OMNIBUS 3
’n Man vir môre – Ettie Bierman Winterman, somerhart – Alexa Slabbert Troukoors – Helena Hugo
Jasmyn
’n Man vir môre
1
“Hy’s ’n buffel!” het een van die ander kandidate Cecilia vanoggend aan ontbyttafel by die gastehuis gewaarsku. “ ’n Arrogante vent wat met alles fout vind en jou soos ’n wurm laat voel.” Cecilia wou omdraai en van die nuwe werk vergeet. Sy sou – as sy nie die geld desperaat nodig gehad het nie. As sy nie werkloos en so te sê dakloos op straat gesit het nie. Sy het ’n oordosis gehad van selfsugtige, verwaande mansmense. Meneer Melt Meiring kan in die dam spring vir al wat sy omgee, hy met sy kastige vyfsterhotel en al. Sy hoop die water is diep en vol barrakudas. Maar waarvan gaan sy leef? Sy skrop liewer vloere of lewer pizzas af as om terug te krabbel na Steve en te erken sy sukkel, sy kan nie alleen die mas opkom nie. Dís wat hy wil hê – dat sy haar bedanking by Lugdiens moet terugtrek en hom soebat om haar terug te neem. Sodat hulle kan trou . . . ’n Rukkie lank sal dit goed gaan, en hulle sal selfs gelukkig wees. Dolverlief en in die agtste hemel, soos aan die begin . . . Sy weet, want ’n man soos Steve verstaan hoe om die sjarmekrane oop te draai en met ’n meisie se hart te toor. Maar ’n sebra verander nie van strepe nie . . . Nie lank nie, dan sal hy weer oor die draad loer na groener weiding, en dan begin alles weer van vooraf. Die skok, die seerkry, die vernedering . . . Sy sien nie daarvoor kans nie. Sy het haar skoolgeld betaal en haar les geleer. Dis tyd om op haar eie voete te staan en te wys sy kan sonder ’n man in haar lewe klaarkom. Maar om onafhanklik en selfstandig te wees, het sy ’n inkomste nodig; ’n blyplek en ’n nuwe werk . . . Hierdie pos waarvoor sy aansoek gedoen het, is ideaal. Sy kan nie nou druipstert omdraai net omdat die uitvoerende bestuurder ’n nare, ongeskikte vent is nie. Sy het haar laaste klompie spaargeld op petrol en verblyf by die gastehuis geblaas; as sy nou tou opgooi, was dit alles verniet en is haar selfvertroue aan flenters.
Haar ouma sê altyd: “Oë toeknyp en hou links verby – dis die veiligste.” En dis wat sy sal doen, besluit Cecilia toe sy by die luukse Mlala Lodge se parkeerterrein inry en haar motor parkeer – in die agterste ry, om nie met haar skedonk die blink Jaguars, Porsche’e en Mercedese aanstoot te gee nie. Op die ergste kan die buffel sê sy is lelik, dom en onbekwaam. Dis nie die einde van die wêreld nie. Sy kan haar kop hoog hou, uitstap en die deur agter haar uit sy skarniere uit toeklap om haar beter te laat voel. As sy nie die pos van skakelbeampte kry nie, kan sy hoor of hulle nie ’n kelnerin of skottelgoedwasser nodig het nie. Of wat van ’n croupier in die casino? Sy het al roulette en blackjack gespeel, en in Estoril ’n sak vol eskudo’s op die dobbelmasjiene gewen. Croupiers word goed betaal en kry ruim fooitjies. Op dié positiewe noot stap Cecilia met die marmertrappe op en deur die glasdeure tot in die Mlala Lodge se foyer. Dit lyk soos ’n balsaal – die ene kristalkandelare en geëmbosseerde wynrooi muurpapier. Sy is dankbaar dat sy haar swart Armani-nommertjie vir die onderhoud aangetrek het, eerder as die denimpakkie wat sy oorweeg het. Die uitrusting lig haar ego uit die sak en as van die afgelope drie weke. Al word sy summier die deur gewys, kan sy haar in styl wip. Sy bly ’n oomblik staan om diep asem te haal, haar kortgeknipte blonde krulle plat te vee en haar gedagtes te fokus. Dan stap sy na die inligtingstoonbank by ontvangs. “Ek het ’n afspraak met meneer Meiring, vir ’n werksonderhoud. My naam is Louw. Cecilia Louw.” “Louw?” Die meisie raadpleeg ’n lys name. “Nege-uur?” “Dis reg, ja.” “Goeiemôre, juffrou Louw. Welkom by Mlala! Onderhoude word in die raadsaal gevoer, op die vyfde verdieping. Die hysbakke is reguit aan, teen die oorkantste muur.” Výfde verdieping? Cecilia wens dit was laer, op grondvlak. ’n Breedgeskouerde ou met sjampanje-oë, ’n erg soenbare mond en ’n kuiltjie in sy ken vertoef by die toonbank, bekyk haar op en af en stap dan verby. Die soort man wat in die ou dae – vóór Steve de Villiers – welkom sou gewees het om sy
hemp in haar kas op te hang. Sy sou dit selfs gewas en gestryk het, en die volgende oggend vir hom koffie en Weet-Bix in die bed geneem het . . . Maar daardie dae is verby, vergete en begrawe. Sy val nie twee keer uit dieselfde boom nie. Na dese dink sy met haar kop, nie met haar hormone nie. Toe Cecilia by die hysbakke kom, staan dieselfde ou daar en wag. Sy het voorheen net die skouers en gesig opgelet; nou sien sy die langerige goudbruin hare en formele donker pak klere. En toe hy die knoppie druk, sy mooi hande – sterk en breed, met groot kneukels en sensitiewe vingers. Hande wat ’n rugbybal sal kan vasvat, maar ook ’n meisie se hart, terwyl dit onstuimig klop. Hande wat kan streel en liefkoos en weet hoe om te koester . . . Asof hy haar takserende oë op hom voel, draai hy onverwags sy kop. Hul oë ontmoet, en dis Cecilia wat eerste wegkyk terwyl ’n verleë blos haar wange kleur. Sy kruip in ’n hoek in as die man moet weet wat deur haar gedagtes gaan. Toe die hysbakdeure oopskuif, staan hy hoflik opsy sodat sy eerste kan instap. Hy is so naby, sy kan sy naskeermiddel ruik. Muskusgeur . . . Sy duim mik na die ry knoppies teen die paneel. “Vyf?” vra hy met ’n geamuseerde glimlag. “E . . . ja . . .” Haar stem klink hees. “Vyfde vloer, ja,” herhaal sy in ’n fermer stem. Die deure gly toe en die hysbak begin beweeg. Cecilia is vies vir haarself. Genade, sy is agt en twintig, nie sestien nie. Wat staar sy die man aan, en stamel en stotter? Sy wat haar voorgeneem het sy is klaar met mans. Sy is selfstandig en onafhanklik, en van nou af kom haar loopbaan eerste. Die man kyk met verskerpte aandag na haar en dit lyk asof hy iets wil vra, maar net toe ruk die hysbak en sleep tot stilstand. Dit kantel effens en dis asof die vloer skielik onder hul voete wegsak. Die buislig teen die dak flikker aan en af, voordat dit uitdoof. Cecilia stut haar teen die reling om nie haar balans te verloor nie. Sy hou nie van hysbakke nie en probeer hulle vermy, want sy raak gou benoud in ’n beknopte ruimte. As dit twee of drie verdiepings was, sou sy met die trappe opgeklim het, maar vyf stelle trappe is bietjie baie, veral in die Laeveld, in die hart van die
somer. Sy wou nie uitasem en natgesweet vir die onderhoud opdaag nie. Iets ritsel naby haar en sy voel ’n beweging teen haar gesig. Haar eerste gedagte is vlermuise of ’n spinnekop . . . Sy skrik en ruk weg. “Toe maar, juffrou, dis net ek,” sê die man gerusstellend. “Ekskuus as ek jou laat skrik het. Ek wou net voel of jy darem nog op jou voete is. Het jy seergekry?” Sy skud haar kop, besef dan dat hy nie kan sien nie. “Nee. Nee, ek makeer niks.” “Dis net ’n kragonderbreking, iets wat gereeld op Nelspruit gebeur. Moenie jou ontstel nie, dit sal gou weer regkom.” Hy klink gaaf. Simpatiek. “Ek het nege-uur ’n belangrike afspraak,” sê Cecilia bekommerd. “En ek wil nie laat wees nie.” “Al die hysbakke staan. Die mense sal bewus wees daarvan.” “Die persoon wat ek moet gaan sien, sal dit nie in ag neem nie.” “Nie?” Hy klink verbaas. “Hoekom nie?” “Hy is glo baie onredelik.” “Hoe so?” “Hulle sê hy is ’n regte buffel.” Hy lyk verbaas. “Wie sê so?” “Almal weet dit. Hy is glo ook arrogant.” “Ek is jammer . . .” “Dis nie jou skuld nie.” Die gesels het gesorg dat Cecilia se aandag afgelei word. Maar toe hy stilbly, word sy opnuut bewus van die beknopte ruimte om haar. Die donker maak dit erger. Versmorend . . . Bly kalm, maan sy haarself. Fokus en bly gemotiveerd. Tel stadig tot by vyftig.
Of sing, enige liedjie wat sy ken, net om haar gedagtes besig te hou. Dit gebeur gereeld, en die krag sal gou weer aankom, het die man gesê. Dit klink of hy weet waarvan hy praat; hy bly seker gereeld in die hotel oor. Gou beteken nóú-nóú. Binne vyf tellings. Of tien. Of twaalf. Nie meer as vyftien nie . . . Op twintig skop ’n flou noodlig teen die plafon in. Die blouerige, spookagtige skynsel help teen die donker, maar nie vir Cecilia se kloustrofobie nie. Sy kyk om haar rond: na die plafon bokant haar kop, wat lyk asof dit al laer afsak, en na die vier mure wat voel asof hulle binnetoe leun, oor haar gaan vou en haar versmoor. Haar oë soek na ’n gleuf, ’n rooster, ’n skrefie of iets waarop sy kan konsentreer en haarself wysmaak dis ’n opening wat na buite lei. “Met moderne tegnologie is daar ’n noodrem as veiligheidsmeganisme ingebou,” sê die man langs haar, asof hy haar vrees kan aanvoel. Sy is dankbaar sy is nie alleen in hierdie beklemmende hokkie vasgekeer nie. Alleen sou erger gewees het. Hoe hoog hang hulle in hierdie skag? En wat gebeur as die noodrem nie werk nie? Die kabel ruk weer. Cecilia druk ’n vuis teen haar mond, haar oë paniekbevange. Sy het altyd in haar agterkop geweet dat so iets eendag met haar gaan gebeur . . . Onbewustelik het sy ’n voorgevoel gehad, dis waarom sy hysbakke sover moontlik vermy. “Is daar nie ’n noodknoppie wat ons kan druk nie? Of kan ’n mens dalk hulp ontbied met ’n selfoon?” vra sy. “Ek het reeds die alarm geaktiveer. Ons moet maar net geduldig wees.” Hoekom moes dit juis vandag gebeur het? wonder sy moedeloos. Terwyl sy ’n nuwe begin gemaak het en ’n gunstige eerste indruk wou maak op ’n toekomstige werkgewer? Terwyl haar weerstand laag is en sy na Steve verlang? Steve sou geweet het hoe om haar te kalmeer en van haar kloustrofobie te laat vergeet. Hy sou haar vasgehou en getroos het, of ’n grap gemaak het om haar te paai. Hy kon haar altyd laat lag, selfs al was sy depressief, dood op haar voete of lus om te huil. Steve sou geterg het dat sy mos nog altyd saam met ’n sexy hunk alleen op ’n verlate eiland gestrand wou wees. ’n Hysbak is nou nie heeltemal ’n tropiese eiland met wuiwende palms en uitgestrekte strande nie, maar tweedebeste is darem beter as niks . . .
Maar Steve is nie hier nie en hy het haar nie meer lief nie. Sy is op haar eie. Toe die noodlig ook flikker en uitdoof en die donkerte soos ’n versmorende kombers oor haar spoel, verloor sy kop. Sy kan nie logies dink nie en tas om haar rond asof sy die duisternis kan besweer – ruimte kan skep en ’n opening na buite vind. “Engtevrees?” vra die stem langs haar. Sy kou aan haar onderlip. “Ja.” “Konsentreer op iets anders. Probeer om nie daaraan te dink nie, dan sal dit verdwyn,” gee hy raad. Al wat verdwyn, is die reling waarteen sy haar netnou gestut het. Dis opeens nie meer agter teen haar rug nie . . . In haar paniek soek Cecilia desperaat na ’n stukkie realiteit – na iets om haarself te oriënteer. Eers voel haar vingers net die satynafwerking teen die hysbak se wand, dan ’n growwer soort materiaal, met riffels en ’n wollerige grein. Sonder dat sy registreer wat dit is, het die aardsheid daarvan ’n kalmerende uitwerking op haar. “Dis nie so erg nie, jy sal dit oorkom,” gesels hy. “Dink aan lekker dinge: nartjies gooi by ’n rugbywedstryd, gesmelte sjokolade van jou vingers aflek, jou kêrel vashou tydens ’n rillerfliek . . .” Sy hoor die klanke sonder om die woorde in te neem. Koue rillings trek deur haar en sy klou aan die growwigheid vas, aan die substansie daaragter, die gerusstellende warmte daarvan. Die sensasie van veiligheid verskerp toe ’n hand kalmerend oor haar skouer vryf. Sy voel ’n wollerigheid wat teen haar kaal boarm skuur – ’n baadjiemou? Haar verstand is dof. Die bietjie konsentrasievermoë wat oor is, fokus daarop om haar histerie onder bedwang te hou. Soos ’n drenkeling in ’n stormsee reik sy na die arm bokant die hand. Bang dat as sy dit los, verswelg die duisternis haar en sleep haar die dieptes in . . . Die arm trek haar beskermend nader, teen ’n breë bors vas. “Toe maar, jy is veilig. Niks gaan gebeur nie. Daar is niks om voor bang te wees nie . . .”
Onder haar wang voel sy die sterk, reëlmatige hartklop, dan ’n warm asem naby haar gesig. Daar is ’n fladderende aanraking teen haar voorkop – liggies, soos dié van ’n skoenlapper se vlerke. Cecilia is ’n enigste kind, wat altyd ’n broer of suster begeer het. Die gewaarwording wat sy ervaar, is dié van ’n ouboet wat sy sussie troos nadat sy van haar fiets afgeval het of haar toon teen ’n klip gestamp het. Sy voel geborge, asof sy ná ’n lang swerftog tuis gekom het. Dis ’n natuurlike reaksie om haar arms om sy nek te sit en hom ’n druk te gee – soos ’n suster, om te wys sy is lief vir hom. Skielik ontstaan ’n oneweredigheid in die hartritme onder haar wang. ’n Effense pouse, asof die hart ’n klop oorslaan en dan versnel. ’n Tweede arm kom by om haar stywer vas te hou. Die greep om haar rug vervat en verander in ’n omhelsing wat glad nie broederlik voel nie. Sy herken die growwe riffels van die baadjiemou en besef dis sy lyfhitte wat deurslaan deur die materiaal. Terselfdertyd dring dit tot haar deur dat sy soos ’n rankplant vasklou aan ’n man wie se naam sy nie eens ken nie. Sy weet sy behoort hom weg te stoot. Sy laat nie wildvreemde mans haar sommer gryp en vashou nie. Veral nie in die donker nie . . . Sy is ’n ordentlike, betaamlike meisie, skaam en op haar plek. Almal goeie, logiese redes. Behalwe dat sy nie op hierdie tydstip ordentlik en betaamlik voel nie. Haar kop duisel en die werklikheid vervaag. Sy vergeet waar sy is, vergeet haar vrese en benoudheid. In haar ore klink die dreuning van branders en die suising van die wind deur die palmbome. Die wêreld om hulle is ver weg en dis net hulle twee, hy en sy, alleen in ’n kokon op ’n verlate tropiese eiland . . . Die vloer onder haar voete beweeg, maar Cecilia bly droomverlore in sy arms staan. Sy verbeel haar die vloer wat kantel, is ’n bootjie wat heen en weer in die golwe wieg . . . Toe iemand naby haar oor kug en ’n keer keel skoonmaak, kom sy ru terug aarde toe. Haar oë vlieg oop en sy kyk in twee vreemde, half deurskynende oë vas. Eers frons sy, onseker oor waar sy is en wat gebeur het. Dan, toe sy die hysbak sien, tref die realiteit haar. Die krag het ingeskop; die suising was die buislig teen die dak. Dit was nie branders en ’n bootjie in die deining nie – dit was die hysbak wat begin beweeg het.
Met ’n skok besef sy hulle is op die vyfde verdieping. Die hysbakdeure het oopgeskuif, en buite in die gang staan mense wat haar nuuskierig aanstaar. Cecilia verstar. Waar was haar kop? Skoon mal en op ’n ander planeet . . . Sy kan dink hoe dit moet lyk: verstrengel in ’n omhelsing soos twee verliefde seekatte – sy en hierdie man wat sy van geen adamskant ken nie! Sy laat haar arms sak en ruk haar los, pienk van verleentheid. “Ek is jammer . . .” “Ek is nie.” Hy knipoog en tik met sy wysvinger op die punt van haar neus. “Dit was baie aangenaam – ons moet eendag weer so maak.” Hy draai weg, vleg tussen die mense deur en verdwyn. Cecilia verwens hom. Tipies mansmens om die pad te vat en haar alleen in die gemors te los. Sy wens sy kan die knoppie druk sodat die deure kan toeskuif. Met soveel waardigheid as wat sy bymekaar kan skraap, trek sy haar skouers waterpas, lig haar ken en stap kop omhoog uit in die gang. Sy glimlag fyntjies vir die kring starende agies. “Jammer, mense, dis al vir vandag! Die vertoning is verby.” Agter haar giggel iemand, maar Cecilia kyk nie om nie. Sy loop net doelgerig in die gang af op soek na ’n kleedkamer waarin sy kan ontsnap.
2
By die ry wasbakke buk sy om koue water op haar gesig te spat en tot verhaal te kom. Dit was ’n nagmerrie-ervaring wat nog lank by haar sal spook, en tog het sy in ’n mate haar fobie oorkom. Die benoudheid was skrikwekkend en sy sal die angs nooit vergeet nie, maar sy sal in die toekoms met meer selfvertroue in ’n hysbak klim. Sy is trots op haarself, behalwe vir die einde van die episode . . . Mense wat nie aan kloustrofobie ly nie, verstaan nie hoe erg dit is nie. Dis ’n siekte, en geen pille help daarvoor nie. Die man moes nie gelag en met haar fobie gespot het nie. Hy het van haar weerloosheid misbruik gemaak en die situasie uitgebuit. Hy dink seker sy is ’n los meisie wat aanlê by al wat broek dra. Sy hoop nie sy loop hom weer raak nie, want sy sal te skaam wees om hom in die oë te kyk. Haar onderhoud! besef sy en kyk op haar horlosie. Soveel het intussen gebeur dat dit soos ’n leeftyd voel. Maar sy is genadiglik net ’n kwartier laat. Die hotelpersoneel sal van die kragonderbreking weet, en meneer Meiring kan nie so ’n monster wees om haar te blameer omdat sy nie stiptelik nege-uur opgedaag het nie, verseker sy haarself. Sy herstel haastig haar grimering, kam haar vingers deur haar hare en stryk dan in die gang af, op soek na die raadsaal. Hoe het daardie motiveringspreker gesê? Fokus. Glo jy kan. Wéét jy kan, voeg sy by toe sy by die ontvangsarea oorkant die hysbak kom. “Louw?” vra ’n gesofistikeerde witkop agter die toonbank. Sy loop nie oor van vriendelikheid nie en kyk op haar horlosie. Dis klaarblyklik ’n skimp. “Nie my fout nie,” glimlag Cecilia liefies. “Julle hysbak wat gaan staan het.” Die meisie bied nie ’n verskoning aan nie. Sy beduie Cecilia na ’n ry leerstoele in die hoek en draai terug na haar rekenaar.
Cecilia onthou die bolla laag in die nek gekam, die halfmaan-wenkbroue en pêreloorbelle. Dit was een van die gesigte wat haar aangestaar het toe die hysbakdeure oopgegaan het. Wedersyds, dink sy by haarself. Ek het ook met die eerste oogopslag ’n renons in jóú gekry. Ons twee sal nie vriende word nie. Sy hoef nie lank te wag nie. Sy het pas deur een van die tydskrifte op die koffietafel begin blaai toe die telefoon lui. Die witkop luister ’n oomblik. Knik dan na die wagtende kandidaat terwyl sy na ’n verbindingsdeur links agter die toonbank beduie. “Stap deur, meneer Meiring wag vir jou.” Die dekor van die foyer word herhaal in die Mlala Lodge se raadsaal. Behalwe dat daar ’n blinkgepoleerde swarthouttafel in die middel van die weelderige wynrooi mat staan, met omtrent ’n dosyn stoele daarom gerangskik. Op een van hulle sit ’n ouerige dame wat Cecilia takserend betrag. “Goeiemôre,” groet Cecilia – vriendelik maar nie familiêr nie, hoflik maar nie oordrewe sodat dit onderdanig klink nie. Sy wens sy het destyds tydens die kursus beter geluister na die motiveringspreker. Maar Steve was ook daar en hy het kort-kort vir haar ’n SMS gestuur, en dan ewe vroom gelyk as sy gebloos het. Hoekom dink sy nou weer aan hom? Dis verby tussen hulle. Oorkant die takserende dame sit ’n gedistingeerde man, so iets in die veertig. Liggrys pak, houtskoolkleurige hemp en silwerige das. Skimmelgrys teen die slape, met skerp oë onder ruie swart wenkbroue. Formidabel, maar nie onverbiddelik nie. Die Buffel, besluit Cecilia en glimlag – iets tussen medium en effentjies. Hy moenie dink sy gooi haar flikkers nie, óf dat sy stug is nie. “Môre, juffie,” groet hy terug, met onverwagte waaierplooitjies langs sy ooghoeke. Die meisie by die gastehuis was sommer net katterig, besluit sy. Meneer Meiring is nie arrogant nie. Trouens, sy sal van hom kan hou en lekker saam met hom werk. Cecilia het op haar toekomstige baas gekonsentreer en eers nie opgelet daar is nog ’n man aan die onderpunt van die tafel nie. Wel, wat vir die grootbaas
gewerk het, sal seker vir hom ook deug. Sy behou haar neutrale glimlag, draai haar kop en groet – en kyk vas in die vonkelende oë van die hysbakman. Dis soos ’n vuishou wat haar in die maag tref. Haar mond gaan oop en sy staar hom verstom aan. Wat maak hý hier? Hy is tog sekerlik nie een van die personeel nie? Dalk ’n koerier wat ’n pakkie kom aflewer het, dink sy hoopvol. Of ’n elektrisiën – iets met die kragonderbreking te doene. Of dalk het hy verdwaal en op die verkeerde vloer afgeklim? “Melt Meiring,” groet hy in ’n neutrale stemtoon, staan op en steek beleef sy hand uit. “Aangename kennis, juffrou Louw.” Áángenaam? Sy is seker dis vir hom ’n aaklige kennismaking! Hoe kon sy so idioties gewees het? Om ewe vir hom te vertel die persoon met wie sy ’n afspraak het, is ’n buffel . . . Sy kon net sowel haar eie doodsvonnis onderteken het. En sy kan hom die moeite van ’n onderhoud spaar deur sommer nou al te loop, voor hy haar by die agterdeur uitgooi. Hy sal nie so ’n voorbarige meisie op sy personeel wil hê nie – vryerig en dan nog boonop simpel genoeg om vir hysbakke bang te wees. Sy ignoreer dieselfde gevoel van geborgenheid van vroeër toe sy haar hand vlugtig in syne lê. Dis haar verbeelding, maak sy dit af. Hy is ’n losbol – die soort wat seker gereeld sy kans vat met vroumense in ’n hysbak. Vir al wat sy weet, het hy ’n knoppie gedruk om die hysbak te stop en toe voorgegee dis ’n kragonderbreking. Geen wonder hy het agterna vir haar gelag nie. Sy trek haar hand terug, voor hy dalk dink sy gee hom aanleiding of probeer hom verlei om die werk te kry. Sy kyk hom koelweg aan, maar sy gesig is niksseggend en verraai nie wat deur sy gedagtes gaan nie. “Laat ek jou voorstel aan mevrou Wessels, ons personeelbeampte . . . En meneer Jordaan, die adjunkbestuurder,” sê hy formeel. Cecilia knik. “Bly te kenne.” Melt Meiring wys na ’n stoel aan die verste punt van die tafel. Die ónderpunt, besef sy. Waar hy sit, is die bópunt. As sy ’n tweede breinsel gehad het, het sy dit vroeër besef.
Hy gaan sit en bestudeer ’n oop lêer wat voor hom op die tafel lê. Haar aansoekvorm, raai Cecilia. Met haar geluk het sy waarskynlik ’n rits spelfoute gemaak. Pleks dat sy die besonderhede ingetik het, dit sou netjieser gelyk het. “Ek merk dat jy vyf jaar ’n lugwaardin was, juffrou Louw. Dis langer as die meerderheid ander meisies. Hoekom het jy by Jakaranda-lugdiens bedank?” Omdat my aanstaande my verneuk het! wil sy uitroep. ’n Maand voor ons troue ’n affair met ’n ander lugwaardin aangeknoop het . . . Wat moes ek doen? Hengse keuse wat ek gehad het: Sluk sy leuens, of kry vir my ook ’n skelmpie. Dis mos die in-ding. Lugdiens is mos soos Hollywood. Almal kul mekaar en speel musical chairs . . . Sy hoop haar gesig is net so onleesbaar soos syne. “Om lugwaardin te wees, is nie ’n loopbaan nie, meer ’n limbo-periode met ’n kort rakleeftyd. As jy voel jy het genoeg van die wêreld gesien, as jy moeg is om skinkborde te dra en uit tasse te leef, beweeg jy aan.” “Is dit wat in jou geval gebeur het?” Hoekom wil hy weet? Kan hy sien die roof is nog rou? Soek hy geraamtes in haar kas? Of ’n rede om te sê: “Dankie vir die belangstelling, maar jy is ongelukkig nie die geskikte kandidaat vir die pos nie”? Cecilia kyk hom vas aan. “Ja, meneer Meiring. Ek het vrywillig en uit eie keuse besluit dis tyd om aan te beweeg.” “Omdat jy moeg was vir tasse en hotelkamers?” Cecilia sien die slaggat en systap dit. “Nee. Omdat ek ’n loopbaan met standvastiger vooruitsigte verkies.” Hy kyk weer af na die lêer. “Jy het ’n B.A. in kommunikasiekunde. Sou ’n loopbaan in die joernalistiek nie meer gepas gewees het as skakelbeampte by ’n hotel nie?” “Joernalistiek was aanvanklik ’n oorweging, ja,” sê sy eerlik. “Hoekom was dit tweede keuse?”
“Ek verkies mense bo rekenaars, en praktiese probleme bo woordverwerkingsprogramme. Dis vir my ’n uitdaging om ’n krisis te kan oplos en die lewe vir ’n medemens te vergemaklik.” Die woorde het dalk te hoogdrawend uitgekom. Sy hou Melt Meiring dop om sy reaksie te peil. Hy luister met aandag en dit lyk asof hy belangstel in wat sy sê. Dit gee haar vrymoedigheid om uit te brei. “Ek het hier in die Laeveld grootgeword, en ná vyf jaar het ek ’n oordosis gehad van oorbevolkte wêreldstede en oorvol lughawens, van die plastiekwaardes wat dollars en euro’s kan koop. Ek wil huis toe kom. Weer ’n boom sien sonder die besoedeling van chemiese suurreën. Bosveldstof ruik eerder as uitlaatgasse. ’n Visarend hoor pleks van toeters en sirenes. Net . . . ag, sommer net huis toe kom . . .” Tot haar skande breek haar stem. Sy bly verleë stil, bang hy dink dis toneelspel om hom te beïndruk. Sy laat sak haar kop, grawe in haar handsak na ’n sakdoek en blaas haar neus. Daar was iets in die manier waarop hy sy kop gedraai het, iets aan sy profiel wat haar onverwags aan Steve herinner het. Wat gemaak het dat sy haar skanse ’n oomblik laat sak het. Hoekom is mansmense op hierdie aarde nodig? dink sy wrewelrig. Hulle krap net ’n mens se kop deurmekaar. Sy vryf oor haar oë en kyk op na hom, ’n mengsel van verdediging en aggressie in haar blik. Laat hy nét weer lag . . . Laat daar net ’n sweem van spot êrens roer, en sy keer daardie waterkraffie op sy kop om. Sy kan dit doen, want sy sal nie die werk kry nie, dus het sy niks om te verloor nie. “Ek verstaan.” Hy tel ’n pen op, maak ’n paar notas en trek ’n streep deur ’n reël onderaan die bladsy. Taktvol, om haar kans te gee om te kalmeer? wonder Cecilia. Sy glo nie. Eerder daar geskryf: Sentimenteel. Neuroties. Bly weg! En haar naam as kandidaat doodgetrek. Melt sit die pen neer, netjies parallel met die oop lêer. “Enige ander taalvaardighede behalwe Afrikaans en Engels?” “Ek kan ’n gesprek in Duits en Spaans aan die gang hou – oor die weer, besienswaardighede, restaurante, openbare vervoer, ensovoorts. Die soort
inligting wat toeriste verlang, maar niks ambisieus soos byvoorbeeld politiek of godsdiens nie.” “Vanwaar hierdie taalvaardigheid?” “My pa is in die diplomatieke diens. Ons het ’n tyd lank in Duitsland gewoon en twee jaar in Argentinië.” “Jy dui jou huwelikstatus aan as ‘ongetroud’,” merk hy op. Hy huiwer en gaan dan voort: “Het jy dalk huweliksplanne in die nabye toekoms, juffrou Louw?” Dié skielike verandering van onderwerp vang Cecilia onverhoeds. Sy skud haar kop. Melt vryf ingedagte oor sy ken en kyk opsommend na haar. “Jou . . . e . . . hysbakprobleem,” opper hy die netelige saak. “Ja,” erken Cecilia en kyk af na haar hande wat op haar skoot saamgevleg is, gelukkig buite sig van die drie onderhoudvoerders. “Dit ís ’n probleem wat in my agterkop was, maar so ’n situasie het nog nooit voorheen gerealiseer het. Maar ek sal dit oorkom met wilskrag, positiewe denke en selfmotivering. Ek sal myself dwing om ’n paar keer op en af te ry in dieselfde hysbak waarin ek vanoggend vasgekeer was.” Melt knik, plegtig en baie ernstig. “Sorg dat iemand saam met jou is, juffrou Louw. Verkieslik ’n manspersoon wat jou kan kalmeer en wat jy kan vertrou.” Cecilia kyk onthuts na hom. Is dit terg of spot? Sy een mondhoek wip boontoe. Dan die ander een, en dan skielik borrel die lag spontaan oor. Duiweltjies dans in daardie goue oë van hom, en dis ’n warm soort lag. Niemand kan daaroor kwaad word nie. Miskien was sy te liggeraak. Dis ’n ou laai van haar om op loop te gaan oor niks. Melt draai na die ouerige vrou regs van hom. “Jou beurt, Wessie.” “Juffrou Louw, kan jy onder druk funksioneer?” vra mevrou Wessels. “Teen ’n
tempo werk?” “Ek is nooit sonder ’n horlosie nie,” reageer Cecilia, hopend dit beantwoord die vraag. “In my woonstel was daar ’n wekker langs my bed, ’n muurhorlosie in die kombuis en een op die televisiestel. Ek hou my dagboek op datum en het altyd ’n almanak – een wat nie agter die deur hang nie. Dit beteken ek het ’n goeie besef van tyd. ” “Hou jy kop in ’n krisis, juffrou?” Sy dink na. “Een keer, op ’n vlug tussen Perth en Mauritius, het ons in die eerste klas ’n kabinetsminister aan boord gehad. Toeristeklas was vol en kinders het op en af in die gange gehardloop. Een outjie het deur die klasse-afskorting geglip en op die oop sitplek langs die minister geklim. Op daardie presiese oomblik het die Airbus ’n lugleegte getref. Die kind se maag het gerebelleer en hy het sy brekfis oor die minister se deftige pak klere uitgespoeg. Ek wou buite op die vlerk gaan wegkruip, maar ek het opgevee, afgevee en skoongevee. Lugverfrisser gespuit, gepaai en vir die minister tee gemaak.” Mevrou Wessels wag vraend. “En jy reken dit was genoeg?” Twee kuiltjies keep weerskante in Cecilia se wange. “Iewers moes ek iets reg gedoen het, want die volgende dag het ek van die minister ’n uitnodiging ontvang na die parlementsopening. Ongelukkig kon ek nie gaan nie, want ek het nie ’n hoed gehad nie.” Almal lag. Mevrou Wessels vra nog die een en ander om haar algemene kennis te toets, en die adjunkbestuurder praat oor veeleisende hotelgaste, ongereelde werksure en wat presies die skakelwerk by Mlala Lodge behels. Dan is die onderhoud verby. Melt staan op en hou die deur vir haar oop. “Dankie, juffrou. Ons sal u laat weet.” Met die uitstap sien Cecilia die volgende kandidaat op een van die leerstoele in die ontvangsarea sit, besig om deur ’n modetydskrif te blaai. Dis ’n swartkop wat lyk asof sy self uit een van die glansbladsye gestap het. Cecilia is lus om haar teen Melt Meiring te waarsku. Nie as ’n buffel nie, maar ’n casanova. ’n Man om van weg te bly as jy besluit het jy is klaar met mans.
By die hysbak aarsel sy, die klank van haar selfversekerde woorde in haar ore. Positiewe denke en wilskrag. ’n Paar keer op en af ry . . . Netnou het dit maklik geklink, maar dit was valse bravade. Nou is sy bang en alleen. En as jy alleen is, hoef jy niks aan niemand te bewys nie. Sy klim met die trappe af en haat haar lafhartige self. In die portaal van die derde verdieping steek sy vas. Sy sit haar voet dwars – letterlik én figuurlik en duskant die volgende stel trappe, terwyl sy besluit: Tot hiertoe en nie verder nie. Sy gaan haar nie laat onderkry deur ’n vierkantige blikboks wat soos ’n aap aan ’n kabel hang nie. Sy sal die ding wys wie’s baas. Nie môre nie. Nie anderweek nie. Nóú! Dis soos die Matrix-fliek wat sy gesien het. Die bevele eggo een-een deur haar brein: Los die trapreling. Draai om. Loop oor die terracotta-teëls. Stop voor die skuifdeure. Druk die knoppie. Wag . . . Ses stappe. Hoe moeilik kan dit wees? ’n Pieng weerklink toe haar vyand arriveer, sy deure oopgooi en haar innooi. Soos Daniël in die leeukuil . . . Daar’s nie ander mense in die blikboks nie, wat dit erger maak. Niemand wat haar kan vashou en troos nie . . . Haar aksies is metodies en afgemete, soos ’n robot: Loop. Vorentoe. Drie treë. Stop. Draai. Druk G vir grondvlak. Sy slaag net met die eerste vyf. “Ek kan nie!” Die protes breek uit haar keel. Haar kop draai regs, staar gehipnotiseer na die paneel vol knoppies. Haar vinger bewe. Sy mik blindweg na die onderste knoppie, druk hom en knyp haar oë toe. Dan bly sy stokstyf staan, soos ’n winkelpop op ’n uitkenningsparade. En wag op die ergste . . . Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, waag sy dit om haar oë stadig oop te maak. Hierdie keer kom haar uitroep makliker. Dis nie protes nie, maar verbasing; eers ongeloof en daarna vreugde. “Ek kán . . . Ek hét!” In haar mond is ’n soutsmaak; sy het haar onderlip raakgebyt. Maar sy proe dit skaars. Sy’s onder. Op die grondvlak! Haar knieë is lam en haar bene voel soos slap sement, maar sy maak dit uit buitentoe – deur die foyer en af met die marmertrappe, totdat sy die warm teer van die parkeerterrein onder haar hoëhaksandale voel. Moeder Aarde! Eers toe kan sy haar asem in ’n lang hyg
uitblaas. ’n Parkeerjoggie kyk snaaks na haar. “Ek het die jop verloor,” sê Cecilia vir hom, “maar die hysbak gewen.” Dis dalk kinderagtig vir mense wat nie verstaan nie, maar dis ’n groot oorwinning vir haar. Haar motor is ’n sauna. Sy draai die venster oop en ry na die uitgang. Die euforie wat sy pas gesmaak het, is vinnig besig om te verdamp. Ons sal jou laat weet, het meneer Melt Meiring gesê. Dit beteken: Moenie ons bel nie, ons sal jou bel. Indien nodig . . . Sy sal waarskynlik nie weer van Mlala Lodge hoor nie. Miskien net, as sy gelukkig is, ’n kort nota van een of ander klerk by istrasie kry dat die vakature gevul is en dat haar aansoek ongelukkig nie suksesvol was nie. Sonder dat hulle haar nooi om eendag weer te probeer. By die snelweg draai sy regs op die N4, Pretoria toe. Haar kamer by die gastehuis is reeds ontruim en haar bagasie in die kattebak gelaai, om te verhoed dat hulle haar dalk vir nog ’n nag laat betaal, met ’n kredietkaart wat lank reeds sy limiet oorskry het. Sy wil nie weer by haar pa leen nie, maar sy sal dalk moet. Tot sy kan begin pizzas aflewer of polisse verkoop.
3
Alles lyk skielik erger, meer morbied en neerdrukkend, toe Cecilia laatmiddag by die beknopte woonstel aankom en na haar bed op die sitkamerbank kyk. Vera en Melanie is dierbaar, maar sy kampeer al amper drie weke lank in hulle sitkamer en kan nie verder hulle jammerte misbruik nie. Sy het daarop geroem dat haar lewe ’n nuwe wending geneem het, en sy moet ophou om ’n parasiet te wees. “Cielie, haai!” groet Vera. Sy bly afwagtend staan. “En . . .?” Cecilia sak op die bondel beddegoed neer. “En niks.” “Nie die jop gekry nie?” “Nee.” “Hoekom nie?” “Te dom, te oud, te lelik, te neuroties.” “Wag, ek gaan maak tee.” Op pad kombuis toe stop Vera en wys na ’n ruiker op die hoektafeltjie. “Van Steve af. Dit het gister gekom, net nadat jy gery het. Hy het gebel ook – drie keer – om te vra waar jy is en hoekom jy nie jou sel antwoord nie. Ek het gesê ek weet nie en die foon neergesit.” “Ek het my sel afgeskakel. Ek was nie lus om met hom te praat nie, wou sommer net ’n tyd lank van alles en almal wegkom.” “Dis goed. Jy het dit nodig gehad.” Cecilia besef Vera hou haar onderlangs dop. Sy probeer kalm en bedaard lyk, maar sy weet daar is kringe onder haar oë. Die stres van die afgelope tyd wys.
“Ek het ’n snaakse grap nou die dag gelees,” sê Vera vrolik. “Wat doen ’n meisie as haar kêrel ná ’n rusie uitstap? . . . Sy sluit die deur agter hom.” ’n Situasie wat nog te rou is om snaaks te wees . . . Cecilia glimlag werktuiglik om Vera te plesier. Sy kyk na die blomme: wit lelies, haar gunsteling. Sy voel of daar genoeg water in die pot is, maar kyk terloops na die kaartjie voor sy dit in ’n asbak gooi. Vera het nie veel vertroue in haar bekwaamheid gehad nie, besef Cecilia. Want sy het reeds ’n roomkoek as troos gekoop, saam met die tee en simpatie. Ná die tweede skyf kilojoule-gif het Vera die storie uit haar vriendin gewurm. “Ja, dit klink nie goed nie,” sug sy saam. “Soos die sterre-ghoeroes sê: Dis jou planete wat bots – jou Libra-aura wat nie in harmonie is met jou biopolêre ritme nie. Of so iets . . . Dié dat die hysbak nou juis vir jou en Melt Meiring moes uitkies om mee te gaan staan. Maar jy het darem agterna die ronde teen die blikboks gewen.” “Hy weet dit nie. Wat hom betref, is ek steeds neuroties. Waarvoor ek aan die tjank moes gaan oor lugbesoedeling en aardverwarming, weet nugter. My kop het uitgerafel, en dit net omdat sy profiel ’n bietjie soos Steve s’n gelyk het.” “Steve is donker. Ek dag jy sê dié ou is blond?” “Medium blond. Wat maak dit saak hoe hy lyk? Hy dink ek is mal.” “Om oor siek bome te huil, is nie mal nie. Dit wys jy het ’n hart, nie ’n klip in jou binneste nie. Dis sy eie skuld dat hy moes hoor hy is ’n buffel. Hy ís, met swak maniere daarby. Hoekom het hy hom nie vroeër aan jou voorgestel nie?” “Hy het nie geweet wie ek is nie. Jy kan nie verwag ’n man moet hom voorstel aan elke vreemde meisie wat saam met hom in die hysbak klim nie. Hulle sal dink hy is vrypostig.” “Met reg, want dit was vrypostig om jou uit die bloute te omhels, veral as hy jou nog nie eens formeel ontmoet het nie.” “Dit was nie uit die bloute nie, ek het eerste my arms om sy nek gesit.”
“Hoekom verdedig jy die ou? Dit was gemeen om jou vir die gek te hou. ’n Verdraaide sin vir humor . . . Ek wed jou hy het ook allerhande duistere fobies. ’n Vrees vir katte, of hy slaan in pers knoppe uit as hy oesters eet. Wie weet, hy dra dalk pienk frilletjies-onderbroeke . . . Flippen ghwar!” Cecilia lek haar koekvurkie af. “Hy’s nie ’n ghwar nie. En muskusgeur is baie manlik.” Vera drink haar tee ingedagte. “Hoe oud is hierdie muskusman?” wil sy agterdogtig weet. Cecilia wil eers jok, maar sy is bang om die gode te tart, veral as Venus en Mars in botsende bane is. “Oud, koud en getroud?” vra Vera weer. “Nie eintlik nie,” skerm Cecilia, wetend sy het haar kop in ’n byenes gesteek. Sy ken haar vriendin. Vera gaan aanhou torring en om haar ore zoem, tot sy die korf oopgekrap het en by die heuning uitgekom het. “Middel dertigs,” raai sy kortaf. Sy staan op, rits haar naweeksak oop en soek haar toiletgoed en kamerjas. “Ek gaan bad, dan is ek vanaand uit julle pad as julle die badkamer wil gebruik.” “Melanie se vlug land eers Dinsdag en jy is nie in die pad nie. Jy’s welkom en jy weet dit. Hoe lyk hy?” Cecilia loop badkamer toe, druk die prop in die bad en draai die kouekraan oop. “Taamlik aantreklik.” “Taamlik of baie?” vis Vera uit. “Is dit hoekom jy ’n koue bad nodig het – om jou hormone af te koel?” Cecilia is verontwaardig. “Natuurlik nie! Ek probeer warm water spaar. Geysers gebruik baie krag.” Vera skuur by haar verby, draai die warmwaterkraan wyd oop en gooi ’n klomp badskuim in die water. “Waar’s jou styl, Ciel? Moenie so bourgeoisie-middelklas wees nie! Ons is nie kerkmuise nie.”
“Júlle miskien nie, maar ek is. Ek voel soos ’n bloedsuier om hier te bly en nie eens ’n bydrae tot die kosrekening te kan maak nie.” “Waarvoor anders is vriende daar as dit nie is om mekaar te help nie? Annerdag koop jy vir ons kreef en kaviaar en dan is ons kiets.” “Waarmee?” vra Cecilia en daar is bitterheid in haar stem. “Met die geld wat Steve jou skuld,” antwoord Vera reguit. “Klim in die bad, voor die skuim blus. Ek gaan vir ons elkeen ’n glas wyn haal.” “Vyfuur in die middag?” Vera is min gepla. “Die Boeing is lankal oor, saam met die mossies. Ongelukkig nie landuit met die vervlakste kaptein Steve de Villiers agter die stuurstang nie. Hy skuld jou duisende, Cielie! Jy het vragte gordyne gekoop, lakens en duvets en als. Al jou meubels staan in sy huis, selfs jou klavier! Gaan jy alles net daar los vir hom en sy skelmpie? Net oor jy te trots is om terug te veg en te gaan vat wat joune is?” “Ek wil niks van hom hê nie. Hy kan in sy Boeing klim en maan toe vlieg, vir al wat ek omgee. Ek wil hom nooit weer sien nie.” “Wie vermaak jy? Net jouself. Hy sal nie eens weet as jy van honger doodgaan nie, en ook nie omgee nie. Steve de Villiers is ’n selfsugtige drip. Al waaraan hy dink, is om ’n meisie in die bed te kry. Ek is bly jou oë het betyds oopgegaan, voor dit te laat was. Voor hy jou kansel toe gesleep het en verder uitgebuit het. Jy was reg om die verlowing te verbreek, maar jy is te sag met hom. Kry vir jou ’n prokureur en eis skadevergoeding. Dagvaar hom vir troubreuk, geestelike marteling, pyn en lyding, die hele toetie. Hy’s die skuldige party, nie jy nie. Was daar ’n boodskap saam met die ruiker?” “Ja.” “Om te sê hy is onskuldig, dis ’n misverstand, hy het jou lief, jy moet hom vertrou, ensovoorts . . . ensovoorts?” “Min of meer.” “Smyt dit weg. Netnou swig jy weer vir sy sob-stories en kry van vooraf seer.
Die liefde is blind, maar trou maak ’n vrou se oë oop. Moenie dink jy kan ’n man verander nie – tensy hy nog doeke en ’n babygrow dra.” Cecilia lag – die eerste keer in dae. Sy klim in die skuim, wat tot by haar knieë borrel – ’n ongekende luuksheid ná die afgelope paar weke. “Sedert wanneer het jy so ’n vuurvreter en ’n mannehater geword?” Vera kom staan bakarm voor haar. “Sedert elke tweede man daarop uit is om my beste pel te misbruik. Ek glo aan reg en geregtigheid. Hoekom moet ’n vroueverneuker skotvry loskom terwyl jy aan die kortste ent trek?” “Dankie, vriendin, dat jy in my hoek van die kryt is. Jy is ’n tonikum en ’n onverdiende bonus in my lewe. Maar los dit. Asseblief? Ek het nie nou die krag daarvoor nie. Dit was ’n lang dag, ’n lang pad, en ek is gedaan.” Vera bring wyn: vir haar rooi en vir Cecilia Grand Cru met ys in, soos sy daarvan hou. Sy kom sit op die toiletdeksel. “Wat beteken ‘taamlik aantreklik’?” Cecilia smoor die sensuele herinnering aan sy arms en breë skouers en hartklop teen haar wang. Daar was ’n vonk tussen hulle . . . En sy weet hy was ook bewus daarvan. ’n Soort chemiese reaksie. Maar hy het waarskynlik ’n vrou en kinders, en sy het buitendien besluit mans is nie die pyn en lyding werd nie. Sy lê agteroor en strek haar uit. “Vergeet dit. Ek soek nie ’n nuwe kêrel nie. Ek gaan ’n non in ’n klooster in Tibet word; heeldag na berg Everest kyk en mans uit my woordeboek sny.” “ ’n Nuwe kêrel is die beste medisyne vir ’n seer hart. Dalk kan hy sommer vir Steve ook opfoeter, dan is dit twee vlieë met een klap. Het jy vir hierdie Meiring-ou geval, dié dat jy so in sy arms geswymel het?” “Is jy laf?” Skuim spat oor die rand toe Cecilia regop sit. “Ek het net liggies aan hom vasgehou, net effentjies, vir ’n oomblik.” “Die engeltjies gaan oor jou huil!” waarsku Vera met ’n onderdrukte lag. “Ek jok nie. Ek het hom dadelik weer gelos en in die verste hoek gaan staan.” Vera lyk skepties. Cecilia kan haar nie in die oë kyk nie. Sy hoop maar haar vriendin dink dis van die stoom wat haar wange so gloei.
“As jy die man kastig so blitsig gelos het, hoe weet jy van sy muskusnaskeermiddel?” “Genade, Vera! Ons was hoe lank saam in ’n boksie van drie meter by drie meter vasgekeer. Ek kon tot ruik hy gebruik Colgate-tandepasta, en sy vrou gebruik Skip-waspoeier vir sy hemde.” “Wie sê hy’t ’n vrou?” “Ek weet nie, ek raai. Die meeste ouens van sy ouderdom is getroud.” “Het hy ’n trouring aangehad?” “Ek het nie opgelet nie, want dit het nie saak gemaak nie.” Vera beskou haar vriendin onderlangs. Steve was Cecilia se droom-ou, haar trouman vir wie sy gewag het. Die ding in Rome met hom en die ander lugwaardin het haar hard geslaan. Sy was verpletter en het die volgende dag halsoorkop by Lugdiens bedank, omdat sy nooit weer saam met hom wou vlieg nie. Sy wou landuit vlug, Alaska of Ysland toe waar dit dertien maande van die jaar sneeu, haar van mense afsluit en ’n kluisenaar word. Maar Vera se intuïsie sê vir haar dis nie kaptein Steve de Villiers wat nou daardie paar olyfgroen oë van Cielie so laat broei nie; haar met so ’n veraf kyk na die muur laat staar asof sy soek wat anderkant lê. Dit gaan oor meer as net die werk by die hotel wat sy verloor het. Iewers is ’n dieper storie, en as sy geduldig is, sal Cielie later met die res van die sak patats vorendag kom. Vera proe-proe aan haar wyn en kyk deur die venster na waar ’n ry duiwe op die balkonmuurtjie sit en wag. Dis voertyd – tyd vir die mielies en broodkrummels waarmee Cecilia hulle bederf. Cecilia wikkel haar tone onder die skuim in en soek met ’n nat hand na haar glas. Eers nadat sy ’n lang sluk geneem het, het sy die moed om te bieg. “Ja, goed . . . Oukei, jy wen. Ek het hom nie weggestoot nie. Nie dadelik soos in onmiddellik nie.” “Hoe bedoel jy? Ek dag die twee woorde is dieselfde.”
“Nee, daar’s ’n verskil. ‘Onmiddellik’ is korter. Of . . . gouer. ‘Dadelik’ is miskien so . . . e . . . twee tellings langer.” Vera geniet dit. As Cielie begin hakkel, is daar ’n slang in die gras. Of, meer pertinent: ’n man in die prentjie. Dus was sy reg . . . “Het jy vir die ou geval?” wil sy nuuskierig weet. “Natuurlik nie! Moenie simpel wees nie.” “Hoekom anders het jy hom dan so vurig vasgegryp?” Cecilia raak vies. “Ek het nie! En dit was ook g’n vurig nie.” Sy klim uit die bad en draai die handdoek styf om haar, asof sy koud kry. “Dit was bloot platonies. Ek sê mos: Ek was deurmekaar en het gedink hy is my broer.” “Hoe omhels mens ’n sexy ou platonies? Vertel dit vir die voëls daar buite. Jou broer?” Vera lag. “Jy hét nie eens ’n broer nie, Ciel! Heng, is jy só naïef? Jy was dan so te sê getroud. Steve kan wees wat hy wil, maar hy het beslis nie ysblokkies in sy are nie. Inteendeel. Almal weet daai ou is kookwater . . . Jy weet mos van dié soort dinge: wanneer dit byvoorbeeld jou boetie is, en wanneer dit ’n volbloed-vleispaleis is met allerhande bybedoelings.” “Vera!” keer Cecilia verleë. “Ek het kloustrofobie gehad, en dan dink mens nie nugter nie. Hopelik het hy niks agtergekom nie. Maar eintlik maak dit nie saak nie. Ek glo hy het klaar my naam vergeet en iemand anders aangestel. Waarskynlik daardie swartkopmodel wat in die wagkamer gesit het.” “Wie sê? Ek weet jou selfvertroue is op ’n laagtepunt, maar moenie jouself onderskat nie. Jy lyk self soos ’n model, jy het goeie kwalifikasies en praat vier tale. In my boek die ideale skakelbeampte.” “Ná die onderhoud het hy my stug gegroet en gesê ek moenie moeite doen om te bel nie.” “Is dit wat hy gesê het?” “Nie hy nie, sy lyftaal.”
Vera rol haar oë, tel die twee leë glase op en mik deur toe. “Hy het ’n top-jop. Wat het jy verwag? Dat hy jou weer moes omhels – ten aanskoue van sy sekretaresse, personeelbeampte en adjunk? Kom by, vriendin . . . Nie alle mans is so indiskreet soos jou eksverloofde nie.” Eksverloofde . . . In haar gedagtes het Cecilia Steve allerhande name genoem: Leuenaar. Tweegesig. Valsaard. Maar nog nooit eksverloofde nie. Komend van iemand anders sny die woord haar hart in stukke; elke stuk vol skerp lemme wat die res van haar binneste opkerf. Sy draf sitkamer toe, sleep haar tas onder die bank uit en grawe ’n ou sweetpak uit om aan te trek. Dit dien tans as haar pajamas, sodat sy darem respektabel is as iemand aan die voordeur klop of een van Vera se kêrels onverwags opdaag. Die frilletjies en kantjies, die sy-en-satynnagklere wat sy in Parys vir hulle wittebrood gekoop het, lê in ’n laai êrens in Steve se huis, saam met die res van haar goed wat sy halsoorkop agtergelaat het. Dalk het sy nuwe meisie dit intussen ontdek. Dalk al aangepas en benut, wetend uit ervaring watter soort ding sy rewolusies opjaag. Cecilia pluk die sweetpaktop se rits met geweld tot bo teen haar ken op. “Wil jy pasta hê?” skree sy in die gang af. “Hoekom?” kom Vera se stem terug, vanuit haar kamer. “Omdat ek besig moet bly, anders sal ek daardie gewetenlose flerrie se oë gaan uitkrap en ’n mes tussen my eksverloofde se ribbes indruk. Omdat dit my beurt is om aandete te maak, en omdat pasta al is wat ek kán maak.” Vera loer om haar deurkosyn. “Ek is bly jy’s op die oorlogspad. Dis goed vir jou moraal. Om hom te wil vermoor, is beter as om vir hom verskonings te soek. Pasta sal lekker smaak. Kan ek help?” “Nee dankie. Ek het alleentyd nodig.” Vera ken haar te goed, en Cecilia is bang sy sien hoe onoortuigend die oorlogvoering is. Soos om met ’n propgeweer te skiet. As Vera net een trooswoord sou sê, sal sy begin huil en nie weer kan ophou nie. En ontroue Steve en sy handperdjie is dit nie werd nie – nie ’n enkele traan of ’n minuut se wakkerlê nie.
Genadiglik stry Vera nie. Vyf jaar vriendskap is ’n lang tyd. Hulle was saam op kursus, het saam vlerkies gekry, saam hul groentjievlug gedoen. Vera weet wanneer om te boelie, wanneer om wyn aan te dra en wanneer om haar alleen te los. Sy braai spek en uie saam met ’n hand vol sampioene, ’n knypie origanum en ’n skeutjie knoffel. “Na gedagtenis,” sê ouma Klara altyd. Terwyl Cecilia wag dat die spaghetti kook, blaai sy deur die koerant wat sy op Middelburg gekoop het. Haar vinger soek deur die Betrekkings Vakantkolomme. Operateur vir padwerke-masjinerie (applikante moet ’n swaarvoertuigrybewys hê). Skofbaas by ’n myn (skietsertifikaat ’n vereiste). Kosverwerkingstoerustingverkoopspersoon – alles een woord (maar slegs manlike applikante). Die laaste een kan sy skaars spel, en dit wat verder in hakies staan, diskwalifiseer haar. Die alternatiewe is: kelnerin by ’n Bunny-klub, of naweekgesellin vir reisende sakemanne (vergoeding onderhandelbaar). Sy sidder. En boonop is die spaghetti besig om te brand . . .
4
As Cecilia gedink het gister was soos Vrydag die dertiende, kom sy agter Saterdag die veertiende is erger. Sy lê op die sitkamerbank, hare deurmekaar, sonder grimering en nog met die uitgerekte ou sweetpak aan, toe daar ’n klop aan die voordeur is. “Wiessit?” fluister Vera. “Assit Robert is, sê ek’s uit saam met Charl.” Cecilia druk haar oog teen die loergaatjie. Wens dan sy het nie. “Cilla?” roep Steve aan die ander kant. “Ek kan sien jy’s daar. Maak oop, ek wil met jou praat, asseblief.” Sy blokkeer die gaatjie met haar vinger en druk haar mond teen die deur. “Loop praat met Nadine Groenewalt! Sy sal dit meer geniet as ek.” “Ek wil nie met Nadine praat nie, ek wil met jóú praat.” Agter Cecilia skud Vera haar kop. “Nee. Moenie weer sag word nie . . .” “Nee!” eggo Cecilia. “Ek wil nie weer jou leuens en verskonings hoor nie. Ek en jy is klaar. Oor en verby, vir altyd.” “Ek kan nie hier buite staan en ons privaat besigheid aan die mure en die bure uitbasuin nie,” pleit hy. “Juis. Dis hoekom ek sê jy moet loop. Loop trou met Nadine. Ek is mos nie goed genoeg vir jou nie. Jy wou haar mos hê . . . Gaan vat haar!” “Ek wou haar nie hê nie.” “Waarvoor het jy dan saam met haar in die bed geklim?” “Ek het nie. Cilla, ek het jou twintig keer gesê: Dis nie soos dit gelyk het –”
“Ek wil dit nie één en twintig keer hoor nie!” praat Cecilia hom dood. “Laat ek asseblief klaar praat!” Steve was verbasend geduldig, maar sy kan hoor hy begin kwaad word. “Gee my ’n kans, en hou op om soos ’n prima donna tekere te gaan oor ’n nietigheid.” “ ’n Maand voor ons troue betrap ek my aanstaande man saam met ’n ander vrou, en jy noem dit ’n nietigheid?” Haar stem is skril. “Niks het gebéúr nie. Ek kan verduidelik . . .” “Dis wat al die mans sê wat uitgevang word: ‘Ek kan verduidelik, dis nie soos dit gelyk het nie.’ Dis só ’n afgesaagde verskoning, ’n aap kan ’n beter een uitdink. Wat was jou storie nou weer? Nadine het kastig flou geword en jy was besig om kunsmatige asemhaling op haar toe te pas . . . Verwag jy ek moet dit gló?” “Ek het nie gesê sy het flou geword nie.” “Naar of duiselig, of wat ook al . . . Wat’s die verskil? Feit bly: dit was nie nodig om haar in jou kamer, in jou bed te sit nie. En dan nog boonop ewe snoesig saam met haar onder die komberse in te klim . . . Jy het die sedes van ’n straatkat. Ek raak nie weer aan jou nie, nie eens met rubberhandskoene nie!” Dit was ’n woeste tirade. Aan die einde daarvan wonder Cecilia of sy te ver gegaan het. Steve het baie deugde, maar lankmoedigheid is nie een van hulle nie. As hy die dag kwaad word, is dit beter om uit sy pad te bly. Soos nou . . . Dis ’n hoogs ontstoke man daar buite, en sy is bang vir die gevolge. Die arme voordeur het niks gedoen om Steve se gramskap te verdien nie, maar moet nogtans die ontstoke kaptein se vuis ontgeld. ’n Pyn flits tot bo in sy elmboog toe Steve se kneukels die kosyn tref. Maar dit dien om hom te laat afkoel. Cecilia Louw is ’n verbrands komplekse vroumens. Dierbaar, pragtig en onweerstaanbaar. So sag en vroulik, jy wil ’n pienk lint om haar draai, haar op ’n bed van roosblare neerlê en aarbeie uit haar naeltjie eet . . . Maar vryf haar verkeerd op, en jy het ’n weerafleier nodig teen die donder en blitse. Mooipraat help nie. Jy moet soos ’n matador in ’n stiergeveg die bul by die horings pak . . .
“Steve?” vra Cecilia agterdogtig, toe dit te lank stil is buite in die gang. “Steve, wat maak jy?” Dis nie in sy aard om so maklik oor te gee nie. Sy luister of sy voetstappe hoor, maar dis spitstyd en die verkeer raas te veel. “Hy’t sy uniform aan,” sê sy vir Vera. “Seker op pad lughawe toe – die sewedagse Las Palmas-Lissabon-vlug.” “Jy onthou goed,” antwoord Vera. Ja, omdat sy wat Cecilia is op daardie selfde vlug sou gewees het. Omdat hy lank terug al met ’n ander bevelvoerder vlugte geruil het sodat hulle saam kon vlieg. Hulle wou Algarve toe gaan en ’n seilbootjie in Cascais huur om al langs die kus mee te vaar; heeldag op die dek lê en sonbrand, snorkelduik en swem. ’n Dubbelslaapsak koop en die nag aan boord deurbring. Net hulle twee, die Atlantiese Oseaan en die sterre . . . Dis soos ’n fisieke pyn wat deur haar lyf skeur. Cecilia kruis haar arms teen die koue vakuum in haar binneste. Was sy nie dalk oorhaastig nie? As mens iemand liefhet, moet jy bereid wees om sewentig maal sewe keer te vergewe. Steve is ’n aantreklike man, en dis logies dat ’n nuwe waardin, op haar eerste internasionale vlug, haar flikkers vir die sjarmante kaptein sou gooi. Hy is net ’n man van vlees en bloed, en Nadine het hom verlei. Dis nie te sê dat hy sou geswig het en toegelaat het dat dinge te ver gaan nie. Dalk het sy te vinnig geoordeel. Maar wat as hy miskien kop verloor het? Sy het geen waarborg dat daar nie in die toekoms weer so iets sal gebeur nie; dat daar nie ’n ander Nadine in ’n ander hotelkamer sal wees nie. Kan sy met ’n man trou wat sy altyd sal wantrou? Aan sy hemde ruik of daar ’n parfuumgeur agtergebly het, of dalk ’n foonnommer in sy sak? Vera kyk op haar horlosie. “Vlug JA 515? Steve sny dit fyn. Hy sal moet wikkel om betyds op die lughawe te wees.” “Dis hoekom hy daardie laagvlieënde Mirage gekoop het. Dit halveer sy rytyd lughawe toe.” “Wat doen hy met die tien minute wat hy spaar?” vra Vera sinies. “Speel Speedy Gonzales en kry ’n vinnige ekstra vrytjie met ’n ander vroumens in?”
“Vera!” keer Cecilia. “Dis aaklig van jou! Net omdat jy destyds ’n bloutjie geloop het, beteken dit nie alle mans is sleg nie.” “Word groot, Ciel. Steve is ’n blink Stefaans wat sal vat wat vir hom aangebied word, en ’n trouring sal hom nie keer nie. Hoe gouer jy dit besef, hoe gouer kan jy hom vergeet en aangaan met die res van jou lewe.” Cecilia weet sy bedoel dit goed, maar dit was onnodig koelbloedig. Of was dit skokterapie omdat Vera vermoed sy gee nog vir Steve om? Sy gaan staan by die venster om te kyk of sy swart Porsche op die snelweg verbykom. Miskien as sy weet hy is landuit, agtduisend kilometer weg, met die hele Afrika-kontinent tussen hulle, sal dit makliker wees om hom te vergeet. Agter haar klink ’n krapgeluid by die voordeur op, maar sy steur haar nie daaraan nie. Dis ’n ou gebou en die deur is lendelam. Seker ’n suidewind wat opgesteek het en dit laat ratel. Of die buurkinders se foksterriër, aan’t bedel vir ’n been nadat sy hom nou die aand gevoer het. Die krap verander in ’n skuurgeluid, gevolg deur ’n klik van die Yale-slot. Die volgende oomblik stap Steve in, ’n kredietkaart en ’n knipmes in die hand. Cecilia swaai om. Haar mond hang oop en sy staar hom verstom aan. Dan begin sy retireer, sodat die koffietafel tussen hulle is. Vera besef haar vriendin is nie veel werd nie en dat sy die leiding sal moet neem. “Jy het ingebreek!” beskuldig sy Steve. “Ons kan jou laat arresteer vir skending van ons privaatheid, onwettige betreding en beskadiging van eiendom. Dis teen die Grondwet!” “Veratjie,” paai Steve, “het iemand al ooit vir jou gesê jy ooreis jou stembande?” Hy skud sy hand en suig aan sy kneukels. “Die deur het nie skade gekry nie. Die Yale kan nog sluit – vir wat dit werd is.” Vera hou haar hardgebak. “Jy kan nie sommer hier inmarsjeer asof die plek aan jou behoort nie!” “Drastiese situasies vereis drastiese maatreëls. Cilla weier om met my te praat. Sy maak nie oop nie, antwoord nie haar foon nie en reageer nie op boodskappe
nie. Wat anders kon ek doen?” “Jy kon getrou aan haar gewees het, in plaas van haar met ’n goedkoop flerrie te kul!” beskuldig Vera hom. “Ek het Cilla nie gekul nie.” “Wat het daardie Nadine dan in jou kamer gesoek?” Steve sug moedeloos. “Dis wat ek probeer uitklaar, as iemand my sal toelaat . . . Vriendskap is ’n goeie ding, maar ’n goeie ding word ’n slegte ding as jy dit oordryf.” Hy druk die kredietkaart en knipmes in sy sak en haal ’n geldnoot uit. “Hierso . . . Gaan koop vir jou ’n hamburger of parfuum, wat ook al die langste sal neem.” Vera ignoreer die geld. “Ek laat my nie omkoop nie. Kry asseblief die boodskap, kaptein Casanova: Cecilia is klaar met jou. Sy het ’n ander kêrel, standvastiger as jy, en met meer integriteit in sy pinkie as jy in jou hele lyf.” Steve se oë flikker. Vir ’n oomblik lyk hy onseker, maar hy laat hom nie van stryk bring nie. Hy skud weer die geldnoot. “Gaan koop dan ’n nuwe deurslot. Ek sal hom kom aansit as ek terug is. Dié een is niks werd nie. As ek met ’n stuk plastiek die Yale kon oopkry, kan enige skelm met ’n skroewedraaier dit doen.” “Ek gaan Cielie nie alleen los nie,” stribbel Vera teë. Steve bedwing homself. “Bly uit ons sake, Vera. Dié ding is tussen my en Cilla, en dis beter as ons dit oplos sonder die inmenging van ’n derde persoon.” Hy druk die noot by die hals van haar rok in, draai haar regsom en marsjeer haar voordeur toe. “Moet nou nie moeilik wees nie. Ek sal in Frankfurt vir jou ’n schnitzel koop, of paella in Madrid. Wat ook al jy wil hê.” Vera hou aan die kosyn vas. “Ek kan my eie kos koop.” “Ek weet. En daar’s stringe kêrels wat toustaan om jou vir ete uit te neem. Met reg, want jy’s ’n oulike bloeiseltjie, en as ek nie verloof was nie, het ek self vir jou geval. Maar asseblief, skattebol, loop nou en moenie gou terugkom nie. Dis vir Cilla se eie beswil dat jy ons kans gee om die saak uit te stryk. ’n Kwartier is nie te veel gevra nie, of hoe?”
Cecilia weet wat die resultaat sal wees. Min meisies is bestand teen Steve as hy die sjarmekrane oopdraai, ondanks hul beste voornemens. “Vera, bly hier! Ek wil nie met hom praat nie,” keer sy. “Daar’s niks meer om te sê nie.” Vera stap deur toe. “Ek weet. Maar jy kan nie aanhou weghardloop nie, Ciel. Een of ander tyd moet julle twee hierdie ding finaal begrawe, al is dit net om die hoofstuk in jou lewe af te sluit en die boek toe te maak. Dis nie dat ek jou drop nie – ek gaan nie ver weg nie, en ek het my sel by my. Bel as jy my nodig het, ek sal dadelik kom.” Vera is reg, besef Cecilia toe sy uit is. Weghardloop is lafhartig. Sy het van meet af geen verweer teen Steve gehad nie; hy kon haar moeiteloos om sy pinkie draai. Sy het soos ’n jellievis vir hom geswig en al sy stories gesluk: hoek, lyn en sinker. Maar genoeg is genoeg. In hierdie nuwe fase van haar lewe is dit tyd om vas te skop en haar man te staan. Steve trek vir haar ’n stoel by die eetkamertafel uit. “Kom sit, asseblief. En luister – objektief en sonder om my in die rede te val.” “Jy het nie tyd vir sit nie; jy moet ry.” “Cilla,” sê hy afgemete, “sal jy maak soos ek sê?” Sy kies haar eie stoel aan die oorkant van die tafel en neem stelling in op die voorste puntjie, haar rug regop en ontoegeeflik. “Hoe voel jou hand?” wil sy weet. “Dis nie belangrik nie.” “Jy kan nie só gaan vlieg nie. Dit bloei. Moet ek dit ontsmet en ’n pleister opsit?” “Nee,” keer hy ongeduldig. “Ek sal op die lughawe iets kry.” Hy gaan sit oorkant haar, leun met sy elmboë op die tafel en kyk na haar met ’n soort uitdrukking wat sy nie kan peil nie. Is dit frustrasie? Moedeloosheid, gemeng met ’n onverwagte tikkie weemoed? As hy aan haar raak, aan haar hand of haar arm, of selfs net glimlag, gaan sy hom alles vergewe – vir hom sê dit maak nie saak as hy ander nooiens het nie,
solank hy háár ook liefhet. Al is dit net ’n bietjie, solank daar vir háár ook ’n plekkie in sy hart oorbly . . . En dan haarself agterna haat oor haar swakheid en gebrek aan selfrespek. Om een of ander rede dink sy skielik aan Melt Meiring. Omdat dit ’n soortgelyke situasie was oor die breedte van ’n tafelblad en hy haar ook so half peinsend aangekyk het? wonder sy. Of is dit omdat hy vanaf daardie heel eerste oomblik in die foyer dieselfde uitwerking op haar gehad het as toe sy Steve die eerste keer ontmoet het? ’n Instinktiewe bewustheid, ’n vooraf wete dat hierdie man diep spore in haar lewe en in haar hart gaan trap. Haar hart het met Melt ook teen haar ribbes gefladder, soos ’n duif wat wou uitkom. Wou vlieg – die wye bloutes in, al wag daar stormwinde wat hom van koers af kan dryf . . . ’n Wilde sensasie wat ’n tinteling deur haar laat bruis het, maar terselfdertyd ook waarskuwingsklokkies in haar onderbewuste laat lui het. Die kans is goed dat sy Mlala Lodge nooit weer sal sien nie. En dis seker beter so. Soos dit dalk ook beter sou gewees het as sy daardie fatale Maandagaand na Jupiter of Mars sou kon vlieg – of enige ander plek behalwe Las Palmas, op dieselfde Boeing 747 as die onweerstaanbare kaptein Steve de Villiers.
5
Steve vroetel in sy baadjiesak en haal Cecilia se verloofring uit. Hy rek om by te kom en sit dit voor haar op die tafel neer. “Ek was nie saam met Nadine Groenewalt onder die komberse, die lakens, duvet of wat ook al nie. Ek het langs die bed gestaan – albei voete op die grond en met al my klere aan – toe jy ingestap het.” Lángsaan? Dit was so ’n skok, so ’n pynlike ontnugtering, dat Cecilia die toneel in die Hotel Fiori in Rome onbewustelik uitgeblok het. Sy dwing haarself nou om die herinnering terug te roep en die toneel te rekonstrueer. Steve is reg oor al sy klere, moet sy teësinnig toegee. Die prentjie wat in haar gedagtes vorm aanneem, is van hom in ’n paar denims en ’n oorhanghemp, met drafskoene aan. Maar dit bewys niks. Daar was nog baie tyd, twee tot drie ure, voor vertrektyd. “Ek onthou dat Nadine half kaal was en dat jy oor haar gebuig het, met albei haar arms styf om jou skouers.” “Soos ek haar gedra het, ja. Sy was slap en ’n absolute dooie gewig. Ek het gesê sy moet om my skouers vashou, want ek was bang ek laat haar val. Wat haar verdiende loon sou gewees het – ek moes haar net daar in die gang laat lê het om haar roes af te slaap.” Cecilia frons onbegrypend. “Het jy haar gedrá?” “Sy kon nie twee treë op haar eie loop sonder om te slinger nie.” “Hoekom? Was sy siek?” “Siek?” Steve is ergerlik. “Siek aan wingerdgriep, ja.”
“Ek dag jy het gesê sy was duiselig?” “Die vroumens se kop het gedraai, sy was naar en op die punt om om te kap. Wat jy gesien het toe ek oor haar gebuk het, was nie dat ek besig was om haar te soen of iets nie. Allesbehalwe! Ek was besig om haar gesig met ’n nat handdoek af te vee. Sy het glo al van vroegaand in die hotelkroeg gekuier. Sy het te veel gedrink, een dop na die ander ingeryg, en toe amok gemaak.” “Was jy by? Het julle saam gesit en drink?” Die verkeerde vraag om te vra . . . Steve frons. “Genugtig, Cecilia, wat dink jy van my? Drie ure voor vliegtyd? Ek het geslaap – soos enige regdenkende mens. Dit was vyfuur die oggend en ’n lang vlug huis toe het voorgelê. Een van die vlugkelners het toevallig by die kroeg verbygestap en Nadine daar binne gesien. Hy het haar probeer kalmeer, haar probeer oorreed om te gaan slaap, maar sy was opstroppelis en luiddrugtig. Hy het die hoofkelner gaan roep, maar Nadine was só gekletter, sy wou niks weet nie. Sy het glo daar rondgedans terwyl sy van haar klere begin ontslae raak het. Hulle het nie geweet wat om te doen nie en het my gebel. Dit was tog logies, want ek was haar bevelvoerder en verantwoordelik vir die bemanning se welstand. Ek word ’n salaris betaal om sulke probleme op te los en die vliegtuig in die lug te hou.” “En met ’n keuse van ’n honderd ander beddens in die hotel, kies jy toe om haar juis na die een in jóú kamer te dra?” Cecilia is nie beïndruk nie. “Oplossing van die probleem?” “Ek het aan Lugdiens se goeie naam gedink en wou nie die toestand van een van Jakaranda se lugwaardinne aan die buitewêreld adverteer nie. In my kamer kon ek ’n oog oor die vroumens hou, haar vol swart koffie pomp en probeer om haar nugter te kry voor sy moet gaan werk.” “ ’n Mooi storie, wat ’n gelukkige einde sou gehad het as ek nie op die verkeerde plek op die verkeerde tydstip ingestap het nie.” Cecilia is skepties. Sy stoot die diamantring ’n entjie weg, na die middel van die tafel toe. Niemandsland . . . “Ek moes seker eers geklop het, maar die deur was halfpad oop en ek het gedink ons ken mekaar mos darem goed genoeg . . . Blykbaar was ek verkeerd. Ek het jou hoegenaamd nie goed genoeg geken nie.”
“Dink jy ek sou so dom gewees het om die deur oop te los as ek van plan was om saam met die vroumens te slaap?” “Nee,” gee Cecilia toe. “Seker nie.” “Natuurlik nie!” korrigeer hy en kyk vlugtig op sy horlosie. “Ek het nie geweet jy was op die noordwaartse vlug en dat ons in Rome sou oorvleuel nie, anders het ek ’n boodskap by ontvangs gelos dat jy my moes wakker maak. Al was dit net vir vyf minute . . . Ek het verlang en sou jou graag wou sien.” “Ek ook, dis hoekom ek gou wou inloer . . . Die Rome-vlug was ongeskeduleer. Ek was op noodbemanning en moes instaan vir Myra de Klerk, wat glo haar enkel gebreek het.” Steve kyk weer op sy horlosie. “Ek moet ry! Ek kan verstaan dat jy omgesukkel was, hartlam, en ek is jammer, maar ek is bly ons het die ding nou uitgepraat.” Hy soek sy motorsleutels, gryp sy pet en plak dit op sy kop. Half skuins oor sy regteroog soos sy gewoonte is, soos toe sy hom daardie eerste keer in die stuurkajuit gesien het, dink Cecilia. Soos toe sy halsoorkop malverlief op hom geraak het en geweet het daar sal nooit weer ’n ander man vir haar wees nie . . . “Ek skuld jou, poplief, en ek sou graag wou bly om te vergoed, maar as ek nie nou voet in die hoek sit lughawe toe nie, sit jou aanstaande eggenoot sonder werk.” Hy staan op en trek haar nader, gee haar ’n vinnige voel en ’n soen. Halfpad uit by die deur draai hy om en kom terug. Hy stoot sy pet agtertoe en sit sy sleutels neer. Sy hande gly om haar skouers en hy kyk na haar met half versluierde oë. Cecilia ken daardie kyk. Dis Steve se oplossing vir enige dispuut, wetend sy kan hom nie weerstaan nie en sal telkens maar weer swig. Sy wriemel los en druk haar hand teen sy bors om hom op ’n veilige afstand te hou. “Nee, Steve!” keer sy. “Nie nou nie . . . Ek is nie in die luim nie. Los my!” Hy steur hom nie aan haar nie. Hy vang haar hand in syne en koester haar palm teen sy lippe. Sy arms skuif om haar rug om haar lyf stywer teen syne vas te druk. Hierdie keer soen hy haar langer, dwingend, met sy lippe warm teen hare
en sy tong wat proe-proe aan die soet geheime van haar mond. ’n Gloed stoot brandend teen haar maag op, vanuit sy koorsige lyf. Sy vingers soek oor haar nek en keel, vind die toutjie van die ritssluiter en trek dit oop tot by haar naeltjie. Voor sy kan wegbeur, kelk sy hande om haar bra. Hy soen haar borste een vir een, talmend en liefkosend. Sy asem rasper in sy keel en ’n kreun sidder deur hom . . . Dan, net so vinnig as wat hy haar vasgegryp het, laat hy haar gaan. Hy blaas sy asem hortend uit en gee ’n wolwefluit. “Sjoe, dolla, weet jy wat jy aan my doen? Jy maak al twintig duiwels in my wakker. Ek het lus vir jou . . . en vir lekkerder dinge as om nou te gaan werk.” Hy vryf met sy baadjiemou oor sy gesig om tot verhaal te kom. Dan skuif hy sy pet reg en neem sy sleutels. “Ek moet gaan. Lief jou, Cilla, baie-baie en altydaltyd. Dra jou ring en sit als op die ys. Ons trou steeds, net bietjie later.” Hy blaas ’n soentjie in haar rigting en draf deur toe. Sy hoor hoe hy die trappe vinnig afhardloop. Cecilia rits haar sweetpak toe en vryf haar gewrig haar mond, asof sy die herinnering aan sy lippe teen hare kan uitwis. Sy warm asem, sy keel en sy hande oor haar lyf . . . Fisiek kon Steve nog altyd ’n vuur in haar aansteek. ’n Intieme glimlag oor die rand van ’n koffiekoppie, die vryf van sy kneukels oor haar wang, ’n knipoog midde-in ’n skare mense . . . Sommer ’n klein, onbenullige gebaar – en sy word ’n willose lappop in sy hande, om mee te doen wat hy wil. Maar is fisieke aantrekkingskrag genoeg fondament om ’n permanente verhouding op te bou? Almal sê daar kom ’n tyd wanneer die liefdesdrange in ’n roetine afplat, in die rustige samesyn van die getroude lewe. Dan begin ander dinge belangrik word: dinge soos standvastigheid, kameraadskap, waardering en lojaliteit. Dan verwag ’n vrou meer van haar man as om net ’n bedrewe minnaar in die slaapkamer te wees. Die lyflike vreugdes is belangrik, want dis die gom wat die verhouding aanmekaarhou. Maar dis nie eerste prioriteit in ’n huwelik nie. Jou man moet ook jou beste vriend en steunpilaar wees. Jou trooster as jy siek voel, of moeg is, of sommer net vasgehou en gekoester wil wees. Die sensuele toets slaag Steve de Villiers met vlieënde vaandels. Sy sal ’n wittebrood hê om van te droom, mee te spog, oor te bloos . . . en boeke vol oor te
skryf. Maar wat as die blinkheid en nuwigheid afskuur? Die sellofaan van die wonder van pasgetroud wees afgehaal word en die wittebrood verby is? Sal hy daar wees as sy hom nodig het om geestelike onderskraging te bied? Sal hy die soort verantwoordelike pa wees wat sy vir haar kinders wil hê? Dit was die eerste keer in hulle verhouding dat sy onwillig was toe Steve haar wou soen. Die eerste keer dat sy hom geweier het en gewys het sy is nie net ’n satelliet van hom nie, maar ’n mens in eie reg, wat onafhanklike besluite kan neem. Al het sy nie veel bereik nie, is sy nogtans trots op haarself. Een klein treetjie, maar ’n groot stap in die rigting van selfstandigheid. Cecilia se gedagtes het hul eie pad geloop. Teen die tyd dat sy by die venster gaan uitkyk, is sy net betyds om die Porsche se agterligte aan die onderpunt van die straat te sien verdwyn. Aanstaande eggenoot, het hy gesê. Sit jou ring aan, en als op die ys. Ons trou steeds. Is hy só seker van haar? ’n Ruiker blomme, ’n kaartjie, ’n klompie gladde verduidelikings, ’n ievolle omhelsing en hy aanvaar alles is reg. Probleem uitgepraat. Misverstand opgelos. Alles te gerieflik en te maklik. Dit was Steve se kant van die storie. Nadine Groenewalt en die kelners het dalk ’n totaal ander weergawe van wat gebeur het. Haar vrese maal opnuut deur haar kop. Wat as sy nie onverwags opgedaag het en hom tot besinning geroep het nie? As hy toegelaat het dat sy kliere aan sy rede voorskryf? Nadine is ’n wulpse seksbom, ’n regte Delila wie se gawes min mans sal weier. En soos Vera gesê het, is die donkerkop-kaptein met die skuins pet, die warm mond en wil-jou-hê-oë kookwater. Sy is nie die enigste vrou wat hom verleidelik vind nie. Is hy van die soort stoffasie gemaak om versoekings wat blatant op ’n skinkbord vir hom aangebied word te kan weerstaan? Sy neem haar verloofring, ’n tweekaraat-solitaire geset in witgoud, met ’n kring granaatstene rondom. ’n Lieflike ring en ’n fortuin werd . . . Sy soek ’n snesie, vou die ring daarin toe en bêre dit in ’n veilige hoekie onderin haar tas. Toe sy voetstappe in die gang hoor, is haar eerste gedagte dat dit Steve is. Steve wat onthou het van die belangrike dinge wat ongesê is . . .
Maar dis Vera. Cecilia weet nie of sy teleurgesteld of verlig is nie. Haar vriendin sit twee pizzas en ’n bottel wyn op die eetkamertafel neer en oorhandig ’n boks sjokolade aan Cecilia. “Vir jou, met komplimente van jou eks.” “Vera!” raas Cecilia. “Jy kan nie arme Steve se geld so mors nie.” “Hoekom nie? Hy het nie gesê hy wil kleingeld hê nie. ‘Arme’ Steve het baie geld om te brand. Soos hy rubber gebrand het netnou hier in die pad af, snelweg toe. Hy het my nie eens by die verkeerslig sien staan nie. Daai Porsche gaan ’n nuwe rekord opstel: twintig spoedkaartjies op ’n streep tot by die lughawe. Môre is hy in die koerant. Of in die tronk.” Sy begin sit borde, messe en vurke reg. “Daardie bloed by die voordeur – is dit joune of syne?” “Bloed?” vra Cecilia verward. “Spatsels, teen die kosyn. Wat het gebeur? Wie het vir wie bloedneus geslaan?” “Ek wou, maar ek het my bedwing. Ek dink dit was sy hand, die kneukels was stukkend. Ek wou dit ontsmet, maar hy was te ongeduldig.” “Frustrasie, befoeterdgeit of om simpatie te wen?” Vera is min gepla. “Toemaar, jou held sal nie doodgaan nie. En hopelik leer hy daaruit om in die toekoms sy hande van ander vroumense af te hou. Het hy uitgevra na die ander kêrel, die een standvastiger en met meer integriteit as hy?” “Hy was haastig, en hy’t te veel ander dinge gehad om aan te dink,” skerm Cecilia. “Het hy gevra of jy bereid is om jou bedanking terug te trek?” “Nee.” “Het hy verduidelik hoekom hy Nadine nie na een van die ander lugwaardinne se kamers geneem het nie? Daar was nege ander waardinne. Dit was mos nie nodig dat juis hý haar moes lawe nie.”
Nee, dink Cecilia. Hy het nie regtig verduidelik nie. Ook nie waarom hy blykbaar nie haastig was om Nadine se arms om sy skouers los te maak en vir die flerrie klere aan te kry nie . . . “Steve is te seker van jou, en van homself. Hy dink seker jy is ’n pampoen.” Vera haal ’n kurktrekker en glase uit terwyl sy Cecilia krities beskou. “Ek hoop nie jy gaan weer ’n jellievis wees wat na sy pype begin dans die oomblik wat kaptein Hot Pants sy vingers klap nie,” sê sy. “Jy het jou les geleer, vriendin. Moenie sy stories sluk en hom jammer kry of toelaat dat hy op jou gevoel speel nie. Anders was al jou opofferings verniet en gaan jy net weer van vooraf seerkry. Mans is almal dieselfde – al rede hoekom hulle verskillende gesigte het, is sodat jy hulle uitmekaar kan ken.” Teen haar sin kry Cecilia lag. Vera is goed met salf smeer en pleisters plak. “Dis nie meer die Middeleeue nie,” vermaan sy. “Die tyd toe ’n vrou onderdanig ja en amen geantwoord het op alles wat haar heer en meester sê, is verby. ’n Vrou is ’n volwaardige individu met ’n eie mening, ’n brein wat kan dink en ’n stem wat gehoor moet word.” “Ek stem!” Cecilia neem ’n hap pizza en lig haar glas. “Op die moderne, geëmansipeerde vrou!”
6
Cecilia is weer besig om pasta te maak, dié keer vir haar en Melanie, toe die telefoon ’n paar dae later lui. “Sal jy antwoord?” skree Melanie vanuit die kamer. “Ek is besig om my naels te verf.” Seker weer Wikus of Robert of Charl, vir Vera, dink Cecilia. Mans hou blykbaar van hardgebakte, bevryde vroue. Steve was reg: hulle staan tou om Vera fliek toe te nooi, Kyalami toe, Drakensberge toe; vir ’n braai, ’n sokkie, ’n swem, of wat hulle ook al kan bedink. “Juffrou Louw?” verneem ’n vrouestem wat vaagweg bekend klink, saaklik en nie juis vriendelik nie. “Cecilia Louw wat praat, ja,” antwoord sy. Is dit die Vrystaatse dagblad wat vir ’n proefleser geadverteer het? Of die werwingskantoor vir au pairs in Amerika? Sy is so desperaat, sy sal enigeen van die twee aanvaar. “Hou aan vir meneer Meiring,” versoek die stem. Die assosiasie skop skielik in: witkop, halfmaan-wenkbroue, pêrel-oorbelle. Cecilia klem die gehoorbuis vas. Hy sal nie bel net om te sê haar aansoek het nie geslaag nie . . . Of sal hy? Dalk soek hy ’n getuigskrif, of ’n verklaring van Binnelandse Sake dat sy nie ’n tronkrekord het nie en dat haar belasting betaal is. “Hallo, Cecilia?” klink sy stem in haar oor, warmer en dieper as wat sy dit onthou. ’n Tinteling spiraal teen haar ruggraat af, sodat haar knieë skielik soos gesmelte kerswas word en sy ’n stoel moet naderhaak om te gaan sit. “Ja?” Sy is vies omdat sy so uitasem klink, asof sy pas die Comrades gehardloop het.
“Melt Meiring hier, van Mlala Lodge.” “Goeiemiddag, meneer Meiring.” “Hoe gaan dit met jou?” vra hy vriendelik. “Dit hang af . . .” antwoord sy eerlik. “Waarvan?” Sy byt op haar onderlip. “Van die . . . e . . . rede waarom u gebel het.” Hy lag, en nog ’n assosiasie vorm in haar gedagtes. Strepiesgebleikte blonde hare, effe langer as Steve s’n, kuiltjie in die ken en blink sjampanje-oë. Sy bloos opnuut by die gedagte aan haar arms om sy nek en haar lyf teen syne. Hoe op aarde kon sy haar verbeel het hy is haar broer? Die man smokkel met haar kop. “Ek weet nie of dit goeie of slegte nuus is nie. Die rede hoekom ek bel, is om te sê ons sal jou graag wil aanstel as jy nog in die pos belangstel. Of het jy reeds ander werk aanvaar?” Cecilia is terug in die Comrades, behalwe dat sy nou genoeg krag het om Polly Shorts volspoed uit te hardloop. Sy moet haarself maan om rustig te reageer. “Dis goeie nuus. Baie dankie vir die vertroue in my. Ek stel steeds belang, ja, en ek het nog nie ander werk aanvaar nie.” “Wanneer kan jy begin?” “Enige tyd wat geleë is.” “Maandag?” Dis bietjie gou . . . Sy maak ’n paar vinnige somme. Daar is nie veel om te pak nie, ’n paar briewe om te skryf, ’n klompie banksake om af te handel en rekeninge om te betaal. Haar motor moet versien word, en sy sal moet reël vir veilige stoorplek vir haar meubels, veral die klavier. Die Bechstein is ’n familie-erfstuk, ’n kosbaarheid na aan haar hart; dit mag nie skade kry nie. Sy kan Saterdag haar skilderye, boeke
en los goed by Steve se huis gaan haal en Sondag ry – voor hy terug is van sy vlug. Vera kom eers Maandagaand van Mauritius af en hulle sal mekaar misloop, maar dis nie die ergste nie. Sy kan later by die Lodge kom kuier as sy ’n paar dae vry het. “Maandag sal reg wees, meneer Meiring.” Die koerantadvertensie het gemeld dat salaris onderhandelbaar is, maar hy noem ’n bedrag wat haar verwagting oortref. “Die vergoedingspakket sluit in ’n mediese en pensioenfonds, ’n dertiende tjek en vyftien werksdae verlof per jaar, asook losies in die vorm van ’n gemeubileerde eenslaapkamer-chalet. Dis selfsorg, maar etes is beskikbaar in enige van die restaurante, met afslag vir die personeel. Dit geld ook vir die skoonheidsalon en klereboetiek.” Laasgenoemde sal welkom wees, mits die boetiek nie astronomiese pryse vra nie. Vyf jaar van uniform dra het haar bederf. Sy het ’n hand vol baadjiepakke en ’n klompie meng-en-pas-stukke van goeie gehalte, maar verder bestaan haar klerekas uit denims, kortbroeke, tops en tekkies. Nie eintlik geskik vir die skakelbeampte van ’n vyfsterhotel nie. Onverwags trek haar keel toe. Waarvoor op aarde laat sy haar in? Is sy oorversekerd en voortvarend, of gewoon domastrant? “Enige vrae?” wil hy weet. “Dinge waaroor jy uitsluitsel wil hê?” “E . . . nee.” Dit hoef nie vir altyd te wees nie, troos sy haarself. Sy kan ’n maand kennis gee as die werk haar nie geval nie. Haar ma sê altyd sy is impulsief, en sy wil nie weer ’n oordeelsfout maak nie. Haar hele toekoms is immers op die spel. As sy nou vir Melt Meiring ja sê, is haar troue van die baan, dit besef sy goed. Dan eindig die Steve-hoofstuk finaal. Dan maak sy nie net die boek toe nie, maar ook die deur van versoening tussen hulle. Het sy finaal gekies, en is dit die pad wat sy wil hê haar lewe moet loop? “Of wil jy eers daaroor nadink en my môre laat weet?” stel Melt rustig voor.
Soos sy tydens die onderhoud gesê het, is lugwaardin-wees ’n limbo-stadium en nie ’n loopbaan nie. Dis tyd om nuwe horisonne te ontdek, en Mlala Lodge is die kans van ’n leeftyd . . . Elke afskeid is ’n kleine dood, het ’n wyse eenkeer gesê. Iewers, êrens sal daar altyd ’n stukkie van Steve agterbly. In die stuurkajuit van ’n 747 waar hy omgekyk en vir haar geknipoog het . . . Op Las Palmas toe hulle in die branders gestaan en roomys eet het en hy haar ’n koue, nat soen gegee het sodat sy die vanieljegeur op sy tong kon proe. Agterop ’n bromponie in Rome, met haar arms styf om sy lyf en haar wang teen sy breë rug. En in die sneeu bo-op die Jungfrau, toe hy ’n geel skibaadjie aangehad het en haar gevra het om met hom te trou. Sy het hom so lief gehad . . . “Bespreek dit met jou ouers en hoor wat jou pa dink,” stel Melt voor toe die stilte te lank rek. “Asseblief, ja,” antwoord sy. “Ek sal, en u vroeg môreoggend laat weet.” Aan sy stem kan sy hoor hy glimlag. “In die haak.” As uitvoerende bestuurder by ’n internasionale hotelgroep beskik hy sekerlik oor ervaring en mensekennis, redeneer Cecilia toe sy die gehoorstuk neersit. As hy reken sy kan die werk doen, dan kán sy. Melt Meiring is nie ’n draak en ’n monster nie. Die meisie by die gastehuis het hom verkeerd opgevryf, of dalk was dit ’n geval van suur druiwe omdat sy geweet het sy sal nie die werk kry nie. Steve self is immers ook geen engel nie. Al kon hy haar die vorige aand die maan en die sterre belowe, sou hy maklik die volgende dag op die vliegtuig in haar keel afklim as daar te veel handbagasie op die rakke was, of as asiers se sitplekgordels nie vas was nie, of selfs as daar net ’n halflepel suiker te min in sy koffie was. Miskien ís Melt soms moeilik, soos enige baas maar is wanneer sy vrou met hom baklei het, sy kop seer is of as hy met die verkeerde voet uit die bed geklim het. Maar haar intuïsie sê vir haar hy sal nie dwars en moedswillig of onredelik wees nie. Hulle sal goed saamwerk, en selfs later goeie vriende kan word. Die gedagte maak haar vreemd opgewonde, sonder dat sy weet hoekom. “Wie was dit wat gebel het?” roep Melanie vanuit haar kamer.
Cecilia gaan sit by haar op die voetenent van die bed. “Wens my geluk: ek het ’n jop!” Melanie verf haar laaste pinkie en beweeg haar vingers op en af soos ’n dwergie wat klavier speel. “Die Vrystaat is te koud in die winter, jy gaan verkluim.” “Ek gaan nie Bloemfontein toe nie.” “En Amerikaanse kinders is horribaal. Jy is nie net kinderoper nie, jy moet ook was en stryk, teen ’n hongerloon, met een dag ’n maand af.” Cecilia lag. “Ek gaan ook nie au pair nie. Ek gaan skakel!” “Telefoniste op ’n skakelbord?” “Kom by! Mlala Lodge!” Die bolaag op haar vingers is winddroog en Melanie begin haar toonnaels verf. “Ek weet die sitkamerbank is vol hobbels, maar ons kan ’n uitskopbed koop, dan het ons beter slaapplek vir jou. Jy is regtig welkom om te bly so lank soos jy wil. Dis nie nodig dat jy uit desperaatheid jouself tot doer in die bekveld gaan begewe en malaria kry nie.” “Dis nie in die bekveld nie! Die Lodge is net buite Nelspruit, naby Kruger Mpumalanga Lughawe, en ’n uur se ry van die Wildtuin af. Dis ’n enorme vyfsterhotel met restaurante, swembaddens, winkels, ’n casino en sy eie gholfbaan.” “Hoekom praat jy dan van ’n lodge? ’n Lodge is ’n herberg, soos in kinderverhale – in ’n woud, met ’n herbergier en donkies en ganse.” “Dis ter wille van oorsese besoekers, en Mlala is ’n Afrika-woord, soos ‘boma’ en ‘lapa’. Die hotel is ingestel op toeriste wat invlieg om te dobbel, in die son te lê of dagritte wildtuin toe te doen om die Groot Vyf te sien.” Melanie begin belangstel. “Vera het gepraat van ’n ou daar vir wie jy glo die hots het. ’n Ryk Amerikaner of iets?” “Ek het g’n die hots vir hom nie!” sê Cecilia verontwaardig. Melanie is ’n gawe vriendin, maar sy is net op mans en geld ingestel.
“Dankie vir die aanbod van die uitskopbed, hoor, maar dis tyd om aan te skuif,” sê sy. “Ek het lekker gebly en sal julle mis. Jy en Vera moet kom kuier – kom detox met ’n sitrusdieet in die skoon Laeveldse lug, ontstres met ’n sauna, aromaterapie, velmasserings, ensovoorts.” “Klink salig . . . Wat van Steve?” “Wat van hom?” vra Cecilia op die verdediging. “Moet jou nie deur Vera laat breinspoel nie. Jy is baie preuts. Wat hy gedoen het, was verkeerd. Maar een misstap is nie die einde van die wêreld nie. Steve is ’n super ou. Gaan jy nie later besluit dit was ’n fout en jy wil hom terughê nie?” “Ek weet hy is ’n super ou. Maar ek wil nie met hom trou nie.” “Is jy seker?” “Ja.” “Wat gebeur as jy besluit om hom te vergewe?” “Hoe bedoel jy: wat gebeur?” “Gaan julle opmaak?” Cecilia kyk hoe Melanie die botteltjie naellak versigtig toedraai en haar tone op en af wikkel terwyl sy haar onderlangs dophou. Sy begin lag. “Hoekom vra jy, Mel? Wil jy hom graag erf?” Melanie hou haar onskuldig. “Ek krap nie in my vriendinne se slaai nie. Maar as jy seker is jy gaan nie terugkrabbel en arseen in my koffie gooi nie . . .” “Jy kan hom kry. Vat hom,” bied Cecilia aan. “Jy het my toestemming. Dop hom om, druk hom plat en vry hom uit sy sokkies uit. Hy sal dit geniet, en ek sal nie ’n oog knip nie.” Melanie se babablou oë is wydgerek. “Genuine?” Cecilia ignoreer die slangetjie in haar binneste wat sy kop oplig en ’n vurktong uitsteek. Jaloesie? Is dit die besitlikheid waarna Melanie verwys het, wat Nadine
wou vermorsel het en nou vir Melanie ’n giftige antwoord wil gee? Wil sy dan haar brood aan albei kante gebotter hê? Sy vryf ’n kreukel in die beddeken glad, tel ’n stukkie rafel van die mat af op en frommel dit tussen haar vingers. Toe sy opkyk, het sy haar gevoelens onder beheer. “Genuine, ja,” bevestig sy. Melanie wil doodseker maak. “Het jy dit duidelik aan Steve uitgespel dat dit geskiedenis is tussen julle?” “Honderd keer, maar hy weier om dit te aanvaar. Om dit behoorlik te laat deurdring, gaan ek vir hom ’n amptelike brief skryf waarin ek verduidelik presies hoe ek voel, en hoekom ek so voel. Ná alles wat tussen ons was, skuld ek hom dit. Ek kan nie sommer net oppak en padgee nie.” “Wil jy hê ek moet die brief vir hom gee?” Nie baie subtiel nie . . . “Nee dankie,” keer Cecilia. “Ek gaan Saterdag die res van my goed haal, dan sal ek die brief neersit op ’n plek waar hy dit sal sien.” Saam met haar verloofring, besluit sy. Dis die ordentlike ding om te doen – om die juwele wat hy vir haar gekoop het terug te gee. “Weet hy jy het in Nelspruit aansoek gedoen vir werk?” “Nee,” erken Cecilia kortaf. “Die nuus gaan vir hom ’n skok wees. Hoekom het jy hom nie gesê nie?” Cecilia sug. “ ’n Lang lys redes . . . Omdat ek te kwaad was vir hom. Omdat ek weke lank nie met hom gepraat het nie. En omdat hy oudergewoonte weer sou geflip het en my gestoomroller het. Laas toe ek hom gesien het en ons wel gepraat het, was daar nie tyd nie, want hy was laat vir sy vlug.” Voor Melanie verder kan uitvis, staan sy op. “Ek is moeg om oor Steve te tob. Ek gaan my klere uitsorteer, sodat ek nie Maandag met ’n tas vol vuil wasgoed by die hotel aankom nie.”
Toe Cecilia verby die kombuis stap, is sy net betyds om die kastrol spaghetti te red voor dit weer ’n gitswart offerande word. Die bolognaise-sous prut vreedsaam en lyk soos die prentjie by die resep. ’n Teken dat haar sterre ophou bots het en dat die gode haar goedgesind is? Sy voel sommer minder angstig. Terwyl die wasmasjien sy jop doen, maak sy ’n vinnige groenslaai. “Ons eet so teen agtuur!” roep sy in die gang af. “Ek moet nog my pa in Madrid bel, en my ouma op Brandfort. Daar is hordes goeters om te doen, maar eers gaan ek bad. Ek belowe ek sal nie al die warm water vat nie.” “Vat wat jy wil, en vat jou tyd,” bied Melanie vrygewig aan. “En skryf neer wat alles in Steve se brief moet staan, sodat jy nie driekwart vergeet nie. Sorg dat hy die boodskap kry – hard en duidelik.”
In die daaropvolgende paar dae – van Woensdag tot Sondag – het Cecilia Melanie se raad gevolg, al was haar vriendin se voorskrifte hoofsaaklik selfgesentreerd en op haar erfporsie gefokus. Sy het lyste gemaak van wat om te onthou en wat om te doen, doodgetrek wat afgehandel is en onderstreep wat belangrik is. Bo-aan die lys was: Bel Melt Meiring en Skryf lang brief vir Steve. Sondagoggend, op die N4-snelweg verby Middelburg met haar ongedienste, oorlaaide motor, tik sy die items wat afgehandel is op haar vingers af: Vervoerkontrakteur en stoorplek vir die Bechstein. Rekeninge, bankbestuurder en droogskoonmakers. CD’s, boeke en skilderye. Sleutels, ring en brief vir Steve, duiwekos vir Vera, sjokolade vir Melanie omdat sy ongeduldig met haar was toe Melanie haar kort-kort met skimpe aan die brief herinner het. Cecilia sou graag Woensdag toe sy teruggebel het met Melt Meiring self wou praat, maar hy was in ’n vergadering. Sy witkopsekretaresse het nie opgeklits geklink met die idee dat hulle kollegas gaan word nie, maar het darem onderneem om die boodskap vir haar baas te gee. Daar was nie tyd om haar motor te laat versien nie, en sy is boonop reeds te diep in die rooi met haar oortrekkingsfasiliteit. Oom Lotz by die garage op Witrivier is ’n ou vriend van haar pa, en sy sal haar tjor na hom toe neem sodra sy haar
eerste salaris en ’n oop dag het. Haar pa was positief oor die nuwe werksvooruitsigte, en haar ma verlig omdat haar dogter weer koers kry. Ouma Klara wou weet wat nou van die aanvallige kapteintjie. Is dit nou vir ewig verby tussen hulle? So ’n aansienlike en innemende jongman . . . En haar trourok? Sal sy dié kan afknip en kerk toe dra, of gaan sy hom bêre? Vir wat? het Cecilia sinies gewonder. Daar is geen manier waarop sy ooit in kant en satyn voor ’n kansel gaan staan nie. Nie langs Steve de Villiers of enige ander mansmens nie. Tot by Waterval-Boven herleef sy die brief wat haar Vrydagaand tot ná middernag geneem het om te skryf. Eerstens ’n paragraaf vol dankies vir die mooi en goeie tye, en dat hy met haar wou trou. Dis ’n eer en ’n kompliment as ’n man bereid is om die res van sy lewe saam met jou deur te bring. Tweedens ’n paragraaf vol jammers omdat sy nie kans sien om met die troue voort te gaan nie. ’n Huwelik is ’n vennootskap wat op respek en wedersydse vertroue berus, en as die vertroue geskend is, is daar geen fondament om ’n gesonde verhouding tussen ’n man en vrou op te bou nie. Indien die lewenswaardes en prioriteite te radikaal verskil, verg die geestelike aaning te veel van die onderskeie huweliksmaats, en uiteindelik ly die verhouding skipbreuk. Soos in hulle twee se geval gebeur het . . . Ook ’n jammer omdat sy hom nie van die werk op Nelspruit vertel het nie, maar sy het nie verwag haar aansoek sal slaag nie. Sy sou hom graag persoonlik wou groet, maar dis miskien makliker só, eerder as ’n uitgerekte afskeid wat tot rusies en verwyte kon lei en afbreuk kon doen aan die mooi herinneringe tussen hulle. Paragraaf drie was praktiese sake en dus makliker. Sy het dominee Bothma ingelig dat die troue afgestel is, en het die spyseniers laat weet dat die onthaal gekanselleer is. Dieselfde geld ten opsigte van die blomme en troukoek. Vir haar rok was dit te laat, sy sal dit maar adverteer en verkoop. Hy kan die gordyne en linnegoed hou, sy het geen nut daarvoor nie. Die skilderye, boeke en CD’s wat sy gevat het, is hare. Behalwe die Pavarotti – daarvan is sy nie seker nie. As dit syne is, moet hy laat weet, sy sal dit terugstuur. Hy moet onthou van komende Vrydag se tandartsafspraak, sy ma se verjaarsdag die dertigste en om Vera-hulle se voordeurslot te vervang. Daar is maalvleis in die vrieskas vir die rondloperkat.
En sy kry nie haar swart rolnektrui nie – weet hy dalk waar dit is? As hy daarop afkom, sal hy dit asseblief vir Vera gee om saam te bring as sy kom kuier? Sy het niks van Nadine gerep nie. Sy het afgesluit met beste wense vorentoe; sy hoop hy vind die geluk in die lewe wat hy verdien. Lomp en onbeholpe . . . Langs die brief het sy sy denimhemp neergesit wat per ongeluk in haar tas beland het die aand van die uitbarsting, toe sy halsoorkop haar klere in ’n tas gegooi het en by Vera-hulle ingetrek het. Bo-op die hemp het sy haar voordeursleutel neergesit en haar verloofring, met ’n nota: Dankie vir die leen daarvan. Ek het groot vreugde uit albei gekry in die tyd toe hulle myne was. Die sentimentele uitweg van ’n lafaard? vra sy haarself nou af. Nee, dis beter as ’n konfrontasie en moddergooiery. Steve gaan sy top blaas, en dis veiliger om dan vyfhonderd kilometer ver op Nelspruit te wees. Op die lang duur sal hy saamstem dit was ten beste; hulle is teenoorgesteldes wat nie pas nie, twee harde klippe wat mekaar sal fynmaal en uiteindelik sal vernietig.
7
Toe Cecilia laatmiddag by Mlala Lodge se parkeerterrein indraai, rook die Golf soos ’n dieseltrekker, en die temperatuurnaald is dieper in die rooi as haar kredietkaart. Sy kan maar net hoop oom Lotz het ’n billike insleepdiens, en dat die skade niks erger is as ’n gebarste waterpyp nie. Of het ’n Volkswagen Golf nie waterpype nie? As sy geëmansipeer wil wees, sal sy dié soort dinge moet leer; vir haar ’n hamer en ’n skroewedraaier koop en leer om hulle te gebruik. As die marmerpilare en kristalkandelare van die foyer laas keer in haar swart Armani-pakkie intimiderend was, is dit veelvuldiger nou in haar gekreukelde denims en tekkies. Dit help dat die inligtingsklerk haar herken. “Cecilia Louw? Haai! Ek is Sue Bernard. Welkom hier by ons. Jy is in chalet 3, naby die hoofgebou. As jy jou motorsleutels vir my gee, sal ek reël dat jou bagasie afgelaai word.” Cecilia beduie waar die pakesel van ’n rookbom staan, vuil en stowwerig en verskonend in die agterste ry. “Dankie, Sue. Kan ek help?” “Dis nie nodig nie. Meneer Meiring het gevra dat jy dadelik opgaan na sy kantoor op die vyfde verdieping.” Dít het Cecilia nie verwag nie. Sy sou verkies het om eers te stort en vars klere aan te trek. Die hysbakke teen die oorkantste muur lyk soos gapende haaikake wat vir haar wag. Kan sy nie maar net hierdie een keer swak wees en haarself jammer kry nie? Nee, keer die stemmetjie in haar wat aan die nuwe Cecilia behoort – die onafhanklike en loopbaangerigte een, die een wat die brief neergesit het, die uitgekerfde houtvoordeur van Steve se huis agter haar toegetrek het en dapper weggestap het sonder om vir oulaas om te kyk. Selfbejammering is ’n afdraande pad, en sy is op die teenoorgestelde roete – berg-op.
Die wynrooi mat wat voor haar uitstrek, is erger as Kilimandjaro. Links van die motorhuurtoonbank is ’n deur wat na die brandtrap lei, onthou sy. Niemand kyk vir haar nie. Niemand sal sien as sy by die deur uitglip en met die brandtrap opklim na die vyfde verdieping nie. Nee! herhaal sy. Sy kyk nie links of regs nie en hou aan loop, in die haai se bek in; steek haar vinger uit na die wit knoppies wat soos tande lyk en druk nommer vyf. Die deure gly geruisloos toe. Die kabels ruk nie. Die neonlig teen die dak flikker nie en die hysbak beweeg gladweg in die skag op boontoe. Sy blaas haar asem rukkerig uit. Haar hande verslap hul krampagtige greep op haar skouersak. Sy sluit haar oë en laat haar kop teen die geëmbosseerde muurpapier rus. Sy het dit gedoen! Die keer ná die onderhoud was nie ’n vloekskoot nie. Hierdie is die tweede maal, en dis reeds makliker as die vorige keer. Later sal sy skaars besef sy is in ’n hysbak. Sue het Melt blykbaar laat weet dat hulle nuwe skakelbeampte gearriveer het. Toe die hysbakdeure oopgly en Cecilia uitstap, staan hy vir haar en wag, arms gevou en leunend teen die ontvangstoonbank. Dis Sondag, die witkopsekretaresse is nie aan diens nie en in die plek van ’n formele pak het hy ’n roomkleurige sportbroek en loshangende syhemp aan. Die dun wit materiaal span oor sy skouers en die toutjies deur die boonste knoopsgate is nie toegeryg nie, sodat daar in die oop nekgleuf ’n driehoekige strook van sy borskas wys. Dis bruingebrand, met ’n paar goue borshare wat aan die onderpunt krul. Cecilia het onthou hoe onweerstaanbaar aantreklik hy is, maar sy was nie voorbereid op die verwoestende impak van sy skielike teenwoordigheid nie. Haar hart begin bons teen haar ribbes en ’n warm sensasie kriewel onder haar midderif. Sy wonder of dit net sy is, en of hy hierdie effek op alle vrouens het – ’n sluimerende begeerte wat op al die geheime plekke in haar lyf wakker gemaak word . . . “Hallo, Cecilia,” groet hy. Waar kruip sy weg as hy agterkom waaraan sy dink? “Goeiemiddag, meneer Meiring,” antwoord sy formeel, asof sy só ’n skans tussen hulle kan oprig. Sy een wenkbrou lig en ’n glimlag trek aan sy mondhoek. “Ek sien jy het dit toe
darem oorleef . . .” Cecilia is nie op haar intelligentste nie. Sy is moeg en haar hormone funksioneer sterker as haar breinselle. “Die lang ent pad?” aarsel sy, onseker waarna hy verwys. Of bedoel hy die tien dae van naels kou? Hy beduie na die hysbak. “Jou opvolgbesoek aan die leeukuil.” Sy lag verleë. “Al die tweede keer. Dis nie meer ’n probleem nie. Daniël en die vleisvreters begin al vriende word.” “Het jy nie laas ná die onderhoud met die trappe afgeklim nie?” “Nee. Ek was bang dan sneeubal die neurose en ruk handuit. ’n Hysbak is soos ’n perd. As hy jou afgooi, is die beste raad om op te klim en weer te ry. Moenie vir hom wys jy’s bang nie.” “Darem nie terwyl jy bloei nie,” keer hy, met ’n deernisvolle klank in sy stem wat haar week laat. “Ek kan raai wat dit jou gekos het, en ek het begrip vir jou probleem. My kleinsus ly ook aan engtevrees. Waar sy is, moet daar altyd ’n oop deur of venster wees. Sy klim nie in ’n motor nie, nie eens ’n bus of ’n trein nie. ’n Hysbak sal vir haar ’n nagmerrie wees. As daar dan boonop ’n kragonderbreking is, kan ons haar maar begrawe.” Hy glimlag. “Jy is ’n meisie met pit in jou pype, Cecilia Louw. Nogtans wens ek dat ek by was om jou te help.” Pit? Dis beter as jellie. Sy skud haar kop. “Dankie, maar verlede keer se misbruik van jou teenwoordigheid was erg genoeg.” “Deel van Mlala se vyfsterdiens,” antwoord hy sedig. Sy word rooi. “Ek is skaam oor my voorbarigheid.” ’n Oomblik lank blink sy oë van innerlike pret. Dit lyk of hy haar wil terg, maar dan bedink hy hom blykbaar. “Was dit nou makliker as laas keer?” wil hy simpatiek weet. Cecilia wil nie ’n groot storie daarvan maak nie. “Ek kyk nie in my truspieëltjie
nie. Feit is: ek het die haaie besweer, die duiwels en die botsende sterre, en ek kan nou aangaan met die res van my lewe.” Dit was ’n ongelukkige woordkeuse. Haar gedagtes is opeens terug in Pretoria, by Steve – wat teen hierdie tyd seker al geland het, deur doeane is en op pad is huis toe. Hy gaan ontplof en nadat hy deur die dak geklim het, op die foon klim . . . Dis hoekom sy haar selfoon al ’n uur gelede afgeskakel het. Voorkoming is beter as genesing. Melt steek sy hand uit. “Welkom in die Mlala-familie. Ek hoop jy sal gou inskakel en gelukkig wees hier.” Cecilia bêre Steve in ’n kompartement diep agter in haar geheue, by die seer van haar afskeid van Lugdiens, haar vriende, Lissabon en Algarve, Rome se hemelse cappuccino, Parys se winkels, en die towerkrag van ’n makrostraler so groot soos ’n rugbyveld met skreeuende motore volspoed op ’n aanloopbaan . . . “Dankie, meneer Meiring. Ek sal probeer om julle nie teleur te stel nie.” “My naam is Melt,” korrigeer hy terwyl sy hand om hare sluit. “Aangesien ons soos familie gaan wees, verkies ek ’n meer informele werksmilieu.” Sy onthou hy het die personeelbeampte ook sommer Wessie genoem. En die adjunkbestuurder Arnold. Sy sou ’n meer formele verhouding verkies het, maar dit sal moedswillig lyk as sy aanhou “meneer”. Die beste sal wees om hom niks te noem nie, vriendelik te wees, sonder om sosiaal te meng. Hy besef blykbaar nie die handdruk hou bietjie lank aan nie. Cecilia kan nie stry dis baie lekker dat daardie sterk vingers so styf om hare vou nie. Maar dit gooi haar hart uit ritme en doen duistere dinge aan haar wat sy liefs wil vermy. Sy maak haar hand taktvol los. Hy kyk geamuseerd na haar. Sy kry die idee meneer Melt Meiring is nie ’n ingedagte soort man wat sal vergeet dat hy besig is om ’n meisie se hand vas te hou nie. Geniet hy dit om haar op die agtervoet te hou? Sy weet nie of hy haar terg en of hy met een of ander speletjie besig is nie. Steve is nog te rou in haar binneste, en sy wil nie betrokke raak nie. Melt wys na ’n verbindingsdeur wat links uitloop. “Sal ons deurstap na my kantoor?”
