voeg by: “Ek is die beste swemmer in die beroemde Rhodes-skool!” Die Lynnekommers is skepties, maar daar is niks wat hulle aan die saak kan doen nie. Saartjie kyk na die water. Dit lyk of die stroom nou nog erger en onstuimiger is. Sy is ’n topswemmer, maar selfs sy sal dit nie waag om hierdie water aan te durf nie. “Los liewer eers die swemmery, Peter,” sê sy. “Wag tot die water bietjie gesak het.” “Julle is darem ’n bang klomp,” sê die Zimbabwiër en stap in die water in. “As jy nie lewendig daar uitkom nie,” vra Lina, “kan Saartjie dan maar een van jou vulpenne kry?” Peter hoor haar nie. “Moenie oor sulke goed spot nie,” sê Saartjie vir Lina. “Ek is bekommerd. Dis baie gevaarlik...” “Maar hy’s koppig,” sê Lina, “so ons kan niks daaraan doen nie.” Lina hou haar maar net ongeërg. Sy is self ook bekommerd. Sy hoop Peter ís so ’n goeie swemmer as wat hy voorgee. Peter is op die oomblik nog in die stil water aan die kant van die spruit. Hy is tot by sy bors in die water. Dan duik hy in. Binne ’n paar hale is hy op die plek waar die water borrel en maal. En hy is dadelik in die moeilikheid! Hy swem woes, maar dit help niks nie. Hy kan nie uit die borrelende waterkolk kom nie! Sy kop verdwyn kort-kort onder die water en hy spartel al hoe flouer. Die klompie kinders op die wal staan met groot oë en kyk.
“Dink julle hy… hy skeer dalk die gek?” vra Lina benoud en lek met die punt van haar tong oor haar droë lippe. “Ek weet nie,” sê Saartjie. Haar stem is skaars hoorbaar. Maar dan hoor hulle Peter skree: “Help! Help!” Hy spartel en veg en skree tegelyk – maar sy pogings word vinnig al flouer en flouer. Die kinders is asvaal van die skrik. “Hy verdrink!” gil Apie. “Bly stil!” skree Saartjie. Sy kyk rond, maar daar is niemand om te help nie. Saartjie byt op haar onderlip. Sy gooi haar kop agteroor. Dit lyk of Peter nou glad nie eers meer probeer om uit te kom nie. Hy bly in die rondte maal saam met die droë houtstompe, amper asof hy ook een is. “Anna,” sê Saartjie skielik, “hardloop gou huis toe en kry hulp!” “En jy, Saartjie?” vra Anna. “Ek gaan solank probeer om hom daar uit te kry!” “Moenie mal wees nie!” skree Lina. “Jy sal saam met hom verdrink.” Saartjie maak egter of sy haar vriendin nie hoor nie. “Bly jy en Apie en Bennie hier op die wal sodat julle my kan help as ons uitkom.” Apie is amper in trane. “Moenie ingaan nie, Sus, moenie!” huil hy en rem aan Saartjie se arm. Sy skud hom af, pluk die pet van haar kop af en hardloop by die water in. Lina, Apie en Bennie staan vreesbevange en kyk. Anna nael terug Lynnekom toe
soos wat sy nog nooit vantevore in haar lewe gehardloop het nie. Binne ’n paar kragtige hale is Saartjie in die maalkolk. Sy word nou ook rondgeslinger. Kophou, Saartjie, kophou, dink sy by haarself. Sy gryp Peter en pluk hom na die middelpunt van die malende waters. Hier is dit stiller. Peter is vreesbevange en klou krampagtig aan Saartjie vas. “Los my!” skree sy benoud. Peter is half verdrink en weet glad nie meer wat hy doen nie. Hy klou nog stywer vas en Saartjie se kop word heeltemal onder die water ingedruk. Sy hyg en spartel en sluk een mondvol water na die ander. Skielik voel Saartjie se hand iets. Dit is ’n stuk plank. Sy gryp dit styf vas en lig dit so hoog moontlik uit die water. Dan slaan sy Peter met ’n geweldige hou oor sy kop. Hy kreun en sy voel hoe hy verslap. Saartjie