In die pragtige ruim vertrek beduie hy haar na ’n stoel en neem plaas agter sy lessenaar. “Ter inligting: die hotel bestaan uit ’n oos- en wesvleuel wat gesamentlik beskik oor negentig en suite-dubbelkamers, elk toegerus met lugreëling, DStv, ’n privaatkroeg en yskas, met deurnag-kamerdiens, valetdiens en faksgeriewe, asook breëband-internet. Daar is ook ’n wittebrood- en presidensiële suite. Die vyfde verdieping is, soos jy reeds weet, die istratiewe gedeelte. Dit bevat ook die beheerkamer waar die sekuriteitskameras gemonitor word. Die sesde verdieping staan bekend as die Indaba, met konferensiegeriewe vir honderd mense. Buite is twaalf selfsorgchalets, waarvan nommer 3 aan jou toegesê is. “Jy het ’n assistent, Garth van Schalkwyk – toegewyd, bekwaam en baie aangenaam. Julle deel ’n groot kantoor op die grondvlak langs die sigaarkamer, die Induna – daar word die dag se markaanwysings, effektebeursuitslae en aandelepryse aangebied, hetsy elektronies of met die jongste koerante. Die casino beslaan die helfte van die oosvleuel, met sy eie restaurant en kroeg. Die hoofgebou het vier restaurante: die Impala à la carte, die Eland vir ontbyt, en in die buitelug die Boma en die Lapa, wat vir funksies en onthale gebruik word. Daar is vier kroeë en drie swembaddens, ’n sauna, skoonheidsalon, boetiek, gimnasium en gholfbaan. Ook toesluitparkering op aanvraag en ’n motorhawe. Hou jy by?” Sjoe . . . Cecilia knip haar oë. “Gelukkig het albei my breinselle fotografiese geheues.” Melt lag en skuif ’n leergebonde lêer na haar toe. “Binne-in is ’n brosjure met detail oor al die fasiliteite, ingeval jou kameras nie films in het nie. Jy hoef nie alles te papegaai nie en kan die inligting op jou eie tyd bestudeer. Jy het nie vaste werksure nie, wat daarop neerkom dat jy basies vier en twintig uur aan diens is om na gaste se behoeftes om te sien. Klagtes, probleme, navrae, ensovoorts . . . Troubleshooting, noem die Yanks dit.” “Ek ken die term. Vure doodslaan – soos internetprobleme, stukkende lugreëling, yskas of koffiemasjien, luise in die bed of ’n mamba in die bad?” Hy grinnik. “Jy het die bobbejaanspinnekop teen die plafon vergeet. Lekkerder gaan wees die Wildtuinritte: gewoonlik ’n groep van tien tot vyftien mense, in een van ons bussies. Soms oornag julle in een van die ruskampe, gewoonlik
Skukuza of Berg-en-Dal. Jy sal verantwoordelik wees vir die besprekings, huisvesting en etes. Saam met jou werk ’n busbestuurder wat die roetes ken, vir die tegniese aspekte sal sorg en jou sal bystaan in geval van probleme. Ek neem aan jy was al in die Krugerwildtuin?” “Sedert my kinderdae elke langnaweek en skoolvakansie. My pa was jare lank ’n ere-veldwagter.” “Ekskuus, dom vraag gewees . . . En besienswaardighede in die omgewing? Ken jy Pelgrimsrus, Sudwala en Blydepoort?” “Die Eggo-grotte, die Long Tom-pas, God’s Window, die Pinnacle en die watervalle. Ek het in hierdie omgewing grootgeword, meneer . . . e . . .” “Melt,” bied hy aan toe haar stem wegsterf. Hy knik goedkeurend. “Dis goed. Het jy ’n selfoon?” “Ja.” “In goeie werkende toestand?” “Ja.” “Beskou dit van nou af as ’n werksfoon, op Mlala se rekening.” “Wat van privaat oproepe?” “ ’n Byvoordeel, soos vrye toegang tot die internet en werksvoertuie. Asook my hulp en raad. Ek is ook vier en twintig uur aan diens en ek is daar vir jou – selfs in die middel van die nag. Bel as jy my nodig het.” Hy kyk na haar en dis asof hy ’n oomblik van koers is. Hy kam sy vingers deur sy hare, vryf met sy plat hand oor sy wang en eindig met uitgespreide vingers voor sy mond. “E . . .” huiwer hy. “Dit het . . . anders uitgekom as wat ek bedoel het.” Netnou toe sy sjampanje-oë so geblink het en hulle albei geweet het wat die rede daarvoor was, was dit so aansteeklik dat Cecilia saam met hom wou lag, ondanks haar verleentheid. Nou kan sy haarself nie keer nie. Sy proes guitig en voel hoe die spanning van die afgelope week soos ’n miswolk lig om ’n strepie
sonskyn deur te laat. Maar dan pers sy haar lippe opmekaar om haarself te bedwing. Hy is mooi en gaaf en vriendelik. Maar sy ken hom nie goed genoeg nie, en hy is immers haar baas. ’n Mens lag nie vir jou baas nie, nie sommer die eerste dag al nie . . . Tensy jy sommer die eerste dag al weggejaag wil word. “Ek het my swak uitgedruk. Ek het natuurlik verwys na my beskikbaarheid in ’n amptelike hoedanigheid, en nie na . . . enigiets anders wat jy dalk verkeerd kon vertolk het nie,” verduidelik Melt ongemaklik. “Natuurlik nie,” stem Cecilia ernstig saam. “Dit was nie ’n suggestie in enige ander opsig nie.” “Vanselfsprekend nie,” verseker sy hom plegtig. Hy kyk tersluiks na haar. “Soos byvoorbeeld tien dae gelede in die . . . e . . . hysbak ook dalk ’n verkeerde indruk kon geskep het?” “Hoegenaamd nie.” “Ek het nie bybedoelings gehad nie.” “Natuurlik nie,” herhaal sy. “Nie met ’n wildvreemde meisie in ’n hysbak nie. Dis nie my gewoonte nie.” “Myne ook nie – nie my styl nie, nie met ’n wildvreemde man nie.” Sy bly ’n oomblik stil voor sy sedig byvoeg: “Nie eens met ’n bekénde man nie.” Melt vryf oor sy ken terwyl hy opsommend na haar kyk. Hul oë ontmoet en sy blik hou hare gevange, nuuskierig oor wat agter daardie paar olyfgroen oë verskuil is. Het sy gesnap waarop hy gesinspeel het, of het sy oor iets anders gelag? Dit sal nogal ’n uitdaging wees om haar beter te leer ken . . . Hy oorweeg dit om haar subtiel met vrae uit te lok, maar toe hy sy mond oopmaak, skril die telefoon op sy lessenaar en is die atmosfeer verbreek. “Hallo, Meiring,” antwoord hy saaklik. Hy luister en knik terwyl hy na Cecilia kyk. “Ja . . . Ja, goed, ek sal haar sê. Dankie, Sue.” Hy sit die gehoorbuis neer.
“Dit was Sue Bernard, ons inligtingsklerk.” “Ek het haar ontmoet.” “Sy het gebel om te sê jou bagasie is veilig in jou chalet. Maar jou motor wou nie vat nie, en hulle moes ’n brugkabel gebruik om die enjin aan die loop te kry.” “Hy het by Waterval-Boven al begin lol. Nugter weet wat makeer – ’n olielek of gebarste waterpyp . . . Dis vir my Grieks, en ek haat dit om ’n hulpelose koolkop te wees. Ek sal vir my ’n handboek koop: Basiese werktuigkunde vir beginners.” “Wil jy hê ek moet na jou motor kyk?” bied Melt aan. Cecilia ril. Sy kan haar voorstel wat sy reaksie op daardie rokende oliebol sal wees. As sy moet raai, sou sy reken een van daardie Jags of Mercs op die parkeerterrein is syne. “Nee dankie,” keer sy. “Ek het reeds ’n afspraak met oom Lotz op Witrivier gemaak om die enjin te versien.” “Oom Gideon Lotz?” Sy glimlag stralend. “Einste. Hy is ’n ou vriend van my pa en hy sal my motor kom insleep.” Melt frons. “Oom Lotz is vier jaar gelede al dood.” Cecilia se glimlag glip. “Dan moes dit sy seun gewees het met wie ek gepraat het,” improviseer sy. “Oom Lotz was ’n oujongkêrel. Hy het nooit getrou nie en nie ’n seun gehad nie, nie eens ’n dogter nie.” So maklik is Cecilia nie bereid om die ronde af te staan en te erken dat sy gejok het nie. “Die verbinding was swak en my sel se battery was amper pap – ek kon nie mooi hoor nie. Dalk het die man gesê hy is Metz of Gertz of . . . of so iets.” “Of De la Rey of Van der Westhuizen,” las hy hulpvaardig by. Sarkasties bedoel? Cecilia weet hy spot en sy probeer toesmeer. “My venster
was oop en die wind het geraas. Dit was op die snelweg, en die verkeer het só gelawaai dat ek niks kon hoor nie.” “Boonop was die radio ook nog aan en ’n groot trok het daardie presiese oomblik gekies om verby te dreun?” “Dis reg, ja, ’n enorme suikerrietlorrie.” “Cecilia,” sê Melt stadig en geduldig, asof hy met ’n stout kind praat, “sal jy asseblief ophou skrop en skarrel, en my toelaat om na die vervlakste motor te kyk? Ek belowe ek sal hom nie steel of krap of al sy petrol uitry nie.” “Dis nie waarvoor ek bang is nie.” “Wantrou jy my dat ek niks weet nie en groter skade sal aanrig?” Sy is ongemaklik. “Dis nie dat ek jou wantrou nie. Dis nie wat ek bedoel het nie!” “Dit lyk my jy en ek maak ’n gewoonte daarvan om nie te bedoel wat ons sê nie . . . of nie te sê wat ons bedoel nie.” Hoewel sy stem neutraal is, is sy bewus van ’n nuanse daarin wat haar hart ’n slag laat oorslaan. Albei van hulle weet dis ’n man-vrou-speletjie tussen hulle, voelers wat tentatief uitgesteek word om die ander een se reaksie te toets – ’n interaksie wat reeds in die hysbak begin het. Sy is oorbewus van sy manlike sensualiteit en die uitwerking wat sy nabyheid op haar het. Hoekom het hy nie ’n vervlakste doodgewone hemp aan wat tot bo teen sy ken toegeknoop is nie? Sy wil nie hierdie hartkloppings en tinteling deur haar are hê nie. Dis te gou, en sy was nie voorbereid daarop nie. Steve is nog te veel deel van haar, en sy gaan nog lank oor hom treur. Oor dit wat kon gewees het . . . Verlang en lus kry om hom te bel, al is dit net om sy stem te hoor en te weet hy is veilig terug. Hoe kan sy hartkloppings kry oor ’n man net omdat hy ’n oopgerygde gleufie in sy hemp het en sy nie haar oë van daardie gespierde borskas kan afhou nie? Hy is waarskynlik getroud. Sy is erger as Nadine Groenewalt. “Mlala het ’n voltydse werktuigkundige. Joe van Heerden. Ek sal dat hý na jou
motor kyk.” “Dankie, ek sal dit waardeer.” ’n Kompromie? Het hy die ronde gewen of het sy dit verloor? Sy weet nie. “Jy is seker dors na die lang pad,” sê hy. “Kan ek vir ons koffie maak?” Voor Cecilia kan antwoord, lui die foon weer, dié keer sy sel. Sy kan ’n opgewonde vrouestem aan die ander kant hoor, en sy draai weg om deur die lêer te blaai sodat dit nie lyk asof sy na die gesprek luister nie. “Is jy seker die kredietkaart is gelys? Bel die bank. Kry die sekuriteitsmense en hou hom besig. Ek’s nóú daar!” Melt klap die foon toe, rol sy stoel agteruit en staan op. “Jammer, die koffie sal ongelukkig moet wag.” “Iets waarmee ek kan help?” bied Cecilia aan. “Jy begin eers môre werk.” Sy staan ook op. “Ek het nie vasgestelde ure nie.” “Dis die casino, waar erger onheil uitbroei as spinnekoppe en mambas. Dis buite jou jurisdiksie – hulle het ’n onafhanklike skakelbeampte. Dis blykbaar ’n geval van kredietkaartbedrog. Ons praat môre weer.” Hulle loop saam tot voor die hysbak. “Dapper genoeg om weer die leeukuil aan te durf?” wil hy weet. “Ja.” Hy kyk sydelings na haar. “Saam met my?” Sy word ’n antwoord gespaar toe ’n pienggeluid opklink en die deure oopskuif. Die adjunkbestuurder stap uit, onberispelik soos laas, in ’n grys pak en gestreepte das. Hy knik vriendelik vir haar. “Goed om jou hier te sien, juffie. Laat maar weet as daar iets is waarmee ek kan help.” Dan wend hy hom tot Melt. “Die bank het bevestig die kredietkaart is gesteel, glo eergister op Phalaborwa. Maar daar’s komplikasies . . . Kan ek jou ’n
paar oomblikke privaat spreek?” Melt kyk vraend na Cecilia. “Gee jy om?” “Geensins. Sien u môre, meneer Meiring.” “Laat weet as jy nie regkom nie,” bied hy weer aan. “Dankie.” Sy stap in en druk die knoppie vir die grondverdieping asof dit so maklik is soos ’n lig aanskakel. Is dít wat die motiveringspreker bedoel het? Fokus. Glo jy kan. Wéét jy kan. Sy wens dit was net so maklik om haar hartsake reg te kry. Net ’n knoppie om te druk, vir aan en af . . . Sy is dankbaar om van haar baas se teenwoordigheid weg te kom, om alleen te wees en bestekopname te doen. Dit was ’n dol week en sy het tyd nodig om tot verhaal te kom – haarself te vind, haar voete te vind en haar nis, in hierdie nuwe opset wat op die oomblik taamlik intimiderend is.
8
Op die grondverdieping loer sy by die Induna-sigaarkamer in en soek haar kantoor, maar die deur is gesluit. Heloise sal haar môre rondwys, het Melt gesê. Blykbaar sy witkopsekretaresse. Cecilia sal verkies om self die opset te leer ken, op haar eie manier. Sy glip by ’n sydeur uit en kies kortpad verby die hoofswembad in die rigting van ’n ry grasdak-chalets wat tussen ’n plaat soetdorings sigbaar is. ’n Blinkvlerkspreeu wip-wip in ’n rankende bougainvillea en hou haar dop met twee oranje oë wat as kind altyd vir haar soos meidoringbessies gelyk het. Dis ’n soel middag en dit het blykbaar vroeër die dag gereën. Toe die wind draai, ruik sy die nat grond en die geur van die donsige soetdoringbloeisels. Sy was te lank weg, terwyl sy toegelaat het dat die blink verdof en die goud plastiek word . . . Dis goed om by die huis te wees. Sy is gevul met nostalgie, sonder dat sy weet waarna sy verlang – haar kinderdae, haar pa en ma, of Steve . . . Haar siek Golf staan onder ’n rietafdak langs chalet nommer 3. Cecilia tik op sy stowwerige neus. “Toemaar, Brandertjie, hou moed! Jou ma was agtelosig, maar oom Joe sal jou gesond dokter, en ek belowe ek sal jou daarna bad en blinkvryf totdat jy mooier is as al daardie klomp snob-karre!” Sy krap ’n dooie tor onder die ruitveër uit en gaan kyk hoe haar nuwe woonplek lyk. Die binneversierder het sy of haar storie geken. Cecilia kyk met waardering na die grofgepleisterde mure en angora-gordyne. In die sitkamer staan ’n gemaklike bank en twee leerstoele, ’n muureenheid en ’n koffietafel met ’n kleipot vol gedroogde agapante en inheemse grassade. Agter ’n halfmuur steek ’n hortjieskombuiskas uit, ’n tafel en vier riempiestoele. Deur ’n boog sien sy twee geelkoperbeddens met kerspitdekens, en teen een muur hang ’n geraamde Zakkie Eloff-skets van ’n vlakvarkgesin. So mooi, sy wil aan alles raak om dit behoorlik te waardeer. Sy begin dadelik uitpak. Haar eie waterverf-blomstudies pas by die dekor, maar
die CD-speler skree ten hemele. Sy steek dit weg in die muureenheid, langs die televisiestel en agter ’n deur wat kan toemaak. Onestetiese monstrositeite, maar onontbeerlike noodsaaklikhede. Sy hang haar klere op en maak ’n paar boekebokse leeg. Dan trek sy ’n koel kaasdoekrok aan, rits ’n blikkie koeldrank oop en gaan sit buite op die patio met die houer toebroodjies wat Melanie vir haar ingepak het. Daar is ’n briefie by: Geniet dit. Ook jou nuwe jop. Jy gaan Mlala Lodge se sesde ster wees! Cecilia laat haarself ’n rustige halfuur van retrospeksie toe terwyl sy eet. Sy voer die oorskietkrummels vir die spreeus, voor sy haarself dwing om nog ’n noodsaaklike euwel se bestaan te erken. Met ’n sug skakel sy haar selfoon aan en kry die verwagte skermvol stemboodskappe. Almal van Steve af. Sy luister na die eerste en die laaste een. Albei is in dieselfde trant: ontsteld, verwytend en eisend. Wat de joos soek sy op Nelspruit? Hoekom is haar sel af? Sy moet hom dringend terugbel. Sy stuur ’n SMS om te sê sy het veilig gery en skakel weer die foon af. Sy sit agteroor en luister of sy nie dalk van die rivier se kant af ’n visarend kan hoor roep nie. “Goeiemiddag,” groet ’n manstem. Sy is nie lus vir geselskap nie, maar hy is waarskynlik ’n hotelgas en sy kan nie onbeleef wees nie. Sy sit die koeldrankblikkie neer en kyk om. ’n Man in ’n oorpak staan by die afdak. “Joe,” sê hy. “Ek kom jou kar haal.” Hy lig die enjinkap op; krap hier en snuif daar, druk-druk en voel-voel, soos ’n hond wat ’n been begrawe. Loop om die motor en hurk by die uitlaatpyp. “Groot skade?” vra Cecilia bekommerd. Hy skop teen een van die afgeloopte bande en skud sy kop. “Laat ek dit só stel: as hy ’n perd was, het ek hom geskiet.” Cecilia is geskok. Hy oordryf. Dit kan nie só erg wees nie. “My kêrel het altyd na alles gekyk. Hy sou opgelet het as iets stukkend was.”
Joe snuif minagtend. “Kon hy nie sien die punte is gebrand nie?” “Hy was baie besig en dikwels weg van die huis af,” verdedig sy Steve. En dink dan: Hoekom? Hy het haar motor afgeskeep. Háár afgeskeep. Net aan homself gedink en sy heilige Porsche – op dié mog nie ’n stoffie lê nie, terwyl haar motor uitmekaargeval het. Joe bring die insleepvoertuig nader: metaalblou, met gechroomde magnesiumwiele en lekkende vlamme teen die deure geverf. Hy tru ’n U-draai en kom staan buffer teen buffer teen die Golf. Haar Brandertjie het nog nooit só ’n gevaarte gesien nie en Cecilia kan maar net hoop hy skrik nie sy laaste bietjie olie weg nie. Sy slaan haar hande saam. “Wat ’n vurige wa!” “Self gebou,” spog Joe. “Reg so as ek die siek perd wegsleep?” “Slagpale of skrootwerf toe?” “Moenie worrie nie, meneer Meiring het gesê ek moet hom vir jou tiptop regmaak.” Sy kan maar net gelate knik. Hy haak die Golf en sleep hom weg. Dit word skemer en sy staan ’n rukkie op die patio en luister na die patryse wat slaapplek soek. Dan gaan sy in en pak die res van haar boeke uit. Toe sy teen slaaptyd weer die foon aanskakel, lui en vibreer hy – amper verwytend, asof hy te lank te veel oproepe moes opkrop. “Hallo,” antwoord sy. “Is dit jy, of weer jou flippen voice mail?” bars Steve los. Sy hou die foon ’n ent van haar oor af. “Dis ek. Hoe gaan dit?” “Hoe dink jy? Ek kom by die huis en jy’t die pad gevat. ’n Simpel brief gelos en –” “Dit was nie simpel nie.”
“Wat de joos gee ek om oor Pavarotti en ’n vervlakste optelkat?” “Sy het kleintjies, en ek het nie die maalvleis met jóú geld gekoop nie. As dit te veel moeite is om soggens ’n skeppie daarvan in ’n piering uit te sit, vra die bure. Hulle is meer meelewend as jy. Het jy dalk my swart trui gekry?” “Hou op om oor bog te praat! Ek sal vir jou ’n ander trui koop. Wat nou van ons? Ons troue en ons lewe saam?” “Ek het vir jou duidelik gemaak hoe ek voel oor wat in Rome gebeur het. Maar jy gee voor dis niks as jy rondslaap en bed hopping doen nie – jy maak asof ek outyds en verkramp is. Ek ís nie. Ek is oopkop en modern. Maar ek glo aan eerlikheid en ’n etiese kode tussen ’n man en vrou. Ek wil eendag kinders hê, Steve. Ek wil hê my dogters moet trots wees op hul pa se onkreukbare integriteit. En my seuns moenie ’n straatkat se gene erf nie.” Hy is lank stil. “Dit was ’n lae hou, Cilla,” sê hy dan. “Jy het nie die reg om sulke aantygings te maak sonder dat jy na my kant van die storie geluister het nie.” “Ek het jou kant van die storie met my eie oë gesien!” “Jy het net gesien wat jy wóú sien. Ek het jou gesê die vroumens was gekletter en het sélf haar klere uitgetrek. Dink jy ek sal so ’n kans vat, op die vooraand van ons troue?” “Ja,” antwoord Cecilia en druk die foon dood. Sy is moeg en het nie krag vir ’n uitgerekte stryery nie. Dit lui onmiddellik weer en sy raap dit op. “Ja, jy sál!” herhaal sy. “Dis presies wat jy sal doen, want jy is ’n kansvatter. Kry die boodskap: Ek wil nie met jou praat nie! Nie nou nie, nie môre nie, nie oor ’n honderd jaar nie.” Daar is ’n stilte aan die ander kant, dan ’n verskonende kug. “Is jy kwaad omdat ek jou vir die casino verruil het? Ek kon nie anders nie, die skelm was besig om Mlala bankrot te steel.” Cecilia is so geskok, sy kan nie ’n woord uitkry nie. “Of oor die koffie wat ek belowe het en toe nie gemaak het nie? Jy’t niks gemis
nie. Dis sommer kitspoeier en koue melk.” Sy sluk droog. “Meneer Meiring, ek is jammer. Ek het nie bedoel om jou . . . jou sommer van ’n kant af in te vlieg nie.” “Ek sal nooit weer bel nie, ek belowe, behalwe in ’n absolute krisis. Ongelukkig sal jy soms noodgedwonge met my móét praat, tensy jy verkies dat ek notas op jou lessenaar laat.” Sy weet nie of hy ernstig is nie. “Ek het gedink dis . . . iemand anders wat gebel het.” Melt se warm lag klink in haar oor. “Ek weet, ja. Wie is dit wat sulke wilde kanse vat? Joe?” “Nee, dis nie Joe nie.” “Die ou wat pas tevore gebel het, toe jou foon beset vas?” raai hy. “Dis nie belangrik nie,” sê sy ontwykend. “Ek glo nie hy sal weer van hom laat hoor nie. Is die probleem by die casino opgelos?” “Opgelos en opgesluit in ’n oornagsel by die polisiestasie. Ek het net gebel om te hoor of jou chalet skoon is en die yskas en geyser werk?” “Alles werk, dankie. Die chalet is blinkskoon en baie gerieflik.” “Geen mambas of knopiespinnekoppe in jou bed nie?” “Nee.” “Gaaf. Lekker slaap, en sien jou môre. Is agtuur te vroeg?” “Glad nie.” “Agtuur by die Eland, vir ontbyt?” Sy huiwer. Rooi ligte flikker. Sy wil nie, moenie, mág nie betrokke raak nie. Dis seerkry soek – uit die pan in die vuur spring. Sy wou Noordpool toe wegvlug. Die Laeveld is minder ekstreem, maar moet dieselfde doel dien: om haar weer heel te maak. Om haar te laat besef sy is nie ’n rankplant nie en kan sonder ’n
stut funksioneer. Sonder ’n man wat haar in die rug steek sodra sy vir hom lief geraak het . . . Melt Meiring is nie die antwoord nie. Hy is té gaaf, té sjarmant, en sy het met die eerste ontmoeting té maklik vir hom geswig. Dit alleen moet haar agterdogtig en versigtig maak. Hy gaan nie pleisters opplak nie, net nuwe wonde veroorsaak. Sy moet van hom wegbly en die verhouding tussen hulle op ’n suiwer professionele vlak hou. Dis goed hy het nie vanmiddag vir haar koffie gemaak nie, en goed ook dat sy sterk genoeg gaan wees om nee te sê vir ontbyt saam met hom. Vera sal trots wees op haar . . . “Die Eland maak wonderlike cappuccino,” lok Melt. “En die lekkerste seekosomelette suid van die Sahara.” “Dankie, dit klink heerlik,” antwoord Cecilia en haat haarself omdat sy ’n swakkeling en ’n masochis is. As sy in die cappuccino stik of ’n visgraat in haar keel kry, sal dit haar verdiende loon wees. Hoekom swig sy altyd vir die verkeerde mans? Hy gaan ’n tweede Steve wees. Of erger: ’n getroude man met ’n vrou en kinders. Ouens met Melt Meiring se persoonlikheid en voorkoms loop nie los rond nie, tensy daar ’n skroef los is of hy ’n geraamte in sy kas het. Sy sug, staan op en loop badkamer toe. Nou het sy ’n warm skuimbad nodig. Die grootste luukse van die chalet is die groot geyser en die feit dat die badkamer hare alleen is. In die woonstel het sy altyd skuldig gevoel oor die warm water en as sy te lank of te dikwels gebad het. Sý kan in die hardloop lipstiffie en maskara aansit, haar hare jel en met haar vingers stileer, maar Vera en Melanie het spieëls en tyd nodig. Die hawermoutkleur van die teëls herinner haar aan Steve se badkamer, maar sy laat nie toe dat dit haar ontstig nie. Daardie seer bêre sy in ’n diep laai – saam met ’n ruiker wit lelies, ’n diamantring met ’n kring granaatstene en ’n wasige trourok weggepak in ’n boks. Sy steek ’n kers aan, lê agteroor in die bad en strek haar behaaglik uit. Pretoria voel ver weg. Waterval-Boven, Montrose en Nelspruit flits deur haar kop, toeters en motors en swaarvoertuie wat op die snelweg verbydreun. Meubelwaens en suikerlorries . . . en tussenin ’n diep, warm stem: Ek het nie bybedoelings gehad
nie . . . Toe sy later onder die kerspitdeken inkruip, raak sy vir die eerste keer in weke rustig aan die slaap, sonder ’n natgehuilde kussing.
9
“Proe!” nooi Melt. Cecilia tel die erde-koffiebeker op, amper soos ’n outydse sopkommetjie met ’n oor, en neem ’n sluk van haar eerste Mlala-cappuccino. Dis alles wat hy belowe het, beter as Rome en die Hotel Fiori s’n. Haar oë kry ’n dromerige uitdrukking. “Hemels!” Toe Melt lag, vergeet sy haar bedenkinge en voorbehoud. Niemand met so ’n mooi mond en sulke blink oë kan ’n ontroue mens wees nie. Sy was bevooroordeeld. Die ontbytuitnodiging was om haar welkom te heet en te laat tuis voel. Sy neem nog ’n sluk en bieg dan: “Ek het gejok.” “Ek weet, ja.” Hy lig ’n wenkbrou. “Waaroor?” Sy bloos. “Dit klink asof ek ’n gewoonte daarvan maak om leuens te vertel.” “Nee, want anders sou jy dit beter kon doen. Waaroor? Oom Lotz?” raai hy. “Ja. Maar dit was nie omdat ek bang was jy krap aan my kar nie.” “Dis te hope!” “Dis omdat ek nie wou hê jy moes sien die enjin lyk soos ’n olie-toffie nie, omdat ek skaam was, want ek wou ’n goeie indruk maak.” “Jy het reeds, met die heel eerste kyk. Dis hoekom ek jou aangestel het en jou vir ontbyt genooi het.” Netnou se speelsheid is weg en sy oë wat hare gevange hou, is ernstig. Cecilia byt op haar onderlip. Sy soek na die teelepel en roer haar cappuccino
energiek om en om. Sy hand vou om hare. “Jy mors in die piering en roer al die skuim weg.” Die uitwerking wat sy aanraking op haar het, is hewiger as gister toe hy haar ’n handdruk gegee het. Hoeveel volt kan deur ’n mens skok sonder dat jy doodgaan? wonder sy. Haar hart gaan tekere soos ’n tromspeler in ’n poporkes. “Moet ons nie die . . . e . . .” Sy kan met die beste wil nie die woord “omelet” onthou nie. “. . . geklitste eiers by die toonbank gaan haal nie? Ons het al ’n halfuur gelede bestel en dis seker al koud.” Toe sy mik om op te staan, hou hy haar teë. “Vyf minute gelede. Die kelner sal dit bring wanneer dit reg is. Cecilia . . .” Hy aarsel ’n paar oomblikke. “Ek weet dis gou en ons ken mekaar skaars – vanaf die dag in die foyer is hierdie maar ons vyfde ontmoeting . . . Ek is nie ’n halsoorkopmens nie en ek het daarteen gestry. Dit ontleed en probeer keer . . . Maar jy kan dit tog sekerlik ook aanvoel?” Sy kán, van die heel eerste oomblik af, en sy kan ook intuïtief aanvoel wat hy wil sê. Sy is skielik bang en gee hom nie kans nie. “Dis ’n buffetontbyt – selfbediening . . . Die kelner sal nie na ons tafel toe kom nie.” “Ek weet wat die woord ‘buffet’ beteken. Hou op ander dinge praat. Sit rustig, kyk my in die oë en luister na wat ek probeer sê.” “Nee.” Sy skuif agteruit op haar stoel. “Asseblief, moenie. Ek is nie gereed vir so iets nie.” Hy sit ’n servet in haar piering sodat die skuim nie moet drup nie. “Hoekom nie?” wil hy weet. “Wat makeer?” “Ek werk vir jou; jy is my baas.” Hy frons onbegrypend. “Wat het dit daarmee te doen? Ek het jou nie onregverdig bevoordeel nie; jy het die werk op eie meriete gekry. Die komitee het eenparig besluit dat jy die beste kandidaat was – dis nie dat ek my posisie misbruik het nie. Ek erken eerlik en openlik dat ek tot jou aangetrokke is, van die begin af. Ek het gedink jy kan die tekens lees en gehoop êrens in jou voel jy miskien ook ’n .
. . ’n soort toegeneentheid teenoor my.” Cecilia kan hoor hy het sy woorde versigtig gekies, maar hare kom agterstevoor uit. “Ek het ’n verlede. Daar was . . . iemand. Dis nie nou ter sake nie, en dit beteken nie ek gaan my werk afskeep nie, maar die feit is dat ek mans afgesweer het. Ek hou nie van julle nie, ek wil nie vir julle lief wees nie en ek sal nooit met een van julle trou nie. Al hoekom ek hier sit, is omdat ek nie geweet het wat om in Tibet te doen nie. Ek kan nie bergklim nie en is nie die soort meisie wat in ’n klooster sal aard nie.” Sy het verwag Melt gaan vra of al haar varkies op hok is. Maar hy sit gemaklik agteroor en vra nie waar Tibet of die klooster inpas nie. Toe sy dit waag om ongemerk na hom te loer, is sy verstom om te sien dat hy breed grinnik. “Moenie vir my lag nie!” roep sy kwaad uit. Hy lyk verbaas. “Ek lag nie vir jou nie. Ek geniet jou: die twee rooi kolle op jou wange en jou oë wat grasgroen word as jy kwaad is.” Haar neus trek op ’n plooi. “Ek klink soos ’n appel.” “ ’n Baie mooi appel,” beaam hy. “Een wat ek lus kry om aan te proe en te knibbel.” “Daar doen jy dit weer!” beskuldig sy hom. “Ek weet nooit wat jy dink as jy jou so vroom hou en dit lyk asof jy jou eie privaat grap geniet nie!” Melt is versigtig om geen uitdrukking op sy gesig te hê wat as ’n sweem van ’n glimlag beskou kan word nie. Al was haar woordkeuse snaaks toe sy netnou teen mans uitgevaar het, was daar dieselfde soort weerloosheid wat hom voorheen geprikkel het. Hy wil sy hand om hare vou, haar vashou en beskerm. Cecilia is bly toe die kelner opdaag met die omelette, gevul met garnale, fetakaas en songedroogde tamaties. Hy laai roosterbrood, croissants, botter en ’n silwermandjie met ’n verskeidenheid konfytsoorte af. “Kan ek nog twee cappuccino’s bring, meneer Meiring?” bied hy aan.
“Asseblief, Theunis. Dit lyk keurig, soos altyd. Alles reg met julle mense daar in die kombuis?” “Aan die wiel, meneer.” “En die nuwe stoof? Werk hy goed?” “Aan die kook, meneer.” “Gaaf. Ek merk julle is vol en die manne van die Gholf-uitdaagbeker begin inkom. Jy hoef jou nie verder oor my en juffrou Louw te bekommer nie, ons sal roep as ons iets nodig het.” “Dankie, meneer. Smaaklike ete vir u!” Melt herrangskik die tafel en skuif Cecilia se bord netjies reg voor haar. “Daarso . . . jou yskoue geklitste eiers!” Sy gee hom ’n kyk en tel haar mes op. Hy hou sy hande verontskuldigend op. “Ek lag nie. Ek is serieus en gewigtig, gevul met diepe erns.” “Overgeset synde: ’n nors ou suurknol?” “Knorrig,” beaam hy. “Lelik en gemelik.” Cecilia is seker hy rym sommer en daar is nie so ’n woord nie, maar sy stry nie, tevrede dat hy ’n ronde kan wen. Al trek sy gewoonlik aan die kort kant, geniet sy Melt Meiring se sin vir humor. Sy en Steve was altyd te intens, vol stormagtige emosies en kragmetings. Sy het soms die indruk gekry hy baklei net om agterna ’n verskoning te hê om op te maak. Met Melt is dit anders. Hy is rustig en ontspanne, prettig en op haar golflengte ingestel. Sy kan nie glo sy het hom gister nog “meneer” genoem nie. “Ek was ook lelik en gemelik,” erken sy. “Maak nie saak nie. Wees wat jy wil, ek hou van jou soos jy is.” Haar hande is skielik lomp met haar mes en vurk. Sy neem ’n hap eier en kou
sonder om te proe wat sy eet. “Toe ek daardie eerste dag gesê het jy is ’n buffel, onredelik en arrogant,” verduidelik sy. “Dis wat een van die ander kandidate ná haar onderhoud gesê het. Een van dié wat jy afgekeur het. Dit was katterigheid en suur druiwe. Of dalk wou sy my bevooroordeeld maak.” “Dalk was sy reg, dalk ís ek hiperkrities en vitterig.” “Nee, jy is nie. Geensins. Jy was gaaf en simpatiek, wat ’n mens op jou gemak gestel het.” Sy smeer botter op ’n stuk roosterbrood en kou ’n rukkie in stilte. Al bly hy haar baas, voel sy hulle is ook vriende, en haar nuuskierigheid kry die oorhand. “Ek het tien dae lank daaroor gewonder . . . Wat het jy in ’n stadium tydens die onderhoud onderaan my aansoekvorm geskryf?” “Twee letters.” Sy verstaan nie. “Watse twee letters?” “ ’n Ja,” antwoord hy sonder skroom. “JA!!! Hoofletters en drie uitroeptekens.” “Het jy toe al besluit ek is ’n geskikte kandidaat?” “Nee, vroeër in die hysbak al, of eintlik in die foyer toe ek jou die eerste keer gesien het.” “Ek dag jy het geskryf die kandidaat is neuroties en voorbarig, sy kan nie spel nie en het ’n lelike handskrif.” Hy neem haar kleinbordjie, smeer die botter egalig oor die roosterbrood en sny dit in vier netjiese kwarte. Dan kyk hy ondersoekend op. “Het jy gehoor wat ek netnou gesê het, Cecilia?” Sy knik. “En jy? Het jy gehoor wat ék gesê het?” “Van jou verlede? Dat jy mans afgesweer het en nooit van een van ons sal hou of mee wil trou nie? Ja, ek het gehoor.”
Komend van iemand anders klink haar woorde verspot. “Dié man wat gisteraand gebel het, met wie jy nie wou praat nie, nie oor honderd jaar nie . . . Is hy die ‘iemand’ in jou verlede?” Hy gee vir haar die tamatiesous aan, en toe daar steeds geen antwoord is nie, vra hy rustig: “Vertel my van hom?” “Ek is seker jy wil nie my vervelige storie hoor nie . . .” “Ek wil graag. Ek is ’n goeie luisteraar en my skouers is breed, as jy wil uitpak.” Sy wil nie. Sy wil liewer uitstel. “Dis al laat. Moet jy nie op kantoor kom nie?” Hy kyk op sy horlosie. “Ek moet Nelspruit toe gaan vir sake. Maar daar is nog genoeg tyd voor ek moet ry. Is hy by Lugdiens?” Sy knik teësinnig. “En is hy die rede waarom jy bedank het?” “Een van die redes . . .” Sy vertel hom so min as moontlik – net dat sy verloof was, dat onvoorsiene omstandighede voorgeval het, dat sy as gevolg daarvan die verhouding beëindig het en ’n nuwe lewe begin het. Toe sy klaar is, lyk hy ingedagte. “Ek is jammer oor die persoonlike vrae tydens die onderhoud.” “Jy hoef nie te wees nie. Dit was in ’n professionele hoedanigheid.” “Net gedeeltelik,” erken hy. “Ek het vir geen van die ander kandidate gevra of hulle in ’n vaste verhouding is of trouplanne in die nabye toekoms het nie. Ek het my posisie misbruik om my neus in jou persoonlike sake te steek en ek vra om verskoning.” “Dit maak nie saak nie. Ek is oor die ding met Steve.” Hy kyk stip na haar. “Is jy?” “Ja,” bevestig sy met meer oortuiging as wat sy voel. Natuurlik is sy seker,
herhaal sy teenoor haarself. Dis te begrype dat sy hartseer is en kort-kort aan Steve dink. Selfs dat sy hom soms mis. Hulle was lank saam, en sy het gewoond geraak aan hom. Hulle verhouding, al het dit gedurig wipplank gery, het haar tóg gelukkig gemaak, veral aan die begin. Anders sou sy nie ingestem het om met hom te trou nie. “En hy?” vra Melt. “Dit klink nie asof hy bereid is om jou besluit te aanvaar nie.” “By hom is dit meer ’n geval van ’n gekneusde ego. Hy is gekrenk omdat sy bruid hom op pad kansel toe in die steek gelaat het. As daar af te sê was, wou hy die een wees wat dit gedoen het.” “Wat gaan jy maak as hy aanhou bel?” “Dis ’n probleem. Ek kan nie nou meer my foon afskakel nie.” “Ons sal jou ’n ander foon gee – ek sal met Wessie reël. En as hy uit die bloute hier opdaag?” “Hy sal nie, nie nadat ek dit in ’n brief duidelik gemaak het dat ons verhouding finaal verby is nie.” Melt lyk afgetrokke. “Die lewe loop maar sy draaie met almal. Min van ons kom ongeskaad daardeur, en sonder die gepaardgaande bagasie.” Hy kyk weer op sy horlosie. “Ek sou graag langer wou gesels het, maar ek sal ongelukkig moet ry. Daar is duisend en een dinge wat moet aandag kry op hierdie Maandag.” ’n Jong ou stap in: in denims, ’n modieuse leerbaadjie en ’n poniestert. Hy kyk soekend rond en pyl dan op Melt af. “Meneer M, die hele wêreld soek jou! Die katte het kleintjies gekry, die bok het gelam en die vlakvark het die kaviaar opgeëet!” “Ek het so iets verwag.” Melt stoot sy stoel terug en staan op. “Moenie skrik nie, Cecilia, dis jou assistent. Garth van Schalkwyk, en minder skadelik as wat hy lyk. Hy sal jou rondwys. Sorg julle vir die katte en die kaviaar; ek moet ry. Garth, moenie van die asmalyer vergeet wat ’n suurstofmasjien gevra het nie. Onthou om die kombi lughawe toe te stuur vir die mediese kongresgangers, en hou die gholfspelers gelukkig. En vir Cecilia.”
“Dit sal net ’n plesier wees, meneer M!” Op pad deur toe kyk Melt oor sy skouer. “Moenie haar kop dronk klets nie, en koop vir haar middagete by die Impala.” “Reg so, meneer!” “Goed, sien julle later.” Cecilia staar die breë rug en skouers agterna. Toe Melt deur die glasdeure verdwyn, is dit asof die restaurant skielik leeg is. “Hy’s nice,” merk Garth op, “met topstandaarde. Sal vir jou die maan en sterre op ’n skinkbord gee, maar drop hom, en jy kan ’n huis bou.” Toe Cecilia nie verstaan nie, verduidelik hy: “Met al die bakstene wat op jou kop gaan neerkom. Soos jou voorganger . . . Sy koop nou nog kruiwaens om al die bakstene weg te ry. Daardie flossie was manmal. Al wat sy by Mlala gesoek het, was ’n ryk sucker. Eers al die broeke vol vet beursies geïdentifiseer, en toe die eienaars se ander . . . e . . . bates uitgetoets. As jy snap wat ek bedoel?” ’n Tweede Nadine . . . “Wat het van haar geword?” “Sy’s glo nou in Dubai, op soek na oliesjeiks. Sy het selfs by die baas aangelê, maar die Yspaleis het haar draadjie gou geknip. Sy’s goed daarmee.” “Die Yspaleis?” “Wessie se bynaam vir daardie witkopsekretaresse van Melt. ’n Regte feeks. As jy my vra, het sy self ’n oog op meneer M, dié dat sy g’n kompetisie naby hom toelaat nie. Loop maar lig vir daardie biets, sy sal jou vir brekfis opkou en die stukkies in die swembad spoeg.” Garth onthou blykbaar Melt se vermaning en hou sy hand voor sy mond. “Haai, ek skinder! Kom, ek gaan wys jou al die vyfster-attraksies.” Hy gaan wys vir haar die casino, die swembaddens en die Lapa. Hy neem haar na die gimnasium en boetiek, na die wittebrood- en presidensiële suite, die Indaba en Induna, en laastens hul gesamentlike kantoor reg langsaan. Dis ruim, met twee lessenaars, telefone en rekenaars, ’n koffiemasjien en ’n kuierhoekie met gemakstoele en stapels reistydskrifte. Die hele een muur bestaan uit rakke
vol brosjures, roetekaarte, valuta-tabelle, doeaneregulasies en vlugskedules. “Meneer M sê jy hoef nie al die inligting in jou kop rond te dra nie, solank jy net weet waar om dit na te slaan,” vertel Garth. “Meneer M is slim,” skerts Cecilia. “Hy is. Kundig ook oor motors, gholf, die aandelemark, cordon bleu-kookkuns en als onder die son. Hy het hotelwese oorsee geswot.” Motors? Cecilia is opnuut dankbaar dis Joe wat die Golf se enjinkap oopgemaak het. “Hoe lank is hy al by Mlala?” “Vyf jaar.” “Woon hy in die hotel?” “Bo in die penthouse. Hoekom vra jy? Wil jy die man verlei?” Cecilia ruk haar op. “Moenie verspot wees nie! Waar kom jy daaraan?” Hy haal sy skouers op terwyl hy by haar rekenaar werskaf. “Al die meisies probeer.” “Ek is nie al die meisies nie,” lig sy hom koelweg in. Sy gaan staan by die venster om na die veraf uitsig van ’n paar bergspitse te kyk. Leeukop en die wildtuin . . . Sy wik en weeg en vra dan kamma terloops: “Maar meneer Meiring is tog seker getroud, of hoe?” Sy kom agter sy wag gespanne op Garth se antwoord. Melt dra nie ’n trouring nie, maar dit bewys niks. Baie mans verkies om nie te adverteer dat hulle onbeskikbaar is nie. Sy het heeloggend vrae gevra oor alles by die hotel en hoop maar net Garth sal dit nie vreemd vind dat haar vrae Mlala Lodge se bestuurder insluit nie. Sy moet weet, dis beter as om ’n aanname te maak en haar skanse dalk te laat sak. Sy wil nie weer oopoë in seerkry inloop nie. Dan eerder enige toegeneentheid wat sy voel nou reeds in die kiem smoor, voor die saadjie groei.
Garth tik haar nuwe e-posadres op die webwerf in:
[email protected]. Dit lyk goed. Hy toets ’n paar briefhoofontwerpe en kyk nie op nie. “Wie?” “Meneer M,” herhaal Cecilia. “Getroud? Was, is, ek weet nie . . .” Sy wil hom skud. “Watse soort antwoord is dit?” “Ek stel meer belang of Sue getroud is, en of haar man of kêrel my ’n blouoog sal gee as ek ’n maak. Wat dink jy hiervan?” “Waarvan? Van Sue?” “Nee, die koedoe of die sebra, bo-aan die briefhoof?” “Garth!” roep Cecilia uit. “Jy luister niks wat ek vra nie!” “Of wil jy ’n sterker beeld skep? ’n Leeu of ’n olifant? Die uitlanders is mal oor ’n kameelperd. Hulle reken hy is so indrukwekkend, hy moet ingesluit word in die Groot Ses. Ek kan sy lang nek in ’n regaf lyn regs van die letterwerk opstel en –” “Los my rekenaar. Die hotel het seker ’n briefhoof; so nie sal ek my eie een ontwerp. Hoe maak mens koffie met hierdie masjien?” Garth kry die boodskap. Hy gooi water in die koffiemasjien, druk die skakelaar, sit koppies reg en spoor selfs ’n pakkie Marie-beskuitjies in ’n kas op. “Maria-koeken, noem die Hollanders hulle. Sorrie, skattebol . . . Wat het jy gevra? Of Melt ’n vangbare vis is? Ja, as sy egskeiding afgehandel is.” “O . . . Is hy besig om te skei?” Sy onthou dat Melt gepraat het van “bagasie”, en dat min mense ongeskaad deur die lewe kom . . . Dit was dalk op homself van toeing. “Ek hoor so. Hulle was glo nie lank getroud nie, en daar was nie kinders nie. Die skeisaak is seker al afgehandel, dié dat dit nie ter sprake kom nie. So, moenie worrie nie, hy’s ’n loslappie. Jy kan maar met ’n geruste gewete jou wimpers
fladder.” Cecilia klik haar tong. “Ek wil niks van dié aard doen nie! Ek is ’n geëmansipeerde vrou, en my loopbaan is belangriker as ’n man.” “ ’n Feminis?” Garth trek ’n suur gesig. “Wat ’n vermorsing van talent . . . Arme Joe gaan gebroke wees.” “Joe? Wat het Joe daarmee te doen?” “Jy het die man skoon uit sy bloedgroep uit. Vandat jy gekom het, loop hy rond soos ’n gans wat die weerlig in die ooste sien uitslaan. Wat het jy met die stomme kêrel aangevang?” “Niks.” Garth lag. “Jou doepa is blykbaar kragtig, dié dat meneer M ook met sulke dweepoë oor sy cappuccino na jou gestaar het.” Cecilia kan verstaan hoekom Melt gemaan het Garth moenie haar ore dronk klets nie. Hy is soos ’n kwetterende spreeu. “Moet jy nie die kombi uitstuur lughawe toe nie?” herinner sy hom. “O hel!” Hy kyk op sy horlosie en hardloop by die kantoor uit. “Onthou die katte en die kaviaar!” roep sy agter hom aan. Sy gaan sit agter haar lessenaar, verstel die monitor en bekyk die briefhoof. Garth het haar ’n klomp werk gespaar. Hy gaan haar teen die mure uitdryf, maar hy is pret en mens kan nie help om van hom te hou nie. Sy voel beter noudat sy weet Melt het nie ’n vrou nie. Dis nie te sê daar sal ’n verhouding tussen hulle ontwikkel nie. As hy pas geskei is, is hy in hierdie stadium seker ook nog bietjie vuisvoos en versigtig vir vroumense – in dieselfde bootjie as sy. Dit pas haar dat hulle ’n suiwer platoniese werksverhouding het.
10
Teen die daaropvolgende Maandag begin Cecilia ingeburger voel. Haar vuurdoop en die eerste week van haar nuwe lewe is verby. En sy leef nog, al het sy meer as een keer tien dode gesterf. Of soos Garth dit gestel het: “Die slaggate misgetrap en binne-in die sloot geval.” Haar meubels het elkeen sy regte staanplek gekry en haar skilderye hang. Haar e-pos werk en sy het ’n lang geselsbrief van haar ma gekry. Die een nadeel van haar bedanking by Jakaranda-lugdiens is die Madrid-kuiertjies wat opgedroog het. Haar ouers kan dalk Kerstyd ’n plan maak om in Suid-Afrika te kom kuier, maar intussen het Vera belowe om gereeld in te loer wanneer sy ’n Madrid-vlug doen. En glo dit of nie, haar ouers se eertydse voornemende skoonseun ook. Daar is nie kwade gevoelens tussen hulle en Steve nie. Cecilia weet wat hulle dink: Eendag vind sy en Steve dalk uit dit was alles ’n misverstand en dan kom hulle weer by mekaar uit. Haar ma maan altyd dat ’n mens nooit moet sê: Fonteintjie, ek sal nie weer van jou drink nie. Nadat sy ’n nuwe selfoon gekry het, het sy die oue minder gereeld aangeskakel. Steve se oproepe was natuurlik van die eerstes wat deurgekom het. Maar dof en onduidelik, asof hy vanuit ’n duikboot op die seebodem gebel het. Hy was op Da Vinci-lughawe in Rome en daar was baie steurings op die lug. Hulle kon mekaar skaars hoor tussen die weergalmende eggo’s en fluitende wind deur. Die volgende dag het Sue Bernard vir Cecilia ’n ruiker rooi rose gebring wat by ontvangs afgelewer is, met ’n kaartjie daarby: Rose kan dit duideliker sê as ’n selfoon. Ek is vandag liewer vir jou as gister, en ek sal jou môre liewer hê as vandag . . . Sy het haar voorgeneem die rouperiode is verby. Maar die eerste keer in ’n lang tyd het sy daardie nag weer slapeloos rondgerol. Later opgestaan en met ’n koppie tee in die sitkamer gaan sit, terwyl Vera se woorde in ’n e-pos deur haar
kop bly draai het: Melanie sê jy het toestemming gegee dat sy jou eks mag erf. Is jy seker? Gaan dit nie later dalk jou en Mel se vriendskap bederf nie? Hoe gaan jy voel as jy haar en Steve saam sien? Sy was omgekrap oor haar ma en oor Vera se opmerkings. Hulle het destyds saamgestem dat Steve nie haar liefde werd is nie. Hoekom nou skielik terugkrabbel en suggereer dat sy mettertyd sal afkoel, en dat sy dalk te kras geoordeel het? Die jop by Mlala hou haar aan die hop, maar is veel bevredigender as om skinkborde te dra en veeleisende asiers te pamperlang. Dis so ’n vreugde om terug te wees in haar geboortewêreld dat sy nie terugverlang na Lugdiens se eksotiese bestemmings nie. Eendag sal sy weer oorsee gaan – ’n rugsak pak en die stukkies van haar hart gaan losmaak waar dit nog aan al die sentimentele plekke vasklou. Sy het haar visarend onder by die rivier hoor roep, en het met behulp van ’n hand vol broodkorsies vriende gemaak met die trop tarentale wat soggens by haar chalet kom ontbyt bedel. Al wat pla, is haar motor wat nog bekwaald in Joe se werkswinkel staan, die Yspaleis se kil houding en die dagbestuurvergadering drie maal ’n week in Melt se kantoor. Hy het nog nie weer die toeryghemp aangehad nie, maar selfs in ’n formele pak klere met ’n konvensionele hemp en das vind sy dat haar gedagtes afdwaal, sodat sy agterna vir Garth moet vra wat oor spesifieke aspekte besluit is. Sy het ’n paar keer Melt se vraende blik onderskep en skuldig weggekyk, bang haar gevoelens is op haar gesig leesbaar. Dis moeilik om vaag en ontwykend te wees teenoor hom, om verskonings te bedink hoekom sy nie kan gaan koffie drink of saamstap na die Lapa toe nie; hoekom sy altyd haastig of besig is . . . Dit was dus ’n verligting toe Melt ’n paar dae gelede weg is Pretoria toe en Arnold Jordaan die vergadering gelei het. Arnold is maklik om mee saam te werk, en selfs die Yspaleis was meer genaakbaar. Maar Melt kom vandag terug, besef Cecilia toe sy Vrydagoggend wakker word. Al het sy gemengde gevoelens daaroor, is dit asof die son helderder skyn en die soetdorings geler blom. Sy soek deur haar klerekas en trek ’n perskepienk broekpak aan wat haar ’n lentegevoel gee.
“Jy lyk soos ’n suigstokkie, lekker genoeg om te eet!” vlei Garth haar toe hy op kantoor kom. “Ten bate van watter hunk – die Laeveldleeu of die loslappiebaas?” “Dis ’n stokou broekpak,” jok Cecilia. “Ek wou hom al weggooi.” Garth trek groot oë. “My wêreld, voos gedra en gewas en gestryk, met die prys nog steeds agterop die baadjie.” “O aarde, issit?” Cecilia voel agter aan die soom en pluk die etiket los. “Noem dit aan iemand dat ek ’n nuwe pak aangetrek het vir meneer M se terugkoms en ek vertel vir Sue jy slaap snags met ’n teddiebeer in jou arms,” dreig sy hom. “Wie sê sy sal nie uit eie ervaring weet dis ’n storie nie?” troef Garth haar. “Wens jy maar,” spot Cecilia en bekyk haar dagboek. “Wat is op ons program vir die dag?” “Die sitruspromosie, Leonardo die Laeveldleeu wat arriveer, en die baas wat beïndruk moet word met ons arbeidsaamheid die afgelope drie dae.” “Jy kan sommer nou begin,” sê Melt toe hy by die deur instap, betyds om die laaste item op Garth se lys te hoor. Garth het op ’n kibboets in Israel gewerk, as kelner in Griekeland en as chauffeur in Westminster. Hy het genoeg selfvertroue om sy teenwoordigheid van gees te behou. “Meneer M!” roep hy uit. “Ons het jou eers vanmiddag verwag!” “Ek het vroeg gery ter wille van onafgehandelde sake hier.” “Koffie en Maria-koeken?” “Net koffie, dankie.” Melt kom leun teen Cecilia se lessenaar. Sy glimlag en stem kry ’n ander kwaliteit. “En jy, perskebloeiseltjie? Net so arbeidsaam gewees soos jou
kollega?” Hy het opgelet wat sy aanhet . . . ’n Heerlike warmte bruis deur Cecilia. Sy vergeet van die gholftoernooi en die wildtuin-dagtoer wat sy gereël het. Sy kan aan niks intelligents dink om te antwoord nie, net droomverlore na hom staar. Hierdie man met die goue oë, wat diep spore in haar lewe kom trap het en al haar regte knoppies druk . . . Nou eers besef sy hoe leeg die Lodge was in die afwesigheid van sy dinamiese bestuurder. Drie dae was ’n ewigheid. Sy is nie al een wat van die spoor af is nie. Melt lyk ook of hy ’n kompas nodig het. Hy neem die beker wat Garth vir hom aangee en roer die koffie om en om, al weet Cecilia hy het nie suiker ingegooi nie. Hy neem ’n sluk en kom blykbaar nie agter dis bitter nie. “Ek is bly om jou te sien,” sê hy sag. “Ek ook,” fluister sy. Dis asof die sterre verskiet en die wêreld ophou draai. Garth was by die wasbak doenig. Hy haak ’n stoel nader en kom sit, onbewus van die onderstroming tussen hulle wat soos ’n elektriese storm broei. Hy lig Melt in oor die gholffunksie, die volgende toernooi in Desember en die dag se skedule. Dan vervolg hy: “Ek hanteer die sitruspromosie, en Perskebloeiseltjie sorg vir die Laeveldleeu se konsert. Die klank- en beligtingtegnici is aan die werk in die Lapa, en al die kaartjies vir môreaand se vertoning is uitverkoop. Leonardo self arriveer elfuur op die lughawe. Bloeiseltjie gaan hom haal.” “Ek sal die nuwe bussie gebruik,” voeg Cecilia by. Melt skud sy kop. “Liewer ’n motor, dis meer persoonlik.” “Die voertuie is almal uit, en myne is in Joe se werkswinkel,” verduidelik Cecilia, hoewel sy nie kan dink dat ’n vermaaklikheidster van Leonardo se status tuis sal voel in die Golf nie. Melt haal sy motorsleutels uit sy sak. “Hierso . . . Gebruik myne.”
Cecilia se oë rek. Tien uit tien, meneer M, dink sy. Haar eks sou harakiri gepleeg het eerder as om sy motor vir haar te leen. Sy wil dubbel seker maak dat sy nie verkeerd verstaan het nie. “Jóú motor?” “My motor,” beaam hy. “Wat as ek hom stamp?” Hy haal sy skouers op. “Dis net ’n stuk blik . . . Dan betaal die assuransie.” As Garth nie by was nie, het sy hom vol op daardie mooi mond van hom gesoen. “Dankie, dis gaaf van jou,” antwoord sy stemmig. Melt neem nog ’n sluk bitter koffie. “Plesier.” “Ek sal versigtig ry.” “Ek weet jy sal.” Die blieper op sy heup maak ’n piepgeluid en Melt sug terwyl hy dit afskakel. “Ek het gehoop op ’n bietjie rus en vrede . . . Jammer, plig roep.” Voor hy loop, kyk hy vraend na Cecilia. “Daar is ’n dringende saak waaroor ek met jou wil praat. Wat van ete eenuur by die Impala?” Al die meisies gooi hul flikkers vir hom, het Garth gesê. Haar voorganger ook, en dis hoekom sy sak en pak weg is. Sy moenie dieselfde paadjie loop nie. Melt Meiring behoort ’n etiket om sy nek te dra wat waarsku: Gevaar! Bly weg! “Leonardo se vlug land eers elfuur; ek sal nie eenuur terug wees nie,” soek sy verskoning. “Dan maak ons dit halftwee, as dit jou beter sal pas.” “Halftwee is baie laat. Miskien moet jy solank eet en nie vir my wag nie.” “Ek sal wag.” Hy gee haar nie kans om nog verskonings uit te dink nie. “Afgespreek. Sien jou dan.” Garth kyk Melt agterna toe hy wegstap. “Hoekom lyk hy asof hy die boerpot by
die casino gewen het?” “Lyk hy so? Ek het nie opgelet nie.” “Wat wil hy so dringend met jou bespreek?” “Ek weet nie.” “En jy?” Hy kyk nuuskierig na haar. “Wat lyk jy so agterstevoor en onderstebo?” Cecilia vryf haar hare plat. Dis ’n soort heldeverering, besluit sy. Omdat sy Steve mis, projekteer sy haar gevoelens op die eerste ou wat verbykom. Die fase sal oorwaai, en volgende week is dit dalk Garth se beurt. Of Joe. Of netnou dalk Leonardo. Dié logiese ontleding laat haar beter voel. Die res van haar hartkloppings blameer sy op die lentepakkie. Sy moet ’n klagte oor ’n stukkende TV-stel in suite 482 opvolg, en daarna gaan sy ter wille van haar gemoedsrus ’n donker romp en sober bloes aantrek. Dis nader aan ’n uniform, waaraan sy gewoond is en waarin sy veilig voel.
In antwoord op Cecilia se vraag beduie die sekuriteitswag na ’n wit Mercedes Benz-sportmodel op die parkeerterrein. Dáái een is meneer Meiring se vuurwa . . . Cecilia het by Steve van duur motors geleer. Sy knip haar oë. Sy het mos die eerste dag al geraai dit sal sy styl wees . . . Haar vingerpunte streel waarderend oor die enjinkap, waaronder daar ’n lokomotief se perdekrag wegkruip. Is dít wat hy “ ’n stuk blik” noem? Wat nie saak maak as sy dit stamp nie, want die assuransie sal betaal? Binne ruik dit na leer en muskus, met Melt se Monte Carlo-donkerbril wat oor die truspieëltjie hang. Sy skuif vol ontsag agter die stuur in. Hoewel sy deeglik vertroud is met die pad na die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe, bestuur sy stadig en versigtig. Sy konsentreer op die aankomende verkeer en kyk nie rond nie. Op die lughaweterrein parkeer sy in ’n stil doodloopry en gee die veiligheidswag ’n vet fooi.
“Meneer, pas hierdie motor met jou lewe op. As ek terugkom en hy is weg, of daar is soveel as net ’n mérkie aan hom, spyker ek jou met ’n stomp tuinvurk aan die naaste boom vas.” Hy skrik. “Reg so, juffie, ek sal sorg!” Sy is besig om die motordeur te sluit toe ’n bekende stem agter haar roep: “Cilla? Ek het gehoor jy werk by ’n hotel buite Nelspruit . . . Is dit wraggies jy?” Sy draai verras om. “Kaptein Doep! Wat maak jý hier?” “Ek is op die hop-hop-sprinkaanroete: Nelspruit – Durban – Oos-Londen – Port Elizabeth – Kaapstad. Net gou uit die aankomsaal geglip om ’n paar dampe te stook. Kan nog steeds nie die skoorsteengewoonte afskud nie.” Cecilia onthou hy is ’n strawwe roker; hy het swaargekry toe rook op vliegtuie verbied is. “Dis gaaf om ’n bekende gesig te sien. Hoe gaan dit?” “Goed, maar blykbaar nie so goed soos met jóú nie.” Hy kyk veelbetekenend na die wit sportmotor. “Jou wiele?” “Ek wens . . .” Sy lag. “Nee, dis my ryk baas s’n. En hoe gaan dit by Jakaranda?” “Darem nog neus in die lug en bokant die wolke. Ons het ’n nuwe roete Rio de Janeiro toe ingestel en is besig om die oorsese poel aan te vul. Ons mis jou. Jy was een van Jakaranda se topwaardinne. Oorweeg jy dit nie om terug te kom nie?” Haar oë is broeiend toe sy wegkyk en haar kop skud. “Lugdiens is nie die enigste wat jou mis nie, Cilla. Dit gaan sleg met Steve. Hy wou vir jou kom kuier, maar jy wil hom glo nie sien nie.” “Dis beter so, dat die wonde kan genees.” “Kry julle nie julle probleme uitgestryk nie?” Sy sug. “Ons het probeer, maar dit werk nie. Hoekom sê jy dit gaan sleg met hom? Wat makeer?”
Kaptein Doep kyk haar reguit in die gesig. “Wat dínk jy makeer hom? Steve de Villiers is my vriend. Ek het groot agting vir hom – nie net as knap vlieënier nie, maar ook as mens. Daar was van die begin af net een meisie vir hom: jy. Hy sou vir jou die aarde versit het – jy weet dit self. Dit was vir hom ’n harde slag toe jy hom uit die bloute oorboord gegooi het en die troue gekanselleer het.” “Dit was nie uit die bloute nie,” verduidelik Cecilia, haar stem vol rou emosie. “Hy weet daar was oorgenoeg rede. Ek het hom tyd gegee om te verduidelik, en ek het my standpunt duidelik gestel, maar ons kon nie tot ’n vergelyk kom nie. Moenie dink dit was vir my maklik nie. Om my rug op hom te draai en uit te stap, was waarskynlik die moeilikste besluit wat ek nog ooit in my lewe geneem het. Ek is jammer vir Steve, maar ek het nie ’n keuse gehad nie.” “Ek weet nie wat tussen julle skeefgeloop het nie, en ek wil nie my neus in julle privaat sake steek nie.” Hy kyk spekulerend na Cecilia en dan na die wit sportmotor. “Maar as dit ’n kwessie is van ’n ander man wat tussenbeide gekom het – dalk jou . . . e . . . ryk baas wat vir jou sulke duur geskenke gee – dan vra ek jou om ’n tweede keer te dink, meisie. Hoe lank ken jy hierdie man al? Sal hy goed wees vir jou?” Cecilia se wange vlam. “Dis nie wat jy dink nie, kaptein Doep. Ek het Steve nie vir ’n ander man gelos nie. Glad nie. Hoegenaamd nie.” Sy sou graag Nadine Groenewalt se geval wou noem, en een of twee ander insidente in die verlede wat ook nie heeltemal bo verdenking was nie. Maar Steve en Johan du Plessis kom ’n lang pad saam, sedert hul lugmagdae toe hulle saam Hawks gevlieg het. Sy skuld Steve die lojaliteit om hom nie by sy vriend swart te smeer nie. Kaptein Doep lyk nie oortuig nie. “Dis nie my motor nie,” herhaal sy. “My baas het dit net vir my geleen omdat my motor in die werkswinkel is.” “As jy so sê . . .” Hy roer sy skouers. “Al wat ek vra, is dat jy weer sal dink. Steve is dit werd, nooi. Hy is een in ’n duisend. Moenie dit agterna uitvind nie – wanneer dit te laat is.” Cecilia se keel brand. “Ek weet, ja . . . Eers was ek kwaad vir hom, maar daardie stadium is nou verby. Ek is steeds erg oor Steve, en ek sal graag met hom
vriende wil bly. Ek wil hê dit moet goed gaan met hom. Sê asseblief vir hom groete, kaptein, as jy hom weer sien.” “Ek sal so maak, vir wat dit werd is.” Cecilia sou graag nog wou gesels het, oor Lugdiens en al haar vriende wat sy agtergelaat het. Maar vlug JA 806 se vertrek word aangekondig en die asiers begin tou oor die laaiblad om aan boord te gaan. “Ongelukkig al weer op pad . . .” Kaptein Doep druk sy sigaret dood en steek sy hand na haar uit. “Alles wat goed is, Cilla. Dink oor wat ek gesê het, en laat my weet as daar enigiets is wat ek kan doen.” “Ek sal, dankie,” antwoord sy sag. “Veilig vlieg.” Sy bly staan tot die 747-makrostraler aan die onderpunt van die aanloopbaan gaan draai het en dan met ’n stukrag van 209 kN en vier brullende Rolls Roycemotore verbydreun en die lug in klief. Sy kyk totdat die silwer spikkel al kleiner word en uiteindelik in die bloute verdwyn. Dan draai sy weg om in die kleedkamer te gaan kyk of haar maskara strepe oor haar nat wange gelaat het. Daar is nog tien minute voor Leonardo se vlug land. Vlug SA 331, van Kaapstad af, waar hy by een of ander kunstefees opgetree het.
11
Vlug 331 is laat. Amptelik word die vertraging toegeskryf aan ongunstige weerstoestande, maar toe Cecilia ná haar tweede koppie koffie in die kafeteria ’n grondwaardin sien wat sy ken, gaan doen sy navraag. Jolandie trek ’n gesig. “Alles nog steeds ’n nadraai van Twin Towers. Verskerpte sekuriteit en addisionele veiligheidsmaatreëls, wat tydrowend is. Ek weet nie wanneer laas ons ’n dag sonder vertragings gehad het nie. Wees maar geduldig, gaan eet ’n toebroodjie.” “Ek kan nie, ek het ’n ete-afspraak.” “Iets romanties?” “Soort van.” “Wie?” Maar Cecilia wil nie sê nie. “Dalk kry ek op die laaste tippie koue voete, of luister na my kop in plaas van my hart.” “Gelukkige jy. Mlala Lodge wemel van sexy gholfspelers, en ek kry net altyd ma’s met kroepbabas, rolstoelgevalle en potensiële bomplanters.” “Hoekom dink jy het ek as lugwaardin bedank?” terg Cecilia. Sy glimlag ’n groet, maar haar gemoed is somber. Kaptein Doep het wonde oopgekrap wat sy gehoop het al rowe het. Steve is soos ’n verslawing, ’n gewoonte wat sy nie kan verbreek nie. Sy voel opnuut skuldig oor hom. Daar was iets soos verlatenheid in sy stem toe hy laas gebel het – van die lughawe af, pas nadat hulle in Johannesburg geland het. Net om te sê hy is veilig tuis. En te vra hoe dit met haar gaan.
Netnou teenoor Jolandie het dit so maklik geklink om te onderskei tussen ’n mens se hart wat voel en jou kop wat dink. Emosie teenoor logika. Maar haar binneste is ’n warboel van instink, sensasies, gedagtes en waarskuwings. Sy voel vasgevang in ’n maalkolk waaroor sy nie beheer het nie. As dit net Steve was, was dit makliker om te onderskei tussen swart en wit. Maar nou het Melt Meiring bygekom. Dit help nie sy ontken dit nie: sy het ’n gevoel vir hom. ’n Baie sterk gevoel. Só sterk, sy weet sy is besig om halsoorkop, malverlief op die man te raak. Soos al die ander meisies . . . En sy skaam haar daaroor. Haar lewe het ’n grys gebied geword waarin sy nie meer haar eie oordeel kan vertrou nie. Sy het Nelspruit toe gekom om ’n nuwe loopbaan te begin, nie om by ’n man betrokke te raak nie. Sy wil eers weer haar voete vind en haar selfvertroue herwin, leer om objektief te oordeel. Miskien moes sy Alaska toe gegaan het, of ’n rugsak gepak en ’n paar maande deur Kanada geryloop het – geboemel het, om die rafels in haar kop los te torring en uitsluitsel te kry oor wat sy met haar lewe wil maak. Cecilia is rusteloos en gespanne, en sy is verlig toe ’n aankondiging uiteindelik opklink om te sê Vlug 331 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het pas geland. Sy smeer lipstiffie aan en gaan wag by die glasdeure vir Mlala Lodge se BBP. Leonardo is ’n replika van sy konsertplakkate. Hy is groot, na aan twee meter, met ’n bruingebrande voorspelerlyf bedek deur ’n kakiebroek en -hemp, luiperdvelonderbaadjie en ’n bosveldhoed. ’n Tipiese Crocodile Dundee, oorweldigend macho en oorbewus van sy manlike beeld. Die soort vleispaleis wat Cecilia maklik weerstaanbaar vind. Hy vertoef aan die bopunt van die vliegtuigtrap om te wuif en te poseer indien daar bewonderaars of fotograwe is. Op pad na die aankomsaal deel hy handtekeninge aan ’n paar skoolmeisies uit en kyk dan soekend om hom rond. Cecilia staan nader. “Leonardo? Hallo, en welkom! Ek is Cecilia.” ’n Lonkende glimlag speel om sy mond terwyl hy haar van kop tot tone met sy oë uittrek. “My Suzy vir die naweek?” Hy is so blatant, Cecilia wil eerder giggel as kwaad word. Sy wens Vera was hier – dié sou histeries gewees het. “Mlala Lodge se skakelbeampte,” antwoord sy
koel en saaklik. “Selfde ding,” grynslag hy en drapeer ’n dik arm om haar skouers. “Sal ons my bagasie gaan kry, Suzy?” “My naam is Cecilia,” korrigeer sy ferm en wikkel haar onder die beer-greep uit. Sy wiel ’n trollie nader en gebruik dit as ’n skans tussen haar en die orige mansmens. Hy het ’n wavrag bagasie, maar gelukkig geniet hy dit om sy spiere te wys en verwag hy nie sy moet met die tasse, kleresakke en ekstra luidsprekers help nie. Sy kan maar net hoop al die goed sal in Melt se kar pas. Ongelukkig sal daar nie vir die trollie plek wees nie, wat ’n jammerte is. Sy het die gevoel sy gaan ’n verskansingsapparaat nodig kry. ’n Rooikopmeisietjie kom met ’n pen aangedraf. “Leo . . . Die Laeveld Leo?” hyg sy uitasem. “Ons hele klas kom môreaand na jou konsert toe!” “Dis goed, poppiedol,” glimlag hy sjarmant. “Ek sal vir jou plek hou in die voorste ry, want ek wil ‘Bosveldnooi’ spesiaal vir jou sing. Net vir jóú alleen . . .” “Oe . . . Oe, ja, seblief!” kreun die meisie in ekstase en begin haar skoolbaadjie losknoop. Haar ouma Klara mor gedurig oor vandag se losbandige jeug, maar dis die eerste keer dat Cecilia hul losse sedes eerstehands ervaar. Haar mond hang oop terwyl sy die tienermeisie dophou. Die baadjie word sonder seremonie uitgepluk en beland in ’n bondel op die bagasietrollie. Sy kom staan reg voor Leo en staar bewonderend op in sy gesig. Dan swaai sy om en buig vooroor dat haar kort skoolrokkie opwip. “Sal jy asseblief jou naam agterop my hemp teken?” vra sy en gee vir hom die koki-pen. Dis niks nuuts vir Leo nie. Hy teken ’n hartjie op die rugkant van die wit skoolhemp, trek ’n Cupido-pyltjie daardeur, maak ’n paar kruisies onderaan en voeg sy handtekening by. “Jippie!” jubel die sproetgesiggie. “Ek gaan dit vir al my maats wys. Ek gaan die hemp nooit was nie, hom raam en vir altyd teen my muur hang!”
“Maak so!” Leo knipoog. “En onthou, poplap, môreaand sing ek spesiaal net vir jou.” Die meisietjie is skoon in ’n beswyming. “Dankie . . . oom,” stamel sy, gryp haar baadjie en laat spaander. Leo grynslag lui. “Oulik. Maar ek verkies my Suzies ’n bietjie ouer en blond.” “Ek is eintlik ’n brunet,” lig Cecilia hom in. “Hierdie blonde kleur kom uit ’n bottel.” Haar taktiek werk nie. Sy arm skuif om haar middel en hy gee haar ’n druk terwyl hy in haar oor fluister: “Ek is mal oor bottels. En hulle inhoud . . .” Cecilia begin die swaargelaaide trollie in die rigting van die parkeerterrein stoot. “Sjoe, hy weeg ’n ton, en sy wiele kort olie,” skimp sy met ’n kreun en ’n steun. Hy verwyder sy arm. “Oppas, jy gaan seerkry! Gee dat ek stoot, ek is sterker as jy.” Sy stap vooruit en sê ’n dankgebedjie op toe sy Melt se motor ongeskonde op die parkeerplek sien staan. Sy gaan nie die stomp tuinvurk vir die veiligheidswag nodig hê nie, maar moontlik later vir die Laeveldleeu . . . Leo laai die groot goed in die kattebak en pas die luidsprekers op die smal agtersitplek in. Hy hou sy hand uit vir die sleutel. “Sal ek die wiel vat, pop?” Cecilia sidder. “Jy hoef nie, dankie.” “Ek gee nie om nie.” Ék gee om, dink sy. En Melt gee om. En die arme Merc gee om . . . Sy klim agter die stuurwiel in en gee Leonardo ’n glimlag wat hopelik sy tone boontoe sal laat krul. “Deel van Mlala se vyfsterdiens.” Dit was ’n gevaarlike woordkeuse. Leo is dadelik geïnteresseerd terwyl hy langs haar inskuif. “Klink belowend . . . Wat alles is nóg ingesluit?” Cecilia hou haar dom. “Drie etes per dag. DStv, lugverkoeling, breëband-
internet, 24-uur-kroegdiens, en so meer.” Voor hy weer ’n gaping kan vind, beduie sy na Leeukop en Blinkwaterberg wat op die horison uitrys, en vertel die een en ander omtrent besienswaardighede waarby hulle verbyry. Terwyl sy gesels, kyk Cecilia ongemerk op haar horlosie. Sy kou haar onderlip en waag dit om die petrolpedaal bietjie dieper in te trap, hoewel sy weet dis futiel. Sy is hopeloos laat en Melt se tyd is beperk. Hy sou nie gewag het nie. Dalk is dit beter so, dat sy uit sy pad uit bly. Wat ook al die belangrike saak is waaroor hy met haar wil praat, sal tot later moet oorstaan. Sy onderdruk ’n gevoel van teleurstelling. Die parkeerplek op die punt van die voorste ry word blykbaar vir meneer M gereserveer. Mlala se veiligheidswag herken van ver af die sportmotor en wink haar nader. “Alles reg, juffrou Louw?” wil hy weet en roep ’n bagasiejoggie nader. Sy streel oor die enjinkap. “ ’n Wa om voor parfuum aan te sit.” Hy knik. “En ’n nuwe stel spênners te koop.” En ’n nuwe rok . . . “Het Suidewind Safari’s se toerbus al ingekom?” vra sy. “Ja, juffrou Louw. Net voor eenuur, betyds vir middagete. En die Sitrusraad se mense ook.” “Dankie, meneer . . . e . . .” Sy wens sy het Melt se gawe gehad om almal se name te onthou. “Pottie. Die van is Potgieter, maar almal sê sommer Pottie.” By ontvangs bied Cecilia vir Leonardo yskoue vrugtesap aan en reël dat verversings vir hom en sy tegniese span na die Lapa gestuur word. Dan oorhandig sy hom aan Sue Bernard. “Dra ’n pantserharnas en hou ’n hokkiestok naby om jou mee te verdedig,” fluister sy onderlangs. “Moenie vir hom sê jou naam is Sue nie, liewer Anna of Marie of iets.”
Sy kyk op haar horlosie. Die kalf is klaar in die put, nog ’n paar minute ter wille van ’n goeie saak sal nie ’n verskil maak nie. “Sue, is jy getroud?” wil sy weet. “Het jy ’n man of ’n jaloerse kêrel wat ’n bokser is?” Sue lyk verbaas. “Nie een nie. Hoekom?” “Sommer net gewonder, ten bate van iemand,” antwoord Cecilia ontwykend. Sy verwyder ’n dooie strelitzia uit die toonbankrangskikking en luister na ’n gas se klagte oor ’n lugreëlaar wat soos ’n grassnyer klink pleks van ’n yskas. Klêkklêk, pleks van brrr . . . Op pad na die hysbak steek sy vas en kyk om na Sue. “Terloops, Garth sê jou oë lyk soos Delft-porselein. Ek dag ek sê dit vir jou, want wat is die nut van ’n kompliment as dit nie by die regte persoon uitkom nie?” Sue bloos. “Garth is gaaf. Jy kan maar vir hom sê ek sê so . . . ” “Sal so maak,” belowe Cecilia. In die hysbak kruis sy drie vingers: dat daar nie weer ’n kragonderbreking is nie, dat haar inmenging met Sue en Garth nie boemerang nie, en dat ’n wonderwerk asseblief gebeur het sodat Melt vir haar gewag het. Maar blykbaar het sy nie genoeg Brownie-punte opgebou nie. “Meneer Meiring was hier, ja,” bevestig die kelner by die Impala. “Tot amper halfdrie. Nee, hy het niks geëet nie, nie eens ’n cappuccino gedrink nie. Net ongeduldig gelyk, en toe later opgestaan en geloop.” Cecilia wil huil. Dis belangrik om te weet wat Melt met haar wou bespreek het, al is dit sommer of sy tevrede is met die mat in haar kantoor. Die gesprek met kaptein Doep en Leonardo se vatterigheid het haar ontstig. Sy verlang na Melt se rustigheid, sy warm, diep stem en breë skouers. Al is dit net vyf minute, wil sy by hom wees. Dankie sê vir die leen van sy lieflike motor en die vertroue wat hy in haar bestuursvernuf gestel het. Sommer net hom sien en naby hom wees . . . “Het hy dalk ’n boodskap gelaat?” Toe die kelner sy kop skud, probeer sy weer: “Of weet jy dalk waar hy nou is?” “Ongelukkig nie, juffrou Louw.” Haar gesig wys blykbaar dat sy troos nodig het.
“Kan ek vir jou ’n lekker cappuccino bring?” bied hy aan. Sy skud haar kop. Dit sal soos plastiek smaak. Sy gaan help Garth sitrusvrugte uitpak en dra Sue se boodskap oor. Sy kuier saam met die Suidewind-toergroep, doen ’n vlugbespreking vir ’n oorsese asier en verstel die grassnyer in suite 448 terug na ’n yskas toe. Sy maak ’n draai by die Lapa en dwing haarself om beleef teenoor Leonardo te wees, belang te stel in die nuwe luidsprekers wat hy wil uittoets en ’n getekende foto van hom met grasie te ontvang, terwyl sy tussenin sy seekatgrepe probeer ontglip. Ná twintig minute daarvan beskou sy haar plig as afgehandel. Sy gryp die skinkbord met leë glase en ontsnap kombuis toe. Nou het sy ’n warm bad en ’n uur alleentyd verdien, besluit sy. Op pad na haar chalet breek sy ’n paar geel soetdoringtakkies af om in ’n glas water op haar spieëlkas te sit. Sy kyk verras na die tarentaalveer wat op die patio lê en buk om dit op te tel. ’n Geskenk, soos die Snow Goose en Boerneef se berggans ook ’n veer laat val het . . . Sy is in ’n sentimentele luim. Sy bêre die gespikkelde swartbont veer om dit as ’n boekmerk te gebruik. Dan sit sy die Pavarotti-CD op, steek ’n kers aan en gaan bad in die mooi badkamer van oker en klei en klip. In die middel van Nessum Dorma lui haar deurklokkie. Cecilia kreun. Melt het die eerste dag gewaarsku sy is vier en twintig uur aan diens, maar sy het gehoop op ’n bietjie rus en vrede ná ’n vermoeiende dag. Dis waarskynlik een van die skoonmakers, en die versoeking is groot om te skree die vrou moet môre terugkom. Maar straks is dit ’n krisis of ’n hotelgas wat haar soek. Sy sug terwyl sy die kers doodblaas, uit die bad klim en haar japon aantrek. Toe sy die deur oopmaak, kyk sy vas in Leonardo se grynsende gesig, gehul in ’n bierwalm. “Haai daar, Suzy-Floozy,” groet hy met ’n sleeptong. “Wat soek jy hier?” vra sy bot. “Vir jou,” antwoord hy en glip in voor sy die deur kan toedruk. Sy oë flikker oor die diep V tussen die pante van haar japon en hy lek met die punt van sy tong
oor sy vlesige bolip. Cecilia pluk die japon toe tot bo teen haar ken. “Dis my privaat woonplek hierdie en jy kan nie sommer ongenooi instap nie!” roep sy vererg uit. Hy beweeg nader. “Jou lýf het my genooi, van vroeg af al. Daardie borste en bene vra om aan gevat te word . . .” “Jy is onsmaaklik!” Sy stoot die deur wyd oop en wys met haar vinger na buite. “Uit hierso! Nou, op die daad!” Hy grynslag suggestief. “En wat as ek nie wil nie? As ek liewer by my Suzy vir die nag wil kuier, wat ingesluit is by die vyfsterdiens?” “Jy het te veel gedrink. Loop, asseblief, voor ek sekuriteit ontbied om jou te verwyder!” herhaal sy. Hy is minder dronk as wat sy gedink het. Voor Cecilia besef wat sy plan is, tree hy rats vorentoe en kry haar om die lyf beet in ’n greep wat haar hulpeloos laat. Hy druk haar teen die bank vas terwyl sy hande oor haar lyf dwaal en na die gordel van haar japon reik. Saam met die bierwalm slaan ’n sweetreuk in haar neus op wat haar naar maak. “ ’n Man is net ’n man, van vlees en bloed gemaak . . .” hyg sy nat mond teen hare. “ ’n Meisie soos jy maak ’n man mal! Ek is lus vir jou en ek wil jou hê . . .” “Nee! Los my! Gee pad hier uit!” Cecilia stoei en veg met al haar krag. Sy beur agteroor, ruk haar kop weg en stamp sy hande van haar af. Maar hy is ’n groot man en te sterk vir haar. Sy dagoud baard rasper ’n brandpyn teen haar keel. Sy arms pen haar op die rugleuning vas en sy vingers voel warm en sweterig onder haar japon in. Sy klap sy hand weg, skop en soek wanhopig na ’n wapen om haar mee te verdedig. Sy is vaagweg bewus van materiaal wat skeur, terwyl sy spartel om weg te rol en onder sy swaar lyf uit te kom. Haar arm voel asof dit uit lit gerek word, maar met nog ’n sentimeter se strek en beur, tas haar vingers die kleipot op die koffietafel raak. Sy mors nie tyd om eers die gedroogde blomme en sade uit te gooi nie, gryp die boonste rand van die pot stewig vas en swaai dit in ’n boog deur die lug.
Sy is skraal gebou, maar daar is ’n seningrige krag in haar, wat sy alles ingesteek het agter daardie wye, swaaiende boog. Die swaar kleipot tref Leonardo teen die agterkop, in ’n ontploffing van skerwe, gedroogde agapante en tamboekiegras wat in alle rigtings vlieg. Leonardo kantel dwars en val agteroor, bo van die bank af. Sy kop klap teen die hoek van die koffietafel en hy land met ’n plofslag op die teëlvloer. Sy oë kyk oormekaar. Sy een voet in die Bosveldstewel ruk-ruk ’n slag en dan lê hy stil. Cecilia is spierwit geskrik en staar verbyster na die slap figuur. Daar is bloed teen sy slaap en dit lyk nie of hy asemhaal nie. Haar eerste gedagte is dat hy dood is, maar sy is te bang om na ’n pols of hartklop te voel. Sy vou haar geskeurde japon oormekaar, klim bo-oor hom en steier ’n ent weg. Moet sy die polisie of ’n ambulans bel? Kunsmatige asemhaling toepas en hom probeer lawe? Sy wil nie aan hom raak nie. Aan die een kant is sy bang hy kom by en aan die ander kant bang hy is dood, of in ’n koma en herwin nooit weer sy bewussyn nie. Dit was selfverdediging, maar sal dit in ’n hof as versagtende omstandighede dien? Toe sy hardloop om water en ’n nat handdoek te kry, hoor sy vanuit die badkamer hoe hy kreun. Sy bly staan, blaas haar asem in rukkerige stote uit en bid ’n dankiesê-gebedjie. Dan loer sy behoedsaam om die kosyn, onseker wat om te verwag. Die man gaan buite homself wees. Dalk nog steeds wellustig en nou ook vol wraak. Haar blik meet die grootte van die badkamervenster, maar daar is diefwering aan en sy sal nie kan uitkom nie. “Suzy?” roep Leonardo krakerig uit die sitkamer. Cecilia glip by die kombuis in. Sy gryp ’n swaar koperboompan vir ’n wapen en maak die agterdeur oop as ontsnaproete. Sy loop sitkamer toe. “Ek sien jy leef . . . Moet ek ’n dokter kry?” vra sy kil. Sy kop draai in haar rigting. Hy vryf oor sy gesig en swets onderlangs – iets van ’n feeks en ’n bleddie bitch en ’n klomp erger skelname – terwyl hy wankelrig op sy voete kom. Hy steier voordeur toe, maar bly staan om haar met rooi oë aan te gluur. “Moenie dink jy gaan hiermee wegkom nie, jou cheap floozy! As ek dit nie kon
doen nie, sal my prokureur dit doen – jou kaal uittrek! Jou hof toe vat vir elke sent wat jy het! Jy sal nog terugkruip na my toe . . . Op jou knieë voor my krúip!” Met dié laaste dreigement slinger hy uit en slaan die voordeur met ’n dawerende slag agter hom toe. Noudat dit verby is en die dronk skepsel weg is, is dit asof ’n vertraagde skokreaksie Cecilia tref. Sy bewe soos ’n riet en haar knieë is lam. Sy sit die pan neer en druk haar gesig in haar hande terwyl haar skouers begin ruk. Is dit haar skuld omdat sy te vriendelik was? Hom aanleiding gegee om te dink sy is ontvanklik vir sy ongure attensies? Dalk moes sy van die begin af fermer teenoor hom gewees het . . .
12
Haar selfoon lui. Cecilia se eerste impuls is om dit te los, maar plig kom eerste en uit die mag van die gewoonte steek sy haar hand uit om te antwoord. “Hallo, daar!” groet Melt se diep stem. “Jammer dat ek nou eers bel. Ek het tot laat vir jou by die Impala gewag, maar toe kry al twintig katte skielik weer kleintjies – almal tegelyk. Sal ons vanaand weer probeer vir daardie ete?” Sy sluk pynlik. “Ekskuus?” “Het jy geslaap?” “Nee . . .” “Cecilia?” sê-vra hy. “Hoe klink jou stem so vreemd?” “Ek’s oukei . . .” “Jy klink nie oukei nie. Wat gaan aan?” Sy sukkel kombuis toe en probeer om met een hand ’n glas water te tap. “Niks nie . . . ek makeer niks nie.” “Dit klink nie so nie. Waar’s jy?” “Hierso . . .” “By die huis?” Sy sluk ’n mond vol water onder die kraan en ruk haar reg. “By my chalet,” antwoord sy, maar Melt het reeds afgelui. Seker weer sy blieper of ’n noodgeval waaraan hy moes aandag gee, dink sy en drink nog ’n bietjie water vir haar keel. Dan besef sy haar keel is nie net droog
nie, dis seer ook. En nie net binne nie, buitekant ook. Dis rou geskaaf en geswel. Môre gaan haar nek en lyf vol bloukolle wees. Dit was traumaties, maar sy was gelukkig, dit kon soveel erger gewees het. Aaklige skepsel . . . Sy gril by die herinnering aan sy suur sweetreuk en drankasem. Buite stop ’n voertuig. ’n Deur klap toe en voetstappe weerklink op die patio. Sy verstar en pluk die geskeurde kraag van haar japon toe. Is dit Leonardo wat teruggekom het? Sy was in so ’n toestand, sy kan nie onthou of sy die voordeur agter hom gesluit het nie. Daar is ’n klop aan die deur en ’n stem wat na haar roep. Sy skrik en hardloop in die gang op – vas in ’n donker figuur op pad deur die sitkamer. In die skemer kan sy nie behoorlik sien nie, net aan die buitelyne uitmaak dis ’n man. Iemand groot . . . Sy skree en swaai wild met haar arms om hom te probeer afweer. Sterk hande vat haar vas. Een arm pen haar arms vas en die ander een haar bolyf om haar te probeer beheer. “Hokaai! Stadig nou! Dis ek.” Hoewel haar brein registreer, is haar lyf nog vol adrenalien. Sy ruk weg, rem en spartel teen die hand wat haar gewrigte vasdruk. Totdat iets aan die skouers en die hemp opeens vir haar bekend is. En sy die vae muskusgeur ruik . . . Toe verslap sy. “Ekskuus dat ek sommer ingestap het, maar ek het gedink iets het gebeur,” sê Melt. Sy knyp haar oë toe, staan doodstil en laat ná ’n paar oomblikke met ’n sidderende sug haar kop teen sy bors rus. Sy arms wat om haar vou, word sag en beskermend. “So ja . . . dis beter. Wat het gebeur? Wat gaan aan?” Cecilia kan nie ’n woord uitkry nie, net teen hom leun terwyl verligting in ’n vloedgolf oor haar spoel. “Wie het jy gedink is dit?” probeer Melt weer. Sy moet eers sluk voordat sy die naam kan uitkry. “Leo.” ’n Frons laat trek sy wenkbroue saam. “Leonardo? Hoekom hý?”
Sy was lank genoeg dapper en selfstandig. Dis ’n verligting om haar nagmerrieervaring op sy skouers af te laai: Leo se sweterige, vroetelende hande, die gestoei op die bank, die blompot, haar angs en skok. Dis ’n saligheid om veilig en beskut in sy arms te wees, wetend daar is geen ander plek op aarde waar sy op hierdie oomblik liewer sou wou wees nie. Melt hou haar ’n armlengte weg om in haar gesig af te kyk. “Leo, hier in jou chalet?” vra hy skerp. “Die vuilgoed! Ek gaan sy kop van sy lyf af donner!” Skielik, met vaste sekerheid, besef Cecilia: sy het hierdie man met die sterk skouers en koesterende hande lief. Nie net nou uit dankbaarheid en verligting nie, maar lankal. Van die heel eerste oomblik toe sy aan sy baadjiemou vasgehou het en hy gesê het sy moet dink aan nartjies eet by ’n rugbywedstryd of sjokolade aflek van haar vingers . . . Haar hart het geweet dis besig om te gebeur, maar haar verstand het weggeskram met die voorwendsel dat Steve nog te deel van haar is, dat sy emosioneel nie gereed is om betrokke te raak nie. Dit het ’n dronk Laeveldleeu gekos om haar wakker te skud en die simptome te herken. “Hy was vol bier, hy het nie geweet wat hy doen nie.” Sy is só gelukkig, sy kan selfs vir Leonardo verskoning soek. Sy voel om te sing en te dans onder ’n stortreën van sjampanje. Sy wil haar arms om Melt se nek sit en teen sy lyf versmelt. “Hy was nugter genoeg om te weet waar jy bly en dat jy vrou-alleen hier is!” sê Melt ontsteld. “Ek het gesien die spul daar by die Lapa bêre die biere asof ’n droogte op pad is, maar ek het darem nie gedink daardie stuk skuim sal hom met geweld op ’n vrou afdwing nie. Hoekom het jy my nie gebel nie?” Cecilia is op ’n ander bladsy. Sy wens Melt wil ophou om oor die aaklige Leonardo te praat. Sy wil die vlesige lippe en drankasem vergeet en op belangriker dinge konsentreer. Op die heerlike wete van die ontdekking wat sy so pas gemaak het. “Ek is nie hulpeloos nie, ek kan na myself omsien. En jy is besig, jy’t te veel ander pligte om jou ook nog oor my te bekommer.” “Na jouself omsien?” Hy lag kortaf en sonder humor. “Deur ’n dronk ou oor die kop te moet slaan om te keer dat hy jou verkrag?”
“Dit was nie so erg nie. Ek het ’n onnodige bohaai opgeskop.” Melt laat hom nie paai nie. Hy is hewig ontsteld. “Te besig, te veel pligte? Bog! Ek het jou voorheen gesê ek is tot jou beskikking as jy my nodig het – dag of nag. Ek het dit bedoel, Cecilia. Ek gee vir jou om en jy is vir my belangrik. As jy my nodig het, sal ek alles los en dadelik kom. Ek het gedink teen hierdie tyd weet jy dit.” Gee vir haar om – wat beteken dit? Soos vir sy beste hemp, sy gholfstokke en die weeskindertjies in Kambodja? “Waar was Garth, dat hy niks kon doen nie? Of Joe?” “Garth was ver, by die sitruspromosie. En Joe ook, seker by sy werkswinkel.” “Jy moes om hulp geroep en die noodknoppie gedruk het! Wat baat sekuriteitswagte en ’n alarmstelsel as jy dit nie gebruik nie?” “Hy was te vinnig op my en te sterk. Ek kon nie by die knoppie kom nie.” En sy is vir hom belangrik, het hy gesê. Omdat sy vir hom werk en sy hele personeel vir hom belangrik is? Sy weet Melt is nie heeltemal neutraal teenoor haar nie; ’n vrou kan so iets intuïtief aanvoel. Daar is iéts tussen hulle, ’n aangetrokkenheid – ’n toegeneentheid, het hy dit op ’n keer genoem. Sy vingerpunte lig haar kakebeen versigtig na die lig toe sodat hy beter kan sien. “Wat makeer jou keel?” “Dis niks. Geskuur. Sy baard was lank . . .” “En jou japon?” Sy mond span in ’n onverbiddelike lyn en hy raak aan die Vvormige kraag wat oopgeskeur oor haar skouer gaap. “Ook daardie verdomde seksmaniak se werk?” Cecilia rem selfbewus aan die stukke handdoekstof. Sy het verwag hy gaan ontplof, weer teen Leonardo uitvaar en dreig om hom met sy vuiste by te dam. Maar Melt raas en lawaai nie. Sy luim verander en hy trek haar teer teen hom vas. “My arme mooie meisiekind,” troos hy. “Arme perskebloeiseltjie . . . Ek is
jammer dat ek nie hier was om jou te help nie, só jammer oor wat jy alleen moes deurmaak.” As hy aanhou baklei het, was dit makliker. Maar dit was van kleins af so: as iemand met haar simpatiseer, kry sy haarself ook jammer. Sy probeer sterk wees, maar die trane begin stroom oor haar wange en oor sy pragtige donkerpers hemp. “Ek is . . . j-jammer,” stamel sy midde-in die Niagara-waterval. Melt gee vir haar sy sakdoek. “Ek is nie. Ek hou daarvan, want dit gee my ’n verskoning om jou te troos.” Hy soen haar deurmekaar hare, haar nat wimpers en die punt van haar neus; vee met sy duim oor die traanstrepe aan haar wange. Dan, vlindersag, oor haar kaal skouer, die stukkie van haar sleutelbeen wat uitsteek en die ronding van haar bors daaronder. Sy asemhaling raak vinniger, rukkerig. Maar dan aarsel hy en sy hand verstil. “Of moet ek ophou? Is dit seer? Sensitief?” fluistervra hy. Dit is nie – nie seer nie. Maar wel sensitief vir elke molekule van hom wat teen haar raak. Van die ligte fladdering van sy mond teen haar wimpers, sy skouer teen hare, sy heup en bobeen wat warm teen haar aandu – elke greintjie van sy harde, lenige lyf wat haar liggaam laat vlamvat. Haar borste voel swaar, smagtend na sy aanraking, met ’n gretigheid en ’n afwagting wat haar ook kortasem laat. Met haar hele wese begeer sy om haar hand op Melt s’n te sit en dit terug te plaas waar dit was. Dit kos wilskrag om terug te staan en lyfkontak tussen hulle te verbreek. Al is dit net ’n sentimeter . . . Anders, weet sy, gaan sy kop verloor en doen wat sy nie wou nie. Waaroor sy môre spyt gaan wees. “Ons . . . e . . .” stamel sy verward en bondel haar japon toe. “Jy en ek . . . ken mekaar nie goed genoeg vir . . . hiervoor nie.” Melt dring nie aan nie. Hy maak ’n verontskuldigende handgebaar en trek die geskeurde japon netjies reg oor haar kaal skouer, versigtig om nie aan haar te raak nie. Sy asem kom onreëlmatig, met rukke en stote. Toe hy praat, is sy stem vol frustrasie. “Ek weet, ja . . . Jy is reg, dis te gou. Maar hoe lank is ’n stukkie lyn?”
Sy voel dom. “ ’n Stukkie lýn? Ek weet nie.” “Presies. Dis relatief – soos hoe goed twee mense mekaar eers moet leer ken. Party het ’n oogknip nodig, vir ander is ’n leeftyd te kort. Ek het dadelik geweet jy is die meisie vir wie ek gewag het – die oggend daar by Sue se toonbank, toe daardie twee groot groen oë van jou dwarsdeur my tot binne-in my siel gekyk het. Ek het geweet hierdie meisiekind wil ek hê.” Hy leun nader en vee met sy lippe oor hare. “Jý is die onafgehandelde sake waarvoor ek teruggekom het. Ek is vanoggend vroeër uit Pretoria weg, nadat ek drie dae lank gefrustreerd geloop en tob het. Ek was haastig om by jou te kom, omdat ek twee belangrike dinge gehad het wat ek vir jou wou sê. Twee dinge wat ek reeds gesê het: Ek gee vir jou om, en jy is vir my belangriker as enige ander mens op aarde. Ek is lief vir jou, Cecilia Louw, en ek wil jou myne maak. Nie net nou, tot ek gekry het wat ek wil hê nie, maar vir altyd. Ek verstaan jou huiwering, want tot onlangs het ek self ook gedink ons is nie eens in ’n verhouding nie, en miskien moet ons mekaar eers behoorlik ontdek. Maar wat doen ons intussen omtrent hierdie . . . hierdie vonk wat ’n vlam geword het en op pad is na ’n veldbrand?” Cecilia weet wat hy bedoel. Hy is net so bewus van haar soos sy van hom, van die “iets” wat tussen hulle groei. Die sandkorrel wat ’n miershoop geword het en op pad is na ’n berg . . . Sy druk haar hande in haar sakke om die versoeking te weerstaan om aan hom te raak. “Ek voel ook die vonk tussen ons. ’n Konneksie, ’n chemiese reaksie . . . noem dit wat jy wil. Maar dis blote ie en wellus wat sonder rede tussen ons ontspring het. Dit kan niks dieper wees nie, want ons is so te sê vreemdelinge.” Vir haar het dit logies geklink. Maar ’n glimlag roer om Melt se mondhoeke en sy oë tintel. “ ’n Interessante teorie. En wat stel jy voor sal ons omtrent hierdie onverklaarbare . . . e . . . wellus doen?” Sy sukkel om haar stem neutraal te hou. “As ons dit ignoreer, sal dit weldra vanself oorwaai.”
“Jy reken?” Sy een wenkbrou lig. “Dit sal ’n hengse sterk tornado kos om dit te laat oorwaai.” “Nee wat, dis klaar weg . . .” “Weg?” Hy lag. “Jy praat teen jou eie beterwete . . . Is jy seker?” “Natuurlik,” antwoord sy met meer oortuiging as wat sy voel. “Ek verskil van jou,” stry hy. “Kom ons doen ’n eksperiment om vas te stel wie van ons reg is.” Cecilia snap nie dadelik wat hy bedoel nie. Sy staan vasgenael toe hy die sentimeter spasie tussen hulle herwin en haar lyf opeis. Hy trek haar teen hom vas en buig haar agteroor, sodat sy in sy arms lê en haar gesig reg onder syne is. Sy kop buig laer en hy soen haar. Sy lippe ondersoek haar gelaatstrekke een vir een, eksperimenteer met haar oorskulp en verken die lyn van haar kakebeen, strelend af oor haar nek en sleutelbeen. Dan stadig, voel-voel tot by haar kuiltjie en die onderpunt van die V-nek-kraag. Cecilia vergeet al haar logiese redenasies, wat opeens nie meer sin maak nie. Al waarvan sy bewus is, is dat Melt se eksperiment vonkelwyn deur haar are laat bruis. Haar hart tamboer in suiwer ekstase. Haar lyf word sag en soet teen syne, nie in staat om teen die proefneming te rebelleer nie. Of te keer toe hy sy een hand om haar middel losmaak en sy vingers die boonste pêrelknopie van haar japon stadig oopknoop nie . . . Hy soen die gleufie tussen haar borste en verberg sy gesig in die stuwende rondings aan weerskante. Sy vingers vind die volgende knopie en sy kop buig laer, terwyl hy met die punt van sy tong die buitelyne van haar mond navolg. Sy hande is koel oor haar koorsige lyf toe hy die laaste knopie oopwoel en die gordel lostrek. “Jy is mooi. Lieflik!” fluister hy gesmoord en stroop die japon van haar af sodat dit in ’n bondel by haar kaal voete val. In dieselfde beweging tel hy haar op en dra haar in die gang af. Cecilia se mond soek na syne met ’n ie wat haar teen sy bors laat smelt. Haar arms klem om sy nek toe hy in die slaapkamer kom en haar versigtig op die bed neerlê.
“Onweerstaanbaar en begeerlik,” fluister Melt toe hy half bo-oor haar gaan lê. Hy liefkoos haar langsaam, talmend en koesterend, terwyl hy haar onderlyf onder syne inskuif . . . Dan verstar hy skielik, kreun en rol van haar af weg. “Nee, nie só nie. Nie nóú nie . . . Dis nie hoe dit die eerste keer moet gebeur nie.” Hy bly op sy maag langs haar lê, sy gesig in die kussing gedruk, terwyl hy veg om sy selfbeheersing te herwin. Cecilia weet wat dit hom gekos het om weg te rol, want sy stry teen dieselfde oorweldigende drang. Elke sintuig in haar roep uit na hom, hunker om na hom te reik en hom terug te lok na haar. Melt rol om op sy sy. Sy onstuimige blik vang hare vas, die boodskap daarin duidelik leesbaar. Oplaas streel sy vingers tot waar haar borsbeen eindig, en nog ’n entjie aan, tot net onder haar naeltjie. Maar nie verder nie. Hy rol verder weg en trek ’n hoek van die duvet oor haar. Dan staan hy op en gaan spoel sy gesig in die badkamer af. Toe hy terugkom, bly hy in die deur staan, net buite die slaapkamer. “Ek is jammer, Cecilia, en ek vra om verskoning. Ek is nie trots op myself nie. Ek het gedink as ek jou vashou en troos, sal dit die ervaring met Leonardo neutraliseer. Maar die situasie het handuit geruk. Ek het toegelaat dat my emosies oorneem en het van jou weerloosheid misbruik gemaak.” Hy vryf met sy vingers deur sy hare. “Die stukkie lyn was toe korter as wat ek gedink het. Ek beter loop, voor ek ook ’n kansvatter word met net een ding in sy kop . . .” Hy kom nader, tot langs die bed en kyk lank na haar, voor hy die punte van die duvet knus om haar invou en met sy vinger ’n strepie oor haar wang trek. Dan stap hy met besliste treë uit. Sy hoor hoe hy die voordeur agter hom toemaak. Cecilia bly lê, bewend en gefrustreerd. Sy weet nie vir wie sy kwaad is nie: vir Melt of vir haarself. Kwaad omdat sy so maklik beskikbaar was . . . En vir hom omdat hy nie gebly het nie. Sy is lus om hom terug te roep om te kom klaarmaak wat hy begin het. Hy het
mos gesê hy is tot haar beskikking – dag of nag . . .
13
Cecilia het gehoop Melt bel, al was dit net om nag te sê of sommer net te vra hoe dit gaan . . . Maar ná hy weg is, het hy niks weer van hom laat hoor nie. Nie gisteraand nie en ook nie vanoggend nie. Laaste was die klik van die voordeur toe hy uitgestap het. Is hy skaam? Spyt omdat hy te gou gepraat het en van mening verander het? Hoe gaan sy hom in die oë kyk? Sal hy dalk dink sy het hom uitgelok? Dat sy dalk met Leo ook geflirt en gekry het wat sy gesoek het? Ai, sy wens Vera was hier om haar gerus te stel dat gisteraand nie ’n droom was nie . . . Wat maak sy as Melt haar ignoreer – koel en afsydig sy gang gaan en haar behandel soos die vreemdeling wat sy volgehou het sy is? Sy sal nie saam met hom kan werk en hom elke dag sien nie. Dit sal te vernederend wees. Sy sal haar tasse moet pak en ander werk soek, dalk selfs teruggaan Lugdiens toe. Of na Steve toe . . . Mits Steve haar nog wil hê. Ná ’n lang tyd het hy gisteraand weer gebel, nie in ’n goeie bui nie. Sy het gewens die verbinding was dof en vol eggo’s, soos dikwels in die verlede. Maar hy was in die Kaap, en sy kon elke woord van die beskuldigings en verwyte asof in stereoklank hoor. Sy was darem bly om te hoor dat hy in Madrid by haar pa-hulle gekuier het. “Wanneer kom hy en my ma kuier?” wou sy weet. “Ek moet vroegtydig ’n datum hê, sodat ek ’n suite kan bespreek. Vanaf November tot einde Januarie is hoogseisoen, dan is die Lodge gewoonlik vol.” “Dit behoort nie ’n probleem te wees nie,” het hy stroef geantwoord. “Jou ryk baas kan seker ’n plan maak om sy minnares se ouers te akkommodeer.” Sy het eers koud geword, en toe warm. “Wat bedoel jy?”
Hy het spottend gelag. “Ag, kom nou . . . Jy en ek is nie kinders nie, Cilla. Ons is albei mos al mooi groot. Jy weet goed wat ek bedoel.” “Nee, ek weet nie,” het sy uitdagend geantwoord. “Jy maak insinuasies sonder dat jy die feite ken.” “Daar is genoeg bewyse.” “Bewyse? Watse bewyse?” “Die man het tog sekerlik nie daardie lang slap sportmotor vir jou gegee omdat jy sulke lekker koffie maak nie?” Dekselse kaptein Doep, het sy met ’n sinkende gevoel gedink. Hy en Steve het mekaar seker in die Kaap raakgeloop, en natuurlik sou Doep hom vertel het dat hy haar op die lughawe gesien het. “Sê vir jou kastige boesemvriend hy moet minder skinder!” het sy teruggekap. “Ek het uitdruklik vir hom gesê die motor is nie myne nie, net geleen omdat my Golf in die garage is. Omdat jy nie na die punte gekyk het nie en die enjin by Waterval-Boven oorverhit het.” “Die punte makeer niks. Ek het nuwe vonkproppe vyfduisend kilometer gelede ingesit.” “Dan was die olie vuil.” “Nonsens! Ek het laas ’n nuwe oliefilter ingesit en die olie vervang.” “Die man van die werkswinkel sê as Brandertjie ’n perd was, het hy hom geskiet.” “Die man praat snert!” Steve was gegrief oor die onregverdige aantygings, en sy draad was net so kort soos Melt se stukkie lyn. “Jy het ’n gawe, Cilla, om ’n man só van sy wysie af te sit dat hy vergeet hoekom hy gebel het.” Sy wou nie die rede vir die oproep weet nie en het hom voorgespring. “Het jy jou ma se verjaarsdag eergister onthou?”
Steve het hom nie weer op ’n ander spoor laat rangeer nie. “Daardie nuwe kêrel na wie Vera laas verwys het, wat glo meer integriteit het as ek – is dit daardie kastige ryk baas van jou? Die Meiring-vent van die hotel?” “Daar is nie ’n nuwe kêrel nie. Vera het sommer net so gesê om jou jaloers te maak.” “Wat het hy wat ek nie het nie?” “Hoor jy nie wat ek sê nie? Hy is nie my kêrel nie!” Steve het aanhou karring. “Hoekom is jy dan agter hom aan Nelspruit toe?” “Ek is nie, dit was ter wille van die werk.” “Bly julle saam? Deel julle ’n kamer?” het hy reguit gevra. Haar bloeddruk het ook begin opstoot. “Genugtig, Steve, hoe ken jy my? Melt is ’n wildvreemde man vir wie ek toevallig werk. Ek ken hom skaars. Ek weet nie eens wat hy van my dink en of hy van my hou of . . . of . . . wat ook al . . .” Haar stem het weggesterf en sy het skuldig geswyg. Daar was ’n lang stilte aan die ander kant, en toe ’n gesuis in haar oor. Ná ’n rukkie het sy tentatief gevra: “Hallo . . .? Steve, is jy daar?” Daar was nie antwoord nie; hy het die foon doodgedruk. Sy het haar taktloosheid verwens. Steve is baie dinge, maar hy is nie dom nie en hy ken haar te goed. Die feit dat sy so hewig geprotesteer het, sou hom dadelik agterdogtig gemaak het. Sy kan hom nie kwalik neem as hy sy eie afleidings gemaak het nie. Sy was woedend oor hom en Nadine, dis logies dat hy dieselfde sal voel oor haar en Melt. En dalk met meer rede . . . Sy het teruggebel, maar sy sel het net aanhou lui en lui. Terwyl sy geweet het hy staan waarskynlik met die ding in sy hand.
Op pad kantoor toe probeer Cecilia weer vir Steve bel, maar hy antwoord nie en
dit ontstel haar. Sy wil nie hê hy moet sleg van haar dink nie. Al wil sy nie met hom trou nie, wil sy ook nie kwaaivriende wees nie. Of hê Nadine of Melanie moet hom erf nie . . . “Hier’s ’n brief vir jou,” verwelkom Garth haar toe sy instap, “en ’n present. Dis op jou lessenaar.” Brief? Cecilia se maag trek op ’n knop. Maar dis nie Melt se handskrif op die koevert nie. Sy lig die flap en haal twee kaartjies uit: vir Leo die Laeveldleeu se konsert vanaand. Sy is lus en smyt hulle in die snippermandjie. Die present is ’n bottel maroela-likeur, met ’n nota daarby: Sorrie, Suzy, jou verkeerd gelees. L. Daar is ’n vrank smaak in haar mond. Darem een ou wat nie dink sy is ’n los meisie nie. “Van wie af kom dit?” vra Garth. “Leonardo die Bosveldbuffel.” Sy hou die bottel na Garth uit. “Likeur gee my hoofpyn, maar ek weet Sue het ’n soettand. Jy weet mos nou sy het nie ’n man, ’n verloofde of ’n kêrel met ’n regterhaakhou nie, en vanaand is volmaan. Nooi haar vir koffie en likeur by die swembad. Dis oorspronklik en romanties.” Garth lyk ingenome. “Dankie, ek sal! Leo het gelukkig uitgetrek, so hy sal nie sien dis jou bottel waarmee ek Sue verlei nie.” “Uitgetrek?” vra Cecilia. “Boots and all. Uitgeboender deur meneer M. Persona non grata, en beveel om met sy hele entourage ander blyplek te kry.” Cecilia is verstom. “Wie sê so?” “Die grootbaas self. Hy was nou-nou hier, net gou in en uit op soek na jou, om te sê hy’s terug en jy moet hom asseblief twaalfuur in die parkeerterrein ontmoet.” Cecilia is lus om hom met die likeurbottel oor die kop te slaan. “Hoekom sê jy my nou eers? Terug van waar af?” Garth kyk haar skuins aan. “Middelburg. Sakekamer-ontbyt. Het jy vergeet?”
“Nee, want ek het nie geweet nie.” So dís waarom sy niks van hom gehoor het nie, besef Cecilia. Hy is natuurlik gisteraand weg Middelburg toe, het oorgeslaap en nou eers teruggekom. Sy het te lank oor Steve gesit en tob, anders was sy betyds op kantoor om hom te sien. Dan eers registreer die res van Garth se mededeling by haar. “Twaalfuur in die parkeerterrein? Om wat te maak?” Garth weet nie; meneer M het nie gesê nie. Net dat sy twaalfuur gereed moet wees. Hy sal haar kom oplaai. Cecilia vryf oor haar hare en onthou sy het vergeet om jel aan te sit. En maskara, en blosser. “Sal jy die fort hou? Ek moet dringend vir my ’n rok by die boetiek gaan koop.” “Ek dag jy het al ’n rok,” terg hy. “Tien,” spot sy saam. “ ’n Kas vol, maar ek het niks om aan te trek nie.” “Tipies vrou.” Garth bekyk haar op en af. “Wat is die okkasie – jou twaalfuurafspraak in die parkeerterrein?” Cecilia hou haar onskuldig. “Jy kyk te veel sepies, my vriend.” Voor hy te nuuskierig raak, raap sy haar handsak op en woerts by die deur uit. Sy kry ’n droomrok: kuitlengte, liggroen moeselien, met spaghetti-bandjies oor die skouers. Teen afslag, en drie maande om te betaal. “Wie is die gelukkige man?” skimp die verkoopsdame. Cecilia se oë blink. “Die wonderlikste, sexyste man in die wêreld!” “O! Ken ek hom?” Cecilia sê niks, vat net haar rok en glimlag geheimsinnig. Die lug buite is skielik blouer, die bougainvilleas rooier, en ’n kakiebos langs die paadjie mooi genoeg dat sy nie buk en hom uittrek nie. “ ’n Onkruid kry ook seer,” sê haar ma altyd. “Hy’s net ’n plantjie wat op die verkeerde plek groei, arme ding.”
Haar ma is die eerste een wat sy gaan bel as dit lyk of dinge tussen haar en Melt gaan uitwerk. Terwyl sy hare droogblaas, naels verf en maskara aansit, probeer sy weer haar eks in die hande kry. Hy is al krappunt in haar dag. As sy met hom vrede kan maak, vra sy geen verdere geskenke van die gode nie. Daar is geen ontvangs nie. Steve-hulle is blykbaar in die lug, op die Kaap – Kimberley-sektor, raai sy. Die vredemaak en verduidelikings sal tot later moet wag. Toe sy terug is op kantoor, is dit elfuur. Om die tyd verby te kry en haar salaris te verdien, beantwoord sy ’n klompie e-posse en finaliseer die reëlings vir ’n advertensievoorlegging in die Indaba. Op pad uit deur die ontvangsportaal laai sy Leonardo se twee kaartjies by Sue af. “Ek weet Garth is mal oor sokkie-sokkie,” breinspoel Cecilia haar. “Die arme ou het so hard gewerk met die sitruspromosie, hy verdien om uitgevat te word. Nooi hom saam konsert toe. Hy sal graag saamgaan, en dis boonop volmaan!” “Ja, goed,” stem Sue in. “Is dit hoekom jy so opgedollie is?” vis sy uit. “Word jý ook uitgevat?” Cecilia plaas haar handpalms teen mekaar en sluit haar oë. “Ek hoop so.” “Jou eks? Is julle weer bymekaar?” Sy skud haar kop. “Dis ’n ander man. Ek is oorhoeks, van my tone tot by my kroontjie toe verlief. Dit lyk of hy dalk vir my ook iets voel, maar ek is bang ek lees hom dalk verkeerd.” “Leonardo? Een van die gholfspelers? Of ’n ryk piesangboer?” raai Sue. Cecilia hou aan kopskud en gee pad, voor sy haar mond verbypraat. Melt is stiptelik. Toe sy by die hoteldeure uitstap, wag die wit sportmotor by die parkeerterrein se uitgang. Hy strek om die asiersdeur vir haar oop te maak. “Hallo . . .” Sy stem is warm, soos sy mond en sy hande gisteraand. “Jy lyk soos
’n woudnimf.” Sy lag verbaas. “Ek het nie gedink jy ken sulke romantiese woorde nie.” “Hoekom nie? Omdat ek lyk soos ’n ou droë stok, altyd gestewel en gespoor in ’n pak klere, saaklik en formeel?” Sy bekyk hom skewekop. Sy hare is blinkgewas en hang skuins oor sy voorkop. Hy het weer die syhemp van haar eerste dag aan, oopgeryg tot amper op sy naeltjie, by styfende swart ontwerper-jeans. “ ’n Droë stok? Jý?” Sy skud haar kop. “Beslis nie!” Hy haak sy donkerbril van die truspieëltjie af en sit dit op. Dan leun hy weer oor en trek haar sitplekgordel vas. Voor hy die knip vasklik, draai hy sy kop en vee met sy lippe oor hare. “Ek het na jou verlang.” “En ek na jou ook,” fluister sy. Sy gesig is so naby, deur die lense kan sy sy oë sien. Goudbruin, soos ’n bergpoel op ’n sonhelder dag. En die boodskap daarin . . . “Ek wou gisteraand in die chalet by jou bly – jy weet nie hoe graag nie. Ek wou heelnag by jou wees. Jou vashou en begeer, en myne maak . . .” Die vel oor sy kakebeen span styf en sy stem is intens. “Dis hoekom ek daardie singende Leeu se stembande een vir een soos ’n vark s’n wou uitslag. Ek het vir hom gesê hulle kan nog vanaand die Lapa gebruik, maar sy soort is nie welkom by die Lodge nie, en as hy ná dese nog ’n loopbaan wil hê, moet hy en sy trawante ander huisvesting soek. Ek hoop die drommel het jou om verskoning gevra?” “Hy het, ja – skriftelik, met ’n present daarby.” “Die minste wat die stuk skuim kon doen. Hy beter uit my pad uit bly!” Die Mercedes se enjin brul en sy ruik rubber toe Melt wegtrek. Sy wonder of dit is hoe hy gewoonlik ry, en of hy self ook opgewarm is, dié dat hy die arme motor so moor
. . . Hulle gesels nie veel nie. Sy voet is swaar op die petrolpedaal tot hulle verby die gholflandgoed, die piesangplantasies en suikermeule is. Van daar af ry hy stadiger en draai links af op ’n kronkelende grondpad. “Ek het ’n tafel bespreek by Frangipani-gastehuis, wat oor die Krokodilrivier uitkyk, met die wildtuin aan die oorkantste oewer. Hulle maak heerlike calamari. As jy gelukkig is, sien jy seekoeie, en dalk olifante wat kom bad. En die grootste bonus: waar niemand ons ken nie en ek jou hand kan vashou sonder dat die hele personeel ons aanstaar.” “Dit klink heerlik.” Sy een mondhoek wip tergend. “Watter deel? Die wildtuin, die calamari, die olifant, of dit wat daarop gevolg het?” “E . . . alles,” erken Cecilia blosend. “Ek kan meer ambisieuse dinge doen as net jou hand vashou,” bied hy hulpvaardig aan, en geniet dit toe die blos op haar wange verdiep. “Weet jy hoe verruklik mooi jy is, meisiekind? Die soort nimf vir wie ’n man blomme koop tot sy geld opraak, en dan die park s’n steel.” Hy klink soos Steve – voor dinge tussen hulle verkeerd geloop het. Net nie lelies nie, dink sy. Enige ander soort . . . Sy sal elke blom pars en byvoeg in haar plakboek van spesiale herinneringe. “Hoe voel jou nek en keel? Steeds sensitief?” Dis wat hy gisteraand in die kamer ook gevra het, met sy hemelse lyf half bo-op haar . . . Sy kan nie glo dit was werklikheid nie. “Beter, dankie,” antwoord sy, skielik ongemaklik. Sy was so lank aan Steve gewoond dat sy haarself amper al as oud en getroud beskou het. Al is dit Melt hier langs haar, voel dit vreemd om deur ’n ander man uitgeneem te word. Sy stuur die gesprek in ’n meer alledaagse rigting. “Jy moet maar die gebreekte kleipot se vervangingswaarde van my salaris aftrek die einde van die maand.”
“Ek sal wag tot ek ’n gebreekte hart het voor ek vir jou ’n rekening stuur – met rente,” dreig hy. Hy parkeer onder een van die bome waarna die gastehuis vernoem is. Hy help haar uit die motor en plaas sy arm liggies om haar skouers in ’n besitlike gebaar wat erotiese rillings langs haar ruggraat afstuur. Sy voel sy vingerpunte teen die kaal vel van haar rug raak: sterk, bruingebrande vingers, met kortgeknipte naels. Dieselfde vingerpunte wat gisteraand oor haar borste gestreel het en haar lyf in ie laat ontwaak het . . . Sy het nie vir Sue gejok nie. Sy is tot oor haar kroontjie malverlief op Melt Meiring. Die tuin is ’n wilde lushof vol voëls, en ’n spekvet vlakvark trippel hulle tegemoet toe hulle na die toegerankte patio stap. By een van die verste tafels sit ’n groep mense, verder is die restaurant stil. Op pad om vir haar ’n stoel uit te trek, beduie Melt met sy vinger sonder om ’n woord te sê. Cecilia kyk in die rigting waarin hy wys. Sy sien eers net ’n swartgrys kol tussen die riete, wat ’n klip of ’n droë boomstomp kan wees, en dan opeens roer om twee flappende ore, ’n slurp en ’n paar omkrultande te vorm. Sy trek haar asem in. Die scoop van die dag . . . mooier selfs as meneer M met sy strepieskuif en gespierde borskas in ’n syhemp. Terselfdertyd klink die weeklag van ’n visarend onder by die rivier op. Melt se hande vou van agter om haar skouers en hy laat rus sy wang teen haar nek. “Ek is oneindig lief vir jou, Cecilia.” Eendag as sy oud is, sal sy hierdie oomblik onthou as die mees volmaakte moment in haar lewe, mymer Cecilia. Sy kruis haar arms oor haar bors om sy hande in elk van hare vas te hou, terwyl hulle die grootvoet bekyk, al plunderend en knarsend deur die biesies. “My dag is gemaak, nou kan ons maar huis toe gaan,” adem sy. Melt stoot die spaghetti-bandjies van haar rok opsy en proe al teen haar rug af, sover hy kan bykom. “Is ’n olifant en ’n visarend genoeg vir jou?” Sy vryf haar wang teen die agterkant van sy hand. “Dis die bonus. Die hoogtepunt is dat ons uitvoerende bestuurder my rugwerwels een vir een gesoen het.”
“Ek sal graag meer van jou wil soen – jou hele lyf proe, elke millimeter daarvan,” prewel hy met die punt van sy tong ondersoekend teen haar oor. “Melt!” roep ’n vrouestem, gevolg deur naderende voetstappe oor die patio. ’n Aantreklike donkerkop stop by hulle tafel. “Dis gaaf om jou weer te sien, vreemdeling! Ek het ’n spesiale calamari gemaak en Imke se gunsteling-rosé . . .” Sy bly stil, ’n hand voor haar mond gedruk. “Oeps! Het ek my voet daarin gesit?” Melt kom regop en beweeg om die tafel. Toe hy opkyk, is sy gesig onleesbaar, sy oë steeds verskuil agter die donkerbril. “Hallo, Tertia. Lekker om jou ook weer te sien, ná die lang tyd. Nee, jy het niks gesê wat jy nie moes nie,” antwoord hy gelykmatig. Hulle gasvrou lyk steeds verleë. “Ek is jammer, ek het nie mooi gekyk nie. Die blonde hare en skraal figuur het met die eerste oogopslag soos Imke gelyk en –” “Imke is op Badplaas. Hierdie is Cecilia Louw, skakelbeampte by Mlala. Cecilia, dis Tertia, eienaar van die Frangipani,” stel Melt hulle voor. “Aangename kennis,” groet Tertia. “Ek is regtig jammer, hoor!” “Cecilia verkies droë witwyn, met ys,” sê Melt bruusk en wend hom na haar. “Tertia maak ook heerlike bredies en bobotie. Wil jy die spyskaart sien?” “Nee, calamari sal goed wees, dankie,” antwoord Cecilia net so neutraal soos hy. “Reg so.” Tertia is duidelik verlig om te kan ontsnap. “Ek stuur ’n kelner met die wynlys.”
14
Melt skink vir hulle wyn, dan kyk hy op na Cecilia. “Imke is my eks. Ek is geskei. Ek moes jou al vroeër vertel het.” Cecilia neem ’n groot sluk. Medisinaal, soos Vera sou sê. “Dit maak nie saak nie. Ek het geweet.” “Dis verkeerd dat jy dit van ’n buitestander moes hoor. Ek het dit nie weggesteek nie, daar was net nooit ’n geskikte tyd om daaroor te praat nie.” “Jy skuld my nie verduidelikings nie.” Melt is nie tevrede met gerusstellings en verskonings nie. “Jy is geregtig daarop dat ek met jou eerlik is, Cecilia. Ek wil nie ’n nuwe lewe saam met jou agter ’n sluier van geheimhouding of vals voorwendsels begin nie. Ek het uitgestel omdat ek nie lus was om oor Imke te praat nie, want dit sou die atmosfeer vertroebel het, maar ek moes geweet het die personeel sal praat.” “Dit was nie skinder nie,” tree Cecilia vir hulle in die bres. “Dis algemene kennis, soos almal seker ook maar weet ek was amper getroud. Jy en ek is so besig, daar was nog nooit behoorlik tyd om rustig te gesels nie.” Sy huiwer en wag dat Melt moet reageer. Maar hy kyk doer in die verte, na Berg-en-Dal se dynserige granietkoppe, waar ’n kring aasvoëls draai. Daar was seker verlede nag ’n vangs. “Ek weet eintlik so min van jou,” vervolg sy met ’n ligte stemtoon. “Of jy broers en susters het en ertjies eet, van watter soort roomys jy hou en watter soort musiek. Of jy altyd so swak motor bestuur, wat jou kwaad maak en wat jou bly maak . . .” Melt antwoord geredelik. “Ek het twee broers. Adrian swot regte op Tukkies en ouboet Chris is ’n wildboer op die familieplaas by Polokwane. En dan is daar
kleinsus Lelani, van wie ek jou vertel het – die een wat aan engtevrees ly. Ek hou nie van jellie en soet ertjies nie, en van enige soort roomys, solank dit koud is. Skurke wat mooi meisies misbruik, laat my rooi sien en . . .” Hy stop in die middel van die sin, oopmond en gegrief. “Wat bedoel jy: of ek altyd so swak bestuur?” “Asof die arme Merc ’n viertrek is en jy verslaaf is aan die reuk van gebrande rubber.” Steve sou briesend geword het as iemand sy bestuurstyl kritiseer, maar Melt is gemoedelik. “Nee, net wanneer ’n ander man met my meisie lol.” Sy meisie . . . Al was dit half as ’n grap bedoel, is daar ’n heerlike, tintelende sensasie in haar binneste. “Ek het baie oor Steve uitgewei. Drink ’n sluk wyn en vertel my van Imke,” vra sy. Hy tel sy onaangeraakte glas chardonnay op. “Ons het saam hotelbestuur geswot, was twee jaar getroud, geen kinders. Daar was ’n ander man – ’n ou jeugliefde na wie sy wou teruggaan. Sy het my vir ’n egskeiding gedagvaar.” Telegramstyl en in ’n neutedop, maar Cecilia vul self die leemtes in. Die skok, die seer, die alleenheid . . . Die ander man moet baie besonders wees as sy vrou hom bo ’n man soos Melt gekies het. “Is sy en die man toe getroud?” “Sover ek weet, ja. Ons het nie kontak nie.” “En gelukkig?” “Hopelik.” “Het julle dikwels hier kom eet?” “Soms. Ek wou vir jou die uitsig wys, maar dit was ’n fout om jou na Frangipani te bring. Ek was taktloos en het jou en Tertia al twee in die verleentheid gestel. Ek is jammer.”
“Jy het blykbaar ’n swakheid vir blondines,” terg sy. Hy glimlag. “Dis toevallig dat julle na mekaar lyk. Jy sou my uitgeboul het selfs al was jy ’n robuuste, strydende rooikop.” Toe ’n skottel stomende calamari, sampioenrys met lensies en tuisgebakte potbrood op hul tafel neergesit word, arriveer die bedelende vlakvark ook en eet driekwart van hulle slaai op. Melt lag daaroor en voer hom al die aspersies. Cecilia is seker as die olifant nader was, het hy dié ook gevoer, saam met die seekoeie. Hy lyk ontspanne en gesels oor die komende gholftoernooi en ’n vierdag-wildtuintoer waarna Cecilia kan uitsien – ’n groep van twaalf Hollanders op reis deur Afrika. Op pad terug bestuur hy versigtig en noukeurig, asof die Mercedes ’n antieke model T-Fordjie is wat gepamperlang en vertroetel moet word. “Beter gewees?” vra hy met ’n vonkeling in sy oë toe hy ewe bedees voor die Lodge se trappe stilhou. “Of dink jy steeds ek het my rybewys om die hoek gekoop?” “Nee, bo-op die bult,” lag sy, en voeg sag by: “Dankie vir een van die mooiste dae in my lewe.” “Myne ook,” beaam hy. Voor sy kan uitklim, trek hy haar nader en soen haar met hartstogtelike oorgawe. “Ek sou graag meer wou doen en langer daarmee wou aanhou, dit uitrek tot môreoggend toe . . .” fluister hy teen die boonste knopie van haar moeselienrok. “Maar ongelukkig kan jy nie.” Cecilia verstaan nie. “Ek? Hoekom nie?” “Want oom Pottie hou jou soos ’n streng sedebewaker dop.” Sy stoot hom weg, sit regop en gee haar rok ’n strategiese opwaartse pluk. Sy maak of sy nie Melt se guitige knipoog sien nie, klim uit en stap waardig by die glasdeure in. “Ek sien die nuwe rok het toe gewerk,” merk Sue onskuldig op. “En jou gebedjie ook.” Oom Pottie was blykbaar nie al een wat hulle dopgehou het nie . . . Cecilia het
by Melt geleer. Sy knipoog soos hy en stap nonchalant verby kantoor toe, asof sy net gou saam met haar broer gaan tee drink het. Garth is besig om reisbrosjures te soek, vlugskedules oor die foon te bevestig en met sy linkerhand te probeer koffie maak – alles tegelyk. Hy lyk verlig om Cecilia te sien. “Waar is Slodansk?” “Siberië. Hoekom?” Hy praat in die gehoorbuis wat teen sy skouer vasgeknyp is: “Vlug JA 668? 20.15, direk?” Cecilia red die koffiemasjien, wat besig is om droog te kook. “Niemand met ’n IK bokant tien vlieg direk Slodansk toe nie. Jy sal minstens vyf keer moet oorklim, die laaste keer op ’n paar ski’s. Wie wil in elk geval soontoe gaan?” “Ek,” antwoord hy gevoelvol. “Om weg te kom van hierdie malhuis. Nee, ek speel sommer. Vlug 668 was vir ’n ou dame met te veel geld, wat nie kan besluit wanneer, waarheen en hoekom sy wil vlieg nie. Dit was ’n bedrywige fort wat ek moes hou terwyl jy uit was op die katerjag. Ek hoor jou afspraak was met meneer M? Ek hoop dit was my foltering werd.” Cecilia gee vir hom ’n beker koffie en twee Maria-koeken. “Dit was, dubbel en dwars.” “Wat het julle alles gedoen?” Sy beskou haar vingernaels en dink kamma na. “Ag, nie juis veel nie. Hoofsaaklik oor die sakekamer se finansiële jaarverslag gesels.” Garth gee ’n ongelowige snork. “Is dít waarvoor jy daardie Delila-rok gekoop het? Die rok wat als toemaak en niks wegsteek nie . . .” Cecilia hou haar onskuldig en laat haar nie uitlok nie. Sue het natuurlik gesien toe Melt haar opgelaai het, en daar loop seker al klaar skinderstories. Sy pak die brosjures reg en maak die rakke netjies. “Het jy Imke Meiring geken?” Garth kom help by die rak, sodat hy haar gesig kan sien. “Hoekom? Het die
groen monster sy kop opgelig tussen die sakekamer se debiete en krediete deur?” Cecilia kyk na ’n brosjure oor Lissabon en die Algarve, en smoor ’n stukkie wensdenkery wat ongevraag in haar nesskop. “Nee, ek is nie jaloers nie. Melt het my van sy eks vertel, en ek wil graag ’n buitestander se mening hê.” “Ek het haar nie goed geken nie. Hoewel hulle bo in Mlala se penthouse gebly het, het Imke nooit by die Lodge gewerk nie. Sy was ontvangsdame by die Kudu Inn op Malelane – dit was in die tyd toe ek hier begin het.” “Daar was ’n ander man betrokke. Is hy ook van hierdie omgewing?” “Badplaas-distrik, glo ’n ryk beesboer.” “Ons twee lyk glo nogal eenders.” “Sy is so ’n Nordiese skoonheid, die ene wimpers en wangbene, soos ’n model. Mooi, maar oppervlakkig. Kil. Dié dat sy en die Yspaleis nogal tjomme was. Jy is baie mooier, met ’n wárm gesig.” Hy bekyk haar waarderend op en af. “En ’n lýf . . . ’n Lyf waarop mens ’n eier kan bak.” Cecilia draai haar kop skeef. “Moet ek dankie sê? Is dit veronderstel om ’n kompliment te wees?” “Ja, skattie, anders sou ek gesê het om ’n pánnekoek op te bak. Jy het holtes en is nie op die verkeerde plekke plat nie. As ek nie ’n verliefde man was nie, op pad om ’n ander meisie by die swembad te verlei, het ek self vir jou geval – boets en ôll, toksak, Deep Heat, de lot.” “Dankie, Garth, jy is tog so romanties,” spot Cecilia. Soos Vera, dink sy toe sy haar e-pos lees. Vera skryf van haar romantiese Italiaanse kêrel wat haar hotelkamer vol roosblare gestrooi het om haar te verwelkom, van Arabel wat verloof is en Melanie wat snags van Steve droom, al beantwoord hy nie haar oproepe nie en al was hy nog nie weer by die woonstel vandat Cecilia weg is nie. Al het sy aangebied Melanie kan hom erf, is Cecilia aangenaam verras deur
Steve se standvastigheid. Sy het verwag hy sal vat wat vir hom op ’n skinkbord aangebied word. Maar blykbaar nie. Miskien het sy hom vlak gekyk en is hy nie die rondloper waarvoor sy hom uitgekryt het nie. Miskien sou hy nie heeltemal so ’n powere pa vir haar kinders gewees het nie . . . Dalk is sy nog eendag spyt dat sy hom nie sy misstap vergewe het en hom ’n kans gegun het om homself te bewys nie. Tussen die omsendbriewe en navrae is daar ’n vreemde opskrif in haar inboks: Ekskuus!!! Van ’n posadres wat Cecilia nie ken nie. Sy wil byna onmiddellik op delete dubbelkliek om die brief uit te wis – uit haar rekenaar en uit haar lewe uit. Dis baie toevallig, juis op die tydstip dat sy besig is om aan Steve te dink. Selfs oorweeg om hom te bel en te hoor hoe dit met hom gaan . . . Die brief is van Nadine. Ontaalvaardig, maar met ’n opregte, dringende boodskap.
Beste Cecilia Ekskuus!!! vir my gedrag by die Hotel in Rome. Ek het te veel Vinho ingehad en nie geweet wat ek doen nie, gedink ek’s by ’n Strip Club!!! Kaptein De Villiers was onskuldig. Genuine!! Hy’t vroeg gaan slaap en die kelner het hom gaan roep. Hy’t probeer om my nugter te maak toe jy ingekom het. Agterna het hy my in ’n ander leë Hotel kamer gelos om my roes af te slaap. Dis al wat tussen ons gebeur het. Ek sweer!!! So moenie vir hom kwaad wees nie. Ek het jou adres by Lugdiens gekry en hy weet nie ek het die brief geskryf nie. Jy’s nice en hy ook en ek dink 2 sulke nice ouens moet by mekaar kom want hy’s genuine lief vir jou. Dis hoekom ek geskryf het. Met beste wense Nadine Groenewalt
Dit rym met Steve se verduideliking. Op ’n vreemde, instinktiewe manier weet Cecilia wat Nadine sê, is waar. Nadine is nie van nature ’n gemene mens nie, en wat sal sy in elk geval daarby baat om Steve en sy verloofde met mekaar te versoen?
Cecilia onthou sy het altyd so in uitroeptekens gepraat ook, alles in die oortreffende trap. Haar eerste impuls is om Nadine in die recycle bin te gooi, waar sy hoort. Of ’n giftige brander terug te skryf en haar te vertel hoeveel skade en verdriet sy veroorsaak het. Sy sit terug en vryf ingedagte oor haar bolip terwyl sy die brief weer ’n keer lees. Dan, voor haar nare natuur oorneem, druk sy die antwoordknoppie en tik in: Dankie!!! Beste wense vir jou ook. Wat gaan sy met die inligting maak? vra sy haarself af. Dis nie net ’n geval van verskoning vra en aangaan waar sy en Steve laas opgehou het nie. Albei het intussen ’n nuwe fase in hul lewe begin. Sy het tyd nodig om die implikasies van Nadine se brief te verwerk. Intussen is daar Melt . . . Op die oomblik kom hy eerste. Haar kop is te vol, daar is nie nou vir Steve ook plek nie. Nadine se brief het Cecilia aangesteek. Sy kry ’n ondeunde kyk in haar oë, en dan stuur sy vir die uitvoerende bestuurder ook ’n vinnige e-pos op Mlala Lodge se interne netwerk:
Beste Baas Mis jou!!! Woudnimf xxx
Ingeval sy sekretaresse sy e-pos sensor, haal Cecilia die xxx uit om dit kuis en welvoeglik te hou. Laat die Yspaleis maar wonder wie Woudnimf is . . . ’n Geitjie bo teen die venster hou haar met soplepeloë en uitgespreide handjies dop. Hy en Cecilia het ’n ooreenkoms: hy vang al die insekte, en in ruil vir dié diens tel sy soggens sy visitekaartjies op sonder om te kla. Hy het selfs al ’n naam.
“Is jy honger, Fransie?” vra sy. “Daar sit ’n sappige muskiet net regs van die gordyn, naby die ligskakelaar.” Hy is te stadig en al wat hy vang, is ’n droë, onskadelike muggie. Maar hy het ’n maatjie saamgebring, hongerder en ratser as hy. Daar is ’n skielike vaalbruin flits, en ’n oorlede muskiet. “Mooi so, Fransina!” roep Cecilia uit. “Ons meisies sal die ding doen!” Garth kyk haar vreemd aan. “Met wie praat jy?” Sy staar droomverlore na Blinkwaterberg wat teen die horison afgeëts lê, mooier as Everest of Tibet. “Die lewe is ’n lied. Soos ek voel, moes ek liewer vir die arme muskiet ’n skon met aarbeikonfyt gegee het.” “Jy klink koorsig,” maan hy. “Drink ’n pil.” “As mens verlief is, het alles ’n laag pienk aarbeikonfyt oor. ’n Meisie wat ek gehaat het, het ek vergewe. En my eks ook, wat ek gedink het ’n lae luis is, is meteens weer ’n oulike ou. Ek is vir niemand meer kwaad nie, nie eens meer vir Leo nie. Ek sal selfs vir hom koffie skink as hy hier sou instap, want op die ou einde het hy my eintlik ’n guns bewys.” “Wat maak jy as jou nuwe kêrel instap en jy sit saam met ’n ander man en koffie drink?” “Vir hóm sal ek pienk sjampanje skink, tot my geld opraak!” “En ’n geel lint om die eikeboom bind?” “Tién geel linte!” antwoord Cecilia met sterre in haar oë. Want hy is dit werd.
15
So lief as wat Cecilia vir die wildtuin is, is sy nie lus om vier lange dae van Mlala en van Melt weg te wees nie. En haar verwagting is dat die Hollanders tipiese toeriste gaan wees wat ná afloop van hulle Afrika-toer sal sê: “Been there, bought the T-shirt, don’t need the underwear.” Maar toe hulle in die Mlala Lodge-bussie by Malelane-hek indraai en ’n hoephoep langs die pad sien, begin die Hollanders oe en aa en kameras uithaal. Toe weet Cecilia dit gaan ’n goeie vier dae wees. Haar gaste is voëlkykers en klaarblyklik kundig, selfs oor insekte en reptiele. Die Lodge se sjef het vir hulle ’n driegangmiddagete ingepak om by ’n piekniekplek op pad kamp toe te eet. Die busbestuurder – wat aandring dat sy hom “oom Kas” noem – is behendig en ervare, met raakvathande wat stoele en tafels bymekaar sleep, mandjies, koelsakke en trommels aandra en Cecilia help uitpak. Moeder Natuur sorg vir die res: ’n uitsig meer indrukwekkend as die spyskaart van vrugtesosaties, kreef, koeskoes, eiervrug en chocolat brûlée. Die Hollanders is in vervoering oor die lys blinkvlerkspreeus, neushorings, troupante, byevangers en tarentale wat hulle kan afmerk. “Zo leuk, ik heb geen film meer!” roep Klaas, die groepleier, waarderend uit toe ’n trop ape opdaag om die parade aan te vul. “Niet kos gee, hoor!” betig hy een van die vroue wat die krummels van haar croissant vir die naaste een wil voer. Toe hulle by die kamp aankom, is almal in vervoering oor die heerlike verblyf, en Cecilia en die groep leer mekaar gou ken. Eers die derde dag kry hulle leeus, reg in die middel van die pad. Oom Kas trek in die koelte onder ’n maroelaboom in en skakel af. “Dis nou dalk ’n goeie tyd om lemoene en koeldranke uit te deel, Sussie,” stel hy voor. Nóg ’n bynaam, dink Cecilia. Sy is Cielie, Cilla of Cissie, en nou Sussie. Net
Melt gebruik haar volle naam. Sy hou daarvan, dit laat haar belangrik voel. Dis heerlik dat hy elke dag ’n tydjie maak om te bel en te vra hoe dit gaan – eers in ’n amptelike hoedanigheid, ingeval sy dalk probleme ondervind. Dan gesels hy sommer net en kla oor hoeveel hy haar mis. Nie meer as wat sy hóm mis nie, nie liewer as wat sy hóm het nie . . . “Mag ik ietwat water krijgen?” vra Peta van Damme. “Ja wel, het is erg warm,” knik Cecilia. Die afgelope paar dae het sy heelwat Hollands geleer en gelag oor koddighede soos “nylpaard” vir ’n seekoei. Dit wat sy eufemisties ’n geitjie se “visitekaartjie” noem, het Katje Beekman ronduit beskryf as “een stinkertje” wat die kêrel kwytraak. Dit het haar laat skater terwyl hulle ’n rondte “borreltjes” geniet het – oftewel jenewer, wat ’n gewilde drankie in Nederland is. Hoewel voëls boaan die agenda is, is Cecilia bly oor ’n trop kameelperde die laaste dag, asook ’n indrukwekkende olifantbul, sodat daar kopstukke is om oor te gesels die aand om die braaivleisvuur. Die langnekke is gemiddeld 3,3 meter hoog, vertel Cecilia, en hulle ly dikwels aan hoë bloeddruk, wat veral gevaarlik is wanneer hulle kop omlaag water drink. Katje probeer raai hoeveel nekwerwels ’n kameelperd het, en kan nie glo dis net sewe nie – dieselfde as homo sapiens. Ook nie dat die reusagtige olifante uit dieselfde stamboom spruit as die petieterige dassies wat hulle die vorige dag op ’n kliprif gesien het nie. “Olifant, segt u?” vra iemand. Cecilia is besig om die kelners by die rietskerm te help om die pappot op te pas. Die taaibosvuur knetter en sy kan nie mooi hoor nie. “Ja wel, een grote dier!” beaam sy. “Met een stertjie van voor en een stertjie van agter?” Haar hart mis ’n slag. “Pardon?” ’n Gestalte kom los uit die donker, loop om die vuur en kom staan voor haar. “Tag, juffrouw,” groet hy en vryf haar blonde krulle deurmekaar.
Sy wil die spaan neergooi en haar arms om sy nek gooi. Maar daar is te veel nuuskierige oë wat hulle dophou. “Tag, mijnheer,” antwoord sy stemmig. “Hoe gaan dit?” Sy mond is sag toe hy vir haar glimlag. “Beter, nóú.” “Hoekom het jy nie laat weet jy kom kuier nie?” “Ek was nie seker of ek sal kan wegkom nie.” Oom Kas kom groet en hou ’n skinkbord uit. “ ’n Jenewertjie vir u, meneer Meiring?” Melt trek ’n gesig. “Is dit al wat julle het, oom Kassie? Is daar nie iets meer drinkbaar nie?” “Kan ek vir jou ’n bier gaan haal?” bied Cecilia aan. Sy is so bly om hom te sien, sy sal vir hom die maan en die sterre gaan haal as dit is wat hy wil hê. Melt stap saam yskas toe, oorkant die rietskerm. “Geniet jy die wegkomkans?” “Dis een lang fees.” “Ek is bly. Jy is aan die diep kant ingegooi vandat jy by Mlala begin het; jy verdien ’n blaaskansie.” “Nee wat, ek geniet die werk, en Garth doen meer as sy deel.” “Kry julle volop diere?” “Al wat ons kort vir die Groot Vyf is ’n luiperd. En dan soek Klaas ’n kuifkoptarentaal, wat skaars is.” Sy haal ’n glas uit en hou dit teen die lig om seker te maak dis blinkskoon. “Waar kom jy dié tyd van die aand vandaan?” “Ek het ’n permit om laat in te kom, al is die hek gesluit.” “Wat maak jy in die wildtuin? Het jy sake gehad om te doen?” “Sake?” Sy wenkbrou lig vraend. “Met olifante en bobbejane en kameelperde? Nee, ek het kom kuier.”
“Kuier?” eggo sy. “Vir wie?” “Vir my bosnimf.” In die lanternlig is sy oë kakiekleurig, soos sy bosveldhemp, met ’n soort uitdrukking daarin wat haar hart laat bolmakiesie slaan. Maar sy vermaan haarself om nie te gou op loop te gaan nie. Al wat dit beteken, is dat hy haar epos gekry het. “O, dít . . .” skerm sy verleë. “Sommer ’n grap gewees, op die ingewing van die oomblik. Ek moes dit nie gestuur het nie. As iemand jou pos oopgemaak het, kon dit ’n verkeerde indruk geskep het.” “Inteendeel – die régte indruk. Het jy nie my antwoord gekry nie?” “Nee.” Sy soek in die yskas watter bierblikkie die koudste is. “Wat het jy geantwoord?” “Groot stories. Diep dinge.” Hy neem die glas by haar en sit dit eenkant neer. Hy stoot die yskasdeur toe en trek haar agter die gassilinder in. “Onder meer dít,” antwoord hy en lig haar gesig op terwyl sy mond na hare soek. “Toe dag ek ek kom sê dit liewer self en demonstreer wat ek bedoel . . .” “Sussie, waar’s jy?” roep oom Kas. “Sukkel jy met die yskas, kind? Wag, ek kom jou help.” Cecilia skrik en maak Melt se arms om haar los. Sy vee vervaard met haar hand oor haar mond en kom uit heeltemal die teenoorgestelde kant van agter die gassilinder te voorskyn. “Nee, ek sukkel nie, oom. Ek het net gou . . . e . . . gekyk of daar nog genoeg gas is om die slaaie koud te hou.” Melt tel ’n knyptang op wat daar naby lê. “En ek het haar gehelp,” voeg hy luiters by. “Dis nie nodig dat meneer met die gas moet sukkel nie, dis my werk. En het Sussie nog nie eens vir meneer ’n drinkding gegee nie?” “Sy was te besig met ander dinge,” verduidelik Melt.
Cecilia gee hom ’n kyk. Maar hy lag net, los die glas en vat sonder fiemies die naaste bier wat hy kan bykom. Dan stap hy saam met oom Kas weg om rugbystories te gesels. In ’n wildreservaat voel Cecilia soos ’n fariseër om vleis te eet. Die rooiboklewer, koedoewors en vlakvarktjops bly lê, terwyl sy haar bord met slaai, pap en vetkoek volmaak. Ná ete verras oom Kas hulle deur ’n mondfluitjie te voorskyn te haal, en Geert de Koker ontpop in ’n tromspeler – op ’n omgekeerde kartonboks. “BZN,” grap hy. “Band zonder Naam!” “Speel Piet Hein, zijn naam is klein!” versoek Katje. “En Tulpe uit Amsterdam.” Cecilia kom agter heelparty Suid-Afrikaanse liedjies het ’n Nederlandse oorsprong, waarvan almal die wysie ken. Selfs ’n hiëna in die verte, ’n naguil en ’n paar boomdassies. Dit raak ’n jolige kuieraand, maar tog ook nostalgies, met die Nederlanders wat môreaand hierdie tyd ver weg sal wees. Cecilia het gekonsentreer op professionele gedrag en op die punt van die ry gaan sit, waar sy naby die kombuis is. Na ’n ruk het Melt langs haar ingeskuif, en ook hy was baie korrek. Hy het meer met die gaste as met haar gesels, en die vier of vyf keer wat sy knie toevallig teen hare geraak het, het hy nie laat blyk dat hy dit oplet nie. Sy is egter oorbewus van sy sterk, gespierde bene onder die dun materiaal van sy kakiebroek. Loslit-sensueel en baie-baie sexy . . . Sy wil aan hom druk en streel en voel . . . Wens hy wil sy arm op die stoel se rugleuning laat rus, sodat sy agteroor kan sit en sy arm teen haar kaal skouers voel . . . Die eerste keer toe sy voet teen haar kuit geskuur het, het sy aanvaar dis per ongeluk en bedagsaam weggeskuif om vir hom meer plek te maak. Maar toe hy onmiddellik naderskuif en dit pas daarna weer gebeur, het sy agterdogtig opgekyk. Botter kon nie in sy mond smelt nie. Hy het groot oë getrek en soos ’n skoolseun gegrinnik, terwyl hy vrolik Piet Hein saamgesing het in ’n melodieuse baritonstem.
Die volgende oggend is die kamp die ene bedrywigheid. Dis vroeg opstaan vir ’n laaste wildbesigtigingsrit in die Parkeraad se oop Land Rovers, en dan inpak,
oppak en lughawe toe ry, betyds vir die nege-uurvlug na Kaapstad. Cecilia het gehoop Melt ry saam op die luiperdjag, met miskien agterna tyd vir ’n vinnige koppie koffie. Maar die gordyne by sy rondawel bly toegetrek en hy daag nie op nie. Die eerste wat sy hom sien, is by die bus terwyl die laaste bagasie ingelaai word. Maar al een met wie hy praat, is oom Kas, om hom te herinner aan die span Taiwannese afgevaardigdes wat tienuur op die lughawe arriveer en vir wie hulle moet wag. “Goeiemôre, mijnheer,” groet Cecilia. Dis asof daar ’n ondeurdringbare filter oor sy oë sak. Hy knik net, verder reageer hy nie. “Melt?” Sy let op hoe bleek hy is. “Voel jy siek?” “Nee.” “Wat makeer?” “Los dit.” Hy sug swaar en vryf met sy palm oor sy gesig. “Ek is jammer . . . ” Hy lig sy hand asof hy aan haar wil raak, maar laat val sy arm slap teen sy sy terug. Cecilia frons verward. “Waaroor is jy jammer?” “Die hele onbeholpe affêre.” Sy selfoon lui en hy draai sy rug op haar, sodat sy net sy profiel kan sien. Sy mond is in ’n dun, onverbiddelike lyn gespan. “Heloise? Ja . . . Ja, dis ’n gemors. Ek het aanvaar die saak is afgehandel. Ek weet nie wat gebeur het nie. Sê ek is op pad, en kyk intussen wat jy kan red.” Melt is stroef toe hy terugdraai. “Laat dit goed gaan, Cecilia, en pas jouself op,” sê hy kortaf en stap weg. Minute later streep sy wit motor verby. “En nou? Wat het oor sy lewer geloop?” frons oom Kas. “Meneer Meiring is altyd so vriendelik, maar vanmôre het hy sy mes in vir al wat leef.” Cecilia bly met ’n hol kol op haar maag langs die bus staan. Iets het gebeur,
besef sy. Iets baie erg . . . ’n Inbraak of ’n roof by die Lodge? Nee. Sy het ’n voorgevoel dis iets meer persoonlik, iets wat haar ook raak. Iets wat sy gesê of gedoen het? Of nié gedoen het nie? wonder sy onwillekeurig. Sy het Melt nie as buierig of liggeraak opgesom nie. Hy het tog sekerlik nie verwag dat sy hom gisteraand na haar rondawel moes nooi nie. Sy kan nie glo hy is so kleinlik om daaroor gekrenk te wees nie. Nee, daar is ’n ander rede. Hy het vir Heloise gesê hy het aanvaar die saak is afgehandel en hy weet nie hoe so ’n gemors gebeur het nie. Maar watse gemors? Cecilia het alle lus vir die wildtuin verloor en wens sy kan by die hotel kom om uit te vind wat aangaan. Sy wil nie vir Garth bel nie, en sy sal geduldig moet naels kou tot vanmiddag toe. Die Nederlanders vlieg met SAL, en daar is gelukkig nie ’n Jakaranda-Boeing in sig op die lughawe nie. Cecilia is verlig, want sy wil nie nóg ’n komplikasie hê nie. Die ontmoeting met kaptein Doep was ongemaklik, en sy was bang dat sy haar dalk hierdie keer in Steve sou vasloop. Soos sy nou voel, sal sy dit nie kan hanteer nie. In die vertreksaal is dit ’n tranerige afskeid van Klaas, Katje, Peta, Geert en die res van die groep, met adresse, telefoonnommers en beloftes wat uitgeruil word. Hoe lyk dit: Is sy nie lus vir ’n wit Kersfees in Amsterdam nie? Of om na die tulpe te kom kyk nie? In vergelyking met hulle is die Taiwannese sakemanne styf en formeel met hul donker pakke, wit hemde en aktetasse. Gelukkig verwag hulle nie sy moet saamgesels oor die internasionale monetêre beleid of die Ooste se handelsbalans nie. Dis amper twaalfuur toe die Taiwannese uiteindelik by die Lodge inbespreek is en Cecilia vry is. Sy vertoef by Sue se toonbank en luister na die jongste episode van haar en Garth se liefdeslewe, maar ná ’n paar minute onderbreek sy haar. “Sue, jammer, ons gesels later weer . . . Ek wou net gou kom hoor of jy vandag vir Melt gesien het?” “Ja, vroeër vanoggend toe hy hier ingestoom het. Hy’t gelyk soos ’n man op ’n moordsending.”
“Wie wou hy vermoor?” “Nugter weet. Maar hy wou slange vang.” “Waar is hy nou?” “In sy kantoor, sover ek weet. Hoekom vra jy? Is dit vir jóú wat hy wou bydam?” “Nee.” Cecilia lyk bekommerd. “Altans, ek hoop nie so nie; ek hoop dis net ’n misverstand.” “Het julle stry gekry?” “Glad nie. Dalk is hy net dwars en buierig. Ek moet hom seker los om af te koel, maar ek is te ontsteld. Ek is nie die soort wat hande gevou agteroorsit en wag dat dinge hulself uitsorteer nie. As dit my skuld is en dis ’n fout wat ek begaan het, wil ek dit uitklaar. En as daar ’n probleem of misverstand is, moet dit opgelos word – al stamp ek my kop. Al dam hy my kaalvuis by, of steek my in die pad.” “Waarheen gaan jy?” vra Sue toe Cecilia met lang treë aanstryk. “Na sy kantoor toe,” antwoord sy oor haar skouer. “Vat jou valhelm saam!” Eerder ’n kruiwa, dink Cecilia wrang. Of ’n vragmotor – vir die tonne bakstene wat op haar kop gaan neerkom . . . Sy let skaars op dis dieselfde hysbak as die een wat destyds gaan staan het. Op die vyfde verdieping klim sy uit en stap na Melt se sekretaresse toe. “Ek wil meneer Meiring sien, asseblief.” “Het jy ’n afspraak?” Cecilia tel tot vyf. Sedert wanneer moet die skakelbeampte eers ’n afspraak maak om die hotelbestuurder te spreek? “Meneer Meiring is besig, juffrou Louw,” stel Heloise haar kil in kennis. Sy wys met ’n kopknik na Melt se toe kantoordeur.
“Sal hy lank besig wees?” Heloise beskou haar netjies gemanikuurde vingernaels en trek ’n los velletjie van haar duim af. “Ek vermoed so, ja. Is jou besigheid met hom dringend?” Die witkop laat Cecilia se nekhare rys, maar hulle is kollegas en sy wil nie ’n konfrontasie hê nie. “Ja.” “In verband waarmee wil jy hom spreek? Kan ek help?” “Dis persoonlik,” erken sy teësinnig. Heloise bekyk haar ingedagte op en af en kom dan blykbaar tot ’n besluit. “Siende dat dit so dringend is, moet jy miskien maar ingaan. Jy is mos sulke dik vrinne met die baas. Stap gerus deur.” Cecilia is verbaas. Dís ’n onverwagte ommeswaai. Dalk het die Yspaleis besluit om die lang mes vir ’n olyftak te verruil. “Jy hoef nie te klop nie,” stel Heloise haar gerus toe sy aarsel. “Jy weet self Melt is nie gesteld op formaliteite nie, en jy is mos baie familiêr met hom.” Cecilia weet as sy nou omdraai, gaan sy op ’n hoop sit en haarself verwyt. Heloise is té vriendelik . . . kat-vriendelik. Iets rym nie, waarsku ’n sesde sintuig. Dis iets in Heloise se woordkeuse wat haar onrustig maak. Maar sy het nie nou die krag om haar daaroor te bekommer nie. Sy klop aan Melt se kantoordeur, draai die knop en stap in.
16
Cecilia vorder net drie treë voor sy vassteek. Heloise moes dit genoem het dat daar iemand by Melt is – ’n vrou met wie hy druk in gesprek is. Dis onbeleef om hom te onderbreek, en sy kan nie met hom praat as ’n buitestander by is nie. As sy verbaas was om die vreemde vrou daar aan te tref, is Melt se reaksie op haar onverwagte binnekoms dubbel so erg. Hy lyk die kluts kwyt. “Cecilia . . . e . . . Dis nie ’n goeie tyd nie.” “Jammer, ek het gehoop jy is alleen,” maak sy verskoning. Dit was blykbaar die verkeerde woordkeuse. Melt lyk ongemaklik en sy gesig word rooi. Die atmosfeer in sy kantoor is só dik dat jy dit met ’n graaf kan omspit. Cecilia besef sy moes op haar intuïsie staatgemaak het en Heloise nie vertrou het nie. Dit was nie ’n olyftak nie, eerder ’n bevestiging van die Yspaleis se vyandigheid. Heloise het van die vrou by Melt geweet, en haar swye was nie ’n oorsig nie. Dit was ’n lokval – en Cecilia het reguit daarin geloop. Sy retireer om te probeer red wat sy kan. Melt het dieselfde gedagte. “Ja, kom later terug, as dit rustiger is.” “Is hierdie jou skakelbeampte?” praat die vrou vir die eerste keer. Toe Melt knik, gaan sy voort met ’n heserige stem: “Laat haar bly. Dit raak haar ook. Veral vir haar, dalk selfs meer as vir ons.” Cecilia kry dieselfde knop op haar maag as vanoggend in die kamp. Sy kyk na die vrou: vlasblond en modelmooi. Mooi oë ook – ’n delikate porseleinblou met digte swart wimpers – maar sku en onseker. Melt pers sy lippe opmekaar en dis duidelik dat hy onwillig is. Eers verwag
Cecilia dat hy gaan weier, maar ná ’n oomblik staan hy op en trek een van die leerstoele oorkant sy lessenaar vir haar nader. “Nee,” keer Cecilia. “Ek wil nie sit nie. Ek dink ek moet liewer gaan . . .” Melt lyk moeg, en hy het nie vanoggend geskeer nie. Sy palm rasper oor sy dagoud-baard toe hy oor sy ken vryf. “Jy is nou hier, jy kan net sowel bly en deel hê aan die gesprek. Die kwessie raak ons al drie.” Cecilia se bene voel bewerig en sy sak in die stoel neer. Dis asof ’n staalband haar bors vasklem sodat sy nie asem kry nie. Haar oë flikker tussen Melt en die blondine. “Cecilia . . . En dis Imke, my vrou,” stel Melt hulle aan mekaar voor. Daar was niks, absoluut niks, wat Cecilia op hierdie oomblik voorberei het nie. Sy staar verdwaas na Melt. “Ek is jammer,” herhaal hy. “Ek het jou nie met opset bedrieg nie – die kwessie is dat ek nie geweet het ek is ’n getroude man nie.” Nie gewéét nie? Hoe kan ’n man nie weet as hy getroud is nie? Melt trek sy skouers in ’n hulpelose gebaar op, asof hy die vrae in haar oë kan lees. Hulle is albei stom, en dis Imke wat die swaar stilte verbreek. “Alles my skuld . . . Ek wou skei omdat ek gedink het dat ek ’n gevoel vir . . . vir ’n ander man het, maar ek was verkeerd. Dit was die grootste fout van my lewe. Dis Melt wat ek liefhet, nie Beyers nie. Ek het die saak – die skeisaak – destyds teruggetrek. Sonder om Melt te laat weet . . .” Trane stroom oor haar wange en sy vee dit weg met ’n sakdoekbondeltjie. “Ek was vertwyfeld, dis hoekom . . . Omdat ek ’n besluitelose lafaard is wat nie brûe agter my wou verbrand nie en vir myself ’n . . . ’n agterdeur wou oophou. Toe jok ek en sê vir Melt die skeisaak is afgehandel. Ek weet dit was selfsugtig – nie net teenoor Beyers nie, maar ook teenoor Melt . . . wat altyd net goed was vir my en dit nie verdien het nie.” Sy neem ’n sluk water uit die glas wat Melt vir haar aangee, en kyk pleitend na Cecilia. “Dit was onbillik teenoor jou ook. Jy is die onskuldige party. Melt het
gedink hy is vry om met jou ’n verhouding te hê, en in die proses het julle al twee seergekry. Ek was onnadenkend, net op myself ingestel, en daarvoor vra ek julle om vergifnis.” Sy is so opreg en so hartseer – in plaas daarvan dat Cecilia haar haat, kry sy onwillekeurig ’n brandkol in haar keel. Sy kan haar indink deur watter meule die arme Imke geworstel het. Sy het dieselfde wroeging ten opsigte van Steve deurgemaak; soortgelyke tweespalt beleef terwyl sy snags twyfelend wakker gelê het: Het sy hom lief? Lief genoeg om die res van haar lewe met hom te deel? Moet sy die verhouding verbreek of nie? En nadat sy dit gedoen het: Wat as sy hom verstoot en later uitvind sy het die grootste fout van haar lewe gemaak? As sy die groot liefde van haar lewe verloor het omdat sy nooit geleer het om te vergewe nie? ’n Wroeging waarmee sy nou opnuut worstel, nadat sy uitgevind het daar is niks om te vergewe nie. Is dít hoekom sy haar steeds oor Steve bekommer – omdat sy nie brûe wil verbrand nie en vir haarself ’n agterdeur oophou? Cecilia se gedagtes is ’n maalkolk. Sy onthou Melt het ’n vraag gevra, maar sy is bang dat as sy haar mond oopmaak, gaan haar trane ook stroom – erger as Imke s’n. Sy wil dit nie aan arme Melt doen nie: om met twee huilende vroumense opgesaal te sit, albei wagtend op hom om die kwessie op te los. Te kies, te besluit . . . Sy stoot haar stoel terug. “Ek wil liewer gaan. ” “Cecilia, nee! Wag eers,” keer Melt. Sy loop blindelings deur toe. Met haar hand op die deurknop kyk sy terug na hom. “Ek blameer jou nie en ek wil nie druk op jou plaas nie. Dis ’n verskriklike situasie waarin jy jou bevind. Maar dis jóú situasie, Melt. Jou en jou vrou s’n. Ek is ’n buitestander; ek hoort nie hier nie.” “Wag . . .” herhaal hy. “Nee,” antwoord sy sag. Voor hy kan protesteer, trek sy die deur agter haar toe. Buite stap sy tot voor Heloise.
“Ek het vergeet jy en Imke is ook mos sulke dik vrinne. Jy kon natuurlik nie wag om my by haar te beskinder nie. En hier kom bied ek myself op ’n skinkbord aan en trap reg in jou strik . . . Veels geluk! Jy het bereik wat jy wou: twee mense wat die onskuldige slagoffers van omstandighede is, diep seergemaak. Is jy nou tevrede?” Cecilia het verwag die witkop gaan net so bitsig terugbaklei. Maar Heloise kyk haar nie in die oë nie en haar wange verkleur. Dit laat Cecilia skaam kry. “Jy het seker gedoen wat ’n goeie sekretaresse behoort te doen,” mompel sy ter versagting, “om haar baas teen fortuinsoekers te beskerm en sy huwelik te probeer red.” “Hy en Imke hoort bymekaar,” sê Heloise verdedigend. “Dis vir hóm om te besluit.” “Jy behoort te bedank. Deur aan te bly, sal jy die situasie net verder kompliseer – vir jou én vir hom.” Cecilia weet Heloise is reg. Sy sien nie kans vir verdere konfrontasies nie, vermy die hysbak en klim met die trappe af. Vir die eerste keer wens sy sy het haar eie kantoor gehad, wat privaatheid bied. Een kyk na haar gesig laat Garth alles los. “En nou? Wie is dood?” Cecilia gaan sit en laat haar kop op haar lessenaar sak. “Jy was reg: sy is ’n Nordiese skoonheid. Maar jy was verkeerd: hulle is steeds getroud.” Hy verstaan nie. “Wie?” “Melt en sy vrou. Sy is in sy kantoor. Ek het haar gesien en met haar gepraat. Sy het vir hom gejok en die skeisaak teruggetrek sonder om hom te laat weet.” Garth is net so onthuts. “Nie geskei nie? Dis ’n flippen gemors!” “So het Melt ook gesê,” bevestig sy. “Ek kan aan ’n erger beskrywing dink.” “ ’n Bloemen deurmekaarspul! Wat gaan hy nou maak?”
“Ek weet nie. Ek glo ook nie hý weet nie. Hy sal moet kies.” “Tussen jou en Imke? Arme jy . . .” “Arme hý!” Cecilia begin huil. Garth dra koffie en koekies en simpatie aan; praat oor die wildtuin, oor haar motor wat weer mobiel is, Vera en Steve wat gebel het – allerhande goed om Cecilia se gedagtes af te lei. Hy vryf haar arm en klop haar onbeholpe op die rug, en dan kry hy die oplossing. “As meneer M nie beskikbaar is nie, trou met Steve. Hy klink na ’n vreeslike oulike ou. Ons praat so gereeld oor die foon, ek ken hom al soos familie. Hy is mal oor jou – hy sal jou van Melt laat vergeet.” “Ek het hom lief; ek wil hom nie vergeet nie.” “Jy en Steve pas so goed bymekaar. Julle het dieselfde agtergrond en als.” “Ek en Melt ook . . .” “Jy was langer lugwaardin as wat jy skakelbeampte was.” “Ek wil nie teruggaan Lugdiens toe nie. Ek het laas besluit ek is klaar met mans, en nou is dit finaal. Julle mans is almal eenders! Sodra jy vir een lief word, kul hy jou met ’n ander vrou.” “Stéve het nie, jy het dit self vir my vertel – van Nadine se brief en als.” Dit troos nie en die hoop nat snesies in die snippermandjie word al meer. “Dis hoe julle almal is! Jy gaan Sue ook eendag kul en haar hart breek.” Garth is geskok. “Ek sal nie, ek belowe.” “Ek moes nie Cupido gespeel het nie. Sy is gelukkiger alleen.” “Ek sal goed wees vir haar, ek sweer.” Cecilia lig haar kop op en druk met haar vingerpunte teen haar slape, waar ’n spanningshoofpyn begin klop. “Skies dat ek so lelik met jou was . . . My hart is so seer en my kop ook, ek dink nie wat ek sê nie.”
“Gaan huis toe, ek sal die fort hou.” “Ek weet ek skuld jou, maar as ek gebad en skoon klere aangetrek het, sal ek weer die wêreld in die oë kan kyk.” “Gooi badsout in en steek ’n kers aan – vir jouself.” “Ek sal,” belowe Cecilia. “En een vir arme Melt. Hy het al die hulp nodig wat hy kan kry.”
By haar chalet het oom Kas haar tas afgelewer en Joe haar motor – blinkskoon en gepoets. Cecilia gee hom ’n soen op sy rooi neus. Sy voer die spreeus en klim in ’n stomende skuimbad met komkommerskywe op haar opgehewe ooglede. Sy is pas aangetrek, toe haar voordeurklokkie lui. “As ek ’n hoed gehad het, het ek dit in albei hande vasgehou,” sê ’n bedremmelde Imke op haar drumpel. Cecilia wil die deur toemaak, haar teenwoordigheid wegwens en haar verbeel Imke bestaan nie. “Garth het gesê jy is hier. Mag ek asseblief inkom?” vra Imke in ’n klein stemmetjie. Cecilia staan opsy. “Ek moet terugkom by die kantoor, maar dis seker onvermydelik dat ons praat.” “Ongelukkig, ja.” Imke krul haar op in ’n hoekie van die bank en klem haar arms om haar knieë, asof sy koud kry. “Wat ek gedoen het, was onvergeeflik. As Melt vir my kwaad was, as hy my uitgeskel en weggejaag het, sou ek minder selfverwyt gehad het. Maar jy ken hom seker ook goed genoeg om te weet hy is nie so nie – nie wraaksugtig en veroordelend nie. Melt is een van die ordentlikste mense wat ek ken, en dit maak my ’n groter boef omdat ek hom te na gekom het.” “Ek begryp hoe jy voel,” antwoord Cecilia. “Wat ek nie verstaan nie, is hoe jy ’n
wonderlike man soos Melt vir ’n ander ou kon verruil.” “As ek terugkyk, weet ek self ook nie. As ek enigsins ’n deel van die blaam voor Melt se deur kan lê, is dit omdat hy my nie gekeer het nie. Die aand toe ek besluit het ek gaan na Beyers toe, het hy niks gesê nie, net gevra of ek daaroor wou nadink. Maar ek wou nie. Ek was van kleins af hardkoppig, veral as mense my teëgaan.” “Hy het jou seker goed genoeg geken om te weet dit sal nie baat om jou te probeer keer nie.” “Hy het nie eens geprobéér nie. Dit het amper gelyk asof hy bly is ek gaan . . . en dís waaroor ek hom kwalik neem. Later het hy erken hy het aan bomskok gely. Maar hy het opgestaan, my tasse uit die kas gehaal en die nag ewe ordentlik in die spaarkamer geslaap. Hy was bleek, met kringe onder sy oë die volgende oggend, maar hy het Beyers ewe vriendelik gegroet toe hy my kom haal het, selfs nog gevra of ek genoeg kontant het en my die naam van ’n goeie prokureur gegee.” Cecilia wil nie die besonderhede hoor nie. Sy probeer die bitterheid uit haar stem hou. “Hoekom het jy teruggekom? Hoekom het jy nie by die ander man gebly nie?” Imke se onderlip bewe. “Dinge tussen my en Beyers het nie gewerk nie. Hy is twaalf jaar ouer as ek en te oorheersend. Ek het hom op ’n jeugkamp ontmoet, waar hy die groepleier was. Ek was gevlei deur die aandag wat hy aan my gegee het en het ’n crush op hom gehad. Hy was my superheld . . . Maar ek was sestien, naïef en onervare. Ons verhouding het wipplank gery omdat Beyers my soos ’n kind behandel het, terwyl ek wou hê hy moet my as vrou raaksien. Toe ontmoet ek Melt . . . Ek was ’n eerstejaartjie en hy in sy derde jaar – sexy krieketkaptein met ’n blink motor . . . Die kampustrofee. Hy en sy meisie het pas uitgemaak en hy was ’n losloper. Melt het my uitgeboul en vir ’n ses geslaan. Ek moes kies tussen hom en Beyers. Dit was heen en weer tussen die twee, maande lank . . . Maar jy weet self hoe spesiaal Melt is. Ek het besluit hierdie nuwe crush is die grote wat vir altyd gaan hou.” Imke kyk smekend na Cecilia. “En dit hét . . . sewe jaar lank. Dit sou nou nog gehou het, as ek Beyers nie toevallig weer raakgeloop het by die landbouskou op Witrivier nie. Al die ou magic was skielik terug. Ek het opnuut geswig, en dit het
nie saak gemaak dat ek getroud was nie. Hy het by die Kudu Inn gebly, waar ek gewerk het, en dit was soos ’n tweede wittebrood . . . Ek het geweet Melt sal my my geluk gun, dat hy nie in ons pad sal staan nie en my my vryheid sal gee. Ná die skou is ek sak en pak saam met Beyers plaas toe. Net ’n jaar, toe bars die borrel. Toe ontdek ek my paradysman het kleivoete; hy aanvaar my bloot as vanselfsprekend. Die gevoel wat ek vir hom het, is heldeverering. Idealisering. Dit was nie liefde nie – nie soos ’n vrou ’n man moet liefhê nie. Nie soos ek Melt liefgehad het nie . . .” Imke sit agteroor, moeg en gedreineer ná die emosionele ontboeseming. Sy soek ’n snesie en blaas haar neus. “Toe hoor ek Melt het ’n nooi, ’n meisie oor wie hy ernstig is . . .” Heloise, dink Cecilia. Dís waar die vlieg in die salf gekom het. Imke skud haar kop. “Moontlik sou ek en Beyers later die ding uitgestryk het, ek weet nie. Maar die besef dat ek Melt dalk aan ’n ander vrou sal moet afstaan, het my laat skrik en tot my sinne laat kom. Dié keer was dit arme Beyers wat moes opklim en my tasse bo uit die solder gaan haal.” Sy verberg haar gesig in haar hande, asof sy die herinnering wil uitwis. “Hy was minder gaaf as Melt. Ons het ’n bitter rusie gehad. Wie weet, as hy mooigepraat het, het ek dalk gebly . . . Maar Beyers wou aan my voorskryf hoe ek my lewe moet leef en dit het my kwaad gemaak. Ek het self met my tasse kar toe gesukkel en gery. Mlala toe, na Melt toe . . . Die res is geskiedenis.” Sy sit vorentoe en haar stemtoon verskerp toe sy Cecilia vas in die oë kyk. “Jy het netnou gevra hoekom ek teruggekom het. Hoekom dink jy? Ek het teruggekom om my man op te eis, Cecilia.” Cecilia beskou haar skewekop. “Jy is steeds ’n wispelturige, hardkoppige kind. Jy het woer-woer gespeel, eers met Melt en toe met Beyers, en albei se lewe opgemors. Nou wil jy dit wéér doen, die hele proses van vooraf herhaal.” Imke skud haar kop. “Ek kan verstaan as jy dink ek is onvolwasse en oppervlakkig. Maar ek het ook seergekry. Hierdie ontnugtering met Beyers het my laat grootword, my oë oopgemaak en laat besef wat ek wil hê. Ek wil my man hê, Cecilia. Met my hele hart en siel en verstand wil ek hom terughê. Ek sal vir hom baklei met alles wat in my is. Dit gaan nie oor ’n kompetisie tussen jou en my om te kyk wie wen en wie kry hom nie. Dit gaan om oorlewing. Ek het
my brûe verbrand; ek kan nie teruggaan na Beyers toe nie. Hy sal my nooit vergewe en terugvat nie. As ek Melt óók nog verloor, bly daar vir my niks oor nie. En ek ken myself: ek sal iets onverantwoordeliks aanvang – ’n oordosis pille sluk of in die see inloop. Ek is ’n swakkeling, nie ’n sterk mens soos jy nie. Jy sal maklik ’n ander man kry.” Toe Cecilia op haar horlosie kyk, staan Imke dadelik op. “Ek weet, ja – jy moet gaan werk.” Tussen die trane deur probeer sy ’n grappie maak: “Dis gelukkig nie ’n geval dat die baas jou sal afdank as jy laat is nie. Jy is sy witbroodjie.” Cecilia antwoord nie. Afdank? Nee, hy sal nie, want sy sal self bedank. Onder hierdie omstandighede kan sy nie by Mlala Lodge aanbly nie. Sy is nie dapper genoeg om saam met Melt te werk en hom elke dag te sien nie – en dit saam met sy vrou wat hom nie verdien nie.
17
Cecilia sien Melt eers weer die volgende oggend toe hy by haar kantoor instap. Hy kom staan voor haar lessenaar. “Is jy besig?” Haar hart skop teen haar ribbes, só onstuimig sy is bang dat hy dit kan hoor. “Hoekom?” “Ons moet praat.” Sy sit haar pen neer, maak die lêer toe en skuif dit noukeurig eenkant toe. Toe sy opkyk, het sy haar emosies onder beheer. “Waaroor? Ons kan praat tot die son opkom, dit sal nie die situasie verander nie.” Melt se oë is broeiend. “Dit sal, want ek wil my kant van die saak stel . . . Ek skuld jou dit, sodat dit jou miskien sal help om te verstaan.” Hy kyk vraend oor sy skouer. “Garth . . . Is jy nie dors nie?” Garth snap die skimp. “ ’n Keel soos ’n stuk skuurpapier, meneer M.” “Gaan drink koffie, dit behoort te help.” Garth pyl deur toe. Cecilia wil nie alleen saam met Melt wees nie. “Jy kan sommer hierso koffie maak, sommer vir ons ook,” stel sy voor. Garth hou aan loop. “Ons ketel is stukkend.” “Jy jok!” “Ja,” erken hy en verwyder homself taktvol. “Maak die deur toe en hang ’n kennisgewing buite op,” roep Melt hom agterna.
“Kantoor tydelik gesluit.” “Jy kan nie dit doen nie!” protesteer Cecilia. “Wat as ’n gas kom kla die lugreëling of die yskas werk nie?” “Dan kan hy dit self regmaak. Hou op wegskram, Cecilia. Jy weet ons moet praat, en ek het nie ander tyd nie. Ek moet nou-nou weer ry, Barberton toe.” “Imke en ek het gister lank gepraat.” “Ek weet . . . en nou is dit my beurt.” Hy buk nader en sit sy hand oor hare, maar sy rem weg en skud haar kop. Toe hy haar gesig probeer sien, is sy skielik weer met die stapel lêers doenig. Melt pers sy lippe opmekaar terwyl hy gefrustreerd heen en weer loop. Hy verstel aan die blinding, maak ’n venster oop en klap dit dan weer ergerlik toe. Asof sy eie bewegings hom irriteer, prop hy sy hande in sy broeksakke en gaan leun teen die tydskrifrak. “Moenie dink ek is ’n slapperd wat alles maar net gelate aanvaar nie. Ek is gekrenk oor die manier waarop Imke my bedrieg het, en bitter oor die situasie waarin ek gedwing is – lus om haar die deur te wys of Beyers aan te sê om haar te kom haal. Hierdie was nie die eerste keer dat sy agter hom aan was nie, maar ek het gedink dis nou finaal. Toe ek gisteroggend gehoor het sy is terug, was die mat onder my uitgepluk. Eerste waaraan ek gedink het, was hoe dit jou raak. Ek wens ek kon beloftes maak, jou gerusstel dat die probleem sal oorwaai en dat daar ’n toekoms vir ons is, maar ek kan nie. Na regte het ek net soveel skuld aan die situasie as sy, want ek was nalatig. Die prokureur was ’n studentekennis, en hy het my in die steek gelaat. Siegfried was op die punt om Australië toe te emigreer en sy kantoor was chaoties. Eenkeer toe ek navraag gedoen het, was die lêer weg. Die volgende keer was hý weg. Toe ek nie ’n skikkingsooreenkoms ontvang het nie, het ek die saak opgevolg, maar niemand by die kantoor kon my help nie. Imke het gesê die saak is deur, en ek het nie rede gehad om haar te wantrou nie.” Hy trek sy vingers moedeloos deur sy hare. “My fout was dat ek eenvoudig aanvaar het ek is vry. Die skeisaak was op die hofrol geplaas en ek moes by die hof gewees het die dag wat dit sou voorkom. Ek het geweet Imke is emosioneel onstabiel; ek moes nie die hantering van die egskeiding aan haar oorgelaat het nie. Ek het haar verkeerd gehanteer, en vir jou ook. Ek het te gou te lief geword
vir jou, met te veel onafgehandelde bagasie. Dit was ’n fout.” Cecilia weet nie wat sy verwag het nie: dat hy gaan sê sy moet geduldig wees, hom tyd gee, hy sal ’n plan uitwerk. Enigiets anders, maar nie dat Melt sou erken hulle liefde was ’n fout nie. “Het jy haar nog lief?” Sy keer haarself om by te voeg: “Liewer as vir my?” Hy antwoord nie direk nie. “Ek verstaan haar en ek kry haar jammer. Sy was ’n enigste kind, en haar ouers het verongeluk toe sy drie jaar oud was. Imke onthou niks van hulle nie en het in ’n kinderhuis grootgeword. Sy het soveel liefde om te gee, maar sy het nooit geleer hoe nie. Sy is immer soekend, besig om ’n lugspieëling na te jaag. ’n Reënboog . . . soos Beyers du Toit. Telkens as sy dink sy het hom gevind, is dit nie wat sy verwag het nie. Dan kom sy terug na my toe om troos en vastigheid te soek. Hy is die reënboog en ek die rots.” Melt kyk vraend na Cecilia. “Verstaan jy wat ek bedoel?” Die prentjie wat hy skets, ja, dink sy. Maar nie wat hy daarmee wil sê nie. “Imke het op haar knieë gesoebat ek moet haar vergewe, my verseker sy is vandag ouer en wyser. Al wat sy vra, is ’n kans om te vergoed en te wys hoe lief sy my het. Sy is teen die grond en gebroke. Ek kan haar nie wegstuur nie. Ek is steeds haar man, Cecilia, ek het voor die kansel ’n heilige belofte afgelê dat ek my vrou sal bystaan en liefhê, en dit maak my verantwoordelik vir haar. Sy dreig om ’n einde aan haar lewe te maak as ek haar versaak. Dis nie emosionele afpersing net om haar sin te kry nie. Imke is neuroties – sy het ’n vorige keer haar polse gesny en ek moes in die middel van die nag hospitaal toe jaag met haar. Sy was in ’n koma en moes ’n bloedoortapping kry. Ek het ’n plig en ’n gewete; ek kan nie met iemand anders se lewe dobbel nie. En ek kan nie my geluk op ’n medemens se ongeluk bou nie.” Dít kan Cecilia verstaan, en dit vul haar met weemoed. Nog nooit het sy hom so lief gehad soos op hierdie oomblik nie. Hy kom leun met sy handpalms op die hoek van haar lessenaar. ’n Lang oomblik hou sy blik hare gevange, en toe hy die seer in haar groen oë sien, buk hy af en soen haar sag op die voorkop. Sy hand kelk om haar gesig en hy streel oor haar mond, volg die kurwe van haar lippe. Een wonderlike, wilde oomblik lank dink sy hy gaan om haar lessenaar kom en sy arms om haar sit. Maar hy sug en kom regop; druk sy hande in sy sakke en gaan staan voor die venster.
“Het jy al my antwoord op Woudnimf se brief gelees?” vra hy sag. “Nee . . .” “Dis beter so, want dit geld nie meer nie.” Hy draai van die venster weg en skuif die stapel lêers terug tot voor haar, tel haar pen op en gee dit in haar hand. “Nou kan jy aangaan . . . Jammer dat ek jou onderbreek het.” Toe hy weg is, reik Cecilia na haar rekenaar. Sy gaan na haar inboks, en lees Melt se antwoord:
Liefste Woudnimf Mis jou ook. Sal ons iets permanents aan die situasie doen? Ek hoop die antwoord is ja!!!
Met ’n hele ry x’e onderaan, wat hy nie bang was ander mense sou sien nie. Wat het hy bedoel? Dis tog nie . . . Of ís dit ’n huweliksaansoek? Cecilia voel verpletter. Sy het nie gedink iets wat nie bestaan nie, kan pyn. In haar is ’n holte, ’n vakuum, ’n leë niks . . . Maar dit folter haar, soos ’n rot wat aan die wand van ’n swart gat knaag. Die verlange na Melt skeur deur haar. Sy het hom verloor, sonder dat hy ooit hare was . . . ’n Ander man sou sy eks die deur gewys het, ’n prokureur gekry het om van haar ontslae te raak, en vergeet het van plig en verantwoordelikheid. Maar Melt is . . . Mélt. En dis wat hom so hartbrekend spesiaal maak. Sou dit minder seer gewees het as sy hom nooit ontmoet het nie? Nee, want sy sou armer gewees het. Nou het sy darem ’n herinnering aan die blink Kersboom voor die liggies uitgedoof is. Haar gedagtes kringloop onwillekeurig terug na Steve. Was hy ook haar
reënboog wat sy nagejaag het? Of was dit Melt, en nou het Steve haar rots geword wat altyd daar sal wees, by wie sy troos en vastigheid sal vind? Miskien was Mlala Lodge en Melt net ’n interlude, sodat sy afstand kon kry om haar gevoel vir Steve objektief te ontleed . . . Haastige voetstappe klink op. “Ek het nie geweet nie! Hoekom het jy niks gesê . . .” Die sin bly hang. “Cecilia? Is jy orraait?” Sy lig haar kop en kyk traag om. Sue staan in die deur met twee blikkies koeldrank en Garth wat grootoog oor haar skouer loer. Die blinding is halfpad toegetrek, soos Melt dit gelos het, en die kantoor lyk vreemd somber. Hoe lank het sy hier gesit in haar bootjie na Jammerland? Sy swaai haar stoel dwars, krap ’n snesie uit ’n laai en blaas haar neus. “Die ketel makeer niks; as jy koffie wil hê, sal ek vir jou maak,” bied Garth aan. “Of verkies jy koeldrank?” “Dit maak nie saak nie . . .” Sue rits ’n blikkie oop en sit dit voor Cecilia neer. “Garth het my vertel van Imke wat terug is. Wil jy daaroor praat?” “Jy klink soos ’n berader.” “Nee, ’n vriendin met ’n simpatieke skouer.” Die holte in haar wat Cecilia gedink het leeg is, is soos ’n dam wat te veel stormwater ingekry het en oorloop. Dis erger as destyds in Rome, want toe was sy in beheer – sy was die een wat uitgestap het. Toe was sy kwaad en vol adrenalien. Sy het nie in Tibet of by die Noordpool gaan bly nie, maar haar bedanking by Lugdiens en die uitdaging van die nuwe werk was drasties genoeg om haar uit haar groef van selfbejammering te kry. Nou het sy egter nie die energie of die motivering nie. Al wat sy wil doen, is op ’n hopie sit en doodgaan. “Huil,” sê Sue. “Dis goeie medisyne. Moenie dit opkrop nie.” “Dit het my vier jaar geneem om vir Steve ja te sê,” snik Cecilia. “Vir Melt sou ek onmiddellik ja gesê het, sommer daar in die hysbak. Maar ek het nie die kans gekry nie. Nie eens om vir hom te sê hoe verskriklik lief ek vir hom is nie . . .”
“Jy sal weer iemand ontmoet,” troos Sue. “Daar sal nooit weer iemand soos hy wees nie.” Sue vryf simpatiek oor haar arm. “Miskien was julle nie vir mekaar bestem nie en sou jy later uitgevind het hy is van Mars en jy van Venus. Dit werk nie met teenoorgesteldes nie. Een rem noord en een beur suid en in die proses breek die juk en bly die wa in die drif sit. ” “Ons was nie teenoorgesteldes nie, ons is sielsgenote! Ek het nog nooit iemand ontmoet wat my so gelukkig gemaak het nie.” “Dalk is Imke se koms ’n bedekte seën, sodat jy en Steve weer by mekaar kan uitkom. Veral noudat jy weet daar het niks tussen hom en daardie Nadine gebeur nie,” gooi Garth sy stuiwer in. “Onthou hoe jy aan die begin na hom verlang het? Jy wou kort-kort bel om te hoor waar hy is en hoe dit gaan.” “Is nie,” stry Cecilia. “Dit was uit plig, omdat ek bang was hy vergeet van sy ma en die kat.” Garth peuter ingedagte met ’n potlood. “Wat sal jy maak as Steve byvoorbeeld nou uit die bloute hier sou instap?” “Ek sal vir Melanie ’n suite bespreek,” antwoord Cecilia, en toe Garth nie verstaan nie, verduidelik sy: “Want Melanie wil hom so graag hê, en dan is hy van my gewete af.” Sue snap waarmee Garth besig is en speel saam. “En wat as hy jou vir Melanie verruil? As jy binnekort hulle troukaartjie kry?” Cecilia gee haar ’n skuins kyk. Sue druk deur. “Enige man raak moeg daarvoor om soos ’n vrot vis behandel te word. En jy het juis gesê Steve is nie die geduldigste man op aarde nie.” “Ek gooi hóm met daardie vis!” Cecilia het gepraat sonder om te dink en sy skrik vir haar heftige reaksie. Wat gee sy om as hy Melanie bo haar verkies? ’n Mens se eks is soos ’n ou paar skoene wat jy in ’n blik gooi en van vergeet. Jy eis hulle nie terug as jy iemand
anders met hulle sien loop nie. Dan dink sy: ’n Ou paar skoene? Kaptein Kookwater de Villiers? Sy het seker koors. “Moenie sê jy is jaloers nie?” Sue loer onderlangs na Garth. Hulle vriendin is nie heeltemal so onbetrokke soos sy wil voorgee nie . . . “Op Melanie?” Cecilia neem ’n diep sluk uit die blikkie. “Julle is seker laf! Sy kan hom kry. Pasella. Gratis en verniet. Ek sal selfs op hulle troue dans en vir hulle ’n stel teelepels koop. Jaloers?” herhaal sy gegrief. “Waar kom julle daaraan?” Sue onderdruk ’n grinnik. Cecilia protesteer gans te veel . . . Wie weet, dalk is die kaptein net die regte medisyne vir ’n seer hart. “Selfs Romeo en Juliet het geweet ou liefde roes nie,” skimp sy. “Wat karring julle so oor Steve?” vra Cecilia geïrriteerd. “Ek huil my oë uit oor Melt, en al wat julle doen, is om Steve in my keel af te druk!” Sy swaai haar stoel anderkant om en begin blaai deur die pak lêers. “Ek het werk om te doen; ek het nie tyd om na nonsens te luister nie.” “Nie een van daardie lêers is dringend nie,” sus Garth haar. “Ek sal hulle hanteer. Dis amper eenuur. Hoekom gaan koop jy nie vir jou ’n nuwe bikini en tjek die talent by die swembad uit nie?” “Ek soek nie ’n ander kêrel nie – nie by die swembad nie, nie by Lugdiens nie, nêrens nie. Los my in vrede om te rou oor die een wat ek pas verloor het, die een vir wie ek my alles sou gee.” Cecilia laai die lêers en die boks snesies op haar arm. “Ek kan nie soos Antjie Somers lyk as hier vreemdes inkom nie. As iemand my soek, sê ek werk by die huis.” Op pad na haar chalet stap Cecilia by die swembad verby. Imke lê op een van die strekstoele, besig om sonroom aan haar mooigevormde bene te smeer. Sy wuif, maar Cecilia loop verby, hopend Imke sal dink sy het haar nie opgelet nie. Sy sien nie nou kans vir haar nie, en ook nie môre of oormôre nie. Sy sal liewer by Joe ’n draai maak en hoor hoeveel sy hom skuld.
18
By Vrydag se dagbestuurvergadering is Melt baie sorgsaam teenoor Cecilia. Hy is in gesprek met die rekenmeester, maar onderbreek homself en staan hoflik op toe sy by die raadsaal inkom. “Môre, Cecilia. Dis goed om jou te sien.” Sy vertrou haarself nie om te antwoord nie. Sy groet en gaan sit aan die verste punt van die tafel. “Ek het jou kantoor toe gebel, maar jy was nie daar nie,” soek hy ’n aanknopingspunt. “Ek was besig.” Dis immers nie ’n leuen nie. Die lêers is gedoen, die liassering is op datum en ’n lys ander probleme is opgelos. Melt bring vir haar ’n sakelys. “Ek het verlang,” fluister hy onderlangs. Sy kyk op in sy gesig, al haar hunkering en verlange naak in haar oë. Sy arm raak teen haar skouer – vir die ander mense oënskynlik per ongeluk, maar dit stuur ’n elektriese stroom deur Cecilia. “Hoe gaan dit?” vra hy hardop, asof hy regtig wil weet. Hoe dínk hy gaan dit? Sy oorleef, dis al . . . Voor Cecilia kan reageer, kom Arnold Jordaan binne, vergesel deur Imke – uitgevat in ’n roomkleurige baadjiepak en haar hare in krulletjies op haar kop gekam. Sy lyk selfversekerd toe sy ’n plek soek tussen haar man en sy sekretaresse. “Ons almal ken mekaar mos . . . Melt sê altyd by Mlala is ons soos een groot familie. Ek is mos nie ’n vreemdeling of buitestander nie, so ek hoop nie julle gee om as ek die vergadering bywoon nie?” sê-vra sy.
’n Effense stilte val. “Sommer net as waarnemer,” voeg Melt by. “Enige besware?” Wat maak sý hier? dink Cecilia suur. Geen wonder Melt is so vriendelik nie, dis omdat hy skuldig voel. Sy kry ’n nare voorgevoel, en haar hande is bewerig toe sy die sakelys optel. Sy het nog nie eens bedank nie en al klaar is haar opvolger aangewys . . . Imke weet hoe om haar in te wurm, en dit dra blykbaar Melt se goedkeuring weg. Sy onthou hy het gevra hoe dit gaan. Sy het gedink hy bedoel persoonlik, maar blykbaar het hy verwys na haar werk. “Geen probleme nie,” antwoord sy saaklik. “Die dubbelbespreking vir die wittebroodsuite is opgelos, en die kwessie van die Induna se koerantaflewering is uitgestryk.” “Hoe?” Kontroleer hy haar werk, of verwag hy sy moet vollediger verslag lewer? “Ek het met verspreiding gereël dat die oggendkoerante voortaan op ’n vroeër vlug gelaai word, en ek het met vervoer gereël om vroeg soggens ’n bode lughawe toe te stuur om die aflewering te ontvang.” Hy glimlag. “Dankie, dit klink na ’n praktiese reëling.” Cecilia se gesig is stroef. “Wil jy ook ’n volledige verslag hê oor die dubbelbespreking en die sauna se termostaat wat foutief was? Die betrokke kamernommers en die tegnikus se rekening?” Melt frons effens. Sy oë is behoedsaam, maar hy bly vriendelik. “Dis nie nodig nie, dankie, ek vertrou jou goeie oordeel.” Hy kyk om die tafel. “Wessie? Hannah? Julle probleem met die departement van arbeid opgelos?” Die bespreking handel oor die tydelike kombuishulp se verlofvoordele, en ’n kluis in die Presidensiële Suite wat Arnold wil vervang. Dit raak Cecilia nie direk nie en sy speel afgetrokke met haar pen – klik die punt in en uit, terwyl sy die res van die sakelys deurgaan. Die begroting en addisionele toesluitparkering – die rekenmeester en Joe se terrein.
Sy kyk om haar rond, vas in ’n paar porseleinblou oë wat haar takserend betrag. Imke laat vinnig haar wimpers sak, maar nie voor Cecilia die vyandigheid in haar blik gesien het nie. Heloise langs haar is minder subtiel. Haar halfmaanwenkbroue lyk permanent asof die wêreld haar ’n verskoning skuld, en sy staar Mlala se skakelbeampte koel aan. Twee teen een, krap Cecilia ’n nota op die sakelys. Sy kyk na Melt wat oor veiligheidshekke en kwotasies praat, dan trek sy die twee dood en vervang dit met drie. Dis nie dat hy fout gesoek het met haar werk nie, maar daar was tog netnou ’n suggestie van kritiek, asof hy haar bekwaamheid betwyfel. Reken hy Imke sal beter doen? Ná afloop van die vergadering bly Cecilia sit. “Indien dit geleë is, Melt, wil ek jou asseblief spreek,” versoek sy. “Sekerlik,” willig hy in. Imke was saam met die res van die dagbestuur op pad uit, maar sy draai kortom en kom help Melt om sy dokumente bymekaar te maak. “Dit was interessant, Bokkie,” gesels sy vrolik. “Lekker om te weet wat aangaan en om weer deel te wees van jou lewe.” Melt kyk op sy horlosie. “Ek dag jy vind vergaderings vervelig.” “Glad nie. Wat jou raak, raak my. Ek onthou parkering was destyds al ’n turksvy, en dis goed dat julle ekstra hekke opsit.” Imke draai haar trouring om en om, asof sy daaruit gerusstelling put. Teen haar sin let Cecilia die goed versorgde hande en ligpienk naels op, die duur ring en die goue armband. En dan opeens, met ’n skok, die wit lyn – effe skeef, dwarsoor die pols. Toe Imke sien Cecilia kyk, steek sy haar arm verdedigend agter haar rug in en vly haar teen Melt aan. “Onthou, jy’t belowe om my Nelspruit toe te neem, Bokkie. Ek het al die verkeerde klere ingepak en ek moet dringend by die winkels kom. Yzette van die boetiek sê daar het ’n nuwe salon in die middedorp oopgemaak en ek wil graag gaan kyk.” Melt haal sy skouers op. “Die vergadering het langer aangehou as wat ek
voorsien het en ek het ongelukkig ’n ander afspraak. Sien jy kans om alleen te ry?” “My tenk is leeg, erger as my beursie.” “Gooi by Joe petrol in, op my rekening.” Melt oorhandig sy kredietkaart. “En koop vir jou wat nodig is.” Imke loer triomfantelik deur haar wimpers na Cecilia. Sy is die ene lieftalligheid toe sy haar arms om haar man sit en hom soen. “Lief vir jou, Bokkie . . . Ek gaan gemakliker klere aantrek.” Die punt van haar tong lek oor haar onderlip en haar oë is versluier terwyl sy skalks na hom kyk. “Lus om saam op te kom penthouse toe sodat ek . . . behóórlik vir jou kan dankie sê?” “Later,” antwoord Melt. “Moenie te lank wag nie,” pruil Imke uitnodigend. Dis om van naar te word. Cecilia weet hoekom Imke dit doen en watter boodskap sy daarmee wil oordra, maar sy weet nie hoekom dit haar so skok om die twee saam te sien nie. Hulle is immers getroud en dis wat getroudes doen. Melt is ’n normale man met normale behoeftes en Imke ’n begeerlike vrou, klaarblyklik hoogs verlief en amoreus . . . Hy wikkel hom uit Imke se omhelsing en soen haar op die wang. “Jammer, ek is bietjie haastig. Jy sal my moet verskoon.” Imke het nie ’n keuse nie. Hoewel onwillig, laat sy hom gaan – ná ’n laaste volsoen op sy mond en ’n kyk in Cecilia se rigting. Melt maak die deur agter haar toe. Hy bly staan, met sy palm teen sy voorkop gedruk en sy rug teen die kosyn gestut. “Jammer . . .” Net een woordjie, en dan dink hy alles is reg? Cecilia is só onthuts, sy wil hom skud. “Waaroor wou jy my sien?” vra hy. Hy lyk vaal en uitgewas, maar sy het op hierdie oomblik geen simpatie nie. Was dit nodig om Imke te behandel asof sy in watte toegedraai is en na haar pype te
dans? “Ek wou vra of jy wil hê ek moet bedank. Maar nou vra ek nie, ek sê! En ek gee nie ’n maand kennis nie, ek loop nóú!” “Moenie,” sê hy suf. “Ek kan nie op die oomblik normaal dink nie . . . Ek is in ’n hoek geverf waar my kompas nie werk nie, en ek vra jy moet asseblief geduldig wees. Al lyk dit so, is ek nie so slap en ruggraatloos soos jy dink nie. Dis net dat ek min opsies het en dat dit tyd neem om oplossings te prakseer. Tyd én begrip . . . Dis nie te veel gevra nie, of hoe?” Cecilia is nie in ’n begrypende luim nie. “Min opsies?” eggo sy. “Twee is seker genoeg: moet jy nóú agter haar aandraf kamer toe, of láter?” Hy word rooi. “Ek draf nie agter haar aan nie. Ons slaap in aparte kamers.” Ná hierdie vertoning? Verwag hy sy moet hom glo? “Het jy so min vertroue in my, Cecilia?” vra hy sag. “Dink jy ek lieg om jou aan ’n lyntjie te hou, sodat ek jou ook in die bed kan kry?” Cecilia kry skielik skaam. Sy gee hom nie die skerp antwoord wat sy wou nie en verander die onderwerp. “Jy het nie die reg gehad om jou vrou by die vergadering toe te laat nie.” “Ek weet,” stem hy saam. “Imke het dit nie vooraf met my bespreek nie, en haar teenwoordigheid was vir my ’n verleentheid. Maar ek het gedink ons is tussen vriende wat besef dat ek in ’n blik gedruk word. As ek haar uitgestuur het, sou sy ’n herrie opgeskop het wat vir almal onsmaaklik sou wees. Ek het die weg van die minste weerstand gevolg.” Soos met sy huwelik? Hy bly nou maar getroud, dis die minste moeite . . . Iets in die manier waarop hy sy agterkop teen die kosyn laat rus en sy oë sluit, laat hom skielik weerloos lyk en sy sluk haar woorde terug. “Ek het gedink haar teenwoordigheid is ’n mosie van wantroue in my,” stel sy haar saak. “In jou?” Sy oë gaan oop. “Hoekom?”
“Omdat jy wil hê ek moet bedank sodat sy my pos kan kry.” “Dis onsinnig! Imke is nie in staat om skakelwerk te doen nie. As ek wou hê jy moet bedank, sou ek nie op ’n agteraf wyse te werk gegaan het nie. Ek sou jou ingeroep het en die kwessie in die privaatheid van my kantoor met jou bespreek het.” “Jy is reg,” gee sy toe. “Ek is kwaad en ontsteld, en dit help nie om my frustrasies op jou uit te haal nie. Imke is mooi genoeg om enige man om haar pinkie te draai. Maar sy is nie die regte vrou vir jou nie. Hoekom het jy destyds met haar getrou?” “Ná die wittebrood het ek ook soms gewonder, maar toe was dit te laat.” Hy sug en vee oor sy gesig. “In my derde jaar was ek in ’n ernstige verhouding met ’n ander meisie – Salomé. Eksotiese swartkop, slim, ambisieus en alles wat ’n man kan vra. Ek het haar al aan my ouers gaan voorstel, toe los sy my hoog en droog vir ’n ander ou – nogal my beste vriend, wat medies geswot het. Sy het reguit gesê eintlik hou sy meer van my, maar Barend is finansieel ’n beter proposisie, veral as hy in neurologie gaan spesialiseer. As mevrou-dokter Van Staden, in Johannesburg se noordelike voorstede, sal sy voel sy het gearriveer in die lewe.” Hy gaan staan voor die venster, met sy rug na haar. “Ek was een en twintig, en my ego, trots, selfvertroue . . . alles was verpletter. Toe kom Imke – presies die teenoorgestelde van Salomé. ’n Pragtige dingetjie, soos ’n Dresdenpop. Die manne op die kampus het vuis geslaan oor haar, en ek was gevlei toe sy my gekies het. Seker my ma se kar wat ek geleen het wat die deurslag gegee het . . . Ná Salomé se koelbloedige verwerping was Imke soos ’n reënbui in die Karoo. Ek het saans as kelner gewerk om vir haar ’n verloofring te koop en wou so gou moontlik trou. Dalk om Salomé te wys ek is nie verleë nie, of dalk vir Barend, ek weet nie . . .” Hy draai terug na haar. “Verveel ek jou?” “Glad nie, ek het gevra omdat ek wil weet. Is julle getroud toe jy nog ’n student was?” “Nee, eers ’n paar jaar later.” Hy glimlag skewerig. “Ma se invloed. Beyers was toe al in die prentjie, en my ma het my gewaarsku ek loop dalk weer ’n bloutjie met ’n meisiekind wat my vir ’n ander man verruil. Ek moes na haar geluister het en nie getrou het nie. Eintlik is Beyers die ideale man vir Imke. Ek het haar
bederf en toegegee aan haar nukke en grille. Beyers het haar gehanteer soos ’n pa met ’n stout kind doen – haar kortgevat en gesê sy moet haar bog los en finaal besluit wat sy wil hê: wil sy by my in die Lodge bly, of by hom op die plaas.” “Waar was dit? Op Witrivier, by die landbouskou? Imke het my vertel.” “Ja. Jy weet wat verder gebeur het . . . Al was my ego weer op die ashoop, was ek innerlik verlig omdat dit die beste oplossing vir al drie van ons was. Ek het gedink die egskeiding sal alles regmaak – hulle twee kan uiteindelik tot trou kom en ek kan aangaan met my lewe. Jy kan jou indink hoekom ek nou die oggend in die wildtuin skoon oorhoeks was nadat sy gebel het om te sê sy het Beyers gelos, ons is nie geskei nie en sy is terug by Mlala. Ek was in ’n toestand van skok.” “Hoekom het sy Beyers gelos? Het iets spesifieks gebeur?” “Hulle het een of ander rusie gehad; ek het nie uitgevra waaroor nie. Ek probeer haar vermy, al kry ek dit nie altyd reg nie.” Cecilia is van vooraf ontstoke toe sy dink aan Imke se gedrag so pas. “Bókkie?” herhaal sy vies. “Dis ’n verspotte naam. Ek sou iets meer gepas uitgedink het.” “Soos wat?” “Moenie my in die versoeking stel nie . . . Ek sal onder sensuur geplaas word.” Onverwagte lagplooitjies kreukel langs sy ooghoeke. “Sien jy hoekom ek jou so graag wil hê, engel van my hart?” “Omdat jy vir my kan lag?” “Omdat ek jou liefhet. Omdat jy ’n man sy frustrasies laat vergeet.” Sonder om te dink, stoot hy ’n stoel uit die pad, steek sy arms uit en trek haar met een haal teen hom vas. Sy hande streel oor haar lyf en sy mond soek na hare. Albei skrik. ’n Oomblik lank staan hulle botstil, in die koestering van hul saamwees. ’n Siddering trek deur Cecilia. Sy is die een wat eerste tot verhaal kom en Melt wegstoot. “Ons mag nie.” Sy wonder of hy ooit sal weet wat hierdie weiering haar gekos het.
Hy laat haar onwillig gaan. Sy asemhaling is onreëlmatig en sy oë vol naakte emosie. “Engel-lief?” fluistervra hy. “Moenie!” roep Cecilia skor uit. “Moet my niks noem nie, moenie met my praat of in my kantoor kom nie. Want ek is te lief vir jou en ek kan jou nie weerstaan nie. Dís hoekom ek moet bedank: omdat ek swak is en myself nie vertrou nie.”
19
Cecilia vlug blindelings uit die raadsaal, verby die nuuskierige Heloise en in die hysbak in, sonder om veel te registreer. Dan deur die foyer en op pad voordeur toe . . . Maar daar steek sy verstom vas. Eers dink sy die stres laat haar yl, of dis haar verbeelding wat op hol is. Die prentjie is egter te helder om onwerklik te wees. Dis Steve wat daar staan, in sy uniform, in lewende lywe by die inligtingstoonbank, besig om met Sue te gesels. Net toe draai hy sy kop en sien haar. In die ou dae sou hy haar om die lyf beetgekry het en uitbundig in die rondte geswaai het. Nou huiwer hy, onseker van sy ontvangs. “Hallo, Steve,” groet sy, verbaas dat haar stem so normaal klink. Met drie lang treë is hy by haar, maar hy raak nie aan haar nie. “Ek weet jy het gesê jy wil my nooit weer sien nie, maar dit was in die hitte van die stryd. Daar is nog te veel dinge tussen ons om alles net so in die lug te laat hang.” Is sy bly om hom te sien? Cecilia weet nie. Sy is te tam om enige emosies te ervaar. Sy wens hy was nie hier nie, sodat sy na haar chalet kon gaan, in die bed kruip en die duvet oor haar kop trek. “Jy sê niks nie . . .?” aarsel hy. “Omdat daar niks meer ís om te sê nie. In my brief het ek alles gesê wat nodig was en verduidelik waarom ek weggaan.” “Dit was alles deel van die misverstand tussen ons.” “Oor Nadine? Sy het vir my geskryf om te verduidelik wat in Rome gebeur het.”
“Het sy?” Steve klink verbaas. “Sy het belowe sy sal, maar ek het nie gedink sy sal woord hou nie.” “Het jý haar gevra om te skryf?” vra Cecilia reguit. Steve knik. “Ons het ’n ooreenkoms aangegaan: Ek verswyg haar gedrag in my vlugverslag, en in ruil daarvoor stel sy die saak by jou reg. Glo jy nou dat ek onskuldig was?” “Ja, ek aanvaar haar verduideliking. Ek het verkeerd geoordeel,” erken sy. “Ek is jammer omdat ek jou gewantrou het, jy het beter verdien. Maar dit verander niks aan my gevoelens nie.” “Hoe bedoel jy?” “Ek wil nie trou nie en ek wil nie teruggaan Lugdiens toe nie. Ek het ’n nuwe lewe begin.” “Dis Vera se invloed. Net omdat sy nie van my hou nie, beteken nie jy moet toelaat dat sy jou breinspoel nie!” “My besluit het niks met Vera te doen nie. Ek kan vir myself dink.” “Dit lyk nie so nie,” verwyt hy. “Trourok, troukoek, trouring – alles gereed vir die groot okkasie, en op pad kansel toe vat jy die pad en los jou bruidegom net so.” ’n Hoofpyn begin teen haar slape klop. “Asseblief, Steve, moenie weer begin nie. Ek het gesê ek is jammer. Wat meer kan ek doen? Ek het nie die krag vir verwyte en rusies nie.” “Ek het nie gekom om rusie te maak nie.” “Wat ook al die rede is, dit maak nie saak nie. Ek weet ek klink koelbloedig, maar dit help nie om doekies om te draai nie. Ons verhouding is verby. Daar sal wel iemand oor jou pad kom wat jou sal liefhê soos jy verdien. Iemand beter as ek, wat jou sal waardeer.” Hy beskou haar met ’n bekommerde keep tussen sy wenkbroue. Doep het gesê sy lyk gelukkig, maar hy ken haar beter. Iets is fout.
“Ons het mekaar weke laas gesien . . . Groet jy my nie?” probeer hy ’n ander aanslag. “Ek het mos hallo gesê.” “Ek bedoel groet soos in régtig groet, asof jy dit bedoel. Só!” Voor sy besef wat hy beoog, stoot Steve haar agter een van die groot ornamentele palms in. Hy trek haar arms om sy middellyf en hou hulle agter sy rug vas, in ’n beweging wat haar gesig tot reg teen syne bring. Dan buig hy sy kop, pas sy mond oor hare en soen haar. Cecilia sit haar teë, maar sy het vergeet hoe sterk Steve is as hy wil hê wat hy wil hê. Uit die hoek van haar oog sien sy Sue deur die palmtakke loer en iets beduie. “Smelt!” vorm Sue se lippe die woord, terwyl sy met haar vinger iets wys. Cecilia weet dit lyk soos ’n vuurwarm omhelsing, maar Sue is laf as sy bedoel sy moet in Steve se arms smelt! Sy skaam haar vir hom. Wat moet die hotelgaste dink? ’n Skakelbeampte van ’n duur hotel wat nie weet hoe om haar in die openbaar te gedra nie . . . Steve se tong dwing ’n pad oop na die binnekant van haar mond, maar sy ruk haar kop weg. “Genugtig, Cilla, ek is nie ’n vreemdeling nie!” kla hy. “Jy weet mos nou daar het niks onbehoorliks tussen my en Nadine gebeur nie. Wat meer wil jy hê? Dat ek op my knieë vergifnis vra vir iets wat ek nie gedoen het nie?” “Net dat jy my sal los!” Hy is moedswillig. “Noudat ek jou weer gekry het, los ek jou nie so maklik nie.” “Die mense kyk vir ons!” “Wie gee om?” “Ek! Ek gaan my werk verloor!” “Gaaf, dan kan ons trou en dan sal ek vir jou sorg.”
“As jy nie ophou nie, roep ek die sekuriteitsmense om jou uit te gooi!” Sy klink ernstig. Steve kyk om hom rond en sien ’n paar hotelgaste wat na hulle staar. Hy kug en verslap sy greep om haar polse, terwyl hy verleë grinnik. “Ekskuus, skattebol, ek was seker bietjie oorentoesiasties . . .” Biétjie? Cecilia is lus en wurg hom met sy uniformdas. “Sal ek van vooraf begin en alles weer doen, ’n bietjie meer gematig?” stel hy voor. Die skril klank van haar selfoon red Cecilia van ’n antwoord. Sy wikkel haar hande los om te antwoord. “Wat de joos dink jy doen jy?” klink ’n woedende stem in haar oor. Dis Melt. Befoeterd, bekonkeld en op die oorlogspad. “Ekskuus?” vra sy, haar verstand nog nie behoorlik in rat nie. “Jy het goed gehoor wat ek gesê het! Die foyer is nie ’n slaapkamer nie. Wie is daardie donner wat nie sy hande kan tuishou nie en dink ’n vyfsterhotel is ’n plek om vroumense op te tel?” “My eks . . . Steve.” “Ek moes geraai het. Sê hy moet sy ry kry. As hy weer ’n vinger op jou lê, smyt ek hom persoonlik by die deur uit!” Steve knibbel aan haar oor en Cecilia stoot hom ergerlik weg. “Jammer, Melt, ek kan nie nou praat –” “Ek weet, en ek weet ook hoekom. Genugtig, dis die rede hoekom ek gebel het!” Cecilia skrik en kyk om, haar oë soekend deur die foyer. Melt staan tien treë weg, selfoon teen sy oor, langs een van die motorhuurtoonbanke. Naby genoeg dat sy kan sien hy lyk soos ’n donderstorm wat ’n plek soek om uit te sak. Hy het blykbaar agterna gekom netnou toe sy so ontsteld uit die raadsaal gestorm het. Hoe lank staan hy al daar? wonder sy selfbewus. Lank genoeg om
te sien toe Steve haar agter die palm beetgekry het? Haar breinselle begin stadigaan weer funksioneer. Natuurlik, ja, en dis die rede waarom hy so kwaad is. Dís wat Sue bedoel het toe sy so woes beduie het. Dit was nie “smelt” nie, dit was “Melt”! “Wie was dit?” vra Steve toe sy die foon verskrik toeklap. Sy tree agter die palm uit. “My baas.” “Die een met die slap Merc?” Steve is ook lus vir ’n konfrontasie. “Die bliksem wat in my agterplaas plak?” “Hy plak nie.” “Dis nie wat Doep dink nie.” Cecilia ken Steve se vinnige humeur. Die laaste ding wat sy wil hê, is ’n onderonsie tussen hom en Melt. “Kaptein Doep het ’n los mond. En wat weet hy immers van my sake? Vergeet hom. Kom ons gaan drink koffie, êrens waar ons behoorlik kan gesels.” “Later . . . Waar is daardie plakker? Ek sal hom regsien!” “Los dit, Steve! Jy het genoeg skade gedoen.” “Waar’s hy?” “Ver weg, op Middelburg.” “Middelburg? Wat soek hy daar?” Steve glo haar nie, maar Cecilia gee hom nie kans om teë te praat nie. Sy pluk hom hardhandig in die rigting van die kafeteria. Met die wegstap kyk sy om en maak agter Steve se rug vir Melt verontskuldigende gebare om hom te paai. Maar Melt se bui het nog lank nie gesak nie. In antwoord op haar gebare gee hy met ’n grimmige gesig raad: trek met sy vinger ’n lyn dwars oor sy keel. Cecilia sleep Steve om die hoek. “Hoekom het jy jou uniform aan?” vra sy om
sy aandag af te lei. “Is jy op die hiphop-Kaapvlug? Moes julle nie al vertrek het nie?” “Ek vlieg eers vanaand, Frankfurt toe, maar daar sal nie later kans wees om ander klere aan te trek nie.” Steve laat toe dat sy hom by die kafeteria inboender en na ’n hoektafel rangeer. Nadat sy twee koffies bestel het, sê hy: “Sue Bernard het my gister gebel. Sy’t gesê jy het ’n tydjie terug vir haar en haar kêrel Cupido gespeel en nou wil sy dieselfde guns vir jou doen. Jou hart is gebreek en ek moet met jou kom opmaak. Ek het sommer op ’n Jakaranda-vlug ’n sitplek gebedel, heen en weer. Dit gee my drie ure om jou te troos, op te maak en ’n nuwe troue te reël. Stywe agenda, dis hoekom ek vroegtydig met die voorbereiding begin het.” Dekselse Sue! dink Cecilia vies. Sy het goed bedoel, maar die kat in die duiwehok losgelaat. Steve en Melt is al twee moeilik – nie een van hulle aard na die sagmoedige, inskiklike Garth nie. “Sue het die situasie verkeerd geoordeel en vir jou ’n onnodige klomp moeite veroorsaak. Ek het dit duidelik gemaak dis verby tussen jou en my.” Hy lyk gegrief. “Ek weier om te aanvaar jy offer alles op wat tussen ons was – en dit net oor een enkele misverstand.” Sy kyk hom vas in die oë. “Dit was nie net die een nie, Steve, en jy weet dit. Jy was by een of twee ander insidente ook betrokke, waaroor daar nooit uitsluitsel was nie. Dié dat ek altyd bietjie skepties en agterdogtig was . . . Onthou jy daardie aand toe die Porsche kamma enjinmoeilikheid gehad het en jy in Durban moes oorslaap? En die keer toe daardie kelnerin jou gekonfronteer het?” “Los die ou koeie in die slote,” grom hy. “Goed,” gee sy toe. “Ek is bereid om te aanvaar dit was elke keer ’n misverstand, omstandigheidsgetuienis, selfs dat ek jaloers en besitlik was. Ek neem die blaam op my. Maar intussen het ek aanbeweeg. Grootgeword. ’n Nuwe begin gemaak. Ek wil nie die drade las waar hulle laas gebreek het nie.” Toe hy haar hand wil neem, trek Cecilia dit weg. Sy besluit eerlikheid sal in hierdie geval die genadigste wees. Steve was in elk geval nooit iemand wat ’n laag watte nodig gehad het nie.
“Toe jy my netnou vasgehou en gesoen het, het dit niks in my geroer nie. Destyds sou dit vuurwerke aangesteek het; nou was daar niks, nie eens ’n verdwaalde, nat klapper nie. Miskien het Sue ons indirek tog ’n guns bewys, in dié opsig dat my laaste stukkie twyfel nou uit die weg geruim is. Jy is ’n fantastiese ou, Steve, en ek wil nie met jou mors nie. Daarom sal dit ’n fout wees as ons sou trou, want dit sal nie werk nie.” Sy het gedink Steve gaan teenoor haar uitvaar of haar weer verwyt. Maar ook hý het die afgelope tyd ouer en wyser geword. Hy skeur twee suikerpakkies oop, gooi dit in sy koffie en roer afgetrokke. Dan neem hy ’n stadige sluk en terwyl hy haar oor die rand van die koppie dophou, vra hy: “Is daar iemand anders, Cilla?” Sy laat haar kop sak. “Ja.” “Jou baas?” “Dis ’n lang storie . . . Miskien is hy nie meer lank my baas nie. Dalk bedank ek. Ek weet nie . . .” “Wil jy my die lang storie vertel?” “Nee.” “Hoekom nie?” “Dis ’n seer storie.” “Met ’n gelukkige einde?” Sy skud haar kop. “Hy is getroud.” Hierdie keer laat sy toe dat hy haar hand ’n druk gee. Steve tel die teelepel op en trek daarmee patroontjies op die tafeldoek. Ná ’n lang stilte frommel hy die twee leë suikerpakkies op en stoot sy koppie weg, asof hy tot ’n besluit gekom het. “Nou ja . . . Wat bly oor?” Hy kry ’n onderstebo glimlag reg, maar sy oë is leeg. “Ek wou die meisie van
my drome vra om te trou, maar voor ek kon vra, het sy gesê daar is ’n ander man, al is hy getroud. Dan bly daar eintlik niks meer oor nie, behalwe om my baadjie te vat en te loop.” Hy sê nie tot siens of gee haar ’n handdruk of so iets soos Cecilia verwag het nie. Hy kyk nie weer na haar nie, stoot net sy stoel terug en stap uit. Sy wens sy kon agter hom aanhardloop en sê alles sal regkom, dit sal weer wees soos voorheen . . . Sy wag tot sy Steve nie meer kan sien nie, dan kies sy koers in die teenoorgestelde rigting – deur die glasdeure en uit oor die patio. Die klippaadjie lei verby die swembad, en haar moed sak in haar skoene toe sy weer vir Imke daar sien, in haar ligpienk bikini op een van die strekstoele. Gelukkig is daar hierdie keer ’n man by haar, met wie sy opgewonde giggel en gesels. Met ’n bietjie geluk kan Cecilia ongesiens verbyglip na haar chalet toe. Haar hoop beskaam. Imke sien haar van ver af, spring op en wink haar dringend nader. Sy het nie ’n keuse nie en gaan skoorvoetend nader. Een ligpunt darem is dat Imke nie bo in die kamer wag om Melt te verlei nie . . . Sy wonder oor die man by Imke, met wie sy klaarblyklik op goeie voet is. Interessante, sterk gesig. Bruin gebrand en op die oog af die buitelugtipe, maar hy het blykbaar nie gekom om te swem nie, want hy het ’n langbroek en hemp aan. Seker een van die gholfspelers . . . “Maak vas jou sitplekgordel!” waarsku Imke haar met ’n stralende glimlag wat haar oë laat vonkel en diep kuiltjies in haar wange laat keep. Cecilia sluk aan die knop in haar keel en probeer geïnteresseerd lyk. Imke geniet die afwagting en rek die oomblik uit, terwyl sy van Cecilia na haar metgesel kyk. “Laat ek jou voorstel: dis Beyers. Hy het die hele ent pad van die plaas af gery om my te kom haal. Ons is weer bymekaar, hierdie keer vir altyd!” Cecilia gaan sit op die naaste stoel. Sy kan nie praat nie, te bang om te roer, om te gou bly te word. “En dis Cecilia, die skakelbeampte,” las Imke by. Beyers se handdruk is stewig. “Melt se meisie?”
Cecilia is ongemaklik en sê steeds niks. Dis asof Beyers haar ongemak aanvoel. Sy stem is gerusstellend. “Dinge gaan van nou af verander. Hoog tyd! Soos ek vir Dingetjie hierso gesê het: Tot hiertoe en nie verder nie; ek het genoeg strooi opgeëet. Jare al . . . Dis nou reg of weg, skei of bly. Ek het nie tyd om klimtol te speel en agter haar wispelturigheid aan te flenter nie. Die plaas verwaarloos, die henne lê nie, die kalwers suip uit en die hanslam blêr blou moord.” Hy klink kwaai, maar toe hy na Imke kyk, is sy oë sag. “Dis tyd dat hulle ma huis toe kom . . . Al die nodige vorms vir die skeisaak is ingevul en lê in ’n laai, dis net ’n geval van opnuut die saak by die hof indien. As ons gelukkig is en die hofrol is nie te vol nie, kan ons binne twee maande bruilof hou op die plaas. Jy en Melt is ook genooi. As julle gou speel, maak ons dit ’n dubbele bruilof. Reg so, Dingetjie?” “Reg so, my lam,” beaam Imke gehoorsaam. “Hoog tyd dat jy van my ’n eerbare vrou maak.” Cecilia knip haar oë om die trane te keer. Hierdie keer is dit trane oor Imke. Imke wat aan die einde van haar reënboog ’n nuwe rots gevind het . . . “Weet Melt?” vra sy. Imke skud haar kop. “Nog nie. Toe ek hom netnou gebel het, was hy in so ’n aaklige bui dat hy nie met my wou praat nie. Beyers het hom gaan soek, maar hy is nêrens nie. Seker weer die pad gevat Barberton toe, om van my af weg te kom.” “Hy was netnou in die foyer.” “Ja, so het die een klerk ook gesê. Dis blykbaar waar hy in so ’n maak-of-breekbui geraak het – nugter weet waaroor.” “Ek sal hom netnou weer gaan soek en die goeie nuus meedeel,” belowe Beyers. “Sal ek intussen vir ons sjampanje en kaviaar bestel? Net die beste, want ons het baie om te vier!” “Júlle, nie ek nie.” Cecilia wring haar hande saam. “Ek dink ek weet wat Melt wou maak of breek – my nék, onder meer. Hy was só kwaad, ek weet nie eens of
ek nog ’n werk het nie. Barberton toe, sê jy? Ek beter ry en hom gaan soek om te verduidelik en te probeer vure doodslaan.” Steve was meer as net oorentoesiasties, onthou sy op pad chalet toe om haar motorsleutels te kry. Sy kan dink hoe dit moes gelyk het . . . Geen wonder Melt het haar beskuldig dat sy ’n vrykamer van die foyer maak nie. Sy kan hom nie blameer as hy die verkeerde indruk gekry en aanvaar het dat sy en Steve versoen is nie. Maar Barberton is ver . . . Sy kan nie sommer daarheen ry sonder om seker te maak waar hy is nie. Sy is nie dapper genoeg om hom op sy blieper of selfoon te soek nie; die maklikste is om by ontvangs te gaan uitvind. Toe sy verby die motorhuurtoonbank loop, sien sy vir Steve daar staan – pet so half skuins oor die regteroog afgetrek, kop effe skeef, en daardie kom-vat-my-asjy-wil-uitdrukking op sy gesig terwyl hy vir die meisie agter die toonbank glimlag. Sy glimlag net té sjarmant, té intiem en vol beloftes . . . Cecilia ken daardie kyk. As sy nie so bekommerd oor Melt was nie, het sy hardop gelag. En dít terwyl Steve pas tevore so gebroke en verslae was. Tipies, dink sy. ’n Sebra bly ’n sebra . . . En sy strepe sal nie verander nie.
20
Daar is die een oponthoud ná die ander – vermiste bagasie, versoeke vir gholfstokke en dubbelbesprekings – sodat dit lank neem voor Cecilia uiteindelik kan wegkom na haar chalet. Sy sug moedeloos toe sy van ver af iemand op die trap by haar voordeur sien sit. Op hierdie tydstip het sy min geduld met vitterige gaste en gholfspelers wat dink hulle het haar saam met die hotel gekoop. Sy stap eers stadiger en dan, toe sy die breë skouers en goudblink hare herken, al vinniger. Die laaste entjie draf sy sommer. “Hallo!” groet sy uitasem. Hy het nog lank nie afgekoel nie. Hy knik en staan beleefd op, verder is sy gesig stroef en ontoegeeflik. “Ontvangs het gesê jy is nie Barberton toe nie,” adem sy verlig. “Nee.” “Kom jy koffie drink?” “Nee.” “Of . . . e . . . sjampanje?” waag sy dit. Dalk het Beyers hom intussen opgespoor en hul blye nuus meegedeel. “Waarvoor? ’n Heildronk op die troue?” Wie se troue bedoel hy? Cecilia vra liewer nie. Sy sluit oop, en is dankbaar toe Melt haar darem tot in die sitkamer volg. Hulle gaan sit in die twee verste hoeke van die sitkamerbank.