se kop is nou weer bo. Sy trap water en drink die lug met lang teue in. Peter begin net afsak wanneer sy hom weer beetkry. Sy hou die bewustelose seun se kop bo die water. Daar is ’n plek in die malende waterkolk waar stompe en planke vinnig deurskiet na die hoofstroom toe. Saartjie hou Peter met die een hand vas en swem met die ander hand na daardie opening toe. Skielik skiet die stroom hulle soos ’n dobbertjie uit die kolk uit. Saartjie hou Peter nog steeds styf vas en sorg dat sy kop bo die water bly. Hulle is nou in die hoofstroom en word met die spruit af weggevoer. “Bly jy hier tot die mense kom, Apie,” sê Lina toe sy sien wat gebeur, “en sê vir hulle waar ons is. Kom, Bennie!” Lina en Bennie hardloop al langs die bruisende waters af en volg Saartjie en Peter. Peter is nog steeds bewusteloos, maar Saartjie is gelukkig glad nie moeg nie, want hulle dryf mos net en sy swem nie juis nie. Sy hou maar net sy kop bo die
water en laat die rivier hulle meevoer. Hulle is nou ’n paar honderd tree van die plek waar Apie staan en angstig na hulle, en dan weer in Lynnekom se rigting kyk. Die water suis in Saartjie se ore. Sy probeer nou uit die hoofstroom kom deur met die een hand te swem en hard met haar bene te skop. Apie se hart bons toe hy Anna sien aangehardloop kom. By haar is Lynnekom se sersant en drie konstabels en ’n klompie ander mans. “Hier!” skree hy skril en hardloop hulle tegemoet om te wys waar Saartjie en Peter al dryf. Saartjie kom agter sy beweeg nie meer so vinnig nie. Sy is al ’n hele entjie van die hoofstroom se bruisende waters af en begin nou met alle mag swem. Sy het mos klasse in lewensredding bygewoon. Sy hou haar hande oor Peter se ore. Dan draai sy op haar rug en swem agteruit terwyl sy paddaskoppe met haar bene gee. Sy gaan nog steeds stroom af, maar swem darem al nader en nader aan die kant. Die polisie hardloop om Saartjie te kom help, maar toe hulle by haar kom, is daar nie juis meer veel om te doen nie. Saartjie se voete het reeds grond geraak en sy is besig om Peter – die Peter wat so goed kan swem – uit te sleep. Die konstabels sit gewillig hand by. ’n Paar tree van die wal af sak Saartjie moeg op die grond neer. Peter kom weer by. Hy lê en kreun. Die polisie pas noodhulp toe en pomp al die water wat hy gesluk het uit hom. “En jy, Saartjie?” vra die sersant. “Hoe voel jy?” Sy stem is sag en Saartjie dink daaraan dat sy hom nog nooit so vriendelik gesien het nie. “Ek makeer niks nie, dankie, Sersant,” sê sy. “Ek rus maar net ’n bietjie.” Die nuus van die amperse verdrinking versprei soos ’n veldbrand en dit is nie
lank nie of amper die hele Lynnekom is by die spruit. Almal wil by Saartjie uitkom om haar geluk te wens met haar dapper daad. Anna en Lina glimlag van oor tot oor. Hulle voel hulle is ook heldinne, want Saartjie is mos hul vriendin. Lina vertel net vir almal hoe sy gedink het dis neusie verby met Saartjie toe Peter so krampagtig aan haar vasklou. Saartjie en Peter is nou elkeen in ’n groot kombers toegedraai. Sy vra vriendelik vir hom: “Hoe lyk dit, Peter? Hoe voel jou kop?” “Baie seer,” sê hy en vryf die yslike knop aan die kant van sy kop. “Ja, ek moes hard slaan,” sê sy en kan nie help om lekker te kry nie. Saartjie se pa kom haal die twee met sy motor. Saartjie neem ’n warm bad, trek droë klere aan en voel dan weer perdfris. Peter makeer ook