“Het Imke jou weer probeer bel?” vis sy uit. “Nee, Beyers het.” “Was jy toe al in ’n . . . beter bui?” “Nee.” Sy wag, en toe hy nie uitbrei nie, por sy hom aan: “Dus weet jy dat hy Imke kom haal het? Dat sy wil skei en met hom trou?” Melt trek sy skouers op asof dit nie van belang is nie. “Ek het geweet hy kom vandag of môre, afhangend van die bees-entstof waarvoor hy gewag het. Ek het hom gister gebel en gesê dis hoog tyd dat hy ophou hanna-hanna en sy aanstaande vrou kom haal, sodat myne haar plek kan inneem.” Hy het dit so luiters gesê, Cecilia weet nie of sy reg gehoor het nie. Sy staar na hom, maar sy gesig is geslote. “Het jy Beyers gevrá om te kom?” herhaal sy. “Ja, nadat ek en Imke lank gepraat en uiteindelik die kwessie uitgepluis het.” Hy draai dwars, sy lyftaal strak en kil. “Dís wat ek bedoel het, Cecilia, toe ek mooi gevra het jy moet geduldig wees, ek is nie so slap en ruggraatloos soos jy dink nie – ek sal ’n uitweg vind, al duur dit ’n tydjie. Maar jy wou nie, want jy het my nie vertrou nie. Of nie geglo nie. Of nie lief genoeg gehad soos jy kamma voorgegee het nie. Toe dinge te stadig na jou sin vorder, het jy ongeduldig geraak en besluit ek is nie die moeite werd om voor te wag nie – Blink Stefaans is ’n beter proposisie.” Sy stem is koud en beskuldigend. “Wanneer het jy besluit om jou aanstaande te ontbied?” “Wie?” kry sy dit floutjies uit. Hy ignoreer haar vraag. “Gisteraand? Of vanoggend ná die dagbestuurvergadering?” Cecilia skud heftig haar kop. “Praat jy van Steve? Hy is nie my aanstaande nie, en ek het hom nie ontbied nie. Hy wou hoeveel keer kom kuier en ek het elke keer nee gesê, ons verhouding is verby en ek wil hom nie sien nie.” Melt gee ’n minagtende snork. “Wat het hy dan hier kom maak?”
“Sue het hom gebel – sy het dit goed bedoel. Ek was in so ’n toestand oor jou en Imke, sy het gehoop Steve sal kan help om die stukke op te tel.” “Is dít wat mens dit deesdae noem: om die stukke op te tel?” vra hy sarkasties. “Was dit wat hy besig was om daar agter die palmboom te doen?” “Nee.” ’n Blos vlam oor haar wange. “Dit het as ’n groet begin, wat handuit geruk het. Steve was seergemaak en toe raak hy moedswillig. Dankie dat jy gebel het en my uit ’n onsmaaklike situasie gered het.” “Ek dag jy was teleurgesteld omdat ek die amoreuse reünie onderbreek het. As sy attensies dan so onwelkom was, hoekom het jy gesê jy kan nie nou met my praat nie en die foon doodgedruk?” “Omdat ek albei hande nodig gehad het om beide my goeie naam en jou hotel s’n te red.” Sy lyftaal verslap en ’n vlugtige glimlag pluk aan sy mondhoek. Maar toe Cecilia weer kyk, is dit weg. Een klein treetjie in die regte rigting, dink sy, maar nog ’n opdraande pad wat voorlê. Hoe kry ’n meisie ’n man weer goed as sy verbrou het en hy haar wil opkerf en vir die leeus voer? Sonder hulpmiddels soos parfuum, oesters en maskara . . . Onder die dekmantel dat sy ’n stukkie droë gras van die vloer af optel, skuif sy ongemerk ’n entjie na die middel van die bank toe, vies vir Melt omdat hy dit nie vir haar makliker maak nie. Hy sit soos ’n sfinks en staar deur die venster asof die wolke en die blou lug daar buite belangriker is. Maar hy het darem nie verder weggeskuif nie, en dis ’n bemoedigende teken. Sy laat haar arm ongeërg op die rugleuning rus. Toe haar vingerpunte asof per ongeluk aan sy rug raak, is dit soos ’n duisend speldeprikke wat tintelend deur haar bruis. Haar hart werk oortyd en sy kry tegelyk koud en warm. Sy loer deur haar wimpers na hom, maar dit lyk asof hy nie van haar aanraking bewus is nie. Sy skuif stadig nog ’n paar sentimeter nader, strek haar vingerpunte ’n entjie verder . . . Melt draai sy kop en kyk na haar. Nou het sy darem nie meer kompetisie van die wolke en die blou lug nie, dink Cecilia hoopvol. Sy raak aan sy skouer, dan voelvoel aan sy nek. Baie liggies en eksperimenteel . . . Hy reageer nie, maar ruk ook nie weg nie.
Sy vroetel ’n vingerpunt onder sy hempskraag in en trek haar nael liggies op en af oor sy nekwerwels. Met haar ander hand maak sy sy das stadig los en masseer sy nek, wat soos ’n styfgespanne snaar is; vryf oor sy kakebeen en boontoe oor sy mond wat effe oop is. Haar duim vee talmend oor sy onderlip, heen en weer, totdat sy die klammigheid binne-in sy mond voel. Dan leun sy nader en volg die liefkosing op met haar lippe. Melt maak sy oë toe en sit doodstil. Net die pols wat onstuimig in sy nek klop en die rukkerige versnelling van sy asemhaling verraai dat hy intens bewus is van wat sy doen. Sy ervaar ’n onkeerbare drang om onder sy arm in te kruip, teen hom te nestel en sy lyf bo-oor hare te trek. Toe sy haar arms om hom sit, gaan Melt se oë oop. Sy pupille is effens verwyd en die irisse donkerbruin, met goue vlekkies daarin, soos ’n bergpoel. Sonder om te praat leun hy skuins na haar kant toe en plaas sy hande weerskante van haar gesig. Dan trek hy haar kop nader en soen haar. Eers ondersoekend en vraend, asof hy haar nie meer ken nie . . . Toe haar lyf uitreik en hom die antwoord gee wat hy gevra het, soen hy haar met ’n dieper drif, ’n hartstog en dringendheid wat in Cecilia ontplof en na haar hele wese versprei om haar ademloos te laat. Sy arms omsirkel haar middel en hy tel haar op sy skoot, sodat sy teen sy skouer lê. Sy hande troetel haar borste wat teen haar bloes aandu en skulp hulle teenmekaar, terwyl sy vingers die warm gleufie tussen die twee rondings verken. Sy tong soek dieper na hare en hy maak vir haar plek om plat op die bank te kan lê. Sy is vaagweg bewus daarvan dat Melt van posisie verander en ’n kussing onder haar kop instoot. Sy voel die leerbekleedsel van die bank onder sy gewig meegee, voel sy heup en sy bobeen teen hare toe die volle lengte van sy lyf oor hare skuif. Haar vingers is dom in hul haas om sy hempsknope los te maak, om aan sy kaal vel te vat en te voel en te streel soos sy van daardie eerste Sondag af begeer het. Melt is haastiger as sy. Toe hy nie gou genoeg haar bloes kan oopknoop nie, pluk hy die onderpunte uit haar romp se band en skil dit in een beweging oor haar kop. Sy sien uit die hoek van haar oog hoe die bloes in ’n bondel op die koffietafel beland, gevolg deur Melt se hemp. Dan haar swart romp agterna. Hoe hy dit so behendig afgestroop gekry het, weet sy nie.
Nog stukke klere land op die vloer, en haar een skoen. Cecilia steek haar arms uit en vleg haar vingers agterom sy nek. Sy lig haar onderlyf op na syne en versmelt in die heerlikheid van sy reuk en gevoel en smaak. Daarna weet sy van niks verder nie, net sy asem wat hygend in haar ore jaag en dat hy haar naam uitkreun. Dan word hy deel van haar – en dis hemels . . . Gister maak nie meer saak nie, dink sy verruk, sy het ook haar rots en haar reënboog en haar man vir môre gevind.
Winterman, somerhart
1
“Vergeet nou net vir ’n oomblik jy is ’n model en laat waai!” skree Chris Naudé tergerig. Donna Joubert gooi vinnig haar kastaiingbruin hare oor haar skouer en kyk waarderend terug oor die winkelhaakstrand van die Seychelle se Mahé-eiland. Op dié eertydse eiland van seerowers en seilskepe, net suid van die ewenaar, lyk Chris op sy appelgrys perd met sy kaal, blinkbruin bolyf na ’n romantiese figuur uit die verlede. Sy wys met haar perd se teuels na die kamera om sy nek. “Vergeet jy dan jy is ’n fotograaf, dié fotograaf van die belangrikste sporttydskrif in die land!” Hy probeer haar inhaal oor die spierwit koraalstrand. Hulle is binne sekondes deurdrenk met warm druppels reën – dalk ’n teken van ’n sikloon wat eersdaags oor die Tuin van Eden in die Seychelle-eilande sal woed wanneer die windseisoene verander? Die swaar, aromatiese reuk van kaneelbome hang in die lug – ’n somersoet reuk soos ’n tuin vol angeliere. Die reëndruppels lê soos blink juwele teen Donna se vel en laat haar dun katoenhemp soos ’n tweede vel aan haar kurwes kleef. Daarvan het sy genoeg; sy is nie verniet een van die modelle wat vanjaar gekies is vir die tydskrif Sport SA se swemdraguitgawe nie. Dalk nog die voorbleisie ook. Selfs vir ’n model troon Donna lengtegewys bo ander vroue uit. Dit op sigself maak haar dié meisie wat jy raaksien wanneer jy ’n vertrek binnestap. Voeg daarby haar skouerlengte kroon van krullerige ligbruin hare, fynbesnede gelaatstrekke en kaneelbruin oë, en dis duidelik hoekom sy al van haar sestiende verjaarsdag af ’n modelsensasie genoem word. As ’n voormalige lewensredder en waterskiër het sy sterk, gespierde bene. Haar skouers is effe breed – soos dié van ’n swemmer – en haar heupe is smal, die ideale afmetings vir ’n loopplankmodel.
Dis juis haar lyf waarop Chris konsentreer toe die perde stadiger loop terwyl wit seeswaels rondom hulle duikel op die moesonwind. “Dís nou hoe ’n tweestuk moet sit! Jy gaan beslis die mooiste vrou wees wat ek nog op ’n perd se rug gekliek het. Dis nou as ek my sin kan kry.” Hy sug onwillekeurig. “Waarom is skoonheid tog vir my so ’n totale verleiding, selfs ’n obsessie? Hoekom is ek nie die soort ou wat vir persoonlikheid of status of geld val nie? Nou is dit een kyk na jou en jy het my in die palm van jou gemanikuurde hand . . .” Donna glimlag skalks. Sy het lankal geleer om fotograwe se mooiweerspraatjies te ignoreer. Enige model, loopplank of fotografies, is die teiken daarvan voor of tydens ’n fotosessie. Hulle noem dit om ’n rapport met die model te vestig, ’n tegniek om haar in die regte bui te plaas. Sy weet nie of dit dalk nog meer van toeing is in die geval van swemdragmodelle nie. Sy kan haar indink dit verg nog veel meer selfvertroue as gewoonlik om so skamel geklee voor die kameras te verskyn. Komplimente tydens die fotosessie is dus ekstra welkom. “Toe maar, dis net jy wat voor my en die res van die meisies sal swig. Ek hoor as dit van Simon Conradie afhang, word al die modelle vir Sport SA se swemdraguitgawe uit een patroon gesny: die spreekwoordelike blondine, neutbruin gebrand, met hemelblou kykers en ’n figuur soos ’n Barbie-pop. So voorspelbaar. Kyk maar net hoe lyk die voorblad van Sport SA se swemdraguitgawe elke jaar. Ek hoor dit is en bly Simon se prerogatief om die voorbleisie te kies. Maar ek dink dis tyd dat iemand die patroon verbreek.” Sy glimlag asof sy ’n geheim bewaar en laat haar oë glip na waar koraalrooi flambojante teen die skitterblou lug uitstaan. Wat ’n paradys . . . net jammer daar is ’n slang in die smaraggroen gras, en sy naam is Simon Conradie. Chris kyk agterdogtig na haar. “Weet jy dalk iets wat ek nie weet nie? Dit wás nogal vir my vreemd om jou hier aan te tref . . . Want jy’s reg, Simon Conradie hou van sy voorbleisies blond. Ek ken hom darem nie van gister af nie. Sy meisies in die regte lewe is ook baie blond, ekstra mooi en altyd in die kollig. Hy onthaal hulle rojaal in sy dakwoonstel in Kampsbaai – net soos wat die res van die Kaap se elite-oujongkêrels dit doen. Of altans, so sê die bostelegraaf.” Donna sê liewer niks. Sy geniet die kaleidoskoop van kleur en geur om haar en
trek aan die batikversierde sarong wat sy vroeër gekoop het om oor haar bikini te dra. Sy het haar hare uit haar gesig weggesteek met twee skilpaddopkamme – ook produkte van die handwerkkunstenaars op hierdie verlate eiland in die tropiese son. Chris kyk skerp na haar. “Ken jy vir Simon? Ek kan byna nie dink dat julle paadjies al sou gekruis het nie . . . sy hele lewe draai mos om sport. Toe, uit daarmee, ek kan sien jy bars om my te vertel.” Donna kyk uit die hoek van haar oog na hom en neem haar tyd om hom van kroontjie tot toontjie te beskou. Die laaste twee dae het sy oorbewus geword van hom as ’n man eerder as ’n fotograaf. Chris het die tipiese Latynse voorkoms, met hartstogtelike donkerblou oë en ’n voortvarende blik daarin. Maar sy ken hom té goed om opgewonde te raak oor die fladdering op haar maag toe hy haar blik onderskep en met ’n betekenisvolle glimlag vir haar knipoog. Hy is te doodseker van sy uitwerking op vroue wanneer hy sy T-hemp uittrek. Sy sal maar haar ysprinseshouding moet uithaal. Sjarmante rokjagters soos Chris moet ’n mens altyd op ’n afstand hou. Hulle is selfsugtig oor hul eie geluk. Vir hulle is daar net pret in ’n verhouding as hulle jagter-jagter kan speel. Met ’n bokkie in die wip raak hulle gou verveeld, Chris Naudé nog meer as ander. Hy is ’n wêreldwyse en lewenservare lensfilosoof. Ná sy jare as wildbewaarder en toe as vooraanstaande natuurlewefotograaf, het hy naam gemaak met modefotografie. Hy is al jare lank dié fotograaf vir Sport SA se swemdraguitgawe. Eiewys en altyd oop vir nuwe dinge: dis hoe ’n mens hom kan opsom. Half kaal hier langs haar, reik hy nou met sy arms in die lug, die teuels rus losweg op sy perd se rug. Sy gewoonlik ondersoekende blou oë is toe terwyl hy die sagte reën in warm strale oor hom laat syfer. Presies hoekom sy nou so oorbewus van Chris is, weet Donna nie, maar sy wonder skielik daaroor. Dit het begin toe hulle op die vliegtuig na die Seychelle geklim het; sy het hom dadelik raakgesien, opnuut besef hoe aantreklik hy is. Sy het uitgesien om weer Kreoolse geregte en yskoue vrugtedrankies te drink soos tydens haar vorige besoek. En om heerlik sportief te wees: te skermsweef en op die waterpedallo’s te ry. Maar sy weet nie of daar veel kans daarvoor gaan
wees nie. Chris is ’n moordende werkgewer, het sy al tydens vorige fotosessies ervaar. En Simon Conradie is ’n redakteur met ’n missie: om sy sporttydskrif die manstydskrif met die hoogste sirkulasie in Suid-Afrika te maak. Sy het gou agtergekom dat Chris altyd so effe eenkant van die groep modelle, stiliste, haarkappers en grimeerkunstenaars is. Dit het haar nogal geboei, alhoewel sy nie by hom aangesluit het nie. Sy swem self nie saam met die in-klomp nie. Maar sy het haar eenkant gehou omdat sy meesal oorsee werk en nie eintlik op hoogte is van wat in die SuidAfrikaanse model- en tydskrifwêreld aangaan nie. Hierdie opdrag vir Sport SA het heeltemal uit die bloute gekom. Daar is iets aan Chris wat jou dadelik as ’n vrou roer. Miskien is dit sy rusteloosheid, die manier waarop sy skerp blik eers op die horison en dan intens op jou rus. Daar is ook die kleur van sy oë: ’n ongewone, skerp blou teen sy swart krulhare, en daarby gevoelvoller as wat mans se oë gewoonlik is. Normaalweg kon sy Chris se ondersoekende blik met ’n professionele blik van haar eie beantwoord. Sy ken fotograwe – ’n engeltjie onder hulle moet sy nog teëkom. Selfs onder die getroudes is daar ’n paar wat maar liewers ringloos in die bedryf moes gewees het. Maar Chris is anders. Op ’n goeie manier. “As jy jou nou klaar aan my verkyk het,” spot hy, “sal ek graag jou geheim wil hoor.” Donna bloos effe omdat sy onkant betrap is. “Met hierdie geheim gaan ek graf toe, anders is my reputasie vir ewig daarmee heen,” glimlag sy. “En jy sal jou wat verbeel dat ek my aan jou verkyk. Ek kom nou net van Milaan af, en jy weet wat sê hulle van die Italiaanse mans. Kom help my liewer afklim!” Sy bring haar perd tot stilstand en verlang eensklaps na Sachen, haar swart hings op hul wynplaas in die Boland. En sommer skielik na haar ma, Ellen, en haar pa, Paul. Haar ouers is sout-van-die-aarde-mense. Ma Ellen is ’n spesiale vriendin meer as ’n ma, die stylvolle vrou van ’n wynboer. As Donna aan haar dink, dink sy aan ’n roos in die oggendson. En natuurlik, aan al hul winkelekspedisies, want sy en
haar ma is mal oor skoen-inkopies. Pa Paul kan dit nie verstaan nie; sy natuurlike habitat is die wingerd. Winkelsentrums vermy hy soos die pes. Nie dat die fyner dinge in die lewe by hom verbygaan nie. Hy het altyd ’n outydse sêding of twee gereed wat jou bybly. Beproefde ou boerewyshede . . . Maar soos jare en jare van reis en ’n lewe op die loopplanke van die wêreld haar geleer het, trek Donna haar gedagtes doelbewus terug na werk. Na hierdie koraaleiland, die fotosessie wat voorlê en Chris. Dis ook iets wat hom anders maak: sy ken nie nog ’n fotograaf wat kan perdry nie. Chris glip van sy perd af en stap kaalvoet oor die sand, fyn soos spookasem, na haar. Hy strek sy hande uit en swaai haar gemaklik van die perd se rug af. “Erken dit nou maar: jy is uitgevang,” sê hy laggend. “Jy was besig om my intens te bestudeer. Ek dink nie Italiaanse mans is jou voorkeur nie, eerder Boerseuns soos ek.” “Wat insinueer jy?” vra sy toe hy haar nie los die oomblik toe haar voete die sand raak nie. Hy kyk na haar met ’n onpeilbare emosie in sy oë en draai dan skielik sy kop weg sodat sy net sy profiel kan sien. Hy trek haar vir ’n oomblik nader aan hom, sy hand op haar skouer. Sy reik uit daarna en hou dit vir ’n oomblik teen haar wang. “Donna . . . ek kon jou nog nie uit my gedagtes kry ná daardie dag op Welgevonden nie,” mompel hy asof hy nie weet wat hy wil óf mag sê nie. Sy stemtoon laat haar haar oë vir ’n oomblik toemaak. Vergete is die sand onder hulle voete en die warm seën van die reën wat oor hulle stroom terwyl hulle woordeloos in ’n halwe omhelsing staan. Selfs die geproes van die perde raak net agtergrondgeluide. Sy voel hoe ’n warmte oor haar vel kruip van waar sy hand onderdeur haar hare na die sagte plekkie agterin haar nek geskuif het. Te veel gedagtes, te veel emosies oorstroom haar. Ook bittersoet herinneringe aan hul vorige ontmoeting. Soos speldeprikkies het sy dié gedagtes ook so af en toe ervaar, maar dit heftig ontken. Chris is immers ’n gesogte fotograaf en ’n bekende vroueverleier. Dit sal nie help dat sy enige verwagtinge koester nie.
Toe hy sy kop oorbuig om haar te soen, lig sy hare op en vir ’n oomblik raak haar lippe aan syne. Dit verander in ’n teer oopmondsoen. Sag soos somerreën. “Met jou in my lewe . . .” prewel hy teen haar lippe. Maar voordat Donna haar kan oorgee aan die verruklike sensasie van haar lyf wat reageer op Chris se oorrompelende nabyheid, kyk hy oor haar skouer en laat haar stadig los. Hy tree effe terug en neem sy perd weer aan die teuels. Donna draai om en kyk strand-af na waarheen sy blik verskuif het. ’n Entjie van hulle af kom Simon Conradie, redakteur van Sport SA, kop onderstebo aangestap asof hy nie hul omhelsing gewaar het nie. Toe hy by hulle kom, steek hy sy hand uit om Chris te groet, en hulle klap mekaar op die skouers soos wat mans nou maar eenmaal doen. Duidelik ou bekendes. Simon se blik verskuif na Donna. Daar is vir ’n oomblik ’n ongemaklike stilte. “O, ek dog julle ken mekaar,” sê Chris toe hy skielik kliek hulle bekyk mekaar net op en af. “Simon, dit is Donna Joubert. Donna, Simon, Sport SA se redakteur.” Simon bekyk haar met sy kop skuins gehou voordat hy berekenend sy donkerbril met al twee hande afhaal en opvou om in sy sak te plaas. As sy alles moet glo wat sy van hom gehoor het, het dié idilliese eiland pas ’n deel van sy bekoring verloor, dink Donna. Sy oë glip oor haar reënnat lyf, maar net vlugtig. In sy vyf jaar as Sport SA se redakteur het Simon die allermooistes – bekendes, beroemdes en supermodelle – sien kom en gaan vir die tydskrif se swemdraguitgawe. Hy kan hulle in ’n oogwink opsom. Skoonheid is vir hom ’n kommersiële bate wat hom help om tydskrifte te verkoop en sy tydskrif se sirkulasie te verhoog. Hy is skepties en sinies oor beeldskone vroue, al word hy hoe gereeld saam met hulle gesien op die sosiale bladsye van koerante en tydskrifte. Maar in die enkele oomblik wat sy oë op Donna gerus het, het hy tot sy verbasing nie die bekende en goedbesoldigde internasionale model gesien nie,
maar net ’n pragtige, onopgesmukte langbeenmeisiekind in die ligte reën, met onversorgde nat krulhare en ’n vlekkelose gelaat sonder enige grimering. Haar nat sarong kleef teen haar bene aan sodat elke kurwe oorbeklemtoon uitstaan teen die grou lug. Hy wens sy wil vir ’n oomblik reguit na hom kyk, maar sy is te besig om haar perd nader te trek, ’n sagte uitdrukking op haar gesig. Duidelik ’n diereliefhebber. Haar smal hand met die dun pols rus liefdevol teen die perd se fluweelsagte nek terwyl haar kop teen hom aanleun. Dan kyk sy wel op, met ’n blik in haar bruin oë wat Simon sy asem laat intrek. Dis ’n blik van verwondering oor die reënboog wat skielik, toe die son uitgekom het, sierlik op die horison verskyn het. Daarvandaan sak haar blik stadig na hom, maar sy kyk net skalks na hom. Sy lig haar wenkbroue ’n fraksie voordat sy wegkyk. Al twee is oorbewus van die vonk wat vir ’n oomblik tussen hulle was toe hulle oogkontak gemaak het. As jou hart al ooit gebreek was, sal jy dit verstaan, meneer die redakteur, dink Donna. Daardie oomblik wat ’n kykie is op iets wat kon wees. ’n Ontmoeting van hart tot hart. Maar nou is ons weer terug op die aarde, nie in ’n fantasiewêreld nie. Sy bekyk Simon een keer van kop tot tone, en kyk dan neerbuigend weg. Simon is nie gewoond daaraan om geweeg en te lig bevind te word nie. Hy merk die reëndruppels wat oor haar hals versprei lê en soos lipglans op haar vol lippe blink. Haar donker wenkbroue boog in ’n onuitgesproke vraag, maar haar blik is reeds afgewend. Chris kyk ongemaklik van die een na die ander, bewus van die onderstroom tussen hulle. Simon vou sy arms oor sy bors en plant sy voete stewig in die sand. “Ja, ek sien dis Donna Joubert, ek ken haar portefeulje goed genoeg. Welkom uit Milaan, Donna. Ek is bly jy kon jou New York-afspraak vir ons uitstel,” sê hy kil. Vandat hulle begin het om vanjaar se uitgawe saam te stel, wou sy redaksie die bekende Donna Joubert insluit by die modelle vir die swemdrag-uitgawe. Daar is uitgewei oor hoe goed sy oorsee vaar as loopplankmodel en hoe wyd bekend sy is vir haar skoonheid en sjarme. Hy kan nou nie eens meer onthou wie se
voorstel dit was nie, maar hy was self erg daarteen gekant. Die bemarkingsmense het hom egter oortuig hoeveel ekstra eksemplare haar naam sal verkoop. Die syfers het dit vir hom beklink; dit sal werklik aan hulle ’n rekordsirkulasie besorg en die advertensies laat instroom. Hy het gedink sy is uiters arrogant nadat hy haar ’n tyd gelede vlugtig gesien het by ’n aandfunksie. Nie sy of haar agent wou veel van hul voorstel weet nie, maar hulle het soos handomkeer verander voordat die sperdatum vir ’n antwoord verstryk het. Hy wonder nou nog wat daardie radikale ommeswaai bewerkstellig het. Hy het hom nogal vererg toe haar eerste e-pos oor sy rekenaarskerm flits met soveel voorwaardes dat hy net wou terugskryf: Vergeet dit! Maar sy redaksie wou niks hoor nie. “Met Donna op die voorblad . . .” Stop die boot net so ’n bietjie, wou hy sê, maar vir eens wou niemand hom juis tyd gee om sy opinie uit te spreek nie. Sy is nou maar eenmaal die tipe meisie wat die manne laat sug, al is sy nie ’n tipiese swemdragmodel nie. Hy was duidelik in die minderheid. “Ons sal sien . . .” het hy skietgegee. Hy het al sy sjarme ingespan toe hy haar in Milaan gebel het om oor haar deelname aan die fotosessie in die Seychelle te gesels. Daarna het hy met die ondertekening van die kontrak en die ander dokumente soveel as moontlik oor dié brunet probeer uitvind. Gedagtes, menings, riemtelegramme en skindernuus – hy het sy ore uitgeleen vir enige brokkie inligting oor haar. Hoe meer hy van Donna Joubert gehoor het, hoe minder wou hy luister. Sy was net te goed om waar te wees. Haar reputasie, vir ’n internasionale model, was so rein soos ’n lelie. Daar het geen skandaal of stigma aan haar gekleef nie. Sy was so heilsaam soos varsgebakte plaasbrood. ’n Outydse meisie daarby, wat van vars blomme as geskenk hou. Spierwit aronskelke, het ’n artikel oor haar gesê. Verder is sy glo sentimenteel, huilmooi en slim. Sy is die dogter van ’n bekende Paarlse wynboer en kom uit ’n hegte gesin, saam met wie sy gereeld vakansie hou en waterski. Sy is lief vir motorfietsry en perdry. Haar ma is haar beste vriendin. Sy is fisiek sterk, want sy gim elke dag.
Te veel goeie dinge vir een man se vlees en bloed om dit te hou, het hy gevoel. Vir hom was sy net te ordentlik, te lieftallig soet en goed om ’n Sport SAswemdragmodel te wees – die meisies op hulle voorblad moet darem ’n stoute vonkel in die oog hê. En daarvoor móét jy al so ’n bietjie ervaring hê. Dit lyk nie eens vir hom of daar ’n man in Donna se lewe is nie. Dan is daar ook die elitistiese hoek: ware modelle sien eintlik neer op swemdragmodelle en swemdragwerk. Veral iemand soos Donna wat al jare lank op die loopplanke in Parys, Londen en New York skeppings van die voorste modehuise dra. Hoekom het sy die opdrag aanvaar? het hy oral probeer uitvis. Maar noudat hy die romantiese interlude hier op die strand tussen haar en Chris gesien het, wonder hy nie meer nie. Dis skielik vir hom duidelik: dié ou hartebreker se sjarme is nog steeds dodelik. Hy wat Simon is, werk darem al lank genoeg saam met Chris om hom te kan peil. Chris neem nou al vir die afgelope vyf jaar die foto’s vir Sport SA se swemdraguitgawe, en Simon het hom in dié tyd as buitengewoon professioneel leer ken. Iemand wat nie veel tyd saam met die manne bestee nie, behalwe as daar belangrike sport op die TV is. Maar waar Chris Naudé is, is daar altyd ’n skoonheid of twee in die rondte. En hierdie keer is sy teiken duidelik Donna Joubert. Simon kyk met ’n siniese glimlaggie na waar Donna die teuels oor haar perd se kop swaai en die groot dier gemaklik bestyg. Sy kyk vir ’n oomblik uit die hoogte na hom af en swaai dan die perd om. Dis net nie regverdig nie, dink Donna ontstig. Sy het gedink Simon Conradie is al skuins anderkant vyftig, en nou lyk dit of hy nie eens veertig is nie. Sy stem het haar ook onder ’n wanindruk gebring – dit het ’n diep grinterigheid wat hom veel ouer laat klink. Asook die enkele keer wat sy hom vlugtig in die halfdonker by ’n funksie gesien het. ’n Mens weet nooit met hierdie sportiewe tipes nie. Hy het die breë skouers van iemand wat beslis mededingend geswem het en die kuite van ’n fietsryer. Sy hare is kort geknip en ekstra blond van sonblootstelling. Sy vel het die tekstuur van iemand s’n wat dikwels in die buitelug is; dis duidelik dat hy versot is op
sport. Hy lyk geensins soos iemand wat gedurende die dag agter ’n lessenaar inskuif nie. Sy groen oë lyk asof hulle gereeld verre horisonne opsoek, want daar is fyn plooitjies om hulle soos wat jy dikwels by seiljagvaarders sien wat hul oë op skrefies hou om in die verte te fokus. Sy skud haar kop vir haar gedagtes en kyk vlugtig oor haar skouer. “Ek is bly om hier te wees, dankie. Gee my net tyd om ’n bietjie meer sonbruin te word. Julle het seker ’n paar dinge om te bespreek. Sien julle later by die hotel.” Laat Simon Conradie maar sy eie gevolgtrekkings maak, dink sy terwyl sy die perd op ’n stap wegstuur. Ons is almal grootmense hier, wou sy vermakerig vir hom sê toe sy sien hoe intens hy na haar staar, maar sy het haar ingehou. Tydens hulle telefoongesprekke wou hy oor en oor weet hoekom sy bereid is om vir ’n swemdraguitgawe te poseer. Is dit nie sleg vir haar beeld nie? Sy moes hom herhaaldelik verseker dat sy daarvan hou om alles ten minste een keer in haar lewe te probeer. Maar sy is seker sy het hom nie oortuig nie. As hy maar die waarheid kon geweet het . . . Die man ontsenu haar elke keer wat sy met hom te doen kry. Hy het dit reeds op die telefoon en per e-pos reggekry. Hier ry sy nou weer met gloeiende wange weg. Sy kan nie ontken dat sy nonchalante blik oor haar en Chris se vurige omhelsing haar omgekrap het nie. Sy voel asof sy met haar hand in die lekkergoedfles betrap is.
2
Toe Donna veel later die ruim voorportaal van Hotel Beau Vallon binnestap, sit Die Droomlyf, Chloe Heiberg, en die klassiek mooie Michelle Malherbe in hulle volle swemdragglorie op die hotelstoep en ontspan. Beide lyk waaghalsig en avontuurlik in piepklein bikini’s, met kleurvolle drankies in die hand. Hulle knik verwelkomend en wuif uitbundig in Donna se rigting met skitterwit glimlagte. Sy stap effe onwillig nader om hulle te groet. Sy het al saam met beide op fotosessies gewerk, maar is nie juis ’n bewonderaar van dié twee katterige glansmodelle wat knypies en krappies uitdeel asof dit gratis parfuummonsters is nie. Hulle is ook die soort wat links en regs soentjies en drukkies uitdeel en dan agter jou rug kwetsende en sarkastiese opmerkings maak. Al twee is nogal bitsig op haar eie, kenmerkende manier en bekend vir hul snydende kommentaar. Hulle is ook so vol prima donna-nukke dat die fotograwe hulle fotosessies so vinnig as moontlik verbykry. Met Chloe is daar boonop sprake van dwelmmisbruik. Sy is bekend as iemand wat impulsief en onvoorspelbaar is. Michelle het ’n eetsteurnis en vloek soos ’n matroos. Meer geslepe, agteraf en berekenend sal jy nie maklik kry nie. Sy stuur sommer maklik op ’n fotosessie iemand na sy peetjie. In die modebedryf is al twee uiters mededingend en ambisieus. Daar is nie ’n teruggetrokke haar tussen hulle subtiel getinte blonde hare nie. Hierdie twee is deel van die rede hoekom Donna ingestem het vir die Sport SAkontrak. Haar twee beste vriendinne in die Kaap, die voormalige New Yorkse glansmodel Benita Raubenheimer en die vooraanstaande stilis Christina Roets, het haar uitgedaag om die fotosessie te doen. Om presies te wees, hulle het haar uitgedaag om te sorg dat nie Chloe of Michelle die voorblad haal nie. “Girlfriend, daai poppies moet van die voorblaaie waai!” het Benita haar
aangemoedig. “Hulle maak enige vrou se naam sleg.” Dit het begin as ’n lekker lawwe grap toe hulle drie een aand op ’n partytjie lighoofdig was van vonkelwyn en min kos. Hoe om vir Simon Conradie te uitoorlê en hul twee aartsvyande te wys hulle kan op hul spesialisgebied aangevat en gewen word, het skielik vir Donna ook soos vet pret geklink. Om alles te kroon, het Benita ’n Armani-rok op die spel geplaas: as Donna die voorblad haal, is die rok hare. En wat ’n droomrok is dit nie! Skouerloos en van ivoorkleurige sy wat sag om die knieë in valle uitklok. Die soort rok waarin jy wil trou . . .
Boonop het die loopplankseisoen in die modehoofstede van die wêreld nog nie begin nie. Donna het mooitjies ’n tydjie tussenin gehad waarin sy net een afspraak moes kanselleer om na hierdie eilandparadys te kom. Wie gaan in elk geval nee sê vir ’n betaalde vakansie op die Seychelle-eilande? ’n Week waarin sy nie in die geselskap van die beroemdes en bekendes hoef te wees nie. Wat ’n verligting. Die glanswêreld raak soms net te veel vir haar. En Chris? Donna het lank voor die weddenskap al geweet hy sal hier wees. Miskien het dit Benita-hulle se uitdaging om die twee blondines van die voorblad af te hou net ’n bietjie meer kleur gegee. Haar en Chris se paadjies het die eerste keer gekruis tydens ’n fotosessie vir ’n vrouetydskrif. Die tipiese “Suid-Afrikaanse glansmodel kom huis toe vir Kersfees”-artikel is tydens haar laaste besoek aan die Paarl, haar geboortedorp, gedoen. Sy moes op haar ouers se wynplaas tussen die wingerde en in die kelder, sowel as aan ’n gedekte Kerstafel onder die diepgroen akkerbome saam met haar gesin poseer. Chris wou ook ’n sonsondergang oor die Bolandse berge afneem. Ná ’n lang werkdag het sy vir hulle ’n verkilde bottel van haar pa se beste chardonnay saam met kaas en beskuitjies ingepak, en hulle het met die perde berg-op gery om die beste vista vir ’n foto te kry. Dis toe dat sy ontdek het wat ’n uitstekende perderuiter die voormalige wildbewaarder is.
Ná ’n wilde jaagtog die veld in, het hulle uitasem tot stilstand gekom. Sy moes ruiterlik erken dat hy die resies teen haar en haar Arabier-hings, Sachen, gewen het. En dit op ’n perd waarmee hy toe pas kennis gemaak het, boonop met ’n kamera om sy nek. “Perde is duidelik in julle bloed,” het hy egter waarderend gesê en met nuwe oë na haar gekyk. Donna Joubert is duidelik geen porseleinpoppie nie en daarvan hou hy: ’n meisie met stamina. “Ja, maar ons is grootgemaak om te glo dat perde soms ’n bietjie belangriker as mense is!” Toe hy haar veel later help om by ’n krans af te gly sodat die vallei voor hulle kan oopvou, het sy handpalms met ’n doelbewuste streling oor haar kaal rug gegly. Dit het haar heeltemal ontsenu, sodat sy in die skemeraand oorbewus van hom was. Ten spyte van jare se blootstelling aan die mooies, bekendes en rykes van die wêreld, was haar hart nog altyd haar eie. Haar loopbaan en goeie naam was vir haar te belangrik om dit weg te gooi deur skandale in die skindertydskrifte. Natuurlik het sy soms met mans uitgegaan. Selfs hier en daar vir ’n maand of wat betrokke geraak in ’n dieper verbintenis, maar sy het nooit werklik verlief geraak nie. Sy weet te goed waarvandaan sy kom en wie se kind sy is. Dit maak ’n groot verskil in ’n wêreld waarin almal soek na identiteit in klere en voorkoms, maar sy het lankal geleer hoe vals die vlietende identiteit van skoonheid en roem is. Betower deur Chris se nabyheid het sy nogtans probeer om los te kom, maar sy het op die een of ander manier slegs daarin geslaag om in sy arms te beland. Skielik was alles vergete: die moegheid van die dag se lang fotosessie, die loom bergwêreld om hulle, haar loopbaan, sy kameras. Hy het haar mond gevind en dit honger oopgesoen, terwyl hy gesukkel het om haar nog nader teen hom aan te trek. Tussen die fynbos en die sterre het sy haar nek na hom gedraai sodat hy ’n soen in haar kuiltjie kon druk. Sy lippe was sag, warm en effe klam. Sy het sy mond tot op haar skouer laat glip, waar sy hand reeds haar toppie se skouerbandjie weggetrek het. Die aand het sag geword om hulle, met ’n karringmelkwit volmaan se glans oor
die wingerd en bergkruine. “Ek dink jou foto is besig om te verdwyn . . .” het sy gefluister en haar uit sy omhelsing losgemaak. Sy het op ’n rots gaan sit en afgekyk na haar bewende hande. As sy nou enigsins sy oë sou ontmoet, hom selfs net sou hoor asemhaal . . . Dit was ’n oomblik of twee voordat hy sy kamera se lens kon oopdraai en met die ligmeter begin vroetel het. “Wat ek nie op die film kry nie, kan die rekenaar regdokter,” het hy gespot. Toe hulle later al geselsend deur die maanverligte wingerde huis toe ry, kon sy die warmte tussen hulle aanvoel. Veel later, toe hulle groet, was dit sy wat doelbewus ’n oomblik teen hom aangeleun het. Sy het behaaglik gevoel hoe sy vingers in klein sirkels oor haar kaal skouers streel. Sy was moeg en het bykans geen weerstand meer teen hom gehad nie. Die volgende dag is sy weg New York toe. Sy het eers weer van hom gehoor toe ’n pak foto’s van die Paarlse fotosessie by haar agentskap opgedaag het. Met ’n bos proteas daarby. Geen notas, geen SMS’e en beslis geen oproepe nie. Sy het gevoel asof sy maar net deel was van die eb en vloed van sy besige lewe. En besluit om dit so te hou. Sy het via haar agent, Leigh Gianelli, ’n dankiesêboodskap gestuur. “Liefie, is jy seker jy wil nie self met hom praat nie? So ’n hunk, en jy hét darem die lieflliste blomme gekry . . . vars proteas al die pad van Suid-Afrika, nogal,” het Leigh met haar diep stem gesê, maar Donna het net haar kop beslis geskud. Nou is hulle saam hier op die romantiese Mahé. Miskien was die weddenskap net ’n gerieflike verskoning waarmee sy haarself wou bluf. Sy het immers goed geweet Chris sal die fotograaf wees vir hierdie opdrag. Chloe se skril dogtertjiestem ruk haar terug na die hede. “Donna! Ons is so bly om jou te sien!” sê sy met ’n glimlag soeter as stroop. Haar platinumblonde hare skuif vir ’n oomblik oor haar fynbesnede gesig toe sy vooroor buk om vir Donna ’n drukkie te gee. Donna staan effe agtertoe om weg te kom van die swaar speserygeur van Chloe
se parfuum. Michelle het ook opgestaan en bied haar wang aan vir ’n lugsoen soos modelle uitruil om nie hul lipstiffie en grimering te bederf nie. Donna word voorgestel aan die res van die groep: Wynand, die spitsvondige en stylvolle stilis, Phoebe, ’n teruggetrokke grimeerkunstenaar, en Rochelle, Sport SA se tydelike moderedakteur, wat sekerlik hier is met tasse vol einaklein bikini’s en bykomstighede soos ontwerpersonbrille. Hulle groet oor en weer en Donna neem plaas by die kroegtoonbank. Die patio by die swembad is oorgroei met kleurvolle hibiskus en bougainvilleas, en die vloer is sommer van seesand. Sy skop sorgeloos haar sandale uit. Sy het haar voete goed laat versorg voordat sy gekom het en hulle voel sysag toe sy hulle teen mekaar skuur. Elke toonnael is ’n pêrelpienk halfmaantjie. Sy dra ’n fyn toonring met ’n diamantjie en ’n goue enkelbandjie. Sommer vir die eilandpret, en omdat sy dit nie in New York of Parys kan doen nie. Al is dit nou al uit die mode, gee dit haar so ’n sigeunergevoel. Dis in elk geval gepas vir enige eilandwegbreektydjie, meen sy. Donna is lief daarvoor om haar voete deel van haar uitrusting te maak. Sy is seker sy het meer pare skoene as enige ander model wat sy ken. Haar en haar ma se gedeelde liefde vir skoene koop, dra natuurlik baie daartoe by. Skoene koop is hulle terapie. Sy is veral mal oor oop sandale met fyn bandjies wat oor haar hoë voetbrug span, en wat sy so van haar voet kan laat bengel. Verkieslik in pastelkleure, sodat dit die sonbruin van haar voete nog meer kan wys. As sy dan as ’n model ydel is, is dit oor haar voete. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Simon Conradie nader stap uit die hotelsitkamer. “Wat kan ek vir jou bestel, Donna van New York via die Paarl?” vra hy met sy gruiserige stem. Haar blik rus vlugtig op hom. Hy is skielik die perfekte gasheer in ’n spierwit gholfhemp wat skerp teen sy bruingebrande vel afsteek. Hy is werklik een van die min mans wat ’n Bermuda-kniebroek mag dra – daaronder steek kuite uit wat lyk of hulle gereeld ’n bergfiets se pedale trap. “Professionele gewoonte?” vra hy toe hy langs haar inskuif.
Sy kyk onderlangs na hom. “Wat bedoel jy?” “Om mense so ondersoekend te beskou en hulle met jou oë te meet. Dit kom seker maar saam met die ander beroepsrisiko’s van model wees. Toe, wat drink jy? ’n Glasie chardonnay?” “Nee, dankie, fonteinwater vir my. ’n Professionele gewoonte . . . ek drink net my pa se chardonnay,” terg sy. Chardonnay is haar gunstelingwyn, maar sy voel so ietwat aspris. ’n Man soos Simon maak haar dadelik astrant en op haar perdjie. Sy is seker hy weet meer van haar as wat sy graag sal wil hê hy moet weet. Sy bemarkingspan sou wel die portefeulje artikels wat al oor haar verskyn het vir hom gegee het. Hy is nie die soort redakteur wat nie sy huiswerk sal doen voordat hy soveel geld sal uithaal om haar vir ’n fotosessie te betaal nie. Sy reputasie is dié van ’n taamlik genadelose mediaman wat werklik meer op sport wil konsentreer, maar hy besef deeglik dat sy tydskrif een keer ’n jaar die inspuiting van die swemdraguitgawe nodig het, ter wille van die sirkulasie en advertensieinkomste. Dis lastig, maar nodig. Hy kyk sydelings na haar, maar Donna is onversteurbaar. Sy het lankal geleer dat die Simon Conradies van die wêreld mans is wat vroue met ’n afstandkontrole wil beheer. Jy moet elke stukkie vroulike lis in jou gebruik om hulle uit hul gemaksone te kry. En vreemd genoeg, dis presies wat sy wil doen, vir welke rede ook al. Sy neem ’n lang teug water en kyk hom vas in die oë. “Dans met my, asseblief. Ek is in ’n dansbui,” nooi sy met ’n sjarmante glimlag. Kom ons kyk hoe hanteer jy dié uitdaging, meneer Komkommerkoel, dink sy met ’n bietjie leedvermaak. Sy skuif die spaghettibandjies van haar geblomde rok oor haar skouers op en trek haar hare vir ’n oomblik op haar kop saam sodat haar lang oorbelle haar hals ten beste laat vertoon. ’n Romantiese Franse ballade word sielvol deur ’n eksotiese donker sangeres gesing en sy neurie saggies saam. Hy hou sy hand uit na haar. “Net ’n waarskuwing: ek doen nie die losdansding nie, Donna van New York,” sê hy koel en lei haar na die dansvloer. En toe hy haar teen hom aantrek, merk hy op: “En los maar die modelfoefies soos om jou
hare heen en weer te gooi. Dit werk nie op my nie.” Donna is dadelik siedend kwaad en wil van hom wegbeur. Maar hy verstewig sy greep toe die tempo versnel. Sy lig haar kop op en kyk hom uitdagend in die oë. “Moenie jouself vlei nie.” “So, dan is verleiding tweede natuur vir jou,” spot hy. “Wie sal weet?” antwoord sy koel. Sy sal hom nie laat agterkom sy is ontsteld nie. Hy beweeg so ligvoets soos ’n professionele danser op die meesleurende musiek, en teen haar sin voel sy hoe sy tog begin ontspan. “Lyk my jy is nogal ’n raaisel,” merk hy op. “Wat bedoel jy?” “Jy weet ek laat nie sommer enige swemdragmodel in Sport SA toe nie. Toe ek my huiswerk oor jou gedoen het, het ek uitgevind jou naam is bekend en gewild, maar daar is nie veel mense wat jou werklik ken nie. Klaarblyklik is jou reputasie ook reiner as leliewit.” Die musiek se tempo versnel nog en sy arm vou stywer om haar middel. Dis nogal ’n vreemde sensasie om in soveel harmonie te beweeg met iemand vir wie jy vies is, dink Donna. Hy is ’n meesterlike danser, maar heeltemal te selfvoldaan vir haar. “Wie gee jou die reg om my te oordeel op sterkte van hoorsê? Jy ken my van geen kant af nie.” “Maar ek ken meisies soos jy. Beeldskoon, bederf en eiesinnig. En dan kom jy nog boonop van ’n voorste Bolandse familie – ’n wynsnob daarby.” “O ja, en alle vroue is eners. Dis duidelik waar jý vandaan kom!” “Ek het darem ook vleiende dinge oor jou gehoor. Jy is toegewyd, jy weet waarheen jy op pad is en jy is ongelooflik gefokus.” Sy is skielik nie lus om verder met hom te stry nie. Dis ’n vreemde troos om in
sy arms te wees en so stewig vasgehou te word, en dis heerlik om sy liggaamshitte teen haar klam vel te voel. Vir ’n vlietende oomblik dink sy dat sy iets in sy arms voel wat sy nog nie in iemand anders s’n gevoel het nie, maar sy verwerp die gedagte dadelik. As hy maar die soort man was wat ’n vars tuinroos vir jou sou pluk. Maar nou is hy Simon Conradie, siniese tydskrifredakteur en adrenalienslaaf. Die kans dat daar ’n romantiese snaar in sy hart skuil, is sekerlik nul. Miskien tog nie, dink sy verbaas toe hy haar skielik nader trek en sy wang teen hare hou, asof hy presies bewus is van haar brose gevoelens. “Wat niemand vir my gesê het nie, is dat jy volmaakte voete het, en daardie enkelbandjie aksentueer dit pragtig,” fluister hy by haar oor. Simon Conradie: hartebreker van formaat, is beslis deel van sy lewensbeskrywing, dink Donna. Maar is sy kompliment opreg? Hoe sal sy in elk geval weet? Die musiek word stil en sy wikkel haar uit sy omhelsing. Sy stap alleen weg van die dansbaan, verby die palms tot op die beskutte halfmaanstrand. Hul stryery op die dansvloer het haar ontstel, maar nie soveel soos sy aanraking nie. En dan nog die kompliment daarby . . . . Sy is so verward dat sy nie eens ’n naam aan haar gevoelens kan gee nie. Hoe is dit moontlik dat Simon haar so kan ontstel? Sy wil eintlik hê alle emosie wat met hom te doen het, moet oor haar waai soos die warm aandwind. Sy wil nie so omgekrap oor niks wees nie. Miskien sal dit help om ’n ver ent met haar voete in die vlak water te gaan stap. ’n Delikate geur dryf haar tegemoet vanaf die vanillaboorde. Sy draai een of twee keer om om te kyk of hy haar nie dalk volg nie . . . om te wat? Verskoning te vra? Nog ’n kompliment aan te dra? Daarvoor is Simon Conradie te arrogant. Toe sy veel later na haar kamer stap, sien sy hoe die Sport SA-span lekker op die dansvloer jol. Chloe en Michelle is die voordansers met die moutia-danse op die kamtolet-musiek van sang, tromme en vreemde snaarinstrumente soos die zez. Hulle wikkel tot hul lang lywe onderdeur ’n lae dwarslat, tot almal se vermaak.
En toe is dit tyd vir die stadige en sensuele Mauritiaanse sega-danse. Die swaaiende rompe van die tradisionele dansers word ’n reënboog-kleurespel in die lig van die vuur soos hulle om en om dans. Van waar sy op haar kamer se balkon staan en kyk, dink Donna dat haar kanse om die voorbleisie te wees met elke ie verskraal as sy sien hoe Chloe en Michelle toenadering by Simon soek. Selfs hy waag ’n dans of twee wat hy nie vroeër die aand sou waag nie, en sy dog hy dans net vas! Haar kans vir die voorblad is eintlik ook nul omdat sy nogal lanklaas voor die kamera was. Sy geniet loopplankwerk veel meer, hoewel sy weet dat jy ’n langer professionele lewe as model het indien jy die twee kombineer. Hier skuins ná vyf en twintig het sy al begin met haar opleiding as mode-ontwerper, en daar het al ’n paar van haar swemdragontwerpe die paal gehaal. Sy weet sy sal nie meer baie lank voor die kameras of op die loopplanke in aanvraag wees nie. Dis maar die vereiste van haar beroep: hoe jonger, hoe beter. Maar haar loopbaan het al op sestien begin, en sy sal eerder vroeër as later ’n nuwe rigting in die modebedryf wil inslaan. Tot dan is daar nog ’n paar uitdagings, sowel as haar Armani-rok-weddenskap met Benita en Christina. Sy dink aan die bemoedigende SMS wat sy vanoggend van hulle ontvang het: Jy het rede om wintie te wees jy is beste ding wat nog met Sport SA gebeur het you go girl! Donna trek haar skouers beslis agteroor. Sy sien heeltemal kans vir Simon en kie, dankie. Sy is stylvol, byderwets en veelsydig – beslis meer as wat daardie twee oorgegrimeerde poppies van hulleself kan sê. Of is dit dalk nou net suur druiwe omdat sy sien hoe lekker hulle met Simon en Chris flankeer? Ag, sy weet nie en sy gee ook nie om nie, dink sy moeg. Sy draai om, grendel die balkondeur en gaan kruip tussen die koel lakens in. Soos haar pa en Scarlett O’Hara in Gone with the Wind sou sê: Môre is nog ’n dag.
3
Chris se kaal bolyf blink heuningkleurig in die vroegoggendson se skerp, intense strale waar hy besig is om sy kameras, ligte en toerusting op die strand op te stel vir die eerste fotosessie. Sy swart krulle hang nat oor sy voorkop. Hy het vroegoggend gaan snorkel om die tropiese visse in die eksotiese onderwatertuin te geniet. Hy het Donna met voorbedagte rade saamgenooi, maar sy was vroeg uit. Ná ’n roeisessie op ’n klein kano het sy alleen ontbyt by ’n strandrestaurant gaan eet – sommer in ’n bikini met blinkertjies en ’n kleurvolle sarong. Swierige glansstranddrag is nou in die mode, en sy was werklik nie in die luim vir die hotelontbyt saam met bitsige Chloe en katterige Michelle, en hul eindelose en sinnelose geklets oor mans, grimering en klere nie. Chris kyk vlugtig op toe Donna by die span aansluit en glimlag verwelkomend. “Waar was jy gisteraand?” “Ek het ’n skoonheidslapie ingekry,” spot sy en trek ’n lelike gesig. Sy kyk behoedsaam om haar rond. Simon glo duidelik nie dat hy in beheer moet wees van elke fotosessie nie. Hy is nêrens in sig nie – dankie tog daarvoor. Vanoggend is dit Chloe se beurt voor Chris se lens. Die span is reeds besig om haar grimering en hare reg te kry onder ’n gazebo daar naby. Eenkant hang die oggend se fotosessie-klere, en daarnaas is ’n opslaan-aantrekhokkie. Terwyl sy voor die kameras poseer, flankeer Chloe skaamteloos met Chris. Sy gee behoorlik ’n sprankelvertoning as swemdragmodel, omdat daar ook ’n kameraspan van ’n televisieprogram teenwoordig is wat die fotosessie opneem. Toni, die senuagtige, petite koördineerder van die sessie – pikswart aangetrek volgens die Gotiese voorkoms en bleker as iemand verslaaf aan sonblok – kom vra later vir Donna of sy ook ’n onderhoud aan die televisiespan sal toestaan, terwyl sy tegelykertyd ’n selfoongesprek met die hotel hanteer oor die
spyseniering vir die middagete op die strand. Toni is bekend vir haar drie selfone: een in die hand, een om die nek en een in die sak. Dis al hoe sy haar lewe en ’n fotosessie kan hanteer, sê sy altyd. Iewers lui daar altyd ’n selfoon wanneer Toni naby is, en dit op die mees irriterende toon. Sy is in die hele modebedryf bekend vir haar vermoë om selfoonluitone te kies wat soos muskietmusiek klink en almal na oorpluisies wil laat gryp. En omdat sy drie selfone het wat op verskillende tye kan lui, is daar soms mense op ’n fotosessie wat haar wil nek omdraai. Donna laat oorreed haar deur Toni se vasberade aandrang omdat sy haar so vinnig as moontlik wil wegkry voordat nog ’n selfoon lui. Sy stap in die rigting van Chris en Chloe en word stadigaan deel van die opgewondenheid. Sy sien uit die hoek van haar oog hoe Simon by hulle aansluit, en dit neem Chloe net ’n minuut om met Simon te begin flirteer. Chloe lyk soos ’n droom. Die knap bikini in ’n ligroos kleur wys haar beste bate, haar dun middellyf, skitterend. Om haar hals pryk ’n swaar diamanthalssnoer; die stene glinster betowerend teen haar glimmende vel. “Hou julle van wat julle sien?” vra sy aanhoudend en klink soos die ware partytjiemeisie wat sy is. Haar lyf is diepbruin, soos goue stroop. Sy gaan deur al die poseerposisies: sittend in die sand, halflyf in die water en al spelende in die water. Sy verander van swemdrag en juwele, sonbrille en juwele. Die eerste kitsfoto’s doen die rondte en ’n algemene sug van bewondering klink op. Chloe is duidelik ’n wenner en klaar ’n gunsteling vir die voorblad, dink Donna suur. Sy hou Simon se gesigsuitdrukking dop waar hy eenkant met gevoude arms staan; hy hou duidelik van wat hy sien. Hy gesels met Toni en knik dan sy kop in haar rigting. Toni kom na Donna oorgedraf, selfone al wippende en luiende, toe sy klaar met Simon gesels het. “Simon vra of jy solank saam met hom op ’n verkenningsekspedisie op die seiljag wil gaan. Tussen die eilandjies deur, hy soek een waar jy gekliek gaan word. Hy soek glo iets anders vir jou, maar moenie vir hom sê ek het vir jou gesê nie. En jy hoef nie bekommerd te wees nie, dis oukei om saam met hom te gaan – hy seil in kompetisies en is besig om sy eie seiljag te bou. Verre Winde of
so iets is die seiljag se naam. Gesels met hom daaroor as jy aan niks anders kan dink nie.” Iets anders? dink Donna verbaas. Wat sal dit nou wees? Sy ontmoet Simon se uitdagende blik oor Toni se swart borselkop. Hy het vanoggend sy gholfhemp verruil vir ’n losende wit T-hemp en ’n swembroek wat sy sterk, soepel bobene beklemtoon. Agter hom lê die ander eilande in die verte. Die see wieg lui in die klein baai. ’n Seiljag lê eenkant vasgemeer teen ’n smal kaai en dobber op en af op die kabbelende water. Die lug is ’n donkerder diepblou as vroeër die oggend, gespikkel met helderwit wolke. “Net ons twee?” vra sy vir Toni. Toni knik. “Ja, hy soek iets anders, iets ongewoons. Iets wat nog nie gedoen is nie. Jy weet hoe is redakteurs, en Simon is nie juis die maklikste onder die moeilikstes nie . . .” “Is dit dalk iets vir die voorblad?” skimp Donna. “Wie sal ooit daai man se kop kan lees?” sug Toni en vis ’n botteltjie sonblokroom uit haar sak. Sweerlik faktor 70, dink Donna geamuseerd terwyl Toni haar neus insmeer. “Kom jy? Ek dink nie jy het veel van ’n keuse nie . . .” Donna knik haar kop instemmend. Sy weet goed Toni se versoek is ’n opdrag eerder as ’n vraag. “Julle sal nóú moet vertrek,” waarsku Toni. “Jy weet dit reën dalk net weer vanmiddag. Ek gaan julle nie met ’n helikopter van ’n eiland kom afpluk nie, ek is eenvoudig te besig.” Donna stap vinnig saam met Toni na waar Simon staan. Hy lig skaars sy kop van die kitsfoto’s wat voor hom op die opslaantafel uitgesprei lê. Hoe gaan sy dit alleen op ’n seiljag in die middel van die oseaan met hierdie moeilike man uithou? dink Donna. Toe hy wel opkyk, vernou sy oë ietwat. Hy staar ’n oomblik openlik bewonderend na haar, maar dan word sy gesig uitdrukkingloos.
“Ek is nou klaar. Dit sal net so twee of drie ure wees wat ons weg is. Is daar iets wat jy wil saamneem?” Sy skud haar kop en wys na haar strandsak. Sy is altyd voorbereid. Jare se ervaring het haar geleer jy hanteer ’n fotosessie soos ’n bosekspedisie. Menige model was al dankbaar vir die insekafweerder, naaldwerkbenodigdhede (veral haakspelde) en klein noodhulpsakkie wat sy met haar saamdra. Wat nie in hierdie sak is nie, is nie die moeite werd om genoem te word nie. “Kry jou by die seiljag?” sê-vra sy en kyk oor haar skouer na waar dit vasgemeer lê. Die Seychelle-argipel lê soos kolletjies rondom die hoofeiland. Die eilandjies is heeltemal onontwikkel en op sommige is daar nie eens ’n enkele gebou nie. Die turkooisgroen see koester die binne-eilande soos eiers in ’n mandjie, veral die groot seepark, St. Anne, die mekka van skubaduikers en snorkelentoesiaste. Donna vermoed dis waarheen hulle op pad is. Net sowel, want sy kan aan die lug voel dat daar iets aan die broei is wat die weer betref. Dit voel eenvoudig anders as gister se gematigde temperatuur van 24 grade Celsius. Sy het haar reeds op die Sea Star tuisgemaak toe Simon aan boord klim en dadelik die seile begin span. Hy is duidelik ’n ervare seiljagvaarder. “Waarna soek ons?” vra sy toe hy haar nader roep om met die toue te kom help. “Ek sal weet as ek dit sien,” glimlag hy. Hy stoot teen die kaai en die Sea Star wieg op die water totdat die seile in die ligte wind begin bol en hulle vorentoe beweeg. Sy gaan sit skuins agter Simon en kyk hoe die soepel, geronde spiere in sy rug met stadige spel die toue en roer laat beweeg. Hy kyk oor sy skouer na haar. “Wil jy probeer?” vra hy en wys na die roer. Hy het eers die seile laat sak en die enjin aangeskakel – die windjie is te skraal vir die rigting waarin hy wil gaan. Sy skuif langs hom in. Die enigste ervaring wat sy van bote het, is wanneer sy vir ’n slag agter die stuur van haar pa se skiboot op ’n dam ingeskuif het terwyl iemand anders as sy op die ski’s was.
Hy tree agteruit sodat sy voor hom kan inskuif. Sy arms sluit weerskante om haar en sy hande rus langs hare. Hy verduidelik geduldig die werking van die meganisme aan haar, al voel dit of haar vrae taamlik idioties is. “Ek is verbaas en beïndruk, Donna van New York. Lyk my jy weet meer dinge as hoe om ’n moltrein te gebruik,” sê hy toe sy gou regkom. “Miskien is ek nie die poppie wat jy dink ek is nie,” antwoord sy parmantig, ietwat ontsenu deur sy nabyheid. Soos Toni aan die hand gedoen het, begin sy uitvra oor sy belangstelling in seil. Sy het gou agtergekom dat hy op die water ’n ander mens is – die hardgebakte redakteur is vervang deur ’n natuurmens wat leef vir die wind en die water. “Vertel my van Verre Winde?” “Hoe weet jy van my seiljag?” “Jy is nie die enigste een met bronne en informante nie,” sê sy skalks. “Verre Winde is my groot droom – ’n droom wat eersdaags verwesenlik gaan word. Ek is byna klaar daarmee; daar is nog net afrondingswerkies oor. Nie dat dit ’n luukse jag is nie, dis vir wedvaarte.” Hy vertel hoe hy daarmee begin het, die verloop van die projek en hoe hy daarna uitsien om die jag een van die dae te water te laat. Ná ’n rukkie neem hy die roer by haar oor. “Ek is ’n bietjie onrustig oor die weer,” verduidelik hy. “Ek het eenkeer met ’n wedvaart kwaai stormweer naby Madagaskar beleef – die seiljag het in die punt van ’n sikloon beland. ’n Dag later en ons was in die oog van die sikloon. Ons sou dit beslis nie oorleef het nie.” “Wat is die voorlopers van ’n sikloon?” vra Donna benoud en kyk na die deinende see. “Sterk winde wat aanhou en aanhou. Dit was só erg dat die jag se enjin en stuurmeganisme gebreek het. Maar moenie bekommerd wees nie, ons is ver van Madagaskar af. Hoewel hier ook al ’n klompie siklone verbygetrek het. Toe
maar, ek sal jou met ’n ketting aan die mas vasmaak, dan sal jy niks oorkom nie,” lag hy tergerig. Ter wille van die ander Simon glimlag sy ook. Sy het heeltemal vergeet van Sport SA, fotosessies en die feit dat hulle eintlik ’n plek soek vir môre se sessie. Miskien is dit omdat sy so oorbewus is van hom. Daar is ’n souterige reuk aan sy hare as dit oor sy voorkop teen haar wang val, en sy stem . . . Dit het daardie intieme, donker klank wat lankal op haar droomlysie vir ’n man is. Voeg daarby sy lagplooitjies van te veel blootstelling aan son en wind, en sy weet hoekom sy soos ’n seenimf hier langs hom voel. Toe hulle draai en stiller water bereik, nooi hy haar om weer die roer te neem. “Hemels, is dit nie?” vra hy toe sy die stuuraksie baasraak. Hy haal sy hande van die roer af, maar skuif nie weg nie. “Ek het nie gedink ek sal dit kan doen nie!” skree Donna opgewonde bo die wind. In die verte voor hulle lê ’n enkele beboste eiland, duidelik onbewoon. “Lyk soos ’n ongerepte paradys,” sê sy. “Miskien moet ons nader gaan ondersoek instel,” sê Simon en stuur die jag daarheen. Hy skakel die enjin af en laat die seile sak. “Ek dink jy het heel goed gevaar. Ek gaan nou die anker laat sak. Ons kan maar daarheen swem – dis net ’n paar meter tot op die strand. Die water is te vlak vir haaie en die riwwe om die eiland maak dit te gevaarlik om nader te gaan, die boot sal vashaak. Kan jy swem?” Donna knik net, maar sy glimlag onnutsig toe sy die vollengte sarong om haar lyf losmaak en om die reling knoop. Het hy nog nie opgemerk dat sy soos ’n effe te maer swemmer gebou is nie? Sy duik met ’n boog in die water. Dis heerlik louwarm en sy draai opgewonde na hom. “Kom ons kyk wie is eerste daar!”
Hy duik onmiddellik in en sê haar die stryd aan met lang, egalige hale. Hulle kom tegelyk op die soom van die eiland aan, ’n smal strook wit sand. Donna loop deur die vlak water tot sy die droë sand bereik. Sy hurk en laat die sand deur haar vingers glip: dis spierwit en suikerfyn. Simon trek haar op en hulle tuur saam uit oor die see, wat nou al die verskillende tinte en skakerings van blou begin aanneem soos die sonstrale krimp. Agter hulle lê ’n enorme granietrots met steil kranse en breë rotslyste soos ’n klein rots van Gibraltar. Simon neem haar aan die hand en begin klim die skotige heuwel begroei met bosse voor die kranse uit. Gou is hulle bo die wuiwende palmbome. “Ek dink ek wil netnou so ’n entjie daar gaan klim. Lyk na ’n uitdaging,” sê Simon. “Maar het jy nie toerusting nodig nie?” Hy wys na sy sterk hande en glimlag. “Hierdie kloutjies is meer as genoeg vir daardie kranse,” sê hy selfversekerd en haal ’n paar rotsklimhandskoene uit sy broeksak. “Wel, as daar iets sou gebeur en ons hier gestrand is, is hier darem genoeg papajas en kokosneute om te eet.” Toe hulle die granietrots nader, sing die stilte in hul ore. “Dit voel of die tyd gaan stilstaan het,” sê Simon half verbaas. Donna knik net. Hoe oneindig blou is die dag nie! Oral waar sy kyk, is dit ’n droomverlore dag – amper asof hulle buite die werklikheid staan. Die lug ruik na soetsuur tropiese plante. Wolke pak soos uitgerysde broodjies teen die horison saam. Hulle stap en klim bykans ’n halfuur lank, totdat hulle op die kruin van die eiland staan – ’n klein plato met kranse wat aan die een kant skerp na benede val. ’n Ware kliptroon. “Hoe sal ons jou hier kan afneem?” vra Simon toe hy sy hand uithou sodat sy
teen die laaste stukkie krans kan opklim. “Dis ideaal: ’n uitsig van 360 grade. Ek kan al die foto sien.” “Ek kan juis nie. Waar gaan Chris staan?” “Van Chris gepraat . . .” begin hy. Sy lig haar wenkbroue toe hy nie sy sin klaarmaak nie, maar hy praat nie verder nie. “Toe maar,” is al wat hy sê. Sy sit teenaan hom, want daar is bitter min plek om te sit. Net vanoggend nog kon sy hierdie man nie uitstaan nie, want sy het gevoel hy sien neer op haar. Nou sit sy skouer aan skouer met hom en dink aan allerhande verskonings hoekom sy nie moet opstaan nie, dink Donna meewarig. Dit moet sy sensuele nabyheid wees. Dit roer elke vesel in haar vrouwees. Asof hy haar gedagtes kan lees, kyk hy skuins na haar. Die waterdruppels op haar vel het in wit soutpatrone droog geword. Hy vee dit weg met die agterkant van sy hand en hou dan sy hand uit om haar op te trek. Hulle gaan sit effe laer onder ’n plat krans, half verskuil in ’n grot vol seesand. “Hoekom het jy régtig vir die fotosessie gekom?” vra hy skielik. “Jy wil nie weet nie . . .” “Oor Chris?” Donna lag. Mans! Daar is meesal ’n onsigbare kompetisie tussen hulle waarvan vrouens niks verstaan nie. Maar dit sal seker nie kwaad doen as hy dink dis die rede nie. Die werklike rede, die weddenskap, sal hom siedend kwaad maak. Simon is veels te toegewyd aan sy tydskrif om daarvan ’n speelbal te maak. Sy glimlag enigmaties en wys na waar seemeeue in die verte roerloos op die wind sweef. Hy trek net sy wenkbroue saam en kyk fronsend af na sy hande. “Jy sal nogal graag wil weet, nè? Maar my lippe is gesluit. En nee, dis nie omdat Chris hier is nie, en nee, dis nie omdat jy my ’n vet fooi betaal nie, en nee, dis nie omdat ek in hierdie week ’n afspraak of twee te min gehad het nie,” sê sy
heel astrant. Sy luister hoe die gedruis van die branders ’n natuursimfonie vorm. Sy tel haar hare op en draai dit om haar hand, laat dit oor haar een skouer afhang tot in haar borsgleufie. Toe sy skielik opkyk en die begeerte in Simon se oë sien, besef sy hoe laag haar weerstand teen hom is. Sy begeer hom ook mateloos. Meer as wat sy nog ooit enige man begeer het. Hy draai na haar, sit sy arm om haar en trek haar nader aan hom. Die sensasie van sy arm, so glad teen haar kaal skouers, laat haar ’n oomblik bewe. “Kry jy koud?” Sy skud haar kop ontkennend. Sy is bang sy klink te uitasem as sy praat. Stil, wegholhart! probeer sy haarself kalmeer. Sy leun teen hom aan. Hy reageer onmiddellik daarop deur haar nog stywer teen hom aan te trek – só naby dat sy die koel, seevars reuk van sy lyf inadem en die harde spiere van sy bolyf teen hare voel. Selfs deur haar nat hare op haar rug kan sy voel hoe hy oor haar skouerblaaie streel, totdat sy hand op haar middelrug gaan rus. Dan begin dit weer al met haar ruggraat opbeweeg. Sy weet as sy nou sou praat, sal sy dalk iets lafs en totaal onvanpas sê en sal die oomblik se intense spanning gebreek wees. Hulle sal hier kan opstaan, terugswem na die boot en vir ewig uitmekaar kan gaan. Maar sy wil nie. Sy wil nie eens asemhaal om hierdie oomblik te ontheilig nie. In sy hand op haar rug en nou op haar boarm, is daar ’n vraag wat sy nie met woorde wil beantwoord nie. Sy wil net die feite aanvaar wat daardie vraag stel: ek is ’n man en jy is ’n vrou en ons is saam op hierdie enigste dag van die wêreld se bestaan op ’n eksotiese eiland ver van alles: gaan ons die stemme van ons harte gehoorsaam? Sy weet as sy niks doen of sê nie, sal Simon se hand omglip, dalk haar kop na syne draai en haar soen. Sy voel dit aan. Daar sal ’n stille instemming aan haar kant wees en sy weet dit is hoekom sy hande so dringend is.
Sy is uitgehonger vir ware liefde. Dis nou reeds so lank wat sy nie eens ’n verhouding het nie. Natuurlik gaan sy dikwels uit met van die interessantste, aantreklikste, rykste en beroemdste mans, maar hulle is kansvatters wat te lief is vir hulself om ooit werklik vir ’n vrou lief te word. Dis nie haar verwagting van die liefde nie. Sy wil iemand in haar lewe en in haar hart hê wat haar liefhet ver verby menslike begrip, met sy hele hart en lewe. Iemand wat haar volkome en volmaak in sy lewe sal opneem sodat hulle werklik een kan wees. Iemand wat kan sê: Vir my is daar geen ander nie. Simon draai haar effe na hom en kyk diep in haar oë. Die sensuele blik in sy donkerwordende grysgroen oë sê: Jy is verruklik mooi. Of dalk: Eendag as jy myne word . . . Hy lig haar ken met sy vry hand op na hom sodat haar lippe enkele sentimeters van syne is. Sy sien die plooitjies om sy mond oopvou soos hy glimlag terwyl hy half ingedagte sê: “Ek weet nie hoekom nie, maar ek voel ontsettend aangetrokke tot jou – al stry ons so baie. Miskien is dit omdat jy beeldskoon is, maar ek het al van die mooiste vroue op hierdie aarde in my arms gehad. Nee, daar is iets anders . . . Voel jy dit ook?” Donna knik haar kop instemmend, bang dat die betowering van die oomblik sal wegsypel as sy te hard sou praat. “Miskien is dit iets ouds en onverklaarbaars . . . iets naamloos,” fluister sy. “Dan moet ons nie te veel daaroor dink nie . . .” “Of dit probeer verduidelik nie.” “Dalk is dit onverstaanbaar en kán ’n mens dit nie verduidelik nie.” Sy mond kom nader aan hare en sy lippe prewel iets onhoorbaars teen hare. Sy beweeg haar lippe teen syne en wens oombliklik sy het nie – die sensasie van die souterigheid daarop wat met die klammigheid op haar lippe meng, is onuitstaanbaar heerlik. Hy proe soos die lewe, soos die liefde, soos hierdie uitgestrekte, ewige dag. “Jou naam is so reg vir jou. So ’n mooi naam vir ’n eg vroulike meisiekind.
Want dis hoe ek aan jou gedink het toe ek jou die eerste keer hier op die strand gesien het: ’n langbeenmeisiekind van die Boland.” Sy dink aan wat daar geskryf staan oor die liefde se eerste aanblik – daardie kyk in mekaar se binneste in. “Wat het jy in my gesien?” “Ek was vasgevang deur iets onskuldigs in jou . . . ’n kinderlike kwaliteit wat so in teenstelling is met wie jy in werklikheid is.” “Is jy teleurgesteld noudat jy my beter leer ken?” Sy lippe druk harder teen hare – die voorspel tot ’n soen wat haar hart vir altyd sal verower. “Beslis nie. Ek is besig om my hart al vinniger te verloor . . .” Hy dwing haar mond oop met ’n krag wat sê: Ek wil my lewe met jou deel, ek wil my lyf met jou deel, ek wil my hart met jou deel. Donna voel lighoofdig van die hitte, die soen en die oorrompelende manier waarop hy steeds in haar oë kyk – asof hy haar hart in haar oë wil sien. Sy is seker hy kan, want hy laat sy tong aan die binnekant van haar mond rondflits in tergbewegings en sy antwoord met haar eie. Hy onderbreek die soen om te sê: “Jy is so wonderlik mooi . . .” Hy plant onophoudelik soene oor haar nek en hals. “Ek wil jou met soene toegooi.” “Mmm, nogal ’n digter ook . . .” Haar hande glip op na sy gesig en trek dit weer af na haar mond toe. Sy wil nie ’n oomblik langer sonder die heerlike gevoel van sy lippe teen hare wees nie. Hierdie keer is daar ’n onverbloemde honger aan hulle soen. Dis ’n totale oorgawe aan hierdie dag en sy uniekheid. Aan hierdie genade-oomblik van die liefde. Na ’n rukkie rus Simon met sy voorkop teen hare – uitasem van begeerte. Donna se vingers trek patrone op sy rug met haar naels. Sy krap liggies oor sy rug en die fyn brandsensasie gaan tintelend na sy kop. “Jy is ’n droom . . .” “O nee, ek is nie ’n droom nie. Ek is so werklik soos hierdie rots agter ons,” sê sy en lê agteroor op die rotslys, effe onder die grotdakkie in. Teen haar rug voel die klipwand rof en ru.
Simon buig oor haar en kyk met hartstog en deernis in haar oë. “Wat is dit, Donna, hierdie gevoel tussen ons – wat is dit? Dis soos die kleur van jou oë. Ek soek na woorde daarvoor, maar ek kan dit nie beskryf nie, die woorde ontwyk my. Neutbruin, karamelbruin, dis so ’n ongewone bruin. En die gevoel tussen ons . . . dit bly naamloos.” Hy buk oor en soen haar oë bottoe – asof dit ’n oplossing is. Hy streel met sy voorvinger oor haar wimpers. “Waar kry jy dié lang krulwimpers? En jy dra nie eens maskara nie! Ek is so mal oor jou omdat jy so natuurlik is. So eg. Toe ek jou foto’s gesien het, was ek so bang dat jy straatslim, wêreldwys en hard soos graniet sou wees. Pure New York. Blasé en bederf deur al die aandag. Eintlik was ek al mal oor jou toe Leigh jou eerste foto’s gestuur het,” erken hy. Sy aanraking op haar vel laat dit voel asof miljoene elektriese vlokkies daaroor val en in ’n chaos oor haar hele lyf versprei. “Ongelukkig het ek nie vooraf geweet hoe jy lyk nie, maar gister op die strand was jy nie ’n vreemdeling vir my nie. Ek het gevoel ek kén jou,” sê sy. “Ek het hierdie onbesonne gedagte gehad dat ek Chris van jou gaan wegtrek en met my kaal vuiste gaan toetakel. Ek het gisteraand lekker vir myself gelag: ek was jaloers op ’n vrou wat ek nog nie eens vasgehou het nie.” “Maar nou het jy.” “En ek is nog jaloerser. Wat is tussen julle –” “Vergeet van Chris. Soen my, dis die hier en nou wat tel, die ons en hierdie dag . . .” Hy het geen aanmoediging nodig nie. Sy bolyf skuif oor hare asof dit ’n verlore stuk van ’n legkaart is. Alhoewel hy net teen haar lê en sy asemhaling ritmies teen haar aandruk, voel sy asof sy teen hom vasgegom is met ligte sweet. Sy lig haar kop toe sy hand daaronder inskuif en haar mond opbring na syne. Dit word stil tussen hulle, asof woorde al hulle krag verloor het. Sy hande vroetel in haar hare terwyl haar arm om sy skouer glip. Sy voel hoe die klam punt van sy tong in haar nek se kuiltjie glip en ’n tergende soentjie daar plant.
Sy maak ’n oomblik haar oë oop en sien hoe die dag bo hulle koppe staalgrys geword het en hoe ’n fris wind deur die palmbome ruis. Maar dit registreer nie eintlik by haar nie. Simon het sy been besitlik oor hare geskuif en sy lippe verken haar wange. Hulle word al meer een, in liggaam en in siel. Hy is nie haastig nie, hoewel sy kan sien hy ervaar haar en die oomblik intens. Hy skuif langsaam sy lippe na haar naeltjie en los ’n soentjie in die kuiltjie daar sodat sy begin giggel, so kielierig is dit. Hy lag saam, verbaas oor dié reaksie wat hy by haar ontketen het. “Jy is pure, onverdunde pret!” skater hy toe sy hom terug begin kielie. Sy mond skuif laer af na haar bekken, maar stop huiwerig duskant haar bikinilyn. Donna se lippe gly oor die holtetjies op sy borsbeen en dan oor sy gespierde maag terwyl haar hande oor sy bobene streel. Maar ook sy weifel ’n oomblik. Simon neem haar hande in syne en laat sy kop talmend op haar bolyf rus. Hy kyk na haar met ’n blik so driftig en so hartstogtelik dat sy haar byna nie kan voorstel dat dit die koue en harde man met die winterhart is wat sy gister leer ken het nie. Hierdie is ’n somerman vol ongekende ie en teerheid. Maar dan sit hy vinnig regop en trek weg van haar. “Ek gaan myself heeltemal verloor as ek ’n oomblik langer naby jou bly. En dit wil ek nie hê moet gebeur nie. Ons ken mekaar skaars ’n dag. As ek jou wil bemin, moet dit onder die perfekte omstandighede wees, vir al die regte redes. En in my oë is daar net een rede wat werklik reg is.” Hy staan op en sy oë rus ’n oomblik op haar. “Ek dink ek gaan in die kranse van my energie ontslae raak. Sal jy op jou eie kan afstap? Ons sal daarna gou moet aanstaltes maak. Ek kry jou op die voorste strandjie.” Vir ’n oomblik voel Donna troosteloos en verlate. Hoe kan hy sy gevoelens soos ’n kraan toedraai en haar so vol begeerte hier agterlaat? Waarvoor is hy bang –
dat sy gevoelens hom heeltemal sal oorweldig? Dit kan net vrees wees wat hom nou wil laat wegstap. Moenie gaan nie, wil sy bedel, maar sy speel saam en knik teësinnig haar kop. “Hoekom wil jy dit doen? Waarin lê die sensasie van rotsklim?” “Jy sal dit net verstaan as jy dit self doen. Dit gaan daaroor om die grense te verskuif. Om te kyk hoe bang jy kan word. Om jou vrese te oorwin en weer in beheer te kom.” “Nou toe, jou ou adrenalienjunkie, gaan maar, maar wees net versigtig. Ek weet niks van rotsklim nie, so ek sal jou nie kan help as jy vashaak nie.” “Dit sal nie nodig wees nie. Ek doen dit in my slaap.” “Mmm . . . famous last words, soos hulle sê.” Hy buk oor en gee haar onverwags ’n laaste soen vol op die mond. Hierdie soen is anders: koel en lawend soos water – ’n troossoen van iemand wat wegstap van jou, al het hy jou pas weggevoer na ’n nuwe lyfwêreld. ’n Wonderwêreld waar sy in haar diepste dieptes kon aanvoel hoe haar hart vir hom, net vir hom, oopvou. ’n Rukkie later sien sy hom hoër teen die krans op verdwyn. Hy soek met sy vingers en voete vatplek aan die rotswand. Risiko’s . . . sy dink sy was sopas ’n risiko wat Simon nie kon hanteer nie, daarom het hy liewer ’n risiko gekies wat hy wel kan hanteer. Sy ken meer as een so ’n testosteroonaangedrewe adrenalienslaaf: daar is altyd nog ’n berg om te oorwin, nog ’n reksprong om te doen, nog ’n brug om van te swaai. Van ekstreme sportsoorte kan hulle nie genoeg kry nie. Sy leun terug teen die rots agter haar en maak haar oë toe om die sensasie te koester waarmee Simon haar gelaat het. Hemels . . . dit was hemels . . . Toe sy haar oë weer oopmaak, het hy reeds teen die steil krans uit aan die ander kant van die rotspunt verdwyn. Sy staan op, stof haar langsaam af en begin met die bospaadjie langs terugstap.
Dit was nou regtig malligheid van Simon om hierdie steil kranse aan te durf. Heeltemal roekeloos en ’n oorreaksie. Maar dit pas natuurlik by sy soort ekstreme sportmanpersoonlikheid. Sy weet hy is ’n rotsklimmer van formaat, afgesien daarvan dat hy ’n bergfietsryer en seiljagvaarder is. Sy hoop maar net hy kan die rotse beter hanteer as die golf van begeerte wat oor hulle gespoel het. Of is dit dalk waar dat die liefde jou onaantasbaar maak? Toe sy onder op die strand kom, sien sy meteens hoe die wolke reeds dik opgestapel lê. Die horison is lankal nie meer eindeloos blou nie. Sy gaan sit plat op die sand en strek haar uit in die son. Dit sal Simon seker ’n tydjie neem om strandlangs om te stap. Sy maak haar oë toe en dink weer aan hul romantiese son-interlude toe hy die sleutel tot haar diepste lyfbegeertes ontdek het. Sy blik was vol verlange voordat hy so vinnig opgestaan het. Sy voel die sonlig oor haar lyf spoel en dink terug aan hul tog met die Sea Star hierheen, hoe gekoester sy gevoel het met hom agter haar rug en die roer in haar hande. Na ’n rukkie staan sy op en stap halflyf die louwarm water in. Om die riwwe speel veelkleurige visse in die deurskynende diepte. Sy verwonder haar aan die skoonheid van die see se onderwatertuin. Dan kyk sy bekommerd om. Simon moes tog al sekerlik terug gewees het. Sy draf uit die water en op die strand neem sy weer die bospaadjie na die kruin. Sy het net halfpad gevorder toe sy hom ’n ent verder op die strand op sy maag sien lê. “Simon! Simon!” roep sy, maar daar is geen reaksie nie. Hy bly roerloos lê. ’n Koue hand vou om haar hart. Sy kies deur die bosse koers na hom toe en kom nie eens in haar haas agter dat die plantegroei haar bene en arms krap nie. Toe sy op die strandjie onder die krans kom, besef sy hy moes van die rotslys afgeval het. “Simon!” roep sy. Hoe vreemd om hom so leweloos te sien lê . . . Sy hoop nie . . . Kan dit wees?
“Simon!” roep sy weer, maar sy kry geen reaksie nie. Sy kniel langs hom op die sand. Hy het moontlik van die rotslys afgeval en ondertoe gerol, die area is taamlik skuins. Sy vat sy yskoue, toegeklemde hande ferm in hare en forseer hulle oop. In sy een hand is ’n wit skulpie; sy haal dit uit en sit dit ingedagte in haar broeksak. Sy lig sy kop op haar skoot en begin vryf sy hande warm. “Simon, asseblief, kom by . . .” Sy kreun ’n skietgebedjie en lig hom in haar arms op sodat hy regop sit. “Simon,” fluister sy oor en oor. “Kom by! Asseblief, word wakker!” Uiteindelik gaan sy oë stadig oop. “Dankie tog! Het jy seergekry?” “Wat het gebeur?” steun hy en probeer orent kom, maar sy gesig vertrek van pyn. Hy sak terug teen haar en maak sy oë toe. “Luister, ek doen my fotosessie in die hotel se swembad – punt, klaar! Dit was idioties om hiernatoe te kom. En hoekom het jy so weggestorm? Kyk nou wat het gebeur!” Sy besef dis die spanning wat haar so laat praat, maar sy kan haarself nie keer nie. Hy kyk stil na haar en dit lyk asof hy iets probeer plaas wat hy nie kan onthou nie. Dankie tog, dalk onthou hy niks van wat tussen hulle gebeur het nie, dink Donna. Sy kan haar nie laat meesleur deur romantiese begeertes wat geen toekoms het nie – nie dat dit nou die tyd is om daaraan te dink nie. Simon probeer weer regop kom en gee ’n yslike knoop. “Ons moet ’n plan maak om weg te kom, kyk hoe steek die weer op.” “Wag,” sê sy. Met bewerige vingers trek sy sy T-hemp op. Onder die oppervlak van sy vel, by sy ribbes, is ’n aaklige rooipers kol reeds aan die vorm wat van die een kant na die ander kant strek. Donna trek haar asem skerp in. “Ek dink jy het ’n ribbebeen of twee gebreek. Hoe voel dit hierlangs? Dalk het jy iets binnekant geskeur as dit so seer is. O
liewe hemel, jy sal moet hulp kry.” Sy buk af en soen hom ligweg op sy voorkop en dan op die seerplek. Dis ’n impulsiewe gebaar, nie uit begeerte nie maar omdat sy hom wil troos. Haar vingers raak delikaat aan die groter wordende pers merk. Simon vergeet vir ’n oomblik van die skerp pyn. ’n Nuwe sensasie gaan deur hom: ’n hartskreet wat hy nie geplaas kry nie. Hy probeer weer onthou wat vroeër gebeur het. Hy kyk op na die kranse en sien hoe betrokke die lug lyk. “Hierdie is sikloonweer. Ons moet dadelik wegkom.” “Hoe kry ek jou by die boot?” vra Donna en kyk bekommerd op. Die lug is nou bykans heeltemal toegetrek en ’n skerp wind laat stoot die see al hoër. Van die ander eilande wat sy skaars tien minute gelede kon sien, is reeds toe onder die miswolke. Dis nie lank nie of die middagreën gaan uitsak. Daar is nie tyd om terug boot toe te swem en versterkings met die radio te ontbied nie; sy weet in elk geval nie hoe die radio werk nie. Nou moet sy kophou. Sy besef sy moet die leiding neem. “Gelukkig vir jou was ek op my dag ’n uitstekende lewensredder. As ons jou net aan die strandkant van die boot kan kry. Kom ons probeer.” Sy skuif onder Simon uit en help hom om steunend en kreunend orent te kom. Hy gee haar ’n glimlag vol pyn toe hy swaar met sy arm op haar skouer leun. Hulle beur stadig vorentoe deur die sand. “Toe is jy nie net ’n mooi gesiggie nie,” probeer hy spot, maar Donna is in geen bui vir ligsinnighede nie. Dit neem ’n hele ruk, met ’n paar rusposes tussenin, om die stuk strand naaste aan die Sea Star te bereik. Simon is wasbleek en die sweet tap hom af. Donna besef sy pyn moet erg wees. “Vasbyt, ek sal jou hier uitkry,” praat sy hom moed in, want sy kan sien hy sien nie kans om veel langer so aan te sukkel nie. Die laaste paar meter sleep sy hom amper, voordat hulle op die strand neerplons. Die horison is onheilspellend blouswart met reënwolke. Selfs die branders is nou onstuimig. Sy sukkel met Simon deur die vlak water en swem toe met hom
lewensredderstyl na die seiljag, want hy het soveel pyn dat hy nie sy arms kan beweeg nie. Die grootste toets vir haar kom toe sy hom op die seiljag moet kry. Sy trek en stoot, maar slaag uiteindelik daarin deur die toue te gebruik. Sy sak vir ’n oomblik moeg op die dek neer toe sy hom veilig in die kajuit het. Van al die inspanning is hy naby aan bewusteloos. Sy haal haar noodhulpsakkie uit haar strandsak en stop die bloeding. “’n Florence Nightingale ook nog,” spot hy floutjies tussen steune en kreune deur. Sy moet dadelik die enjin aan die gang kry, want die weer steek nou lelik op. Die wind is kort duskant ’n stormwind. Simon gee fluisterend aanwysings oor wat sy moet doen om die boot aan die gang te sit en rigting te gee. Maar dan dryf hy in ’n koma in. Die pyn het duidelik te veel vir hom geword. Sy hoop nie daar is interne bloeding nie. Wonder bo wonder kry sy die enjin dadelik aangeskakel. Toe sy die jag se neus in die rigting van Mahé draai, begin die reën neersif: groot, warm druppels wat deur die wind aangedryf word. Die sterk wind druk die boot teen die reusebranders en die seiljag dobber rond soos ’n speelgoedbootjie. Kort voor lank moet die jag golwe van vier tot vyf meter hoog trotseer. Donna dink aan Simon se grappie en wens sy kon haarself aan die mas vasbind soos wat hy voorgestel het. Maar sy hou net haar oë op die veraf kaai. Gelukkig het sy dikwels met haar waterskiëry saam met haar pa op die skiboot gery en is sy darem nie heeltemal onkundig nie. Dit voel asof dit hulle ’n leeftyd neem om die kaai te bereik. Wat ’n geluk dat Simon haar met die rit daarheen gewys het hoe om die roer en die kontroles te gebruik. Toe sy uiteindelik die enjin afskakel en die ankertou om die paaltjie gooi, roep sy dadelik om hulp. Van die hotel se personeel kom aangehardloop en help haar om Simon uit die boot gelig te kry. Die stemme en beweging wek hom uit sy koma. Die hotelverpleegster neem beheer oor. Sy besluit dat die erg beseerde en geskokte Simon dadelik na die hospitaal op die hoofeiland geneem moet word. Sy vermoed daar is meer en ernstiger beserings as die kneus- en seerplekke, dalk ’n paar gebreekte ribbes en bekkenbreuke? Daarby is hy erg getraumatiseer deur
die val. “Donna?” mompel Simon deurmekaar en probeer regop kom toe hulle hom op ’n draagbaar lig. “Waar is jy? Is jy veilig? Het jy seergekry?” Sy oë flits oor die gesigte om hom totdat hy hare vind. Hy strek sy hand na haar uit. Donna haal die skulpie uit haar sak, plaas dit in sy hand en vou sy vingers daarom. “Jou gelukbringer. Dit was in jou hand toe ek jou gekry het. Alles sal regkom, jy sal sien.” “Dankie,” fluister hy in ’n seer, growwe stem. Donna voel asof sy self inmekaar kan sak, maar sy kry darem ’n vermoeide glimlaggie uit. Sy kyk hom hulpeloos agterna toe die draagbaar oor die strand weggedra word. Een ding is seker: sy keer nie môre terug na daardie eilandjie – wat iemand pas as Ille Belle Vue beskryf het toe sy verduidelik het waar hulle was – vir ’n fotosessie nie. Voorbladfoto ofte nie. En beslis ook nie vir enige ander rede nie. Sy het wyser en sterker oor ’n hele aantal dinge uit hierdie storm gekom – en die minste daarvan is die kuns om ’n seiljag as ’n motorboot deur ’n stormsee te navigeer. Die meeste? Wel, net die tyd sal leer.
4
’n Simpatieke Chloe maak vroegoggend ’n draai by Donna waar sy afgemat in haar hotelkamer lê. Chloe lyk nogal in haar noppies met haar pragtige, oorgegrimeerde self. “Siestog, jou arme ding,” sê sy met ’n opgeruimde stem. “Sjoe, dit lyk of ’n trein oor jou geloop het! Dié Simon tog . . . mans is so, jy weet, so vol van hulleself. Kyk nou net waar het Simon se windmakerigheid jou gekry: pens en pootjies in die bed. Om nie van homself te praat nie. Foeitog, hy is afgeskryf vir maande.” Sy skud haar kop. “Mans . . . hulle leer net nooit nie.” Donna glimlag halfhartig en skuif dieper onder die lakens in sodat sy toegespin soos ’n papie in ’n kokon lê. Sy wens die veels te vrolike Chloe word deur die aarde ingesluk. Sy weet werklik nie hoe sy die volgende dag voor die kameras gaan verskyn nie. As dit net nie vir die simpel weddenskap was nie. Sy het haar vriendinne gisteraand ge-SMS, maar van handdoek ingooi is daar geen sprake nie. Sy het dadelik twee SMS’e teruggekry: Vasbyt girlfriend! Jy is die blinkste ster aan die Sport SA-hemel. Nou is jou kans! Kry jouself in rat en laat spat! Liefies, Benita. Glo nog steeds in jou. Jy is die beste, het dit nou weer bewys. Sien jou op voorblad. Christina. Donna kyk vlugtig na Chloe. Sy lyk meer beeldskoon as ooit vantevore. Uitgerus, fris en vars. Elke sentimeter ’n swemdragmodel wat gewoond is daaraan om in skrapse kleertjies te poseer. Sy wat Donna is, voel asof sy vir die res van haar lewe in ’n sweetpak kan rondsluip. “Hoe het dit gister met jou sessie gegaan?” vra sy om die onderwerp te verander.
“Die water was heerlik en Chris was ’n droom. Hy is darem ’n totale liefling. Hy was doodbekommerd oor jou toe jy gisteraand so inmekaarsak.” Sy gooi haar blonde krulle agtertoe. “Is daar iets tussen julle? Ek het hom lanklaas so ontsteld gesien – hy was woedend vir Simon. As dié nie bewusteloos was nie, dink ek sou Chris hom uitgeslaan het toe julle hier aangekom het. Jy het só sleg gelyk!” Dankie, Chloe, sê Donna amper hardop, nou voel ek soos ’n miljoen dollar. Maar sy lig net haar wenkbroue en sê: “Wat het Chris gesê?” “Hoe onverantwoordelik dit van Simon was en so aan, dat hy beter van hom verwag het. En as hy wat Chris is dit geweet het, het hy jou nooit laat gaan nie.” Donna glimlag oor die insinuasie in Chloe se stem. “Daar is rêrig niks tussen ons nie.” “Jy bluf my nie! Chris was gisteraand tydens ete soos ’n buffel met ’n seer poot. Ons moes net keer of hy het by jou kom inloer.” Donna maak haar oë vermoeid toe. Is dít dalk waarna Simon wou verwys toe hulle daar op die rots gesit het? “Wat doen julle vandag?” vra sy vir Chloe en wonder hoe sy ooit weer opgestaan gaan kry. Haar hele lyf voel swaar, en haar spiere is styf. Chloe klets vrolik voort oor haar planne vir die dag terwyl Michelle met haar sessie besig gaan wees. “Ek moes Michelle net keer om nie gister saam met Simon te gaan nie,” sê sy vertroulik. “Praat van jou en Chris . . . ek dink daar is iets aan die ontwikkel tussen haar en Simon. Omtrent hoog tyd ook. Dis die derde jaar wat sy die swemdraguitgawe doen; daar was al verlede jaar sulke vibrasies tussen hulle. En ek weet hulle sien mekaar as sy Kaap toe gaan. Maar Simon is natuurlik te versigtig om hom te verbind. Ek dink daar is so ’n bietjie verbintenisfobie aan sy kant, as jy my vra. Hierdie sportiewe manne is mos so, veral iemand soos Simon. Hy is die ewige losloper.” Sy klets nog ’n rukkie voort en verskoon haarself dan met ’n oorvriendelike
groet. Donna sak dieper terug teen haar kussings en maak haar oë toe. Sy dink aan Simon se soepel, gespierde lyf teen die wit sand. Sy is seker daardie sagte sand het hom van ’n grusame dood gered. Sy onthou hoe paniekerig sy gevoel het toe sy hom nie wakker kon kry nie. Daar was werklik ’n oomblik van suiwer, onverdunde angs toe sy gesien het hoe die storm aankom en sy nie vir Simon op die boot kon kry nie. En weer so ’n absoluut paniekerige oomblik toe sy die boot aan die gang moes kry. Sy onthou haar eie gesmeek, haar versugting: as hy maar net sy oë sal oopmaak . . . weer sy blik so oor die einders kon stuur terwyl hy agter haar staan met sy arms om haar geslaan. Sy dink terug aan hoe hy op die strand geprewel het: “Help my, Donna!” Hy was op die punt om flou te word en haar hart het onbeheers aan die klop gegaan. Voordat sy hom verder oor die strand gesleep het, het hy na haar gekyk met iets onpeilbaars in sy oë. Sy dink terug aan haar spontane soen toe hy met sy kop op haar skoot gelê het. Sy het hom gesoen in ’n oomblik van swakheid en teerheid, maar daarna het sy dadelik weer aan hom gedink as die formidabele Simon Conradie. “Môre, Skoonheid!” roep ’n stem voor haar deur. “Kan ek inkom?” Donna sit vinnig regop en trek die laken tot teen haar ken op toe Chris binnekom. Die syerige materiaal voel snoesig teen haar kaal skouers. “Ek dog jy is al weg om Michelle –” “Jy weet hoe lank dit vat om opgestel te kom. En Michelle is die prima donna van alle prima donnas. Wat ’n pyn! Ek weet nie hoe Simon dit met haar uithou nie.” “Chloe het gesê hulle gaan soms uit en dat daar iets tussen hulle broei. Dink jy hy sal haar daaroor op die voorblad sit?” “Soms? Hulle is in die Kaap gedurig in mekaar se geselskap, maar ek dink nie hulle is al katelmaatjies nie. Maar nee, Simon sal hom nie deur sy gevoelens laat beïnvloed nie. Dis nou te sê as hy gevoelens het. En onthou, die fotodirekteur het
ook ’n sê. Maar jy sal nou vinnig moet herstel as jy op die voorblad wil beland.” Sy dink aan wat Chloe gesê het. “Lyk ek só sleg?” “Stel dit so: jy is nie reg vir die New York-media nie.” Hy kom sit langs haar op die bed met sy hande agter sy rug. “Ek is bekommerd oor jou. Sal jy môre op jou voete kan wees? Ek wil nie hê jy moet ineenstort net omdat Simon Conradie sy gewig wou rondgooi nie. Ek het lankal die perfekte plek uitgekies waar ek jou wil afneem. Ek weet regtig nie hoekom hy ook nog op ’n verkenningstog moes gaan nie. As ek nie van beter geweet het en as Michelle nie hier was nie, sou ek gedink het hy wou jou alleen kry.” Hy bring sy hande agter sy rug uit en oorhandig ’n perfekte bos pienk frangipani’s aan haar. Haar oë skiet vol trane. Sy het nie gedink hierdie geharde fotograaf het so ’n sagte kant nie. Hy buk vooroor en soen haar op haar voorkop: ’n vlindersoen, ’n aanraking só sag dat sy amper kon dink sy verbeel haar dit net. “Toe maar, dis die skok,” sê hy vertroostend toe die trane onverwags oor haar wange begin stroom. Hy sit sy arm om haar, sy gesig vol deernisvolle kommer. Sy maak haar oë toe en hy trek haar so hard teen hom aan dat sy vir ’n oomblik kreun. Maar dan gly haar arms om sy nek en syne rondom haar rug. Hy buig sy kop oor hare en streel met sy lippe oor haar wang af na haar mond. Dit moet nog die skok van gister wees wat haar so laat reageer, dink Donna verward. Maar dit kan ook Chris se forse, manlike teenwoordigheid wees; sy voel so broos en breekbaar. Sy weet nie of hy haar nog nader getrek het of sy vir hom nie, maar skielik is dit net die dun laken wat tussen hulle is. Dis asof selfs haar vel daarin oplos. Hy ruik na duur skeerroom, koel soos denne. Sy goedgevormde lyf lê geteken teen die sonlig wat deur die oop venster instroom. Sy hande is op haar skouers, sy aanraking vol verlange. Sy weet as sy nou beweeg, sal die oomblik verby wees, só fragiel is dit wat tussen hulle lê. Hy kyk na haar met ’n huiwerige blik. “Ek is ’n buffel,” fluister hy. “Hier lê jy
siek van skok en al waaraan ek kan dink, is hoe verleidelik jy teen die kussings lyk.” Hy trek weg van haar en laat sy hande stadig teen haar arms afgly. Sy voel die warmte van sy palms vir oulaas teen haar polse voor hy opstaan en wegdraai. Hy gaan staan by die venster en tuur na buite. “Ek moet gaan vir Michelle se sessie . . . Sal jy kans sien om vanaand al saam met my op die strand te gaan piekniek hou? Ek sal die hotel vra om vir ons ’n mandjie te pak. Ons hoef nie ver te stap nie.” Donna glimlag skalks. Dis nogal lekker om hom so ontwrig te sien. Sy het hom al dikwels agter die kamera dopgehou: koel soos ’n komkommer. Chris is gedissiplineerd en as hy ’n foto geneem het, is die kliënt die eerste keer tevrede. Min dinge, indien enige, versteur sy kalmte selfs ietwat. En beslis nie die skoonhede voor sy lens nie. “Kom ons kyk hoe ek vanaand voel.” Hy vee met sy hand oor sy donker hare asof hy nog iets wil sê, maar hom dan bedink. Met ’n sagte groet en ’n laaste glimlag is hy by die deur uit. Donna kyk hom half hartseer agterna en glip dan terug tussen die lakens. Sy draai haar hare in ’n bondel en laat die sysagtheid daarvan ’n oomblik teen haar hals speel voordat sy dit bo haar kop vashou. Ook maar goed sy het ’n nagrok aan wat sy onlangs by ’n voorste ontwerper as ’n geskenk gekry het ná ’n suksesvolle modevertoning. Sy dink sy weet nou hoe om Chris om te krap: hy is duidelik nie bestand teen vroulike fyngoed en weerloosheid nie. Vir eens is sy te moeg om te dink wat sy vanaand gaan aantrek. Droomland wink. Op haar selfoonskerm flits ’n koevertjie. Sy maak dit oop en dis ’n boodskap van Benita: Girlfriend wil net vir jou sê jy is wonderlik. Leka lala, more sprankel jy. Armani wag! Vriendinne . . . wat sal ’n mens sonder hulle doen? Aan die ander kant, dis dié tweetjies wat haar in die moeilikheid gedompel het. As sy eintlik mooi daaraan dink, is dit alles hulle skuld. Sy wonder wat hulle sal sê as sy hulle van haar romantiese interlude op Ille Belle Vue vertel.
Maar sy weet sy sal nooit haar liefdesgeheim verklap nie. Miskien sou hulle haar tog kon help om ’n voldoende antwoord op haar tergendste vraag te vind: Kan ’n uur van ongebreidelde hartstog tot ’n lewenslange harts- en sielsverbintenis lei? Kan ’n liefdesvonk van ’n oomblik ’n ewige vuur in twee harte laat ontvlam? Sy dink dromerig aan Simon se woorde op die eiland: Jou naam is so reg vir jou. Sy sluimer in en droom van ligpienk frangipani’s wat op ’n spieëlgladde meer dryf. Maar dis Simon Conradie wat haar onverwags in haar drome tegemoetseil op ’n seiljag met die naam Verre Winde. En dis na hom wat sy hunkerend in haar droom smag.
5
Laatmiddag sit ’n minder moeë Donna rustig met ’n drankie van gefermenteerde palmboomsap by die kroegswembad toe haar selfoon lui. Sy hou dit al heeldag byderhand, want simpatieke SMS’e van geliefdes en vriende kom die een na die ander deur vandat die nuus van haar en Simon se noue ontkoming bekend geraak het. Sy wil graag self almal gerusstel dat sy springlewendig is. Simon is bedenklik dog stabiel in die waakeenheid. Volgens die jongste nuus wat sy gekry het, sal hy ’n operasie van sewe uur vir sy inwendige beserings moet ondergaan. Hierdie keer is dit ’n onbekende nommer wat oor die selfoonskerm flits. Sy antwoord huiwerig. “Donna, dis Simon. Kan jy praat?” Sy stem klink kragteloos; hy is seker onder verdowing. “Hi!” sê sy en sit regopper, skoon verward. Sy het gewonder wat sy vir Simon sal sê as sy die eerste keer weer met hom praat, en nou kan sy net ’n patetiese Hi! uitkry. “Ek weet nie eintlik hoe om dankie te sê nie, so verskoon my,” klink sy stem dof in haar oor op. “Jy het my lewe gered. En wel, dit is verstommend . . . ek weet nie wat om te sê nie.” Donna voel ewe verbouereerd. “Jy sou dieselfde vir my gedoen het. Maar vergeet nou eers daarvan, waar is jy?” “Op die hoofeiland. Ek word later vanmiddag teruggevlieg Suid-Afrika toe. My bekken het ’n ernstige fraktuur en my ribbes is gekraak . . . Ag, jy wil nie die hele storie hoor nie. Is jy oukei?” “Hei, ek is ’n loopplankmodel. In teenstelling met wat jy van ons glo, is ons nie
sissies nie. Tawwe Tinas, almal van ons, soos wat jy sekerlik na dese weet. Hoeveel ure van elke dag dink jy is ek op my voete?” “Jou fiksheid het my beïndruk. Ek weet nou nog nie hoe jy my op die boot gekry het nie. Ek is geen liggewig nie. En dit nadat jy my eers omtrent die hele strand vol gedra het en met my boot toe geswem het. Ek kan nie veel daarvan onthou nie. Ek kan my maar net indink dat dit ontsettende deursettingsvermoë moes gekos het.” “Dis ek daardie – honderd persent stamina. Maar los maar eers die lofsange, ek móés jou red. Ek het nie geweet hoe om met die boot se radio te werk nie én daar was ’n sikloon op pad. En ek sou dit nie alleen kon maak nie, ek ken net ’n skiboot. Ek’s taai, maar nie só taai nie. Dit was ’n spanpoging.” “Jy is baie taaier as wat ek gedink het. En dat jy nog die boot by die eiland teruggekry het . . . ek kan niks daarvan onthou nie.” “Jy was die meeste van die tyd bewusteloos. Gelukkig kon ek onthou wat jy my die oggend gewys het. En ek het darem al my pa se skiboot gery, al was dit net op ’n dam.” Sy besef weer hoe moeg hy klink toe hy sê: “Hoe is die weer? Gaan hulle jou foto’s môre kan skiet?” “Die sikloon is glo op pad; ons het gistermiddag tydens die storm die eerste waarskuwingstekens gesien. Ons sal gou moet skiet en klaarkry. Maar moenie bekommerd wees nie, Chris het reeds ’n plek. Hy is vol idees.” “Hmm . . . ek kan my indink waarheen hy jou sal neem. Jy moet maar katvoet loop vir hom, hy is nogal ’n hartebreker. Ek ken hom nou al ’n paar jaar wat hy gereeld vir ons foto’s neem. Kom ons sê maar net daar was al ’n hele paar bykanse verlowings, en selfs ’n keertjie wat hy voor die kansel omgedraai het.” Nou toe nou, dink Donna vererg. Wie is Simon Conradie om vir haar te preek, en dit nogal oor Chris? “Ek kan vir myself sorg, dankie. Jy vergeet ek is gewoond aan New Yorkers, hulle het harte van graniet.” Doodse stilte heers vir ’n oomblik tussen hulle. Dan sê hy sag: “Donna, ek . . . Ille Belle Vue . . . ek sou alles presies weer net so wou doen – dis nou alles voor
my ongeluk. Ek sou dit net so wou herhaal.” “O . . .” fluister sy oorbluf. “Dit was onvergeetlik, subliem,” sê hy in ’n ongewoon gevoelvolle stem. “Hmm, verruklik,” sug-sê sy. Sy voel ’n leegheid op haar maag. Sy weet nie wat om te sê nie. En sy is bang sy sê die verkeerde ding, sy doen dit so maklik met Simon. Sy is bevrees om weer dieselfde foute met hom te maak, al weet sy dié vrees is gewoonlik ’n selfvervullende profesie. Sy moenie eens daaraan dink nie. Dis net . . . hy maak haar op haar senuwees en dan verloor sy alle rede. Hy gee haar so ’n holkolgevoel op haar maag. “Ek wil jou werklik gou weer sien,” gaan hy voort. “Wanneer kom jy weer Kaapstad toe? Ek sal jou graag my Kampsbaai-woonstel en Verre Winde wil wys. En ek skuld jou ’n groot geskenk om dankie te sê.” Donna voel verward. As sy nou gaan praat, gaan sy die verkeerdste ding moontlik sê. Dit werk nou maar net so: sy praat altyd haar mond verby as sy in ’n hoek gedruk word. Ek sou alles presies weer net so wou doen . . . Wie sou kon dink die afsydige, kil Simon Conradie sal dít vir haar sê? Nie dat sy nou meer aan hom dink as afsydig en onbetrokke nie. Sy het gedink hulle gaan albei hul bes probeer om van Ille Belle Vue te vergeet. Miskien het sy hom verkeerd opgesom. Dié gedagte laat haar nog meer verward voel. Is daar dan twee Simons? En sal die regte een opstaan, asseblief? Sê nou sy het die kat heeltemal aan die stert beet? Nee wat, sy beter die gesprek in ’n ander rigting stuur voordat sy geheel en al ’n gek van haarself maak. “Ek weet wat jy my kan gee: sit my op die voorblad van jou swemdraguitgawe. Dit sal ’n groot genoeg geskenk wees vir die redakteur se lewe,” sê sy onnutsig. Dis gou duidelik dat Simon te moeg voel om geamuseerd te wees. Maar die redakteur in hom is nie te moeg om hom dadelik te vervies vir sulke
opportunisme nie. “Dis emosionele afpersing!” sê hy bloedig vererg. “Jy weet ek sal nie daarvoor val nie. Nie eens in my huidige toestand nie.” “Kalmeer, Simon, ek was nie ernstig nie,” paai sy. “Ek dink jy is. Jy van alle mense behoort te weet ek kan nie nou so ’n belofte maak nie. En dis uiters onprofessioneel van jou om juis nou so ’n kans met my te waag. Jy is nog nie eens afgeneem nie, daar is soveel dinge wat nog kan gebeur.” Skielik is hy weer ’n vreemdeling. Wat ’n komplekse man . . . Donna het regtig nie die krag vir hierdie stryery nie. Dis soos sy gedink het: sy eilandliefdesgedagtes was maar kortstondig. Hy het gou van deuntjie verander. Simon Conradie het duidelik net twee liefdes: homself en Sport SA. En dalk Michelle, as sy die skindergerugte moet glo. “Simon, dit was regtig net ’n grappie! Tot siens!” sê sy en sit haar selfoon af. Sy weet sy het nou op tone getrap wat sy kon vermy het, maar sy is nou eenmaal so. Sy praat gewoonlik haar mond verby as sy nie weet wat om te sê nie. Ek sou dit net so wou herhaal, het hy gesê. Ja, maar wat van Michelle? dink sy sinies. Van Michelle gepraat: hy het seker reeds besluit sy gaan op die voorblad wees en het haar dalk dit belowe – dié dat hy so driftig gereageer het, besluit Donna. Wel, sy ou groot Nike-tekkie in ’n soesji-blik. Ons sal sien, meneer die redakteur, hoe jy gaan nee sê vir die foto’s wat Chris môre van my gaan neem. Of my lyf seer is of nie, dit sal foto’s wees waarvoor jy nie nee kán sê nie, besluit Donna vasberade. Sy ken haar sterk punte, en haar natuurlike skoonheid kom ten beste na vore juis in die natuur. Verder weet sy sy is veel meer as net nog ’n swemdragmodel. Sy het ’n ingebore grasie en elegansie wat altyd op film wys. En daarteen sal Simon nie bestand wees nie. Meer as vantevore wil sy nou die weddenskap wen. Dit raak sommer ook ’n geveg teen Simon en sy vooropgestelde idees, en teen sy witbroodjie, Michelle.
Sy gaan hulle op hulle neuse laat kyk. Wat Michelle en Chloe betref, het sy ’n geheime wapen wat sy kwistig teen hulle gaan gebruik: die onteenseglike aantrekkingskrag tussen haar en Chris. Dié onuitgesproke bekoring tussen hulle sal beslis ’n verskil maak op film. Sy weet ook Chris is ’n perfeksionis wat haar absoluut onvergeetlik wil uitbeeld, en dit sal baie help. Natuurlik was sy nie ernstig toe sy haar voorbladvoorstel aan Simon gemaak het nie. Sy het soos gewoonlik haar mond verbygepraat – en sy het hom probeer terg. Verkeerde opsie! Sy sin vir humor het duidelik op Ille Belle Vue agtergebly. Dalk het hy nooit een gehad om mee te begin nie! Hoe dit ook al sy, sy gaan op meriete die voorbleisie wees. Sy SMS vir Benita en Christina: Susters! Hou duim vas. Het red vies gemaak, kanse skraler. Sal moet uithaal en wys! Liefies, D. En dis presies wat sy met oorgawe gaan doen: uithaal en wys. Die uitdaging werk soos ’n tonikum op haar gemoed. Handskoene af, meisies! sê sy innerlik vir Michelle en Chloe toe sy opstaan om te gaan regmaak vir die aand.