niks nie. Sy selfbeeld is net ’n bietjie geknak. Hy is toe glad nie so ’n goeie swemmer as wat hy gedink het nie. Laat dié middag kom hy vir Saartjie dankie sê. Hy mompel iets van dat hy haar tot in lengte van dae dank verskuldig sal wees, want sy het hom van ’n gewisse watergraf gered. Saartjie steur haar nie veel aan sy hoogdrawendheid nie. Sy stel meer belang in die een pen wat hy uit sy sak haal en in sy hand hou. Peter maak keel skoon en sê dan: “Saartjie, ek wil die pen graag vir jou gee om my innige dank te betuig.” Sy gryp dit vinnig. “Baie dankie,” sê sy en om te wys sy kan ook vrygewig wees, voeg sy by: “Jy kan daardie wonderlike boek oor die snykunde maar hou.” Die nuus van Saartjie se dapper daad versprei nie net vinnig in Lynnekom nie, maar ook in Johannesburg. Dié aand klop drie koerante se verslaggewers en fotograwe aan die Baumanns se
voordeur. Saartjie het nog nooit in haar lewe so belangrik gevoel nie. Een fotograaf laat vir Peter kom en neem ook ’n foto van hom en Saartjie saam. Die ander neem net foto’s van Saartjie en sy geniet elke oomblik daarvan. Daar word die aand tot laat in Lynnekom se huise gesels oor Saartjie se dapper daad. Min volwassenes sou die moed gehad het om in daardie malende stroom water te duik en iemand te probeer red. Meer as een inwoner van Lynnekom sê met ’n gloed van trots in die oë: “Ai, dié Saartjie tog!” Saartjie is die volgende oggend vroeg uit die vere en hardloop kafee toe om die koerante te gaan koop. Daar is twee oggendkoerante – een in Afrikaans en een in Engels – en haar foto is in albei. Saartjie loop droomverlore terug huis toe terwyl sy na haarself kyk. In die Afrikaanse koerant staan daar in groot, vetgedrukte letters bokant haar foto:
SAARTJIE DIE HELDIN!
Die Engelse koerant se opskrif is:
BRAVE YOUNG GIRL!
Nadat haar ma, pa, Apie en Kris almal trots die berigte gelees het, is Saartjie uiteindelik op kamer toe. Hier sit sy alleen op haar bed met haar foto’s en die koerantberigte. Saartjie staar eers lank na die foto’s en dan lees sy die berigte elkeen vyf keer deur. Daar is sprake dat sy ’n medalje vir dapperheid gaan kry, sê die Afrikaanse
koerant, en niemand anders as die President gaan dit aan haar oorhandig nie. Die Engelse koerant praat van die “civic fathers” wat iets behoort te doen “in recognition of this heroic deed.” Saartjie weet nie eintlik wie die “civic fathers” is nie, maar dit klink vir haar na belangrike mense. Saartjie kyk na haar nuwe pen – die een wat in vier kleure kan skryf. Sy tel dit op en druk die knoppie agter. Sy teken ’n blou vierkant om haar foto in die een koerant. Dan druk sy die knoppie weer en teken ’n groen vierkant om die bloue. Sy glimlag en teken ’n bruin vierkant om die groene en dan ’n rooie om die bruine. Dis darem lekker om beroemd te wees, dink sy. Sy wat Saartjie Baumann is, is ’n heldin! Daar speel ’n salige, soet glimlag om haar mondhoeke.
Die einde
Uitgegee in 2007 deur Human & Rousseau, ’n afdeling van NB-Uitgewers, Heerengracht 40, Kaapstad Kopiereg © 2007 NB-Uitgewers (Edms) Beperk Redigeerders: Kobus Geldenhuys en Adri Breed
Oorspronklik uitgegee as Saartjie se kordaatstuk (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1955)
Derde uitgawe, eerste druk
Alle regte voorbehou Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting
ISBN: 978-0-7981-4780-4 EPUB: 978-0-7981-5443-7