6
Toe die son agter die palmbome in die see wegraak soos ’n koperpennie wat in ’n spaarbussie val, sit Donna en Chris hul piekniekmandjie op ’n beskutte stukkie strand neer. Sy het reeds geloer: dis vol gebakte broodvrug, seekos, klappertert en suikerrietrum. Haar fleurige blombedrukte, skouerlose toppie hang sag en vleiend oor haar wit denimkortbroek. Sy het haar skouers doelbewus oop gelaat omdat die tropiese wind so strelend daaroor speel, en buitendien is stranddrag die amptelike drag op Mahé. “Het jy al van Simon gehoor?” vra Chris gemaak terloops terwyl hy agteroor lê op ’n strandmat met ’n glas wit wyn in sy hand. Sy oë rus bewonderend en vol begeerte op Donna se kaal skouers en satynsagte hals. Sy kyk onderlangs na hom. Volkome ontspanne in sy standaard wit T-hemp en denimkniebroek, halfkort baard, sy donker hare nog klam van die stort. Sy vel het ná die dag se fotosessie in die son ’n natuurlike sonbruinvoorkoms. Sy was nog altyd aangetrokke tot vars reuke, en vanaand het Chris ’n naskeermiddel met sitrusondertone aan. Sy steek ’n dik ivoorwit kers aan en maak dit in die sand staan. In die lig daarvan sien sy die fyn sand tussen sy tone en oor sy skraal voete. Hy het sterk enkels en mooi tone, dink sy ingedagte. Die sterk voete van ’n nugter man wat plat op die aarde staan, maar wat tog ook oor allerhande lewenswyshede kan gesels. “Ja,” knik sy langsaam. “Maar hy is nie in die beste bui nie.” Sy voel nog steeds half simpel oor vanmiddag se gesprek met Simon. “Wanneer is hy ooit?” sê Chris skepties. “Maar kom ons vergeet van werk en die wêreld en Sport SA. Vanaand wil ek jou beter leer ken.” Hy streel sagkens oor die bokant van haar hand. “Moenie bekommerd wees nie,
ek sal jou vroeg genoeg terughê by jou kamer dat jy kan uitrus vir môre se fotosessie. Ek wil hê ons tweetjies moet vroegoggend die voorbladfoto neem. Ek weet Simon wil Michelle vanjaar op die voorblad kry; sy was nou al twee jaar op die binneblaaie. Tydskrifte maak mos so – kry eers die celebs op die binneblaaie famous en skuif hulle dan na die buiteblad.” Sy oë rus ingedagte op die horison waar die branders wit breek. “Glo my, Michelle en Simon het nie ’n kans nie. Hy sal haar iewers anders moet voortrek of toutjies vir haar moet trek. Sy was glad nie op haar beste vandag nie. Sy was eintlik heel alledaags, niks spesiaals nie. Ek weet regtig nie wat ’n uitsoekerige alleenloper soos Simon in haar sien nie,” sê hy afkeurend. Donna lag bytend. Gegewe Michelle se reputasie, dink sy sy weet wel wat die bekoring tussen hulle is. “Net so terloops: daar is van die mense in die mediabedryf wat wens jy het hom op daardie eiland gelos. Nie almal huil hulle oë uit soos Michelle gisteraand nie,” sê Chris reguit. “Is jy en Simon goeie vriende?” vra Donna versigtig. “Stel dit so: ons kyk mekaar al jare lank uit. Ons ken mekaar en ek kry baie werk by sy tydskrif, maar ons sal mekaar nie om middernag bel en ons probleme bespreek nie. Ek dink daar is so ’n bietjie professionele jaloesie aan Simon se kant, al kompeteer ons nie in dieselfde veld nie. Party ouens hou net nie daarvan as ander dit maak nie. En hy is uiters kompeterend, ook as dit by vroue kom.” “Het julle oor Michelle vasgesit?” “O nee, ek val nie vir sexy nie. Ek val vir beeldskoon.” “Ek dog ons gaan nie . . .” herinner Donna hom. Sy is in elk geval siek en sat om van Michelle en Simon te hoor, en sy wil ook nie wonder hoekom nie. Die hele idee is vir haar net onaanvaarbaar. “Ekskuus, jy is reg. Hier is ek al weer aan die praat oor werk. Waarheen gaan jy ná môre se sessie?” verander hy vernuftig die onderwerp. “Ons het die New York Modeweek wat voorlê.” Sy speel ingedagte met sy hand,
vat aan die spasies tussen sy vingers en voel hoe satynsag die groefies tussen die prominente kneukels is. Fotograwe het gewoonlik hande soos pianiste: lang, skraal vingers sonder opmerklike kneukels. Chris s’n is soepel en sterk en word mooi smal op die punte. Sy naels is goed versorg, met die naelvliesies teruggedruk en vierkantig geknip. Dis die een voordeel daarvan om gereeld saam met grimeerkunstenaars op stel te wees, weet sy. Of jy nou model, fotograaf, joernalis of wie ook al is, hulle kom jou gou by as proefkonyn en voilà! Een besoek minder aan die skoonheidsalon. Maar dis ook reg, want ’n fotograaf se hande is so belangrik soos sy oë en sy rug. “Speel jy klavier?” vra sy op die ingewing van die oomblik. Hy draai sy hand om en vat hare in syne vas. Sy voel daar is ’n klamte in sy palm en kyk ondersoekend na sy gesig. Chris knik sy kop instemmend. “Ek kom uit die era toe dit nie cool was vir seuns om klavier te speel nie. So ja, ek speel, maar net op versoek. Watter liedjie sou jy wou hê moet ek vir jou speel?” Die laaste strale van die son weerkaats in sy tergende oë. Hy trek sy hand uit hare en speel met haar hare wat vorentoe geval het en op haar hals lê. Daar is ’n opvallende sensualiteit aan die manier waarop hy haar voorste haarlok optel en daaraan ruik. “Ek weet nie,” sê sy met ingehoue asem. “Hoe groot is jou repertoire?” Hy glimlag skalks en sy besef skielik hoe die woorde tussen hulle dubbele, verskuilde betekenisse kry. Haar wange word warm en sy kyk vinnig weg. Die sikloonvoorwind het opgekom en ritsel deur die blare van die palms om hulle – ’n suisende, strelende klank soos twee dansers wat intiem kaalvoet op ’n houtvloer dans op die stil binnemusiek in hul harte. Dis nou reeds donker, met blink sterre wat teen die gordyn van die nag flonker. “Mmm, laat ek sien. Vir ’n rabbedoe soos jy sal my klassieke nommertjies nie deug nie. Ek dink iets meer lewendigs . . . dalk iets romanties soos ‘Love changes everything’?”
“Glo jy daaraan?” vra sy en kyk reguit na hom. Verbeel sy haar, of ontsenu die gesprek hom so effe? “Natuurlik, sonder die liefde is die lewe vervelig. Die liefde maak die lewe opwindend. En jy? Wat glo jy?” “Ek weet nie. My voete is nog nooit regtig onder my uitgeslaan nie. Dalk was ek te besig. Of dalk is my voete te stewig op die grond. Die liefde is vir my ’n raaisel. Ek weet net dit verander mense, hul harte en siele.” Hy leun ernstig vooroor. “Vir ons almal, Bella Donna, vir ons almal. Vir die gelukkiges soos jy nog meer as ander, want dit laat julle aanhou glo daarin. Liefde het onskuld nodig. Maar daar is altyd ’n eerste keer,” fluister hy en lê die palm van sy hand teen haar wang. Hy draai haar gesig stadig na hom toe; sy was onbewus van hoe naby hy aan haar is. Hy druk haar ligweg maar teer agtertoe totdat sy plat op die matjie lê, haar hare in ’n poniestert oor haar skouer gevou. Hy skuif sy arm onder haar nek in en lig haar effe op na hom toe. Dit voel of haar wilskrag haar heeltemal verlaat het. Sy stoot haar hals teen hom aan. Twee kan dié speletjie speel. Haar vingers sluit agterom sy nek. “Miskien is vanaand dié keer,” tart sy terug. As antwoord buig hy oor haar. Sy mond rus warm en waaghalsig op die kuiltjie in haar nek. “Praat ’n bietjie minder,” fluister hy. “Ervaar net met al jou sintuie.” Hy laat sy lippe verder ondertoe glip van haar kuiltjie, na die gleufie tussen haar borste. Donna voel die tekstuur van sy sagte T-hemp teen haar vel. Sy maak haar oë toe en gee haar oor aan die lighoofdige, salige gevoel. “Jy het ’n onfeilbare resep vir eerste liefde,” prewel sy, net om naastenby haar sinne te behou. Chris lig sy kop. “Ek wil ’n spesiale afspraak met jou maak – later.” Donna se oë vlieg oop. “Waarvoor?” “Dis my verrassing,” sê hy geheimsinnig en rol weg van haar.
Hy neem sy glas wyn en lê terug op sy elmboog sodat hy na haar kan kyk. Sy sit regop en vroetel met haar hare. Hoekom is ek so verbouereerd? wonder sy. Ek is mos nie meer sestien nie! Dis tog nie die eerste keer dat ek op ’n romantiese strand saam met ’n aantreklike donkerkopman lê en wyn drink nie. Ek beter nou my afstand hou, of ek verloor kop, dink sy benoud en skuif effe weg. Maar terwyl hulle oor ditjies en datjies gesels en flirteer, weet sy intuïtief daar is ’n verskil. Sy en Chris is op dieselfde golflengte. Daar is min mense, en veral mans, wat besef hoe ’n model se lewe werk. Vir Chris hoef sy nie te verduidelik hoe om niks in die modewêreld of die media té ernstig op te neem nie – die kritiek, die ontwerpersklere, die beeld na buite. Selfs die kontrakte met die stewige betaling. Hy sien deur die glans, want hy is self ’n glansskepper. Eintlik is die feit dat hulle nie uit twee verskillende wêrelde kom nie, meer verleidelik as die manier waarop hy haar optrek en styf teen hom aantrek, dink sy veel later toe hulle aanstaltes maak om te loop. “Tyd vir jou skoonheidslapie,” sê Chris tergend. “As ek jou nie nou laat gaan nie, gaan jy nooit die voorblad haal nie.” “Is dit vir jou belangrik?” vra sy ernstig. “Die hele klem op skoonheid en voorkoms in ons modebedryf? Is dit vir jou lewensnoodsaaklik?” “Jy ken ons fotograwe – ons leef deur ons oë. Skoonheid en perfeksie is ’n lewenstyl. Ek kan my nie iets anders voorstel nie,” sê hy doodeerlik. “Wat is vir jou die belangrikste?” “Wat kan ek sê? Vir my is estetika altyd belangriker as inhoud. Dis die volle pakkie wat tel, nie net dit wat binne-in is nie. Skoonheid is alles. Dis waaroor die lewe gaan – en nou praat ek nie net van mense nie. Van die natuur. Van ’n mooi kunswerk of ’n perfek ontwerpte kar.” Klink bekend, dink Donna. Sy het al dikwels fotograwe sulke uitsprake hoor maak. Chris tel die piekniekmandjie op en hulle stap hand aan hand terug hotel toe. Die
stilte tussen hulle is gemaklik. Toe hy haar by haar kamerdeur groet, trek hy haar onder sy arm in en gee haar ’n drukkie. Hy laat sy mond vir ’n oomblik op hare rus in ’n piksoentjie wat haar kwesbaar en weerloos laat voel. Hy het iewers deur die loop van die aand vir my mens geword, dink Donna verbaas. Sy wens net hy het wel vir haar klavier gespeel, dit sou die aand perfek afgerond het. Miskien eendag . . . En ja, sy glo wél die liefde verander alles: mense, harte en siele.
7
“Sit die frangipani’s tussen jou tone. Jou voete lyk baie sjiek en sexy met daardie pêrelpienk naellak. Dit sal die kleur in die blommetjies optel,” sê Chris toe Donna stelling inneem in die vlak, kabbelende water. Sy oë glip met veel meer as professionele belangstelling oor haar. Van haar stralende, sonbruin vel tot by haar lang, smal voete wat in perfekte roompienk halfmaantjies aan die punte van haar tone eindig. As gesogte internasionale loopplankmodel het Donna hardkoppig geweier om in die tradisionele mini-bikini vir die swemdraguitgawe te verskyn. Dit was ’n spesifieke stipulasie in haar kontrak met Sport SA, tot Simon se ontsteltenis. Teen die tyd dat hy die kontrak moes goedkeur, was die meeste van die reëlings al getref en het almal in die mediawêreld geweet Donna Joubert gaan vir hulle poseer. Hy kon nie kop uittrek nie. Donna het vir Leigh Gianelli, haar gespanne en gedrewe agent, direk opdrag gegee oor die swemdrag waarin sy sou verskyn. Sy los gewoonlik al die onderhandelings vir haar korrelkop-agent, wat vir niks of niemand skrik nie, hoewel sy ligloop vir Simon Conradie. Tot Leigh wou die piep kry oor Donna so “moeilik” oor die Sport SA-kontrak was. Sy het aanhoudend gesê: “Liefie, jy sê nie so iets vir Simon Conradie nie!” Maar Donna het voet by stuk gehou. Leigh was verbaas toe hulle kontrak wel aanvaar word, maar dit het dié swaar kettingroker vele pakke filterlose sigarette gekos. “Liefie, jy en Simon is olie en vuur bymekaar,” het sy telkens kopskuddend gesê. “En jy weet natuurlik daar is net ’n haarbreedte verskil tussen haat en liefde . . .” Maar van sulke snert wou Donna niks hoor nie. “Ouvrou-praatjies!” het sy Leigh getroef.
Vir die fotosessie dra Donna dus ’n blinkwit lycra-eenstuk – een van haar eie ontwerpe. Dit kon net sowel ’n bikini gewees het. Die vleiende kostuum met die uitgesnyde e en oprygdetail langs die sye plaas veral klem op haar lang, lenige bene. “Sensasioneel, skattebol!” sê Wynand, die kreatiewe direkteur vir die swemdraguitgawe en die stilis wat seker maak dat elke ligbruin haar van Donna op sy plek is. Hy het ’n gerekende reputasie in die bedryf en sy is bly dat sy weer saam met hom kan werk. Afgesien van sy vernuf as stilis, is hy ’n besielende teenwoordigheid met sy skerp insigte. En soos nou het Donna sy kalmerende invloed nodig. Sy glimlag effe senuagtig. Sy is gewoond aan die kalklig, maar die feit dat Chris agter die kamera is, plaas haar in ’n flankeerbui – iets wat maklik op film registreer, en sy weet nie of sy met so ’n onnutsige vonkel in die oog op die voorblad van Sport SA wil verskyn nie. Maar nou ja, soos haar pa sal sê, vandag heilig die doel die middele, of iets in dier voege – sy kan ook nie altyd al haar pa se outydse spreuke presies onthou nie. Sy wil nie soos ’n sekskatjie oorkom nie, maar aan die ander kant is daar die weddenskap. En as dit daarby kan baat, des te beter. Sy het nou eenmaal besluit om Simon Conradie geen ander keuse te gee as om haar vir die voorblad te kies nie. Sy wonder vlugtig hoe dit met hom gaan. Michelle en Chloe het vanoggend luidkeels verkondig hoeveel kere hulle gister met hom in verbinding was, en dit klink nie asof dit veel beter gaan nie. Inteendeel, toe hy in Suid-Afrika aangekom het, is hy dadelik in die Kaapstadse Medikliniek opgeneem. Die aard van sy inwendige beserings is veel erger as wat hulle selfs hier in die Seychelle vermoed het. Hy gaan ’n geruime tyd in die bed moet deurbring, en hy sal vir ’n lang tyd nie op ’n bergfiets kan ry of ’n krans kan bestyg nie. Op ’n nuuswebwerf was die opskrif oor sy ongeluk: Rotsklimmer veg om sy lewe. As hulle maar kon weet dat die ware geveg om Simon se lewe eintlik al op Ille Belle Vue se strand gestry is toe sy hom na die boot gesleep moes kry.
Dis iets waaroor sy al telkens getob het: sê nou sy moes liewer hulp ontbied het? Sê nou sy het sy toestand vererger deur hom te vervoer? “Donna! Waar is jou gedagtes? Draai ’n bietjie na links,” sê Chris en beweeg nader met sy kamera. Sy ruk haar reg en luister versigtig na sy aanwysings. Elkeen voer sy tot op die letter uit. Sy kan sien hoe almal ontspan. “Jy is op jou beste, skattebolla!” moedig Wynand aan. “Jy lyk soos ’n droom!” Sy wonder of hulle verwag het dat sy vol nukke en grille sal wees omdat dit so ’n ander soort fotosessie is as waaraan sy gewoond is. Miskien het Simon hulle bang gepraat. Sy het vroegoggend al die nuus gekry dat Simon se bui baie sleg is en dat hy boonop by al sy veelvuldige beserings nog gespanne ook is oor vandag se fotosessie. “Die man kla oor alles,” sê Wynand moedeloos. “Ek neem niks meer oproepe van hom nie, hy is te vol nonsens. Nou wil hy dinge só hê en vyf minute later net andersom. G’n mens kan dit hou nie! Hy moet nou gesond word en klaarkry.” Tydens hul ruspouse, terwyl die grimeerkunstenaar en die haarstilis haar weer onder hande neem, kom sit Chris langs haar in ’n seilstoel onder ’n sambreel. Sy voel veilig agter haar ontwerpersonbril. As jy so voor die kamera poseer, ontbloot jy dikwels ook ’n deel van jou hart. En dis eintlik wat haar die moegste maak van fotografiese filmwerk: as jy nie net ’n klerehanger vir ’n ontwerper wil wees nie, moet jy jou persoonlikheid op film kan laat deurskyn. Jy moet emosioneel soveel van jouself gee dat daar soms nie iets vir jouself oorbly nie. “En toe, hoe het ek gevaar?” Die spontane glimlag wat om sy mond speel, vertel dat Chris in sy noppies is met hoe die oggend se sessie verloop het. Dit blyk ook duidelik uit sy ontspanne houding. “Tien uit tien. Ek het geweet ons gaan maklik saamwerk.”
Toe die span wegstap om die rekwisiete vir die volgende sessie in plek te kry, leun hy peinsend agteroor, sy arms gemaklik agter sy kop gevou. “Jy straal voor die kamera. Hoekom het jy al jou beste jare op die loopplanke gemors?” Hy leun vorentoe en gee vir haar die kitsfoto’s uit sy sak. Sy skommel hulle rond soos ’n pak kaarte. Dit lyk goed, dink Donna tevrede. “Jy is ’n meester!” Hy haal sy bril af en kyk haar vas in die oë. “Nie ek nie, jy! Jy het ’n tydlose skoonheid. Simon het nie eens nodig gehad om jou hierheen te vlieg nie. Jy sou op enige plek en tyd net so verruklik gewees het.” Donna knik erkentlik en trek selfbewus aan die sarong om haar heupe. “Wat beoog jy vir die volgende skote?” verander sy die onderwerp. “Wil jy nog hê ons moet die perdskoot doen?” “Simon wou niks daarvan weet nie.” Hy staan op en trek haar aan haar hand op. Sy sien hoe die span na hulle kyk en veelseggende blikke uitruil. “Daar is ’n paar ander skote waaroor Simon nogal spesifiek was – soos wat redakteurs nou maar is. Wynand het vir my die voorskrifte gegee; ek dink nie hy is té in sy noppies daarmee nie. Ons sal maar daar rondom werk.” Donna voel hoe haar nekhare rys. Simon hét dus ’n paar skote voorgeskryf asof hy verwag het sy sal nie weet wat om te doen nie. Dis maar goed dat hy nie hier is nie. Sy laat nie toe dat iemand soos hy, ’n redakteur van ’n sporttydskrif vir mans, aan haar voorskryf wat om voor ’n kamera te doen nie. “En wat het ons redakteur nogal in gedagte gehad?” “Vir iemand wat hom net gister van die dood gered het, klink jy nogal heel aggressief teenoor die man. Dis duidelik dit drup nie van liefde tussen julle nie. Het julle issues?” vra Chris nadenkend. “Ek het gedink ek kry so ’n negatiewe vibrasie of twee daardie eerste dag op die strand.” Donna trek haar skouers nonchalant op. “Ons het vasgesit oor die kontrak. En ek dink hy is uit sy diepte wat mode betref en moet hom liewer by rugby- en kriekettellings hou. Gholf en sulke sportiewe storietjies oor die aantal maniere waarop jy ’n gholfstok kan swaai. Of hoe om jou abs reg te kry in die gim. Sulke twak wat die wêreld ten goede kan verander.”
Chris lag lank en lekker, vol uit sy keel. “Pasop! As hy jou nou moet hoor . . . Simon kan ook ’n diep seun wees.” “O ja, die befaamde skemerkelkpartytjies by sy dakwoonstel in Kampsbaai is sekerlik vol diep, filosofiese praatjies oor die Springbokspan se breinreusoomblikke en die Proteas se sielstoestand. Kom,” sê sy koel en stap water toe, “wys my wat Sy Majesteit van Krieket en Rugby van ’n internasionale model verwag.” “Jy hou rêrig nie van die man nie,” proes Chris. “Dis nogal verfrissend. Vroue vou gewoonlik voor hom.”
’n Paar uur later is Donna nog meer vererg, al is Wynand hoe dierbaar en buigsaam oor die tydskrif se vereistes. Simon se eise vir haar foto’s, al is dit hoe goed deur Chris en die res van die span gehanteer, het haar behoorlik uitgemergel. En dit in die toestand waarin sy is ná gister se reddingspoging! dink sy ontstoke. Sy moes meesal in die water poseer, halfnat, en teen verskillende gevaarlike hoeke op ’n seiljag in volle vaart, ook teen tronende kranse. Haar sesde sintuig sê vir haar dit was aspris, al het Simon natuurlik nie vroeër geweet watter inspanning dit ná die ongeluk van haar sou verg nie. Die helfte van die foto’s, weet sy, sal hulle nie gebruik nie. Sy sidder om te dink wat sou gebeur het as Simon hier was. Sy sou dalk baie gou vir hom én vir Chris na hulle peetjie gestuur het. Sy voel nie eens lus om Benita se SMS te beantwoord nie, laat net haar oë vinnig daaroor glip: Jy is die blinkste ster aan die seychelle hemel luv u b. Nié soos sy nou voel nie. Al wat sy wil doen, is om ’n lang, uitgerekte bad in jasmyn-badolie te neem en van kop tot tone gemasseer te word. Wat sy nou nodig het, is ’n troetelsessie.
8
Toe Donna veel later langs Chris in die genadige koelte op die strand neerval – sonder grimering en met haar hare krullerig nat – kyk hy vinnig op. Sy oë dwaal lui oor haar kort strandrok met die hoë lyfie en die sexy borsgleufie. “Kom, meisiekind, ontspan nou. Jy verdien dit. Jy was skitterend vandag. Elke raampie is ’n voorbladfoto. Simon gaan rasend word, om van Wynand nie te praat nie. Hy gaan sy kreatiewe kop verloor.” Donna lag verlig. “Ek kan Wynand net hoor: Skattebolla! Hy is so dierbaar, net die beste.” Maar dis te betwyfel of dit is wat Simon sal sê, dink Donna. Eerder: Dis té Voque, té Cosmopolitan. Dis die voorblaaie waarop sy al was en waarvan hy gesê het dat hy nie ’n spoor daarvan wil hê nie. Maar sy laat blyk niks van haar gedagtes nie. Chris is oorsensitief vir die spanning tussen haar en Simon, het sy opgemerk. Hy laat sy hand vir ’n oomblik in ’n teer gebaar op haar been rus, en sy vou haar hand dankbaar om syne. Voor en agter die kamera was daar vandag ’n vreemde soort harmonie tussen hulle. Soos dié van twee mense wat gewoond is daaraan om ritmies saam te beweeg – of hulle nou dans, op die strand stap of perdry. Dis ’n kopding, sou Benita sê. Dit was ook opmerklik vir die span, weet sy. Talle veelseggende blikke het heen en weer geflits. “Skattebollas! Julle tweetjies is bekoorlik saam! Nogal ’n spannetjie om mee rekening te hou,” het die sjarmante Wynand telkens hardop sê. Dan loer hy goedkeurend oor sy ontwerpersbrilletjie na hulle en knipoog betekenisvol agter Chris se rug vir haar. Sy en Chris is eenvoudig op dieselfde golflengte, dink Donna weer. Sy het reeds die riemtelegram gehoor dat beide Chloe en Michelle se sessies suksesvol was,
maar daar was blykbaar nie juis vuurwerke nie. Sy gee Chris se hand ’n ligte drukkie en voel deernis in haar opstoot toe hy self van moegheid en ’n seer rug kla. Al die onmoontlike posisies wat sy moes inneem, moes hy ook inneem. Sy weet baie fotograwe swem of gaan gereeld gimnasium toe om hul rûe reg te hou vir ’n lang dag se filmwerk. En sy het maar een dag van werk agter die rug. Chris het vir drie dae oor sy kameras gebuig, hom oor ligte bekommer, met ligmeters heen en weer geloop, kitsfoto’s geneem, en nog saans die foto’s op sy skootrekenaar ook oorgeplaas. En almal se nukke doodluiters geabsorbeer. Sy staan op en gaan staan agter hom. Sy begin met sorgsame vingerpunte saggies sy nek masseer. Sy oë val toe en hy gee seer kreune en steune terwyl hulle oor niks en alles van die dag gesels. Toe sy uiteindelik weer langs hom gaan sit, kyk hy waarderend na haar. “Jy het meer talente as wat ek ooit sou kon raai.” Sy onthou vlietend dat Simon iets soortgelyks gesê het, en vir ’n oomblik wonder sy hoe dit met hom gaan daar in die hospitaal. Klink nogal asof hy ’n ingrypende operasie moes ondergaan. “Wat het rêrig op daardie eiland tussen jou en Simon gebeur? Almal wonder en praat daaroor,” vra Chris asof hy haar gedagtes kan lees. “Niks nie,” skerm sy. “Presies dit wat ek jou vertel het. Hy wou rotsklim en ek is in ’n ander rigting in. Ek het hom nie eens hoor of sien val nie. Hoekom vra jy?” “Ek wonder tog. Ek ken Simon langer as van gister af. Hy het nogal ’n reputasie onder die vroue – jy het mos self die stories oor sy Kampsbaai-dakwoonstel gehoor. Toe ek hoor jy is alleen saam met hom weg, was ek nogal bekommerd. Maar gelukkig haat jy mos die man vanaf eerste aansig. Maar daar is spekulasie . . . jy weet hoe is mense tydens ’n fotosessie.” Hy maak sy oë toe en leun lui agteroor. Sy probeer haar hand uit syne trek, maar hy hou dit ferm vas, met ’n ruheid wat haar opval. Is Chris jaloers? Dit kan tog nie wees nie – en dit op Simon? Sy kan mans nie verstaan nie. En waarom bly Chris so aangaan oor Simon se
Kampsbaai-woonstel? Dis nie juis nuus nie: die gesogte Kaapse alleenlopermans van iets in die dertig is so stereotiep met hul duur Duitse cabriolets en dakwoonstelle. Simon pas perfek in by die profiel: wêreldwys, gekunsteld en spitsvondig. En stylvol – vir iemand wat nét in die sportwêreld beweeg, dit moet sy toegee. Wat sou die spekulasie oor hulle wees? wonder sy. Maar sy is darem ook lank genoeg in die mediawêreld om te weet dat ’n fotosessie ’n afgeslote wêreld vorm van ’n klomp uiters kreatiewe mense wat fyn op mekaar ingestel is en gou hul eie dinamiek ontwikkel. Voeg daarby ’n paar ou vetes, ou vriende wat mekaar ná ’n lang tyd weer sien, verlore bemindes, nuwe verliefdes, ’n affair of twee, ’n katgeveggie of drie oor klere en grimering, te min slaap en te veel voggies, en jy het stof vir ’n paar televisiesepies. Hoe hulle ooit foto’s en artikels uit so ’n warboel saamgestel kry, bly vir Donna ’n wonderwerk. Sy sit self agteroor en maak haar oë toe. Chris trek hulle hande tot op sy bors en gee ’n behaaglike sug. Mettertyd voel sy hoe sy heeltemal ontspan, selfs vir ’n paar oomblikke indommel. Totdat Chris regop kom en hom behaaglik uitrek. Hy staan op en trek haar aan haar hand orent. Dan gee hy haar ’n soentjie op die voorkop voordat hy hom verskoon om te gaan stort en aan te trek vir aandete. Donna drentel op haar eie af water toe. Môre spat die span uitmekaar – wat sal dan van haar en Chris se romantiese eilandtydjies word? Oor haar en Simon se vlugtige liefdesoomblik op ’n afgesonderde eiland wil sy liefs nie dink nie. Sy is seker hy ook nie. Dalk onthou sy té veel. En hy absoluut niks. Sy maan haarself om doelbewus daarvan te vergeet. Miskien sal sy net so af en toe aan hom dink, soos wanneer die dag blou soos stukkies bottelglas om haar lê en sy stadig strandlangs slenter. Op daardie emosionele dae vol vergete drome en onbewuste verlangens.
Toe Donna die aand die buitelugkroeg binnestap, sit Chris reeds voor die klavier. Hy speel ligte liedjies en wink haar woordeloos nader toe hy haar gewaar. “Spesiaal vir jou,” sê hy tergend.
Donna voel vars en sensueel ná nog ’n heerlik luukse, louwarm bad. Chris se hand lig van die klavier op om haar langs hom op die bankie neer te trek. Sy vingers streel vir ’n oomblik oor die sysagte vel van haar kaal skouers toe hy sy arm om haar sit. “Jy is ’n fees vir die sintuie.” Hy begin speel: “Love, love changes everything . . .” En hy kyk telkens onderlangs na haar met ’n innige glimlag. Donna word stadig bewus van ’n nuwe, opwindende gevoel. Sy wil ’n vlietende oomblik van totale, roekelose oorgawe beleef. Sy wil haar vingers deur die krulletjies agterin sy nek vleg en hom al nader aan haar trek totdat hy haar gesig tussen sy hande hou en ’n soen op elke wang plaas. “Spesiaal vir jou,” sê hy weer uitdruklik, al het ’n klein gehoor intussen om die klavier versamel. Blikke vol “Ek het jou mos gesê” flits om die klavier. “Hier kom ’n ding, skattebollas,” fluister Wynand vir die haarstilis en die grimeerkunstenaar. Donna glimlag net. Dit voel asof hulle twee in ’n kokon vasgevang is terwyl die note van die een romantiese liedjie na die ander oor hulle spoel. “Jy is pragtig en hierdie eiland is ’n droom, maar niks klop die skoonheid van musiek nie,” sê Chris dromerig in haar oor toe hulle deur die res van die span vir aandete geroep word. Hy neem haar hand op ’n besitlike manier en hulle stap saam na die etenstafel. Wynand lig sy wenkbroue betekenisvol vir die res van die span toe hulle saamsaam gaan kos inskep. “Ek weet darem nou nie . . . weet Donnatjie wie sy aanvat?” “Onthou net, ons Bolandse meisie kom van New York af. Kry maar vir Chris jammer. My geld is op haar,” skinder die oplettende Toni saam, voordat haar een selfoon weer op ’n hoogs irriterende toon begin lui. Die ander een hang soos gewoonlik om haar nek.
“Dinge gaan interessant word, mense,” vervolg Wynand in ’n vertroulike, waarskuwende toon teenoor sy tafelgenote en kyk na Chris en Donna. “Ons hoop net nie dit gaan lelik word nie,” sê Toni selfoon in die hand. Tydens die ete los Chris skaars Donna se hand. Sy is oorbewus van sy aandag, maar sy geniet elke oomblik daarvan. Sy dagdroom langs hom oor die swaar, manlike bewegings van sy skouers en gespierde arms. Smeulende gedagtes. Gelukkig weet sy hy is buite haar bereik. Chris Naudé kan kies en keur onder die wêreld se skoonstes, en hoewel sy in daardie groep val, is sy nie iemand wat links en regs verhoudings aanknoop nie. En dit wéét ’n verbintenisvresende man soos hy instinktief. Sy voetwerk met vroue is te vernuftig vir haar, dink Donna. Sy ken nie veel modefotograwe met gebroke harte nie. Toe Chris haar veel later by haar kamerdeur afsien – want dis al erg laat en hul vliegtuig na die hoofeiland vertrek vroeg – neem hy haar hunkerend in sy arms onder die skitterblink tropiese sterre. Agter hulle, net duskant die bougainvilleabegroeide hotelkamer, druis die see steeds onrustig in die tropiese wind. Die delikate geur van ’n duisend frangipani’s dryf soos ’n fyn nagsluier oor die eiland. Chris se een arm streel soetjies om haar kaal rug en kom lê snoesig soos ’n warm pelsie teen haar kruis. Donna is effe uitasem. Sy beleef hom so suiwer lyflik, so met loutere sensuele gemak. Sy lippe bewe ’n oomblik teen haar wang voordat sy haar mond vir hom aanbied. Kan sy maar hierdie oomblik vir ewig uitrek? Sy wil hom nie nou laat gaan nie. Bly by my, sê sy bykans vir hom, maar sy weet dis veels te gou. Hartstog het altyd ’n prys, een wat sy te versigtig is om vanaand te betaal. En al die gevaarligte wink in haar kop – al voel sy om wulps en wispelturig, geheel en al liefdesonbesonne, haarself aan die oomblik en aan Chris se allesoorheersende manlikheid oor te gee. Hy het iets wat lankal in haar sluimer hier op die Seychelle wakker gemaak, en net die tyd sal leer wat hierdie nuwe gevoel in haar lewe gaan meebring. Ná ’n ewigheid trek hy talmend van haar weg. “Bly altyd so beeldskoon,” fluister hy in haar oor. “So verstommend mooi soos wat jy nou is, Bella Donna.” Toe stap hy weg in die nag.
Donna maak haar kamerdeur agter haar toe en staan vir ’n oomblik met haar rug daarteen. Wat sou hy daarmee bedoel het? wonder sy. Moet ’n fotograaf-gier wees. Dalk deel van hul verknogtheid aan skoonheid? Of sy verslawing aan estetika? Iemand wat so met oorgawe klavier speel en homself daagliks agter sy lens bevind op ’n soektog na dit wat seldsaam is, mag moontlik oorbehep daarmee raak. Bepaald ’n vreemde manier om te groet . . . Bly altyd so beeldskoon. Daar is ’n versugting in die sin. ’n Verwagting wat sy nie weet of enige vrou vir ewig aan kan voldoen nie. Mans! Wie sal ooit hul veeleisende harte én komplekse koppe kan verstaan? ’n Mens kan hoogstens ’n momentele kloutjie by die oor bring. Maar sy sal nie langer daaroor tob nie. Sy val op haar bed neer, uitgeput na siel en liggaam, en skop haar skoene uit. Al haal sy nie die voorblad nie, al verloor sy die weddenskap en haar eie klein vete teen Simon, het sy met hierdie reis na die Seychelle iets veel groter bereik: haar hart wat vir jare so geslote soos ’n staalkluis was, het twee keer veel vinniger geklop. Vanaand s’n is heel verstaanbaar, maar die ander keer, op Ille Belle Vue, heel onverklaarbaar. Daarvan wil sy liewer vergeet.
9
Die New York Modeweek is ’n mallemeule van die een optrede ná die ander vir Donna. Sy het die voorkoms van die oomblik: ekstra lank, ietwat gespierd, met ’n kroon kastaiingbruin hare en ’n wulpse mond. “Jy’s die smakie van die maand, liefie!” stel Leigh die saak in perspektief. En neem gretig nog ’n bespreking of teken nog ’n kontrak, terwyl sy met haar pen teen die lessenaar tik-tik en weer haar ontwerperselfoon beantwoord. Maar vir Donna is die lewe tans net ’n spieëlbedekte, parfuum- en haarmiddelbespuite aantrekkamer en werk, werk, werk. Selfs New York het sy normale bekoring vir haar verloor. Sy sit vir die vierde agtereenvolgende dag geduldig met ekstra-groot krullers in haar hare en wag om gegrimeer te word. Dit voel vir haar asof sy elke dag op ’n stel van die televisie-modekanaal instap. Simon en die Seychelle is lankal vergete, doelbewus uit haar gedagtes gesny. Chris, daarenteen, is soos ’n sluimerende droom voltyds in haar gedagtes. Hulle skakel en SMS mekaar wanneer moontlik. Sy wonder veral wat sy in die mees onlangse een moet lees: Jy is die pragtigste, sexyste vrou vir my! Jy is elke dag in my gedagtes, l u Hulle sal mekaar eers weer oor ’n paar weke sien, tydens die loodsing van Sport SA se swemdraguitgawe. Tot dan het sy verskeie opdragte om te voltooi: hierdie week ’n fotosessie op die dak van ’n wolkekrabber, en volgende week ’n besoek aan ’n bekende ontwerper in Italië. Sy sal die Moederstad twee dae voor die bekendstelling bereik. Alhoewel sy huiwerig is om te veel te lees in dit wat tussen haar en Chris gebeur het, het sy ingestem om hom te ontmoet. Asof haar hart haar ’n keuse gee!
Nogtans, hy hoef nie te weet sy is nie so onverskillig soos wat sy voorgee nie. Dis mos deel van die spel om koeltjies ’n flirterige ongeërgdheid te veins. Sy is lank genoeg in die modebedryf om te weet fotograwe is die trekvoëls van die bedryf: van kliënte na agente, van vriende tot bemindes. Hulle het nie juis ’n reputasie vir standvastigheid nie, en daar is maar min getroudes of getroues onder hulle. Haar gevoelens vir Chris is ’n vlinder wat af en toe in haar roer, maar wat nie uit haar veilige kokon wil ontsnap nie. As sy dit ’n naam moes gee, sal dit net ’n blinde, tydelike verliefdheid wees. Of só hoop sy. Van Simon het sy nie weer gehoor nie. Sy het wel ’n enorme bos aronskelke van hom ontvang voor haar eerste optrede by die Modeweek. Sy het hom geskakel om dankie te sê, maar hy was steeds in die hospitaal en hulle kon nie lank gesels nie. Ook maar goed, voordat sy weer haar mond verbypraat. Hy was ongeduldig en ietwat knorrig, met ’n swaar streep depressie omdat hy nie sport kan doen nie. Ten spyte daarvan het hy blykbaar die tydskrif met ’n ysterhand vanuit sy hospitaalbed regeer. Sy prognose was nie goed nie; al die inwendige beserings sou ’n paar weke se behandeling verg voordat hy kon uitkom. Donna skud haar kop onbewustelik. Om te dink dat sy dié stukkende man oor die strand gesleep en op ’n boot gekry het. Sy weet nou nog nie waar sy die krag daarvoor gekry het nie. Dit klink nou bomenslik as sy daaraan dink. Veral die spoed waarmee hulle dit reggekry het om voor die storm uit te vlug. Hulle was skaars weg uit die Seychelle toe ’n sikloon die eilande getref het – met tragiese gevolge. Die storm op die dag van Simon se ongeluk was net ’n voorloper. Sy wil nie dink wat sou gebeur het as hulle die aand op Ille Belle Vue vasgekeer was in ’n onstuimige storm nie. Haar gedagtes word onderbreek toe die grimeerkunstenaar, borsels en kwassies in die hand, voor haar inskuif. Dit raak ’n roesemoes van stemme en uitroepe. Modelle gooi tantrums, haardroërs druis en die algemene chaos van voorbereiding vir ’n vertoning ontplof om Donna. Sy maak haar oë moeg toe en vlug in haar gemoed na die stilte van ’n Seychellestrand, waar die enigste klank die ritmiese druising van die deinende see is, en die enigste beweging dié van ’n eensame seevoël dralend op die louwarm wind.
Dis met dié kalmte in haar gemoed wat sy onder die ligte op die loopplank uitstap en haar heupe verleidelik swaai sodat Zingaro se nuutste skepping tot sy reg kan kom. Sy sien vlugtig die gesigte van die beroemdes en bekendes in die voorste rye, maak ’n swierige draai en stap heupswaaiend terug totdat sy agter die gordyn verdwyn. As jy dit nog nie self gedoen het nie, sal jy nie verstaan dat so ’n stappie op die loopplank in ’n haute couture-rok met al die kameras en oë op jou ’n verslawende bekoring het nie, dink Donna meewarig. En nog vreemder: dat dit elke keer ’n nuwe ervaring bly. Dis hoe sy dit benader, van vertoning tot vertoning. En altyd, elke keer is dit die ongekunsteldheid wat sy na die loopplank bring wat haar so ’n sukses maak. Vir blasé gehore wat gewoond is aan supermaer modelle op die kokaïentrein, of ligkop van vonkelwyn of hul eie belangrikheid, is sy vars en sprankelend. Natuurlik sak daar soms ’n doodse vrees oor haar toe om op die loopplank te verskyn. Veral wanneer sy vooraf ’n lokaal binnestap en al die leë stoele sien. As sy haarself uit die hoek van haar oog op die reuseskerms sien terwyl sy op die loopplank is, tap die sweet haar ook dikwels af. Hoe nader die tyd aan die begin van die vertoning kom, hoe meer doelloos begin sy in die aantrekkamer ronddwaal net om haar bene te laat ontspan. Dikwels spring sy selfs ’n paar keer op en af. Teen die tyd dat die regisseur haar naam uitroep om te stap, is sy gewoonlik al kalm. Wanneer sy dan uitstap, sien sy skaars die gehoor, die flitsende kameras of die ander modelle. Sy mik gemaklik vir die einde van die loopplank, draai en pak die terugtog aan. Gewoonlik duur dit so vier minute per skepping . . . en dan die frenetiese haas agter die verhoog om gereed te maak vir die volgende loopslag. So gaan dit vertoning ná vertoning. As jy nie van nature uithouvermoë het nie, sal jy dit nie hou nie. Op die lang termyn is kreatiwiteit en vasberadenheid al wat sukses waarborg in die modewêreld. En stamina, hope daarvan, dink Donna toe sy ná die vertoning uitgeput in ’n skuimbad ontspan. Dankie tog, nog ’n modeweek is verby . . . Sy wonder skielik of dié versugting nie daarop dui dat sy nou ernstig daaraan moet begin dink om van koers te verander nie.
Donna van New York moet dalk weer Donna van die Paarl word. Maar dit sal hartseer wees as sy nie meer New York toe kan kom nie. Sy is ’n natuurlike New Yorker, al is sy ’n plaasjapie. Dis veral die beskikbaarheid van alles in die wolkekrabberstad, 24/7, wat haar so betower.
’n Week voor haar vertrek na Kaapstad skakel Simon haar. Tot haar verbasing vra hy of hy vir haar ’n ete kan kook in sy Kampsbaai-woonstel wanneer sy in Suid-Afrika aankom. Ek is nie daardie soort meisie nie, sê sy amper vir hom, maar vra beleef: “Gaan jy nog iemand nooi?” Die gedagte dat sy alleen, soos op Ille Belle Vue, saam met Simon in sy woonstel gaan wees, gee haar ’n vreemde ligkopgevoel. Nee, betig sy haarself, dis beter dat sy nie eens prentjies in haar kop daaroor maak nie. “Ek kan as jy wil,” sê Simon; hy kan blykbaar hoor sy vertrou nie die vrede nie. “Maar ek belowe om die perfekte heer te wees. No strings attached.” Die ete en blomme, weet sy, is bloot ’n beleefdheidsgebaar wat sy nie van die hand kan wys sonder om ongeskik te wees nie. Die Suid-Afrikaanse modewêreld en mediawêreld is bitter klein, en die redakteurs praat dikwels met mekaar en maak vergelykings. Sy sal nie toelaat dat Simon haar professionele reputasie skaad nie. Dan kom ’n gedagte skielik by haar op: sê nou sy kom daar aan en Michelle is ook daar? Sy kry die ou bekende gevoel van ek-gaan-my-mond-nou-verbypraat, maar veg daarteen. “Dis nie wat ek bedoel het nie. Dis net . . . jy was so onlangs siek, ek wil jou nie moeite aandoen nie. Ek het my jou nou nie juis as ’n kombuisprins van Jamie Oliver-statuur voorgestel nie. Maar ek vertrou jou as jy sê jy kan ’n bord kos aanmekaar slaan,” sê sy teen haar beterwete. “Wat moet ek saambring?” “Niks nie. Julle modelle eet mos in elk geval net slaaiblare en komkommer. Dit kan nie te moeilik wees om dit bymekaar te gooi nie.” “Ek kom net as jy belowe om finaal van al die stereotipering ontslae te raak. Jy
vergeet ek is ’n plaasmeisie gewoond aan Bolandse boerekos,” spot sy. “Nou ja, Bolandse nooientjie, bring vir ons ’n bottel van jou pa se beste Welgevonden-wyn, en ek kook vir jou soetpatats,” terg hy lighartig terug.
Sy dra ’n sagte wit linnebroek en ’n vroulike kantkamisool vir haar aandafspraak met Simon in sy Kampsbaai-woonstel. Ná ’n luiwarm dag vol helder sonskyn waai ’n koel seebriesie op sy breë balkon met die 180 grade-uitsig oor Tafelbaai. In die verte flonker skeepsligte op die see soos handgestrooide blinker-confetti. Die aandhemel word verlig deur ’n ivoorwit volmaan. Donna voel hoe die sagte aandlug en die pragtige uitsig haar kalmeer. Sy voel ongewoon gespanne oor vanaand, om Simon alleen hier in sy tuiste te sien. Hy lyk informeel in ’n spierwit langmouhemp en donker denim toe hy die deur vir haar oopmaak. Hy stap, steeds effe mank, na die oopplankombuis nadat hy die bottel wyn by haar geneem het. Die woonstel is stylvol gemeubileer – erg macho in swart en wit met baie leer en chroom – maar dit lyk glad nie soos ’n tipiese mansnes nie. Eerder soos ’n toevlugsoord vir iemand wat ’n baie druk lewe lei. Sy vra hoe hy aan dié besonderse blyplek gekom het. “Die eerste dag wat ek hier was, was daar ’n skool dolfyne in die baai wat ek kon dophou. Die ou wat die plek gehuur het, het ’n teleskoop gehad waarmee jy hulle kon bekyk. Toe koop ek net daar die woonstel én die teleskoop. Min wetend natuurlik dat, omdat dit so seewaarts kyk, die wind die balkon en vensters van alle kante looi.” Hy neem haar na die sitkamer met enorme glasvensters, waar hy haar help om die teleskoop in te stel. Donna kan nie anders as om te dink aan die dag op die boot toe hy haar van agter om haar skouers omhels het om te wys hoe die roer werk nie. Noudat sy weer so deur hom omhels word voor die teleskoop en hulle koppe so naby aan mekaar is dat sy die chardonnay soos ’n ryp vy aan sy mond kan ruik, wens sy dat hulle mekaar opnuut as ander mense kon leer ken. Miskien sou daar dan minder misverstande wees. Ver teen die horison wink die aandster skielik veel nader toe sy eindelik danksy
Simon daarop gefokus kry. Sy verkyk haar aan die vergesig wat voor die teleskoop se lens oopvou. “Hmm . . . jy ruik soos ’n sprietjie jasmyn,” sê hy skielik reg agter haar oor en sy kon sweer hy hou haar vir ’n oomblik stywer vas voordat hy haar laat gaan. Dan neem hy haar op ’n kort besigtigingstoer van sy woonstel. “Jou dolfynhuis is alles wat ’n seehuis moet wees,” sê Donna waarderend. “Dis ’n droom van ’n blyplek, veral die balkon. Dit voel of jy hiervandaan oor sewe seë kan sweef, dat iets spesiaals met jou kan gebeur hier waar die vier winde bymekaar kom. Iets wat jou lewe kan verander. Dit het ’n sekere teenwoordigheid,” mymer sy ingedagte. Tot haar verbasing is dit glad nie die liefdesnessie wat Chris en die ander geïmpliseer het nie. Niks hier is knus nie. Hulle stap deur na die elegant gemeubileerde slaapkamer. Eenkant in die hoek staan krukke. Sy weet vir iemand soos Simon sou dié hulpmiddels eerder ’n katalisator wees om vinniger gesond te word. Sy hou sy gesig dop. Sy gelaatstrekke wys nie enige pyn nie, maar tog is daar ’n uitdrukking op sy gesig wat sy nie kan onthou nie. Hy lyk vir ’n oomblik afgetrokke en in homself gekeer toe hy na haar kyk, maar Donna besluit om dit te ignoreer. Dis immers hy wat haar genooi het. Die werklike rede vir die uitnodiging sal sy seker nog uitvind. Hulle stap deur kombuis toe en hy raak besig agter die toonbank terwyl hulle oor koeitjies en kalfies gesels. Hulle is eers skugter vir mekaar. Simon gaan haal later foto’s uit van Verre Winde. Hy vertel haar begeesterd meer van die bou van die jag. Dan dien hy die voorgereg op. Ná die hoofgereg gee hy vir haar ’n silindervormige, toegedraaide pakkie. “Maak oop,” por hy haar aan. Donna kyk verbaas na hom. “Dit was nie nodig vir ’n geskenk nie.” “Maak oop, dis ’n verrassing.” Sy oë is ’n glashelder groen.
Donna trek ’n eksemplaar van Sport SA uit sy koevert. Sy vou dit oop en kyk vas in Chris se foto van haar teen ’n agtergrond van die skitterblou see, frangipani’s drywend op die water en die branders al spelend om haar frangipani-bedekte voete. Sy ís toe die voorbleisie van Sport SA! Sy probeer haar opgewondenheid wegsteek. “Is dit nie veronderstel om ’n geheim te wees nie?” fluister sy asof iemand haar kan hoor. Simon knik met ’n geamuseerde blik en wys dat sy die eksemplaar moet terugplaas in die koevert. “Slegs vir jou oë.” Sy doen dit versigtig terwyl sy dink hoe gou sy ’n SMS aan haar vriendinne kan stuur. Dan kyk sy op en vang sy blik uitdagend vas. ’n Gedagte het skielik by haar opgekom. “Hoe het ek op hierdie voorblad gekom – meriete of afpersing? Jy weet ek was nie ernstig toe ek gesê het jy kan my daarmee beloon nie. Dit was regtig net ’n grap.” “Ek het nie die foto gekies nie. Ek was nog te deurmekaar van die narkose en verdowing ná my operasie toe die uitgawe uitgelê is en drukkers toe moes gaan. Ek het in elk geval nie gevoel ek sal objektief kan wees ná ons . . . eilandervaring nie. Ek het my onttrek, en die keuse is deur die kreatiewe direkteur en sy span gemaak. Hulle het gevoel die skoot is iets anders, nuut en vars. Die stylvolste wat ons nog gehad het. Jy weet hoe is Wynand: alles moet styl hê. Dis beslis ’n voorblad vir ons meer gesofistikeerde lesers.” Hy neem ’n lang sluk van sy wyn. “Mmm . . . jou pa weet van wyn maak. Ek is op die ou end bly jy het besluit om tog deel te neem aan die uitgawe. Dit gee ons die kans om ’n nuwe marksegment te bereik. En dit kan net goeie nuus wees vir ons sirkulasie.” Donna sit vererg agteroor. Dalk wou sy eerder iets anders hoor; sy het nie verwag dat hy haar voorblad met so ’n saaklike opmerking sou beskryf nie. Komplimente dalk oor hoe sy lyk, die keuse van plek en tyd van die dag, hoe die lig geval het. Selfs haar haarstyl of keuse van swemdrag. Maar so ’n gevoellose
ons-kyk-na-die-winslyn-opsomming is onverwags en krenkend. Het die man enigsins ’n hart? wonder sy vies. Of is hy net die redakteur van kroontjie tot toontjie? Iemand met so ’n dolfynhuis móét mos ook op die fyner dinge ingestem wees, of hoe? Tog, hoekom het sy iets anders verwag? Natuurlik is dit hoe tydskrifredakteurs dink. Sy is gewoond daaraan, maar om dit so kil en koud uitgespel te kry van iemand van wie sy heimlik iets anders verwag het, krap haar om. En sy het onbewustelik gedink dat hy haar hierheen genooi het om te . . . om te wat? Verydelde hoop! As sy maar net van Ille Belle Vue kan vergeet en klaarkry. Sy wens sy het nooit haar voete op die Seychelle gesit nie. Of vir Simon Conradie na die Sea Star gesleep en sy lewe gered nie. Die totale, onuitstaanbare arrogansie daarvan om haar net tot ’n kommoditeit te reduseer wat sy tydskrif op die winkelrakke sal bevoordeel! Sy neem ’n sluk wyn en rol dit rond in haar mond. Sy moet nou net nie haar humeur staan en verloor nie. Sy kan nie bekostig om haar kleurvolle New Yorkse woordeskat vrye teuels te gee nie. Sy voel egter hoe haar maag vol kriewels word: altyd ’n gevaarteken. Sy gaan binnekort iets sê of doen wat liewers gelaat moes gewees het. Die tekens het al te dikwels voorgekom om dit te ignoreer. En sy weet dis klaar te laat. Sy voel totaal aspris en lus om hom te troef. Twee mense kan hierdie kat-en-muis-speletjie speel. “Ten minste het ek die weddenskap gewen,” sê sy vermakerig. Toe die woorde uit is, weet sy natuurlik sy moes dit nooit kwytgeraak het nie. Sy verskoon haarself haastig om ’n draai in die badkamer te gaan maak. Toe sy terugkom, kan sy sien dat hy geprikkel is, al het sy nie ’n duikie in sy onversteurbaarheid gemaak nie. “Wat bedoel jy met weddenskap?” vra hy agterdogtig. Sy vertel hom ewe uittartend en vonkelend van haar weddenskap met haar vriendinne en tik op die koevert met die swemdraguitgawe. “Nou is ek boonop die baas van ’n Armani-rok van honderdduisend rand. Dit was op die spel.”
Simon is heeltemal oorbluf. “Jy het dit gedoen vir ’n rok?” Donna maak ’n traak-my-nie-agtige handgebaar. “Ag, ek weet julle mans sal dit nie verstaan nie. Dis van rou sy, en die bostuk . . .” sê sy argeloos. Sy kan nou rêrig nie meer omgee wat sy sê nie. “Ek gee nie om of dit van goud gemaak is nie!” Simon het skielik ’n genadelose blik in sy oë. “Jy is ’n regte modeslaaf en niks meer nie! Jy het oorspronklik vir my gesê jy doen graag alles ten minste een keer, en dis die rede hoekom jy Seychelle toe gegaan het.” Sy kan sien die gedagte dat sy die fotosessie so lig en speels opgeneem het, is ’n rooi doek voor ’n woedende bul. Sy het op haar beurt Sport SA gereduseer tot ’n blote voertuig vir ’n weddenskap – niks meer of minder nie – en hy het dit reeds besef. Sy voel hoe haar astrantheid soos ’n rebelse gloed oor haar sprei. Dit neem tweetjies om te tango, voorwaar! “Jy het tog nie gedink dat ek na die Seychelle gegaan het omdat ek werklik in Sport SA wou pryk nie?” tart sy en gooi haar hare oor haar skouer. Hy sit ongelowig agteroor, gluur ondersoekend na sy hande en inspekteer sy kort, netjies geknipte naels asof hy daar kalmte en ’n antwoord sal vind. Sy kan sien sy gelaat het effe verkleur. Hy onderdruk duidelik elke krieseltjie woede wat hy voel. Donna wonder of sy nou te ver gegaan het en begin senuagtig met haar armbande speel. Hy is immers dié Simon Conradie. Leigh sal ’n aanval kry as sy haar nou moet hoor. “So, vir jou was die hele ding ’n grap,” sê hy afgemete. Donna besef sy sal strategies moet dink – en vinnig. “ ’n Baie lonende een,” glimlag sy soet. “En Chris? Was hy deel daarvan?” Simon trek aan sy hemp se moue en vou dit hoër op sodat hy daardeur haar oë kan vermy.
“Beslis nie. Hy het niks daarvan geweet nie. Hy sal nie saamspeel oor so iets nie, dis ’n vroueding. Wat impliseer jy?” “Ek hoor julle tweetjies het nogal julle tydjie op my tydskrif se rekening geniet.” Vir ’n oomblik is hulle al twee stil. “So, jy het dus meer as een rede gehad om Seychelle toe te gaan – die weddenskap en Chris,” begin hy, maar sy maak hom met ’n handgebaar stil. “Nou vat jy dit te ver – jy plaas ’n vraagteken agter my professionaliteit. ’n Grappie tussen vriende is een ding, maar as jy nie daarvan geweet het nie, het dit jou ook nie skade gedoen nie. Jy het jou foto, jy het jou voorblad, en ons het hard gewerk daarvoor – daarvan kan al daardie ekstra foto’s op die seiljag getuig. Wat tussen my en Chris gebeur het – of nie gebeur het nie – het niks met jou of Sport SA uit te waaie nie,” sê sy verdedigend. Sy oë vernou en hy kyk haar takserend aan. “Jy is reg: dit het niks met my te doen nie. En jy weet hopelik presies watter groot rokjagter hy is. Maar wat tussen ons gebeur het, het wel alles met my uit te waaie. En dis hoekom ek jou teen ’n ou soos Chris wil waarsku. Jy is hopeloos te naïef en onskuldig – dit het ek duidelik op Ille Belle Vue gesien, tot my groot verbasing. Ek kan nie verstaan hoe jy dit ooit in die internasionale arena kon uithou nie. Nou gaan staan en val jy vir ’n hardvogtige en meedoënlose vent wat met elke model voor sy lens ’n verhouding aanknoop. Jy is ’n Bolandse lammetjie wat haar aan ’n ware wolf uitgelewer het.” “Ek het vir niemand geval nie,” sê sy snydend. “Moenie dit ontken nie, Donna. Ek wil jou graag glo, maar dis nie wat ek gehoor het nie. Hoe sal ek weet? Maar jy weet so goed soos ek wat tussen ons op Ille Belle Vue gebeur het. Of was dit dalk nog ’n weddenskap? Nog ’n Sport SAgrappie – kyk of jy die redakteur vir jou kan laat val? Op die spel: ’n paar Gucciskoene,” sê hy met venynige bitterheid. Donna reageer nie dadelik op sy kwetsende aanmerking nie. Sy het haarself nie eintlik toegelaat om weer te dink oor wat wel op Ille Belle Vue gebeur het nie. Daardie ervaring bêre sy vir eendag. Eendag wanneer sy iets wil hê om aan terug te dink wat haar vir altyd verander
het, maar waaraan sy nie werklik ’n plek wou gee in haar hart nie. Daardie dag het ’n vervaldatum in haar geheue en dit het beslag gekry toe Simon sy rug op haar gedraai en gaan rotsklim het. Sy kyk na hom waar hy ongeduldig op ’n antwoord wag. Sy voel sy is hom die waarheid verskuldig, maar sy weet nie wat die waarheid is nie. Sy wil nie ’n naam gee aan haar gevoelens oor wat gebeur het, óf oor die man nie. “Nee, Simon, dit was nie deel van ’n weddenskap nie,” sê sy doodeerlik. “So vlak is ek nie, al sal jy my nie meer wil glo nie. Miskien eendag as ek die modelwêreld vaarwel toegeroep het en jy vaar die oseane deur op jou seiljag soos wat jy daardie dag van gedroom het, ontmoet ons mekaar weer. Terloops op ’n eiland ver van hier, ewe toevallig, en dan sal ons Ille Belle Vue sien vir wat dit was.” Hy lig net sy wenkbroue, maar sy weet aan die manier waarop hy vooroor leun en haar handsak en baadjie vir haar optel, dat hy ontsteld is. Daar is nie veel kans vir haar gedagte om ooit bewaarheid te word nie. Simon sal so gou as moontlik van haar wil vergeet, dink sy toe sy die koevert met die tydskrif neem wat hy as ’n afskeidsgebaar na haar uithou. Hy stap uit op die balkon en groet haar koud en afsydig. Sy hande is in sy sakke gedruk en sy blik rus voor hom op die grond. Maar net toe sy wegstap, roep hy haar terug. Donna draai teen haar sin terug na die balkon. “Wat nou?” “Die aand het nie uitgewerk soos wat ek gehoop het nie,” sê hy gemaak onverskillig. “Ek was veronderstel om jou te bedank en toe baklei ons. Maar ek sal nogtans dankie wil sê. Jy het immers my lewe gered.” Hy haal ’n geskenkpakkie uit sy broeksak en plaas dit in haar hand. Vir ’n oomblik vou sy koel hand om hare en hou dit ’n rukkie vas. “Vir watter rede jy dit ook al gedoen het, ek is bly jy was daar toe ek jou nodig gehad het. Dit het my lewe verander op maniere wat jy jou nooit sal kan indink nie.”
Hy buk vlugtig vooroor en streel ’n soen met al die onskuld van ’n groetsoen teen haar hand. Dan draai hy weg en kyk na waar die vragskepe se ligte op die hawe se water weerkaats. “Dankie, maar ek weet nie of ek dit by jou wil neem nie.” Hy draai vinnig terug. “Asseblief, ek het dit nou gekoop. Jy kan dit maar net sowel . . .” Donna kyk nadenkend na die pakkie. Hierdie aand het soveel emosionele skakeringe gehad. En dit het ook glad nie uitgedraai soos wat sý gehoop of verwag het nie. “Ek hoop ek kan iewers in die toekoms weer op jou dolfynhuis se balkon staan,” sê sy sag en ontroer. “En dat ons nie sal baklei nie, dat ons dolfyne sal sien en saam kan lag. Dis so ’n spesiale plek, ’n mens moet eendag iets besonders hier doen.” Sy draai om en stap weg sonder om terug te kyk. In haar motor sit sy eers vir ’n oomblik met haar hande op die stuurwiel geleun. Sy sien Simon waar hy nog vooroor gebuig op die balkon staan. Sy weet nie wat haar besiel het nie. Sy moes hom nooit van die weddenskap vertel het nie. Maar dit gebeur elke keer wanneer sy alleen saam met Simon is: sy wil hom uitlok. Hy verander haar in iemand wat sy glad nie ken nie, ’n stuitige rebel, aspris en astrant. Hy laat haar haar kalmte en sielsvrede verloor en soos ’n rolbos tussen haar emosies rondtol. Hy laat haar selfs haar goue werkreëls verbreek – nou sit sy met ’n woedende tydskrifredakteur wat haar naam lelik kan swartsmeer. Sy weet almal wat hom ken, sê altyd dat as iemand hom te na gekom het, sal hy nie rus voordat hy daardie persoon in gelyke munt terugbetaal het nie. Nou moet sy hom nog môreaand ook in die oë kyk by die bekendstelling. Dit gaan nie maklik wees nie. Sy sal saaklik en professioneel wees, neem sy haar voor, al weet sy nou al dat met Simon in die rondte daar altyd die moontlikheid is dat sy haar humeur sal verloor. Maar vanaand het sy ’n duur les geleer. Die lewe bestaan uit keuses en vanaand het sy die verkeerde opsie geneem. Eintlik al op Ille Belle Vue. Simon is nie ’n
katjie wat jy sonder handskoene moet aanpak nie. Nie ’n katjie wat jy moet aanpak nie. Punt. Sy vroetel die sakkie oop en vind ’n juweeldosie daarin. Sy knip dit oop. Op die donker fluweel lê ’n 24 karaat-enkelbandjie met splinterdiamantjies. Die kaartjie daarby sê: Nogmaals dankie, Engelvoetjies. Vir al jou stranddae. Kan jy nou glo! Wat sou hom besiel het om dit te doen? En ’n troetelnaam vir haar! Niks wat hy vanaand gedoen of gesê het, het hierop gedui nie. Of het sy dalk ’n koers aan die aand gegee wat liewer kon gebly het? Sou Simon ander verwagtinge daarvan gehad het . . . verwagtinge wat sou aansluit by Ille Belle Vue? Sy voel soos ’n hond. Kon sy nie maar haar groot, ongeskikte mond gehou het nie? En daar sit hy die hele aand met hierdie geskenk in sy sak. Dis ’n algehele wonderwerk dat hy dit nog in sy hart kon vind om dit vir haar te gee. Sy haal haar selfoon uit en wonder of sy hom moet bel of ’n SMS moet stuur. Dalk moet sy sommer net die geskenk gaan teruggee. Maar nee, dit sal sake net vererger. Haar vingers rus op die sleutels en sy bewoord verskeie kere ’n SMS, maar druk uiteindelik die stuurknoppie vir die een wat sê: Dankie! Dit laat my soos ’n sigeuner voel. Engelvoetjies. Hoe gaan ek hom ooit weer in die oë kyk? wonder sy toe sy stadig wegtrek. Toe sy by haar woonstel in Bloubergstrand kom, skakel sy vir Christina. Sy vertel huil-huil van die mislukte afspraak. Maar selfs haar lewenswyse vriendin het nie vanaand raad nie. “Ag, skryf dit op jou maag en vee dit af,” sê sy uiteindelik. “As Simon nie kon sien dit was net ’n ou grappie tussen ons drietjies nie, is hy ’n oorernstige ou suurpruim. Kan jy jou indink dat ’n mens die lewe so somber kan opvat? Gooi summier daai enkelketting by die venster uit. Dis in elk geval lankal nie meer in om enkelkettings te dra nie. As dit ooit regtig in was. Bietjie kitsch, is dit nie? Miskien net vir vakansies en so.”
Donna kry dit nie reg om van die ketting ontslae te raak nie. Of dit nou die mees onmodieuse, kitschste item in haar juweelkissie is, dit sal daar bly. Sy is ongewoon sentimenteel oor aandenkings. Sy pas die ketting tranerig aan en raak daarmee aan haar enkel aan die slaap. Engelvoetjies. Wat ’n lieflike troetelnaam. Dit laat haar so kosbaar voel. Gekoester en gepamperlang. Al is dit dan net in haar drome.
10
Die bekende Kaapse nagklub is vol glansmense toe Donna laterig onderdeur die flitsende ligte die vertrek binnestap. Musiek pols luidrugtig en sy staal haar vir nog ’n aand in die kalklig. Sy het ’n vleiende, klassieke swart heupbroek aan en daarby ’n satynkamisool, swart spykerhaksandale en ’n kantknooptrui. Dit word afgerond met ’n fyn goue ketting wat glinsterend teen haar bruingebrande hals lê. Sy lyk allesbehalwe na ’n swemdragmodel met haar glansende hare hoog op haar kop gestapel en lang Swarovski-kristaloorringe wat aan haar ore dartel en glinster. Té sjiek en té elegant. Elke sentimeter die gesogte internasionale loopplankmodel eerder as die voorbleisie van Sport SA. Haar geheim is mos nou uit, voel sy, al is dit net Simon wat weet. Sy kan net dink hoe Wynand sal giggel as hy van die weddenskap moet hoor. Toni sal haar gate uit geniet, en Leigh . . . wel, sy beter net nooit vir Leigh daarvan vertel nie. Sy sal dadelik as haar agent bedank. In hierdie uitrusting voel sy elegant en sjiek, en sy het buitendien al die selfvertroue in die wêreld nodig. Sy het nie toe sy die weddenskap aangegaan het daarop gereken dat sy op ’n geleentheid soos hierdie saam met Simon sal moet pronk as die voorbleisie nie. En boonop op foto’s ook nog. Sy weet nie hoe sy daardie onuitstaanbare, arrogante man in die oë gaan kyk nie. Maar sy het seker gemaak dat haar voorkoms en houding onberispelik is. Gelukkig het Chris nie veel tyd vir skemerkelkpartytjies nie. Hulle het vooraf gereël om laataand te gaan eet en saam te kuier. “Ek sal daarvan hou om jou ’n slag vir myself te hê. Sulke aande gee my net ’n hoofpyn,” het hy met ’n intieme toon in sy stem gesê. Hoe minder sy van Simon sien, hoe beter, dink Donna. Dit lyk in elk geval of hy ook volgens dié beginsel werk, want sy sekretaresse het al vroeër die dag al die
reëlings rondom haar en die aankondiging getref. En seker ook die bos aronskelke gestuur. Sy glip in haar sosiale persoonlikheid in asof dit ’n fluweelhandskoen is toe sy die vertrek binnestap. Benita, Christina en haar ma is reeds daar om haar te ondersteun, en hulle ruil vrouegeheime uit en maak kletsgeselsies oor bekendes. Die Armani-rok kom verskeie kere ter sprake, tot almal se genot. En dan arriveer Simon – ewe formeel in ’n oopnekhemp, swart baadjie en chinobroek. Hy lyk nie in ’n partytjiebui nie. “Die man homself! Wat ’n droom op bene!” koer Benita. “Soos jy gepraat het, het ek gedog hy is ’n monster. Wat kan ’n vrou meer vra? Hy kan maar mý voete onder my uitslaan!” fluister Christina toe Simon verby hulle loop. Donna lig maar net haar wenkbroue. As hulle maar kon weet, of kon raai. Ná ’n rukkie verskoon sy haarself en gaan ruil wangsoene uit met die ander modelle. Terwyl hulle lipstiffie foutloos op hul lippe bly, maak hulle skemerkelkgeselsies oor ditjies en datjies, en ruil name en telefoonnommers uit. Sy poseer vir foto’s en groet Chloe en Michelle vriendelik. Dis duidelik aan hulle houding dat hulle nie weet sy is die voorbleisie nie. Daarvoor is hulle veels te vriendelik en gemaklik. Uiteindelik daag Chris op. Hy sien haar oor die lengte van die vertrek raak en kom nader gestap met ’n reuseglimlag. Toe hy by haar kom, glip sy in sy omhelsing asof hulle mekaar net gister gesien het. Hy druk ’n lang, innige soen teen haar voorkop. Toe Donna omdraai, sien sy hoe Simon se kil blik op hulle rus vanwaar hy op die verhoog staan. Sy oë glip oor haar, van haar kop tot tone en terug. Sy dink vir ’n oomblik dat sy ’n waarderende trek om sy mondhoeke gesien het, maar sy weet sy het haar sekerlik verbeel. Met sy hart van klip is dit nie moontlik nie. Dalk wou hy sien of sy haar enkelketting dra. Maar sy bêre dit vir ’n spesiale geleentheid. Nie dat sy nou weet, of haar kan indink, waar en wanneer nie. Die aankondiging word gemaak vir haar, Chloe en Michelle om na vore te tree.
Chris wys dat hy duim vashou. Benita en Christina kom gee haar ’n groepsdrukkie. Haar ma prewel: “Wys hulle, my kind!” Donna kyk Simon vlugtig in die oë toe hy haar op die verhoog verwelkom met ’n losse omhelsing. “Jy lyk lieflik. Jy het die allerverleidelikste uitrusting aan. Armani?” fluister hy. Donna is erg ongemaklik. Voordat sy iets kan sê, draai hy weg na Michelle. Sy kry dieselfde behandeling en moontlik ’n nog meer intieme omhelsing, sien Donna. Simon stel die modelle aan die gehoor voor. Dan onthul hy onder luide gejuig die voorblad met Donna daarop. Sy sien die geskokte uitdrukking op Chloe en Michelle se gesigte voordat hulle baie vals na haar draai en haar om die hals val. Die gehoor klap hande en fluit. Donna voel hoe ’n opgewonde, warm gloed deur haar trek en sy lig haar blik om dié van Simon te ontmoet. Maar hy glimlag nie, kom net nader en plaas sy arm om haar vir die foto’s toe die fotograaf naderstaan. “Hmm, ek hou van jou parfuum,” fluister hy in haar hare. Donna voel die lou hitte van sy wang teen hare vir die foto. Sy mond is ’n asemteug ver. As hy haar nou sou soen, weet sy nie wat sy sal maak nie, al staan Chris net ’n paar treë van haar. Hy kom vorentoe toe Simon haar laat gaan, en die res van die Sport SA-span en haar vriendinne sak op haar toe. “Skattebolla! Jy lyk stunning!” sê Wynand sjarmant. Benita en Christina hou nie op met glasies klink nie. “Girlfriend! Jy’s warm, vuurwarm! Ek het geweet jy gaan daai ou twee Barbieklone wys hoe dit gedoen moet word. Die foto’s is só elegant. Iets heeltemal anders!” sê Benita met ’n stywe drukkie. “Hulle kyk lelik op hul kosmetiese neuse,” lag Christina.
Die res van die geleentheid gaan in ’n deurmekaar waas by Donna verby. Chris is so trots op haar dat hy haar nie ’n oomblik verlaat nie. Sy arm rus om haar skouers en hy sorg dat sy genoeg te drinke en te ete het. Hy stel haar aan sy kring vriende voor en sorg dat sy al haar geskenke en pryse bymekaarkry en hou. Sy is bly daaroor, want as sy in Simon se rigting kyk, steel sy koue blik en kil houding die glans van die aand effe vir haar. “Ek sien jy en Simon sit nog steeds nie langs dieselfde vuur nie,” merk Chris later op toe hy Simon saam met Chloe en Michelle sien flankeer in die skemerkelktroppie. Donna maak asof sy nie gehoor het nie. Sy voel aan dat Simon haar doelbewus vermy. Ook in Michelle se houding is daar ’n triomfantelikheid wat sy nie kan verstaan nie. So ’n houding van: Jy het die voorblad, maar ek het die redakteur . . . Hoe kinderagtig kan ’n grootmens word! Toe sy Simon gaan groet, druk hy ten aanskoue van Chris ’n soen op haar hare. ’n Talmende, bykanse lugsoen. Meer ’n gebaar as enigiets anders, maar sy hoor duidelik hoe hy fluister: “Geluk, Engelvoetjies. Jy verdien dit meer as enigiemand anders.” En toe bederf hy dit met sy opmerking aan Chris: “Jy het gesorg vir ’n wenfoto, Chris. Hierdie uitgawe gaan soos soetkoek verkoop.” Hulle skud hande soos ou vriende en dan stap Simon vinnig weg. Donna gaan klim vererg in haar kar. Wat Simon betref, kon sy net sowel die Springbok-rugbykaptein op die voorblad van Sport SA gewees het. Inteendeel, sy is seker hy sou dit dalk verkies het. Vanaand het dit gelyk asof die swemdraguitgawe vir hom meer ’n jaarlikse plig as plesier is, asof niks hom gelukkiger sal maak as om terug te kom in die sportwêreld nie.
Ná ’n heerlike ete by ’n knus restaurantjie in Groenpunt, lê sy en Chris op die strand en gesels op ’n kombers wat hy uit sy motor gehaal het. Die volmaan hang soos ’n seepbel tussen ligte, drywende wolke. Veraf druis die nagsee. Chris vermaak haar met kamerapetaljes wat hy intussen beleef het. Sy vertel hom van die New York Modeweek. Daar is ’n gemaklikheid tussen hulle asof hulle
mekaar net gister gesien het. “Ek het nogal na jou verlang,” sê hy ná ’n rukkie toe hulle nuus uitgeruil is. “Nogal?” vra sy spottend. “Wel, ek was besig! Soos jy kan hoor.” Sy boks hom kammakastig teen die bors en jaag hom ’n ent oor die strand, totdat hulle langs mekaar neerval en oor mekaar val soos hulle lag. Sy dink vlugtig dat dit die verskil tussen Simon en Chris is: Chris is pret, hy oorrompel haar met sy sin vir humor. Dis net sy sin vir perfeksie op film en sy obsessie met detail wat haar soms pla. Hy druk homself die hele tyd om honderd persent te verkry, en hy verwag dieselfde van ander. Simon is te stroef en gereserveerd. Ná sy eilandongeluk nog meer as tevore, dit kon sy gisteraand by sy dolfynhuis aflei. Hy het beslis verander, op ’n manier wat sy nie kan peil nie. Sy sit effe agtertoe en kyk na Chris in die maanlig. Sy hemp span gemaklik om sy skouers. Hy het sy skoene uitgeskop en is kaalvoet. Vir eens is sy klein swart selfoon nie in sy hand nie, en sy ontwerpersonbril lê vergete in sy viertrekvoertuig. Hy rek hom behaaglik uit, sit sy hande agter sy kop en maak sy oë toe. Sy pikswart wimpers rus ligweg op sy wange. “Ek wens ons was terug op die Seychelle, net ek en jy.” “Wil jy ’n geheim weet?” fluister sy. “Hmmm?” “Danksy jou puik voorbladfoto is ek ’n Armani-rok ryker.” Hy kom dadelik regop op sy elmboog. “Is dit wat die suinige Simon Conradie jou betaal vir die modesessie?” vra hy verbaas. Donna lag. Simon is bekend daarvoor dat hy professionele mense nie altyd betaal wat hulle moet kry nie, en ook dat hy ’n vlymskerp onderhandelaar is. “Ek hoop om nog betaal te word. Maar ek is bevrees dat ek onnadenkend met my
skerp, hoë hakke op Simon se tone getrap het.” “Wel, hy sal jou alles móét vergewe, want jy het sy lewe gered. As ek luister na die riemtelegramme, is hy nogal baie dankbaar. Hy vertel vir almal net goeie dinge van jou. Maar die spanning tussen julle is nogal voelbaar. Jy weet . . . ’n mens kon dit vooraf sien uit die wyse waarop julle mekaar doelbewus vermy.” Hy kyk ondersoekend na haar toe sy niks sê nie. “Jy weet daai man het ’n reputasie wat skrik vir niks. Hoekom dink jy is hy op veertig nog nooit getroud gewees nie?” “Kan ek nie dieselfde van jou sê nie?” spot sy om die onderwerp te vermy. “Ek is, soos jy natuurlik weet, skaars dertig. En jy kén ons fotograwe, almal rolklippies. Maar om terug te kom na Simon . . . Ek dink dis juis die feit dat jy hom moes help wat hom so effe suur maak vir jou. Simon is supermacho. Miskien kan sy ego dit nie verwerk dat ’n model van alle mense hom moes red nie. Ek hoor hy is nogal geruk deur die hele ding. Hy was lank in die hospitaal, sy beserings was ernstig. Die arme man was tot op krukke. Vir iemand wat sy naweke op kranse deurbring . . . jy kan jou indink dis erg frustrerend vir hom. Maar kom ons vergeet nou eers van hom. Wat is jou geheim?” Sy vertel hom onder groot gelag en geskerts van die weddenskap. “Ek hoop nie Simon weet hiervan nie,” sê Chris kopskuddend. “Jou loopbaan as ’n swemdragmodel sal dit nooit oorleef nie. Sport SA is alles vir hom. Of was, ek weet nie meer so mooi nie. Daar is gerugte wat sê hy gaan bedank. Alles opgee en sy seiljag klaar bou en verder net seil. Of ’n aanbod in Amerika aanvaar by ’n groot mediagroep daar. Hulle is baie angstig om sy expertise te bekom. Hy sal genoeg geld hê as hy sy tydskrif verkoop om vir ’n lang tyd niks te doen nie, dis vir seker.” Donna bedink haar en besluit om hom liewer nie te vertel dat Simon wel van die weddenskap weet nie. Dis nuus vir haar dat Simon so geruk is deur die ongeluk, maar eintlik kon sy dit verwag het. Tydens haar besoek aan sy woonstel was daar iets in hom wat sê dat hy ’n grens oorgesteek het. Maar sy het gedink dit het met sy gesondheid te make. “Kom ons vergeet nou eers van alles en almal,” sê Chris met ’n lui glimlag. Hy trek haar agteroor tot sy plat op haar rug lê en buk oor haar. “Ons het ongedane
sake om klaar te maak . . .” Hy vang die geronde kurwe van haar lippe met syne vas. En hoewel hy slegs sy arm onder haar kop hou en nêrens anders aan haar raak nie, voel sy of haar hele lyf aan hom behoort. Sy laat val haar kop teen sy arm toe hy meer en harder oor haar leun. Sy hand vou om haar nek en sy voel hoe sy stadig al hoe meer lighoofdig word. Die Kaapse sterre verhelder voordat haar oë toeval en sy haar oorgee aan hom toe sy lippe oor haar wange glip. Sy verken die sensuele landskap van sy rug deur sy hemp op te stoot en oor die fyn velplooie te stryk met die punte van haar vingers. “Hmm . . . doen dit weer. Ek sal nooit die massering vergeet wat jy my op die Seychelle gegee het toe ek so moeg was ná drie dae van skiet nie,” mompel hy na ’n rukkie teen haar lippe toe haar vingers na die klein, warm plek in sy nek beweeg en dit begin masseer. Sy voel hoe sy harde lyf geleidelik teen hare ontspan. Al sugtend gee hy hom oor aan haar en aan die oomblik. Na ’n ruk is hy heeltemal ontspanne. Sy glip haar ander arm om sy nek en vroetel haar vingers deur sy krulle totdat die palm van haar hand teen sy wang lê. Hy kyk lomerig na haar. “Jy is beeldskoon, asemrowend mooi. Toe ek jou die eerste keer voor die lens gesien het, wou ek dit al vir jou sê: jy is vlekkeloos. Perfek. Tien uit tien. Gemaak vir die kamera. Jy moet eenvoudig wegkom van die loopplank.” “O, maar ek gaan,” fluister sy terug. “En sommer gou ook.” Hy lig sy kop en kyk vraend na haar. “Wie gaan jou skiet? Waarvoor?” vra hy ewe skielik mededingend. Effe jaloers dalk? wonder Donna. “Kan jy ’n geheim hou?” “Nog een? Dit raak nou te veel.” “Ek begin oor ’n week of wat ’n film skiet in die Bahamas.” “Jy speel!”
“Ek was so bang ek kry nie die rol nie dat ek nie eens vir my ma gesê het nie. Maar my agent het vanoggend geskakel en die blye nuus uitgeblaker.” Sy dink aan hoe Leigh dit gestel het met haar buitengewoon luidrugtige stemtoon: “Liefie! Jy het die big time geslaan. Welkom in Hollywood!” En toe het sy hoorbaar ’n bolling rook uitgeblaas. “Jy sal nie vergeet wie die ou rolletjie vir jou losgeslaan het as jy eendag die Oscartjie kry nie, nè?” Chris soen haar op haar voorkop en toe voluit op haar mond. “Welverdiend! Waaroor gaan dit? Watter rol speel jy?” “As jy moet weet, die ou bekende storie: man ontmoet meisie, en dan is daar die beeldskone model wat op die toneel verskyn,” spot sy. “En?” “Ek is die model! Dis ’n soort James Bond-aksiefliek met baie spesiale effekte, soos die opblaas van geboue en bote wat in die lug spring en bots. Opwindende, aksiebelaaide jaagtonele met die nuutste, vinnigste karre. Ek waterski in ’n jaagtoneel – ek dink dit het die rol vir my beklink. Hulle kon nie juis ’n ander model kry wat ook kan waterski nie.” Hy draai sy kop skuins. “Ja, ek twyfel. Ons weet al twee hoe veelsydig jy is en waar jou ware talente lê. Geluk!” sê hy bewonderend. “Wat beteken dit vir jou?” “Wel, ek weet nie veel van filmwerk nie. Ek het maar net ’n vet kans gevat toe my agent gesê het ek moet vir ’n oudisie gaan. Leigh druk ’n mens in enigiets in, en toe sy hoor hulle soek ’n model wat kan waterski, het sy onthou hoe sy eenkeer saam met my pa op ons boot amper die skrik van haar lewe gekry het. Maar ek is nou op pad na dertig, en soos ek jou gesê het, loopplankmodelle begin deesdae al skuins na veertien. Hulle word al hoe jonger, lyk dit vir my. Babas in te groot stiletto’s – dis tragies, maar dis waar. So my raklewe is vinnig besig om te verstryk.” “Wat van jou swemreeks?” “Raai wat? Dis nog ’n gelukkie . . . Van my skeppings gaan in die film gebruik word. Leigh het die kontrak soos ’n witdoodhaai benader. Die vervaardigers het nie ’n kans gehad nie, hulle móés dit insluit. Nou het ek die beste platform ooit om met die reeks weg te spring!”
“Jy is so fantasties. Wie sou nou kon dink . . . Maar ja, weet jy, ek is doodseker jy sal ’n sukses daarvan maak,” sê hy steeds half ongelowig. Die palm van sy koesterende hand kom tot rus op haar halslyn. Hy lig met sy vinger haar ken op na hom. Hierdie keer is hy nie so haastig nie. Sonder om sy hand onder haar kop in te skuif, buk hy af en soen gevoelvol haar wange, haar voorkop en dan haar lippe. Asof hy met sy fladdersoene haar tintelend van kop tot toon wil laat. Hy streel sy lippe weer oor hare, maar gee voorkeur aan die kuiltjie in haar nek. Sy koel tong glip na haar hals. Haar net-net sigbare borsgleufie maak hom al mal sedert hy haar die eerste keer in ’n strandrok gesien het. En dan is daar nog die troetelsagte kurwe van haar middel tot haar heup, met dié dat haar heupbroek so effe afgetrek het. Haar vel voel so sag, so delikaat, hy voel heeltemal oorrompel daardeur. “As ek nie nou ophou nie, gaan ek te ver gaan.” Sy weet ’n eerste beminningsessie móét vir hom spesiaal wees, romantiek en skoonheid is vir hom te belangrik. Sy tong huiwer vir ’n oomblik op haar lippe. “Kom vir ’n naweek saam met my na ’n wegkruipplekkie wanneer jy van die Bahamas terugkom,” fluister hy. “Waarheen?” “Enige liefdesparadys.” “Mag ek kies?” “Die keuse van plek is joune. Die keuse oor wat ons gaan doen, is ons albei s’n.” “Klink vir my soos ’n ooreenkoms.” Soos vennote met ’n ooreenkoms maak, seël hulle dit behoorlik met ’n uitgerekte somersoen vol belofte. Chris laat haar uiteindelik gaan. “O ja, Simon gaan oor ’n paar dae sy seiljag te water laat. Hy het my vanaand genooi om die foto’s te kom neem en saam partytjie te hou. Is jy lus om saam te gaan? Ek weet jy het nie veel ooghare vir hom nie, maar dit sal die partytjie van die jaar wees.”
“Is Verre Winde dan al gereed?” Donna skuif teësinnig weg. Sy is werklik nie lus om Simon te sien nie, maar hoe nou anders? Sy wil graag saam met Chris wees, en dit klink of dit vir hom belangrik is. “O, jy ken dit?” “Hy kon nie ophou praat daaroor toe ons die dag ’n plek vir die fotosessie gaan soek het nie.” Chris kyk onderlangs na haar, en sy onuitgesproke vraag van vroeër hang weer tussen hulle: Wat het regtig op die eiland tussen julle gebeur?
Toe die son oorkant Bloubergstrand in Tafelbaai se vertes in koperglorie verdwyn, slaan ’n magnum sjampanjebottel teen Verre Winde se boeg. Die klein skare bars met opgewonde applous los. Ballonne word die lug ingelaat en kleurvolle linte word oor die jag gegooi. Chris neem foto’s van elke oomblik – veral toe Simon laggend die bottel bykans terugvang in sy hand. Kelners sorg dat almal se glase vol is. Simon maak ’n toespraak om die seiljag behoorlik te water te laat. Donna staan saam met Wynand en Toni in die skare vol glansganse en BBP’s van die Kaap. Daar is ook ’n biljoenêr of twee onder die skare. Sy wonder opnuut oor die aand toe Simon haar in die kombuis van sy dolfynhuis meer oor die bou van die seiljag vertel het. Sover sy weet, gaan hulle nie vanaand die seiljag beproef nie, want die wind is te skraal. Dit word net seremonieel te water gelaat. Simon se droomjag sal môre met hom as kaptein en vyf bemanningslede op ’n opwindende inwydingsvaart na Langebaan gaan. Sy het die gerug gehoor dat die seiljag só besonders gebou is dat Simon reeds ’n aanbod daarvoor ontvang het, maar hy het dit van die hand gewys. Sommige drome het nie ’n prys nie. Somer, son, see en seil – sy kan nou sien dis sy lewe. Sy het hom nog nooit so opgewonde gesien nie, hy is ’n ander mens. Verre Winde, sover sy kan sien en hoor, is ’n aluminiumjag met ’n geronde boeg, ’n reusagtige takelwerk en ’n smal waterlyn. Die enorme bolseile is vanaand vir
’n rukkie ontplooi sodat almal dit kan sien. Dis nie ’n plesierjag nie, en omdat dit reg is vir wedvaarte, is net die nodigste toerusting aan boord, sê die skeepsargitek, Dave Southwell, in sy kort toespraak. Toe hy klaar gepraat het, spring die rockorkes by die Kaapse Seiljagklub se ledekamer weg met ’n lewendige nommer. Die jagbewonderaars spat uitmekaar om te eet en te dans; die partytjie het begin. Donna dans met Chris en kom gou agter uit die skuins kyke wat sy kry dat daar ’n hele paar vroue is wat haar die ies met Chris beny. Hy is die teiken van vele verleidelike blikke, en dis duidelik dat hy geen vreemdeling is vir die Kaap se skoner en ryker geslag nie. Een van die blondines met ’n bruingebrande middel en laaggesnyde wit broek neem hom van haar weg aan die einde van ’n stuk vlamwarm musiek om ’n eksotiese Latyns-Amerikaanse dans met haar te dans. Donna staan vir ’n oomblik alleen op die dansbaan voordat sy omdraai om af te stap, maar Simon neem vinnig Chris se plek in. Hy neem haar aan die arm en gee haar geen kans om te protesteer nie, trek haar net in sy omhelsing in. “O, ek het amper vergeet, jy doen mos nie die losdansding nie,” sê sy om haar ongemak weg te steek. Sy het gewens sy kan vanaand met die skare saamsmelt sodat hy haar nie opmerk nie, maar met haar lengte is dit nie altyd moontlik nie. Die dans is ’n stiller rockballade in teenstelling met die lewendige musiek van vroeër. Sy dink aan hulle eerste dans saam op die Seychelle; dit voel soos ’n leeftyd gelede. Sy doen nie veel meer as om te volg waar hy lei nie. Die musiek is só oorverdowend dat ’n gesprek buitendien nie moontlik is nie. Buitendien, sy het min om vir hom te sê – hulle is die laaste keer nie juis op vriendskaplike voet uiteen nie. Tog word sy weer eens deur sy nabyheid geprikkel: sy aanraking, sy stewige greep om haar middel en die fyn speserygeur van sy naskeermiddel. Toe die ballade tot ’n einde kom, neem hy haar aan haar hand en trek haar buitentoe. “Kom, ek wil vir jou iets gaan wys,” sê hy geheimsinnig. Hy stuur haar in die jag se rigting, wat op die stil water lê en dobber. Die takelwerk van al die skepe vorm ’n sigsagpatroon in die maanlig teen die skerp donkerte van die aandhemel. Die see se skerp soutreuk slaan van die water op. Dofweg kom die rockmusiek op die aandlug na hulle aan.
“Kom saam,” sê hy en lei haar aan haar hand tot op die seiljag. Hy neem haar na die roer en knip ’n liggie aan. Hy wys dat sy stelling voor die roer moet inneem. “Hoe voel dit? Bekend?” Donna laat haar hande op die houtroer rus en draai dit effe in die rondte. Sy kan nie anders as om te dink aan haar nagmerrievaart tydens die storm vanaf Ille Belle Vue na Mahé nie. “Té bekend,” sê sy. Hy maak ’n klein kabinet langs die kontroles op die bord voor die roer oop. Binne-in lê die skulpie wat sy vir hom gegee het toe hy hospitaal toe is. Toe sy hom bewusteloos onder die krans gevind het, was dié skulpie in sy hand vasgeklem. “Jy het onthou . . .” adem sy verras. “Ja, en ek wil sewe seë ver met hierdie skulpie op Verre Winde reis.” Hy tree nader aan haar. “Donna, ek is jammer dat . . .” Maar voordat hy verder kan praat, kom Michelle van die klubhuis af aangestap. “Simon, jou stoute gasheer! Jou gaste soek na jou. Kom nou vir ’n slag weg van die ou boot!” Sy trippel nader en trek hom weg van Donna en die seiljag. Maar hy maak hom los en buk eers oor om Donna aan die hand te neem en uit die seiljag op die kaai te help. “Stap gerus aan,” sê Donna. “Dis so mooi hier in die maanlig, ek gaan eers ’n rukkie hier sit.” “Ek sal vir Chris sê jy’s hier,” glimlag Michelle katterig. Donna gaan sit op die rand van die kaai en swaai haar bene oor die water. Veraf hoor sy die gelag van die partytjiegangers. En sy wonder waaroor was Simon jammer. En hoekom sou hy daardie skulpie so vertroetel?
11
Die filmstel van Return of the Assassin lê tussen die hoë palms van ’n herehuis in Nassau op die New Providence-eiland, een van die driehonderd Bahamaeilande. Almal op die stel is druk besig toe ’n gespanne Donna daarop verwelkom word deur Jay Lennox, die regisseur. ’n Bombastiese man, as sy hom vinnig moet opsom. Die Bahamas is ’n turkooisblou hemel op aarde. Een van die mees eksotiese plekke op aarde, met hotelle, casino’s en strandoorde vir die rykes – veral dié wat van watersport soos seil hou. Daar is luukse winkels in die hoofstraat, maar ook hangmatte tussen die palmbome op die skitterwit strande. Dis ’n rykmanswêreld vol glans en plesier. Dis ’n toevlugsoord vir vele en beslis die speelplek van die rykes. Filmsterre besit hier tot ’n hele eiland. Die ligging, omgewing en weer maak die Bahamas ’n uitstekende bestemming om ’n film te skiet. Veral naby Nassau, want die groot en imposante Atlantishotel is daar, asook die Blue Lagoon en Paradys-eiland. Hier is net twee seisoene: vroegsomer en laatsomer. Donna verkyk haar aan die deurmekaar orde op die stel: eenkant staan die luukse karavane van die drie groot sterre van die aksiefilm: Daniel Ford, Cindy Jones en Matthew McArthur. Sedert sy twee dae gelede op dié tropiese glanseiland aangekom het, is sy reeds soos ’n ster op die hande gedra. ’n Groot aantal uitstappies is vir haar beplan en ’n wye verskeidenheid besoeke aan tradisionele toeristeplekke het gevolg. Die welige plantegroei en louwarm water wat die talle strande omspoel, maak die ervaring soortgelyk aan dit wat sy op die Seychelle geniet het. Maar hier is meer sofistikasie, asook meer om te doen en te sien – nie dat sy dink sy sal tyd kry daarvoor nie. Haar program is volgeprop: lesse by ’n stemafrigter, beplanning van skietskedule, afsprake met die waaghalse, ensovoorts. Sy het die res van die filmspan reeds tydens ’n skemerkelkpartytjie vol glitterati
ontmoet en sy is beïndruk met die geselskap waarin sy haar bevind. Hollywoodglans op sy beste. Veral Daniel Ford het ’n interessante gesprek met haar aangeknoop oor SuidAfrika. Hy het onlangs ’n film oor diamante in Natal geskiet. Hy het sy SuidAfrikaanse aksent en sy beperkte Afrikaanse woordeskat op haar getoets totdat sy naderhand nie meer kon lag nie. Hy is gevaarlik sjarmant en astrant, met ’n regte deurnagkuier-houding. Voeg daarby dat hy ’n hemp aangehad het wat net effe te knap om sy breë skouers span en ’n kortbroek wat jou ’n eersteklaskykie op sy fris kuite gee, en sy kan verstaan hoekom sy gevoel het of elke stukkie vroulikheid in haar op hom gereageer het. Hy het met een blik van sy blou-blou oë, omraam met swart wimpers, reguit in haar siel gekyk. Sy eens blonde kop is poenskop geskeer vir die film – ’n faktor wat jou oë maklik laat dwaal na sy klipharde biseps en triseps. Hy was geensins terughoudend nie en het sommer dadelik vir Donna ’n kompliment gegee: “Jy het hare soos ’n engel!” Sy het die kompliment selfbewus aanvaar. Sy het ’n splinternuwe, byderwetse haarstyl vir die film. Haar kastaiingbruin krulle swiep nog oor haar rug, maar sy dra nou ’n lae gordyntjie oor haar voorkop. Sy weet nie of daardie gul kompliment tot die plesierige flankeerdery tussen haar en Daniel bygedra het nie. Hulle het net van die begin af gekliek. Om in sy geselskap te wees is om vertroetel te voel. Watter vrou gaan nee sê daarvoor? dink Donna toe hy juis weer nader stap. “Sjoe! Sjoe! Sjoe!” sê hy toe hy haar sien. Sy dra ’n kort, geel sonrok wat haar bruingebrande kurwes beklemtoon, ’n groot witraamsonbril en ooptoon-opvlegskoene wat haar smal enkels op hul beste laat vertoon. Aan haar ore swaai goue hoepeloorringe, pure sigeuner. Daniel neem haar na die middelpunt van die filmstel en verduidelik wat hulle vandag gaan skiet. Hy gee haar aan die produksieregisseur oor toe hy sy plek moet inneem.
“Ek sien jou vanaand, nè?” sê hy voordat hy met ’n vinnige wangsoen verdwyn. Koppe draai taktvol in hul rigting en blikke word uitgeruil. Dis nie lank nie of sy word opgeneem as een van die groep, ’n faktor waarvoor sy sekerlik vir Daniel moet dankie sê. Die aand kuier hulle op Jay se seiljag, Esperanza. ’n Plaaslike orkes speel die tipiese staaldrommusiek van die Karibiese Eilande. Donna arriveer in ’n violetblou satynrok. Dit het ’n lae hals wat die fyn goue dubbelketting om haar nek ten beste vertoon, en by die knielengte rok dra sy ooptoonsandale. “Jy lyk koorsmooi!” sê Daniel en neem haar aan die hand. Die res van die aand is sy aan sy sy en sorg hy dat sy by die groep ingeskakel bly. Toe hy haar ná middernag nooi om saam met hom op die strand te gaan stap, stem sy halsoorkop in. “Kom, Pragtig, dan gaan wys ek jou die Bahamasterre,” sê hy dubbelsinnig. Maar Donna besef gou sy hoef nie te vrees nie: Daniel Ford is net verlief op homself. Hy vertel haar van sy filmdebuut en gee haar ’n paar wenke. Ten minste het sy nou ’n vriend op stel, dink sy. En dit kan nie seermaak dat hy een van die sterre is nie. Hy het tans die wêreld aan sy voete. Die helfte van die film is reeds geskiet. Die gedeeltes wat nou afgehandel moet word, is die ware aksiegedeeltes – die jaagtonele en so aan, ook die een waarin sy betrokke is. Haar rol is dié van ’n model wat die held, gespeel deur Daniel, tydens ’n skemerkelkpartytjie ontmoet, hom verlei en hom dan oorreed om haar op sy boot uit te neem vir ’n waterski-uitstappie. So lok sy hom in ’n strik, wat eindig met ’n wilde motorjaagtog. Donna voel self soos ’n filmster, so goed word sy behandel. Sy word oral voorgestel as die bekende internasionale model. Daniel dra by tot haar status deur gereeld met haar op stel te kom gesels en haar uit te neem. Hulle kry dit nie reg om die paparazzi te ontduik nie en kort voor lank verskyn daar foto’s van hulle twee in die celeb-skindertydskrifte.
Al die tonele waarin sy verskyn, verg dat sy skamel geklee moet wees. Waar is Simon tog nou met al sy voorskrifte? wonder sy geamuseerd. Voordat sy uit die Kaap weg is, toe Chris haar op die lughawe kom afsien het, het hy haar die nuus vertel: dat Simon die aand by Verre Winde se loodsingspartytjie, nadat hulle twee reeds weg was, wel aangekondig het dat hy as redakteur gaan uittree. Hy het nie ’n enkele rede vir sy besluit gegee nie, maar die bostelegraaf het dit duidelik gestel: Simon Conradie se Seychelle-ongeluk het hom onteenseglik verander. Hy het sy ambisie om hoof te word van die mediagroep wat Sport SA uitgee, verruil vir die roer van Verre Winde. En hy is opgeneem in die bemanning van die Suid-Afrikaanse wedvaartseiljag Themba. ’n Bietjie drasties, het Donna gedink, maar soos haar pa gewoonlik sê: ’n ander se hart is vir jou duister. Sy wonder soms of Michelle deel van Simon se planne is. Soos sy ook wonder hoe lank Chris deel van haar eie toekomsplanne sal wees. Sy kan dit wat tussen hulle is nie werklik ’n naam gee nie. Fisieke aantrekkingskrag? Twee mense met sterk raakpunte? Ná die verskyning van foto’s van haar en Daniel Ford het sy ’n paar spottende SMS’e van Chris gekry, maar sy het haar nie veel daaraan gesteur nie. Sy het hom telkens gerusgestel, en omdat hy die filmwêreld ken en self al ’n paparazzifoto of twee geneem het, het hy haar klaarblyklik geglo dat sy en Daniel net vriende is. Maar sy SMS’e het nie opgehou nie. Sy kon sweer die ou hartebreker was jaloers . . . Ná hulle strandwandeling die aand met die loodsing van die swemdraguitgawe het hy voortgegaan en vir hulle ’n wegbreeknaweek op ’n eksotiese Oosterse eiland bespreek. Sodra sy met die verfilming klaar is, gaan hulle probeer om dit in te pas. Miskien is dit ’n goeie ding dat sy weggegaan het.
Donna bepaal haar aandag by die toneel voor haar, waar die span besig is om die tuin van een van die herehuise gereed te kry. Hulle gaan nou die
skemerkelkpartytjie skiet waarin sy die held ontmoet. Daniel stap vinnig nader. Hy is vandag ’n ware hardebaard, dink sy toe hy sy ongeskeerde wang teen hare vee in ’n vlugtige soen. Hy lyk elke sentimeter die geharde karakter wat hy moet speel. Sy word nader gewink vir haar grimeer-en-hare-sessie. “Moenie dat hulle jou beste bate wegsteek nie,” fluister hy in haar oor. Hy het haar al oor en oor verseker hoe mal hy oor haar smal, elegante voete is. Gister se repetisie het goed afgeloop. Dit was skaars drie minute speeltyd op film, maar dit het nogtans veel van haar geverg. As dit nie was dat sy haar fokus wil verstel wat haar loopbaan betref nie, het sy sommer besluit om haar goedjies te vat en te loop. Filmwerk is ongenaakbaar. As model is sy gewoond daaraan om dieselfde ding oor en oor te doen, maar na dese kyk sy met nuwe oë na aktrises. En in al die tonele is sy in ’n mini-bikini! Sy dra darem vir beskerming teen die son ’n jurkie tussen tonele, maar sy weet dat die kolletjies-bikini wat sy aanhet – een van haar eie skeppings – almal aan die praat het. “Jy slaan my asem weg!” het Daniel gesê toe hy haar daarin sien en haar ’n stewige drukkie gegee, maar sy neem aan dis maar hoe dit in hierdie vals wêreld werk. Tydens die repetisie het Jay, die regisseur, haar op die skouer kom klop en gesê: “Jy lyk asof jy dit elke dag doen. Met jou voorkoms hoef jy natuurlik net op te daag en op die skerm te verskyn en die gehoor sit verstom. Jou New York-aksent werk ook goed vir my. Ek het gedink ons moet vir jou ’n stemafrigter kry, of selfs ’n stemkunstenaar, maar jy klink goed. Nie te vrot vir ’n meisie uit SuidAfrika nie.” Nog ’n modelhater en stereotipeerder soos Simon, het sy gedink, maar nie haar gevoelens gewys nie. Hulle soort is vervuil onder sulke arrogante mans in baasposisies. Ná tien jaar op die loopplanke van die wêreld en hoeveel honderde ateljeefotosessies, sou sy hoop dat sy weet wat om voor ’n kamera te doen. Wat haar aksent betref: sy woon al tien jaar in New York en het nog altyd die gawe gehad om enigiemand na te boots. Hoe noem Simon haar? Donna van New York.
Sy wonder weer vlugtig hoe dit met hom en sy drome vir Verre Winde gaan. Sou hy al genoegsaam van sy beserings herstel het? Hulle neem ’n blaaskans en sy soek koelte en lafenis onder een van die sambrele. Sy haal haar selfoon uit. Sy kry voortdurend SMS’e en oproepe van Chris, soos pas weer. Hello Pragtig! Verower hulle harte XXX C lui die SMS. Maar dis dadelik opgevolg met: Ek sien jy en Daniel was al weer saam uit. Wat gaan aan? C Donna kry ’n vonkel in die oog. Klink of Chris jaloers is! Sy sms terug: Van wanneer af glo jy alles wat in die koerante staan? Ek is te besig vir sulke snert! Dit is baie waar. Sy is te senuagtig om haar aan sulke dinge te steur, hoewel sy weet dat die vraag of sy en Daniel ’n verhouding gaan begin almal laat kopkrap. Voordat sy daaraan kan dink, moet sy gemaklik raak met haar nuwe loopbaan. Sy het eenvoudig nie nou tyd om emosioneel betrokke te raak nie. Buitendien is daar iets aan die ontwikkel tussen haar en Chris. Sy gaan dit nie nou bederf met ’n openbare, kortstondige flirtasie nie. Daniel kan tog sekerlik nie ernstig wees oor haar nie. Hy is ’n silwerdoekster en sy is maar net ’n model, met ’n kleinerige rol in ’n film waarin hy speel. Nie juis ’n gelyke speelveld nie. Sy is in elk geval veels te gestres om nou romanties aan enige man te dink. Sy ken die gevoel: net voor jy op die loopplank gaan, kom sit dit in jou maag. Dis ’n kombinasie van kalmte en kriewelende vlinders. Daardie gekontroleerde senuwees wat jou fokus en beheer gee. Maar die resultaat van jare en jare voor spieëls oefen, skop geleidelik in. Sy voel hoe sy al hoe minder selfbewus word op stel – Paul en Ellen Joubert se langbeenmeisiekind skrik mos nie vir ’n uitdaging nie. Sy kry juis gereeld bemoedigende oproepe van haar ouers. Benita en Christina se e-posse is lank en uitgerek; hulle kan dood van nuuskierigheid. Sy neem gereeld foto’s en stuur dit aan. Selfs die koel Leigh het oornag in ’n agie verander. “Liefie, dis immers Daniel Ford. To die for, hierdie foto’s!” Voordat Donna te veel daaroor kan dink, word haar naam uitgeroep en sy stap in
haar wit jurkie terug na die stel. Sy verskyn hierdie keer in ’n skramse wit halternektoppie en minirompie op die stoep wanneer die held sy opwagting maak. Daarvandaan stap hulle af na sy nuwe motorboot. Gelukkig is daar geen liefdestonele nie, sy sou nie daarvoor kans gesien het nie. “Hmm, jy mag niemand anders soen soos jy my soen nie,” het Chris op die lughawe gespot. Maar noudat sy en Daniel sulke gemaklike vriende is, is sy nogal spyt, dink sy speels. Miskien kon sy nog sy hart – wat glo so ruim soos die Hollywood Boulevard is – verower het! Hy het al so stilletjies ’n soen of twee gesteel. Eers ’n kroonsoen – so op haar kroontjie. En toe ’n fluistersoen waar hy iets onhoorbaars teen haar lippe gefluister het terwyl sy lippe oor haar mond gestreel en sy lang wimpers teen haar wang gekielie het. Die toneel by die motorboot laat haar dink aan Simon. Is hy reeds op Themba aan’t seil in ’n wedvaart? Sy wil nie vir Chris oor hom uitvra nie, maar sy sou tog graag wou weet. Of seil hy iewers ver met Verre Winde? Dalk so met die ligbruin waaierskulpie in die kabinet by die roer? Die polfyntjie uit die see, die amulet wat hy gehou het . . . Simon se Ille Belle Vue-soene . . . Wie sou kon dink dat dié afgetrokke man soveel vuur in hom het? Hy is beslis ’n enigma. Wie ís hy werklik? Sy kan hom of sy aksies eenvoudig nie peil nie, en dit sou soveel makliker gewees het as sy kon. Nou wonder sy onnodig op allerhande vreemde tye oor hom, terwyl sy seker is dat hy nooit weer ’n minuut afgestaan het om aan haar te dink nie. Hoe gaan dit regtig met hom? Het hy volkome herstel? Sy wens sy het kontak gehad met iemand wat hom ken wat nuus kon oordra. Wat sal hy doen as hy moet weet sy is hier in die Bahamas, besig om ’n fliek te skiet? “Oe la la!” sê Daniel en laat sy oë waarderend oor haar glip toe sy haar jurkie uittrek en haar bene uitstrek. Sy toring bo die res van die spelers uit; hy is die enigste een op stel wat langer as sy is. Die beplande toneel word in ’n rekordtyd afgehandel. “Jy is ’n heeltemal natuurlike speler,” sê Daniel en knipoog vir haar. “En ’n wandelende temptasie.”
Die aand kuier hulle tot laat saam. Toe hy haar afsien by haar hotelkamer, rus sy vol, soenbare lippe ’n oomblik op hare. Dan lig hy sy kop en kyk intens na haar. “Laat ek loop voordat jy my heeltemal verlei,” fluister hy. “’n Mens weet nooit waar die paparazzi en hulle lang lense is nie. Ek wil graag jou reputasie beskerm.” Toe maak hy hom vinnig uit die voete. Donna maak die deur agter haar toe en val moeg op die bed neer. Iemand het vandag op stel gespot dat sy Daniel se ysige hart gevind het. Sy weet nie of dit so is nie, maar sy geniet nietemin die aandag, al ontstel dit vir Chris. Sy kruip gou in die bed. Môre het groter uitdagings: sy sal agter ’n vinnige boot op waterski’s op haar voete moet bly in ’n bikini wat min aan die verbeelding oorlaat. Dis ’n geluk dat sy self die blou bikini ontwerp het wat vir die toneel gebruik gaan word. Die res van die span was skepties toe haar besending klere aangekom het. ’n Model wat klere ontwerp – hulle wil dit eers sien. En dan is die klere boonop in Suid-Afrika gemaak! Maar sy het volle vertroue in die swemdragfabriek wat die klere volgens haar patrone en ontwerpe gemaak het. Nadat die stiliste haar ontwerpe gesien het, het hulle ’n ander deuntjie gesing. Net een of twee verstellings was nodig, want sy het ter voorbereiding vir die film elke dag nog harder in die gim geoefen. Nog beter: die hoofstilis het haar vir sexy ontwerpe vir die ander swemdrag ook gevra. En dis wat Donna veel meer opgewonde maak as haar rol in die film. Selfs al is sy nie meer as vyf minute op die silwerdoek nie, gaan haar skeppings sommige van die tonele oorheers. Daarvan het sy seker gemaak. Dis swemdrag wat dramaties smeul, stylvol maar sexy. En haar ontwerpersnaam, Apricot, gaan in die filmkrediete genoem word! As sy binnekort voltyds begin ontwerp en haar reeks bekend stel, gaan dit haar besigheid ’n besliste hupstoot gee. En wie weet, dalk kry sy nog opdragte om vir films sensuele swemdrag te ontwerp! Dis darem iets veel beter om oor te droom as Daniel Ford, al is hy ook hoe verleidelik in ’n ligblou Speedo in die meeste van die tonele. Veral die een waarin hy so met nat hare uit die asuurblou see kom.
Dis net . . . mans in lycra doen dit nie juis vir haar nie, dink Donna. Of vir enige regdenkende vrou nie.
12
Die volgende oggend meld ’n effe senuagtige Donna vroeg by die seiljagklub aan. Sy gaan met die reuseskiboot uitgeneem word vir haar eerste ski-sessie, sodat die verloop van die ski-tonele uitgewerk kan word. Maar sy was verniet bekommerd. Paul Joubert se dogter weet mos van kleintyd af hoe om haar op die water op ’n ski te gedra. En of dit op ’n Bolandse dam of op die turkooisgroen water van ’n strandmeer in die Bahamas is, Donna weet hoe om almal met haar toertjies te beïndruk. Jay is veral in sy skik toe sy ook goed vaar op ’n enkelski. Donna is mal oor dié sport vol aksie en adrenalien. Dis deesdae die jongste gier in watersport, maar dis een wat sy al lankal danksy haar pa beoefen. Dié sport trek baie aandag juis omdat soveel toertjies gedoen kan word. “Enkelski se moontlikhede is oneindig,” sê sy opgewonde vir Jay. “Dis ook makliker om regop te kom met ’n enkelski, aangesien die oppervlak groter is en jy met net een ski pleks van twee moet rekening hou. ’n Enkelski plaas ook minder stremming op ’n mens se liggaam omdat dit ’n natuurliker aksie as gewone waterski is.” Enkelski kan vergelyk word met sportsoorte soos sandplankry, sneeubordry en selfs skaatsplankry. Die ski is vierkantig aan die voor- en agterkant, so of jy nou vorentoe of agtertoe beweeg, dit maak geen verskil nie. Jy staan in die middel van die enkelski en kyk sywaarts. Dit lyk of Jay daaraan wil byt. “Dit ís anders,” sê die bonkige regisseur uiteindelik, en verander die waterski-tonele net daar na enkelski-tonele. “Jy begin ’n oog en aanvoeling vir film kry, ek hou daarvan. Slim én mooi, nè? Hmm, laat die idees inrol,” blaf hy waarderend op sy goedige manier toe Donna se planne werklik meer opwindend en vol aksie op die voorlopige skerms lyk as syne.
“Geluk! Dis nie aldag dat iemand Jay imponeer nie,” sê Daniel beïndruk. “Ek kan sien jy gaan nog ’n gewilde gas op die Esperanza wees.” Maar toe Donna ná ’n week se verfilming op die water een aand moeg by die seiljagklub se klubhuis aankom, weet sy sy sal nie sommer weer ja sê vir ’n film nie. Waar sy op ’n stoel op die stoep neersak om vir die res van die span te wag, is elke spier in haar lyf tam en seer. Sy leun agteroor en maak haar oë toe, laat haar gedagtes willoos dryf. Net om die filmdialoog onder die knie te kry saam met die stemafrigter is ’n kuns op sy eie. Op die loopplank verwag niemand van jou om ’n enkele woord te sê nie – dis die ontwerper se voorreg. En om deur die grimeer- en haarkunstenaars onder hande geneem te word, daaraan is sy gewoond, maar die ure en ure van rondsit en wag, irriteer haar grensloos. As sy nie lief was vir lees nie, weet sy nie wat sy sou gedoen het nie. Sy neem ook in die oop tye aan elke denkbare watersport deel en is bruiner as ’n okkerneut gebrand. Nee, gee haar ’n loopplank elke en enige dag! Oor ’n enkelski is sy ook nie meer so geesdriftig nie, hoewel haar pa dit natuurlik glad nie sal glo nie. Een van die winste van die filmwerk is egter haar en Daniel se vriendskap wat, ten spyte van al die spekulasie in die skinderkoerante en deur die filmspan, regtig net ’n vriendskap is. Hulle hou saans heerlik makietie en dans soos ’n paartjie wat maklik op Strictly Come Dancing ’n prys sou kon wen. Op stel is daar ’n outydse soort bekoring tussen hulle. Miskien omdat Daniel Brits is en Donna nog altyd dié soort droë humor kon waardeer. Dalk ook omdat hy beter as die res van die mans wat sy ken ’n vrou se siel verstaan. Hy is, soos die vrouetydskrifte sal sê, in voeling met sy vroulike kant, sonder om iets van sy viriliteit prys te gee. Daarby het Daniel ’n heerlik aansteeklike lag. Sy giggel hardop toe sy dink aan iets wat hy vroeër vandag op die stel kwytgeraak het toe Jay sy humeur verloor het. “Ek neem aan jy het weer ’n weddenskap gewen,” hoor sy skielik ’n bekende gruiserige stem agter haar sê. Toe sy omkyk, staan en betrag Simon Conradie haar met ’n glimlag, asof hy haar
betrap het dat sy iets onbehoorliks doen. Sy sit dadelik regop, en verleentheid laat sprei ’n blos oor haar gesig. Hy is heelwat skraler en baie meer bruingebrand as toe sy hom laas in die maanlig by die Kaapse Seiljagklub gesien het. Sy hare is so blond gebleik deur die son dat dit bykans geelwit is, en dit hang krullerig tot op sy kraag. Hy is informeel aangetrek in ’n los T-hemp en kuitbroek, en hy lyk asof hy op ’n uitgerekte vakansie is. Soos ’n ewige sonliefhebber. Dié winterman met die somerhart is duidelik tuis op die duisend en een eilande van die songesoende Karibiese See. “Wat maak jy hier so ver weg van jou dolfynhuis en Verre Winde?” kry sy dit uiteindelik uit. Hy wys met sy hand na al die seiljagte om die kaai asof dit sy natuurlike habitat is. “Ek het ’n seiljag kom haal om dit aan sy baas te besorg; dis deesdae my brood en botter. Gee jy om as ek so ’n rukkie sit? Dis so heerlik om Afrikaans te hoor. Ek is nog net ’n rukkie in Nassau, maar ek mis Kaapstad. Ek sien jy is al meer as ’n week hier vir die verfilming van Return of the Assassin. Nog een van jou vele talente? Oorweeg jy ’n nuwe loopbaan?” Hy bestel vir hom ’n drankie, nadat hy hoflik verneem het of hy vir haar ook iets kan bestel. Donna beduie dat sy nog geholpe is en drink ’n lang teug uit haar glas. “Nie in films nie, hoor, dis te harde werk. Nee, ek is sommer net hier vir die avontuur.” Sy is nog te oorbluf oor sy teenwoordigheid om iets slims of ouliks te sê. Buitendien is sy so moeg dat sy met moeite konsentreer. Sy wens hy wil net gesels en gesels voordat sy weer iets verkeerds kwytraak. Sy spesialiseer mos daarin in sy geselskap. Liewer veilig speel: bly by vrae. “Hoe gaan dit met jou beserings?” Hy trek sy skouers op. “Sê maar ek is so negentig persent reg. ’n Paar dinge moet nog gesond word.” Hy lyk effe ongemaklik en sy neem aan hy wil nie daaroor praat nie.
“Ek hoor jy het alles net so opgeskop?” “Ek het . . .” Hy huiwer voordat hy verder praat, kruis sy uitgestrekte bene by die enkels en plaas sy lang vingers teenmekaar. Sy oë kuier oor die seiljagte. “Ek het in my hospitaalbed besluit die lewe is te kort om so van uitgawe na uitgawe, van sperdatum tot sperdatum te jaag. Ek wou meer sin in my lewe hê. Ille Belle Vue was ’n draaipunt vir my.” Hy kyk op en sy blik is so intens dat sy ongemaklik voel. “Op meer as een manier,” vervolg hy. “Nou seil ek my kop oop. Ek seil om my lewe verstaanbaar te maak. En om van mense te ontsnap.” “Mmm . . . Die lewe is nou maar eenmaal waag en leer. En vol kruispaaie. Ons kom almal die een of ander tyd daarby,” gebruik sy een van haar pa se clichés by gebrek aan ’n beter gedagte. Dit sal haar minstens uit die moeilikheid hou – sy is nie gewoond aan hierdie nuwe Simon nie. “Nogal diep gedagtes vir ’n aspirantaktrise . . . of stereotipeer ek nou weer?” Sy ignoreer die wydloper. “Ek het self keuses om te maak. Hierdie film is vir my ’n brug. Ek gaan my hierna stadig van die modelwêreld onttrek.” “Maar jy is dan nog so wonderlik mooi! Jy hóéf nie uit te tree nie. Jy is seker nou op die kruin van jou loopbaan; daar is seker nog baie om te bereik. Of het jou veelbesproke verhouding met Daniel Ford iets daarmee uit te waaie?” Sy het nie gedink Simon lees die skindertydskrifte nie. Aan die ander kant, dit was ook op die koerantvoorblaaie. Sy probeer ongeërg lyk, al wonder sy hoekom hy dit opgehaal het. Hoekom sou hy enigsins genoeg omgee om sulke snert te lees? “Komaan, Simon, jy is ’n ou nuushond. Jy behoort te weet daar is niks tussen my en Daniel nie. Dis net ’n paar mediamense se vrugbare verbeeldings, en die opdrag van redakteurs om die skinderkolomme vol te kry. Jy ken die opset: publisiteit is alles. Goeie óf slegte publisiteit. Jy weet hoe hulle redeneer: Wie kan ons vandag teiken? Dis die soort storie waarop hulle dae lank kan teer. Jy was ook in daardie stoel met die swemdraguitgawe – julle moes soveel moontlik publisiteit kry. Ek het dit toe al aan my lyf gevoel, ek kon vir weke nie beweeg sonder dat ’n kamera iewers flits nie. Jy weet goed hoe werk dit.”
“Nie heeltemal nie . . . So, julle is net die spreekwoordelike vriende?” vra hy spottend. Al probeer sy haar inhou, voel Donna die frustrasie in haar opstyg. “Hoekom vra jy hom nie?” vra sy kortaf. “Wat my planne betref: ek wil nie ’n loopbaan in films hê nie. Ná hierdie film sal ek en Daniel mekaar seker nooit weer sien nie. Glo my, na ’n harde week op stel voel modelwerk soos ’n Sondagskoolpiekniek. Ek word liewer ’n modeontwerper met my eie swemdragreeks. My ontwerpe word reeds in die film gebruik, en ek dra net my eie skeppings. Ek sal graag my eie ontwerpersnaam wil vestig.” “En dit gaan wees?” “Apricot.” Hy proe daaraan. “Klink lekker . . . Vreemd, maar reg vir swemklere. Jy het my nou werklik verras. Hoekom het jy my nie daarvan gesê nie? Ons kon dit in die swemdraguitgawe gebruik het!” Sy glimlag ongelowig. “Simon, jy hét met rede ’n nuwe koers ingeslaan, weet jy? Die ou Simon sou nooit daaraan gedink het om so ’n aanbod te maak nie. Onthou jy nie watter lae opinie jy gehad het van modelle en modeontwerpers en almal wat iets met die modewêreld te doen het nie? Ons was laer as die grond in jou boekie. As ek nou nog oop en bloot met my eie swemklere by Sport SA aangekom het, sou jy net daar my kop afgebyt het. Ek het heeltyd gevoel modelle is nou nie juis op jou lys van gunstelingmense om mee te werk nie.” “Totdat een my gered het en my oortuig het dat julle breins, vasberadenheid en veel meer het.” Donna skud haar kop en begin lag ten spyte van haar moegheid. “Ek glo nie wat ek hoor nie. Het jy nie dalk nog koors nie?” “Ek is ’n nuwe mens, Donna – iemand wat ek dalk nog altyd was. Ek sê dit weer: Ille Belle Vue was dalk die beste ding wat met my kon gebeur het.” Sy buig geboei vooroor om meer te hoor, maar hy brei nie uit nie. “Ek weet nie of ek nie dalk die ou Simon verkies nie,” spot sy om haar ongemak te verbloem. En kry weer die nare gevoel dat sy iets gaan sê wat ongesê moes
gebly het. Sy byt haar lip vas. Sy geniet eintlik hulle geselsie soveel. Sy besef ineens dat dit futiel was om Simon te probeer vergeet of te vermy. Herinneringe aan hom sit steeds vlinderlig in haar gemoed, en soos nou dwing dit na die oppervlak. Hoe kon sy die presiese fynbosgroen van sy oë vergeet? “Wat is anders aan jou?” vra hy en kyk ondersoekend na haar. Donna raak selfbewus aan haar hare. “Ek het ’n nuwe haarstyl, en ek moes ’n paar kilo’s verloor vir die ski-tonele.” “Dit was nogal onnodig. Jou kurwes het ons voorblad die beste verkoper nog van al die swemdraguitgawes gemaak.” Donna glimlag skepties. Sy dink nie sy glo hom nie – nie ná wat alles tussen hulle gebeur het en gesê is nie. “Ek is doodseker dit was oor die nuus van die Krieketwêreldbeker wat op die voorblad aangekondig is.” Hy grinnik net en kyk tergend na haar. Sy begin uitvra oor Verre Winde en hy vertel haar van sy onlangse vaarte daarmee. Ná ’n rukkie, en tot Donna se groot verbasing, kom Michelle ook uitgestap op die dek van die seiljagklub. Sy kom staan agter Simon en hy staan beleef op. “Donna! Kan jy nou glo!” sê Michelle gemaak vriendelik. Sy het Donna duidelik nog nie vergewe dat sy haar geklop het om die voorbladposisie van Sport SA nie. Sulke patetiese vetes kan nogal lank duur in die modelwêreld. Dalk het sy selfs van die weddenskap by Simon gehoor. Donna glimlag sinies. So, Simon sê hy het verander? Lyk nie juis so as sy na Michelle kyk nie. Sommige dinge verander duidelik nooit. Hy mag nou seiljagte bou, aan vaarte deelneem en die wêreld vol reis, maar dis ooglopend dat sy smaak vir blonde langbeen-swemdragmodelle met babablou oë en sonbruin skouers onveranderd is. Donna groet met die verskoning dat sy by die res van die filmspan moet gaan aansluit.
’n Vreemde teleurstelling brand in haar bors. Vir ’n oomblik, net vir ’n sekonde of twee, het sy gedink sy sien ’n glimpsie van die man wat sy op Ille Belle Vue leer ken het. Die man wat ewe sentimenteel met ’n skulpie oor die sewe seë seil. Dit was duidelik net ’n hersenskim. Soos haar pa altyd sê: met water wat verby is, sal geen meul weer maal nie, of so iets soortgelyks.
Die volgende dag op die filmstel voel Donna erg ongemaklik toe die tegniese regisseur oor en oor vir haar moet wys hoe die jaagtoneel met die motor gaan werk. Sy sukkel om te konsentreer. Hulle gaan om en om in ’n ou pakhuis in die hawe jaag, totdat die twee motors neus teen neus tot stilstand kom asof hulle in ’n botsing was. Dan rol sy daaruit. Dit word gevolg deur ’n reuse-ontploffing. Sy sal nie aan al die tonele deelneem nie. Daar is ’n waagarties, Derick Landon, wat dit namens Daniel sal doen, asook ’n vroulike waaghals wat in haar plek die meer gevaarlike tonele ná die botsing tydens die ontploffing sal doen. Dit klink maklik genoeg, maar vandag is haar lyf seer. Sy sien nie kans vir die wegrolslag uit die motor nie. Daniel troos haar: “Trek jou asem diep in en laat sak jou kop as jy uitrol. Dit gaan makliker word.” Hy demonstreer vir haar ’n beter manier om te rol. Hulle oefen die toneel verskeie dae lank. Toe die groot dag uiteindelik aanbreek, voel Donna sy kan dit saam met Derick hanteer. Nogtans fladder vlinders in haar maag toe sy langs hom inklim. “Here goes!” sê hy en jaag met ’n spoed weg na die ander kant van die pakhuis, vanwaar die ander motor op hulle afjaag. Dis eers toe hulle sowat twee meter van die ander motor af is dat Donna en Derick skielik besef daar is fout met hul motor. Hy kry dit nie tot stilstand gebring nie en raak paniekbevange. “Niks wil werk nie. Hier is fout! Hier is groot fout!” skree hy oor die kopmikrofoon. Pandemonium bars om hulle los. Brandweerwaens kom nader gejaag. ’n Trop mans in vuurvaste pakke hardloop vorentoe met skuimspuite.
“Spring uit die kar! In hemelsnaam, spring uit!” skree iemand in haar kopmikrofoon. “Daar kan ’n ontploffing wees!” Donna ruk die motordeur oop en word sonder seremonie deur Derick uitgestamp. Sy rol om en probeer weghardloop, maar haar voet haak vas en uit die hoek van haar oog sien sy hoe die twee motors kop teen kop bots. Derick het gelukkig betyds uitgespring gekry en rol vinnig weg van die motors. Wat met die ander bestuurder gebeur het, weet sy glad nie. ’n Reusebrand ontstaan in ’n oogwink. Met die impak het iets ontplof – dit het seker te doen met die spesiale effekte. Donna se aandag is vir ’n oomblik vasgevang deur die geweldige vlam wat opspring, maar dan probeer sy regop kom. Sy kry egter nie op haar been getrap nie. Dis net asof sy geen enkel het nie, haar been vou telkens kragteloos onder haar in. Sy roep angsbevange uit: “Help! Ek kan nie beweeg nie!” Sy moet seergekry het met die uitvalslag. Dalk is haar enkel gebreek. Om haar is dit krisistyd. Brandweerwaens jaag nader om ’n inferno in die toe area te voorkom, want die motors het reeds aan die brand geslaan. ’n Bol vuur so groot soos ’n strandbal skiet verby Donna terwyl sy probeer wegkruip. Mense in vuurvaste oorpakke storm op haar af. Die vlamme lek nader aan haar. Sy probeer haar wegstu deur teen die grond te druk en handeviervoet te kruip, maar dit help nie veel nie. Sy sien hoe ’n vlam aangehardloop kom en teen haar een been opkruip. Sy gooi haarself vorentoe en probeer dit met haar hande doodslaan; die pyn in haar hande registreer nie eens by haar nie. Sy word weggeruk uit die pad van nog vlamme deur ’n brandweerman, maar ’n tweede ontploffing ruk hom van sy voete af. ’n Tweede brandweerman hardloop nader en die vlamme om haar word met ’n skuimspuit geblus voordat dit by haar kan uitkom. Donna skeur stukke van haar langbroek af omdat dit aan die brand was en steeds gloei. Sy sien tot haar totale afsku velle los rondom haar enkels en van die materiaal afhang. Die vel op haar hande is ook gebars soos sy probeer het om die vlamme teen haar been dood te slaan. Sy kyk in ’n waas na die gru-omstandighede om haar: die motors wat opgevou
teen mekaar lê en die wêreld wat vol skuim gespuit is. Gelukkig is die brand vinnig geblus. ’n Skietpyn trek van haar enkel na haar bobeen en sy kyk af na haar voet. Deur die skuim sien sy hoe die vel om haar enkel totaal misvorm is, soos ’n gesmelte plastiekfles. Dan is die noodhulpmense by haar en hulle begin om daaraan te werk. Sy word reggemaak om op ’n draagbaar getel te word. Sy voel hoe angs haar keel laat toetrek. “Nee, o nee . . .” probeer sy geskok skree, maar sy kry skaars ’n geluid uit. Dis baie modelle se voortdurende vrees dat hulle geskend sal word: óf in hulle gesig, óf iewers op hul bene, en dat dié fisieke letsels hulle sal verhoed om hul werk te doen. Dis een van die eerste dinge wat Leigh haar gedwing het om te doen: om versekering daarteen uit te neem. Maar dis nou geen troos nie. Die skade is gedoen. Hoekom het sy ooit daaraan gedink om hierdie film te maak? Sy was ’n totale, oorambisieuse idioot. Wie wou sy beïndruk het? Sy moes veilig op die loopplanke gebly het, maar Jay en die span het haar telkemale verseker hoe veilig dit is. ’n Brandpyn versprei oor haar lyf. Haar hart klop vinnig en sy begin kreun van die pyn. “Bel my pa!” kreun sy in Afrikaans, maar sy weet niemand verstaan haar nie. Haar oë vind dié van Daniel wat in die skare om die noodhulppersoneel staan. Sy sien die geskokte uitdrukking op sy gesig en probeer vooroor beur om na haar voete te kyk wat met anti-inflammatoriese gel behandel word. Rondom haar is verskeie gedempte gesprekke en sy hoor hoe ’n paramedikus sê: “Sy het tien persent brandwonde.” Donna ruk haar styfgeklemde hande na haar gesig. Sy besef presies wat dit beteken: haar modelloopbaan is verby. In sy maai. Op ’n einde. Toe hulle haar in die ambulans tel, het sy reeds haar bewussyn verloor.
13
Toe Donna drie dae later vir die eerste keer by haar volle bewussyn is, kan sy nie onthou wat gebeur het nie – totdat sy die dik verbande om haar enkels en die drup in haar arm voel. Haar tong is so droog dat dit voel asof dit aan haar verhemelte vasgegroei het. Sy dwing haar oë groter oop en sien sy is in ’n hospitaalkamer. ’n Verpleegsuster druk ’n knoppie bo haar kop en glimlag vir Donna toe sy met haar verbinde hande na haar mond wys en oor haar kurkdroë, gebarste lippe vee. Die suster kom nader met ’n glasie water en help Donna om haar kop op te lig om dit deur ’n strooitjie te drink. Sy neem afgemete slukkies. “Het jy liproom?” vra sy lighoofdig. Hoe tipies, dink sy. Dis net ’n model wat sal bykom uit ’n halwe koma en bekommerd wees oor liproom. ’n Model? Maar sy sal mos nie langer ’n model kan wees nie, dink sy toe sy in ’n bedwelmde waas na haar verbande kyk. Dié helder wete slaan haar tussen die oë. Sy onthou in ’n flitsende oomblik hoe die vlamme tussen die motors opgeskiet het, haar angsbevange val daaruit en hoe sy nie daarin kon slaag om voor die vlamme uit te vlug nie. Maar dis die geweldige slag waarmee die twee motors gebots het wat sy die beste onthou, die geloei van die brandweerwaens en die ambulanse. Sy voel aan die swaar verbande om haar hande, kyk heeltyd af na haar enkels. Sy kyk op toe ’n dokter ingestap kom. Die suster het intussen room vir haar droë lippe gevind en sy smeer dit tydsaam vir Donna aan. Sy voel hoe dit in die droë skeurtjies inbrand. Sy kan sommer aan die dokter se gesig sien dis nie goeie nuus wat sy gaan hoor nie. “My voete? Ek . . . jy weet seker ek is . . .”
“Ja, ek weet jy is ’n model, en nou ook ’n filmster.” “Ek wil niks weet van films nie!” begin sy snik. Die suster staan nader met ’n pak snesies en help om haar trane af te vee, want sy kry niks met haar hande gedoen nie. Die dokter wag dat haar hewige huilbui bedaar. “Ons moes ekstensiewe chirurgie doen. Die goeie nuus is dat jou bene glad nie geraak is nie. Dis net jou regterenkel en jou voete wat brandletsels gehad het, maar ons kon ’n suksesvolle veloorplanting doen omdat jy so gou hier uitgekom het. Ek glo nie jy sal eens verdere operasies nodig hê nie.” Hy bly stil sodat die nuus kan insink. Donna lê verstom. ’n Veloorplanting? Dis drasties! “Die filmvervaardiger se versekering het die beste plastiese chirurge uit Miami na die Bahamas laat vlieg. Dit sal net lank wees voordat jy letterlik weer op jou voete kan kom, want die pyn van die brandwonde en die versorging daarvan gaan ’n tydjie neem. Jou hande sal gouer gesond wees. Dis net vlak oppervlakwonde, meer soos blase.” “Hoe lank?” “So ’n maand of twee.” Helder trane val geluidloos oor Donna se wange. Haar loopbaan as model is daarmee heen. Die vlamme kon net sowel haar gesig verwoes het. Wat is belangriker vir ’n loopplankmodel as lang, letselvrye, vlekkelose bene en enkels? Al sal sy dan geen letsel oorhou nie danksy die chirurge, sal sy vir ’n paar maande nie kan werk nie. En in haar bedryf is dit kritiek dat jy kontrakte nakom en beskikbaar is, veral op haar ouderdom. Hoekom het sy tog ooit ingestem om die film te doen? Kitsroem is nie hierdie prys werd nie! kasty sy haarself. Sy voel moedeloos en platgeslaan. “Wanneer sal ek uit die hospitaal kan kom?” Sy wil dadelik teruggaan na SuidAfrika om haar vriende en familie om haar te hê. Haar pa en ma, Chris, Benita en Christina, selfs Leigh . . .
Die dokter lees haar gedagtes. “Jy is al drie dae hier. Jou familie is aangesê om nog nie te kom nie. Weens die risiko van infeksie kon ons nog nie iemand by jou toelaat nie. Jy sal eers besoekers mag ontvang wanneer jy oorgeplaas word na ’n hospitaal in Miami oor ’n paar dae. Jou pa en ma sal jou daar ontmoet – so binne drie dae.” Hulle is seker mal van kommer; sy kan haar net indink hoe hulle voel. En Chris wat haar vlekkelose skoonheid so bewonder het. Hoe mis sy skielik Leigh se luidrugtige “liefie” . . . “Daar is egter een Suid-Afrikaner wat ons wel kan toelaat. Hy is in die Bahamas en het in die koerant van jou ongeluk gelees. Hy ken jou goed en het toestemming by jou familie gekry om in te loer om vir hulle terugvoering te gee. Jy was natuurlik voorbladnuus wêreldwyd. Wil jy hom sien? Ek dink sy naam is Simon. Hy het gevra ons moet hom bel sodra jy bykom.” Simon, van alle mense? O ja, hy is mos hier om iemand se seiljag van die skeepsargitek na sy bestemming te seil. Sien sy werklik kans om hom nou te sien, in hierdie toestand? “Later, eers later,” sê sy vir die dokter. “Ek het nie die moed om nou enigiemand in die oë te kyk nie.” “Hier is jou selfoon. Ek sien daar is ’n hele paar boodskappe op,” sê die suster. Maar voordat sy dit kan voorlees, raak Donna aan die slaap. Toe sy later wakker skrik, trek iets haar aandag na die binnevenster van die saal van die intensiewesorgeenheid waarin sy lê. Sy sien Simon daar staan in ’n teaterjas, met ’n masker om sy gesig. Hy vra met handgebare of hy kan binnekom. Sy knik afgetrokke. Hy kom staan langs haar bed en kyk haar vas in die oë. “Jy weet dit dalk nie, maar jy het by die dood omgedraai.” Donna is onmoontlik bly om hom te sien. Haar oë skiet sommer vol trane oor hierdie redding uit ’n onverwagte oord. Dis só lekker om Afrikaans te hoor.
“Simon . . . ek . . . het jy gehoor . . . ek sal nie weer kan . . .” “Moenie jou bekommer nie. Dis nog te vroeg om tot enige gevolgtrekkings te kom. Ons kan later daaroor gesels.” Maar Donna voel sy moet dit sê. “My bene en voete is alles in my beroep. Ek sal alles moet opgee. Ek sal nie weer op ’n loopplank kan verskyn nie. En beslis nie voor die kameras nie.” “Wag nou ’n bietjie,” keer hy. “Ek sê mos, moenie tot sulke vinnige en oorhaastige gevolgtrekkings kom nie. Jy sal eers werklik weet as die verbande afkom en die dokters ’n besluit neem oor hoe nou vorentoe. Glo my, ek het dit met my ongeluk gesien: ’n mens moet geduldig wees. Dis altyd erger as wat jy dink, want jou vrees beïnvloed elke gedagte. Moenie bang wees nie, dit sal regkom. Dalk nie soos jy wil hê dit moet nie, maar alles sal goed uitwerk. Jy is in die beste mediese hande moontlik.” Maar vir Donna is dit skrale troos. “Jy verstaan nie. Vir ’n model is haar bene die begin en die einde, dis my beste en grootste bate. En nou het ek dit verloor!” Sy begin hulpeloos snik. Hy leun vooroor en gee haar hand ’n drukkie. “Jy sal nog steeds engelvoetjies hê,” sê hy vertroostend. Maar dit was die verkeerdste ding om te sê. Sy ruk haar los met ’n huilende uitbarsting waarvan hy nie eens behoorlik die woorde kan uitmaak nie. Toe sy na ’n rukkie tot bedaring kom, vra sy met toe oë: “Chris . . . het iemand hom laat weet?” Simon draai weg na die venster en kyk na buite. “Ja, ek het hom gebel, maar hy is baie besig. Ek dink jy moet voorlopig maar van hom vergeet. Buitendien, jy weet niemand kan nou eers by jou toegelaat word nie.” Donna frons. Sy is seker Chris sou tog ’n plan kon gemaak het. Maar Simon se woorde spook by haar: Ek dink jy moet voorlopig maar van hom vergeet. Hy sal nie so iets sonder rede sê nie. Dan daag dit by haar. Natuurlik, dit maak alles sin, Chris wat so mal was oor haar sexy voete. Chris vir wie fisieke perfeksie alles is. Wat altyd met ’n
fotograaf se oog meet: hoe sal hy haar geskende voete kan aanvaar? Sy dink aan sy enigmatiese woorde op die Seychelle: Bly altyd so beeldskoon. So verstommend mooi soos wat jy nou is, Bella Donna. Simon ken Chris veel langer as wat sy hom ken; hy moet ook daarvan bewus wees. “Dankie dat jy gekom het,” sê sy na ’n rukkie, te moeg en ontredderd om verder te konsentreer. Haar oë val vermoeid toe. Simon buk besorg oor haar. “Ek sal jou ouers bel. Rus jy nou eers.” Sy hoor hoe die deur agter hom toeklik. Hoekom het Simon gekom? Miskien uit misplaaste lojaliteit omdat sy hom gered het? Miskien omdat hy morbied nuuskierig is oor die lot van Sport SA se gewese voorbleisie? Tog, as sy terugdink aan die deernis in sy oë en die gevoelvolle manier waarop hy haar hand vasgehou het, wonder sy tog oor die nuwe Simon. Die man van wie sy sy gees rakelings aangevoel het op die stoep van die seiljagklub die aand voor haar ongeluk. Die vertroostende manier waarop hy so pas met haar gesels het, dui vir haar op ’n sielskentering. Maar dan onthou sy van Michelle. Nee, sy wil nie verder oor Simon, Chris of haar lewe vorentoe dink nie. Sy kyk na die ruikers rondom haar. Seker van die filmmaatskappy. En sy het gedink sy gaan dalk ’n nuwe loopbaan tegemoet . . . Wel, die Hollywood-deur het beslis voor haar toegegaan. Al wat vir haar oorbly, is haar klerereeks en om ’n mode-ontwerper te word. Apricot gaan nou haar redding wees.
14
Donna herstel verbasend gou van haar brandwonde en erg verstuite enkel. Binne ’n paar dae word sy oorgeplaas na die hospitaal in Miami, waar haar pa en ma gereeld kom inloer. Hulle is nie haar enigste besoekers nie. Daniel Ford en die filmspan kom maak ook – tot die verpleegspan se groot vreugde – ’n draai. “Nou kan ek nie eens meer jou voete onder jou uitslaan nie,” grap Daniel op sy tipies Britse manier, en kleur die besoekuur met sy staaltjies in. “Vriende vir ewig?” sê hy toe hy groet. Sy knik instemmend. Toe hy buite kom, wag die flitsende perskameras hom in. Simon kom loer in voordat hy en die seiljagspan weer die wye oseaan invaar. Hy het vanaf Nassau in kontak gebly deur haar gereeld te bel. Vir die drie dae daar was hy haar enigste besoeker. Hy het gereeld met haar ouers en vriende geskakel, vir haar blomme en sjokolade aangedra, en selfs ’n waaierskulpie soos die een op Verre Winde. ’n Polfyntjie teen die seer. Sy kon hom of die redes vir sy omgee nie peil nie, maar sy wou in daardie stadium nie eens daaraan dink nie. Sy het buitendien genoeg gedagtes oor die ongeluk om haar mee besig te hou. Tog, terwyl sy soveel ure op haar rug deurbring, kan sy nie anders as om te wonder hoekom hy soveel moeite doen nie. Hulle het tog nooit, behalwe vir die rukkie op Ille Belle Vue, om dieselfde vuur gesit nie. Miskien het hy besluit om ook wat dit betref ’n nuwe blaadjie om te slaan, dink Donna hoopvol. Sy dink terug aan sy laaste hospitaalbesoek, onthou elke klein besonderheid daarvan. Hy stap in met ’n ruiker wit aronskelke, haar gunsteling. Haar hart vermurwe. Sy
wil skielik hê hy moet sy lang vingers deur haar hare trek, haar nek saggies agtertoe buig en die kuiltjie van haar keel soen soos wat hy op Ille Belle Vue gedoen het. Maar sy is tevrede met die handdrukkie wat hy gee. Haar hande is ten minste nou amper ten volle herstel. Sy vingers is vol warmte, effe anders as die simpatieke vingers van haar vriendelike, diplomatiese chirurge, of die professioneel ervare vingers van die verpleegsters wat haar verbande omdraai. Hy sitleun halfpad op die hospitaalbed. Sy lê vir ’n rukkie met die blomme teenaan haar. Die sagte, sygladde ore daarvan skulp teen haar vel. Sy ervaar skielik ’n intense begeerte om geliefkoos te word. Sy twyfel so of sy ooit weer volkome vrou vir ’n man sal wees. Met haar geskende liggaam voel sy soos ’n halwe vrou. Simon gesels oor sy kompetisie-seilvaarte en ander seiltogte van die afgelope paar maande, bewus daarvan dat hy maar die geselskap aan die gang moet hou. ’n Streep openlike machismo spreek uit sy staaltjies. Nêrens is hy meer in sy element as wanneer hy iets met gevaarlike sport te doen het nie. Sy kom agter hoe hy sy nuwe horisonne met hartstog verken en besef hoe verkeerd sy hom opgesom het. Of dalk het hy net so baie verander? Simon het nou ’n somerhart, al was hy eens ’n winterman. Vir die toekoms is hy beslis ’n sonkind op ’n ewige see-safari. Van eiland tot eiland, oseaan tot oseaan. Altyd op soek na ’n eindelose somer. Winterman, somerhart. Die gedagte laat haar glimlag. “ ’n Dollar vir jou gedagtes?” terg hy en neem die aronskelke by haar. “Jy laat alles so vry klink, so oningeperk, dat ek sommer lus is om nou saam met jou op ’n boot te klim.” Hy kyk ernstig na haar. “Beskou dit as ’n staande uitnodiging – en ek hoop regtig jy gaan daarvan gebruik maak. Die son, see en wind het my genees ná my ongeluk. Verre Winde was my beste terapie.”
Donna probeer om nie te opgewonde te raak nie. Dit sal lank wees voordat sy op ’n boot kan klim. En nog langer voordat sy die selfvertroue sal hê om haar bene te ontbloot. Soos sy nou voel, sal sy nog vir ’n lang tyd verbloemingsroom en ander wegsteektaktieke nodig hê. “Het jy al van Chris gehoor?” vra Simon toe hy aanstaltes maak om te loop. Sy neem lank voordat sy antwoord. Simon ken Chris soveel beter as sy, hy sal sy afleidings ook soveel beter kan maak. “Een of twee keer. Ek dink hy is baie besig, soos jy gesê het.” Die versoeking is groot om met Simon oor Chris te gesels, maar sy voel aan dis verbode terrein. Dis miskien ook maar beter so, want daar het die afgelope dae iets subtiels, iets delikaats tussen haar en Simon ontvou. Dis anders as haar vriendskap met Daniel, of haar lyflike verliefdheid op Chris. Dit het ook bykans geen verband met hul hewige hartstog op Ille Belle Vue nie, of met enige kitshartstog nie. Dis onnoembaar en ondefinieerbaar, maar dis tog daar. ’n Naamlose verlange wat net op een manier gestil kan word. Maar ook dít bly vir haar ’n raaisel. ’n Maand later, en ná nog twee kosmetiese operasies, kom Donna letterlik weer op haar voete. Sy vlieg Kaapstad toe en neem haar intrek in haar woonstel by Bloubergstrand. Die brandlittekens het verminder en die herstelproses moet nou sy loop neem. Vir eers moes sy die loopplank vaarwel toeroep. Haar fotografiese werk is taktvol gekanselleer. Kontrakte het verval. Geen nuwe aanbiedinge is gemaak nie. Vir Donna is dit seer waarhede wat sy skaars met enigiemand deel. Net haar ma, Benita en Christina weet hoe sy daaroor voel, sy weet hulle sal verstaan. Sy sien nie kans om haar siel bloot te lê voor enigiemand anders nie. Veral nie voor die media nie, want almal wil ’n eksklusiewe artikel daarvan maak. Tot dusver het sy nie eens veel oor haar beserings gepraat nie. Maar dit bly soos ’n skaduwee by haar: die wete dat sy as minder van ’n model gesien word omdat sy nou anders is. By vriende en familie lag sy dit nie weg nie. Maar hul meelewing maak dit
makliker om die pynlike gedagtes gerieflikheidshalwe op die agtergrond te stoot. Totdat die werklikheid weer ’n klein stekie inkry . . . soos ’n oproep van Leigh. “Luister, liefie, moet nou net nie in ’n groef verval nie. Destres en rus. Ek hanteer alles namens jou, sorteer kontrakte en sulke dinge uit. Almal verstaan, dinge het so vinnig gebeur. Fokus jy nou eers net op jouself. Dit sal ’n hele rukkie wees voordat jy weer . . . jy weet . . . hoe kan ek sê . . . in aanvraag is. Ons praat weer, liefie,” sê sy met haar swaar rokerstem. Maar Donna weet: die wiel draai ongenadiglik vinnig voort in die modewêreld. En nie eens ’n hardekopagent kan dit stuit nie. Die vervaardiger van Return of the Assassin se versekering het onmiddellik uitbetaal. Maar nie eens dié reusebedrag in haar bankrekening kan help teen die blues oor haar versplinterde drome nie – al kan sy nou skaars die letsels aan haar enkel en voete sien. Daar het binne ’n kort tydjie ’n merkbare verskil gekom. Binnekort sal sy, indien al die chirurge se beloftes waar word, sonder letsel of merk wees. Dis egter die littekens op haar gemoed wat haar kniehalter. Psigiese letsels waarvoor sy berading moes ontvang. Sy onthou nog elke oomblik van die ongeluk, elke dokter en suster wat met haar voete gewerk het. Sy onthou veral hoe haar wonde versorg moet word en hoe dood haar voete soms voel. En sy onthou haar enkel: hoe dit vroeër was as sy na die fyn, saamgebrande vel staar op die plekke waar daar nog heling moet plaasvind. Sy sukkel steeds om ver te stap. Uiteindelik vlug sy van die besige Kaapstad en haar woonstel wat druk besoek word na Welgevonden. Daar vind sy troos in die geborgenheid van haar gesin. Benita en Christina ondersteun haar bykans daagliks ten spyte van hul besige programme. Hulle maak selfs beurte om by haar op die plaas te kom slaap. En heel taktvol gesels hulle nie veel oor wat in die modewêreld gebeur nie. Hulle gaan voort om snaakse SMS’e en MMS’e vir mekaar te stuur. Die lewe gaan onteenseglik voort. Op die plaas, veilig by ma Ellen en pa Paul, kry Donna voedsel vir haar gees. En die onvoorwaardelike aanvaarding wat nog al die jare daar was vir haar. Haar pa saal elke oggend vir Sachen op en gaan ry ’n ent saam met haar deur die wingerde. Met al die vars lug en die son op haar gesig kry die lewe weer betekenis.
Sy dink dikwels terug aan Simon se woorde in Nassau en wonder watter oseane bevaar hy nou. Sy het hom nog nie weer gesien nie, hoewel hy soms per satellietfoon skakel, maar dan kan hulle skaars ’n paar beleefdhede uitruil. Dis die wedvaartseisoen en Themba moet aan ’n sekere aantal wedvaarte deelneem voordat hulle vir die grotes kan kwalifiseer. Die versoeking was egter elke keer groot om haar hart teenoor hom oop te maak. Sy kon aanvoel hy sou verstaan. Soos hy self gesê het: “Die son, see en wind het my genees.” Maar sy het haar daarvan weerhou om haar ware gevoelens met hom te deel, want sy het haarself die hele tyd voorgestel dat Michelle op die agtergrond is. Daardie aand by die seiljagklub in die Bahamas was sy duidelik nog deel van Simon se lewe – maak nie saak in watter hoedanigheid nie. Donna kon op haar beurt voel dat Simon terughoudend is oor die plek wat hy dink Chris in haar lewe het. Nie dat dit veel van ’n plek is nie. Nadat sy in die Kaap aangekom het, het sy Chris af en toe gesien, maar toe het hy haar skielik begin vermy. Hy was reeds tydens die verfilming omgekrap oor die persberigte oor haar en Daniel Ford, en het dit gedurig in hul gesprekke voorgehou. Van die lieftallige man wat vir haar warm SMS’e gestuur het en ’n verruklike vakansie met haar wou deel, het daar bitter min oorgebly. Sy besluit uiteindelik om hom daaroor te konfronteer oor ’n ete. Sy wil vir hom sê wat sy dink die ware rede is hoekom dinge tussen hulle in ’n doodloopstraat beland het. Dat sy vermoed dat sy besware oor Daniel Ford net as ’n verskoning gebruik word. Sy wou eers nie die waarheid in die oë kyk nie, want sy was bang dat haar ergste vrees bewaarheid sou word: dat sy nou vir Chris net ’n halwe vrou is. Die aand met hul ete word dit bevestig, al spel Chris dit nie in soveel woorde uit nie. “Donna, ja, ek weet nie wat om te sê nie,” antwoord hy toe sy hom vra wat nou met hulle gaan gebeur. “Ek is besig, ek het ’n duisend en een plekke om na te gaan en dinge om te doen. Ek kan jou nie heeltyd oppas en keer dat jy uitgaan met ouens soos Daniel Ford nie. Dan los ek liewer die hele verhouding.” Maar Donna weet, soos enige ware vrou sal weet, dat sy gevoelens vir haar afgekoel het noudat sy nie meer so in die kollig is of die perfekte skoonheid is
volgens hom nie. Dit was sy maatstawwe. Tussen die reëls kan sy lees wat sy ware rede is, al is hy sensitief genoeg om dit nie reguit te sê nie. “Jy weet so goed soos ek daar was niks tussen my en Daniel nie,” sê sy sonder omhaal. “Jy soek net ’n verskoning om uit iets te kom wat nie eens werklik daar was nie.” “Hoe dit ook al sy,” sê hy sonder enige gevoel, “ek dink dis beter vir ons albei as ons paadjies skei.” Jou blikskottel, nou jok jy ook nog vir my! dink Donna vererg. Sy het vanaand doodluiters vir die eerste keer oop sandale met dun bandjies gedra, en dit het haar nie ontgaan hoe sy oë dadelik na haar bene en voete geglip het nie. Dit het haar voorgevoel bevestig: vir Chris is sy beskadigde goedere. Sy pas nie meer in by sy droom van perfeksie nie, en dit het die ie geruïneer. Sy was teleurgesteld en ontnugter. Sedert die ongeluk het sy soveel tyd gehad om veral dié aspek van haar verlies emosioneel te verwerk, maar dit lyk nie asof sy dit al heeltemal verwerk het nie. Dit maak seer dat Chris nie verby die skaars sigbare fisieke letsels kan kyk en kan sien dat sy nog steeds Donna is nie. Sy voel ontnugter dat haar mensekennis haar so in die steek gelaat het. Sy het eintlik beter van hom verwag, daar is so ’n teer kant aan hom. As sy maar net dink watter begaafde pianis hy is. Maar dan is daar ook weer sy obsessie met vlekkelose perfeksie. Goed, besluit sy, dan gebruik hulle maar die Daniel Ford-opsie as ’n maklike uitweg om nie aansien te verloor nie. Daar ís tog ’n mate van waarheid in: as sy wou, kon sy ’n kortstondige verhouding met Daniel aangeknoop het. Ná ’n ongemaklike stilte vra Chris: “Ek weet dis ’n cliché so oud soos die berge, maar kan ons vriende bly? Ek sal graag nog af en toe wil hoor hoe dit met jou gaan. Dalk net ’n SMS stuur?” Donna kan nie glo wat sy hoor nie. Presies hoe ongevoelig kan ’n mens wees? Maar sy stem in. Toe hulle groet, voel haar hart soos lood. Nie omdat sy ooit hoë verwagtinge oor
Chris gekoester het nie, maar omdat hy haar so ooglopend verwerp het. Dalk moet sy werklik ’n kort, intense verhouding met Daniel Ford hê en hul foto in al die skindertydskrifte en koerante kry. Dalk maak ’n vinnige flirtasie Chris se verwerping minder seer, laat dit hom twee maal dink oor haar begeerlikheid. Nie dat dit nou meer saak maak nie.
Van baie rustydjies op die koel veranda onder die prieel op Welgevonden, en ontspanne geselsies met haar susters en ma, kry Donna mettertyd weer moed vir die lewe. Sy besef sy moet weer aan die gang kom. Pa Paul motiveer haar om rigting te gee aan haar lang gekoesterde droom van modeontwerper wees. Sy het danksy die versekering se uitbetaling genoeg kapitaal om ’n fabriek opdrag te gee om van haar ontwerpe te maak, sodat sy dit kan voorlê aan die komitee wat die Johannesburgse Modeweek aanbied. Sy sal wel nie meer op die loopplanke wees nie, maar veel beter: haar ontwerpe sal daar pronk. Die ongeluk het haar modelloopbaan ingekort, maar dit gaan momentum gee aan haar ontwerpersloopbaan. Sy koop ’n tekenbord, gaan besoek winkels vir materiaalmonsters en swemdragklerefabrieke om te sien wat hulle kan doen. Sy huur ’n ateljee in ’n gebou vol ontwerpers teen die hang van Leeukop, en sorg dat sy gereeld kontak het met die kreatiewe breine om haar vir inspirasie en netwerkgeleenthede. Sy is vasberade om nie terug te hunker na haar loopbaan as model nie. Daardie harde, mededingende wêreld het te ’n hoë prys geëis. Sy sal nog lank dra aan die verwerping van die bedryf waarvoor sy haar beste gegee het. Die ongeluk het haar miskien tydelik met letsels gelaat, maar haar siel is ongeskonde. Haar moed was geknak, maar nooit gebreek nie. Sy sál weer weet wat dit is om as ’n volledige, beeldskone vrou haar plek in die glanswêreld in te neem, besluit sy. Net in ’n ander hoedanigheid as tevore. Almal gaan nog weet van die krag agter die naam Apricot, haar ontwerpersetiket. Jay Lennox bied haar weer ’n filmrol aan. Haar natuurlike speeltalent en
vasberadenheid om bo haar probleme uit te styg, het hom beïndruk. Afgesien daarvan het hulle deur haar krisis en tydens sy hospitaalbesoeke ook goeie vriende geword. Daarby lyk sy glo baie goed op skerm met die eerste proeflopies van Return of the Assassin. Omdat sy dink dat hy die aanbod moontlik meer uit skuldgevoel as iets anders gemaak het, wys sy dit van die hand. Wat sy in die toekoms doen, sal op meriete gedoen word. Sy het niemand se jammerte nodig nie. Daniel het vandat sy in die hospitaal was nog deurgaans in kontak gebly. Hy stuur gereeld geskenke en blomme vir haar. Sy laat geeneen toe om ooit ’n slegte woord oor die superster te sê nie – sy ervaar hom as ’n ware vriend. Hy staan haar werklik deur dik en dun by, sonder enige agenda of bybedoelings. Veral sy sin vir humor beur haar voortdurend op. As sy dan iets goeds oorgehou het van die nagmerrie-ervaring van die ongeluk, is dit hulle vriendskap. Meer as vriendskap kan dit nooit wees nie, dit het hulle al twee van die begin af verstaan. Daniel Ford is bloot ’n man met ’n hart vir vroue in die meervoud – nooit een op ’n slag nie. So moet jy hom aanvaar, en gelukkig het sy dit van die begin af besef. Hy weet op sy beurt sy is te kosbaar om tevrede te wees om tweede viool te speel, en hy verwag dit ook nie van haar nie. Net opregte vriendskap, en ’n skouer om op te huil as een van sy liefdeseskapades verkeerd loop. Vir ’n rukkie het die skinderblaaie nog nuus oor hulle gepubliseer, maar toe almal so duidelik as daglig kan sien dat hy reeds aanbeweeg het na sy volgende film se hoofspeler – hy val altyd vir sy leading ladies, het hy haar in die Bahamas gewaarsku – droog die nuus op. Dit sal dalk binnekort weer vir ’n oomblik in die skinderblaaie opvlam, want sy het ingestem om na Nassau te gaan vir die wêreldpremière van Return of the Assassin. Sy voel sy het dit nodig vir sluiting – as ’n laaste bruggie tussen haar ou en haar nuwe lewe.
15
Die gewaagde bostuk van Donna se sensasionele Armani-rok glip net ’n sentimeter of wat af toe sy by die swierige première van Return of the Assassin uit ’n spierwit limousine klim. Die geleentheid word gehou by die filmteater van Nassau se grootste spoghotel en dit wemel van gaste en toeskouers. Vir Benita en Christina was dit ’n uitgemaakte saak dat sy vanaand die Armani sal dra. “Komaan, Donna, dis jou groot aand. Jy moet die stylvolste, sjiekste en smaakvolste rok van die aand dra. Kyk wat het daardie Versace-haakspelderok vir Liz Hurley gedoen! Sy het nou wel lankal nie meer vir Hugh Grant nie, maar in ’n stadium was daardie rok ’n manmagneet!” het hulle haar aangehits. Maar dis nie die eintlike rede hoekom sy toe wel die rok aangetrek het nie. Sy het dit gedoen omdat die rok haar laat dink aan ’n fase in haar lewe toe haar eie skoonheid nog vir haar ’n speelbal was. Toe sy weddenskappe daarmee kon aangaan. Toe sy nog verruklik vrou gevoel het. Toe sy nie skaam was vir haar bene en voete nie. Dit gebeur maar min deesdae dat sy voel asof sy ’n man aan haar voete het. Chris het van die toneel af verdwyn. Daniel is net ’n vriend. En Simon . . . wel, hy seil sewe seë ver. Sy glo ook nie dié somerman van die sontrop sal twee keer na ’n halwe vrou kyk nie, veral nie met die beeldskone blonde Michelle nog in sy lewe nie. En dat sy nog in sy lewe is, is Donna seker van. Maar sy weet sy is desperaat om liefgehê te word. Haar verlange kan sy selfs uitspel: sy soek iemand wat haar met liefdevolle hande en ’n geduldige hart weer volkome vrou kan laat voel met sy eindelose en intense beminning. Miskien vind sy hom nadat sy vanaand hierdie bruggie tussen haar ou en nuwe
lewe oorgesteek het. Dis mos ’n algemene wysheid dat net heel, gesonde harte mekaar vind. Oral gaan kameras se flitsligte af toe sy uit die motor klim. Sy is vir ’n oomblik selfbewus; sy weet hoeveel mense hou haar vanaand dop, want die ongeluk was lank voorbladnuus in die Bahamas. Boonop is sy vanaand sonder ’n metgesel by hierdie glansgeleentheid. Daniel het gedink dit sal groot pret wees as hulle twee saam aankom, maar sy het liewer nee gesê, gedagtig aan die krisis met Chris wat dit reeds in haar lewe veroorsaak het. Sy wil werklik nie oor haar ongeluk in die kollig wees nie. Toe sy besluit het om wel die première by te woon, het sy tydens een van hul rare telefoongesprekke met Simon daaroor gepraat. Hy het haar egter aangemoedig om te kom. “Glo my, die oomblik wat ek die moed daarvoor het, gaan ek terug na Ille Belle Vue. ’n Mens moet jou vrese uitdaag, maar eers wanneer jy reg is daarvoor. En ek kan in jou stem hoor jy is reg daarvoor. Jy het finaal aanvaar dat jy moet rou oor wat jy verloor het voordat jy met jou lewe kan aangaan.” Sy het sy insig verstommend gevind en skielik sy aard as ekstreme sportman beter verstaan. Sy wonder tog watter sluiting hy op die eiland wil vind. Sal dit net te doen hê met sy rotsklimongeluk? Daardie tydjie wat hulle saam gehad het, die soene wat hulle gedeel het . . . Maar hy het, soos gewoonlik, nie veel van sy gevoelens verklap nie. Dis reeds vyf maande ná haar brandongeluk. ’n Tyd waarin haar lewe drasties verander het. Sy het die modelwêreld finaal vaarwel toegeroep. Haar Apricotswemdragreeks word reeds by ’n fabriek vervaardig en haar nuwe lewensdroom is om ’n reeks boetieks te open. En om op ’n outydse manier die hof gemaak te word deur iemand wat verstaan wat sy deurgemaak het. Sy hunker na iemand wat haar oorrompelend kan liefkoos . . . Maar eers moet sy vanaand vir ’n gehoor sprankel. Sy hoor haar rol in die film is uitgebrei omdat die materiaal so goed was, veral die enkelskitonele. Gelukkig was die jaagtog die laaste belangrike toneel wat hulle moes verfilm. Omdat dit so gevaarlik was, het Jay dit vir laaste gehou, gedagtig aan die risiko van
beserings. Hoe ironies, dink Donna wrang. Vanaand het sy nie eens die selfvertroue om met oop sandale te verskyn nie, maar regoor haar op die silwerdoek gaan sy lewensgroot kaalvoet op ’n enkelski staan. Ten minste is dit ’n goeie platform vir haar swemdragreeks. Sy het van die ontwerpe wat in die film voorkom in haar eerste vertoning sowat twee weke gelede op die Johannesburgse Modeweek gebruik, en die gehoor was mal daaroor. Dit drup van sensualiteit, het een resensent dit beskryf. Die vertoning met sy eilandpret-tema was stampvol. Te oordeel na die gehoor se opgewondenheid gaan die Apricot-reeks baie gewild wees. Veral haar reeks gebreide bikini’s verkoop glo soos soetkoek. En daarby is sy as die Beste Nuweling-ontwerper bekroon. Sy sluit aan by die sterre van Return of the Assassin – jy kan die glanstroppie kwalik miskyk. Daar is uitroepe en ’n oor en weer gesoen soos almal groet. Donna word luidrugtig verwelkom deur Jay. “Jy slaan my asem weg!” sê hy te midde van die flitsende kameras. Maar dis natuurlik haar en Daniel Ford se blye weersiens wat die koppe laat draai. Hy haal ’n reusebos rooi rose agter sy rug uit en neem haar in sy arms ten aanskoue van die hele filmspan. “Ons salueer jou,” sê hy en oorhandig die rose namens die span. Toe gee hy haar ’n vurige soen. In haar oor fluister hy: “Ek kon jou nie uit my gedagtes kry nie. Nou weet ek hoekom: jy lyk ongelooflik, lieflik!” Met sy hand op haar rug stuur hy haar na haar sitplek in die voorste ry. Die res van die aand verdwyn in ’n heerlike waas van gelukwense en vieringe. Return of the Assassin gaan duidelik ’n lokettreffer wees. Donna sit tussen Jay en Daniel en voel sy is weer deel van die filmfamilie. Maar belangriker: sy voel weer volkome vrou in die Armani-skepping van ru-sy. Dankie tog vir vriendinne soos Benita en Christina, dink sy vlugtig. Natuurlik was hulle weer reg – sy moes dié rok aantrek.
Voordat Donna haar kom kry, is sy op pad na ’n eksklusiewe Hollywood-tipe nápartytjie aan boord van Jay se seiljag. Na ’n rukkie dwaal sy weg na die boeg van die boot en leun teen die reling aan. Sy staar dromerig na die roerlose water waarin Nassau se liggies weerkaats word. Hierdie tipe uitspattige en raserige partytjies vol glansprinsesse reguit uit die skoonheidsalonne, ambisieuse aandagtrekkers en nuussoekers kan sy nie langer uitstaan nie, besef sy skielik. Sy verlang na die stilte van haar ontwerpateljee met sy panoramiese uitsig oor Tafelbaai en Leeukop, en na Welgevonden se stoep. Sy voel vanaand finaal genees van die glanskoors waarvan sy so lank deel was. Soms raak die Amerikaanse luidrugtigheid net te veel vir haar. Rondom haar dobber seiljagte op die deinende water. Die enigste geluid wat bo die partytjielawaai uitstyg, is die wind wat die golfies ritmies teen die seiljag se romp laat klots. “ ’n Oscar vir jou gedagtes,” sê ’n manstem skielik in foutlose Afrikaans agter haar. Donna draai stadig om. Simon Conradie staan ’n entjie weg van haar, geklee in ’n swart aandpak, met sy hemp se boonste knoop oopgeknoop en sy strikdas lossies om sy nek. Dis soos telepatie – sy het nou net gedink aan die aand voor haar ongeluk toe sy hom in die seiljagklub saam met Michelle raakgeloop het. Sy het onlangs ’n foto van hulle twee tydens ’n prysoorhandigingseremonie van ’n seilvaartresies gesien. Simon is nou al baie bekend as bemanningslid van Themba. Dit lyk of hy heeltemal van sy beserings herstel het, dink sy toe hy gemaklik na haar toe aanstap. “Dis ’n verrassing! Wat maak jy hier?” vra sy verbaas. “Ek moet Jay se jag vir hom na Mallorca skipper; sy volgende film word daar geskiet. Ons vaar oor twee dae. Ek het mos geweet jy kom en het toe geskimp vir ’n uitnodiging. Ek wou jou graag sien, ons kry nooit ordentlik oor die foon gesels nie.” Donna se blik flits vinnig oor hom. Hy is skraler as vantevore en meer bruingebrand, en sy gesig is veral rondom sy oë geplooi met sonspore. Sy
liggroen oë is onleesbaar in die dowwe lig. “Geluk! Ek sien Themba het onlangs ’n groot wedvaart gewen.” “Jy het seker ook van my skandalige val gelees.” “Ek het gesien jy het oorboord geval toe jy iemand wou help, en toe maak jy jou knie seer toe jy terugklouter.” Sy besef skielik hoe dit vir hom moet klink dat sy soveel belanggestel het om in detail oor hom te lees. Hier gaan ek al weer, dink sy. Sê die simpelste ding op die verkeerdste tyd, en dit net omdat ek verbouereerd is. “Dis ’n teer sakie,” lag hy. “Maar Themba bly die beste skuif wat ek nog ooit gemaak het om terug in die seilwêreld te kom. Die span is fenomenaal. Ons het nou ’n rustydjie, maar ons sal een van die dae gereedmaak vir ons finale aanslag op die America’s Cup. Oor ’n paar maande sal ons kwaai meeding.” Soos hy verder oor die wedvaarte en Verre Winde-vaarte gesels, voel sy sy rustigheid en vervuldheid aan. Die smeulende blik wat sy slegs vir ’n oomblik op die Seychelle leer ken het, het plek gemaak vir ’n blik vol stille wysheid. ’n Ver blik op horisonne wat nog wag. Simon is inderdaad ’n nuwe mens. Sy het dit uit vele oorde gehoor en kan dit nou self sien. So aantreklik soos altyd, maar meer nonchalant. Sy voel skielik oorbewus van sy nabyheid. Sy kan elke kontoer van sy liggaam teen die lig sien. Soos op Ille Belle Vue teen die staalgrys, betrokke lug. Herinneringe oorspoel haar, en asof hy haar gedagtes kan lees, vra hy fluistersag: “Dink jy ook soms daaraan? Wonder jy ook soms daaroor?” Donna kyk op na die donker hemel om sy blik te vermy. ’n Seevoël sirkel bo die stil see. Die legkaartstukkies van hul liefdesinterlude skuif stadig in plek. “Natuurlik. Sommige dinge sal ’n vrou vir ewig in haar hart koester.” Die stille krag van sy teenwoordigheid laat iets in haar verteder. Hy neem haar drankie uit haar hand en sit dit agter hulle neer. Van die kajuit se kant kom ’n saksofoonmelodie na hulle aangedryf. En die betowerende klanke daarvan het ’n liefdestaal van sy eie – nostalgies en meesleurend.
Die ronding van sy arm glip om haar nek en hy trek haar nader. Soos op Mahé dans hulle lyf teen lyf op die klein dek, stadig en ritmies, volmaak in harmonie. Asof hulle met dieselfde innerlike ritme gebore is. “Ek weet dis nou al so lank terug, maar ek kan nie vergeet hoe jy my laat kop verloor het nie.” Hy trek sy vingers deur die los krulle op haar rug. Die koel seewind waai teen haar warm gesig aan. Sy kan voel hoe ’n blos van haar hals stadig en salig oor haar nek na haar gesig sprei. Sy dink aan hoe hul eilandgeheim verborge in haar hart gebly het. Daar is eintlik soveel wat sy vir hom daaroor wil sê. Sy wou selfs al vir hom daaroor skryf in die afgelope tyd. Dit was sulke kosbare oomblikke. Wanneer sy in die skatkamers van onthou delf, is dít wat sy telkens onthou. Die middag toe sy veel meer as net vrou gevoel het . . . vir wanneer sy nou af en toe minder vrou voel. Noudat sy in sy omhelsing staan en hy haar kaal rug met sy warm vingers aanraak, weet sy sy is weer volkome gelukkig. Sy maak haar oë toe sodat hy nie moet sien hoe intens en desperaat sy hom begeer nie. Of enige van die ander onlogiese emosies wat oor haar golf nie. Soos dat sy nie anders kan as om te dink aan sy verbintenis met Michelle nie. ’n Russiese spreuk lui seker nie verniet dat daar geen ware liefde bestaan sonder jaloesie nie. Noudat sy bewus is van haar ware gevoelens vir Simon, raak sy ook bewus van haar onderdrukte jaloesie. Sy kan Michelle se oë uitkrap soos wat sy nou voel. En dit sal glad nie gaan oor die prestasie om op die voorblad van Sport SA te wees nie. Sal dit nou nie skreeusnaaks wees vir Benita en Christina nie! Hy lig haar ken, sodat haar gesig in die lig vanuit die kajuit geteken word. “Donna, ek was só onnosel. Hierdie tussenin maande ná jou ongeluk was vermorste tyd. Ek het gedink jy en Chris staan op trou, maar ek moes geweet het hy sal nie ernstig word nie. Ek wou nie vra en ’n gek van myself maak nie. En al wat ek reggekry het, was sekerlik om my kanse te verspeel, as ek so luister na die stories oor jou en Daniel Ford.” Donna verstyf effens en maak haar dan uit sy omhelsing los. Sy gaan staan weer teen die reling. “Al wat daar tussen my en Daniel Ford is, is wat die skinderkoerante spekuleer. Maar oor my en Chris is jy verkeerd. Ons was nooit eens regtig in ’n verhouding
nie. Ek dink nie hy kan ernstig genoeg raak daarvoor nie. Mans soos hy se gevoelens is nooit dieper as ’n reënpoeletjie nie. Sedert die ongeluk is ek in elk geval nie meer vir hom die vrou wat ek altyd was nie, ek is beskadigde goedere. En vir iemand met ’n obsessie oor perfeksie is dit nie goed genoeg nie, dis tweedeklas.” Sy kan nie die bitterheid uit haar stem hou nie. “Chris Naudé is ’n vark,” sê hy, en sy vermoed hy sou dit veel sterker wou stel. Sy weet intuïtief dat hy tussen haar woorde lees presies hoe verwond haar vrouwees is. “Jy hoef geen waarde te heg aan wat hy sê of dink nie,” vervolg hy skor. “Jy is meer vrou as enige ander vrou wat ek ken. Onteenseglik, volkome vrou.” Hy sit in ’n troosgebaar sy baadjie om haar skouers en draai haar om sodat sy na hom kan kyk. Die wind waai haar trane oor haar wange. Hy laat haar vir ’n oomblik gaan en haal ’n sakdoek uit sy baadjiesak. Dan vee hy haar trane een vir een af. “Hei, Engelvoetjies, niemand is jou trane werd nie. En beslis nie daai blikskottel nie.” Sy hou op met huil. Dink hy dan nog só aan haar, soos voor haar ongeluk? Soos toe hy vir haar die enkelkettinkie gegee het? Hy voel haar vertwyfeling aan. Hulle is so fyn ingestem op mekaar soos van ouds. “Ja, Donna, dis steeds hoe ek aan jou dink. Ligvoets en kommervry. Iemand wat dans op die ritme van haar eie, onhoorbare melodie.” Sy prop sy baadjie lomp in sy hande en draai om, stap blindelings en oorstelp van emosie weg. Sy wens sy kon hom glo. “Engelvoetjies!” roep hy agter haar aan, maar sy verdwyn in die kajuit. Hoekom het hy haar tog op haar troetelnaam genoem? Sou dit dui op ’n spesiale plekkie in sy binnewêreld waar gedagtes aan haar en Ille Belle Vue nestel? wonder sy verward. Is dit moontlik dat Simon agter sy sorgelose skans iets vir haar voel? Hoekom
het hy gesorg dat hy by vanaand se partytjie is? Voel hy dalk iets meer as simpatie oor haar ongeluk? Of empatie met die feit dat haar loopbaan as model verby is? Is dit wat met haar gebeur het iets waarmee hy kan identifiseer? Sy wens dit kan so wees. Sy hunker daarna om ’n raakpunt met hom te hê, al weet net sy daarvan. Maar dan onthou sy die foto van hom saam met Michelle. Hy is bepaald verbode terrein.
16
Die volgende oggend haas Donna haar vroeg na die strand voor die hotel om vinnig ’n ent te gaan stap. Sy voel effe tam, maar sy het darem nog twee heerlike luilekker dae om in die sprankelende Bahamas te kuier voordat sy teruggaan Kaapstad toe. Haar oë glip na die seiljagklub, waar sy Jay se jag sien lê. Sy draai om en loop vinnig in die teenoorgestelde rigting. Die laaste ding wat sy nou wil hê, is om Simon raak te loop. Haar ontmoeting met hom het haar hewig ontstel. Dit het haar só omgekrap dat sy nie kon slaap nie. Sy het selfs rukke lank met opgehoue asem gelê en dink aan hoe sy hom begeer het toe hulle gedans het. “Donna!” skree iemand agter haar. Sy kyk om en besef sy was so ingedagte dat sy nie agtergekom het daar is iemand ’n entjie agter haar nie. Dis Simon wat na haar aangestap kom. Sy knoop haar sarong sommer dadelik stywer vas; dis een van haar eie skeppings wat sag en vleiend om haar enkels speel. “Wag vir my!” skree hy en waai. Sy hare is deurmekaar en nat; dit lyk asof hy pas klaar geswem het. Sy kaal bolyf glinster vol druppels en sy T-hemp is om sy heupe geknoop. Sy soepel skraalheid van vroeër het plek gemaak vir ’n selfs begeerliker gespierdheid, merk sy. Hy kom staan voor haar met sy hande op sy heupe. Sy blik glip vinnig oor haar. “Sjoe, dis mooi! Een van jou eie skeppings – Apricot?” Sy knik net en glimlag. “O, jy het die naam onthou?” Hy haal sy sonbril af; sy oë is die opvallende seegroen wat sy van Ille Belle Vue
onthou. “Wel, almal praat daarvan ná Return of the Assassin. Jy was in die kol daarmee, en natuurlik ook in die kollig. Dis sulke eksotiese skeppings, definitief vir vroue met ’n fyn smaak. Stylvol. Ek dink almal was verras. Almal behalwe ek, natuurlik. Ek het geweet jy gaan ’n terugkeer maak wat almal gaan laat regop sit.” Donna voel hoe die gloed van die opkomende oggendson haar verkwik, maar miskien is dit ook die warmte in Simon se stem wat haar laat ontspan. Sy voel bederf en vertroetel deur sy komplimente en die bewonderende blik in sy oë. En skielik baie verleë oor gisteraand. Dalk het sy oorreageer. “Ek is jammer oor gisteraand,” sê sy. “Ek wou nog vir jou ’n SMS stuur, maar toe bedink ek my.” “Jy het nie nodig om om verskoning te vra nie. Dis my skuld – dit was simpel van my om in die verlede te delf en na Ille Belle Vue te verwys. Dis so lank terug, ek is seker jy het al daarvan vergeet.” Maar ten spyte van sy woorde hou hy haar dop, asof hy haar hart se diepste kluis wil oopdwing. “Ek was kinderagtig om so weg te storm, ek is jammer. Deesdae is ek vir geen rede nie broos. My gemoed is soos ’n seepbel, dit kan enige oomblik bars.” “Mmm . . . ek was ’n rukkie gelede waar jy nou is. Op die bruggie na ’n nuwe toekoms. Dis ’n moeilike tyd. Tussen die boom en die bas, nog vis nog vlees. Tot ’n mens besef jy moet jouself van voor af vind. Dan kom jy agter aan watter valse waarhede jy vasgehou het.” Hy speel met die swaar silwerhorlosie aan sy arm. Skuif dit selfbewus heen en weer totdat dit reg lê op sy smal, bruingebrande pols. Sy breë palms val haar weer eens op. Hande wat eens alles in haar vrouwees oopgesluit het. Sy wonder weer wat hy gisteraand bedoel het toe hy na Ille Belle Vue verwys het. Die gedagtes aan hul ewige eilandoomblik lê nog soos ’n breekbare, porseleinfyn skulp in haar gemoed. Soms staan ’n spesifieke detail soos dié van sy hande skerp uit en laat haar
droomverlore. Hierdie geselserige, introspektiewe kant van Simon ken sy glad nie. En sy weet nie of sy dit beter wil leer ken nie. Dis iets waarmee sy so sterk kan identifiseer dat dié raakpunt tussen hulle haar net nog nader aan hom trek. Soos dit is, voel sy reeds weer lighoofdig van hartstog as sy na sy bolyf kyk. Sy ervaar sy lyflikheid, sy pure, ongetemperde manlikheid altyd so innig. Sy wonder of hy dit weet, haar dalk doelbewus daarmee terg en tart. Sy draai om en begin aanstap. Simon val langs haar in. Hou dit liewers intellektueel, spreek sy haarself aan. “Dit was ’n enorme aaning vir my ná die ongeluk,” sê sy na ’n rukkie. “ ’n Mens verloor jouself wanneer jy nie doen waarvoor jy in die wieg gelê is nie. My identiteit was veels te nou verweef met model wees. Gelukkig het my ouers en my familie my nog nooit as Die Model gesien nie. Vir hulle was ek nog altyd net hul dogter, Donnatjie wat mal is oor perdry en wat kan ski. Paul se slim dogter en Ellen se meisiekind met die lang bene. Waar ek vandaan kom, het niemand ooit van my verwag om iemand anders te wees nie. Dit het dit makliker vir my gemaak. Maar vir ander mense na aan my was ek nét die model. Die kopskuif na Donna, die modeontwerper, kon hulle nie maak nie. Sommige mense is lief vir jou vir wat jy is, soos my familie en my vriendinne Benita en Christina. Ander is lief vir jou vir wat jy vir hulle kan wees. Soos Leigh, my agent, en die ontwerpers en tydskrifredakteurs.” Hy frons en sy oë vernou ’n oomblik. “Dis so waar. Dieselfde het seker maar met my ook gebeur. Ek was met my werk getroud – soos jy weet. Selfs my sportlewe was so nou verweef daarmee – my werk was ook my stokperdjie. Ná my ongeluk was ek skielik niks en niemand. ’n Joernalis of ’n redakteur word jou naamlyn bo ’n storie. Wanneer jy skielik nie meer ’n naamlyn het nie, verbrokkel jou identiteit.” “Diep gedagtes vir so ’n vroegoggenduitstappie,” sê Donna met ’n glimlag. Sy is effe oorbluf; sy weet nie mooi hoe om die emosionele Simon te hanteer nie. Sy kyk na hul spore wat lig op die sand lê. Haar voete steek net-net onder haar lang rok uit; voor hulle skarrel sandvoëltjies op soek na ontbyt. Met kosmetiese chirurgie het die knap snydokters die brandmerke om haar enkels en voete verwyder. Sy dra weer die ligte pêrelkleurige naellak waarvoor
sy altyd lief was. Sy gebruik elke denkbare voetroom en kan sien dat die tekens van die brandongeluk nie meer sigbaar is nie. Tog bly die twyfel: sal haar voete ooit weer hul eertydse verloklikheid hê? Maak dit nog saak? Sy dra fyn skoene, delikaat genoeg om op eiers te loop, maar selfs dit help soms nie – sy bly oorbewus van haar voete. Sy skuif dié kwelgedagtes doelbewus uit haar kop. Sy weet waarna hy verwys, maar sy wil nie nou daaroor praat nie. Verlies het tans te veel name vir haar. Hulle stap sereen in stilte voort asof hulle ou vriende is. Sy glimlag en wys seewaarts na waar ’n klomp seiljagte uit die baai na die wyer vaarwaters koers kies. “Wanneer vertrek julle?” “Môreoggend.” Hy draai haar na hom toe hulle gaan staan. “Kom saam, asseblief? Dis net ek en ’n klein span en ’n week van see en wind. Ek kan nie belowe dat ons jou gaan pamperlang nie, maar jy gaan ’n nuwe mens wees.” Sy skud haar kop. “Ek is te besig. Ons fabriek is in volle produksie in SuidAfrika en hulle het my nodig. Ek sal nie kan nie.” “Net een week, Donna. Jy is dit aan jouself verskuldig. Gisteraand was jy baie broos; jy het nog rus en hersteltyd nodig. Glo my, seil en die oop see is ideaal daarvoor. Dit was die beste medisyne vir my; seil is vir my die enigste manier om weer vryheid binne-in myself te kry. Dink daaraan, toe? Kommerlose dae met net die seevoëls, dolfyne en die bemanning as geselskap. En hulle is met die hand uitgekies.” “Watter roete volg julle?” Hy buk af en trek met ’n stok op die sand om te verduidelik wat die reis behels. Sy sak langs hom op haar hurke neer. Vir die eerste keer vandag is sy so naby aan hom dat sy die rou ruheid van sy manlikheid ruik. ’n Reuk soos reën op rooi grond, aards en nugter. Van naby is sy groen oë so helder soos die Bolandse fynbos. En vol van die drome van iemand wat altyd nog ’n reis sal hê om af te lê.
Hy staan op en trek haar op van haar hurke. “Wat pla jou?” “Ek wonder oor jou en Michelle se verbintenis,” sê sy reguit. “Ek het gedink julle het ’n taamlike innige verhouding.” “Michelle ook . . . Maar nee, alhoewel ons op ’n stadium dikwels uitgegaan het, was daar nog nooit iets definitiefs tussen ons nie. Dalk van haar kant af meer as van my kant af. Maar noudat ek minder beskikbaar is en altyd aan’t seil is, het dit ook ’n natuurlike dood gesterf. Sy het probeer aanhang, maar ek het dit al verskeie kere finaal verbreek.” Donna probeer haar verligting wegsteek. “Ek is ’n vrot seevaarder,” probeer sy ’n ander verskoning vind. “Jy kan ’n plan maak in ’n noodsituasie, veral om ’n skipper te red. En as jy kan onthou: ek kan enigiemand in ’n kits leer stuur.” “Sê nou ek is ’n totale water-idioot?” “Jy het my lewe ter see gered en jy ski briljant – dit weet enigeen van jou filmbewonderaars. Ek dink jou water-intelligensie is buitengewoon hoog.” “Weet jy, partykeer verlang ek nogal na die ou Simon,” terg sy. “Hierdie nuwe jy is soms moeilik om te hanteer. Jy was veel meer hanteerbaar toe jy nog die stil, sterk, befoeterde tipe was.” Hy grinnik. “Ek was ’n pyn – as ek almal reg verstaan. My ongeluk was die beste ding wat nog met my gebeur het. Dit het my kans gegee om my lewe in oënskou te neem. Ek dink ek het weer die regte perspektief ter see gekry. Die vaarwaters is so ’n niemandsland, jy kan nét jouself daar wees.” Hy steek onverwags sy hand na haar uit, neem haar hand warm in syne. “Kom saam, asseblief. Ek wil so graag vir jou al die see se skatkamers wys. Ek is seker dit sal jou ook help om heling te vind.” Donna luister na Simon se pleitende versoek en besef skielik: haar melancholie oor Chris is verby. Hy is geskiedenis. Verligting en ’n salige berusting vul haar. Dis verbasend hoe bevrydend dit is om skielik bewus te word van ’n ander man – veral ’n man soos
Simon. Hoe kon sy dit nie raaksien nie? Benita en Christina het vir haar daaroor gepreek en was erg gefrustreerd omdat sy dit nie wou raaksien nie. Maar nou weet sy: Chris was ’n verskoning om nie verlief te raak op Simon nie. Sy maak haar oë toe, skielik bang hy lees haar gedagtes. Miskien is dit tog die moeite werd om uit te vind wat sy werklik vir hom voel, dink Donna. Sê nou net . . . maar vir eers wil sy nie daaraan dink nie. Sy het gedink dis net haar lyf wat so op hom reageer, maar nou weet sy van beter. Simon is haar winterman met die somerhart. Iemand wat die pad geloop het wat sy nou loop. Haar droombeminde wat sy met lyf én hart wil bemin. “Solank jy my betyds by ’n lughawe kan besorg vir die bekendstelling van my reeks by die Kaapse Modeweek,” sê sy en kyk weg sodat hy nie haar verwarde emosies in haar oë moet lees nie. “Hierdie keer belowe ek jou: ek hardloop van niks weg nie.” Die rustige klank in sy diep stem val haar op. Hy wag vir haar antwoord, maar toe sy haarself nie kan vertrou om hom te antwoord nie, begin hy die detail van die vaart met haar bespreek. Hulle stap strandlangs terug terwyl ’n heerlike opgewondenheid oor die avontuur wat voorlê in haar posvat. Toe Simon haar by die hotel afsien sodat sy kan pak en nuwe reëlings kan tref, besef Donna dat sy vanoggend een van die liefde se waardevolste lesse geleer het: dat ’n mens jou hartsbegeertes só kan ontken dat jy die kans op liefde kan verbeur. Toe sy haar skoene in die kamer uitskop, kry sy dit vir die eerste keer sedert die ongeluk reg om bewonderend oor haar voete te streel. Simon se afskeidswoorde lê soos ’n soet vruggie in die mandjie van haar hart: “Bring die minimum klere en die maksimum aantal bikini’s. Ek wil jou mooi bene en jou lieflike enkels die hele tyd sien, en ek is seker die res van die bemanning ook.” Dis woorde wat sy nooit sal vergeet nie. Woorde wat binnewonde genees.
17
Mallorca lê soos ’n spiraalskulp in die see toe die Esperanza ná ’n hele paar dae ter see nader vaar. Dit word nie verniet die juweel van die Mediterreense See genoem nie. “Eiland van drome,” sê Simon vanwaar hy en Donna op die dek staan. “Hier is ’n paar verskuilde strandjies en seegrotte wat ek jou wil wys.” Tydens hul reis van die Bahamas na die Baleariese Eilande hier in die Mediterreense See het hulle al vier seisoene beleef. Maar die bemanning van vier mans en twee vroue het die vaart gemaklik voltooi, ten spyte van storms en lang, uitgerekte dae op die oop see met geen ander vaartuig in sig nie. Simon was die hele tyd perfek in beheer. Soos nou weer terwyl hulle die seiljag na die vasmeerplek neem waar Jay dit voor anker wil laat lê: ’n halfmaanbaai in die saffierblou see. Soos ’n klein wêreld op sy eie lê ’n paar huisies teen die heuwel bo die baai. Die kaai wat die Esperanza nader, is omring deur eetplekkies en wit sandstrande. Kleurvolle vissersbote vaar in en uit. Aan die seefront van die Baai van Palms is die promenade met sy palmlanings en marina, en dis waarheen Simon nou die seiljag behendig stuur.
Teen sononder die aand sit hy en Donna op hulle hotel se stoep en geniet ’n geurige, tradisionele Spaanse maal. Hulle is effe tam en oormoeg van die lang vaart, maar hulle is fyn ingestel op mekaar. Die dae op see en die lang gesprekke aan boord het hulle nader aan mekaar gebring. Hulle het ontdek hoe eenders hulle is, maar ook hoe anders – én hoe hul andersheid mekaar aanvul. “’n Glasie sjampanje?” vra Simon toe hulle klaar geëet en hy die rekening vereffen het.
Donna kyk verbaas na hom. “Wel, ons het veel om te vier, of hoe?” verduidelik hy. “Nog ’n seiljag veilig afgelewer, en môre vertrek jy na Kaapstad om jou reeks daar te gaan bekend stel.” Sy knik glimlaggend, en in antwoord op sy vraag vertel sy opgewonde van wat vir haar by die Kaapse Modeweek voorlê. “Die lekkerste van alles is dat Benita een van die modelle is wat my skeppings gaan vertoon!” Sy en Simon het tydens die vaart dikwels gesels oor hul toekomsdrome. Totdat hy haar die eerste keer op die boot gesoen het, met die sterre soos uitgestrooide blinkers op die fluweelswart hemeldoek bo die horison van die see, was dit maklik om vernuftige woordspeletjies met hom te speel. En aan die begin kon sy haar nog eenkant hou terwyl hy en die span konsentreer om die seiljag op koers te hou. Noudat hy oorkant haar sit, is dit sy tintelende soene en vuurwarm omhelsings op die boot wat sy onthou. Simon was in geen haas en onder geen druk om haar die hof te maak nie. Van die roekelose man wat haar op so ’n hartstogtelike manier op Ille Belle Vue geliefkoos het, het ’n geduldige minnaar oorgebly. Hy sou haar soms onverwags op die dek in sy arms neem en liefdeswoorde in haar oor fluister, soos: “Ek en jy is gemaak vir mekaar.” Of hy het hulle gelukbringer-skulpie uitgehaal en hulle het teruggedink aan hul eilanddag in die Seychelle. Soms het hy ingedagte met sy oë op die see met sy hande oor haar skouers en rug gestreel, terwyl hulle sy aan sy op die voorpunt van die seiljag doodstil sit en kyk hoe die boeg die water ritmies kloof. Of hoe die dolfyne in die golwe dans en baljaar. Dan het hul tydjie alleen, ver van niks en nêrens, ’n intieme dans van die sintuie geword: die prikkelende reuk van seesout op sy vel, die gedempte klank van die deinende see, die boeg wat die water oopklief, die vergesig van ’n oop einder, eindeloos turkooisblou . . . Sy het nie altyd geweet hoe om die geheime in sy oë te vertolk nie. Soms het hy bloot met warm lippe oor haar kaal skouers gestreel. Daar was ’n perfekte balans van hart en siel tussen hulle. Woorde was oorbodig, maar hy het meermale gesê: “Jy is al wat ek wil hê.”
Wanneer hy vir lang rukke te besig met die seiljag of die span was om by haar te wees, het sy na hom gehunker – veral om sy arm om haar skouers te voel lê, sy louwarm asem strelend in haar nek. Waar sy nou na hom draai, kyk sy ondersoekend na hom. “Miskien sal ek binnekort uitvind dat ek ’n enorme fout gemaak het om juis nou jou aanbod te aanvaar.” “Ek verseker jou dit sal nie gebeur nie. Jy gaan by die fabriek kom en jou fabrieksbestuurder gaan alles onder beheer hê. En hierdie vaart was vir jou so lekker dat jy nou al eintlik wonder hoe jy my kan vra om nog een mee te maak op Verre Winde.” “En wat sal jy sê?” “Dié keer is jy my enigste bemanningslid,” sê hy. “Ek het nie geweet ek het my só goed bewys nie.” “Mmm . . . kom ons sê maar jy is nie meer net ’n skiboot-skipper nie!” “Hoekom ’n alleenvaart?” “Ek dink jy ken daardie antwoord so goed soos ek.” Hy neem haar hand, trek haar op en stap hand om die lyf saam met haar na haar wooneenheid, wat op die strand uitloop. Sy sluit die deur haastig oop en stap binne. Eenkant flikker ’n kers langs ’n bos vlamrooi hibiskusse in ’n kritalvaas. Daarnaas staan ’n mandjie met roosblaar-sepies. Die vertrek ruik somersoet na kaneel. Simon soen haar asof hy op soek is na al die antwoorde in haar hart. Dis ’n vurige soen wat ’n nuwe seisoen tussen hulle inlei. ’n Peinsende, vraende soen. ’n Soen soos ’n liefdesvers – met elke asemteug, elke lipbeweging op die regte plek, soos leestekens. ’n Stadige streelsoen wat haar laat proe hoe smaak die voortjies in die hoekies van sy mond, en wat haar lippe oor syne laat dryf totdat dit tot ruste kom teen die sysagtheid van sy klam tongpunt. Haar vingers rus op die knope van sy hemp en dan trek sy sy hempspunte agter
sy rug uit terwyl hulle agteruit aanstap na die bed. Sy vroetel die knopies los, totdat hulle op die bed neerval in die sagte lig van die maan wat deur die vensters stroom. Hy neem haar vingers na sy mond, soen haar vingerpunte en plaas dit dan op sy borsbeen. Daaronder voel sy die fyn tekstuur van sy vel. Hy streel oor haar opgetrekte bene en voete en gee dit ’n ligte voetmassering terwyl sy knabbelsoentjies oor haar nek na haar borsklofie kronkel. Sy hande skuif die dun bandjies van haar rok oor haar skouers af. En dan troossoene – deernisvolle aanrakings teen haar keel . . . dit laat haar begeertes saamvloei tot ’n verlange só akuut dat sy voel hoe dit stil word in haar. Dan verhard sy mond teen haar vel en ontketen ’n sensasie wat haar lighoofdig na sy skouers laat gryp. “Is jy nóú oortuig daarvan dat ’n alleenvaart reg is vir ons tweetjies?” vra hy en sit regop. Hy kyk opmerksaam na haar, sy oë donker en vol belofte. Donna knik instemmend en maak haar oë toe. Sy is benewel van begeerte en veels te duiselig om helder te dink. Sy steek haar hand blindelings na hom uit. “Bly by my . . .” Maar Simon het reeds opgestaan. Hy trek sy hemp aan en stap tydsaam na die venster om na die maanligstrand te staar. “As ek nie nou gaan nie, gaan jy alle respek vir my verloor. En dit sal ek nie kan uitstaan nie.” “Jy weet wat het laas gebeur toe jy vol begeerte weggestorm het,” terg sy. Hy buk talmend oor haar waar sy nog op die bed lê en plant ’n vlindersagte soen op haar voorkop. “Gelukkig is hier geen rotse om te klim nie en geen brûe om van te swaai nie. Nie eens ’n seiljag om mee weg te vaar nie. Nag, Engelvoetjies.”
18
Simon moet van vroeg al op wees, want toe Donna op haar balkon uitstap, sit hy reeds vars koffie op die hotelstoep en drink – onteenseglik manlik in sy knap gholfhemp en kuitbroek. Sy stap daarheen en gaan neem oorkant hom plaas. Hy staan vinnig op om haar innig te soen. “Moenie gaan nie . . . ek gaan jou nie weer aan die modewêreld afstaan noudat ek jou teruggevind het nie,” fluister hy speels in haar oor. “Die lewe is nie ’n eilandparadys nie, al mag dit dalk so vir jou voel. Seychelle, Bahamas, Mallorca – watter eiland wag nou vir jou, Somerman?” sug sy kammakastig. Sy plaas haar bestelling en kyk ondersoekend na hom. “Hoekom kom jy nie die slag saam met mý nie?” “Nog ’n eiland, nog ’n vaart, nog ’n kompetisie,” spot hy, maar dan raak hy onverwags ernstig. “Net soos my seildrome waar geword het, gaan jou drome om as ’n modeontwerper jou voete te vind nou waar word, Donna. Ek weet nie hoe en waar ek daarby inpas nie. Ek wil lankal nie meer deel wees van daardie soort rotresies nie. Ná gisteraand en hierdie vaart na Mallorca besef ek hoe gouer ek met jou trou, hoe beter.” Donna sit verstom vorentoe. “Simon, verstaan ek jou reg? Vra jy my sommer hier aan die ontbyttafel, oor die eiers en spek, om te trou? Jy wat so romanties is, wat vir my aronskelke aandra?” “Ek vra jou nog nie om te trou nie; ek weet reeds waar ek dít wil doen. Ek waarsku jou net vanoggend dat ek jou gaan vra.” “Ek het nog nooit van so iets gehoor nie!” lag sy ongelowig. “Ek waarsku jou, want ons twee het baie dinkwerk om te doen. Ek sien nie weer
kans vir ’n mal, besige wêreld van skemerkelkpartytjies en beroemdes en bekendes nie. Ek soek die wind op my gesig, die oop see en ’n onbekende horison terwyl my hande Verre Winde windlangs stuur. En ek weet nie mooi hoe dit by jou toekomsplanne inpas nie. Ek sal geduldig wees, Donna. Maar die enigste manier wat ek jou ten volle kan bemin, is wanneer jy my trouring aan jou ringvinger dra. Ek is lief vir jou en ek wil jou elke dag van my lewe in my arms en in my lewe hê.” Hy het dit gesê! Die bekoorlikste vyf woorde in die wêreld: Ek is lief vir jou. Maar op so ’n vreemde manier. Eerder soos die Simon van ouds, dink Donna – die Simon wat geen kompromieë aangaan nie, die minste met homself. “Ek weet nie of ek dit as ’n huweliksaansoek moet sien nie! Ek gaan nie my klerereeks opgee nie.” “Dis nie wat ek jou vra om te doen nie. Maar dit gaan wel oor ’n lewe saam vorentoe. Nuwe prioriteite, nuwe ankerplekke. Maar toe maar,” sê hy en neem haar hand styf in syne, “dis veels te gou om ernstig te raak. Maar ek wil hê jy moet weet dat as ek nie met jou kan trou nie, is dit beter dat ons paaie skei. Ek wil jou as my vrou hê en niks anders nie. En ek wil ’n sukses van ons huwelik maak. Jy is my enigste, vir altyd.” Hy buk oor en soen haar veerlig op haar wang – ’n dralende soen vol intieme betekenis. Sy hoef geen twyfel te hê nie: Simon is ernstig hieroor. Dit maak haar so effe bang, maar dit stel haar ook eindeloos gerus. Hy is duidelik van sy verbintenisvrees genees. Hy het niks meer om weg te steek nie. Daar is nie verskuilde agendas nie. Geen wispelturigheid nie. Niks miskiens of eendags nie. Net suiwer, onverbloemde liefde. Sielsliefde. Van die ewige soort.
Toe sy in Kaapstad aankom, is haar reeks reeds volledig uitgepak en gereed vir die vertoning wat voorlê. Donna burger haar weer in haar Bloubergstrandwoonstel in. Sy maak saam met Benita en Christina ’n draai by al haar geliefde kuierplekke. Ook kuier sy saam met haar ma by haar geliefkoosde skoenwinkels.
Maar dis al asof die drukte en spanning waarop Donna eens gefloreer het en wat vir haar so natuurlik soos asemhaling was, te gou te veel vir haar word. Dit moet die rustige seedae van oop horisonne wees, dink sy. Miskien is Simon reg: vryheid is ’n ewig veranderende horison. En daaraan moet ’n mens ’n hoë premie heg. Sy dink terug aan hulle afskeid op die lughawe. As sy nou ooit ’n sielvolle soen van Simon gekry het, was dit ten aanskoue van almal daar. Dit het ’n nuwe skakering aan hul verhouding gegee; sy voel verenig met hom. Sedertdien het sy bykans instinktief haar gedagtes van Simon weggedraai. Maar die ongemak waarmee sy dit gedoen het, het haar laat dink. As sy dan nie lief is vir hom nie, sou dit mos maklik gewees het om sy ultimatum onder vier oë te bekyk en daaroor te besluit. Sy dink hy stel ’n onmoontlike eis aan haar, maar tog . . . Ná vanoggend se proeflopie vir môreaand se vertoning kon sy nie anders as om te dink hoe trots sy is op wat sy in so ’n kort tydjie reggekry het nie. Ook hoe lekker dit is dat haar beste vriendinne deel is van haar sukses. Dís mos waaroor die lewe gaan, nie die klatergoud van Parys of Milaan nie. Natuurlik het haar modelstatus deure vir haar oopgemaak wat andersins toe sou wees, maar nogtans, die ontwerpe wat deur die tienstuks modelle gedurende die uurlange vertoning vertoon sal word, is alles haar ontwerpe en daarop is sy baie trots. Simon het belowe hy sal in Kaapstad wees vir die modevertoning. Sy sal dan al oor sy “waarskuwing” moes gedink het, alhoewel hy nog nie ’n antwoord eis nie. Ná Mallorca glo sy onwrikbaar in dit wat tussen hulle is, maar hoe gaan hulle dit maak werk?
Die besige Konvensiesentrum krioel van mooi en belangrike beroemdes en bekendes toe die Kaapse Modeweek se vertonings tydens die skemerkelkieuur begin. Donna maak grappies met Benita en Christina terwyl sy van model tot model stap om te sorg dat alles reg is, maar sy bly kyk angstig na die verhoogingang of sy nie dalk vir Simon gewaar nie. Haar swemdrag het die gaste in vervoering,
nou lê nog net hul finale verskyning voor. Donna neem die hande van Benita en haar ander voorste model toe sy saam met hulle die loopplank betree en hou hul hande omhoog. Sy het self ’n Apricotskepping aan: ’n skitterwit rokkie met ’n hoë middel, wat sag uitklok tot op haar knieë. Daarby dra sy hoë sandale met spaghettibandjies. Sy het uiteindelik weer die selfvertroue om haar bene te ontbloot, alles te danke aan Simon en haar nuwe sonbruin vel. Sy ontvang ’n bos blomme van een van die modelle, en stap onder luide handegeklap terug na die kleedkamer. Simon wag haar in met ’n bottel vonkelwyn. Sy stap in sy omhelsing in. Hy hou haar vas totdat sy nie meer huil nie, maar dis trane van blydskap. Toe sy uiteindelik bedaar, fluister hy teer: “Vergewe my, ek was so verkeerd om vir jou ’n ultimatum te stel. Jy pas in hierdie wêreld in, jy sal altyd hier inpas. Miskien het ek net nie besef hoe jaloers ek is nie, hoe lief ek jou het nie. En dit voel asof dié wêreld jou soos ’n magneet aantrek. Ek wil jou nie weer verloor nie.” Donna tree terug en kyk liefdevol na hom. “Ons is al twee nuwe mense, Simon, wat ’n ander soort sin in die lewe gevind het. En dis lekker vir my om terug te wees, maar dis net so lekker om saam met jou op ’n seiljag te wees. Ons sal ’n goue middeweg moet vind.” Toe sy sien hoe hy verby haar na iemand kyk, draai sy om. Chris kom aangestap en Simon trek haar besitlik onder sy skouer in. Toe Chris sy hand na haar uitsteek, skud Donna sy hand en beantwoord sy gelukwense, maar daarna word sy gou oorrompel deur vriende en kennisse in die bedryf. Tyd hét ’n verskil gemaak, dink Donna meewarig. Sy kyk na Chris toe hy in die skare verdwyn en besef hoe vlak sy maatstawwe is. Hoe min betekenisvolle raakpunte daar wel tussen hulle was, kwalik enigiets meer as ’n sterk fisieke aantrekkingskrag. Miskien is dit juis die verskil tussen ’n sielsliefde en ’n lyfliefde: met die eerste is jou hart nooit weer jou eie nie. Sy draai terug na Simon en trek hom in haar wêreld in. Miskien sien hy tog kans daarvoor om aan haar sy te bly.
Dis veel later toe hy moeg langs haar op ’n bank in sy Kampsbaai-woonstel neersak. Hulle bespreek die vertoning en die gehoor se reaksie, en toe sê hy: “Ek was verkeerd om vir jou te sê dis ek of niks, Donna. Vergewe my, asseblief.” “Ek verstaan dit; jou eie ervaring het jou gemotiveer. Ek weet jy is gelukkig met dit wat jy doen, en ek gaan jou nie vra om dit op te offer nie. Tussen die twee van ons sal ons ’n lewe prakseer – dis nou te sê as jou aanbod nog staan.” Hy neem haar aan die hand en stap saam met haar na die balkon. En daar op die stoep met sy wye uitsig oor Tafelbaai se flonkerende liggies, trek hy haar teen hom aan en vra: “Onthou jy dat jy eenkeer gesê het dis ’n balkon met potensiaal? ‘Miskien staan ons nog eendag . . .’ Was dit nie jou woorde nie? Wel, hier staan ons nou. Engelvoetjies, sal jy met my trou?” Hy vroetel met sy mond in haar nek en gee haar ’n soen so sag, so loom soos die somersaand om hulle. “En daar is net een voorwaarde: ons trou op Ille Belle Vue.” “Sien jy werklik kans om terug te gaan?” vra Donna. “Dis die sluiting wat ek nodig het.” Sy dink terug aan hoe sy gevoel het by die première van Return of the Assassin. Die gevoelens van woede en hartseer, maar ook die vrede wat sy ervaar het. “Ek dink ek het nét die uitrusting vir Ille Belle Vue.” Hy lag uitbundig. “Ek het niks minder van my modeontwerper-liefling verwag nie. Die bruidegom sal natuurlik tweede viool speel, hoe dan nou anders? Ek neem aan dis ’n ja . . . ek sidder om te dink wat sou gebeur het as daar nie iets in jou kas was nie!” Hy trek haar in sy omhelsing en laat begeerte toe om oor haar hals te sprei toe hy ligweg sy asem oor haar vel blaas. Sy strelende hande onthou hoe om elke sluier van haar weerstand weg te trek. Maar dan hou hy skielik op met sy liefkosing. Donna kyk vraend na hom. “Onthou jy my belofte?”
“Was jy ernstig?” “Ja, ek kan toegewings maak soos om te sê kom ons bly doen wat ons doen om den brode en om ons uit te leef. Maar ek het ’n dringendheid om jou as my vrou in my arms te hou.” Donna dink dadelik aan die eerste probleem: hoe hulle hul dagboeke gaan sinchroniseer. Maar sy vergeet gou daarvan. “Wanneer kan ons Ille Belle Vue toe gaan?” “Ek het gehoop jy sal vra,” sê hy. Hy stap binnetoe en gaan haal iets uit sy baadjie se binnesak. Met die terugkom gee hy twee wit koeverte vir haar. Donna maak dit oop terwyl sy vraend na Simon kyk. Sy ken glad nie hierdie kant van hom nie. Verrassings! Sy is so mal daaroor. Dis twee kaartjies vir ’n reis na die Seychelle-eilande. Die datum is om die draai. En sy het uiteindelik ’n antwoord op haar vraag: Ja, ’n liefdesvonk van ’n oomblik kán tot ’n lewenslange hartsverbintenis lei. Sy omhels hom innig, stralend van vreugde. Maar dan duik die vraag wat tot nou toe verbloem in haar hart gelê het skielik op – die seerkryvraag wat Chris daar geplant het – en sy vra onseker: “Maak dit nie vir jou saak dat ek nie meer is wat ek altyd was nie? Dat my,” sy sukkel steeds om dit te sê, “letsels vir altyd daar sal wees nie?” Hy hou haar só vas dat hy haar reguit in die oë kan kyk. “Die eerste keer toe ek jou behoorlik gesien het, was jy sonder ’n greintjie grimering. Ek het tot oor my ore op jou verlief geraak in daardie enkele oomblik. Geen fisieke of geestelike letsel kan my van jou weghou nie. Ek wil nooit weer sonder jou wees nie.” Warm, onbeheerste trane stroom oor Donna se gesig. Vir die eerste keer sedert die ongeluk voel sy weer heel. Sy besef ineens: sy het Simon se genesende woorde en helende teenwoordigheid nodiger as enige loopbaan of prestasie. Uiteindelik is dit al wat tel in die lewe: die genade van onvoorwaardelike liefde.
19
Kort nadat hulle by die hotel op Mahé aangekom het, skop Simon en Donna hul skoene uit en gaan stap ’n ver ent op die windbeskutte strand. Veel later rus hulle in die tropiese tuin, voordat Donna gaan klaarmaak vir hul trouvaart na Ille Belle Vue skuins voor sononder. Dit sal slegs sy, Simon, die huweliksbevestiger en twee getuies van die hotel wees. Sy sou graag vir Benita en Christina daar wou hê en natuurlik haar gesin, maar die huweliksvieringe saam met vriende en familie lê vir hulle voor op Welgevonden die oomblik dat hulle terug is. Benita en Christina en haar ma deel nou in elk geval haar lank bewaarde geheim oor Ille Belle Vue en omdat hulle ook nostalgies en sentimenteel is, verstaan hulle maar alte goed. Toe sy uiteindelik kaalvoet oor die strand na Simon aangestap kom, glimlag hy betekenisvol. Sy het haar Engelvoetjies-enkelketting aan en ’n wit bikini met ’n kantsarong daarby. Die skerfies diamante skitter in die laatmiddagson. “Hoog tyd! Ek het al gewonder of jy dit verloor het,” terg hy. Toe sy in sy arms instap, fluister hy: “Vir my sal daar nooit iemand anders as jy kan wees nie. Vandat ek jou die eerste keer gesien het, het ek dit geweet, my bikinibruid.” Sy glip haar arms om sy nek, maar voordat sy hom kan soen, skraap die huweliksbevestiger sy keel. “Dié deel los ons vir later,” sê hy met ’n goedige glimlag. Die twee motorbote druis teen die wind in, en kort voor lank is hulle naby Ille Belle Vue, die eiland van hul eerste beminning. Die skipper gooi anker in die kniediep water. Simon plaas ’n fluistersagte soen op Donna se voorkop en dra haar soos ’n ware bruid totdat sy in die vlak water kan staan – dis waar hulle hul troubelofte gaan aflê.
Terwyl sy staan met haar kantsarong oor haar arm gedrapeer (soos dit ’n ontwerper van boetiekswemdrag betaam), voltrek die huweliksbevestiger die eenvoudige seremonie. Toe Simon teer haar hand vat om die ring aan te glip, spoel die louwarm water tintelend oor haar voete. Sy kan nie anders as om te dink hoeveel anders die vrou is wat hier langs hom staan as die een wat lank gelede vir ’n ligsinnige weddenskap hierheen gekom het nie. Daar lê ’n leeftyd van ervaring tussen die Donna van toe en van nou. Ook Simon het soveel verander. Die man wat haar op ’n verkenningstog na hierdie eiland gebring het, was gedrewe en ambisieus, rusteloos en soekend. Die Simon wat nou met ’n rustige blik oor die granietrotse van Ille Belle Vue uitkyk, daar waar sy lewe so drasties verander het, is tevrede met wie en wat hy is: iemand met sy oë op die horison, die wind in sy hare en die son op sy gesig, wat nie meer nodig het om homself met ekstreme sportsoorte te bewys nie. “Ek is lief vir jou, oneindig baie lief vir jou. Moet dit nooit vergeet nie,” sê hy toe hy haar nader trek en soen. Die res van die geselskap vertrek met die een motorboot terwyl Donna en Simon vir hulle wuif. Dan neem hy haar aan die hand en lei haar na die strand. Hulle stap met die slingerpaadjie deur die bosse tot op die hoogste punt van die eiland, van waar hulle ’n 360 grade-uitsig oor die Seychelle-argipel het. “Ons eie paradys,” sê hy en hou haar styf vas. Toe hulle terug is op die strand, trek Simon sy hemp uit en nooi Donna om in die louwarm water saam met hom te swem. Sy knoop haar sarong los en stap die see in waar die geel halfmaanstrandjie versteek lê tussen die granietkranse. ’n Ligte wind roer in die palmbome se kruine. Die stilte word net onderbreek deur die seegedruis en ’n paar seevoëls wat krys. Die water is kalm om hul enkels en hulle stap hand aan hand tot die water kniehoogte is. Die stroom is sag en vloeiend en dwing hulle na mekaar. Met haar kop eerste gly Donna deur die water na Simon. Sy geniet die warmte teen haar vel. Sy glip op haar rug en dryf na waar Simon op haar wag. Tyd vervaag terwyl hulle soos kinders in die water rondspeel en dryf. Hulle beweeg telkens na mekaar toe, totdat sy met haar kop teen sy bors staan.
Geleidelik verstyf haar omhelsing en begin speel haar hande oor sy rug in ’n dromerige sirkelvormige streling. Hy sit sy nat palms teen haar rug om die sygladde tekstuur van haar vel te voel. Haar hand gly oor sy borskas na sy heupe, en sy hou sy smal heupe in haar palms vas. En hoewel sy oorbekend is met hoe sy liefdespatroon loop, is dit tog ’n verrassing toe hy haar gesig in beide hande neem en haar nader trek deur sy been om haar te krul. Hy neem haar weer in sy arms en trek haar teen hom aan. Sy begeer hom mateloos, met ’n teer, deernisvolle hunkering. En asof hy daarvan bewus is, tel hy haar uit die water op en gaan lê haar op die strand neer. Met die ligte streelgebaar wat sy reeds ken, raak hy aan haar en liefkoos hy haar. Sy voel ’n gloed van begeerte warmer as die tropiese son oor haar spoel, ’n salwende liefdesgloed wat haar in hierdie dag, hierdie oomblik laat insmelt en verdwyn. En dit voel asof sy die son self is toe hul liggame mekaar vind met die tydlose ritme van hul beleë liefde. Diep in haar besef Donna dat sy innerlik nooit weer dieselfde sal wees nie. En sy wéét: haar beminde met die winterhart het ’n somerman geword. Sy kruip nader aan hom om nogmaals die delikate sensualiteit van die oomblik vas te vang. En soos hulle opgekrul lê in liefdesvrede, kabbel die lou en loom branders van Ille Belle Vue om hul ineengestrengelde voete, hul liefde ewig soos die eb en vloed van die seegety.
Troukoors
1
Dis Vrydagmiddag laat en Minette Faber sit nog voor haar rekenaar, besig om haar jongste artikel na te sien. Sy het dit by Global Ecology voorgelê en dis vir publikasie goedgekeur, maar die redakteur van die tydskrif het ’n kontrolelys by sy gelukwensing aangeheg met voorskrifte wat haar soos ’n beginner laat voel. Sy trek by nommer agt onder die opskrif Figures and tables. Daarvolgens moet sy seker maak dat die materiaal wat sy aangestuur het van hoogstaande gehalte is. Haar moed sak; sy is bekommerd oor een van haar vinkfoto’s. Sy rol af na die paragraaf getiteld High quality figures. Dan stoot sy haar bril reg en lees met soveel konsentrasie dat sy nie die sagte kloppie aan haar kantoordeur hoor nie. Sy trek by Further instructions on the preparation of figures toe die deur agter haar versigtig oopgestoot word en sy bewus word van mense wat in die gang lag en gesels. Sy frons en konsentreer harder. Sy hou nie van onderbrekings nie. If not already provided, we will now require . . . lees sy en skrik haar amper uit haar vel toe ’n hand op haar skouer land. Dis Paul. Sy hoef nie om te kyk nie. Sy voel sy warmte aan, ken sy unieke aanwesigheid, die geur van die Hugo Boss wat sy vir hom koop en wat hy deesdae so kwistig gebruik. Paul kan haar konsentrasie kom verbreek wanneer hy wil. Want hy is die man met wie sy oor presies ses weke en een dag in die huwelik bevestig gaan word. “Ons trou die einde van Mei,” sou sy sê as mense vra, maar dan sou hy met sy rustige, diep stem besadig verklaar: “Ons word die einde van Mei in die huwelik bevestig en dit is ’n uitgemaakte saak.” Die stilte wat daarna op die geselskap neerdaal, het haar telkens weer laat besef dat hul huweliksbevestiging ’n ernstige saak is wat met respek benader moet word – al is dit die afgelope maande die onderwerp van skinderstories en
grappies. Paul dwing nog respek af, en niemand sal dit waag om in sy gesig te sê wat Minette al om draaie en agter mure en boekrakke moes aanhoor nie. Soms reguit in haar gesig. Die laaste tyd het dit begin afneem, maar daar is ’n oplewing in die geledere van goedbedoelendes wat taktvol beduie dat die huwelik wat hulle twee beplan ongewoon is en dat hulle miskien weer ’n bietjie moet nadink, of hoe? “Ons het wel dééglik, dánkie,” antwoord Paul hulle telkens kort en kragtig en slaan dan sy arm besitlik om Minette. Styf teen hom voel sy so veilig en beskut soos vyftien jaar gelede toe sy ’n dogtertjie was en haar pa haar ook so teen sy blad onder sy jas vasgedruk het. Tot daardie laaste winter toe hy die ongeluk by die treinoorgang gemaak het. Daaraan wil sy nie nou dink nie. Paul is hier. Sy hande is koel, maar dit stuur ’n reeks elektriese skokkies deur haar wat soos vlammetjies om haar hals dans en haar temperatuur met minstens vyf grade laat opskiet. Hy het die vermoë om haar van kop tot tone te prikkel – haar mentor en minnaar, haar beskermheer en haar ridder. “Pla ek?” Sy vingers volg die skuinste van haar nek tot agter haar ore. Saggies masseer hy haar gespanne nekspiere. “Jy mag maar. Dis lekker.” “Ontspan, ontspan.” Hy druk-druk aan haar stywe nek. Sy maak haar oë toe, haal diep asem, geniet dit ’n minuut lank voor sy haar kop draai en opkyk. Sy donker oë glinster onder die swart wenkbroue. Hy glimlag vir haar soos hy altyd glimlag, asof hy wil lag kry oor iets wat net hy weet. “En toe? Hoe gaan dit met my werkeseltjie?” “Goed vandat jy hier ingekom het. Met jou?” “Uitstekend.” “Hoe was jou vergadering?”
“Middag, professor! Middag, juffrou Faber!” Twee studente wat in die gang verbykom en oorywerig groet. “Ja, middag.” Paul klink knorrig terwyl hy loop om die deur toe te druk. “G’n privaatheid in hierdie plek nie.” Minette hoor die sleutel in die slot draai. Sy voel die hitte in haar nek opslaan. As Paul so maak, raak sy duiselig en koorsig. Maar die laaste tyd word sy maklik warm. Sy weet wat dit veroorsaak. Dis die troukoors! Paul sê hy kry dit ook. So ’n louwarm gevoel van opwinding – nie onaangenaam nie. Die wetenskaplike naam daarvoor? Impaziente matrimonio? Paul het laas belowe om by sy kollegas in klassieke tale te gaan kers opsteek. Die departement dierkunde kan navorsing doen oor die verskynsel en hul bevindinge met medies en sielkunde deel. Die feit dat dit bestaan, kan niemand misken nie. Minette wikkel haar skouers, vestig kastig haar aandag op die rekenaarskerm en lees: In pdf or eps format . . . Paul is agter haar. Sy hoor hom asemhaal, voel hoe hy oor haar skouer na die skerm kyk. “Waar was ons?” Sy vingers kruip teen haar nek op, masseer haar kopvel. Amper verloor sy haar plek op die skerm: Please complete the colour . . . Pienk, dis haar troukleur, pienk en wit proteas. Wit koningproteas, pienk suikerkanne. Bergrosies en skaamrosies. Donkerpienk en ligpienk, lig-ligpienk, amper wit. Haar trourok spierwit, met pienk pêrels om haar nek en aan haar ore, ’n tiara op haar kop van die kleinste klein bergrosies, haar sluier wit en lig soos spookasem.
Paul buk oor en soen haar op haar kroontjie. Sy bloos, knyp haar oë toe en geniet die hitte wat nogeens in haar lyf afspoel. “Wat maak jy?” Sy vingers rus ’n paar oomblikke in die holtes bokant haar sleutelbene, glip af oor haar eerste paar ribbes, die sagte vlees waar haar borste begin. Sy raak intens bewus daarvan dat sy asemhaal. “E-pos van Edinburg,” fluister sy en haar skouers gaan op en af. Die skerm voor haar is ’n dowwe ligkol. Sy asem is swaar, dit stoot deur sy lippe. En sy? Sy spin soos ’n klein wit katjie, konsentreer op die op en af van haar skouers, die ligte drukking van sy vingers. Wag dat hulle laer af beweeg. Hy is so ordentlik, hy trek terug en vryf haar nek met sy duime. “Jy is mos aanvaar? Wat wil hulle nog hê?” “Perfeksie.” Sy hou asem op. Moet sy sy hande vat en hulle aftrek tot daar waar sy hulle wil hê? Liewer nie. Sy hande skulp om haar skouers en boarms. “Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Nie vir jou nie, Mina.” Mina is sy liefnaampie vir haar en sy hou daarvan. Hy sê dit elke keer met soveel eerbied dat sy voel soos ’n nuutontdekte mirakel, Mina cosmosoma myrodora – ’n eksotiese motjie met diep-persrooi vlerkies, ’n vondeling wat in die binnekant van sy hande tot rus gekom het. Dís waar sy hoort: by hom op hierdie groen planeet wat hulle so goed ken. Hulle proe saam aan al die Latynse name, liefkoos mekaar daarmee, bestee dae en nagte in die wonderwêreld van diere, voëls en insekte. Huil saam oor spesies wat onvermydelik aan die uitsterf is, oor indringers wat opvreet en uitskuif, lag oor die blydskap van nuwelinge wat rare, soms onverwagte verskynings maak. “Pierre het gebel,” sê hy. Ag nee! Weg is die toorkrag van die heilige oomblik.
“Enigiets kan verkeerd loop as jy e-pos,” ignoreer sy sy aankondiging en wys na die artikel op die skerm. “Hy’t nie e-pos gestuur nie, hy’t gebel, uit Londen.” Paul praat asof Pierre ’n Baie Belangrike Persoon is. Sy haat dit dat hy Paul met soveel verwagting kan vul. Vies roer sy haar skouers om ontslae te raak van die gewig van sy hande. Ek praat nie van Pierre nie, wil sy skree, ek praat van my artikel! “Hulle wil aanlyn ook publiseer,” sê sy, “en ek gaan niks aan een of ander slim webmeester oorlaat nie. Jy weet wat laas met my Time-artikel gebeur het.” “Mina, jy gaan haal die bobbejaan agter die bult!” “Wel, selfs ’n donkie stamp hom nie twee keer teen dieselfde klip nie.” Paul gaan sit skuins voor haar in die leunstoel voor die venster. “Hy land Sondag in die Kaap.” Die donkie of die bobbejaan? Minette wil lag. Sy kyk om die skerm hoe Paul sy een lang been oor die ander een gooi en hom gemaklik tuismaak. Hy dra ’n wolmerkbroek, byende kouse, duur Italiaanse skoene. Lyk gesofistikeerd en aantreklik. Soos Sean Connery in sy vyftigerjare, dieselfde diep kepe in die wange, die prominente wenkbroue, donker hare wat net teen sy slape grys word. Die verskil is: dis Paul se eie hare. Geen vals haarstukke vir hom nie. Dit weet sy vir ’n feit, want hulle het al saam uitgekamp. Sy het hom al vroeg in die oggend sien gesig was en tande borsel, in die veld voor haar sien uitstap in ’n kniebroek en bergklimstewels, saam met hom in die see geswem. Hy is foutloos gebou, sonder enige teken van onooglike vet. Dalk ’n bietjie aan die skraal kant, maar liewer so as oorgewig. ’n Jong lyf wat hy goed oppas. Hy en sy oudste seun, Francois, gim gereeld soggens en saans. Minette raak toegeeflik. Maak nie saak wat en waar nie, Paul is altyd agtermekaar en perfek. En hy ondersteun haar in alles wat sy doen. Sy behoort hom die opgewondenheid oor Pierre se kuier te gun.
“Hierdie Sondag?” vra sy en hou haar gesig uitdrukkingloos. “Ja.” “Dis gou.” “Ek waardeer dit dat hy langer kuier. Ek verlang na hom.” Laat hy dan maar kom as hy wil kom, dink sy. Paul sal weldra ontdek dat hy nie meer dieselfde Pierre is wat hy onthou nie. “Gaaf van hom,” veins sy en frons weer ’n slag vir die woorde op die skerm. Paul trek sy broekspyp reg, klap ’n takkie met blaartjies in die omgewing van die soom af. “Pierre ken rekenaars, hy kan jou help.” Minette slaan haar oë op. Hy háár help! Gelukkig sien Paul dit nie. Hy het die takkie opgetel en bekyk dit asof dit van die buitenste ruim ingewaai het. Pierre is Paul se jongste seun, Francois se kleinboet. Hy weet soveel van rekenaars dat hy vir Microsoft in Moembaai, Indië geprogrammeer het, maar die afgelope maande het hy blykbaar meer tyd op die strand in Hawai deurgebring as in staal-en-glaskantore. Minette kyk weer stip na Paul. Pierre is sy ewebeeld, maar Paul het darem regtig meer finesse. En goeie kleresmaak. Sy das pas perfek by sy hemp: klein diamantjies op breë strepe, alles in bloue en bruine. Hy moes formeel aantrek vir die fakulteitsvergadering, maar eintlik kan jy hom altyd deur ’n ring trek – vir hom en Francois. Reg aangetrek, selfs as hulle gaan gim. Nie soos dié Pierre wat per e-pos foto’s stuur van hom met haaitande en skulpies om die nek en wat sy hare wild laat groei het om by Hawai te pas nie. “Sal hy ooit nog op hoogte wees ná al die vuurdanse en branderplankryery?” “Dit was vakansie, Minette! Hy is op die oomblik in Londen vir die bekendstelling van nuwe sagteware. Natuurlik is hy op hoogte. Buitendien, met ’n brein soos syne . . .” Sy het gehoor hy is briljant. Selfs Lynette, Francois se vrou, praat met ontsag
van Pierre se IK. Paul het groepfoto’s van hom saam met sy Indiese kollegas, Microsoft se banier op die agtergrond. Almal lag breed en lyk ryk en vooruitstrewend; dit kan enige plek op aarde wees. Maar daar is ander foto’s met dieselfde vriende voor die Taj Mahal en in houtskepies op die Ganges. “Pierre het ’n kop,” sê Paul en tik op sy voorkop. “Hy is jou seun.” “Hy is, en ek het hom drie jaar laas gesien.” Dis toe Paul in Amerika was en Pierre in Chicago ontmoet het. Paul het lesings by die universiteit gegee en Pierre het Microsoft in ’n ander deel van die stad verteenwoordig. Minette was toe nog net ’n naam op een van Paul se klaslyste, ’n oulike tweedejaarstudent wat die onmoontlikste vrae kon vra. Mejuffrou MJ Faber. Hou haar dop. Sy het met twaalf onderskeidings gematrikuleer, sesde in die land. “Sulke slim kinders maak my moeg,” het Isadora, Paul se goeie vriendin, gesug. “Sy is boonop nog mooi ook. Dit maak hulle onuitstaanbaar.” Minette weet, want een van haar vriendinne het dit gehoor en vir haar kom oorvertel. Min het Paul besef dat Minette hom toe al van ver af bewonder het. Nie net sy kennis en weldeurdagte menings nie, maar ook sy fyn humorsin, sy elegante klere, sy handgebare en donker oë, die aantreklike grys aan sy slape. Professor 007-Hagen. Die meisies was almal verlief op hom, maar sy het nie saamgegiggel nie. Sy het trouens niks laat blyk nie, maar het stilweg besluit dat hy haar sal kies. En hy het. Hulle trou oor presies ses weke en een dag in die NG Moederkerk, maak nie saak wat die res van Stellenbosch en die hele akademiese wêreld en al wat leef en beef te sê het nie. Paul het ’n wye vriendekring en ’n uitgebreide familie, en die meeste lyk teen dié tyd tevrede omdat hy weer geluk gevind het soveel jare ná sy Laetitia se dood. Paul en Minette sal op hul troudag ses maande lank verloof wees. Dié wat aanvanklik bekommerd was, is teen hierdie tyd gewoond aan die idee dat hulle ’n paartjie is. Dit geld ook Minette se tant Marga, wat so openlik verlig was dat
haar ouers oorlede is en “dit” gespaar is – hul pragtige dogter getroud met ’n knorrige man wat oud genoeg is om haar oupa te wees, wat nog te sê haar pa. “Wat besiel jou om jou jeug weg te smyt, Minette? Oor tien jaar sit jy saam met hom in die siekeboeg van die ouetehuis!” galm tant Marga se reguit woorde soms nog deur haar koorsige kop. Tipies haar tant Marga! Sy het nog nooit ’n moordkuil van haar hart gemaak nie, ook nie oor Minette se vriend en hul onbetaamlike troukoors nie. Sy het nie omgegee wat sy sê nie en haar man, oom Hans, moes maar saamstem – tot hulle Paul ontmoet het, die naweek van die kas wyn wat so sleg begin het en so goed uitgedraai het. Toe het tant Marga teësinnig toegegee dat dit dalk kan werk, maar hulle sal hulle steeds reghou vir ’n ramp en ’n skinderveldtog. Daar was stories, baie met sterte aan, die meeste opgemaak deur jaloerse mense wat niemand anders ’n bietjie geluk gun nie. Wat is tog sappiger as staaltjies oor ou professors wat vir jong studente loer en jong studente wat by ou professors inkruip om punte te kry? Maar niemand kon Minette dáárvan beskuldig nie, want sy was van die begin af heel bo aan die punteleer. Haar vriendinne, wat die vriendskap sien ontwikkel en die verlowing sien kom het, het hom eerste aanvaar. By monde van Leonie, die voorbok, het hulle selfs erken dat hulle jaloers is omdat hy nie meer die onderwerp van hul drome kan wees nie. Hulle het hul glasies vol gemaak met vonkelwyn en op Minette se skoonheid en Paul se gesondheid gedrink. “Dis soos ons jou ken, Minette. Jy mik hoog – akademies én andersins! Jy sou met niks en niemand minder as ’n prof tevrede wees nie!” En so moes almal maar net vrede maak met die idee. Die professor se seun, Francois, het gou ingegee. Sy vrou, Lynette, het ’n openhartige vrou-tot-vrou-praatjie met Minette gehad en toe ook maar opgegee. Dis nog net enkeles wat teen die voorgenome huwelik gekant is, soos byvoorbeeld professor Isadora Papastefanou, wat Minette behandel asof sy haar navorsing gesteel het. Maar vir háár is sy nie bang nie, miskien vir haar perdebye. En Pierre . . .
Die geheimsinnige Hagen. Die een wat weggegaan het omdat hy so lief vir sy ma was dat hy dit nie meer kon verduur om hier te bly nie. “Hy was haar oogappel. Toe sy oorlede is, wou hy net vlug. Niemand kon hom keer nie,” het Lynette vertel. Die feit dat hy so lief vir sy ma is, het Minette hartseer gemaak – hartseer en ook bang. Sy ken daardie soort liefde; sy verlang dikwels na haar eie ma en sy weet hoe dit voel. Dit sou moeilik wees vir Pierre om haar te aanvaar – sy pa se tweede vrou, die een wat sy ma se plek wil inneem. Sy het teenstand verwag, maar nie soveel afkeer nie. Al hierdie gedagtes flits deur Minette se kop, terwyl sy die kwaliteit van die foto’s wat sy by haar artikel aangeheg het genadeloos meet aan die vereistes wat Global Ecology stel. “Dis goed dat jy Pierre einde ten laaste ook sal leer ken. Jy kan Sondag saamry lughawe toe,” dring Paul se stem tot haar deur. Asseblief, net nie dít nie! Nee, daarvoor sien sy nie kans nie. “Ek wens my werk was afgehandel,” probeer sy ’n flou verskoning. “Jou graad is in die sak, en jy werk nie Sondae nie.” “Maar my vinke . . .” “Jou vinke is skitterend. Buitendien, ek het mos gesê hy kan jou help. Hoeveel tyd het jy nog?” Sy roep die ou vinklêer op en vergelyk die foto’s. “Ek moes 6A gekies het. Moes ek nie? Paul, kyk hier.” “Nee, Mina!” Hy lyk skielik streng en ongeduldig. “Jou werk is uitstekend, jy het die perfekte vink gekies. Vergeet van daai lys, dis ’n blote formaliteit. Pos die goed en kry klaar!” Tye soos hierdie moet sy toegee dat hy meer as sy weet – vanselfsprekend. Hy het ’n voorsprong van twee doktorsgrade, verskeie vakkundige boeke en tientalle artikels. Sy begin nou maar, en dis net artikels.
“Goed, jy is die promotor. Maar dalk is jy te lief vir my.” “Ek is. Ek is gans te lief vir jou, maar my integriteit is bo verdenking. Of vergeet jy doktor Thornhill het jou ’n volle drie persent meer gegee, en hy weet nie van jou mooi bene nie? Dis ’n uitgemaakte saak dat jy volgende jaar die beurs sal kry, en dit word streng op meriete bereken. Hoekom is jy so onseker?” Sy kry die aardige gevoel dat sy laaste vraag niks met die werk uit te waai het nie. Hy kyk haar so stip aan dat sy vinnig wegkyk, die lêer voor haar stoor en dan toemaak. “Jy antwoord nie my vraag nie.” “Dis my derde artikel,” sê sy en skakel die rekenaar af. “Ek wil hê dit moet beter wees as die vorige twee.” “Klein perfeksionis.” Sy haal haar bril af, kry die brilhuisie en bêre dit. Paul roer nie. Sy voel sy blik op haar, sy oë wat soos kole vuur kan brand onder sy ruie wenkbroue, die geamuseerde glimlag wat nou weer om sy mondhoeke speel. “Jy kan maar nie die geringste foutjie verduur nie.” “Wel, jy ook nie.” “Touché!” lag hy en staan op. Sy pak haar skouersak en merk op dat daar ’n rafel aan die een punt hang. Daar is ’n skêr in die houer met penne. Sonder om te dink vat sy dit en knip die rafel af. “Dís wat ek van jou hou,” erken Paul. “Waar jy is, loop niks ooit verkeerd nie.” Sy bloos, voel senuweeagtig en onrustig en simpel omdat sy so voel. Diep in haar hart weet sy wat die rede is. Of eerder, wie. “Ek dink Pierre sal in sy skik wees as jy lughawe toe kom.” Sal hy? wonder sy en dink aan daardie gewraakte telefoongesprek – die enigste
persoonlike kontak wat sy nog met Pierre Hagen gehad het. ’n Paar kort sinne wat weke later steeds in haar nagmerries opduik. “Goeienaand, professor Hagen se woning. Kan ek help?” “Dis Pierre Hagen hier. Ek wil graag met die professor praat.” Paul was in die bad. “Hy is nie op die oomblik beskikbaar nie. Kan ek ’n boodskap neem?” “Kan jy skryf?” Sy het haar so effe vererg. “Ja.” “Dis ook nie nodig nie, solank jy onthou om vir hom te sê sy seun Pierre het uit Honolulu in Hawai gebel. Ek vlieg vanaand Los Angeles toe, maar ek sal hom eers oor ’n paar dae weer kan kontak. Ons land net, dan ry ons dadelik Santa Monica toe. Het jy dit, of moet ek dit herhaal?” “Honolulu, Los Angeles, Santa Monica. Ek sal onthou.” Haar hart het in haar keel geklop. Daardie stem! Hy klink nes sy pa, maar jonger, lewendiger, maar arrogant. “Dankie, mevrou. Ek waardeer jou moeite.” “Juffrou,” het sy vinnig gesê. “Jammer, juffrou.” “Miskien moet ek my sommer voorstel. Ek is jou pa se verloofde, Minette Faber.” Hy het haar skaars kans gegee om haar sin klaar te maak. “Ek’t gewonder of dit die vroumens is!” “Ekskuus?” “Jy reël al klaar sy lewe, of hoe?” “Ek antwoord sy telefoon, dit beteken nie ek reël sy lewe nie.”
“Spaar my die verskonings en gaan sit ’n slag op ’n klip en dink waarmee jy besig is, juffrou Faber. Wat gaan in jou kop aan?” “Jy ken my nie! Wie gee jou die reg om só met my te praat?” “Ek stel nie belang om jou te ken nie. Totsiens, júffrou.” En klieks! word die verbinding verbreek. Sy kon haar ore nie glo nie. Geen maniere nie, dis wat! Hy het hoegenaamd geen maniere nie en sy was gaaf en ordentlik met hom. Sy het nog na woorde gesoek om hom op sy plek te sit en weg is hy! Die lyn het gesing asof die golwe en die wind van Honolulu en die Hawaise eilande daarin afgespoel het tot by die suidpunt van Afrika, in die portaal van Hagenhof, Paul Hagen se Ou Kaapse gewelhuis. Sy het die gehoorbuis stadig neergesit. Pierre vir haar voorgestel: ’n branderplank onder sy arm, nat slierte hare op sy skouers, bruin gebrand en met ’n wit glimlag. Nee, hy was op die lughawe, of hoe? Jeans, ’n T-hemp, kort moutjies wat styf om sy boarms pas, sy hare met ’n rekkie vasgebind, perfekte profiel teen die lig, ’n stuurs trek om sy mond toe hy haar naam hoor. “Wie was dit?” het Paul skielik agter haar gevra. Hy het aantreklik en jonk gelyk in sy blou jeans en kraakwit hemp, sy hare klam teen sy slape. Sy het geglimlag. “Jou seun. Hy was haastig, maar hy sal weer bel.” “Watter een?” “Pierre.” Paul se een wenkbrou het opgeskiet. “Hy het lanklaas so dikwels gebel. Seker van nuuskierigheid oor jou. Het julle toe kennis gemaak?” “Op ’n manier, ja. Hy weet hy het met my gepraat.” “Darem vriendelik?”
“Daar was nie veel tyd om vriendelik te wees nie. As ons nie nou ry nie, gaan ons laat wees vir die uitstalling.” Paul moes iets vermoed het, maar sy wou hom nie ontstel nie. Van toe af wil sy Pierre nie met hom bepreek nie. Sy wil ook nie weet wat hulle intussen vir mekaar gesê het en of Pierre net so eerlik met Paul was oor haar nie. Sy word weliswaar genoeg geteister deur die gedagte wat by haar posgevat het dat Pierre Paul se verlore jeug verteenwoordig. Op foto’s uit sy jong dae lyk Paul gevaarlik baie na Pierre. Daar is selfs een van Paul met lang hare en ’n branderplank! Paul is lief vir die see en om vis te vang en kreef te duik. Trouens, hy swem graag in die see. En ook elke oggend voor werk in die swembad in sy huis se agterplaas. Nie sommer so ’n plaspoeletjie nie, maar ’n ongewone tien by vyf meter, yslik vir ’n dorpserf. “Kom jy swem?” vra Paul toevallig toe sy die kantoordeur sluit. Hy het sonverhitting laat installeer en die water is heerlik lou. Hulle kan selfs in die middel van die nag swem, maar vanaand is daar nie tyd nie. “Het jy vergeet ek moet sorg dat ek my persoonlike besittings verwyder ingeval Pierre jou van losbandigheid beskuldig? En wat van ons ete-afspraak?” “O ja!”
2
Saterdagoggend staan Minette vroeg op. Sy het ’n haarkapperafspraak en daarna wil sy gou na haar kantoor toe en die vinkfoto’s vir oulaas onder ’n vergrootglas plaas, by wyse van spreke. Sy het die volledige artikel gisteraand by die huis weer deurgelees. Sy wil doodseker maak voor sy dit finaal stuur, want sy wil onder geen verpligting by die ongeskikte Pierre Hagen wees nie. O, sy het ’n aaklige nagmerrie gehad, gedroom hy verander haar grafika tot die vinke soos valke lyk en die grafieke glad nie die resultate van haar twee jaar lange navorsing weerspieël nie. Dis nie die ergste nie. Aan die res van haar droom wil sy nie dink nie, ook nie aan die feit dat dit nie die eerste keer is nie. Al troos wat sy het, is dat sy iewers gelees het jou drome weerspieël die teenoorgestelde van wat jy begeer. Nee, van haar lyf en van haar werk moet hy wegbly. Sy het hom nie nodig nie en sy wil hom nie ken nie. Al wat hy van haar hoef te weet, is dat sy sy pa liefhet en met hom gaan trou. Sy wil nie sy ma se plek inneem nie. Die gedagte dat sy Paul se seuns se stiefma gaan word, is absurd. ’n Stiefma is ’n ma vir klein kindertjies, nie vir mans wat oud genoeg is om self ’n gesin te hê nie. Wat kinders betref: Paul het klaar gesê hy sien kans, maar sy wil eers haar navorsing voltooi en haar doktorstesis skryf. Daarna kan hulle dit oorweeg. Sy het toe gistermiddag alles van haar wat Paul moontlik in die verleentheid kon stel bymekaargemaak en ingepak. Daarna het hy haar huis toe gebring dat sy kan bad en mooi aantrek vir die Oude Libertas. Hulle het ’n bottel volronde cabernet sauvignon by beesfilette bestel, en brandewynpoeding vir nagereg. Die bediening was soos gewoonlik puik en hulle was albei ten slotte in ’n goeie luim. Die restaurant was binne en buite volgepak met ’n Duitse toergroep en dit was heerlik om ’n slag anoniem te wees en nie te wonder hoe hulle die glimlagge van Paul se vriende en hul vroue moet vertolk
nie. Hulle het likeur by die koffie bestel en handjies vasgehou en mekaar seker ’n honderd keer van hul liefde verseker. Dit was ná tienuur toe Paul haar by haar meenthuis kom aflaai het en vurig van haar afskeid geneem het. Sy sou nie by hom kon oorslaap nie, want Saar, sy skoonmaakvrou, kom vanoggend vroeg in saam met haar dogter om die huis skoon te maak en Pierre se kamer te lug. Pierre, wat soos ’n skim uit Paul se verlede al nader en nader sweef. Paul sien so uit na sy seun se kuier dat Minette hom maar gisteraand toegelaat het om oor Pierre te praat. Tussen die liefdesverklarings deur moes sy hoor watter wakker seuntjie hy was. Slim op skool, sportief. Hy het WP-rugby gespeel voor die dae van die Stormers. Hy is dus nie meer ’n kuiken nie, word Desember dertig. In matriek het hy ’n landwye redenaarsbeker en ’n skaakkampioenskap gewen. Nege onderskeidings gekry, al was hy steeks om te leer. “Hy was besig, hoor. Hy het in ’n orkessie gespeel en só goed gesing dat hulle ’n CD gesny het. Miskien moet ek dit vir jou speel?” Sy het haar kop geskud, hoewel sy nuuskierig was. “Hy skaam hom seker teen dié tyd daaroor.” “Nooit! Pierre het nie ’n skaam haar op sy kop nie.” “Dan sal hy seker vir ons sing. Miskien op ons troue?” Paul se oë het gerek. “Wil jy hê hy moet in die kerk sing?” Minette het haar irritasie saam met die kersie op haar nagereg ingesluk. Dit het byna in haar keel bly vassit. “Ons het Rouel vir die kerk gehuur, ons kan nie nou verander nie,” het sy Paul gepaai en gewonder hoekom hy nie haar sarkasme raakgehoor het nie. “Miskien by die onthaal?” Paul en sy Pierre kan albei vergeet, het sy besluit en net flou geglimlag.
“Snaaks dat hy nog nie gevang is nie,” het Paul gegrinnik. “Die meisies was versot op hom. Allerhande verskonings gemaak om by hom te kuier. Lynette was een van hulle, maar Francois het haar afgevry en hulle is vandag goed getroud.” Minette wou skree: Kry nou end, ek wil niks meer hoor nie! Maar sy het liewer nog ’n sluk van haar dessertwyn geneem – ’n koninklike muskadel. “Pierre het altyd gesê daar is net een vrou in sy lewe en dis sy ma. Noudat ek daaroor dink . . . Daar wás ’n ander een, Vania Rozenstrauch. Dat ek haar kon vergeet! ’n Petite brunet nes jy. Haar pa was keldermeester by Lanzerac, haar ma Duits-onderwyseres. Die Rozenstrauchs is terug Duitsland toe. Ek moet Pierre tog vra wat van Vania geword het. Nog wyn?” “Liewer koffie,” het sy antwoord en haar kiestande gekners. Paul het liggies aan haar wang geraak. “Tandpyn?” “Nee, iets hards in die poeding, seker ’n stukkie dop van die neute.” Sy het in haar poedingbakkie rondgekrap en die laaste krummels van haar nagereg bymekaargeskraap. Die groen jaloesie het haar aangeval – en dit oor ’n onbekende meisiekind met die anderste naam van Vania!
Minette parkeer haar rooi Mazdatjie onder ’n akkerboom langs die haarsalon en klim uit. Die karoper wat ’n ent weg met twee vriende gestaan en korswil het, kom groet om te wys dat hy op sy pos is. Sy is dankbaar dat hy daar is. Die dorp is nog besig om aan die gang te kom, maar teen die tyd dat sy by die haarkapper klaar is, sal die parkeerarea vol wees. Hy sal sorg dat hulle haar nie vasparkeer nie. ’n Saterdag is nie ’n goeie dag vir inkopies nie, maar sy was besig en sy wil môre op haar heel beste lyk. Dalk moet sy Somerset Mall toe ry. Sy sal sterk wees, gesofistikeerd en ouer. Sy sal nie dat Pierre haar omkrap nie. Eers ontspan by die haarkapper, daarna ’n nuwe rok of twee gaan koop. Sy lyk altyd ouer in ’n rok. Sy sal hom koel en kalm behandel; sy sal haar nie ontstel nie. Die eerste skok tref haar toe sy die salon se deur oopstoot.
Minette sien haar nie, maar weet van haar die oomblik toe sy haar handsak op die ontvangstoonbank neersit. Daardie stem – asof sy dit nie genoeg by die departement moet aanhoor nie! Isadora Papastefanou. Dwarsoor die Helmut Lotti-CD wat op die agtergrond speel. “Skattebol, jy sal my nie glo nie, maar dit was een van die beste seisoene van my lewe. Die bye het presies gedoen wat ek gesoek het én daar was genoeg vrugte oor om die stalletjie aan die gang te hou.” Iemand sê iets wat Minette nie kan hoor nie. Die vroue sit meters uitmekaar en kuierpraat is nie veronderstel om moontlik te wees nie. Maar geen mens in die hele Suidelike Halfrond het so ’n stormsterk stem soos Isadora nie. Paul sê altyd sy sal vlieënde voëls uit die hemel laat val as sy lank genoeg buite staan en praat. “Wat? Wat sê jy? Jy het nie gekry nie!” trompetter Isadora oor haardroërs se geskree en Helmut Lotti se “Fly me to the moon”. “My skat, my spensrakke kreun. Maak ’n afspraak en kom kuier, ek gee dit vir jou teen kosprys . . . Maar die dêm goed is veronderstel om my te bel, watter tuisnywerheid is dit? Pardon? Wie? Skryf dit neer as jy dit nie hardop wil sê nie . . . O, ek sien wat jy bedoel.” Minette haat dit om so selfbewus te wees, maar sy kan dit nie help nie. Sy weet sonder om te kyk dat die vrou wat met Isadora praat haar kop in die rigting van die ontvangstoonbank geknik het en dat Isadora haar oë rol soos sy altyd maak as sy haar mening woordeloos wil uitspreek. Sy verdink Isadora van die meeste van die skinderstories oor haar en Paul. Eintlik is dit nie nodig om te twyfel nie, want almal in die dorp weet Isadora is ’n wandelende ensiklopedie. En dit geld nie net vyeperdebye en hul voorplantingsgewoontes nie, sy weet alles van almal en sy skroom nie om haar mening te lug nie. Boonop maak sy geen geheim van haar uitsprake nie. Sy sal dit van ’n seepkas op die meent uitbasuin en in die plaaslike koerantjie publiseer al grens dit aan laster. Minette sal nooit die dag vergeet toe Isadora haar vir tee genooi het nie, in haar tuin op Vyeplasie bedien onder die hanepootprieel. Suikerbrood en heelgroenvyekonfyt versier met verglansde viooltjies en wolke muggies. Maar
die muggies het eers later op die tafel toegesak, kompleet of hulle bestel is vir effek. Minette se gedagtes word onderbreek. Kittie wat agter die toonbank moet wees, kom aangedraf, vol verskonings. “Ons is vanoggend deurmekaar, Lilian het oorgeboek. Ek dink dis die baba wat haar slapelose nagte gee. Gee jy om om te wag?” Natuurlik gee ek om, ek het my afspraak twee weke gelede gemaak, wil Minette sê. Maar sy glimlag liewer en maak ’n grap – een wat sy by Paul geleer het. “As ek afslag kan kry op die prys, wag ek met plesier.” Kittie sug. “Ek is regtig baie jammer.” Minette het klaar omgedraai op soek na ’n stoel in die portaaltjie waar twee ander vroue reeds sit en lees. “Jy kan nie dalk Maandag kom nie?” Nee, ek kan nie! En hierdie afspraak is betyds gemaak. Ek wag tien minute en nie ’n sekonde langer nie! Minette voel hoe die woorde haar versmoor, maar sy bly liefies. “Ongelukkig nie, Kittie. Ek het môre ’n belangrike afspraak.” Dis uit voor sy kan keer. Voor haar geestesoog sien sy die see en ’n jong man met ’n branderplank. Sy sal maar hoop Isadora het nie gehoor nie, want teen dié tyd weet sy dat Pierre op pad is en dat sy vlug môre arriveer. Paul sou haar gesê het. Hy praat alewig met haar en dis onvermydelik – hul kantore is al dertig jaar langs mekaar. Hulle gee klas by dieselfde departement, hou saam vergadering, bespreek studente se werk en vordering, besluit oor navorsing en beurse, ken mekaar te lank. Isadora hou nie van Minette nie en Minette weet dit. Sy het selfs op ’n stadium die onwetenskaplike gedagte vertroetel dat Isadora haar insekte gebruik om haar te verpes. Buiten die muggiewolk van die tee-oggend is daar alewig perdebye in Minette se kantoor, of miere of spinnekoppe. Groter diere ook – goed soos muise en vlermuise. Gelukkig is sy nie bang vir diere van enige grootte of vorm nie; dit
raak net lastig om op die uitkyk te bly vir goeters wat kan steek en seermaak. “Ek wil jou nou nie seermaak nie, skattie,” het Isadora daardie dag met die deur in die huis geval. Die tee was nog nie geskink nie. Elkeen het met ’n koekbordjie met ’n skyfie suikerbrood en ’n glansende groenvy gesit. Minette het die vrugtemessie bekyk, die vurkie bewonder. “Dis seker erfstukke dié?” het sy gevra. “My grootouma het dit van Griekeland af saamgebring. Jy moenie jou met die ouderdom misgis nie, dis vlymskerp. Ek ken ’n baie bedrewe messlyper.” Isadora het haar kop agteroorgegooi en gelag dat Minette al haar goue stopsels kon sien. “Praat van slyp! Ek het ’n byltjie met jou te slyp. En soos ek gesê het: ek wil jou nie seermaak nie, maar ek wil eerlik wees. Met jou praat soos ’n ma met haar dogter. Het jy al hierdie saak met jou moeder bespreek?” Minette se groenvy was toe al netjies oopgesny en het in ’n waaiervorm op haar bordjie gepryk. Sy is nie lief vir vye nie, nie vir vars vye nie en ook nie vir konfytvye nie, veral nie vir groenvye nie. Maar dié Bolandse besigheid moes sy leer eet omdat Paul sy vingers kan afbyt vir ’n vy in enige vorm, veral vir groenvye. Isadora het altyd gesorg – en sorg steeds – dat daar ’n paar bottels op sy spensrak staan, selfs een of twee op sy boekrak by die dierkundedepartement. Isadora het haar vy in kwarte gesny en sonder verdere omhaal een in haar groot rooi mond geprop, haar lang moue teruggeskuif en oorgebuk om die teepot op te tel. “Ek het nie ’n ma nie,” het Minette sag gesê. Isadora het die teepot neergesit en met jammeroë na haar gekyk. “Ag, foeitog, my kind. En jou pa?” “Ek het ook nie ’n pa nie.” Isadora se hande het in die lug bokant die bord gehuiwer. Nogal mooi hande, met vingers vol ringe, armbande om haar gewrigte ook, sulke Griekse en Turkse
goed met klokkies en hartjies wat aan kettinkies vas is. “Dit maak sin,” het sy eindelik gesê en haar hande saamgevou, elmboë op die tafel. “Jy soek ’n vaderfiguur.” Minette het dit verwag. Isadora is nie die eerste mens wat sulke sinspelings maak nie. Elke tweede mens het iets in daardie rigting te sê gehad. “Sê jy dit omdat Paul ouer as ek is?” “Maar skattebol, dink jy nie dis ’n drastiese onderbeklemtoning van die feite nie? Paul word vanjaar drie-en-sestig! Hoe oud is jy?” “Ek word vyf-en-twintig.” “Jy is veertig jaar jonger as hy! Hy kon jou oupa gewees het, newwermaaind jou pa!” Minette het haar koekbordjie weggeskuif. Sy sou nie daardie konfyt eet nie, al het sy dit in repies gesny. Sy wou nie verstik nie, ook nie naar word nie. “Ek is nie ’n kind nie, en hy is nie veertig jaar ouer as ek nie.” “Goed, jy is oud voor jou tyd, en die ouderdomsverskil is agt-, nege-en-dertig jaar – amper veertig. Ek neem aan jy weet hoe lyk ’n man van sestig sonder sy klere? Nie? Nou ja, jy sal binnekort sien waar al die grys hare sit en hoe hul boudjies inmekaarsak. Vra my – ek is oor vyftig en dis die liga waarin ek vry. Nie asof hulle juis so wonderlik meer perform nie, hulle dínk so. Maar skattie, jy met jou jong lyf, jy is so mooi! Waarvoor wil jy jou opoffer vir ’n grysaard? Toegegee, Paul is aantreklik en so well-preserved, hy lyk soms veertig. Maar hy ís nie, dis die kwessie! Hy is op pad sewentig toe. Wil jy oor tien jaar in ’n ouetehuis tussen die gryskoppe sit en TV kyk, of berge klim saam met ’n jong lover?” Minette het haar servet opgevou en dit op die bordjie met sy aaklige gifgroen inhoud neergesit. Duisende muggies het uit die prieel losgekom en al om haar kop gesing-suis; haar mond was kurkdroog. Sy kon opspring en weghardloop, maar Paul het haar afgelaai en sou eers oor ’n uur weer hier aankom om haar op te laai.
Nee, sy wil nie tussen gryskoppe sit en TV kyk nie, sy en Paul het baie berge om uit te klim. Maar dit het skielik onmoontlik gelyk. Sy het ’n snaakse geluidjie gemaak. “Wat sê jy?” “Ek het dit nie van jou verwag nie.” Waar sy die moed vandaan gehaal het, weet sy nie, maar dit was die regte antwoord: Isadora is so eksentriek; sy het gehoop Isadora verstaan dat liefde soms onkonvensioneel kan wees. Sy is tog bekend daarvoor dat sy met jonger mans uitgaan. “Ek weet wat jy dink, my skattebol. Ja, ek hou van jong geselskap. Maar laat ek jou ’n geheim vertel: ek spring nie in die bed met ’n kind wat veertig jaar jonger as ek is nie. Ek trou ook nie met een nie. Nee dankie, sê die gansie. Wil jy tee hê?” “Asseblief.” Isadora het weer die teepot gelig. “Of neem jy jou melk eerste?” Minette het haar kop geskud. Daar was ’n lastige knop in haar keel. “Swart en flou.” Isadora het die beker met water onder die teenet uitgewikkel. “Waar kom die muggies vandaan?” “Ek soek nie ’n pa nie,” het Minette gesê. “Paul is vir my sexy en manlik.” “Vandag, skattie, maar oor drie jaar . . . Vra my: my man is oorlede op vyf-ensestig en hy was ’n tennisspeler. Die laaste jare net op een plek gestaan en slaan as die bal dalk in sy rigting trek. Wat ek vir jou wil sê is: Dink goed na, dink vooruit. Was julle al in die bed?” Die laaste vraag het ’n ekstra knypie sout in haar wonde gevryf, maar Minette het kop gehou. “Ek praat nie uit ons slaapkamer nie,” het sy sedig gesê. “So gedag.” Isadora het ’n homp room op haar tee geskep. “Dus glinster Paul se oë in antisipasie, nie van versadiging nie.”
“Sal jy nie graag wil weet nie?” het Minette nogeens gewaag. “Jy dink ek is jaloers, nè?” Minette het ’n klomp muggies weggewaai. Daar was een in haar tee. Lastig, nes Isadora se gekyf. Die vrou ís jaloers. Minette se selfvertroue het drupsgewys teruggekom. Sy het haar ken uitgestoot en haar oorwinning oor Isadora bevestig. “Maak nie saak nie. Ek en Paul trou die dertigste Mei.” Ek en Paul trou die dertigste Mei . . . Die vooruitsig vul haar vanoggend nie met jubelasies nie, skaars met afwagting en opwinding. Maar wel met ’n vasberadenheid wat grens aan opstandigheid. Sy lees ’n brief in die tydskrif se briewekolom. Dit kom van Dinknuut in P.E. Dinknuut skryf: Meeste mense kan so konvensioneel en voorspelbaar wees, so op hulle afgebakende spoortjies soos voorstedelike treine. Werk toe, huis toe. Werk toe, huis toe. Niks nuuts nie, niks anders nie. Maar die reëls van die samelewing kan verbreek word en grense moet verskuif word. Dis nodig dat ons uit ons gemaksones klim en wyer dink en doen, skeppend, sodat ons kan nuut word. Wetenskaplikes wat nie skeppend kan dink nie, sal nooit enige nuwe ontdekkings maak nie . . . “Toe, hoe gaan dit met ons troureëlings?” Isadora se stem, dik en diep, ’n donker alt. Minette kyk op, klap die tydskrif toe. “Goed. En met jou, Isadora?” “Redelik, ek was mos siek.” Genade, ja, haar stem was vir ’n paar dae stil, die gange van dierkunde rustiger. “Ek wou nog vra.” “Soos jy kan sien, weer fighting fit. Ek hoor Pierre kom Sondag.” “Ja.” “En hoe voel jy?”
“Hoe moet ek voel?” Isadora buk af en fluisterpraat, maar só hard dat die hele salon, Helmut Lotti inkluis, vir ’n oomblik asem ophou. “Hy is meer jou portuur – ’n pragtige eksemplaar van die Hagen-spesie. Niemand sal jou verkwalik as jy die oue vir die jonge inruil nie.” “Ek is verloof, Isadora,” antwoord Minette hard en duidelik genoeg vir almal om te hoor. “Ek het Paul lief en ek het belowe.” “Ag, so getrou, is dit nie mooi nie!” roep Isadora uit en kyk om haar rond of almal gehoor het. Almal het, want hulle kwyl en kweel soetsappig saam. Maar die volgende woorde is ongewoon sag vir Isadora en net vir Minette bedoel. “Wag tot jy sy seun sien. Lekker dag.” Met ’n geklingel van armbande en halssnoere stap Isadora by die salon uit.
3
Die aand gaan Paul en Minette nie uit nie. Hy wil vroeg gaan slaap sodat hy vars is as hy môre die snelweg lughawe toe moet aanpak. Die vliegtuig land negeuur, wat beteken dat hulle nie die vroeë kerkdiens sal kan bywoon nie en reeds halfsewe op pad moet wees. Minette het aangebied om te ry, maar Paul weier volstrek dat sy aan sy nuwe BMW se stuurwiel raak. “Waarom so vroeg?” wil sy weet. “As die vliegtuig eers negeuur land?” “ ’n Mens weet nooit hoe dit daar lyk nie en ons moet nog parkeerplek soek. Jy weet van die bouery by die lughawe, en enigiets kan op pad gebeur.” Minette moet haar keer om nie te sug nie. Sy is ’n perfeksionis, en Paul laat nooit ’n kans verbygaan om haar daarop te wys nie, maar hy is neuroties verby oor snelweë. En hy raak altyd senuweeagtig oor afsprake en stiptelikheid, gevolglik kom hulle gereeld eerste by partytjies aan en moet soms tot ’n uur lank vir mense op plekke sit en wag. Wat Minette veral pla, is dat hul geselskap dan opraak en hulle soos houtpoppe vir mekaar sit en kyk. Veral as hulle iewers moet wag waar Paul nie eens haar hand wil vashou nie, omdat dit teen sy waardigheid indruis om in die openbaar vryerig te raak. Vanaand sit hulle langs sy swembad in die agterplaas. Dis skemer en die tuinligte is reeds aan. Dit gooi ligstrepe oor die water en op die boomvarings aan die oorkant. Trosse rankrose hang oor breë blare van reuse-varkblomme en ander monsterplante. “Ek moet die monstera deliciosas laat uithaal,” sug Paul en sit sy glas neer. “Hoekom? Dit vertoon so mooi. En Laetitia het dit geplant.” Minette is juis besig om haar te verstom aan die plante wat hul eienaardige blomknoppe op hul tyd uitstoot.
“Isadora reken dit oorgroei die asaleas.” Hy klink ongelukkig, want hy hou nie daarvan om Laetitia se handewerk te vernietig nie. “Isadora het weer baie te sê, van wanneer af?” “Sy was vanoggend hier toe jy by die winkels was, ’n mandjie met koekies en beskuit vir Pierre gebring. Sy sê hy het dalk al vergeet hoe tuisgebak smaak, sy bring later nog vars brood ook en moskonfyt. Ek wou jou nog sê dat jy haar kan bedank.” Minette moet haar tong vasbyt voor sy hom vertel dat Isadora by die haarkapper was en só naar met haar was dat sy regtig nie lus is vir haar koekies en konfyte nie, nog minder om haar te bedank. “Ek sal ’n briefie skryf,” sê sy gedweë en voel oud en getroud. Paul gee die bakkie met aartappelskyfies vir haar aan en stap na die gasbraaier om die vis om te draai. Die wingerdhoutvure wag vir Pierre. Hulle beplan om Meimaand dikwels te braai, want Pierre hou daarvan en Minette kan tog nie kos kook nie. Minette kan. Haar tant Marga het haar goed geleer. Sy kry net nie kans nie, want Isadora maak dit haar missie om elke Maandag sewe gevriesde etes vir een by Hagenhof af te laai. Minette het Paul in die twee jaar wat hulle uitgaan skaars twee keer vir ete na haar meenthuis genooi, en hy het dit baie geniet. Maar Isadora se bevrore etes is al so ’n instelling dat sy wonder of die vroumens darem daarmee sal ophou as Paul die dag getroud is. Sy durf nie vra nie. Paul staan by die braaier en hy lyk so alleen dat sy soontoe loop, haar arms van agter af om hom slaan en haar kop teen sy rug laat rus. Hy laat haar begaan, selfs toe sy haar hande onder sy oorhanghemp insteek. Maar toe sy oor sy bors begin vryf, wikkel hy sy skouers en staan eenkant toe. “Wil jy hê ons moet op die braaier inmekaarval?” “Nee,” sê sy afgehaal. “Ek wou jou net ’n bietjie vashou.” “Daar’s ’n tyd vir alles, Mina,” sê hy streng en draai die rooster met die vis. Lig
dit dan op en bekyk dit van nader. “O, en gister toe ek met my vinke besig was?” Hy sit die rooster neer. “Wat toe?” “Toe het jy agter my kom staan en my skouers gemasseer.” “Jy het nie vinke oor ’n oop vuur gebraai nie en ek het nie aan jou gehang nie. Dis gaar.” Sy wil stry, maar dan is hulle môre nog kwaad vir mekaar en sy wil nie hê Pierre moet agterkom hulle maak rusie nie. Sy slaan haar oë neer. “Ek is lief vir jou. Ek wil hê jy moet dit weet.” Hy draai die gasvlam af en maak sy hande skoon met die nat lap wat hy byderhand hou. Toe kom staan hy reg voor haar, trek haar aan die een hand onder die stoeplig in en kyk haar met soveel konsentrasie aan dat sy wil smelt. “Wat het die haarkapper met jou hare aangevang?” vra hy net toe sy haar arms oplig om hulle om sy nek te gooi. Sy laat sak haar arms. “Ek het gewonder wanneer jy dit gaan raaksien. Hou jy daarvan?” Dis die positiewe benadering, het sy eenkeer in ’n tydskrifartikel gelees. As jy nie met jou man wil rusie maak nie, bly positief en aanvallig, nie negatief en aanvallend nie. “Wat is dit?” “Heuningstrepies. Tina het gesê ek lyk ’n bietjie moeg en dit sal my ophelder.” “Vir wie?” “Vir jou, wie anders?” “Dis die eerste keer dat jy so iets doen.” Hy lyk wantrouig. “Wel, professor, ek het nuus vir jou: ek was lankal my hare met ’n kleursjampoe.”
“Ek dag jou hare blink omdat die lig daarop skyn,” brom hy. “Ek hou nie van hierdie soort strepe nie.” Minette se geduld raak dun geskaaf. Haar hare lyk goed. Sy hou daarvan en sy gaan nie dat Paul dit vir haar bederf nie. Sy sit haar arms om sy nek en kyk guitig in sy oë. Altans, sy probeer, want hy frons só erg dat sy swaar oogbanke skaduwees maak wat sy oë in twee onleesbare swart splete verander. “Ons vroue het ons geheimpies,” pruil sy en probeer geheimsinnig klink. “Hn, dis wat my bekommer.” “Haarkleursel?” “Julle geheimpies.” Aan sy stemtoon kan sy hoor dat haar speletjies hom nie om die bos lei nie. Hy verdink haar oor die ligstrepe in haar hare. Isadora was vanoggend hier en sy het natuurlik vir Pierre bygesleep. Maar sy sal die vroumens wys: sy sal Paul soveel liefde gee, hy sal nie weet wat hom getref het nie! Sy trek hom nader, staan op haar tone en soen hom op sy mond en dan op sy voorkop. Hy ruik na die vis wat hy pas gebraai het en daar is sweet op sy voorkop, maar sy werk haar hande aan sy rugkant onder sy hemp in en masseer sy klam rugspiere. Haar borste skuur teen hom. Dit veroorsaak ’n aangename tinteling wat haar darem beloon vir haar moeite. “Liefling,” fluister sy en blaas haar asem teen sy wang, “die enigste geheimpie wat ek het, is dat ek perfek wil wees vir jou, dis al.” Nou begin sy asem jaag. Goed so. “Maar jy ís perfek,” kreun hy en hou haar stywer vas. “Wil jy regtig met ’n ou man soos ek trou?” Minette is besig om sy hemp oop te knoop. Sy sal hom wys sy begeer hom en niemand meer nie. Hy is die jong man met die branderplank. Hulle is die sexy paartjie. Goed, dis ’n bietjie laat vir hom om dit op ’n branderplank te waag, maar dis donker hier en sy hou van hom.
Hy is ’n aantreklike man, ’n man met status en geld, wat nes sy belangstel in alles wat op aarde asemhaal. Sy sal hom vanaand wys hoeveel sy van hom hou – van hóm, nie van Pierre nie. Sy stoot sy hemp van sy skouers af. Die vis lê vergete op die rooster en uitdroog; ligte flikker op die oppervlak van die swembad. “Kan jy glo ons is al ses maande verloof? Ons trou oor ses weke,” fluister sy. “Te veel sesse,” kreun hy, “duiwelse getalle, versoekings . . . O, sonde . . .” Sy hande gaan onder haar hempie in, hy stoot dit op. Sy asem jaag. “Vanaand swem ek en jy wragtig sonder ’n draad klere . . .” Sy giggel. “Wie sal weet?” “Joehoe, julle skattebolle! Gedag julle is hier agter. Die voordeur is oop en niemand antwoord nie, toe kom ek maar deur. Waar is julle tweetjies? Kruip julle weg?” Alt, ’n donker, dinamiese alt! Weliswaar getemper deur halssnoere van stringe klokkies, maar onmiskenbaar Isadora! “Verdekselse vroumens!” snak Paul na sy asem. Hy pluk sy hande onder Minette se hempie uit, spring om en strompel val-val oor sy eie voete weg. Minette kan nie glo hoe vinnig hy spore maak nie. Dit lyk of hy met ’n towerslag deel word van die delicious monsters agter die swembad. Lafaard! Los haar hier om die bemoeisieke vroumens te trotseer. Sy gryp na die rooster met die vis en probeer onskuldig lyk. “Ruik lekker. Braai julle?” “Jip, vis,” sê Minette en dit klink of sy hik. Isadora sit haar mandjie neer. Bottels kap teenmekaar. “Waar is Paul?” “Weet nie. Ek dink die creepy sit vas of iets.”
“Besef julle die voordeur staan oop?” Minette skud haar kop. “Paul kan so deur die blare wees.” En hy ís op die oomblik, dink sy en wonder of sy hom moet roep. Dis darem skemerdonker op die patio en Isadora sal nie sien nie, maar Minette dink met genoegdoening aan die ereksie wat sy dwarsdeur sy broek kon voel. Sy glimlag liefies vir Isadora. “Troukoors wat so maak. As ’n mens mos verlief is . . .” Isadora kyk om haar rond asof sy bewyse soek vir iets wat sy vermoed, iets wat sy nie behoorlik kan vasvat nie. Minette geniet dit om haar aan ’n lyntjie te hou. “Ek het die konfyt gebring wat ek belowe het.” Isadora klink vir die eerste keer in ’n lang tyd onseker. “Pierre hou so van moskonfyt en ek het toe gekook. Ek’t waatlemoenstukke ook ingesit. Die brood is vars uit die oond, vanmiddag gebak.” “Paul sê my jy was vanoggend al ’n slag hier.” “Dis toe ek hom belowe het ek bring nog.” “Hy’t seker vergeet.” Minette jok selfvoldaan, maar sy misgis haar met Isadora. Haar oë blink soos ’n kat s’n, sy skud haar armbande en dit lyk of sy haar naels uitskiet. “O, die ouderdom! Selfde met my – ek wou jou nog vanoggend in die salon sê jou hare lyk baie mooi. Is dit vir hom?” Wie? Watter hom? Asof sy gedagtes kan lees, kom dit blitsig van Isadora: “Vir Pierre?” “Paul! Liefling! Isadora is hier!” skree Minette reg in haar gesig. Laat sy dit voor hóm sê – hy weet wat so pas tussen hulle gebeur het of wat op pad was om te gebeur. Hy sal dié soort suggestie nie duld nie! “Paul! Pau-lus!” “ ’n Mens skree nie so op jou aanstaande nie,” betig Isadora haar.
Minette steur haar nie. “Isadora is hier met nog ’n mandjie vir Pierre!” Paul kom met ’n graaf in die hand aangestap. “Naand, Isadora.” “Naand, Paul. Wat spit jy dié tyd van die aand?” “Ek spit nie nou nie.” Hy maak die graaf teen ’n blombak staan. “Eet jy saam met ons?” “Dankie, maar nie vanaand nie.” Minette slaak ’n sug van verligting – saggies, sodat nie een van die ander twee dit agterkom nie. Paul lyk vreeslik. Sy hare is deurmekaar en sy hemp hang oop. Dit pas hom nie. Sy sien hoe Isadora hom bekyk; sy vermoed iets. “Ek het die konfyt en vars brood gebring, maar ek wil my mandjie terughê.” Paul tel die mandjie op. Sy arm is maer en seningrig en nie so sexy soos ’n branderplankryer s’n nie. Isadora volg hom die huis in. Minette bly staan waar sy staan. Isadora is so ’n deurmekaar vrou dat sy nog nooit daaraan gedink het dat Isadora en Paul ’n paartjie kan wees nie. Maar vanaand lyk Paul gans te veel soos Isadora. Hulle lyk beslis ewe oud. “Paul, skattebol, besef jy julle voordeur staan verdomp wawyd oop?” hoor Minette hoe Isadora hom kapittel. “Sê nou ek was ’n skelm? Sê nou ek was daarop uit om julle leed aan te doen?” Minette is bly sy hoef nie verder te luister nie. Isadora het ’n houvas op Paul, al is dit net omdat sy die soort konfyt kook wat hy graag eet. Maar dis ’n houvas wat Minette nie aanstaan nie. ’n Plan moet gemaak word, en gou! Minette is ’n briljante student met ’n goed ontwikkelde sin vir verantwoordelikheid. Sy is netjies en beskeie, maar in haar drome sien sy haarself ook soms op ’n kroegtoonbank dans of kaal op Sandy Bay se strand lê, gesoen deur die son en ’n warmbloedige minnaar. Sy het al ’n keer of wat met klere aan in Paul se swembad gespring. Vanaand is sy weer lus om in te spring, maar sonder klere. Sy neem reg onder die kombuisvenster stelling in en rek haar lyf, maar voor sy haar T-hemp kan uittrek,
begeef haar moed haar. Paul sal nie daarvan hou nie en sy wil hom nie vanaand verder ontstig nie. Sy wag tot Isadora kom groet en Paul saam met haar deur toe stap voor sy uittrek en induik.
4
Minette se selfoonwekker lui Sondagoggend douvoordag. Sy het ’n halwe slaappilletjie gedrink. Sy moes, want sy was so vies vir Isadora én Paul dat sy teen tweeuur nog wakker gelê het. Nou voel sy so lomerig, sy sal maklik haar oë toemaak, omdraai en die res van die dag omslaap. Maar dit sal seker die toppunt van verraad teen die familie Hagen wees! Die dag behoort aan hulle en as sy nie vandag haar deel doen nie, kan sy vergeet van die troue. Die troue. Die troue van die jaar. Hoekom is haar kop skielik seer as sy daaraan dink? Sy het baklei daarvoor, geredeneer daaroor, gesorg dat sy háár familie en die paar vriendinne wat sy het, oortuig. Sy het skinderstories en nare opmerkings soos vlieë doodgeklap en almal wat hulle gekritiseer het, uitgelag. Sy het stralend aan Paul se arm gehang, hom met haar jeugdige skoonheid in die middelpunt van bewondering verander. O, die rokke wat sy na dinees en onthale gedra het en waarvoor hy betaal het! Sy was die gelukkigste meisie op die kampus – tot gisteraand. Dat hy in woede op haar kon neerdaal nadat hy self minute gelede voorgestel het hulle moet kaal swem. Dit was sý idee! En sy het dit so geniet, tot sy opgekom het om asem te skep en gesien het hoe Paul op die rand staan met ’n yslike badhanddoek. Sy wou lag, want hy het baie na ’n reusevlermuis gelyk, handdoek weerskante van sy lyf en oë yslik groot. Sy het vir hom gewaai en geskreeu: “Los die handdoek, kom in!” “Dis negeuur, Minette, en ons het nog nie geëet nie!”
Sy het op en af gespring, hoog uit die water gespring. “Kom in! Kom in!” Dit het sowaar gelyk of hy sy kop wegdraai om nie te sien nie. “Klim onmiddellik uit, droog jou af, trek jou aan en eet sodat jy kan huis toe gaan. Ons het môre ’n lang dag, ek is nie nou lus vir nonsens nie!” Hy het die handdoek op die plaveisel langs die swembad laat val. “Roer jou, ek gaan opskep.” Met dié het hy weggestap en by die gasbraaier doenig geraak. Sy was lus en sak in die water af en laat die hele swembad by haar ore, neus en oë inloop. Wys hom hoe hy haar seermaak, hy en sy Isadora. Hoekom hy nie met daai ou perdebyheks trou en klaarkry nie! Die water was nie meer lekker nie. Sy het kant toe geswem, die handdoek om haar gedraai, haar klere opgetel en met nat voete oor Saar se blinkgepoetste geelhoutvloere geloop – reguit na Pierre se heilige kamer. Uit die hoek van haar oog het sy gesien hoe Paul by die tafel sit, besig om grate in sy vis te soek. Hy sou haar nie volg nie. Sy het nietemin die kamerdeur agter haar toegetrek en die sleutel in die slot gedraai. Die hortjies was oop en die soet heuningreuk van die kanferfoelie wat oor die stoepmuurtjie rank, het in die lug gehang. Sy het die leeslamp aangeskakel en voor die vollengtespieël gaan staan, die handdoek van haar laat afgly. Waterdruppels het van haar hare af op haar skouers gedrup. Sy is goed gebou, sexy vir ’n bloukousstudent wat die meeste van haar dae met ’n bril op voor rekenaars en in biblioteke deurbring. Sy kon enige tyd aan ’n skoonheidswedstryd deelneem en Mejuffrou Suid-Afrika word, selfs Mejuffrou Heelal met haar lang bene, haar dun middeltjie, die welgevormde heupe en vol borste wat wulps in die rigting van die spieël gepunt het, tepels kliphard ná die koue swembadwater. Haar gesig is ook nie sleg nie. Paul reken sy is beeldskoon, die ondankbare mansmens. Ander mense het ook al vir haar gesê sy is mooi. Sy het nadergetree, krities gekyk, haar fynbesnede neus gewikkel, haar vol mond getuit. Haar bruin oë het met ’n hartseer uitdrukking na haar teruggestaar. Haar vel het wasbleek vertoon teen haar donker hare wat slierterig teen haar kop vasgekleef het. Die lig van die leeslamp het skaduwees onder haar oë gegooi.
Sy het teruggetree, haar hande teen haar lyf laat afgly, gedraai en haarself van die kant af bekyk, van agter af oor haar skouer. Sy het gevoel of sy kan oopbars, so ryp, so sensueel . . . maar ook so alleen. Waardeer Paul dit – hierdie deel van hul liefde? Of maak dit hom bang? Haar blik het op die driekwartbed teen die muur geval, die stinkhoutkopstut en voetenent, die kunstig gedraaide hout van die pote, die jonkmanskas wat oopgestaan het om lug te skep, skoon handdoeke opmekaargestapel, ’n koekie seep. Daar is foto’s op die aansteekbord bokant die lessenaar van Pierre uit sy jonger dae: ’n aantreklike oopgesig-seunskind. Groepfoto’s van skool- en studentedae, op die bedtafel ’n geraamde familiefoto. Laetitia was ’n pragtige vrou, lang donker hare op haar skouers, ’n innemende glimlag. Wat sou sy gedink het as sy sou weet van die meisiekind wat aan haar man verloof is, maar wat sonder ’n draad klere aan in haar seun se kamer ronddraai? Wat sou haar seun gesê het? Minette het gegrinnik en beter gevoel oor die afjak wat sy van Paul gekry het. As sy soos Harry Potter kon toor, het sy gesorg dat haar beeld in die spieël agterbly en onverwags uitspring om Pierre te treiter die eerste nag wat hy hier slaap. Wat ’n grap! Feit bly staan: sy is lief vir Paul en sy gaan met hom trou. Die kaartjies is gepos, die venue gehuur, die trourok, troukoek en sjampanje reeds bestel. Sy het vinnig en hard afgedroog, haar klere haastig aangetrek. Met ’n laaste kyk na die netjies opgemaakte bed en die laggende jong Pierre wat so baie op sy pa trek, het sy uitgestap en haar by Paul gaan aansluit. “Ek is nie honger nie,” het sy gesê, maar nogtans haar deel van die vis en slaai geëet. Paul het koffie gemaak en dit saam met Lindor-sjokolade bedien. “Ek is jammer ek was ongeduldig met jou,” het hy gesê en haar minute lank vasgehou.
Sy weet hoekom sy kaal geswem het: sy het gehoop Isadora sien haar en besef dat sy ’n verlore stryd stry. Isadora is ’n vrou om mee rekening te hou. Sy is aantreklik vir haar ouderdom en op hoogte van haar vak. Sy is aan die voorpunt van navorsing oor Idarnes, die parasitiese vyeperdeby, wat nog so onbekend is dat hy nie ’n volledige Latynse naam het nie. Sy is ’n ou inwoner van die dorp en lank reeds verbonde aan die universiteit. Trouens, sy en Laetitia was groot vriendinne. Sy het Francois en Pierre sien grootword. Sy voorsien die Hagens van konfyt en beskuit, van krismiskoeke en vars vrugte – meesal vye wat sy op haar enorme dorpserf kweek. Natuurlik sal sy besitlik wees oor hulle. Sy het Minette ná daardie teedrinksessie minstens nog tien keer probeer waarsku oor haar en Paul se trouplanne. Isadora is lief vir Paul. Nie lief soos ’n vriendin nie, verlief soos ’n vrou en jaloers! Minette het nog nooit vir Paul gevra of hy dit weet nie.
Toe Paul die voordeurklokkie lui, is Minette reg vir hom. Sy knoop haar baadjie toe en kyk vir oulaas in die spieël. Sy het ’n snyerspakkie vir die geleentheid gekies – lemmetjiegeel met olyfgroen bykomstighede, pêrels met ’n groenerige glans om haar nek. Sy lyk vir haarself nes ’n presidentsvrou wat ’n vrouevereniging moet toespreek, maar sy wil Paul verras, hom wys sy kan haar waardig gedra. Sy is opgewonde. Sy is gewoonlik opgewonde as Paul haar kom haal. Daarom onderdruk sy die lastige gevoel dat vanoggend se opwinding nie soveel met Paul te doen het nie as met sy seun wat op die oomblik iewers bokant die oseaan in ’n vliegtuig sit. Hopelik sit en wonder hy oor sy pa se aanstaande bruid. Paul lyk jonk vir sy jare in sy gelerige oopnekhemp en donkerblou broek. Hy kyk haar waarderend aan. “Jy is so viets en fyntjies uitgevat. Pierre sal . . . ” Hy beëindig sy sin stomp, grinnik verleë en rinkel sy motorsleutels. “Pierre sal wat?” vra Minette moedswillig. Hoog tyd dat Paul ook sy woorde begin tel.
“Hy dink jy is te jonk vir my.” “Almal dink mos so.” “Ja, maar ek het ’n gevoel hy verwag ’n ou meisietjie in blou jeans en ’n stywe hempie.” “Dan beter ek my stywe hempies in die kas hou terwyl hy hier is.” “Jy weet wat ek bedoel. Ek het nie nodig gehad om jou voor te sê wat jy moet aantrek nie. Jy ken my, jy weet wat my posisie is. Ek is regtig trots op jou, Mina.” Hy probeer so hard om op te maak vir gisteraand se fiasko, dink sy week en vleg haar arm deur syne. “Dankie, liefling, ek is net so trots op jou.” Sy asem die geur van sy Hugo Bossparfuum in. “Jy lyk twintig jaar jonger as sestig en jy ruik fantasties.” Hy druk sy neus in haar hare. “Jy ook.” So ja, nou is die harmonie tussen hulle volledig herstel. Hy buig oor en sluit haar voordeur, los nie haar hand nie, laat glip die sleutels in sy sak. So ingehaak stap hulle na sy motor, spesiaal skoongemaak en opgevryf vir die geleentheid. Hulle moet nog besluit of dit hulle troukar gaan wees. ’n Ligte bries swiep deur die tuin en roer die bruidsboom wat nog hier en daar ’n ragfyn blomtrossie dra. ’n Jangroentjie wip verskrik op toe hulle verbyloop. Nectarinia famosa, vlieg die Latynse naam deur Minette se kop. Die soet poeierreuk van die pienk double delight-roos wat hierdie herfs ongelooflik nie ophou blom nie, oorweldig haar toe Paul haar arm los en die motordeur vir haar oophou. Die eerste herfsblare dwarrel om haar voete. Sy ril. Dis nogal koel, seker omdat dit so vroeg is. Hulle praat nie veel in die kar nie. Paul het die GPS aan en die radio op die oggendgodsdiens. Tussen die instruksies van die GPS-vrou deur luister hulle na ’n preek oor die liefde. Die predikant deel liefde op in vier soorte: medemenslike liefde, vriendskaplike liefde, erotiese liefde en geestelike liefde.
Hy haal C.S. Lewis aan, vertel die verhaal van Lewis se tragiese liefde, die vrou wat te laat in sy lewe gekom het. Hy wys op die kortstondigheid van hul liefde, die lyding wat kanker vir haar gebring het. Hy staan lank stil by geestelike liefde. Hy kom tot die slotsom dat niks waarde het sonder liefde nie. Paul sug diep. “Ja, die liefde . . .” Minette steek haar hand uit en raak aan hom. Die GPS-vrou se eentonige stem beveel hom om links te draai. Die pad is oral met vliegtuigborde versier. Minette se hart klop in haar keel. Sy wens sy was twintig jaar ouer. Dan is sy en Paul veertig jaar getroud en die seun wat hulle op die lughawe kom haal, is een van hul eie kinders. Sy wil eendag drie kinders hê: twee dogters en ’n seun. Dis tien voor agt. Hulle gaan weer ’n uur te vroeg wees, maar daar is darem nog ’n paar kilometer oor. Sy kyk na die sinkplaathuisies langs die pad aan die see se kant. Hier en daar trek ’n rokie. Arme mense. Wat eet hulle vandag? “Ons het genoeg tyd om rustig ontbyt te geniet,” sê Paul. Sy is nie lus vir ’n lughawe-ontbyt nie. Haar maag draai van senuwees en sy sien nie kans om ’n uur op die lughawe te sit en oor niks te praat nie. Sy is vaak en haar kop is seer; sy wens sy het nooit ingestem om saam te kom nie. Sy kon aangebied het om Lynette met die kos te help. “Dalk is die vliegtuig vroeg,” sê Paul verskonend. “Ag wat, ons maak die beste daarvan. Jy kan ’n koerant koop,” sê sy en klink vir haarself net te vrolik. Paul frons. Die pad is verlê en die GPS stol. ’n Man met ’n rooi vlag wys vir hulle waar om in te draai. “Nou weet ek nie waar ek is nie!” sê hy vererg. “Daar!” Minette wys na die lughawegeboue. “Volg die aanwysings.” “Wie bestuur, ek of jy?” grom hy. Sy klap haar mond dadelik toe. Paul ís so. Hy haat dit dat sy inmeng as hy
bestuur – al verdwaal hy ook terwyl sy die pad goed ken. Sal sy ooit vergeet hoe hy met haar aangegaan het die eerste keer toe hulle na haar tante-hulle se huis is! Asof sy nie die strate in haar eie dorp kan onthou nie. Hulle het kwaad vir mekaar voor die huis stilgehou en tant Marga het dit agtergekom. “Wat soek jy met die knorrige ou man?” het sy in die kombuis vir Minette gevra. “Hy is moeg van die ent pad, hy sal nou-nou ontdooi,” het Minette vir hom verskoning gemaak. Maar dit was nie lekker nie. Die trane het warm agter haar ooglede gebrand en sy moes alles inspan om nie te huil nie. In die sitkamer het Paul en haar oom gesit en sukkel om die geselskap aan die gang te kry. Die weer was so eentonig, elke dag ewe warm en drukkend. Op die ou end het dit toe darem net die een naweek gekos om haar familie te oortuig dat Paul Hagen ’n goeie keuse is. Paul het haar raad gevolg en ’n kas wyn saamgebring. Oom Hans het handomkeer verander nadat hulle dit uit die BMW se bak gaan haal het en hy die een versamelstuk ná die ander op die tafel uitgepak het. Oom Hans behoort aan die dorp se wyngilde, hy ken sy wyne en Paul het hom beïndruk. Van daardie oomblik af is hulle bloedbroers – dis nou wat haar oom betref. Sy glo nie Paul is so gediend met die sogenaamde vriendskap nie. Hul gesprekke het vasgesteek by bekroonde wynmakers en goeie oesjare, maar Paul kan nogal verdraagsaam wees as hy wil en hy kan opofferings maak. Sy beter ook. Hulle ry in die onderdakparkeergarage op na die regte staanplek. Agterin die BMW sit ’n ouerige sekuriteitsman wat hulle by die ingang voorgekeer het en aangebied het om hulle na die beste parkeerplek te beduie. Van daar af sal hulle die internasionale aankomssaal makliker kan bereik. Hy sê entoesiasties: “Meneer moet net daar kophou en kyk watter nommer by die lot staan. Miskien moet meneer se dogter liewer kyk. Die kinders onthou mos alkans beter as ons oumense.”
Versigtig, ou, daar gaan jou fooitjie, dink Minette. Maar die BMW se bande fluit so hard op die gladde pad, miskien hoor Paul nie. Dit pla haar dat hy so senuweeagtig en onbeholpe raak as hy uit sy omgewing is en iets moet doen wat vir hom ongewoon is. Sy wonder wanneer laas hy op die lughawe was om iemand op te laai. Hy sorg altyd dat hy ’n taxi kry as hy moet vlieg, en vervoer vir besoekende lektore en navorsers word deur die departement se sekretaresse gereël. Hierdie is werklik ’n groot uitsondering. Hulle parkeer netjies langs ’n pilaar, só netjies die motordeur aan Minette se kant kan nie juis oop nie. Gelukkig is sy skraal genoeg en skuur sy maklik deur die gleufie. Paul kom niks agter nie, want hy is besig om in sy beursie te soek na ’n fooitjie wat darem nie te buitensporig is nie. Hy pluk ’n tienrandnoot uit en stop dit in die man se hand. Die ou frons in die rigting van die blinknuwe kar en bedink hom blykbaar. “Nou maar dankie, meneer. Lekker dag verder vir die meneer en vir meneer se dogter.” Paul frons diep en stuur Minette in die rigting van die hysbakke asof hy van sy gewete wil weghardloop. Terwyl hulle by die hysbak wag, haal hy ’n notaboekie uit sy binnesak en skryf die nommer van die parkeerplek neer. Sy weet, want sy loer oor sy skouer. Hulle klim saam met drie ouerige dames in. Al drie is in gemaklike jeans en plat skoene. Hulle kwetter opgewonde oor hul oorsese reis Europa toe. Toe die hysbak in die groot vertreksaal oopgly, mik Paul verbouereerd in die verkeerde rigting en moet Minette hom aan sy arm trek en na die roltrap beduie. Sy het dadelik die groot bord met die nodige inligting raakgesien en die regte hek opgespoor. “Die vliegtuig is vroeg, hulle het klaar geland,” troos sy hom voor hy weer ongelukkig raak en met haar begin stry. “Sien jy, ek was nie verkeerd om daarop aan te dring dat ons vroeg kom nie!” gee hy haar ’n steek. Sy troos haar maar daarmee dat hy duidelik meer op sy senuwees is as sy.
Toe hulle eindelik op ’n bankie by die regte hek gaan sit en sy om haar begin rondkyk, besef sy dat sy hopeloos te deftig aangetrek is. Nege-en-negentig persent van die vroue, of hulle nou oud of jonk is, is in slenterdrag. Net een verdwaalde ouma wat uitgeput in ’n gekreukelde driestukkie langs haar kinders aanstrompel, lyk naastenby soos sy. Sy bloos en trek aan haar romp asof dit te kort is. Dit is nie; dit hang ’n ordentlike drie sentimeter onder haar knieë en bedek hulle netjies. Hoewel die vliegtuig geland het, is dit seker nog iewers op die aanloopbaan, want al wat hulle sien, is sekuriteitsbeamptes wat oral gereed staan. Agter hulle is ’n leegte wat nie aan die beweeg wil kom nie. Paul staan op en rek sy nek. “Nog niks,” sê hy. “Ek gaan kyk of ek vir ons ’n koeldrankie kan koop.” Voor sy hom kan vra om haar liewer nie alleen te laat nie, is hy weg. Hier sit sy en sy sal nie beweeg nie, al verskyn daar drie jong bulkalwers wat soos Paul lyk. Al vra hulle haar of sy Paul se verloofde is, sal sy maak of sy nie hoor nie. Gelukkig het sy ’n donkerbril op en sy sal dit nie afhaal nie. Dis haar enigste skuilplek – die twee perserige brilglasies wat haar oë effens verdoesel. Met hierdie uitrusting aan dink mense seker sy is ’n lugwaardin van een of ander vreemde lugdiens. O, sy voel so simpel. Pierre gaan dink sy is ’n koek, hy dink dit alreeds! Paul het vir hom foto’s per e-pos gestuur van hulle twee saam by ’n deftige onthaal. Sy het dit gesien en dit lyk styf. Sy weet nie of hy dalk ander ook gestuur het nie. Sy wil nie vra nie. Sy wil niks doen wat hom die idee sal gee dat sy omgee wat sy seun van haar dink nie. Minette kry warm. Sy trek haar baadjie uit en vou dit netjies op haar skoot. ’n Vreeslike maer meisietjie in ’n klouerige minirokkie huppel verby in die rigting van ’n kêrel in ’n leerbaadjie. Hy maak sy arms vir haar oop, gryp haar en swaai haar in die rondte.
Paul sal nooit . . . Die meisie giggel en gly soos ’n slangetjie teen sy lyf af. Haar mini sit so styf, dit skuif nie eens op nie. Hulle loop hand om die lyf weg, sy groot hand op haar boudjies. Minette vroetel aan haar pêrelhalssnoer. Dit voel so swaar. Miskien moet sy dit afhaal, die boonste knopie van haar bloese losknoop, dalk twee. Nee, sy kan nie, Paul sal agterkom. Hy het skerp oë as dit by sulke uitlokkende gedrag kom. Pierre gaan definitief dink sy is ’n koek. Soos sy nou lyk, beslis. ’n Meisie wat nog nooit jonk was nie en finaal haar jeug weggegooi het op ’n ou man met troukoors. Só voel sy as sy na ander paartjies kyk. Selfs die getroude vroue met kindertjies wat huilend aan hulle hang, lyk jonger en sexier as sy in hul hipsters en boobtubes, hul vlooimarkjuwele en bont gekleurde hare wat soos parmantige papegaaikuiwe op hul kop staan of oor kaal skouers afstroom. Sy gaan kruip sommer in die toilette weg en bel ’n taxi op haar sel om haar laat vannag by die lughawe se agterdeur te kom oplaai. SMS vir Paul sy het siek gevoel en sy is huis toe, sy lê. “Grapetizer, dis al wat koud was,” sê hy skielik langs haar. Gevang! Sy sal hierdie beproewing enduit moet verduur. Sy neem die koeldrank by hom. Hy het dit klaar oopgemaak en die strooitjie ingesteek. ’n Bedagsame man, ’n goeie man. “Dankie, ek hou van Grapetizer.” Hy gaan sit en neem ’n slukkie. “Hm, lekker vir my ook.” Nou ja, as hulle darem kan saamstem oor die geur van ’n koeldrank het hulle die geveg om die volmaakte huwelik halfpad gewen. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Paul al suigende aan sy strooitjie om hom rondkyk.
“G’n wonder die studente trek deesdae soos boemelaars aan nie, dis blykbaar die mode,” sê hy en staar geskok na ’n groot vrou in ’n kortbroek en ’n T-hemp wat aan die een kant oor haar skouer afgesak het om haar linkerbors te ontbloot. “Dis darem immers Sondag,” brom hy. Minette sê niks, suig soet aan haar strooitjie en staar na die miernes wat agter die hek oopgegaan het. Mense maal deurmekaar en stoot trollies nader aan die vervoerband met tasse. “Hulle’s hier,” verklaar sy plegtig. Paul staan op, oë groot, aandag toegespits. Minette maak haar klaar om nog ’n ruk te wag. Maar hy is een van die eerstes. Haar hart slaan bolmakiesie toe hy sy verskyning maak. Haar maag trek saam, haar keel trek toe. Vir een volle sekonde is sy stokdoof en sy haal nie asem nie. Pierre is treë van hulle af, maar hy is groot, só groot dat hy al is wat sy sien. Die jong man op wie sy verlief geraak het die dag toe sy by Dierkunde I ingestap het. Vir haar was Paul agter die kateder nie ’n ouerige, aantreklike professor nie, hy was die man van haar drome. Sy raak weer bewus van haar omgewing toe Paul sy koeldrankblikkie in haar hand prop en met drie groot treë op sy seun afstorm. “Pierre! Hier’s Pa!” roep hy. Minette klou verbete aan die twee blikkies, kyk hoe die jong Paul sy skouersak op sy voete laat afsak en sy arms om sy pa slaan. Hulle staan lank so. Sy kyk nie weg nie. Sy dink aan die verhaal van die verlore seun wat varkpeule in ’n ver land geëet het en eindelik besluit het om terug te kom huis toe na sy pa wat al die tyd na hom verlang het. Sy sluk die trane weg wat dreig om haar te oorweldig. Dis ’n mooi toneeltjie en sy wil dit nie bederf met haar eie gevoelens nie. Haar emosies en gedagtes was nog nooit só deurmekaar nie.
Toe die twee mans na haar aangestap kom, is sy dankbaar dat sy steeds met ’n blikkie in elke hand staan en nie nodig het om Pierre met die hand te groet nie. Hy hou sy arm om sy pa se skouers en kyk haar met ’n vreemde uitdrukking aan. Op en af bekyk hy haar. Sy probeer glimlag, maar haar lippe is so styf, die spiertjies rem tevergeefs aan haar mondhoeke. Sy oë blink. Hulle is donkerdiepbruin, maar glashelder. Hy kyk haar met openlike nuuskierigheid aan, sy kop effens vorentoe. Een sekonde gaan verby. Dan frons hy. Sy oë vernou tot hulle twee gloeiende swart gate word. Dit trek haar, hou haar vas. Soos swartkolke in die hemelruim, skiet dit deur haar gedagtes. Daardie bonatuurlike swaartekrag trek álles in wat te naby kom – van die kleinste atoom tot volledige galaksies met miljoene der miljoene sterre. Hoe sal sy hierdie krag kan weerstaan? “Dis my verloofde, Minette Faber,” sê Paul. “Mina vir haar vriende en familie.” Hy klink amptelik en onwrikbaar, só trots dat sy dadelik haar ewewig herwin. Mina cosmosoma myrodora, Paul se klein pers motjie. Pierre weet niks. Skielik is hy ook niks. Hy is ’n doodgewone man met slierterige hare en ’n dagoudbaard, die reuk van laas nag se slaap ’n wolk van verleentheid om hom. Hy steek sy hand uit, sy gewrig swaar van Derdewêreldse armbande van ruwe koper en vuil silwer, repies vel versier met skulpies. “Ek sien,” sê hy byna kwaad. Paul gryp die koeldrankblikkies by Minette. Sy moet haar hand uitsteek en Pierre is verplig om dit in syne te neem. Hy druk dit so hard dat dit voel of haar vingers wil afbreek. “Mina! Goeiedag.” “Aangename kennis. Ek het al soveel van jou gehoor.”
Deksels, wat kan meer afgesaag klink! Sy is verlig toe hy haar hand net so vinnig los as wat hy dit gevat het en sy nie nodig het om nog iets te sê nie. Terwyl sy haar vingers vryf om die lewe daarin terug te kry, sien sy Paul kyk na die armbande. Sy blik verskuif na die krale om Pierre se nek – die haaitande en silwer kettinkies. Sy oë rek oor die onpaar oorbelle, die tatoeëermerk in sy nek. Lyk soos ’n seester. Minette probeer maar vir Pierre glimlag. Hy sien dit nie, hy kyk om hom rond asof hy by die verkeerde lughawe afgeklim het, verskuif sy skouersakke. Paul skraap sy keel skoon. “Hoe’s die weer in Londen?” “Great, die drie dae wat ons daar was.” “En Hawai?” “Orkaantyd. Ek wil nie nou daar wees nie.” “Jy wil seker stort en uitpak, bietjie rus voor middagete? Francois-hulle het genooi. Sien jy kans?” “Ek sal nie nou slaap nie, Pa. Maar ek moet skoon kom voor ek mense sien, dankie.” Asof sy en Paul nie mense is nie. “Ons kan eers ’n koppie tee drink?” “Nee, dankie, dis te hectic hier. Ek wil liewer by die huis kom.” “Die kar is in die onderdakparkering.” Minette kan aanvoel dat Paul senuweeagtig raak. Sy neem die voortou en hulle volg haar. Pierre vra uit oor Lynette en Francois en die kinders. Sy voel sy blik op haar kuite, maar miskien verbeel sy haar.
5
Heelpad huis toe voel sy soos ’n vyfde wiel aan die wa. Sy sit agter; sy het daarop aangedring. Sy luister na hul geselskap, wat begin by die paaie en oor hoe die omgewing verander het en tog nog dieselfde is. Oor bekende bakens en nuwe uitbreidings, gholflandgoedere wat soos paddastoele opskiet. Toe oor mense wat Pierre lanklaas gesien het, soos Isadora. “Sy sien uit na jou kuier.” “Haar navorsing klink interessant.” “Waar hoor jy?” “Sy gooi nou en dan iets op die e-pos. Hoe gaan dit met prof Piet ná die hartomleiding?” “Het ek jou gesê?” “Dink so. Pa of Isadora.” “Ek glo nie sleg nie. Hy was gister nog in die hospitaal – Vergelegen Kliniek. Daar’s ’n groot hartafdeling, werk soos ’n fabriek. Dalk is hy al uit.” “Wie van die ou lot is nog hier?” Minette luister hoe hulle name uit Pierre se skooldae oprakel: oudonderwysers en klasmaats, vergete familielede van wie sy die helfte nie ken nie, die Rosenstrauchs en Vania. Pierre het haar nooit weer gesien nie. Good riddance, dink Minette en bloos.
Eindelik rys die Helderberg majestueus voor hulle op, ’n blougrys wolkkombers soos ’n tjalie om sy spitse, sonstrepe teen die hellings. Pierre is verbaas oor die meenthuise wat by Somerset-Wes se ingang tot teen die hoofpad gebou is. Die groot inkopiesentrum verstom hom. Die pad Stellenbosch toe is tot sy verligting min of meer dieselfde, die uithangborde langs die pad ou name wat hy uit sy kinderdae onthou en met smaak in sy mond omrol. Sy aksent klink taamlik ongeskonde ná die jare tussen Indiese Engelssprekendes. “Ek het darem baie Afrikaners ook teëgekom. Pa weet mos – dis ons diaspora.” Pa en seun vergeet blykbaar van haar. Maar sy verkies dit so. Sy kyk van die een agterkop na die ander, die een profiel na die ander. Pierre, Paul. Paul, Pierre. Paul het hom ingekerker in die rustige konserwatisme wat die woord “professor” by mense oproep, terwyl Pierre soveel energie afgee dat dit selfs van agter af lyk of hy uit sy nate wil bars. Alle dierkundiges lyk nie noodwendig soos Paul nie. Baie, veral dié van die groenaarde-beweging, lyk soos Pierre. Hulle sal niks daarvan dink om ’n referaat te lewer geklee in ’n wit katoenrok en met plakkies gevleg van bamboes nie. Sy het al kaalgeskeerde koppe en lang baarde, ringe in ore en vreemde uitlandse tatoeëermerke aan geleerde en geëerde akademici gesien. Mans en vroue wat stemme uit reënwoude en woestyne laat hoor – stemme wat soms in die wetenskaplike kringe doodgeskree word. “Is die aarbeiplase nog hier!” roep Pierre uit. “Ja, daar is die afdraai Spier toe.” “Hierdie plek is soos ’n ou boek,” kreun Pierre. “Jy wonder hoeveel keer jy hom nog sal kan lees voor hy uitmekaarval.” “Dis nie asof julle ouens by Microsoft veel doen om die omgewing te bewaar nie.”
“Ons doen darem, Pa weet. Maar eintlik werk ek nie meer daar nie.” “O ja?” “Ons kan later daaroor praat.” Minette kan die ysigheid voel wat in die kar begin opdwarrel. “Oor wat? Jou toekoms?” “Jip, my toekoms . . . Maar nie vandag nie.” Sy sien hoe Paul se nek rooierig word. Sy ken dit: dis wanneer hy homself dwing om nie kwaad te word nie. Pierre stut sy kop op sy hand en kyk deur die venster. “My dorp dié.” “Ons gaan laai gou vir Minette af.” “Dog ons het haar langs die pad verloor.” Pierre kyk nie om nie en sy neem aan dis ’n poging om gaaf te wees en ’n grappie te maak. “Julle kan inkom vir tee,” nooi sy. Haar stem klink hees omdat sy vir die eerste keer vandat hulle by die lughawe weggetrek het weer ’n woord sê. “Ek dink Pierre wil so gou as moontlik in ’n bad kom,” sê Paul. Pierre lig sy arms op en ruik onder sy oksels. “Ja, wraggies!” Paul kyk na links en rem skerp. “Hier is ’n dame in die geselskap, as jy nie omgee nie.” “Ja, sorry maar.” En Pierre sak in sy sitplek af. Dit word stil, ongemaklik stil. Paul ry so statig asof hy die koning se chauffeur is en Pierre kom geleidelik weer regop en kyk deur die venster. Minette kan aan sy profiel sien dat sy mond dik is. Maar waarom het hy en sy pa skielik na mekaar begin hap? Omdat sy hulle van haar teenwoordigheid bewus gemaak het, omdat sy ’n geluidjie durf maak het?
Dis darem Paul wat eerste onthou het dat sy nog agter in die kar sit. Meer as wat sy van Pierre kan sê, onbeskofte mansmens. Natuurlik te lank saam met wilde mense op branderplanke gebaljaar. Ken seker ’n rits Hawaise vloekwoorde en net halfkaal Hawaise meisies. Sy sien hulle dans met grasrokkies aan en blomkranse om die nek, dans al om die mans. Hulle drink pynappelbier. Hulle dans deurnag. Pierre sleep sommer twee weg strand toe. Die maan sak in die see af, suisende palms fluister van stormagtige nagte. Minette was nog nooit op ’n Hawaise eiland nie, maar sy kan haar indink hoe dit daar gaan. Dit het sulke volmaakte wit strande, net reg vir liefde. Was of is daar ’n liefde in Pierre Hagen se lewe? Waar kruip sy weg? Paul draai links; hulle is in die kort straatjie waar sy bly. “Janeen het daar geloseer, by madame Ava, in daai kamer.” Pierre wys na die stoepmuurtjie, die venster waarteen Minette elke oggend vaskyk as sy voor die hek staan en vinnig loer of een van die drie bure hoër op nie dalk dieselfde tyd op pad is hoofstraat toe nie. “Janeen?” Paul stop voor die hek van die meenthuiskompleks en druk die elektroniese sleutel wat hy in sy kar byderhand hou. “Francois se meisie in sy eerste jaar. Het Pa haar vergeet?” “Ek onthou nie al julle meisies nie.” “Wat de duiwel!” roep Pierre uit. “Wat het van oom Pieta se plek geword?” “Die susterskind wat geërf het, het verkoop.” “Toe klim die ontwikkelaars in,” smaal Pierre asof die knus meenthuisies wat oom Pieta se bouvallige ou grasdakgewel vervang het sub-ekonomiese behuising is. “Dis darem ’n verbetering hierdie,” sê Paul en parkeer langs die bruidsboom voor Minette se eenheid. “Daai ou oom was so heilig op sy vrugteboord! Hy kom iets oor as hy hierdie
rose sien! Ná al sy moeite . . .” Minette kan dit nie ’n oomblik langer hou nie. “Ek het nog een van oom Pieta se pruimbome langs my kombuisdeur.” Sy wag nie soos gewoonlik vir Paul om haar motordeur oop te maak nie. Sy druk die handvatsel af en klim uit, staan reeds by haar tuinhekkie toe Paul uitklim. “Jy’s haastig!” verwyt hy. “Dis amper elfuur en Pierre wil bad.” Sy stoot die hekkie oop. Sou Pierre haar sit en beskou of wat? Sy wil nie weet nie; sy wil so gou as moontlik wegkom en uit haar Sondagpakkie kom, want sy is nou ook aan die sweet. “Moet ons jou kom oplaai?” Ons? Hy en Pierre? Gaan Paul nou met Pierre saamspan? Sal sy vir die volgende dae en weke met hom aan die een kant opgeskeep moet sit, hom altyd in ag moet neem? Dan doen sy dit liewer op haar eie. “Moenie moeite doen nie. Ek kry julle by Francois en Lynette.” “Dis goed, maar sorg dat jy betyds is.” Minette wil ’n aanmerking maak, maar bedink haar. Hy is reeds op pad terug kar toe en hy het haar nie eens gesoengroet nie. Wat moet Pierre daarvan dink – twee verloofdes wat oor ses weke trou en hulle soengroet mekaar nie? Is Paul skaam voor Pierre? Sy draai haar rug op hulle en stap kiertsregop en met klappende hakke voordeur toe. Agter haar hoor sy hoe die kar aangeskakel word en wegtrek. Hou Pierre sy mond of sê hy iets? Maak hy ’n aanmerking oor haar of haar huis of haar klere? Of waag Paul dit om sy mening te vra? Wel, een of ander tyd gaan hulle haar bespreek, en sy wil nie by wees nie. Sy kyk op haar horlosie; daar is min tyd om tot verhaal te kom. Sy maak haar handsakkie oop en soek die voordeursleutel. Dis nêrens! Nie in die sysakkie nie, nie in die grimeersakkie nie, nie onder die snesies nie, nie in een van die hoekies
nie. Sy leun met haar rug teen die voordeur. Dink. Dis hy! Al weer Paul met sy beheersug wat reken sy kan nie behoorlik na haarself en haar goed omsien nie! Hy het die sleutel by haar geneem en die voordeur gesluit, maar waar is die sleutel nou? Nooit vir haar teruggegee nie. Natuurlik in sy eie sak geprop en vergeet dat hy dit gedoen het, want sy kop is tot oorlopens toe vol van Pierre en wat Pierre alles gedoen het en nie gedoen het nie en nog gaan doen. Vergeet dat hy haar moet soengroet. Vergeet dat hy haar voordeur moet oopsluit, gee niks om nie, nie ’n duit nie, net mooi niks! Hoe de ongeluk moet sy in haar huis inkom? Sy is so kwaad dat sy bewe van kop tot tone. Sy het haar selfoon in haar handsakkie. Sy kan hom bel. Sy haal dit uit, klap dit oop, soek die nommer . . . en huiwer. Sy kan haar indink wat so ’n oproep in daardie kar gaan ontketen. Sy hoor al hoe Paul sê – nadat sy drie keer gebel het en hy twee keer besluit het dis nie belangrik genoeg nie, want dis Sondag en wie sal hom op ’n Sondag wil bel? “Verskoon my, ek beter hoor. Dalk is dit Francois.” Hy het een van daardie handvrystelsels in sy motor en hy kan antwoord, maar hy het nie sy leesbril op nie en kan nie sien waar die oproep vandaan kom nie. Pierre het wel al geloer. “Dis Pa se verloofde. Pa het vergeet om haar ’n afskeidsoentjie te gee, sies, Pa.” “Wag nou.” Hy druk die groen telefoontjie; die luidspreker is aan. “Paul, ek is uitgesluit.” “Ag nee! Hoe het dit nou weer gebeur?” “Jy het die sleutel in jou sak.”
“Waar kom jy daaraan?” “Onthou jy nie? Jy het die deur vanoggend gesluit.” “Van wanneer af?” “Jy doen dit baiekeer.” “Nie vandag nie.” “Paul, doen my ’n guns . . .” “Is jy seker jy het nie jou sleutel nie? Ons is al amper by die huis.” Pierre grinnik op die agtergrond. “Hmm . . . Trouble in paradise.” “Paul! Steek jou hand in jou baadjiesak en voel!” “My baadjie lê op die agtersitplek. Kon jy nie seker gemaak het voor jy uitklim nie?” “Ek het nie daaraan gedink nie.” “Maar ék moet onthou dat ek jou voordeur gesluit het! Eerlikwaar.” Pierre kreun en steun, hy is besig om die baadjie nader te hark en die sakke te deursoek. ’n Bossie sleutels rinkel. “Móét ons nou omdraai!” kreun Paul. “Wel, daai vroumens kan seker nie heeldag op haar stoeptrappie sit nie . . .” Nee, sy bel hom nie! Minette laat glip die foon terug in haar handsakkie. Wat nou? Sy kan onthou dat sy die badkamervenster oopgelos het. Dis aan die sykant en ’n bietjie hoog, maar sy kan een van die tuinstoele nadersleep. Net eers doodseker maak of die sleutel nie tóg in haar handsakkie is nie. Sy gaan sit by die tuintafeltjie en pak die handsakkie uit.
Nee, niks. Dan maar oorgaan tot aksie. Gelukkig is hier niemand in die rondte dié tyd van ’n Sondagoggend nie. Almal is goeie mense wat rustig in die kerk sit of iewers by familie kuier. Die voëls kwetter gesellig, besig om saadjies en goggatjies te soek, kleintjies te voer, ongestoord rond te wip. Miere loop in rye agtermekaar en ’n kerkklok slaan presies elf slae. Alles voorspelbaar en reg. Hoekom is haar lewe skielik so omgekrap! Sy kyk vies na die inhoud van haar handsakkie wat die hele tafel vol lê en pak dit terug. Die sakkie is skielik oorvol en die knip wil nie toe nie. Deksels! Sy stamp met haar vuis op die tafel. Nee, sy gaan haar nie ontstel nie, en sy gaan haar nie voor Pierre Hagen verneder nie. As Paul alleen in die kar was, sou sy nie een oomblik gewag het om hom te bel nie. Maar sy sal nie vir Pierre kans gee om lekker te kry oor die krakies in haar en Paul se verhouding nie. Sy trek haar baadjie uit en lê dit oor die handsakkie op die tafel neer. Dis warm. Sweetstraaltjies stroom oral teen haar lyf af. Sy skop haar skoene uit, knoop haar bloese oop. ’n Koel stort sal ná dese groot verligting verskaf. Maar eers werk maak van haar dilemma. Sy kry die smeedyster-tuinstoel aan die armleunings beet en sleep dit om die huis, nogal moeilik onder die struike deur. Takke klap in haar gesig en ’n doring skraap haar geniepsig oor die wang, maar wat sleep is sy. Eindelik. En dankie tog, die venster is oop, nes sy onthou het. Maar dis op die boonste verdieping en al wat sy vir ’n leer kan gebruik, is die geut en ’n pyp wat bo uit die dak kom en in die kassie met die rimpelbeheerstelsel eindig. Die badkamer se vensterbank is ’n halfmeter hoër op. Die stoel sal help . . . Sjoe, die plaveisel is ongelyk, sy moet die stoel draai en weer draai tot die pote stewig staan. Sy klim op. Dit wikkel steeds en die vastrapplekke venster toe is so hoog, sy sal op die armleunings moet klouter. Sy klim weer af; ruk, pluk en druk aan die stoel tot dit stewig geanker is. Die venster sit hoog, maar sy kan haar aan die geut ophys. Ongelukkig het sy nie ’n langbroek aan nie en haar regaf rompie is gans te nou!
Sy kyk rond. Niemand sal haar sien nie; die venster is goed weggesteek agter die bome en struike. Blitsvinnig stroop sy die rompie af. Sy oorweeg dit om van die kamisool ook ontslae te raak. Dis een van haar bestes. Het die allerfraaiste kantafwerking en pas perfek by haar Sondagpakkies. En dis definitief nie bedoel vir ’n klim-en-kloutersituasie soos hierdie nie. Maar dan is sy darem te kaal en iemand kan nog om die draai kom. Sy moet gou maak voor die kerk uitkom. Sy gluur die muur voor haar aan, haal diep asem, klim op die stoel se armleunings, balanseer, kry die waterpyp beet en lig haar linkerbeen om op die rimpelbeheerkassie vas te trap. Regtervoet bly op sy toontjies op die stoelleuning. Sy hou asem op, omhels die geut soos ’n koalabeertjie wat aan ’n bamboes vasklou, laat sak weer die linkerbeen, voel-voel na die armleuning. Versigtig nou. Asem uit. Sy moet liewer nie dink waarmee sy besig is nie. Dis erger as rotsklim, want rotse het meer vastrapplek en hulle klim nooit sonder toue nie. Die stoel bibber onder haar gespitste tone. Daardie venster is so naby en tog so ver. Asem in. Doen dit! Nou! Lig op met die linkerbeen. Onmoontlik. Sy kan net nie ver genoeg rek nie. Oeps! Daar is iemand in die tuin! Sy vries. Sy hoor voetstappe, ’n geskuifel by haar voordeur en iemand wat mompel: “Waar’s daai vroumens?” Sy laat sak haar linkerbeen, maar sy trap die stoelleuning mis, verloor haar balans en tuimel met stoel en al tot in die katjiepieringbos. Waar sy skuins bly sitlê en wens sy is ’n volstruis wat haar kop in die sand kan begrawe. Voetstappe kom om die huis gehardloop. “Wat de ongeluk! Wat doen jy?” “Val van die stoel af, kan jy nie sien nie!”
“Jy wou by die badkamervenster inklim, of hoe?” Sy loer tussen die stoel se smeedysterkrulle deur. Hy lyk kwaad en wie gee hom die reg om kwaad te wees? Maar dan proes hy en dit lyk of hy sy lag nie kan hou nie. “Waag dit net om te lag!” Hy kom sit op sy hurke voor haar. “Nooit gedink ek sal jou só sien nie.” “Gaan weg!” sis sy. “Is jy orraait?” “Loop net.” Hy sit die bossie huissleutels voor haar neer, hou dit ’n rukkie vas asof dit ’n opgewende speelding is wat skielik aan die loop kan gaan. Kyk haar in die oë, ’n groot gryns om sy mond. “Jy is ’n kansvatter, Minette Faber,” sê hy dubbelsinnig. “En kansvatters val.” “Praat jy uit ondervinding?” “Nee, ek hou my oë oop.” “Jy is só slim. Gee my sleutels en kry jou ry.” “As my pa my nie gevra het nie . . .” Hy los die sleutels en wip orent. Sy sit en kyk tot sy hakskene om die hoek van die huis verdwyn. “Dekselse Paul,” mompel sy, kruip onder die struike uit en klim vinnig in haar romp. Tipies van ’n pa – sy seun is skaars tuis of hy maak hom sy stuurjonge. Dit was amper of Pierre het haar op die stoelleuning sien toertjies uithaal. Wonder of hy die storie vir Paul sal oorvertel? Sy staan en luister tot sy die BMW hoor wegtrek voor sy om die huis loop, haar baadjie en sakkie op die tafel gryp en die voordeur oopsluit.
6
Francois en Lynette se tweelingseuns hang nie soos gewoonlik aan die hek toe Minette teen halfeen voor hul huis stilhou nie. Trouens, niemand wag haar in nie en sy voel nie juis welkom nie. Maar om om te draai, sal die toppunt van kinderagtigheid wees. Sy hou stil en druk die interkom langs die hek. Lynette antwoord uitasem: “Hallo, wie’s daar?” “Minette!” “Maak vir jou oop!” Dit neem ’n rukkie. Maar toe sy inry, storm die seuntjies ook nie nader nie. Paul het die BMW so geparkeer dat daar skaars ’n strepie skaduwee vir haar oorbly. Sy parkeer langsaan en sit die sonskerm in die ruit. Sy is besig daarmee toe sy Paul uit die hoek van haar oog sien aankom. Hy is gemaklik aangetrek in ’n kortmouhemp en jeans en het Ettie, Francois-hulle se babadogter, op sy arm. Dit laat Minette glimlag. Oor ’n jaar of drie dra hy sy eie dogtertjie so rond. Sy klim uit en groet hulle elkeen met ’n soen. “Vra vir ouma Mina hoekom kom sy nou eers hier aan.” Minette speel gewoonlik saam as hy na haar verwys as ouma, maar vandag laat dit haar horingoud voel. Sy is nie die kinders se ouma nie en sy sal nooit hul ouma kan wees nie, al trou sy ook met hul oupa. “My tante het gebel, toe verspeel ek my tyd.”
Dis waar, tant Marga hét gebel. Maar die gesprek was kort en kragtig, sy het beslis nie Minette se tyd gemors nie en dis nie die rede hoekom sy laat is nie. Sy sluit die bagasiebak oop en buk om die koelsak met die slaai wat sy belowe het uit te haal. “Ek bel gou om te hoor of julle toe vir Pierre op die lughawe opgetel het.” Haar tante het die naam met ’n vreemde kinkel in haar stem uitgespreek. “Vroeg vanoggend.” “En toe?” “Toe wat?” “Hoe lyk hy?” “Soos Paul, ’n jonger weergawe.” “Dis waarvoor ek bang was.” “Moenie wees nie. Hy is so slordig soos ’n teertou en so ongeskik soos ’n vark. Die feit dat hy jonger as Paul is, help hom niks.” “Dankie tog, dan was ek verniet so bekommerd. Jammer, Minette.” “Wees eerder jammer vir Paul omdat hy so ’n mislike seun grootgemaak het. Pierre is glad nie soos Francois nie.” “Wel, dan het Paul niks te vrese nie.” “Het hy iets gesê?” “Nee, dis ek. Wat maak julle? Vat Paul julle uit vir ete?” “Francois braai; dis ’n familiedag.” “Geniet dit en sê groete. Terloops, ons het julle troukaartjie gister gekry, dis pragtig.” Minette en Paul het twee kunsstudente betaal om die kaartjie te ontwerp. Hulle het dit met oorspronklike waterverfskilderytjies van bergrosies en
konfettibosbloeisels versier en met pienk satynlinte afgerond. Die resultaat is werklik fraai. Dieselfde studente is besig om die spyskaarte, programme en bedankingskaartjies te maak. Hulle is so aangevuur dat hulle tot laat snags werk en met die wonderlikste kombinasies vorendag kom. Die tweetjies, ’n meisie en ’n man, koer oor die skilderytjies asof hulle self op trou staan. “Jy gehoor, Minette? Ek antwoord sommer nou namens die Fabers en die Van der Merwes van Malmesbury. Ons sal natuurlik daar wees.” “Dankie, tante. Ek kan mos nie trou sonder julle nie, oom Hans moet my dan inbring!” “Geniet die dag saam met die skoonfamilie. Ons praat weer,” het haar tante gegroet en afgelui. Minette sit die koelsak op die grond neer en klap die bagasiebak toe. “Tant Marga het ons troukaartjie gekry en hulle hou baie daarvan.” Paul buk om die koelsak op te tel, maar Ettie kriewel só dat hy weer orent kom. “Gee haar vir my,” sê Minette. “Kom, Ettie, Mina vat jou, dan kan Oupa die kosmandjie dra. Hallo, Mina se skat!” Ettie steek haar handjies uit en spring amper uit Paul se arms. “Jy wen al weer,” sê hy en gee die kleinding vir Minette aan. Die kleintjie voel sag en plomp in haar arms en Minette druk haar teen haar vas. Toe die baba haar vet armpies om haar nek sit, golf daar ’n opwelling van moederlikheid deur haar. Sy is vier-en-twintig en daar is nog baie tyd vir kinders, maar Paul is drie-en-sestig en reeds oupa van drie. Laas toe hulle oor kinders gepraat het, het sy hom verseker dat sy eers haar studies wil klaarmaak. Hy het verlig gelyk en gesê dat die wetenskap haar nodig het. Daardie dag het sy dit as ’n kompliment beskou. Op ’n dag soos vandag, met Ettie se mollige armpies om haar nek, voel sy of die wetenskap sonder haar kan klaarkom, sy sit liewer in ’n lugversorgde kamer en wieg haar baba.
“Ettie is die soetste klein babatjie in die hele wêreld!” koer sy terwyl sy aanstap en versigtig met die paar oorgroeide trappies afklim. Paul tel haar skouersak ook op en kom agter haar aan met die twee sakke. “Drukkie vir Mina. Sê Mina . . . Mi-na,” praat sy met die kleintjie. Francois kom om die hoek. Hy het blykbaar pas uit die swembad geklim, want sy hare is nat en sy T-hemp plak aan hom vas. “Eindelik! Ons wou jou al gaan haal het!” “Hallo, Francois. Ek is net ’n halfuur laat.” “Baie laat vir jou.” “Tant Marga het gebel.” Sy bars voor sy die ware rede verstrek. Sy het ’n halfuur voor haar klerekas bestee en die een kledingstuk ná die ander aangepas. Kon nie besluit wat om aan te trek nie. Op die ou end het sy ’n somersrok gekies – wit met rooi rose op, bandjies oor haar skouers en ’n wye romp wat om haar knieë uitklok. Dalk ’n bietjie ouderwets, maar lig en vroulik en een van Paul se gunstelinge. Veiliger as haar tweede keuse – ’n wit kniebroek en ’n stywe babablou T-hempie wat haar vol borste oorbeklemtoon het. Lynette het ’n bikini-bostuk aan en ’n sarong om haar heupe. Sy straal. Natuurlik omdat Pierre hier is, dink Minette en probeer die groen duiwel met sy vurk ignoreer. “Nou wag ons net vir Isadora, dan kan jy die vuur aansteek,” sê sy vir Francois. Waarvoor nooi hulle alewig daai vroumens? dink Minette vies. “Sy is mos Pierre se peetma, ons moet haar vra,” sê Lynette asof sy gedagtes kan lees. Dít het Minette nie geweet nie. G’n wonder die twee e-pos vir mekaar nie. “Sy’t belowe om groenvyetert te maak,” voeg Francois by. “Niemand kan groenvyetert maak soos Isadora nie!”
Hoekom het Paul haar nie gewaarsku nie? wonder Minette. Het hy nie geweet sy is genooi nie, of wat? “Mal oor groenvyetert,” sê Minette vir Ettie en klink vir haarself so vals. Niemand kom dit agter nie, want op daardie oomblik blaas Isadora haar viertrek se toeter buite die hek. Sy sal ook nooit soos enige ander ordentlike mens die klokkie by die hek druk nie. Paul laat val dadelik Minette se skouersak en die koelsak met die slaai en spring om te gaan oopmaak. Lynette vat vir Ettie wat begin huil het van skrik vir die groot geraas en Francois tel die koelsak op. Minette val liewer dood neer as om agter Paul aan te hardloop om Isadora en haar terte uit die viertrek te help. Sy tel haar skouersak op en loop saam met Francois-hulle na die lapa langs die swembad. Sy wil nie kyk nie, maar sy sou blind moes wees om nie die bruingebrande Adonis en die skreeuende, gillende tweeling in die swembad raak te sien nie. Pierre staan in die middel van die bad met aan elke hand ’n skoppende seuntjie wat hy in die rondte deur die water trek. Hy laat los hulle en dit lyk of hulle gaan verdrink soos hulle spartel om bo te bly. “Is jy nie bang hy verdrink jou kinders nie?” “Nee wat, hy is te lief vir hulle,” lag Lynette. “Haai, julle, julle speel te rof!” raas Francois nietemin en haal ’n doos met vuurhoutjies uit om die vuur aan te steek. Die seuntjies is besig om Pierre nat te spat en hy koes kastig en spat terug. Die water sproei oor die patio. “Het jy nie jou swemklere gebring nie?” vra Lynette. Sy het, maar sy sal wag tot Paul uittrek. “Ek sal swem as Paul swem.” “Dan kan jy vergeet.” Lynette gooi ’n handdoek oor haar een skouer, laat sak die bandjie van haar
bikinitop aan die een kant en sit Ettie aan haar bors. Niemand sien iets nie, maar Minette voel ongemaklik. Sy kyk weg. Pierre wat kant toe geswem het, kom skielik uit die water op en sy kyk reg in hom vas. Hy gooi sy kop agteroor, vee die water met sy een hand van sy gesig af en kyk in haar oë. Daar is ’n spotlaggie om sy mond, maar hy lig darem sy een hand in ’n soort groetgebaar. Tot nou toe het niemand iets te sê gehad oor haar wat halfkaal onder katjiepieringbosse inkruip nie en sy glo nie hy het hulle vertel nie. Dalk bêre hy dit vir later om haar in die volle geselskap te verneder. Die kyk wat hy haar gee, is so uitdagend dat sy moet keer of sy steek vir hom tong uit. Gelukkig het sy ’n sonbril op en sy hoef nie weg te kyk nie. Die man het massiewe skouers. Hy druk sonder seremonie op die rand van die swembad en hys hom uit die water op. Sy kan haarself nie keer nie: haar blik bly op hom vasgenael. Die kettinkie met die haaitande hang tussen borsspiere wat volmaak by die skouerspiere pas, maar hy het intussen van al sy ander juwele ontslae geraak. Sy staar gefassineer na die holte van sy plat maag, die swembroekie wat aan hom vaskleef en elke bult wat saak maak beklemtoon. Hy draai om en gaan sit met sy rug na haar, nat hare druppend oor sy boarms. Visse wat soos dolfyne lyk is in ’n sierlike boog op sy rug getatoeëer. Die skade is klaar gedoen. Minette raak intens bewus van die hol kol op haar maag. Dit sprei uit oor haar buikholte en maak haar bene lam. Sy het nog nooit sulke hewige seksuele prikkels ervaar nie. Haar hartklop versnel en sy skuif op haar stoel rond. Vestig dan haar aandag op ’n graspolletjie wat tussen die patioklippe langs haar voete om lewe en voortbestaan veg. Haar ore suis. Hoe gaan sy hierdie soort reaksie in toom hou? Mind over matter, sê sy vir haarself. Gebruik jou verstand, haal diep asem en dink aan wiskunde en Latyn, nie aan nat swembroekies en volmaakte lywe nie – dis coitus in Latyn. Jy is verloof, deksels! Sy druk haar sonbril reg en haal diep asem. Die seunskinders skree: “Pierre! Oom Pierre, kyk hier!” “Hulle gaan Pierre nog doodspeel,” sug Lynette skuins agter Minette. “Mind you, die een wat daai lyf kan doodspeel . . .”
Minette kyk vinnig of Francois iets gehoor het, maar hy het vrede. Hy is besig om yslike varktjops op die vuur te gooi. Dit sis en blaas en stuur rookwolke in die lug op. “Nonsens met jou! Hy weet hoe om sy lewe te geniet en hy het mos tyd. Deksels, my ou skattebol, gun die kind ten minste ’n vakansie. Waar is almal? Ag, hoe lekker, en ek het my baaibroek by die huis vergeet, ek gaan sommer terug en gaan haal dit, dis tog so ’n lekker dag vir swem, dalk die laaste voor die herfs toeslaan, waar sit ons die mandjie?” Isadora met haar beuelstem. Minette was nog nooit so dankbaar vir die irritasie wat dit by haar veroorsaak nie. Dit oordonder alles – nie net alles in die omgewing nie, maar ook elke ander gevoel en emosie in haar. Sy kyk op. Isadora het sowaar by Paul ingehaak! Kan sy nie sonder hulp van die kar af tot by die patio loop nie, die ou heks? Minette wil groet, maar Isadora kyk deur haar en gil kliphard. “My magtig, Pierre, is dít hoe jy deesdae lyk! Hemel, Paul, die kind het groot geword, kyk dan daai skouerspiere. Kom soen jou antie dat sy ook ’n slag kan voel hoe voel twee sterk jong arms. So ’n borskas! Jy kan Ryk Neethling vir ’n resies uitdaag. Swem jy nog so baie? Waar kom jy aan al die tattoos?” Hy lag net en loop by Minette verby, ’n handdoek om sy heupe gebind. “Dag, antie Isadora.” Hy hou sy hand na haar uit, maar sy laat val haar handsak. Dit land op die patioklippe met die geluid van poeierblikke en trosse sleutels wat teen mekaar klap. “Ag nee, ag nee, sal die pragtige man my nog antie! Seker omdat ek so mal was om my as sy peetma aan te stel. Sê Isadora, Pierre, skattebol. Almal noem my Isadora, vir wat sal jy nog antie. Hoe gaan dit, jong?” Hy maak sy arms oop, trek haar nader en omhels haar, sy gesig nou die ene lagplooitjies.
“Baie goed, noudat ek almal weer sien.” Hy hou haar ’n entjie weg. “Nie ’n dag ouer nie . . . Isadora.” Sy skud haar kop, vee ’n traan uit haar oog. “En jy lyk so goed, ek wens jou . . .” Maar dan skud sy haar kop en soek vervaard na ’n snesie. “Jy was so ’n maer seuntjie toe jy hier weg is. Die terte is in daai koelsak, miskien moet ons dit liewer in die yskas sit.” Ettie het intussen klaar gedrink en Lynette hou haar oor haar skouer. Sy kom nader om die sak op te tel. Isadora sit haar groot hand met die lang vingers vol ringe en rooi naels teen die kind se ruggie. Die kleintjie kyk om. “Hallo antie Dora se kleinste, klein skattebolletjie.” Isadora probeer hard om ’n hoë piepgeluidjie op te tower, maar haar diep stem slaan deur. Ettie kyk na haar, frons en vryf haar ogies met haar vuisies. “Is sy vaak?” vra Isadora. “Ek gaan haar neerlê,” sê Lynette. “Kom jy saam, Minette?” Minette knik en staan op. Sy wonder of Lynette kan sien hoe ongemaklik sy in Isadora se geselskap is. Pierre het intussen weggedraai en is besig om sy hare met ’n handdoek droog te vryf. “Bring seblief die koelsak met die terte, dis nog lank voor poedingtyd,” vra Lynette. Minette lig die sak. “Kan ek help?” vra Paul op sy gewone sjarmante manier. “Maar los haar, Paul. Daai sak is so lig soos ’n veer, ek het jou mos gesê!” Isadora praat só skielik dat die baba skrik en in trane uitbars. Lynette druk haar teen haar vas en loop troos-troos met haar in die rigting van die huis. “Sy’s nou
baie vaak, Mamma se babie.” “Wat drink julle?” vra Francois, wat sy tjops al ’n slag omgedraai het. “Glas koue witwyn vir my, sauvignon blanc as jy het, Francois, jy het mos altyd ’n droë wittetjie op die ys, is dit nie heerlik nie! Hemel, maar die kind het lyf gekry, die vrouens maak jou seker mal! Sit, dan vertel jy vir Isadora van jou mooi Hawaise harem.” “Kyk, oom Pierre! Kyk, ek duik!” “Ek kyk!” “Een, twee, drie!” Minette stap vinnig agter Lynette en die snikkende baba aan. Die son brand warm op haar kaal rug. Al hou sy nie van Pierre nie, is sy bly vir sy onthalwe dat hy nie dadelik al Isadora se ongemaklike vrae hoef te beantwoord nie. “Maak plek in die yskas, as jy nie omgee nie, Minette,” sê Lynette toe hulle in die koel Kaaps-Hollandse huis instap. Die geur van gepoleerde houtvloere, antieke meubels en gedroogde sewejaartjies slaan skerp in Minette se neus op. Soos die meeste mense van die streek het Lynette ’n liefde vir ou goed wat sy nooit sal verloor nie. Sy draai regs in die gang om die baba in haar bedjie neer te lê en Minette stap kombuis toe, waar stinkhoutkaste en -tafels letterlik opgehemel is met Lynette se bont hoendertema. Gesellige houers en prente maak dit ’n plek waar mense heerlik kan saamkuier. Dis hier waar Lynette haar die eerste keer onder vier oë gespreek het. “My skoonpa is drie-en-sestig, Minette. Hy is ’n ou man. Oor sewe jaar is hy sewentig en hoe oud is jy dan?” Minette het die hap botterbroodjie wat Lynette vir haar by haar oggendtee aangebied het met ’n sluk tee afgewurg. Gewens Lynette se baba wil skree sodat sy nie nodig het om te antwoord nie. Sy het tog klaar gesê dat sy Paul respekteer en liefhet en dat hulle dieselfde belangstellings het, saam navorsing doen in
dieselfde vakrigting en niks meer van die lewe verlang as om elke dag saam te wees nie. “Ek het nog nie daaraan gedink dat Paul ooit sewentig sal wees nie,” het sy gejok. Sy hét as sy oues van dae in die straat sien afsukkel, leunend op mekaar en op kieries. Eenkeer het sy ’n nagmerrie gehad wat sy vir niemand sou herhaal nie, maar wat telkens by haar opkom. Sy het gedroom hoe sy Paul op sy sterfbed verpleeg. “Jy is vier-en-twintig, have a heart, meisiekind!” “Paul is jonk vir sy ouderdom.” “En ek moet toegee, aantreklik ook. Die Hagen-mans hou hulle looks, maar net tot hulle vyf-en-sewentig slaan, dan word hulle maer en krom. Jy is dan hoe oud? Agt-en-dertig – ’n jaar jonger as Francois. Kyk, ek het oupa Hagen goed geken. Die tannie is voor hom oorlede en hy het gewoeker in daai ouetehuis. Op ses-en-sewentig was al die weduwees agter hom aan, maar op tagtig kon hy nie uit sy bed van jig nie. Wil jy ’n bedlêende ou man in jou veertigs verpleeg? As julle kinders het, is hulle dan tieners. Kan jy jou dit voorstel?” “Ek dink nie so ver vooruit nie. En wie sê hy kry jig soos sy pa?” “Ek kan sien jy dink nie vooruit nie! Wat jy nou het, is hierdie nice professor wat jou oral met hom saamneem en wat vir jou ’n yslike verloofring gekoop het en die grond onder jou voete aanbid.” Minette het haar koppie na die middel van die tafel geskuif. “Ek ook, ek aanbid ook die grond onder sy voete. Ons het mekaar lief en ons gaan trou en getrou bly tot die dood ons skei. Ek is bereid om die kans te waag en hom lief te hê tot die einde. Ek kan nie sonder hom leef nie, Lynette. Ek voel oor hom presies nes jy oor Francois voel.” Lynette het haar aangekyk en geglimlag. “Hy is ’n sexy ou duiwel, dalk werk dit,” het sy gesug en opgestaan. “Ek sal nie weer hieroor praat nie, maar doen my een guns: moenie met hom trou om hierdie argument te wen nie. Ek bedoel, as jy besef jy doen nie die regte ding nie, moenie bang wees om jou fout te erken nie. Dis jóú toekoms, jou jong lyf wat hier op die spel is, glo vir my. Seks is
nogal ’n veeleisende sport.” Minette het net daar besluit dat seks nooit ’n voorwaarde vir haar liefde sal word nie. Buitendien, Paul Hagen is nog lank nie koud nie. Isadora het twee terte gemaak – een met room en een sonder room. Minette is besig om die houers en bakke in die yskas rond te skuif sodat sy albei veilig kan inpas toe hy agter haar praat. “Is dit die yskas met die ys?” Bloed skiet na haar kop en sy hou haar asem op. Gelukkig staan sy nog gebukkend en die koel lug uit die yskas maak dat haar gesig nie so warm is toe sy agteruit staan nie. Hy het die handdoek buite gelos en ’n T-hemp oor sy bolyf getrek, maar sy teenwoordigheid is só ontstellend, hy kan net sowel kaal wees. En sy ook! “Nee, seker in die vrieskas!” antwoord sy uitasem en gryp een van Isadora se terte om haar mee besig te hou. Hy maak die vrieskas wat langsaan staan oop en kyk op en af. “Hoe voel jy nou?” vra hy. Daar is amper nie plek vir die ander tert nie. “Oukei, en jy?” Wat ’n simpel antwoord! Hy lag, loer oor sy skouer na haar, loop met twee sakkies ys deur toe. “Moenie worry nie, ek sal nie sê nie.” Weg is hy, net so, binne drie tellings. Sy bly agter met haar lyf en haar sondige begeerte, die geur van sy reukweerder skerp en dringend in haar neusgate. En in haar kop ’n oorweldigende teenwoordigheid van gespierde arms en bene wat die lug uit haar longe wil pers.
7
Die aand toe Paul haar by haar Mazdatjie afsien en op sy gewone manier soen, is sy bly hy het nie ’n verskoning om saam met haar huis toe te gaan nie. Sy moet en wil alleen wees. Hy gaan saam met Pierre terug Hagenhof toe, wil voor slapenstyd ’n vaderlike geselsie inkry en dan vroeg in die bed kom. Môreoggend lewer hy ’n belangrike lesing by die Universiteit van Kaapstad en hy wil sy opsommings deurgaan. “Kuier lekker, liefling,” groet sy en skakel die motor aan. Isadora is al terug Vyeplasie toe en Pierre is besig om Francois te help om die tuinkussings te bêre en die patio op te ruim. Minette het vroeër vir Lynette gehelp om die skottelgoedmasjien te pak, so haar gewete is skoon. Sy ry agteruit tot by die hek, sien Paul in die paadjie agter haar met die afstandbeheer staan en voel-voel na haar handsak op die sitplek langs haar. Sy het seker gemaak dat haar huissleutel ingepak is, maar sy grawe dit solank uit en sit dit op haar skoot. Nie weer nie, sy sal nie weer vergeet nie. Die hek is oop. Sy ry uit en waai vir Paul. Die gevoel dat sy hulle agterlaat, maak haar hartseer en sy wonder of sy regtig so graag vanaand alleen wil wees. Pierre het hom nie sleg gedra nie, en nooit ’n geluidjie gemaak oor die katjiepieringbos nie. Hy het vertel van sy dae in Hawai, die strandpartytjies, die branders en luilekker lewe, die planne wat hy op ’n stadium vertroetel het. Hy wou ’n professionele branderplankryer word, vandaar die tattoos van dolfyne en seesterre. Dis van al die sit op kantoor met onmoontlike programme en sagteware wat verseg om te werk, sy toeneus-Indiërpelle vir geselskap, die vreeslike land met sy besoedelde riviere en goue paleise, Bollywood ’n pienk droom en kerriekos wat besig was om sy spysverteringskanaal uit te brand dat hy na die ander kant van die wêreld
wou vlug – verkieslik die kleinste eilandjie in die see wat darem nog taamlik beskaafd is. Sy ses maande op die Hawaise eilande het hom feitlik van programmering genees. Hy soek ’n ander lewe, verkieslik iets wat met die see te doen het. Die hele geselskap het voorstelle gemaak. Dit het gewissel van visvang tot oseanografie en weerkundige navorsing. Minette het liewer niks gesê nie. Omdat die aandag op hom gevestig was, kon sy rustig na hom kyk. Sy het haar gevoelens doelbewus afgeskakel en hom met wiskundige presisie gesit en ontleed. ’n Wilde, bruingebrande jong man met lang, deurmekaar hare wat lyk of iemand dit met ’n mes en vurk gesny het, dolfyne op sy rug, ’n seester in sy nek. Nêrens ’n naam of ’n hart met ’n naam in nie! Dis glo uit die mode. Isadora het ’n groot lawaai gemaak oor die tatoeëermerke. Vir haar is dit tog te pragtig, maar Paul se gesig het verstok by die aanskoue daarvan. Lynette het gedink dis oulik. Francois het sy kop geskud en gesê: “Jy het duidelik tyd gehad.” “Ja, ’n mens doen sulke dinge om deel te wees van die groep,” het Pierre filosofies gesê en die gesprek na Lynette se sosaties geswaai. Minette kon Paul gelukwens omdat hy nie sy mening gegee het nie. Sy weet wat hy daarvan dink: ’n primitiewe gebruik wat by misdadigers in tronke hoort en nie by ordentlike Afrikaners nie. Dit het niks gehelp om hom daarop te wys dat Angelina Jolie ook tatoeëermerke het nie. Hy het haar skeef aangekyk en gevra: “Wie is Angelina Jolie?” Sy het hom lank en innig gesoen. “Dis hoekom ek jou liefhet,” het sy gesê. “Jy weet nie wie Angelina Jolie is nie!” “Maak dit saak?” Sy het haar kop geskud en hom in die oë gekyk – daardie intelligente donkerbruin oë wat soms so kinderlik na skoenlappers en spinnekoppe kan kyk. “Solank ek weet wie jý is, Mina,” het hy gesê. “Jy is die enigste vrou wat ek goed wil ken.”
“En? Ken jy my?” “Soms, soms nie.” “Is dit sleg?” “Nee, ek hou van die misterie, van hoe jy soos ’n rare skoenlapper voor my wegfladder, ek soos ’n mal ou professor met my vangnet agter jou aan . . .” “Jy is nie! Jy is nie ’n mal professor nie, jy is my liefling!” het sy uitgeroep en oudergewoonte haar arms om sy nek gegooi. Dís vir haar die lekkerste: om haar arms om sy nek te sit en te wag dat hy haar nadertrek tot haar borste teen hom platdruk en alles in haar vuurwarm word. “Ek wil nie meer vir jou weghardloop nie,” het sy teen sy wang gefluister en haar neus teen sy skoon vel gedruk. “Ek begeer jou, in my hande,” het hy gekreun, haar effens weggestoot en so aangekyk, sy hande bak gemaak en oor haar boarms gevryf, gevryf en gevryf, op en af, tot hy haar weer nadergetrek en gesoen het tot sy warm en koorsig teen sy lippe gehyg het. Hy ook. Maar toe sy sy gordel begin losmaak, het hy geskrik en haar hand vasgegryp. “Ons moet wag,” het hy gesê en haar liggies van hom losgemaak. “Dis die misterie wat ons vir ons huweliksnag moet hou.” Sy het afgejak gevoel, selfs ’n bietjie beledig, maar sy het op haar tande gebyt en geknik om te wys dat sy saamstem. Dis soos dit tussen ordentlike mense werk. Sy het net daar bly staan terwyl hy na die drankkabinet gestrompel het en vir hulle elkeen ’n stywe soet sjerrie geskink het. Tien jaar oud, van die beste. Sy het stadig op die bank agter haar neergesak, haar blik op hom. Sy rug was so skraal, ’n ou man se rug. “Ietsie om die koors solank te breek,” het hy ’n grappie probeer maak en die glasie oorhandig. Sy hand het gebewe en sjerrie het op die mat gestort. Hy het oordadig om verskoning gevra en kombuis toe gegaan om ’n vadoek te kry. Sy het die glasie in albei hande vasgehou en net gelate gekyk hoe die rooi druppels afdrup.
Was hy regtig so ordentlik, of was hy bang “dit” werk nie? het sy gewonder. Sy ry ingedagte tot by haar huis, druk die heksleutel en ry in. Sy parkeer netjies in haar garage. Maar sy voel omgekrap en deurmekaar. Waar kom hierdie begeerte vandaan wat deur spiere en donker oë uitgelok word? Dit het mos niks met liefde te doen nie, dis blote hartstog – en sonde. Al die kere wat sy vandag na Pierre gekyk het en hom met Paul vergelyk het, is verkeerd. Die ergste is dat sy spyt is Paul is nie Pierre nie en Pierre is nie Paul nie. Die seun is die pa uitgeknip, tot sy ore het dieselfde vorm. Pierre is Paul veertig jaar gelede. Of amper . . . Want hy is tog anders. Sy ma se kind? Klein dingetjies aan sy voorkoms verskil, baie aan sy persoonlikheid. Pierre is spontaan en impulsief, nie soos Paul wat alles tien keer oorweeg voor hy besluit nie. Sy klim uit, haal die koelsak uit die bagasiebak en gaan deur die kombuisdeur in. Sy los die koelsak op die vloer en skakel die ketel aan vir koffie. Haar blik val op die rose wat Paul vroeg die week vir haar gebring het, ’n enorme bos rooi rose in ’n vaas van wit gipskruid. Vyf dosyn rooi rose en duisende duisendblommetjies om te sê hoe my hart vir jou klop. Die boodskap daarby is in Paul se netjiese skuins handskrif, maar naamloos. Sy weet mos hy is die enigste man wat ooit sal waag om sulke rose vir haar te stuur. Hy doen sulke dinge. Hy is romanties. Daar staan foto’s van hulle op haar buffet. Ja, en hulle ís ’n mooi paartjie. Hy lyk sowaar baie na Sean Connery – streng en gevaarlik en sexy. Op hul verlowingsfoto lyk hy sagter, vaderlik en beskermend. Sy hou van sy arm om haar skouers, daardie holte aan sy sy wat sy nou al so goed ken, haar plekkie teen sy hart – sy hart wat net aan haar behoort. Sy tel die foto op, kyk van naby. “Paul, jy is my man, ek het jou lief,” sê sy hardop. Toe sit sy die portret neer, tevrede met haarself. Waarom sal sy tog met sy seun
wil aangaan? Dis belaglik. Francois het haar nog nooit so aangetrek nie en hy lyk ook baie na Paul. Buitendien, Pierre maak net ’n draai hier. Môre, oormôre is hy weer weg, nugter weet waarheen, om eers weer ná tien jaar sy verskyning te maak. Hy is ’n swerwer en ’n leeglêer en sy stel nie belang in so ’n soort lewe nie. Sy het die akademiese wêreld gekies. Met tussenposes sal sy en Paul tog op ekspedisies gaan, dalk nog self iewers ’n tattoo opdoen! Niemand kon Pierre se tattoos uitlos nie. “Ek wil ’n skoenlapper op my een skouer hê,” het Lynette gepruil. “Jy wil nuwe gordyne vir die sonkamer ook hê en daai opskepbakke met die hoenderhane op die deksels en –” “Begeertes, begeertes,” het Lynette Francois in die rede geval en Minette kon sweer sy loer na Pierre. “Lynette, skattebol, eintlik het jy alles wat ’n vrou kan begeer,” het Isadora haar geterg. “Nie soos ek en Minette wat nog aspireer nie.” Minette het haar kans waargeneem, opgestaan en Paul op sy wang gesoen. Sy kon aanvoel hy raak gespanne. “Ek aspireer nie meer nie,” het sy gesê. “Ja, many a slip,” het Isadora haar steek ingekry. Toe het Lynette opgespring. “Poeding vir almal?” Liewe Lynette, sy is ’n vredemaker. Sy het Isadora saam met haar kombuis toe gevat om haar terte self te gaan haal. Die tweeling is agterna omdat hulle roomys in horinkies wou hê. Skielik het daar ’n ongemaklike stilte op die agtergeblewenes neergedaal: Minette, Paul en sy twee seuns. Sy het haar linkerhand op Paul se bobeen gehad en haar diamantring het die laaste sonstrale gevang en blitse in die lug opgestuur. Pierre het vir Francois gekyk en gefrons. Sy het gewonder of sy reg raai oor sy gedagtes. Sou die verloofring hom pla, die grootte van die steen hom in die krop steek?
“Hoe lyk dit, wie wil afkoel?” het dit onverwag van Pierre gekom. “Met ’n maag vol vleis en brood?” Francois het luilekker agteroorgeleun. “Dis reg, Pierre, dis nie goed om op ’n vol maag te swem nie,” het Paul gewaarsku. “En wat dink Pa doen ’n haai nadat hy hom dik gevreet het aan ’n skool sardiens?” het Pierre getroef en regop gesit. “Ook net jy wat met so ’n antwoord sal kom.” “Dis nie ’n antwoord nie, dis ’n vraag.” “Wil jy ’n wetenskaplike antwoord hê?” “Nie ’n lesing nie, seblief!” Pierre het sy hande in die lug opgesteek. “Waarvoor vra jy my dan?” “Kort en kragtig: wat doen hy?” “Hy swem, maar water is sy habitat. Is ek onder kruisverhoor?” “Ek het die laaste tyd meer tyd in water deurgebring as op land. Ons eet klaar, dan gryp ons die planke en hardloop, dis die lewe.” “Jy bedoel: dis die vakansielewe.” “Ek het gewerk!” “Wat?” “Ek het Microsoft se belange op die eiland behartig.” “Seker nie veel nie?” “Genoeg om ’n vakansie te verdien. Toe was ek lewensredder en so aan.” Francois het gegrinnik. “Sal jou liewer nie vra watse en-so-aan nie.”
“Jip, hier’s ’n dame in die geselskap.” Pierre het sy T-hemp uitgepluk en die swembad met ’n kreet stormgeloop. “Daai boetie van my gaan swaar aanpas in die beskawing,” het Francois gesê, maar Pierre met iets soos bewondering dopgehou. “Hoe het die vaderlike tug tog gefaal?” “Ons het kontak verloor.” Paul het sy hand op Minette s’n gesit. “Julle het darem e-pos gehad.” “Dis nie dieselfde nie.” “Pa moet maar geduldig wees.” Francois het na Paul en Minette gekyk asof hy dit vir haar ook bedoel het. “Dis oor Ma, Pa weet mos.” “Hy was altyd jou ma se kind,” het Paul gesug, sy oë op die skuimwalle wat Pierre in die swembad uitgeswem het. “Waar’s daardie poeding?” Die poeding is vyf minute later uitgedeel. Paul het twee snye tert geëet, Pierre drie snye en albei het Isadora geprys. Sy het Pierre genooi om ’n paar dae by haar oor te bly. Hy het gesê dankie, miskien later. Hulle het oor die ou dae gepraat toe die seuns nog klein was en baiekeer dae lank by Isadora oorgebly het – een keer ’n hele ses weke terwyl hul pa en ma oorsee was. Hulle het stil geword nadat Isadora per ongeluk Laetitia se naam genoem het, toe aangegaan oor hoe stout hulle was – tot Isadora ’n handgemaakte plak by oom Samie gaan koop het. Minette het na hul stories geluister, hul grappe ook. Isadora het iets met hulle gedeel wat sy nooit sou kon deel nie. Tog het sy nie afgeskeep gevoel nie. Paul het heeltyd met sy vingerpunte oor haar hand gestreel, openlik liefderik en besitlik. Sy het veilig gevoel, seker van sy liefde.
Paul bel voor sy gaan slaap. “Jy nog wakker?” vra hy. “Ek slaap, maar ek droom jy bel my. Dis ’n mooi droom. Ek hou daarvan.”
Hy lag. “Jy doen my ou hart goed.” “Watter óú hart?” “Nee, sommer . . .” Sy het ’n nare gevoel dat Pierre hom omgekrap het. Sy glo nie die jong meneer Hagen het al sy stempel van goedkeuring op hul voorgenome huwelik afgedruk nie. Sy is skaam om Paul te vra, versigtig om Pierre vanaand by hul slaaptydgesprek te betrek. “Slaap Pierre?” vra sy nietemin later. “Uit soos ’n kers.” “Te veel kos en wyn.” “Hy slaap glo nie in vliegtuie nie. Ons het ’n koffietjie gedrink, bietjie gesels, toe gaan stort hy. Ek het tot nou gesit met my voorbereiding vir môre se lesing.” “Dis kwart voor twaalf, jy moet afsluit.” Sy wonder oor die bietjie gesels. Waaroor het hulle gepraat? “Ja, ek het so pas opgepak.” “Sien ek jou môre?” “Ek glo nie. As ek terugkom, het ons daai komiteevergadering.” “Dis in my dagboek: hierdie week is jou vergaderingweek.” “Bel jou as ek ’n uurtjie oop het.” “Moenie jou kop breek nie, Paul. Ek werk aan my volgende artikel.” “Wat van aandete, ek en jy?” “En Pierre?” “Vergeet ek sowaar van hom.”
“Liefling, hy sal jou wil sien as jy terugkom. Maak vir hom jou visbraai, dan sien ek jou oormôre. Julle moet ook ’n slag alleen wees.” “Verstandige meisie. Ja, ons het ’n paar haakplekke om uit te stryk, maar dit sal nie sommer in een dag gebeur nie.” “Dan moet jy elke geleentheid gebruik. Dalk sukkel hy . . .” Sy wou sê dalk sukkel hy om oor sy ma te praat, maar sy kan nie. Sy en Paul was al saam by Laetitia se graf en nou is sy bang sy maak hom seer. Is dit omdat Pierre hier is – die kind wat sy ma so liefgehad het dat hy nie sonder haar by sy pa kon bly nie? Laetitia was ’n mooi mens. Paul het vir Minette die foto-albums gewys. Sy was ’n huishoudkunde-onderwyseres en ’n uithaler-huisvrou. Kon pragtig klere ontwerp en maak, het nooit een keer ’n winkelrok gedra nie. Gelukkig is Minette ook taamlik knap met die naald, hoewel sy graag winkelrokke koop en Paul ewe graag daarvoor betaal. Sal hy al hierdie goed vir sy seun kan oorvertel? Sal hy oor die nuwe vrou in sy lewe kan praat sonder om vergelykings te tref tussen haar en Pierre se ma? Die stilte tussen hulle duur dié keer gans te lank. “Miskien moet julle saam graf toe gaan,” sê sy dan. “Ek sal met hom moet praat,” sê hy. “Dalk maar die onderwerp van my kant af aanvoor. Hy was verbaas toe hy die huis en die tuin sien – dat dit nog lyk soos hy dit onthou.” “Is dit goed?” Minette se hande jeuk om Laetitia se gordyne en ornamente uit te gooi, om die meubels te skuif. “Ja, hy kon nie glo dat . . .” Weer ’n stilte. “Dat ek dit nog nie omgekrap het nie?” “Ek wil hê hy moet van jou hou.” Dis onmoontlik, dink sy. Pierre Hagen sal nooit van my hou nie. “Hy lyk darem nie of hy kwaad is nie,” troos sy teen haar beterwete.
“Ja, maar hy is stil.” “Nie by Lynette en Francois nie!” “Dis ’n rookskerm.” “Oor haar?” “Dis oor haar dat hy weg is. Ons het dit nooit uitgepraat nie.” “Vat julle tyd. Ek pos my artikel en ek werk aan die volgende een. Daar’s allerhande dinge met die troue ook. Het ek jou gesê tant Marga sê hulle kaartjies het gekom?” “Jy het. Opgewonde?” “Baie.” Sy bly ’n oomblik stil, dink aan nog iets om hom op te beur. “Wens jy was hier.” “Moet ek kom?” Dis sommer grappies; hy het haar nog nooit in die middel van die nag besoek nie. “Jy praat môre! Gaan slaap,” lag sy dit af. “Sien jou dan as ek jou sien. Nag, Mina.” “Nag, liefling.” Sy klap die selfoon toe, skakel die lig af en kruip onder die duvet in. Paul is ’n skat en niemand ken hom soos sy hom ken nie.
8
Soos altyd voor sy slaap, dink Minette aan haar troudag, wat die wonderlikste dag in haar hele lewe gaan wees. Sy in haar spierwit wolk van ’n rok, die titseltjies pienk van haar pêrels en die bergrosies in haar hare, ’n prinses wat binne ure in ’n koningin verander sal word. Roosblare onder haar voete, bergrosies in haar ruiker. Haar een arm ingehaak by oom Hans, agter hulle Leonie Jacobs, haar strooimeisie en beste vriendin, om te kyk dat haar lang sleep nie iewers vashaak nie. Guillaume Hagen, Paul se neef wat navorsing doen oor olifantrobbe op Marioneiland, sal voor by die preekstoel langs Paul staan. Hulle verwag hom oor twee weke wanneer daar weer spanne omgeruil word en hy kan terugkom sodat hy kan uitvars en aanpas by die stadslewe. Minette het hom al ontmoet. Sy hou van hom en het baie respek vir sy navorsing. Paul staan penregop, hy lyk skraal en fier in sy ligte pak. Hy gaan op sy senuwees wees, al doen hy dit vir ’n tweede keer. “Ek sal bang wees my mooi jong bruid hardloop weg!” het Guillaume geterg toe hulle tien maande gelede van hom afskeid geneem het en hy die uitdaging aanvaar het om hulle strooijonker te wees. Toe was Paul en Minette nog net in die geheim verloof. “Dis die enigste manier hoe ons jou ooit voor die kansel sal kry,” het Paul gesê. “Wat van al jou vriende?” “My vriende is meesal getroud, of te oud,” het Paul gesê. “En jou seuns?” “Ons het daaraan gedink, maar Francois reken dan moet Lynette strooimeisie
wees, en sy wil nie in Leonie se pad staan nie.” “Wat van Pierre?” “Nee wat, hy is landuit.” Paul het omgekrap gelyk. “Ons weet nog nie of hy terugkom nie,” het Minette hom uit sy verknorsing gehelp. Pierre was van die begin af baie uitgesproke teen hul verbintenis. Hy het só aangegaan dat sy amper bang was Paul luister na hom – die simpel student wat met haar professor sou trou en toe op die ou end afgesê is omdat die professor hom bedink het. Iemand moes met Pierre gepraat het. Dalk Francois? Dit sou nie Isadora gewees het nie, tensy sy hom wou beïnvloed om moeilikheid te kom maak tussen Minette en Paul. Sy glo nie dit sal werk nie, want Pierre hou nie van haar nie. Hy was ’n paar weke gelede nog so onbeskof oor die telefoon, en vandag was hy ook nie juis oorvriendelik nie. Sy hoor weer sy stem asof hy langs haar in die bed lê. Spaar my die verskonings en gaan sit ’n slag op ’n klip en dink waarmee jy besig is, juffrou Faber. Wat gaan in jou kop aan? Sy wikkel haar onder die laken reg. Al skel hy op haar, as sy aan hom dink, sien sy water wat in die son blink, ’n volmaakte man wat uit die swembad klim. Druppels op gespierde skouers, ’n nat swembroekie wat teen hom vassuig. Wat ’n jammerte dat so ’n lyf moet vergaan en oud word soos Paul . . . Sy skrik vir haar eie gedagtes. Spring uit die bed en loop venster toe. Die krieke en ander goggas skree nou so hard, sy kan dit nie meer verduur nie. Sy pluk die venster toe, maar dit hou nie op nie. Almal soek maats en die insekte maak geen geheim daarvan nie. Sy het ’n maat, sy het vir Paul. Sy het hom belowe om met hom te trou en sy sal. Maar die nag slaap sy sleg. Sy droom van Paul wat skielik jonk is en haar vir hul wittebrood Hawai toe neem. Sy lê op haar maag op die wit sand op ’n spierwit
handdoek. Haar bikinitoppie is losgeknoop. Hy sit met sy knieë weerskante van haar en smeer haar met olie in. Dis so werklik, sy voel sy hande om haar skouerknoppe glip, al om haar blaaie en af met haar rug. Hy trek haar bikinibroekie af en smeer haar boudjies in. Sy hande is op haar heupe, hy werk om na haar voorkant toe en stoot haar broekie af. Sy help hom sodat sy vingers hul pad na die skaamste deel van haar lyf kan kry. Sy wil nie hê hy moet ophou nie en hy hou ook nie op nie. Hy fluister in haar nek: Hier is niemand anders op die strand nie. Sy vingers raak aan geheime plekkies diep in haar en sy draai haar op haar rug, wag vir hom, kyk in sy donker oë. Jy is pragtig, sê hy. Sy hare is nat en koud op haar vel, dit raak aan haar nek. Dis in haar gesig toe hy oorbuk om haar te soen. Sy slaan haar arms om sy nek, trek hom teen haar vas. Sy onderlyf druk teen hare. Hulle lê ’n rukkie so, styf teen mekaar. Hier is niemand, sê hy met sy mond teen haar oor, net ek en jy. Is goed, sê sy, en toe het hulle nie meer nodig om te praat nie. Woorde is onnodig, klanke oorbodig. Selfs die gedruis van die see vervaag. Al wat saak maak, is hierdie oomblik waarin hulle saam een wese word, waarin nie een van hulle meer asemhaal nie. Bokant sy skouer sien sy die son ontplof. “Pierre!” roep sy uit. Sy word met ’n snik wakker en hoor nog haar eie stem. “Pierre?” fluister sy saggies en ontdek dat sy nie op ’n Hawaise strand lê nie, maar in haar eie bed. Dit was so duidelik, sy het hom gevoel, alles was nes dit moet wees. Hier lê sy warm en versadig en dis ’n droom! Hoe kan dit ’n droom wees? Is dit . . .? Sy klap op die bed langs haar. Kyk. Dis leeg. Natuurlik! Wat sal Pierre in haar bed soek? Dit moet Paul wees. Sy is verloof aan Paul en hy het sy beginsels. Hy het nog nooit by haar oorgeslaap nie, al nooi sy hom soms speel-speel. Sy skaam haar morsdood as hy moet weet wat sy droom, wat sy nou net gedroom het. Seks in die middel van die dag, oop en bloot op die strand met Pierre. Dalk wás dit Paul – ’n jonger Paul. Maar nee, sy het hom sien loop, af see toe. Hy was kaal en daar was dolfyne op
sy rug, ’n sierlike boog getatoeëerde dolfyne. Sy het van Pierre gedroom en sy behoort haar te skaam! Sy sit regop, trek die laken teen haar ken op, slaan haar arms om haar knieë. Om te dink sy het sulke begeertes in haar onderbewussyn en dis alles seks. Sy ken Pierre nie soos sy Paul ken nie. Paul is ’n briljante akademikus en ’n kenner op sy vakgebied, ’n dinamiese spreker, ’n aantreklike persoonlikheid, ’n man met karakter en beginsels en lewenservaring. Hy is lief vir goeie musiek en kuns en geniet die buiteluglewe. Hy stap en klim in die berge, hy kamp uit onder die sterre. Dis alles dinge wat sy ook geniet. Hulle praat met mekaar, hulle lag oor dieselfde grappe, gaan na dieselfde kerk. En hulle trou oor ses weke. Sy kan nie nou erotiese drome oor ’n ander man begin kry nie – dit boonop sy eie seun. Dis afskuwelik! Sy sal iets moet doen, haar kop teen ’n muur kap as dit moet, selfhipnose toepas, haar liggaam straf. Sy lig haar kop. Die son is nog nie op nie. Buite sing die voëls soos net hulle kan hierdie tyd van die dag. Sy gooi die lakens af, loop badkamer toe en draai die stortkrane oop. Klim onder die water in, seep haar lyf in en skrop haar só ongenadig hard, haar vel voel of dit in repe afskeur. Die afdroogproses is nie veel verdraagsamer nie. Sy pluk haar hardloopbroekie, T-hemp en drafskoene aan. Sluit die voordeur agter haar en draf straat toe. “Jy sal elke gedagte aan hom onder beheer moet kry,” betig sy haarself toe sy opkyk na die huis oorkant hulle hek en onthou hoe Pierre uitgeroep het toe hulle gister – dit voel soos jare gelede – hier ingedraai het. Die eienares van die studentelosieshuis is horingoud, maar sy neem nog loseerders in. Gelukkig is sy altyd volbespreek en sal Pierre nie hier plek kry nie. Wat dink sy al weer? Watter wensdenkery – Pierre so naby haar, byna op haar drumpel! Hy sal nie in so ’n eenvoudige kamertjie wil bly nie. Een van die dae vlieg hy terug Hawai toe en gaan lê daar op die strand en vry. Sy versnel haar pas. Die gevoel wat die droom in haar losgemaak het, treiter haar en sy kan nie vinnig genoeg hardloop om dit af te skud nie. Sy spring oor leivore
en opgehewe akkerboomwortels, buk onder oorhangende takke deur, glip by ’n groepie verpleegsters verby wat nagdiens by die ouetehuis gedoen het. Steek die pad te vinnig oor en beland byna voor ’n motor. Die motoris druk hard op die toeter en die verpleegsters maak aanmerkings, maar sy hardloop en hardloop tot sy in ’n stiller woonbuurt beland, en naderhand in die buitewyke by die afdraai na Lanzerac. Sy stop nie, sy hou verby met Jonkershoekweg in die rigting van Assegaaibosch. Paul hou nie daarvan dat sy alleen die pad bergop vat nie. As hy moet weet waar sy nou is, kry hy ’n aanval. Maar hy sal nie weet nie, want hy is in Hagenhof se badkamer besig om te skeer en aan te trek vir die lesing wat hy vandag moet lewer. Of miskien sit hy en Pierre teenoor mekaar by die kombuistafel en koffie drink. Nee, hy’t gesê Pierre sal laat slaap. Soos sy Paul ken, is hy reeds netjies aangetrek en agter sy lessenaar, die koffie en beskuit aan sy regterhand. Hy konsentreer, hy is besig om die lesing deur te gaan. Hy hou nie van foute nie en hy kyk nie graag op sy notas nie. Hy sal die aanbieding wel deeglik met illustrasies en statistieke toelig. Hy sal sorg dat hy ’n uur voor die tyd in die lesingsaal is om seker te maak dat die truprojektor of die rekenaarstelsel werk. Sy glimlag en dink aan haar eerste lesing toe die departement se stelsel stukkend was en hy die tegniese assistent namens haar ’n skrobbering gegee het. Toe het hy haar en die twee ander meisies wat net so sou sukkel uitstel gegee tot die assistent sy werk behoorlik gedoen het. Sy het hom toe al so bewonder, die grond onder sy voete was van goud, hy was van goud en so hoog soos ’n toring. Sy het nooit gedink hy sal hom ooit aan haar steur nie. Nou gaan hulle trou en dit het by hom begin. Haar konstante hoë punte het sy aandag getrek. Toe ontbied hy haar een middag na sy kantoor, sy heiligdom. Hy wou weet of sy beplan om verder as honneurs te gaan. Sy het gesê vanselfsprekend as sy ’n beurs kan kry, sy wil baie graag ’n PhD hê, sy wil twee PhD’s hê voor sy dertig is. Isadora was ook daar, langs Paul agter sy lessenaar waarop ’n lêer met Minette se puntestate oop gelê het. Isadora het die gesprek oorgeneem en Minette
verseker dat studente soos sy nooit sonder beurse deur die lewe sal gaan nie. Sý sal vir Minette ’n goeie woord doen as professor Hagen nie kans sien nie. Isadora was gaaf met haar en baie behulpsaam en goed vir haar – tot Paul haar die eerste keer op ’n uitstappie geneem het. Hulle was Kaap toe na die Waterfront en Isadora sou seker nie eens daarvan geweet het nie, was dit nie dat sy toevallig ook daarheen gegaan het om ’n lank verlore familielid te ontmoet nie. Minette sal haar gesig nooit vergeet nie. Paul het vir hulle twee roomys gekoop – die grootste koningsgrootte-draairoomyse wat beskikbaar is. Hulle het nog geloop en lag omdat hulle so vinnig moes eet, toe loop hulle reg in Isadora en haar niggie van Fisantekraal vas. Paul het so groot geskrik dat hy sy roomys op die grond laat val het. Isadora het haar niggie se naam vergeet en haar voorgestel as haar lank verlore skattebol van ’n niggie van Eendekuil. “Fisantekraal, Isadora,” het die niggie-sonder-naam gekorrigeer. “Kindjie, en nou sal jy vir jou professor ’n lekkie van jou roomys moet gee.” Minette het – om die draai waar Isadora hulle nie kon sien nie. Paul wou nog een gaan koop, maar sy het aangedring en toe eet hulle hare om die beurt, lekkie vir lekkie. Sy het gelek en dan het hy gelek en dan het sy weer gelek. Amper soos soen. Dit was die eerste dag van hulle liefdesverhaal. Sy het die dae in haar dagboek aangeteken met min besonderhede ingeval iemand dit in die hande kry. Dag een: Waterfront, gedeelde roomys, mevrou P se niggie van F.
Minette het nou so ver gehardloop, sy moet eers rus. Sy gaan staan met haar rug teen ’n boom en neem haar polsslag – nie te sleg nie. ’n Paar slukke water en sy vat die volgende opdraande, hardloop die gif uit haar lyf. Ag nee, in haar haas om weg te kom het sy haar waterbottel vergeet. Sy sal nie
kan terugdraf voor sy nie ’n paar slukke inhet nie. Sy sal by een van die eetplekkies langs die pad water moet vra. Sy is dors en kyk verlangend na die drawwer wat by haar verbykom, rugsakkie op sy rug en al suigend aan ’n bottel in die een hand. As sy voor op die wa was, het sy hom ’n slukkie gevra. Lang hare agter sy kop vasgebind en so bruin gebrand, lyk of hy van ’n vakansie af terugkom . . . Dis Pierre! Sy kyk weg en skuil teen die boom, probeer krimp tot sy so plat soos ’n plakkaat is. As hy haar nie voor hom sien uitdraf het nie, sal hy nie weet sy is hier nie. Sy dag Paul sê Pierre sal die hele dag slaap en hier is hy! Dis nog nie sesuur nie en hy trek al halfpad Assegaaibosch toe. Laat hom draf, sy sal wag tot hy goed weg is. Onwillekeurig verlustig sy haar in sy welgevormde kuite en dye, die goeie pas waarteen hy draf . . . Maar toe gaan staan hy skielik. Hy draai sy kop asof hy ’n vreemde geluid gehoor het, snuif die lug asof hy iewers brand ruik, draai dan stadig om. Hy kyk haar aan asof hy ’n spook sien. Hulle is goed ses of agt treë van mekaar af, sy steeds met haar rug teen die boom. Dit voel soos die spreekwoordelike muur, sy kan nie agtertoe nie, ook nie vorentoe nie. Hy kyk haar aan asof sy ’n kat is wat hy in die boom wil opjaag, gee ’n tree of wat nader en gaan staan dan weer met die vreemdste uitdrukking op sy gesig. Só vreemd dat sy begin wonder of hy dink sy is iemand anders. Om die spanning te breek, lig sy haar hand in ’n groetgebaar en glimlag skaapagtig. Sy voel simpel genoeg, want laas nag se erotiese droom speel soos ’n skokfilm in een telling voor haar af. Hy groet ook. Altans, so lyk dit aan die manier hoe hy sy kop skud en na haar aangestap kom, ’n selftevrede gryns om sy mond. Gelukkig het hy klere aan, flits dit deur haar kop. Hoewel, sy kan nie die breë borskas en bultende armspiere miskyk nie. Sy staal haar. Sy is sy pa se verloofde en sy het haar regte. Sy sal nie dat hy haar intimideer nie. Maar sjoe, sy is dors. Haar tong kleef aan haar verhemelte en sy kan skaars sluk. “Jou nie hier verwag nie,” sê hy en vat ’n morsige sluk van sy water.
Haar droë tong sit aan haar droë lippe vas. Sy konsentreer daarop om nie na die water te kyk nie. Sy sal hom nie ’n lekseltjie vra nie. Al het sy pas uit die Saharawoestyn die beskawing binnegestrompel, sal sy hom nie ’n druppel water vra nie. “Ek draf ook.” Haar stem krap soos naels op ’n swartbord. “Sonder water?” “Nee . . .” “Waar’s jou water?” “Ek kry by die volgende eetplek.” Hy kyk om hom. “Dis drie kilometer verder!” Sy haal haar skouers op. “So?” “Vroumens . . .” Hy skroef die proppie af, vryf die bek van die bottel skoon en hou dit vir haar. Sy huiwer. “Jy kan drink, ek’s nie giftig nie. Dan gaan maak ons weer vol by die volgende watergat.” “Ek’s gewoond aan –” begin sy protesteer. “Vat, voor ek my aanbod terugtrek!” Hy hou die bottel na haar uit. Het hy nie nog ’n vol een in sy rugsak nie? Of dink hy net nie? Sy ruik die water. Sy is dors tot die dood toe. Versigtig om nie aan sy hand te raak nie, vat sy die bottel by hom. “Dankie,” sê sy en neem twee klein slukkies. “Drink nog.” “Genoeg, dankie.” Sy gee die bottel terug en hy draai die proppie op. Hy kyk na die veld agter die bome. “Ek hoor by my pa jy mag nie alleen Jonkershoek toe draf nie.”
“Dreig jy my?” “Nee.” “Want as jy wil snaaks wees, hardloop en gaan verklik voor die pad vol duwweltjies is!” Hy gee ’n laggie, gooi die bottel in sy rugsak. “Parmantig is jy vir iemand wat so pas die helfte van my water uitgesuip het.” “Ek het nie water gevra nie en ek het nie die helfte gedrink nie. Los my nou!” Sy wil wegkom, weg van sy donker oë en hoë voorkop, die manlike nek met die haaitande aan die silwerketting, die fassinerende seester waar die bultende slagaar klop en klop. Hy skreef sy oë, kyk te stip na haar. “Kinderagtig, dis wat ek vir hom gaan sê. Jý . . .” Hy wag blykbaar dat die woord insink terwyl hy nog ’n tree naderkom. “Jy, meisiekind, is kinderagtig, maar nie onskuldig nie.” Sy stemtoon is so laag en onheilspellend, hy maak haar bang en kwaad tegelyk. “Slinks en geslepe,” voeg hy by, asof die voorafgaande nie genoeg is nie. “Wat!” Nog nooit in haar lewe het iemand haar slinks en geslepe genoem nie. Dis die soort beskrywende woorde wat joernaliste en aanklaers in die Wêreldhof gebruik om diktators en misdadigers te beskryf, nie iets wat ’n ordentlike seun sy pa se verloofde toevoeg nie. “Ja, protesteer maar! Jy weet waarmee jy besig is.” “Ek hoef nie langer na jou te luister nie.” Sy wil wegkom, maar hy het intussen tot teen haar gevorder, só naby sy kan sy reukweerder ruik – iets wat sy nie ken nie, iets met ’n prikkelende sederhoutagtige geur. Sy hare is vanoggend styf agteroor getrek. Hy het ’n reguit adellike neus, sy velkleur is rooierig en blinkerig van die sweet, maar ongeskonde, behalwe vir die klein wondmerkie, ’n litteken in sy een wenkbrou. Hy het nog nie geskeer nie, want sy baard slaan swart deur.
Hy stut hom met sy een plathand teen die boomstam agter haar. Hy sit sy ander hand op haar kaal boarm. Dit brand en ’n siddering trek deur haar lyf. Die hitte wat van hom uitstraal is ondraaglik, sy asem, die geur van sy lyf, sy kan dit nie verduur nie. “Los my, asseblief. Los my,” smeek sy en dwing weg. Maar hy pen haar vas, sy hand soos ’n klemskroef om haar arm, die ander een agter haar nek in haar hare. Sy draai haar kop weg, maar sy vingers is teen haar wang. Hy druk haar kop terug na hom sodat sy hom in die oë moet kyk. Sy knyp hulle toe. Sy sal nie huil nie. “Kyk vir my.” “Nee.” Sy sê dit en bedoel dit nie. Sy bedoel ja, want sy hou haar mond effens oop, hou asem op. Haar hart klop hoorbaar, of is dit dalk syne? Sy wang skuur teen hare. Iewers in die bome sing duiwe en mossies, die boomtakke wieg soos die see se golwe, op en neer. Sy begeer hom, sy begeer hom meer as enigiets op aarde. As hy haar nie soen nie, sal dit die finale belediging wees! Wat gaan aan met haar? Sy moet maak dat sy wegkom. Maar voor sy haar kan loswikkel, gebeur dit. Sy lippe sluit hard en honger oor hare. Hy soen haar en sy soen terug. Hulle soen mekaar met soveel oorgawe dat hulle uitasem aan mekaar bly hang en sy teen die boomstam moet terugleun om regop te bly. Agter sy skouers sien sy die son opkom, strale tussen die bome afskiet. Vuurpyle ontplof in haar, sy wil flou word van die wonderlikste angs wat haar beetgepak het. Sy sterk arms bly soos kettings om haar, sy borskas is ’n deur waarteen sy tevergeefs beur en druk. Sy wil soebat, maar sy kry geen woord gevorm nie, want sy mond neem weer besit van hare. Hy lig haar op, hulle styg boontoe, bokant die ander drawwers wat verbykom, die motors in die straat. Minette is in haar lewe nog nooit in die openbaar só gesoen nie, nog nooit tevore met soveel ie oorweldig nie. Die ergste is: sy geniet dit, sy wil nie ophou
nie! “Nee!” hyg sy uiteindelik. “Asseblief, nee!” Hy maak hom traag van haar los en sy moet keer of sy gryp hom weer. Die klein spasietjie tussen hulle is so maklik om te oorbrug. Dis die eerste keer en die laaste keer en sy sal dit nooit vergeet nie. “Nie sleg nie,” kreun hy. Sy kyk af, voel warm trane teen haar ooglede. Sy sokkies hang oor sy drafskoene. Dit vul haar met deernis. Hy vat haar hand, hou dit vas. Wat dink hy? wonder sy. Hy dink ek is ’n slet, dis wat. “Los my,” sê sy en probeer haar hand uit syne wring. Hy lag net en hou haar stywer vas. “Haai, kan ek help?” terg ’n manstem in die verbygaan. “Alles onder beheer,” antwoord Pierre en sy kan nie glo dat hy so normaal klink nie. Hy het pas sy pa se verloofde in die straat beetgepak en gesoen. Hy behoort hom te skaam, maar hy is so koel soos ’n komkommer en so tevrede soos ’n kat wat ’n muis opgevreet het en met ’n piering room afgesluk het. Om wat te illustreer weet sy nie, maar hy buk oor en soen haar nog ’n keer – dié keer sag en boetvaardig op haar voorkop en dan op haar mond. Sy is willoos, sy stry nie meer nie, proe die sagtheid, drink dit in. “Medies. Hulle doen vandag prakties, mond-tot-mond.” Iemand giggel en die voetstappe draf verby. Sy wil nie kyk nie, maar sy kom tot verhaal, knyp haar mond toe en ruk haar kop weg. “Oeps! Skielik is sy kwaad. Maar dankie, dit was lekkerder as ’n Wimpyontbyt,” sê Pierre hard. Toe klap sy hom dat die knal teen Jonkershoek se berge vassslaan en in die vallei
weergalm – altans, so klink dit. Hy sit sy hand op sy wang. Daar is sowaar trane in sy oë. “Feeks,” sê hy, draai om en draf bergop. Sy doen presies dieselfde, maar in die teenoorgestelde rigting – bergaf en terug huis toe.
9
Nog nooit het Minette so vinnig van Jonkershoek tot by haar meenthuis gehardloop nie. Dis woede, maar ook vernedering en hartseer wat haar jaag, sy reuk wat aan haar kleef, die smaak van sy mond in hare. Sy wil haar bad en skrop en haar hare was. Sy wil haar tande vir twee minute aaneen borsel en haar mond drie keer met soutwater uitspoel, haar drafklere in ’n emmer seepwater en ontsmetmiddel gooi. Sy doen dit alles binne rekordtyd, eet nie, drink nie eens groentee nie, want sy is naar. Wat het sy aangevang! Nou sit sy in haar kantoor voor haar rekenaar en verag haarself. Pierre is kapabel en vertel sy pa alles. Gaan spog by hom en waarsku hom teen die los meisie met wie hy van plan is om te trou. Sy roep lêers op, kyk na die opsomming van die artikel wat sy beplan. Haar kop draai, sy neem niks in nie. Ná ’n lang ruk skryf sy die opskrif, maar sit en staar net na die rekenaar toe daar ’n klop aan die deur is. “Binne!” sê sy sonder om te dink. Die persoon aan die ander kant druk die handvatsel af en klop weer. Sy swaai om en kyk na die deur asof Beowolf se monster en sy ma daaragter staan en wag. Sy het die deur gesluit en daarvan vergeet. “Wie is dit?” Sê nou dis Pierre? Sê nou dis Paul? Sê nou dis albei! “Maak oop, skattebol! Dis ekke!”
Isadora. As sy haar eers skattebol begin noem . . . Minette roep gou een van die lêers met inligting op – voor Isadora in haar nek kom blaas en haar wil raad gee oor hoe ’n goeie openingsparagraaf moet lyk. “Ek kom!” Sy is self verbaas omdat sy so vrolik klink. Sy voel pap en olik. Sy voel bedruk en depressief en aaklig. Toe sy opstaan, stamp sy haar toon teen die lessenaarpoot. “Demmit!” sê sy voor sy kan keer. Die sleutel hang in die deur en sy sluit vinnig oop. Isadora staan teen die oorkantste muur van die gang, haar arms langs haar sye. Sy staan asof sy haar gereed maak om in te storm. “En nou?” “Ek het my toon gestamp. Môre, Isadora.” “Dag, Minette.” “Is daar iets?” “Ja, maar ons kan dit nie hier buite in die gang staan en bespreek nie.” Minette kry daardie koue gevoel wat sy altyd in die tandarts se wagkamer kry. Sy tree terug. “Goed, kom in.” Isadora trek die deur agter haar toe. Dan doen sy ’n snaakse ding: sy sluit dit. Minette maak of dit nie saak maak nie. Sy gaan sit op haar lessenaarstoel en dis ’n fout, want Isadora sit nie. Sy bly staan en toring oor haar, kyk na haar asof sy geweeg gaan word en reeds te lig bevind is. “Is dit die beurs?” vra Minette. Isadora haal diep asem, pers haar lippe opmekaar en gooi haar kop in die rigting van die venster.
“Kry ek dit nie? Die beurs?” Isadora blaas die asem deur haar neus uit. “Dis nie die beurs nie.” “Ek is bang ek kry dit nie,” maak Minette verskoning. “Jy sal. Of jy dit werd is, is ’n ander saak.” “Hoe bedoel jy werd? My punte is reg.” Haar punte is die beste in die klas en dis hoog. Isadora vou haar arms voor haar bors. Dit lyk of sy woorde soek en dís nuut vir Isadora. “Minette, kyk . . . Ek is nie hier oor punte en beurse nie, ek is hier oor ’n persoonlike saak. Ek is ouer as jy; ek ken die lewe.” Paul. Dit gaan oor Paul, altyd oor Paul. As Isadora sê sy ken die lewe, bedoel sy eintlik sy ken vir Paul. “Ek het iets gesien . . .” Isadora bly stil. Het sy? Was dit gister by die braai? Onmoontlik, want Minette het haar bes gedoen om Paul gelukkig te hou. Vir hom kos ingeskep en aangedra en stilgebly as hy praat, nie geswem nie omdat hy nie lus was nie. Het Isadora opgelet hoe sy Pierre agter haar donkerbril dopgehou het? Asseblief, nie dit nie! Sekondes tik verby. Dit lyk of Isadora in ’n soort tweestryd verkeer. “Ja? Jy het iets gesien en toe?” Minette klink kalm, al klop haar hart onstuimig. Die ouer vrou het seker die verposing gebruik om genoeg stoom op te bou. Toe sy wegtrek, is daar geen keer nie. “Jy sal dink ek is kwaadwillig en ek het ’n bedekte motief, maar ek het goeie rede om ernstig met jou te praat en jou terug te verwys na ’n gesprek wat ons voorheen al gehad het. Terloops, ek het jou troukaartjie vanoggend in my pos gekry. Dis baie mooi en oorspronklik en kunstig, almal sê so. En almal van die personeel wat hulle s’n reeds gekry het, reken dis so mooi dat hulle dit gaan raam. Maar – en dit bring my by die eintlike doel van my besoekie – hulle kan
dit steeds nie glo nie. Die troue, bedoel ek nou . . .” Isadora kyk deur die venster, ken op, stywe trek om die mond. Sy het die houding van ’n heldin in ’n Griekse tragedie – Elektra van Sophokles wat die finalejaar-dramastudente vanjaar opgevoer het en wat Minette en Paul moes deursit omdat hulle uitgenooi is. Sy begin gerus raak oor Isadora. Hier kom weer een van haar pogings om die troureëlings te laat ontspoor, en daarvoor het sy ’n standaardantwoord. “Ek en Paul trou die 30ste Mei. Punt.” Isadora skud haar kop. “Ek glo nie.” “Ek weet. Jy was van die begin af gekant teen ons troue. Maak vrede daarmee, ons trou.” “Dis ’n fout.” “Ek het dit ook al gehoor, dankie.” Minette draai na haar rekenaar asof sy baie besig was en met haar werk wil aangaan. “Dis nog steeds ’n fout.” Minette byt op haar tande. “Ek is lief vir Paul, ek is baie lief vir hom,” sê sy met soveel oortuiging dat sy dit self glo, sy glo dit met haar hele hart. “Jy is nie.” Isadora sak in die leunstoel voor die venster neer. “Jy is nie lief vir Paul nie en ek gaan dit vir hom sê. As jý hom nie sê nie, doen ek dit.” “Hy sal jou uitlag.” “Nie hierdie keer nie.” Minette het skielik die aardigste krieweling in haar binnekant. Sy lek oor haar lippe, byt haar onderlip vas. Versigtig, dis nog so gevoelig. Verbeel sy haar of proe sy hom steeds? “Seer, nè?” sê Isadora onverwags. Haar stem is so skerp soos ’n slagmes. “Ekskuus?” Minette voel hoe ’n warm gloed haar oorval. Sy bloos, sy kan dit nie
keer nie. “Ja, bloos, ek sou ook!” Isadora klink soos ’n seemeeu wat pas ’n tros visderms opgeraap het. “Om darem soos straatkatte in die openbaar te vry. Selfs hulle doen dit in die donker, maar julle jongmense het geen skaamte nie!” Minette voel of sy in een oomblik tot klip versteen het – ’n bloedrooi, warmgebakte klip. Hoe weet Isadora? Wie het gesien, wie het haar vertel? Was dit een van daardie ouens wat by hulle verbygehardloop het? Dan lê dit teen dié tyd die kampus vol! “Kon julle mekaar nie in privaatheid by die huis beetgekry het nie? Paul is op pad Kaap toe en hy gaan heeloggend daar wees. As julle wou, kon julle ’n bietjie geduld gebruik het en gewag het tot hy goed aan die gang is – die lesing is tienuur vanoggend – dan kon julle mekaar by jou huis ontmoet het. Maar aangesien julle nie kon wag vir die son om behoorlik op te kom nie, kon julle ten minste iewers agter ’n bossie platgeval het voor julle julleself in die openbaar tot skande maak – vir Paul ook. Moenie maak asof jy nie weet waarvan ek praat nie! Ek het julle gesien, vir jou en Pierre. Almal wat daar verbygery het, het julle gesien.” Onmoontlik! Sesuur in die oggend! Daar was skaars motors op straat. Wat soek Isadora sesuur in die oggend in Jonkershoekweg? “Jy kan nie stry nie, nè, my skattebol? Dit het gebeur, en die feit dat ek vanoggend daar moes verbyry, is nie ’n wonderwerk nie, dis deel van die kosmiese geheel, wiskundig bepaal, vooruitbestemming op sy beste. Die teken waarop ek die afgelope maande gewag het – en dit het nie vandag uit die lug geval nie. O nee, dit het begin die dag toe ek my eerste vyeboom geplant het. Jy sien, ek sou my konfyt gister gaan aflewer het, maar toe nooi Lynette my na die braai. My groenvye verkoop uitstekend by Hannah-hulle se bosrestaurant. Vanoggend verwag hulle ’n toerbus vol Duitsers, en ek moes voor my vroeë lesing daar ’n draai gaan maak om die voorraad betyds aan te vul. Dis met die terugkomslag dat ek julle spektakel gadegeslaan het – Hannah het nog eers ’n koppie tee geskink. Ek’t haar vertel van Pierre wat terug is en wat so mooi groot geword het. Wil jou dít sê: ek neem jou nie kwalik nie. Hy is ’n aantreklike duiwel. Wat gaan julle doen?” Minette is woedend. Dis Pierre wat begin het, sy wou nie!
“Jy bedoel seker wat gaan ek nou doen?” “It takes two to tango, my skattebol.” Minette leun vooroor. “Pierre is ’n ongepoetste mansmens en ek hou nie van hom nie. Ek was nie van plan om Paul te vertel wat hy gedoen het nie, want ek wil nie onmin tussen hulle veroorsaak nie. Maar as jy dink ek moet, sal ek.” “Hang af.” Isadora is duidelik van stryk gebring. Minette besluit sy gaan haar nie alles vertel nie, net genoeg om Pierre in ’n slegte lig te stel. “Hy het by my verbygehardloop, toe kom praat hy met my en gee my ’n sluk van sy water. Die volgende oomblik druk hy my vas en soen my. Ek het hom geklap, maar dit het jy duidelik nie gesien nie.” Isadora frons en draai weg, kyk ’n ruk deur die venster voor sy terugdraai. “Is dit waar?” vra sy afgemete. “As jy my nie wil glo nie, vra hom. Ek het hom so hard geklap, die berge het antwoord gegee. Wil jy weet wat hy alles vir my gesê het?” Isadora skud haar kop. “Ek het genoeg gehoor. Ek sal met Pierre praat – ek is per slot van rekening sy peetma. Kom daarvan as ’n seun sonder ’n ma grootword. Dis nie die manier om ’n meisie te behandel nie; hy het leiding nodig.” “Solank jy nie vir Paul by die saak insleep nie. En as jy vir hom omgee, sal jy nie.” Isadora glimlag weemoedig. “Ek is jammer as ek onregverdig was teenoor jou.” Sy gee ’n droë laggie. “Jy moenie kwaad wees nie, maar ek gaan dit tog sê: jy en Pierre pas eintlik baie beter by mekaar as jy en Paul.” “Seker op die oog af,” antwoord Minette. “Die verskil is, ons ken mekaar nie en ek en Paul ken mekaar. Ons weet waarvoor ons ons inlaat – met Pierre weet ek beslis nie.” “Ná dese weet jy hoe hy soen.”
“Moenie my daaraan herinner nie. Ek wil so gou as moontlik daarvan vergeet.” Voor Isadora uitstap, haal sy ’n buisie lipsalf uit haar sak en sit dit op die lessenaar neer. “Hier, dis nog nie oopgemaak nie, ek het dit nou net by die kaf gekoop. Smeer aan voor Paul jou vra hoekom jy jou stukkend gebyt het.” Toe sy uit is, haal Minette haar grimeerspieëltjie uit. Haar onderlip het gebars en dit lyk seer. Sy raak met haar vingerpunte daaraan. ’n Vlaag opwinding trek saam met die aanraking deur haar lyf. Feeks . . . Dit weergalm in haar kop. Hy het haar ’n feeks genoem, en haar soos ’n femme fatale laat voel. Sal sy ooit weer tevrede wees met Paul se versigtige toemondsoene? Sy sug. Die klein oorwinning oor Isadora help niks om haar neerslagtigheid te verlig nie. Sy smeer haar lippe in, bêre die salf en kry die lêer op haar rekenaar weer aan die gang. Die tabelle en grafieke het skielik geen betekenis nie; haar navorsing lyk so onbenullig. Sy weet nie hoe dit enige verskil kan maak aan die voortbestaan van die dierelewe op die planeet nie, nog minder aan haar eie bestaansreg. Sy gaan binnekort nie meer as individu funksioneer nie. Sy gaan deel word van iemand anders, een met professor Paul Hagen, sy ander helfte. Wanneer hulle na haar verwys, sal hulle sê professor Hagen se vrou doen die navorsing, nie Minette Faber nie. Die artikel wat sy op die oomblik beplan, is juis sý idee – ’n afleiding wat hy gemaak het een van die kere wat hy hier ingekom het en oor haar skouer geloer het. Sy weet baie, sy is ’n goeie student, maar hy is haar ver vooruit. Die voorstelle wat hy gereeld doen, gee haar beslis ’n voorsprong op die meeste van haar klasgenote. Nie dat dit ontoelaatbaar is nie, want hy is haar promotor, maar van die studente het al daarop gesinspeel dat hy meer tyd aan haar bestee as aan hulle. Dis nie heeltemal waar nie. Paul is ’n toegewyde akademikus; hy wil graag hê sy studente moet almal presteer. Dis egter ’n saak van onmoontlikheid, aangesien almal nie ewe briljant is nie, en min openbaar soveel insig as Minette. Sy verstaan altyd wat hy bedoel. En meer nog: sy luister, terwyl sommige alles sal doen om hom verkeerd te bewys. Paul en Minette is die perfekte span. Hulle sou saam groot ontdekkings kon doen
en Minette het uitgesien daarna. Hulle het al in daardie rigting begin praat. Indringerbiologie is ’n wye veld, maar daar is gebiede wat hulle albei na aan die hart lê. Minette het haar PhD begin voorberei met die vooruitsig om eendag sy aan sy met hom te werk. Die idee het haar vervul met romantiese gedagtes van aande voor hul tentjie iewers in die oop Karooveld of in die bosse van Knysna. Alleen bymekaar sal hulle die dag se werk bespreek, insigte deel en die sonsondergang geniet. Hulle sal onder die oop hemel slaap; die sterre só helder dat hulle geen ander lig nodig het nie. Hy sal haar met respek en teerheid bemin en haar prys omdat sy hom sy jeug teruggegee het. Wel, dís nie haar idee nie. Hy het al ’n paar keer gesê hoe jonk hy voel vandat sy hom die jawoord gegee het. Elke dag as hy opstaan, voel hy ’n dag jonger in plaas van ’n dag ouer. Hy kyk na haar en sien homself soos hy veertig jaar gelede was. Minette het dit nog altyd as ’n kompliment beskou. Nou maak dit haar benoud, want die teendeel is ook waar. Sy kyk na hom en voel elke dag nie net een dag nie, maar twee dae ouer, elke dag meer besadig, meer volwasse as haar medestudente. Is dít wat sy soek? Maar sy het dit tog al met haarself uitgeklaar. Sy wil ouer wees, sy wil meer volwasse wees, rustig, gevestig en veilig – mevrou Hagen. Mevrou Professor Hagen wat vir haar rekenaarskerm staar en vandag nêrens gaan kom as sy nie klaarkry met haar gemaal en begin werk nie. Sy vat haar rekenaarmuis vas. “Tel jou seëninge en hou op om jou te verknies oor ’n gogga wat van nêrens af ingevlieg het om jou lewe om te krap!” vermaan sy haarself en tik: Spatial distribution of irrigated areas in South . . . Die telefoon op haar lessenaar lui. Sy skrik só, sy tik Afmerica in plaas van Africa. “Indringerbiologie!” antwoord sy met haar amptelike stem. “Minette Faber hier.” “Mina.”
Haar hart klop vinniger, maar sy weet nie of dit van opwinding of ’n skuldige gewete is nie. “Hallo, liefling.” “Jy klink besig.” “Gefrustreerd. Ek sukkel om aan die gang te kom met die artikel.” “Miskien is jou kop vol ander gedagtes?” Haar keel trek toe. Weet hy? “Soos . . . soos wat?” vra sy en haar stem bewe. “Pienk bergrosies op troukoeke?” Sy sug hoorbaar en lag dan lekker – die verligting doen haar goed. “Ag, jy! Hoe het dit gegaan met jou lesing?” “Uitstekend. Ek staan bietjie buite – bokant die wind, die rokers staan ondertoe. Ons gaan nou-nou in vir vraetyd. Raai wat?” “Nee, wat?” “Almal is jaloers op my.” “Geluk! En laat hulle jaloers wees – jou aanbieding is altyd goed.” “Nee, dis jy.” “Ek?” “Ja, jy en die troue van die jaar.” “Waar kom ‘almal’ daaraan?” “Dis algemene kennis, en die meeste het al hul troukaartjies gekry.” “Hulle hou daarvan?”
“Hulle dink dis briljant.” “Isadora was netnou hier.” “Wat sê sy?” Minette probeer aan sy stemtoon hoor of Isadora nie tog kwaad gestook het nie, maar as hy iets weet, steek hy dit goed weg. “Sy’t hare ook gekry. Party van die mense hier gaan glo hulle s’n raam.” “Wel, dis kunswerkies. Verskoon my.” Hy raak stil en sy wag geduldig. Sy stem klink baie na Pierre s’n, maar Francois klink ook so. Sy het nog nooit romantiese idees oor Francois gehad nie. Maar Francois is nie Pierre nie . . . Wat dink sy alles! Sy klou die gehoorstuk vas toe hy weer praat: “Liefling, wou nog sê ek sal jou nie vandag sien nie. Ek gaan miskien nie betyds by die vergadering uitkom nie, en daarna wil ek maar huis toe. Ek en Pierre het gisteraand nie veel kon praat nie. Hy is vir my so moeilik bereikbaar, dit voel of hy ’n muur om hom het. Ek sal tyd moet neem om dit af te breek.” “Dis goed, Paul. Ek verstaan, maak so.” “Jy’s dierbaar, dankie dat jy verstaan. So ’n stewige muur, voel soos die Berlynse Muur.” Ja, wat ’n muur, sug Minette innerlik en dink aan sy harde borskas en gespierde arms. Miskien het hy vandag verder verhard en is hy vanaand nog afsydiger en minder openhartig. Of sal dit vir hom maklik wees om voor te gee dat hy tevrede is, om te maak of hy gelukkig is oor Paul se troue? Sy dink hy sal haar liewer in ’n sloot wil sien lê as voor die kansel aan sy pa se sy. Maar daarmee het sy vrede; sy trou nie om Pierre te plesier nie. Hy het gister hier aangekom en hy bly dalk nie eens vir die troue nie. Wat belangrik is, is dat hy vrede moet maak met sy pa. Paul se stem dring tot haar deur: “Minette, ek sê ek is lief vir jou.”
“Skies, my gedagtes het gedwaal.” “Ek dag dis die selfoonverbinding. Ek moet gaan, hulle roep.” “Totsiens, Paul. Lief vir jou.” “Jou ook!” sê hy en verbreek die verbinding. Sy kyk na die gehoorstuk in haar hand. Paul weet van niks, maar wat sal hy sê as hy weet? Hy sal Pierre wegjaag, hy sal die verlowing verbreek, die troue kanselleer, wat ’n skande! Sy plaas die gehoorstuk op die mikkie terug en skakel die rekenaar af. Vandag is een van daardie rare dae wat sy nie lus is vir hierdie soort werk nie. Sy gaan nou huis toe om koekies te bak of in die tuin te werk, maar sy moet hier wegkom. Sy sal Paul se gunstelingkoekies bak – Hertzoggies. Dis altyd goed om hulle ’n dag voor die tyd te maak, sodat die klapper en konfyt lekker kan intrek. Terwyl sy die deur sluit, wonder sy wat Pierre se gunsteling is. Hou hy ook van klapper?
10
By die huis haal Minette dadelik haar ma se resepteboek uit. Dis een van haar erfstukke waaroor sy erg sentimenteel is. Baie resepte is uit tydskrifte geknip en ingeplak, maar die meeste is in haar ma se eie handskrif. Hier en daar sit ’n oliekol of ’n eiervlek soos sy gebak en gebrou het. Minette was nege toe haar ma oorlede is. Teen daardie tyd kon sy al in die kombuis help en het sy klein werkies gedoen soos om die panne te smeer en meel te sif. Kleinkoekies bak, en veral Hertzoggies, was nogal ’n okkasie. Haar ma het die meeste van die werk gedoen. Geroom en gemeng en geknie, deeg uitgerol en in vormpies gesny. Minette is toegelaat om dit in die pannetjies vas te druk en teelepeltjies konfyt in die holtetjies te sit. Haar ma het dessertlepels vol van die klappervulsel bo-op geskep voor dit in die oond gesteek is. Hertzoggies bak is ’n langdradige werk, maar Minette wil dit doen. En sy wil dit vandág doen, voor Isadora weer bak en brou en aandra en dit lyk of sy wat Minette is niks kan doen nie. Die Hertzoggies is vir Paul, nie vir Pierre nie. Paul kan dit met hom deel, natuurlik, maar sy wil niks daarvan weet nie. Op pad huis toe het sy besluit om nie meer aan Pierre te dink nie. Wat maak dit saak wat hy eet en wat hy nie eet nie? Ná wat sy gister by Francois-hulle se braaivleis gesien het, moet sy aflei dat hy enigiets sal instop wat voorgesit word en nie sal ophou voor die opdienskottels leeg is nie. Maar branderplankryers en ander sportmanne is bekend vir hul eetlus. Paul is ’n matige man. Hy neem selde ’n tweede porsie en hy hou sy gewig dop. Pierre het blykbaar nie nodig om matig te leef nie, hy doen alles in die oortreffende trap. Alles wat hy eet, word onmiddellik in energie omgesit. Hy het soveel energie, hy loop oor daarvan. Maar Paul is nie dooierig nie, hy is net stadiger. Sy vererg haar vir haarself. Sy het ’n halfuur gelede besluit om nie meer aan Pierre te dink nie en om hom en Paul nie met mekaar te vergelyk nie! Maar dis
soos ’n liedjie wat sy nie uit haar kop kry nie. Pierre maak so, Paul maak sus en sy is lus en . . . klap haarself. Die Hertzoggies kruip vandag weg en sy moet van voor af blaai voor sy die bladsy kry. Bo-aan het haar ma in haar skuins skriffie geskryf: Ouma Mien se Hertzogkoekies. Ouma Mien . . . Een van die dae is sy ook ouma Mien – gouer as wat sy dit dalk wil wees, as Paul se kleinkinders besef dat hul oupa se vrou niemand anders as hul ouma kan wees nie. Op die oomblik noem hulle haar nog Mina, die seuntjies ook, al het sy en Paul ’n onderonsie gehad oor die feit dat die kinders haar op haar naam noem. Sy het die rusie met vlieënde vaandels gewen. Sy is nie ’n ouma nie en hy sal dit eenvoudig moet aanvaar. Sy is lief vir sy kleinkinders, sy kom goed met Lynette en Francois oor die weg, maar sy kan nie hul ma en ouma wees nie. Anders moet hy vir hom iemand kies wat aanstap in jare – vir Isadora, sy is mos verlief op hom. Dit was een van haar minder mooi tirades, sy onthou dit goed. Paul het stilgebly en toe kalm gesê: “Mina, hoekom pla Isadora jou? Sy is ’n ou vriendin, ek ken haar al dertig jaar. Sy is soos ’n suster; ’n huwelik tussen ons is onmoontlik. Daar is niks tussen ons nie en daar sal ook nooit iets tussen ons wees nie.” Minette pak die bestanddele op die kombuistafel uit. Meel, strooisuiker, bakpoeier en sout. Paul se stem eggo in haar kop: Isadora is soos ’n suster, sy is ’n ou vriendin. Sy is inderdaad. Want sy ken Paul se huis van hoek tot kant, maak kruidenierskaste oop sonder om toestemming te vra, kyk in die vrieskas – iets wat Minette nie waag om te doen nie. Paul hou nie daarvan nie; hy maak klokslag beswaar en wil weet wat Isadora nou weer in sy kaste kom soek. “Bly stil, Paul, ek kyk of jy ordentlik eet. Of het jy Laetitia se sterwenswoorde vergeet?” Daarmee slaan Isadora hom sonder seremonie tot stomheid en totale onderdanigheid. Laetitia het haar met haar laaste asem gevra om na haar man en
kinders om te sien. “Waar is daai gevriesde kosse wat ek laas gebring het? Jy moet sorg dat jy die datums dophou, anders is die voedingswaarde nul. Wanneer laas het Saar die vrieskaste ontdooi? Hoekom het jy nie dié week vars groente gekoop nie? Is hierdie vis nie ’n bietjie af nie?” Dis dan wanneer Minette die hasepad kies en buite langs die swembad gaan sit tot Isadora kom groet, gewoonlik met ’n leë mandjie oor haar arm. Dan dra Paul skuldig twee bekers koffie en koekies aan – koekies wat Isadora gebak het. “Sy het nog nie agtergekom dat sy nie meer nodig het om vir my te sorg nie.” Tyd is aan my kant, dink Minette tevrede en haal ’n blok botter uit die yskas, ook ’n halfdosyn plaaseiers. Sy sal nie dadelik begin nie – die botter en eiers moet eers kamertemperatuur bereik. Intussen kan sy in die tuin werk, besig bly. Teen sesuur se kant wil sy begin bak. Sy gaan hierdie koekies nie huis toe vat nie, liewer saamneem departement toe. Dan kan sy dit op Paul se lessenaar neersit met ’n briefie en ’n blommetjie daarby. Ook nie môre nie, oormôre. Dis sal lekkerder wees oormôreoggend as die geure goed ingetrek het. Klapper? Die blik waarin sy die klapper bêre, is onheilspellend lig. Sy maak dit oop. ’n Klapperreuk ontsnap, maar die blik is leeg. Wat is ’n Hertzoggie sonder klapper? ’n Jan Smutsie? Hier staan die resep op dieselfde bladsy in haar ma se boek en hulle kry nie klapper nie. Nee, dit sal nie werk nie. Dis oor die klapper wat sy die koekies wil bak en dis oor die klapper wat sy die koekies gáán bak. Reg of weg, geen middeweg nie. Paul hou van klapper en klapper sal hy kry. Al uitweg is dat sy moet dorp toe en gaan koop. Sy gooi ’n vars bloese oor, kam haar hare, spuit ’n sproeisel koel eau-de-cologne aan en gryp haar handsak. In die verbygaan pluk sy die inkopielysie af van die notaboekie wat met ’n magneet
teen die yskas vas is. Ja, dis nogal ’n lang lys. Voor sy loop, gooi sy ’n teenet oor die goed wat sy op die tafel uitgepak het. Vlieë en sy is nie maats nie, en hulle is hierdie tyd van die middag nogal bedrywig.
Die supermark is net so bedrywig. Dit lyk of almal wat op pad is huis toe ná die dag se werk eers hier ’n draai wil gooi. Minette haal haar lysie uit, begin in die gang met die skoonmaakmiddels. Wat ’n gedrang en geskree van kinders! Sy sal nooit ’n moeë kleintjie saamsleep supermark toe nie, nooit. Sy is in die gang met die bakbestanddele besig om klapper te soek, toe sy die oulikste Disneyland-verjaardagkoekversiersels vir kleuters sien. Sy tel die dosie met die kleurvolle prentjies op en kyk daarna. “Is dít toe die probleem?” hoor sy ’n stem skuins agter haar. Paul? Sy vergadering is seker uit! Sy swaai om en daar staan Pierre. ’n Ander winkelbesoeker blokkeer die pad met haar breë boude en twee hoog gelaaide inkopiewaentjies, een gestoot deur haar ewe oorgewig tienerdogter. Sy hang daaraan asof sy nie bene het nie, net ronde arms. Minette kan voel hoe haar eie bene begin wankel. Sy moet keer of haar asemhaling versnel merkbaar. Sy wil vlug, maar hoe? Pierre buk oor, stut hom met sy hand op die rak naby haar kop. ’n Simpel gewoonte van hom om so teen jou te staan. Sy skuif effens en blikkies bakpoeier rinkel saam met die Disney-dosies rond. Hy keer ’n paar voor hulle val. Minette klou aan haar skouersak, pen haar arms teen haar sye vas en wonder of sy moord moet skree.
“Hier is ons al weer,” sê hy. “Middag, juffrou Faber.” “Middag,” wurg sy dit uit. “So, wat maak jy?” “Inkopies, kan jy nie sien nie?” “Uitbuiters,” sê hy toe hy die prys op ’n Disney-dosie sien. Hy sit dit neer en voeg by: “My pa is in die moeilikheid.” “Gaan sê dit vir hom.” “Ek sal. Dis waar, nè?” “Wat?” “Jy verwag.” Dié storie het ook al rondgegaan. Dis kwaadwillig en lasterlik en van alle waarheid ontbloot. Minette het haar ontstel en Paul was briesend, maar later het hulle besluit om dit te ignoreer. Sou die storie weer opgevlam het, of is dit net Pierre? Hoe dit ook al sy, sy gaan hom nie die plesier verskaf deur iets te ontken nie. Hy kan dink wat hy wil. Sy weet sy is onskuldig en rein soos ’n lelie. Sy mag die biologiese metodes ken en weet hoe die wetenskap werk. Sy dink aan seks, droom daarvan soos gisteraand . . . Die gedagte stuur ’n gloed na haar wange en Pierre maak sy volgende verkeerde afleiding. “Toe vang jy hom?” Hy het die diepste bruin oë, dieselfde hoë wangbene en voorkop as Paul. Sy mond is anders, groter. Hy soen anders. Sy lippe is voller. Nog gevoelig soos hare? Hy gee ’n sagte laggie, laag uit sy keel. Toe vernou sy oë en hy frons. Wat dink hy? Voor sy kan keer, lek sy oor haar onderlip. Skuins bokant hulle hang ’n
reklamebord wat sonbrandolie adverteer. Twee perfekte heuningbruin lywe, ’n man en ’n meisie, rank teen mekaar op. “Die ou truuk.” Hy praat smalend. “Seks.” Sy ruik hom, die warm dampe van sy naskeermiddel en seep, sy reukweerder. Dankie tog sy het cologne aangespuit voor sy van die huis af weg is! “Watter man kan jou weerstaan?” Minette het klere aan, maar sy voel kaal en skuldig. Sy het nog nooit seks gehad nie, maar hy dwing haar om skuldig te voel net omdat sy soms daarvan droom! Maar sy hét nog nie en niemand wil haar glo nie. Volgens statistieke is meisies soos sy ’n unieke verskynsel. Haar vriendinne reken sy weet bloot hoe om ’n geheim te hou. Selfs Paul het haar een aand in trane gehad omdat hy aangehou het met skimpe oor ou kêrels. Hoekom sal hierdie onbeskofte branderplankryer genadiger wees? “Gee jy om?” Sy moet nou hier wegkom. “Kom kuier jy vanaand?” “Dis jou en jou pa se beurt om te kuier. Jy kan hom alles vra wat jy wil weet – oor Disneyland ook.” Die groot vrou met die twee trollies en die dogter is aan die wegbeweeg. Pierre het geen rede om te bly staan nie, maar hy roer nie. “Ek dag verloofdes kan mekaar nie langer as ’n dag alleen laat nie, snags ook.” “Wat gaan aan met jou?” sis sy, want dis die toppunt. “Niks. Ek wil net hoor of jy vanaand huis toe kom.” Hy staan darem ’n treetjie weg. “Of mis julle mekaar nie?” “Ons is grootmense en jy kuier hier. Ek is nie aan Paul vasgeplak nie; ek kan sonder hom funksioneer.” Sy sien die sakkies met klapper, buk om twee op te tel en mis sy reaksie.
Hy grinnik. Dit kan sy hoor. Maar toe sy omkyk om hom iets toe te voeg, is hy skoonveld. Sy sien hom nie weer nie, nie in een van die gange nie, ook nie by die betaalpunte nie. En onverklaarbaar mis sy hom. Sy beweeg weg, loop in ’n volgende gang af en soek hom. Daar is ’n hol kol in haar binneste. Sy loer rond, verwag hom enige oomblik. Dit voel of hy haar dophou. Dalk sluip hy agter haar aan, agtervolg haar! Dis nie só vergesog nie. Hoekom het sy vanoggend in hom vasgehardloop, en vanmiddag toevallig weer? Hoe toevallig kan toevallig wees? Beloer hy haar? Sy sluit haar motor se bagasiebak oop, kyk ’n slag agter haar. Die laaste sonstrale skyn so skerp, selfs die donkerbril kan nie keer dat sy sukkel om behoorlik te fokus nie. Hy kan twee treë van haar af staan en sy sal nie weet nie. Sy laai haar inkopies in en voel ongemaklik en selfbewus. Dis warm, die lug is drukkend en swaar. ’n Yskoue koeldrankie sou nou lekker gewees het, maar sy wil nie langer in die dorp vertoef nie. Sy is besig om die sakke toe te knoop toe ’n vrouestem roep: “Minette, haai!” Sy knoop die laaste sak, klap die bak toe en kyk rond. Dit klink soos Lynette. En dit ís sy. Vir ’n verandering sonder die tweeling en die baba, met ’n vrolike sonrok aan en ’n bont skouersak oor die arm. Sy lyk jonk en gelukkig, loop so ligvoets dat Minette vir ’n oomblik die aakligste gedagte kry. Lynette was verlief op Pierre, hulle het uitgegaan en nou is hy hier. Het hulle die dag saam deurgebring? Iewers in een van die straatkafeetjies geëet en gedrink en gesels en handjies vasgehou, afgespreek om mekaar weer te ontmoet? Lynette het haar hare ook verander! Dis gekleur en gesny. Minette se gemoed het in ’n maalkolk verander. Die arme Francois! Wat sal hy maak as hy weet? “Hallo! Jy lyk mooi.” Minette verwens haarself. Kan ’n mens so vals wees?
“Dankie. My ma is vanmiddag hier en sy pas die kinders vir my op, toe kon ek ’n slag in vrede haarkapper toe. Maar ek het nog ’n uurtjie oor. Jy wil nie dalk ’n koeldrank saam met my gaan drink nie, of is jy haastig? Het jy koue goed in die motor?” Minette kyk op haar horlosie. Dis kwart oor vyf. Die koue goed is in die koelsak wat sy altyd saamneem as sy inkopies gaan doen. Sy is lus vir ’n koeldrank en sy het Lynette onregverdig verdink, sy skuld haar ’n koeldrank. “Ja, maar dis in ’n koelsak.” “Verwag Paul jou?” “Nee, ek is op pad huis toe. Koeldrank sal lekker wees, maar ek betaal.” “Komaan, ek het jou genooi!” Lynette beduie in die rigting van die naaste kafeetjie. Die aandstormloop het dit nog nie getref nie en daar is oorgenoeg oop tafeltjies op die sypaadjie. Hulle kies ’n tafeltjie vir twee en maak hulle tuis. “Ek het jou nog nie gebel om dankie te sê vir Sondag nie,” sê Minette. “My plesier. Dankie vir die slaai wat jy gebring het. Ek het regtig nie moeite gehad nie.” Die kelner verskyn met spyskaarte en gee dit aan. “Net koeldrank vir ons,” sê Minette en Lynette tegelyk. “Coke Light of Tab?” vra die kelner. Lynette lag uitbundig. “Tab. Hoe’t jy geweet?” Hy grinnik. “Sê maar ek ken my customers.” “Dit moet koud wees, hoor! Ekstra ys as dit nie koud genoeg is nie.” Lynette skud haar hare reg toe hy wegloop. “Dís vinnig afgehandel. As die kinders hier was, het ons weer ure gestry oor watter geur ons smoothies moet wees.”
“Is jy lus vir ’n smoothie?” “Nee, ek verkies Tab. Glo my, geen kelner sal dit raai as die kinders by is nie. Ek hou kinderpartytjie saam met hulle, eet kinderkos, fliek kinderflieks. Jy het nie ’n idee hoe kinders jou verander nie; hulle trek jou in hul wêreld in. Maak jou so afhanklik van hulle, jy kan nie sonder hulle leef nie!” Minette dink aan die beskuldiging wat Pierre teen haar kop gegooi het. Dat hy haar daarvan kan verdink dat sy swanger sou word net om ’n man te vang, wys haar presies hoe laag sy dunk van haar is. Sy wil graag kinders hê, maar nie só nie. “Jy en Francois het mooi kinders,” sê sy. “Dankie, ek dink self so. Ek’s nogtans bly ek het jou raakgeloop, anders het ek gejaag om by die huis te kom. Ek het verleer om alleen dorp toe te gaan. Weet jy hoe leeg voel my arms net van een middag sonder Ettie?” “Sy kan nogal ’n gewiggie wees.” “Oupa Paul se oogappel. Sal ek ooit sy oë vergeet toe hy haar die eerste keer kom kyk het.” Minette onthou ook. Dit was presies vier maande voor hul verlowing. “Jy het ’n groot ding reggekry om ’n vroulike mens in die wêreld te bring. Hy en Laetitia moes tevrede wees met net seuns.” Lynette kyk op. “Hy’s gelukkig – jy gaan hom sy tweede kans gee.” Minette skuif die suikerpot reg. “As ons daarby uitkom.” “Jong, dis iets wat julle nóú moet uitklaar.” “Dis een van daardie goed wat ek gedink het uitgeklaar is – tot ek begin somme maak het.” “Ons het daaroor gepraat, Minette, ek en jy. Onthou jy?” Lynette klink skielik ernstig.
“Paul is nie teen kinders nie, hy wil net nie hê ek moet my loopbaan in die weegskaal plaas nie. Ons sal dit goed beplan.” “Soos ek en Francois.” Lynette kyk by Minette verby. Daar is ’n hartseer trek op haar gesig. “Jy weet van my miskrame?” “Ja.” “Jammer, ek bederf nou ons kuier, maar Tina het laas nag een gehad.” “Ag nee! Arme Tina, sy het so uitgesien na die baba. Almal by die haarsalon het babatjies, net sy nie!” “Dit was toe die hoofbesprekingspunt in die salon. Ek was lank daar, so al die ou wonde is weer oopgekrap.” “Ek is jammer om dit te hoor.” “Ek het gedink ek het dit verwerk, tot hulle vandag weer met die oorsake en gevolge begin het. Myne was definitief oorhaastigheid. Ek wou my liggaam nie kans gee om te herstel nie; ek moes eenvoudig hierdie gesin klaar in die wêreld bring sodat ek kon aangaan met my lewe en my studies, en kyk wat gebeur. My hele bestaan het gaan stilstaan ter wille van Ettie. Een miskraam op die ander, tot sy uiteindelik besluit het om vas te byt.” “Jy het darem tussenin jou graad gekry.” “Ook net-net.” “Jy is gelukkig, Lynette. Jy het nou wat jy wou hê.” “Jip, ek het dit Sondag weer besef. Ek en Francois is getroud toe ek twintig was. Ons móés trou en dit was op die ou end nie ’n fout nie. Alles het uitgewerk soos dit moet. Ek gaan terug universiteit toe sodra Ettie in ’n speelgroepie is. Dit gee my nog drie jaar, dan is ek so vier-en-dertig. Francois word vanjaar veertig. Hy weet te vertel hy het nou eers verstand gekry. Miskien kom ek maklik reg met die studies, miskien nie – ek is ’n bietjie verroes. Dit kom daarvan om die wa voor die perde te span! Ek sou haar so graag ’n jaar ná die tweeling wou hê.” Lynette sug. “Eers wou ek hulle nie hê nie en toe wou ek hulle te graag hê.”
“Ek hoop nie dis wat met my en Paul gaan gebeur nie, maar die kans is goed. Dan kan jy sê jy’t my gewaarsku en ek wou nie luister nie.” “Nee, ek sal nie, ek belowe. Kom ons praat oor iets anders.” Die kelner kom nader met die skinkbord en die koeldranke. Hy maak die blikkies oop en gooi in. “Julle kaartjie was vandag in die posbus,” sê Lynette nadat hulle hom vir sy moeite bedank het. “Isadora het my gesê die departement s’n het ook vandag gekom.” “Dis mooi. Die koevert is net so mooi soos die kaartjie, ek kon nie wag om te sien wat binne-in is nie.” “Verrassing! Die ou professor en sy jong verloofde gaan definitief afhaak.” Lynette is besig om haar strooitjie af te skil. Sy stop skielik. “Haai, Minette, jy sê dit asof jy ’n vonnis oor jouself uitspreek.” Minette voel aan haar glas. “Lekker koud.” “Jy kry nie dalk koue voete nie?” Nie koue voete nie, hoë koors – en nie oor die professor nie! Sy druk haar strooitjie tussen die ys in. Nooit! Sy sal dit nooit erken nie. “Hoe het jy gevoel ’n maand voor jou troue? Was jy reg daarvoor?” vra sy nadat sy ’n lang teug van die soet vloeistof geneem het. “Jy vergeet ek het nie ’n keuse gehad nie. Ek moes trou of twee vooraanstaande families in die skande steek. Nee, maar ek was reg. Ek het agt maande oorgehad om daaraan gewoond te raak en Francois was wonderlik. Hy is steeds.” “Was Pierre toe reeds weg?” “Hoekom vra jy?” “Omdat ek my mond verbygepraat het, jammer. Isadora se praatjies.”
“Ja, hy was, maar hy was toe lankal uit my lewe.” Ons is op gevaarlike terrein, dink Minette benoud. Hoe het ons hier beland? Lynette lag. “Kom ons wees eerlik: Pierre is aantreklik en sexy; hy is ’n beeld van ’n man. Die vrou wat nie voor hom swig nie, is nie van vlees en bloed nie. Ek het agt maande met hom uitgegaan; ek was in matriek en hy in graad tien. Twee jaar jonger, maar twee jaar manliker as die meeste matrieks, én hy het in die eerste rugbyspan gespeel. Toe stel hy my voor aan sy broer op universiteit en toe verloor ek my hart én my kop. Gelukkig was die hele skool se meisiekinders verlief op Pierre en hy was nie lank alleen nie. Toe kom Vania Rosenstrauch in die prentjie en hulle raak só vas, Francois dog hulle trou voor hulle in matriek is. Miskien was hulle net slimmer as ons twee. Mejuffrou Matriek gewees, en Pierre was meneer Matriek. Sy was mooi maar katterig, en nie so slim soos jy nie. Sepie-aktrise geword sonder om een week verder as matriek te studeer. Nugter weet waar sy nou is. Wat dink jy van Pierre?” Die vraag kom skielik, maar omdat Minette dit al heelmiddag verwag, is haar antwoord gereed. “Kan nie sê nie. Ek ken hom nog nie lank genoeg nie.” “Ek bedoel sy looks?” “Hy’s slordig. Sy hare is uit die mode, en ek hou nie van sy tattoos nie.” “Los die tattoos en die hare, hy lyk vir my nes Paul veertig jaar jonger. Pla dit jou nie?” “Nee.” Minette het lanklaas so koelbloedig gelieg. “Sondag was dit vir my so opvallend, ek kon my oë nie van hulle afhou nie. Het jy dit nie raakgesien nie?” “Wel, ja, maar dis logies. Pierre is Paul se seun.” “Vreemd dat hy die een is wat sy ma se dood so moeilik verwerk het. Francois lyk soos sy.” Minette knik. “Ek het foto’s gesien.” “Pierre is sy pa se kind wat voorkoms betref, maar hy was altyd so lief vir sy
ma.” “Hy hou nie van die idee dat sy pa weer trou nie – veral nie met my nie.” “Hy beter van siening verander!” “Julle kan hom nie dwing nie.” “Paul sal hom kortvat.” “Eintlik maak dit nie saak nie. Dalk bly hy nie eens vir die troue nie.” “Wonder wat is sy plan. Kom hy terug Suid-Afrika toe of gaan hy weer Moembaai toe of Londen toe? Sy vakansie in Hawai is verby. Ek hou nogal van daai dolfyne op sy rug. Dis ook ’n kunswerk.” “Ek het nie juis gekyk nie.” “Maar jy het dit gesien?” “Ja, maar ek hou nie van tattoos nie.” “Nie eens die kleintjie nie?” “Miskien die kleintjie, maar hy het die dolfyne oordoen.” “Losbol.” “Wie nou?” “Pierre. Ons praat mos van hom?” Minette weet, maar sy wil maak of sy nie weet nie. “En wild,” sug Lynette. “Nie my smaak nie, ek hou van my sekuriteit. Ek hou van netheid en orde en roetine.” Lynette kyk op haar horlosie. “Dit herinner my daaraan dat my ma sesuur wil ry en dis nou kwart voor. Waar is daardie kelner? Ek is haastig.”
“Los hom, ek sal betaal. Ry jy liewer voor jy laat is.” Lynette haak haar skouersak van die stoelleuning af en oor haar skouer. Sy spring op, plak ’n susterlike soentjie op Minette se wang. “Dankie vir die koeldrank.” “Ek sal vir Paul sê, dan braai julle volgende keer by ons.” “Ná die troue of voor die troue?” “Voor die troue, en Paul wil nog die familie vir ete uitneem. En natuurlik ná die troue ook. Ons word mos familie.” Lynette buk skielik af en kyk Minette in die oë. “Is jy gelukkig?” vra sy ernstig. “Is jy in die wolke oor jou troue?”
11
Minette weet nie of sy die waarheid gepraat het nie. Sy is ’n lewenslustige mens, maar geen mens is altyd ewe gelukkig nie, en vandag voel sy deurmekaar – soms gelukkig, soms ongelukkig, soms selfs hartseer. Diep in haar is daar lewenslus wat soos fonteinwater kan uitborrel, maar vandag voel dit of die fontein toegestop is en of sy die druppels wat nog oor is, moet keer voor dit ook opdroog. Vanselfsprekend mag niemand dit weet nie. Toe Lynette haar so reguit vra, het sy soos blits geglimlag en haar met ’n uitroep gerusgestel: “Vra!” Dit kon enigiets beteken. Maar aan die manier hoe sy uitgeroep het, was dit duidelik dat haar beker oorloop. Lynette het haar arm om haar gesit en haar ’n drukkie gegee. “So, een van die dae is ons skoonsusters. Dan kan ons op mekaar se skouers huil as die Hagenmans ons te na kom.” “Of ons kan resepte uitruil en sorg dat ons hulle gelukkig hou.” “Jy is te goed om waar te wees,” het Lynette gesê en haar nog ’n drukkie gegee. Minette kon huil en sy hét. “Dis . . . dis oor ek so . . . bevoorreg is,” het sy gesnik en ’n snesie gesoek. Wat ’n klug! “Hoekom huil jy so bitterlik?” “Isadora . . . dra elke maand . . . dertig gevriesde maaltye vir Paul aan. Hy gaan haar mis, haar kos, haar . . . kookkuns.” “Moenie jou daaroor verknies nie. Paul is so malverlief op jou, hy sal enigiets eet wat jy hom voer,” het Lynette gepaai en bygevoeg: “Ek sal in elk geval
Isadora se resepte vir jou in die hande kry. Dan speen jy hom so geleidelik, hy sal nie agterkom sy kos smaak anders nie.” Minette steek die laaste pannetjie met Hertzoggies in die oond. Sy sal Isadora se resepte kry en oefen tot sy dit perfek regkry. Sy sal enigiets doen om Paul gelukkig te maak. Sy skuld hom dit, dierbare Paul. Die afgelope maande, vandat hulle verloof is, was wonderlik . . . Was! dink sy verskrik en staan en kyk na die pannetjie met koekies. Haar pa was net so lief vir haar en sy dink nou aan hom. Nee, eintlik dink sy aan ’n pa. Iemand wat haar sal versorg en beskerm, iemand soos Paul wat haar saggies liefkoos en ordentlik soen. Paul wat altyd die motordeur vir haar oophou en elke keer aan tafel haar stoel vir haar uittrek, wat haar gelukwens met haar goeie smaak wanneer sy klere en juwele dra wat sy met sy geld gekoop het. Hy is so trots op haar, hy gloei as hy haar aan sy vriende voorstel. Sy dra sy verloofring: een en ’n kwart karaat, ’n volmaakte steen in witgoud geset. Sy skuld hom, sy moet met hom trou. Nie soos Lynette omdat sy swanger is nie, soos Minette Faber omdat sy nooit ’n voet verkeerd sit nie en beslis nie haar bruidegom op die laaste oomblik in die steek sal laat nie. Paul is haar bruidegom. Sy moet op hom konsentreer – op Paul, nie op Pierre nie. Sy skakel die radio aan, luister na nuusbrokkies, verkeersverslae, enigiets om haar gedagtes af te lei terwyl sy die skottelgoed was. Sy is nog besig toe die huisfoon lui. Dis Paul. “Jy’t ’n besige dag gehad!” sê sy nadat hulle oor en weer gegroet het en hy haar ’n opsomming van sy dag gegee het. “Ja, maar nou ontspan ek, sit en kyk deur die venster hoe Pierre die vis braai.”
Pierre! Haar keel trek toe. Die noem van sy naam is genoeg om haar kop aan die draai te sit en hom in al sy glorie voor haar op te roep. Sy sien hom: spiere, hare, haaitande, tattoos, arrogante houding en soenbare mond. Sy lek oor haar lippe. “O,” is al wat sy uitkry. “Hy’t sy mond verbygepraat oor die Hawaise metode.” “Gaaf, dis gaaf . . . Nou hoef jy nie die rook te trotseer nie.” “Haai, Mina, ek raak by die dag meer allergies.” “Dié dat ek dit waardeer as jy vir ons braai.” “Moenie nou walgooi nie, ek het die skimp gevang.” “Ek het nie geskimp nie, ek het bloot gesê nou hoef jy nie in die rook te staan nie. Dis nie asof ek jou aanval nie, ek gesels. Ek wil met jou gesels.” “Hoekom het jy dan nie gebel nie?” “Omdat . . .” Sy wil nie vir hom sê sy was besig om spesiale koekies vir hom te bak nie, want dan is dit nie meer ’n verrassing nie. “Ek was besig.” Haar blik val op die oop kombuiskas. “Ek’t kaste reggepak. En jy en Pierre moet praat, ek wil julle nie steur nie.” “Hy is moeilik.” Jy ook, wil sy sê, maar sy keer betyds. “Vra hom uit, stel belang. Jy wil mos weet?” “Ek kry hom nie aan die praat nie.” Minette se keel trek toe. Hy het rede – hy het sy pa se verloofde gegryp en gesoen en sy het teruggesoen! “Vertel hom hoe ons verloof is, dis ’n oulike storie.” Paul grinnik. Hy het haar ring ewe romanties in haar wynglas vol wyn gesit. Toe stamp hy die glas om en daar kruip hulle albei onder die tafel in op soek na die
ring. Hy was so op sy senuwees, onseker oor haar, en of sy regtig tot die stap sal oorgaan. “Hy sal lag.” “Vertel hom ek sê dis die mooiste diamant in die land; vertel hom van ons vyfjaarplan.” “Daar lig hy die rooster op, lyk of die vis reg is. Wil jy nie kom saameet nie?” Sy kan haar nie iets haglikers voorstel as ’n aand – spesifiek hierdie aand – alleen saam met Paul en Pierre Hagen nie. “Nee, Paul! Dis julle eerste aand saam. Maak ’n bottel wyn oop en ontspan. Ek het kaste om reg te pak, en die kombuis staan vol vuil skottelgoed.” Hy sug. “Mina, jy . . . Ek het gehoop jy kan help om die ys tussen ons te breek. Maar jy is reg, ek moet dit doen. Wish me luck.” “Good luck!” sê sy en sit die gehoorstuk op die mikkie terug. Soos sy nou voel, het sy baie meer geluk nodig as Paul. Sy staan ’n ruk penregop en haal diep asem. As hy moet weet, loop sy weg. Sy sal hom nooit weer in die oë kan kyk nie. Sê nou Pierre vang duiwel en vertel hom van die soen? Wat dan? Paul sal hom nie glo nie. Hy sal kwaad word, maar hy sal haar nie konfronteer nie. Paul is ’n ridder, ’n ware heer, hy sal haar kant kies. Hy sal Pierre uitjaag en Pierre sal sy goed moet pak en ’n taxi neem lughawe toe. Môre is hy weg. Sy sak in haar groot stoel neer, sy krul haar op en slaan haar arms om haar lyf, probeer onthou hoe sy gevoel het toe Pierre haar omhels het. Raak-raak saggies aan haar mond. Dis nog teer en gevoelig. Dit sal bitter wees om hom nooit weer te sien nie, bitter soos slegte medisyne, maar nodig. Sy behoort aan Paul, hy is haar man, haar toekoms – die bietjie wat hulle saam gaan hê. Want Paul is nege-en-dertig jaar ouer as sy . . . Hoe sy dit ook al probeer ignoreer, sy het al na hom gekyk en gedink hy is nou
wel aantreklik, maar hy is oud en stadig. Sy het ook gewens sy kan die horlosie terugdraai, hom sien soos hy veertig jaar gelede was. Nou het dit gebeur: Pierre het gekom. En haar oorrompel! Sy sit regop, staar deur die venster na ’n klompie geelvinke wat aan die lang lote van oom Piet se pruimboom swaai. Toets dit seker om gou voor die winter nes te bou. Paul het haar nie uit die bloute gevra nie. Sy het vir hom ogies gemaak en hom op die ou end uitgelok. Sy het daardie laatherfsmiddag byna twee jaar gelede met ’n doel by sy kantoor ingeval – en dit was nie om haar navorsing met hom te bespreek nie. Sy bloos as sy daaraan terugdink. Sy was darem regtig skaamteloos en hy onkant gevang toe sy hom vol op die mond gesoen het. Sy mond was sag en sy asem het na peperment geruik. “Kind,” het hy gesê. “Kind, wat maak jy met my?” “Soen jou, professor. Want ek is mal oor jou en ek dink jy is mal oor my ook, is jy nie?” “Ek is, mál, maar nie so nie, dis teen die reëls. Hulle gaan ons skors.” Sy het elke beswaar weggesoen en alles wat hulle daarna in die geheim gedoen het – elke drukkie, elke piksoentjie, elke gesteelde uurtjie – was so opwindend. Die dag toe hulle hul verlowing aangekondig het en Isadora en baie ander se duistere vermoedens bevestig is, kon niks hulle meer keer nie. Nou is die troudatum vas. Sy is lief vir hom. Hy is haar volmaakte man. Pierre is oulik en sexy, maar hy is nie Paul nie, sy ken hom nie. Dis seks wat haar omkrap, dis al. En dis nie belangrik nie. Teen die tyd dat Paul nie meer belangstel nie, sal hulle kinders hê en sy sal so besig wees, sy sal dit nie mis nie. Sy sál nie. Minette kyk buitentoe. ’n Vinknes word genadeloos deur een van die wyfies uitmekaargeruk.
Die huwelik wat sy en Paul gaan bou, is belangriker as seks. Sy sê dit elke keer vir haarself – elke keer as hy wegskram wanneer sy wild raak en hy haar vaderlik betig en opstaan en loop. Hulle het al Sondagmiddae saam op die vrykamer se dubbelbed gaan lê om te rus en nie gerus nie. Twee weke gelede was dit amper, maar toe besluit Paul hy kan nie soos sy oudste seun oor die tou trap nie, hy het hom destyds te veel die kop gewas, hy moet ’n voorbeeld stel. Húlle moet ’n voorbeeld stel en wag tot die nag van hul huwelik. Sy stem saam, maar Paul is darem te oorversigtig. Hy soen haar nie eens soos Pierre nie! Een soen sommer langs die pad en dis ’n mylpaal in haar lewe. Skokkend en wonderlik! Jammer Isadora het toevallig daar verbygery. Sy is nog glad nie gerus oor Isadora nie. Sê nou dié besluit om haar peetseun op te offer sodat sy Paul kan terugkry? Sê nou sy vertel hom wat sy vanoggend in Jonkershoekweg gesien het, nadat Pierre ook gepraat het? Dan sal Paul dit nie los nie; hy sal by haar wil weet of dit die waarheid is. Wat sê sy? As sy sê hoe dit gebeur het, sal hy teleurgesteld wees omdat sy hom nie in die eerste plek vertel het nie. Maar sy wil hom nie seermaak nie. Dis erg genoeg dat Isadora gesien het en die drawwers en miskien nog ander bekendes ook wat verbygekom het. Wie almal? Sy draf nooit weer in daardie rigting nie, nooit weer nie! Paul hou nie daarvan nie en sy het dit gedoen – sy het daar gaan draf. Sy is skuldig. Sy het oortree – op meer as een gebied. Hoe kan sy van Paul verwag om haar ooit weer te vertrou? Sy voel ellendig, só ellendig dat toe die huisfoon weer lui, sy stokstyf sit en kyk in die rigting van die instrument, te bang om te antwoord. Dit raak stil en ná ’n rukkie hoor sy haar selfoon se vrolike gekriek. Kan Paul wees, maar sy is nie lus om met hom te praat nie, haar skuldige gewete sal haar verraai. Sy laat die foon aflui en sluip dan na haar handsak om te kyk wie dit is. Dis Juliana van Julie’s Weddings wat haar trourok maak. Sy het nie ’n boodskap gelos nie, maar het dadelik ’n SMS gestuur: Kan ons
afspreek vir ’n pas? Gou. Minette sug. Die rok kry vorm; sy moet dit aanpas. Die wit wolk waarin sy in die kerkpaadjie gaan afsweef – daardie wolk wat Paul saam met sy beginsels voorhou wanneer die koors tussen hulle te hoog opvlam en hy hom van haar moet afskeur om ’n koue stort te neem. Juliana het sy pak ook bestel. Sy is so ’n beroemde en besige trouklereontwerper dat Minette en Paul haar maande voor die tyd moes nader. Paul koop sy eie pak en hy betaal die strooimeisie en strooijonker se klere ook. Minette se rok kos ’n plaas se prys en oom Hans betaal. Hy doen dit met liefde, sê hy, al moes hy ’n belegginkie losmaak om dit te kan bekostig. Hy het vrede gemaak met die gedagte dat sy aangenome dogter met haar bejaarde professor wil trou; die kêrel is vyf jaar ouer as hyself, maar nie onaardig nie. Paul Hagen is nou wel oud, maar nie sleg nie en baie vrygewig. Oom Hans se wynversameling het geweldig gegroei in die tyd dat hulle mekaar ken, en daarmee saam sy status by die gilde. Die “oukêrel” is tog ’n aanwins vir die familie, was sy bevinding. Minette het haar vererg oor die oukêrel-storie, maar het die geld vir die duur trourok dankbaar aanvaar. Tant Marga bak die troukoek. Trouens, sy het dit ses maande gelede al gebak sodat dit behoorlik kan ryp word. Ná haar aanvanklike besware is sy so entoesiasties dat Minette haar bel wanneer sy wil twyfel, net om weer te hoor hoe tant Marga die naweek voor haar troue wou weghardloop en hoe haar ouma haar gekalmeer het met benoudheiddruppels en rooilaventel. “En my ma?” het Minette eenkeer gevra. “Niks. Jou ma was so lief vir jou pa, sy het nie een oomblik getwyfel nie. Nie dat ek nie lief is vir oom Hans nie, maar ek was oorversigtig. Jou ma was nie so nie. Sy het die dag gegryp en haar oorgegee aan die liefde, elke dag in ekstase. Jou pa en jou ma was soos Romeo en Juliet – jonk en mooi en vroeg getroud. Ook goed, anders sou hulle geluk te kort geduur het. Nee, kindjie, gryp jou geluk, want Paul is nie meer vandag se kind nie. Mens weet nooit, sy hart hou dalk nie.” Sy hart sal gaan staan as hy moet weet wat sy en Pierre vandag onder ’n boom in Jonkershoekweg gedoen het.
Intussen gaan hierdie troue voort! Minette klap haar selfoon oop en soek Juliana se naam. Sy bel die nommer en iemand antwoord dadelik: “Julie’s Weddings!” “Minette Faber hier. Juliana het my ge-SMS om my trourok te kom aanpas.” “Seker nie Juliana nie?” “Ek het die SMS.” “Laat my hoor.” Mense lag en gesels op die agtergrond. “Wil Juliana ’n Minette Faber pas?” hoor Minette die stem vra. “Not now, she’s fitting the minister’s daughter!” “Did you SMS a Minette Faber?” “The old professor’s bride, yes. Make an appointment for tomorrow ASAP!” The old professor? Old? Minette is seker sy het reg gehoor. Die persoon wat die foon geantwoord het, praat weer direk met haar: “Sy wil jou môre aanpas, het jy tyd? Jy is mos die professor se bruid?” “Ja, ek is die ou man se bruid.” “Nice, ek wou altyd met ’n ou man trou en ’n jong weduwee wees, hoe kry jy dit reg?” Minette vererg haar. “Ek trou nie met Paul om ’n weduwee te word nie!” “Sorry, dis bedoel as ’n grap, maar ek besef nou dis ’n bietjie siek. Hoe lyk drieuur môremiddag?” “Ek kan nie drieuur nie,” sê Minette moedswillig. Sy kan, maar sy gaan nie dat hulle haar rondbeveel nie. “Halfdrie?”
“Ek het werk in die middag, kan ek in die oggend kom?” “Agtuur?” “Ek ry nie graag in spitsverkeer nie. Is tienuur oop?” “Goed, tienuur. Ons sal bel as daar probleme is.” “Betyds, asseblief.” “Maak so. Totsiens.” Minette word dadelik afgesny. Sy kyk vir die foon in haar hand. Sy wil graag met iemand praat, maar sy is bang sy kom met die sak patats vorendag. Daarom bel sy nie vir tant Marga nie, ook nie vir Leonie of Lynette nie. Nee, hierdie storie sal sy met haarself moet uitbaklei. Alleen. Sy staan op, maak ’n pot tee en sluk twee Hertzoggies saam met die tee af. Dis lekker. Pierre . . . nee, Paul sal daarvan hou. Sy pak die koekies liefderik in haar mooiste koekblik. Later lê sy in die bed onder die duvet en wonder of Paul en Pierre met mekaar praat, en wat hulle alles met mekaar praat ás hulle praat. Dis nog nie behoorlik herfs nie, maar dis koel en sy trek die ligte kombers ook oor haar. So lê sy en dink aan die dag en raak amper aan die slaap, toe haar selfoon weer lui. Dis Paul. “Hallo, liefling!” “Hallo, Paul.” “Slaap jy?” “Nie op die oomblik nie. Het julle lekker gekuier?” “Min of meer. Maar daar het iets voorgeval.” “Ag nee!” Minette probeer doodgewoon klink, maar haar stem knyp. “Jy verkoue?”
“Sommer niks.” “Het jy vitamien C?” “Benoudheiddruppels en rooilaventel.” “Beteken dit jy twyfel?” “Nee, dit beteken ek is gewapen!” “Hou vas.” “Ek doen.” “Guillaume het laat weet.” “O! Ja?” Wat ’n verligting. Dis nie die soen nie, want Guillaume kon onmoontlik vanoggend in Jonkershoekweg gery het. “Die koeie het almal gekalf. Hy kan nie nou terugkom nie.” “Ag nee, wie kan in sy plek strooi?” “Ek bearbei vir Pierre.” Minette kan nie glo wat sy hoor nie. “Pierre!” gil sy onnodig hard. “Hy is ongetroud en hy is hier.” “Wat? Wat sê hy?” “Hy is moeilik. Maar gee kans, ek sal hom oortuig.” “Moenie te veel sukkel nie. Dis in elk geval ’n vreemde idee vir ’n seun om strooijonker op sy pa se troue te wees. En ek weet nie of Pierre van my hou nie.” Sy klink net so benoud soos sy voel. “Hy ken jou nie.”
“Los hom liewer.” “Wie vra ek dan?” “Iemand, ek weet nie. Iemand anders.” “Laat dit aan my oor. Wat doen jy môre?” “Ek gaan my rok aanpas.” “Kan ek saamgaan?” “Dis ongelukkig om die bruid in haar rok te sien voor die troue. En jy het môre heeldag vergaderings.” “Moet jy alleen ry? Pierre is los, hy kan –” Minette val hom in die rede: “Ek sal Leonie saamneem, moenie jou bekommer nie.” “Sorg dat jy dit doen.” “Paul, van wanneer af vertrou jy my nie?” Hoekom vra sy so ’n vraag? Dis mos nou deel van die leuen! “Dis nie wat ek bedoel het nie – ek vertrou jou. Maar jy moet versigtig wees. As jy nou iets moet oorkom, sal ek dit nie oorleef nie. Ek het jou een dag nie gesien nie en ek is siek, dit voel soos ’n week.” “Vir my ook.” Maar nie om dieselfde rede nie, dink sy skuldig. “Hoe laat is die aanpas môre?” “Tienuur die oggend; ek SMS jou as ek terug is. Sien jou môreaand.” “Goed, môre dan. Lekker slaap. Mis jou.” “Mis jou ook.” Maar toe sy die selfoon toeklap, die bedliggie afskakel en in die donker lê, dink
sy nie aan hom nie. Sy sien Pierre so naby en duidelik asof hy haar weer gaan soen. Sy sit haar vingerpunte op haar mond en druk dit tot dit seer is.
12
Die volgende oggend bel sy Leonie voor ontbyt, maar dié het ’n tandartsafspraak en kan nie saamgaan nie. Dit pas Minette, want sy het nie lus vir geselskap nie. Nogtans voel sy weer eens skuldig toe sy die pad uit Stellenbosch na SomersetWes vat. Sy het Paul belowe om nie alleen te ry nie. Is sy nie besig om al dieper in haar eie leuens verstrengel te raak nie? Dis ’n windstil oggend en die lug en die see is helder en skoon. So moet haar hart ook wees, maar dis presies die teenoorgestelde. Sy is op pad om haar trourok aan te pas en dit voel eerder of sý tandarts toe gaan. Sinéad O’Connor sing met haar soet stem “Nothing compares to you”. Minette ken die woorde en sy maak dit van toeing op haar en Paul en op haar en . . . Pierre. Dit steek soos dolke in haar ontroue hart en sy skakel die radio af. Hoe gaan sy hierdie verkeerde verlange stopsit? Sy verlang na hom – na Pierre en nie na Paul nie. Dalk moet sy maar ’n lessie by haarself leer: die pligsgetroue juffrou Minette Faber wat altyd net met honderd persent perfek tevrede is. Sy moes al nagte deurwerk om ’n taak foutloos af te rond. Haar kaste en laaie is reggepak en silwerskoon, haar gedrag te alle tye onberispelik en korrek – behalwe miskien daardie dag toe sy Paul in sy kantoor beetgekry het. Het sy dan iewers in haar samestelling ’n krakie, ’n wilde streep, onderdrukte begeertes wat soos die duiwel se versoeking haar vreugde wil steel – juis nou dat sy op haar gelukkigste moet wees? Hoekom twyfel sy of sy die regte ding doen deur met Paul Hagen te trou? Dis nie reg nie; sy is tog seker van haar liefde vir hom. Ja, sy is lief vir hom, maar sy begeer skielik iets anders. En sy kan nie, sy mág nie! Oor ’n paar weke moet sy reinwit en suiwer voor die preekstoel staan aan Paul se sy.
Die oop parkeerplek voor Julie’s Weddings wag in die skaduwee net vir haar. Sy trek in, skakel die Mazda se enjin af en klim uit om haar droomrok te gaan aanpas. Die winkeltjie is in die Gregoriaanse styl gebou, met fonteine en wit rose in die tuin, ’n groot komvenster en ’n afdak gestut op pilare waaronder Juliana se klante om smeedystertafeltjies kan sit en tee en versnaperings geniet. Dis meesal vroue, moeders en dogters, met soms ’n bekommerde vader wat die rekening moet betaal, of ’n bevryde verloofde wat sy mening kom gee. Minette kyk op haar horlosie. Sy is vroeg en sy weet uit ondervinding dat Juliana gewoonlik stiptelik is en dat sy ’n halfuur sal moet wag. ’n Koppie tee sal intussen lekker wees. Sy neem plaas by een van die tafeltjies en die kelnerin is dadelik by. “Hoe laat is u afspraak?’ verneem sy vriendelik nadat Minette haar bestelling geplaas het. “Tienuur.” “Mooi, dan is daar tyd vir ’n vinnige teetjie. Iets om te eet?” “Nee, dankie.” “Nes julle bruide is – eet nooit. Maar dis goed, solank julle nie te maer word nie.” Minette kyk haar agterna toe sy wegwaggel na die kombuisluik om die tee te bestel. Sy onthou dat sy vanoggend nog niks geëet het nie, en gisteraand net twee Hertzogkoekies. Sy sal sorg dat sy vanmiddag ’n gesonde slaai en vrugtesap inkry. Sy voel so tam en lusteloos. Dis omdat sy nie reg eet nie en . . . omdat sy iets mis. Die opwinding en vooruitsig om Paul se bruid te wees, die koors. Dis weg! Wat het daarvan geword? Daardie vraag hoef sy nie nog ’n keer te vra nie. Sy het die antwoord. Sy naam is Pierre en sy moet hom uit haar kop sit. Nou! Sy knyp haar oë toe, maak vuis tot haar naels in haar palms inboor en probeer
om Paul se beeld voor haar op te roep. Sy konsentreer so hard, sy skrik toe die kelnerin die skinkbordjie met tee voor haar neersit. “Ingedagte?” vra die nuuskierige vrou. “Sommer . . .” Minette wens Leonie was hier sodat sy iemand anders kon hê om mee te praat. “Dink aan hom, nè?” Minette knik en lig die teepot se deksel op. Die tee is nog baie flou. “As ek julle bruide so sien, wens ek ek het my oë oopgemaak en gedink voor my troue. My kop gebruik en nie my hart nie.” “Dis dalk ’n kombinasie,” sê Minette flouerig. “Kop én hart?” “Kop eerste en dan hart!” sê die kelnerin. “Maar jy moenie vir my luister nie, ek is vandag nie goeie geselskap nie.” Maak twee van ons, dink Minette dankbaar toe die vrou wegdraai om die tafel skuins voor hare op te ruim. Die groepie wat daar gesit het, het opgestaan en is besig om na die ingang te beweeg. Die troupaartjie wat die middelpunt vorm, is só jonk, dit lyk of hulle nog op skool moet wees. Ewe oud. Ewe jonk! Selfs die ma en pa wat die leiding neem, lyk jonk. Almal is opgewek en lag en gesels. Minette kyk weg. Sy mis haar ma, al het sy vir tant Marga. Haar ma sou vandag hier gewees het en saam met haar tee gedrink het, gelukkig gewees het, tevrede omdat haar dogter ’n goeie man kry, ’n gevestigde, vooraanstaande man met ’n gebalanseerde uitkyk op die lewe. ’n Man wat haar werk en haar drome verstaan en wat haar bedagsaam en liefdevol bemin en vertroetel . . . en haar nog nooit soos Pierre gesoen het nie! Amper laat val sy die koppie soos sy vir haar eie gedagtes skrik. Het sy nou ’n obsessie, ná een soen! Maar dis nie net die soen nie. Sondag kon sy nie anders nie, sy het hom van agter haar donkerbril dopgehou.
Elke beweging, elke sierlike tree wat hy gegee het, elke spiersametrekking as hy sy hare oor sy skouer gooi, sy swembroek regtrek, sy handdoek optel en hom droogvryf. Daardie nat swembroekie . . . Sy onthou die bultende geslagsorgaan en word onwillekeurig warm. Paul se losende driekwartbroek is tog so kuis, dit bedek alles. Verbloem seker maar wat hy nie het nie. Trouens, as sy Paul in sy swembroek sien, reageer haar liggaam presies die teenoorgestelde. Dit stoot haar af en sy kyk liewer weg. Sulke dun beentjies by so ’n groot broek, sulke maer ribbes wat net goed lyk in ’n netjiese snyerspak of ’n bonkige winterstrui. Sy het lankal besluit om liewer nie te kyk as Paul dit ooit waag om heeltemal kaal voor haar te staan nie. Maar nou het sy nog ’n probleem: hoe gaan sy deur haar huwelikslewe kom sonder om Paul en Pierre te vergelyk? Dis Pierre se skuld, hy moes in Hawai gebly het! En Paul wil hom boonop vra om sy strooijonker te wees. As Pierre instem, gaan hy saam met hulle voor die kansel staan, haar trouring in sy binnesak hou en vir Paul aangee, kyk hoe hulle ringe uitruil. Sy en Paul sal man en vrou word, en Pierre sal ’n anoreksiese jong dingetjie iewers op ’n strand optel en huis toe bring om aan hulle voor te stel, aan sy pa en sy pa se vrou . . . Juliana se assistent moet twee keer roep voor Minette haar naam hoor. Sy staan op, tel haar handsak op en loop na die paskamer soos iemand wie se nek vir die galgtou gemeet gaan word. Die rok hang reg vir haar en Minette, wat nou glimlag asof sy tandepasta op televisie adverteer, kan haar oë nie van die skepping afhou nie. Die borduurwerk en afronding is nog nie gedoen nie, maar die rok is aanmekaargestik en die wolkeffek wat sy gevra het, is onmiskenbaar. “Juliana, jy is geniaal,” fluister sy toe die rits opgetrek is en sy voor die spieël staan en haarself beskou. Juliana se een assistent sit vir haar die sluier op en drapeer dit om haar gesig; die ander een hang die ragfyn sleep oor haar skouers. Hulle trippel en dans om haar, trek hier iets af, lig daar iets op tot hulle tevrede is. “Dis wat jy wil hê?” Juliana staan skuins agter haar en kyk.
“Presies wat ek wil hê, baie dankie,” sug Minette. “My plesier. Ons wil die soom doen, klim op die platformpie.” Minette klim op en staan. Sy kyk na haar spieëlbeeld: die beeldskone bruid, die pragtige feëprinses van wie sy soveel kere gedroom het. Sy is daardie prinses wat vanoggend so treurig kyk en so effentjies glimlag. Dit ís sy, maar diep in haar hart voel sy of sy nie hier moet wees nie. Of sy enige oomblik gaan wakker word en veilig in haar bed sal lê soos ses jaar gelede toe sy nog onskuldig was en pas op universiteit aangeland het. Sy het met Pieter Britz uitgegaan, ’n eerstejaar soos sy, laf en gelukkig en taamlik onverantwoordelik. Sy het baie hard begin werk nadat hulle uitgemaak het, want Pieter het nie by haar toekomsdrome ingepas nie. Hy was gans te lui en onverantwoordelik, maar kon hy soen! Soos Pierre, amper soos Pierre . . . “Hoe gaan dit met Paul?” vra Juliana, wat staan en toesig hou terwyl haar assistente die soom insteek. Sy sorg dat sy maak of sy opreg belangstel, dink Minette. Maar Juliana is professioneel; sy sal nie ’n voet verkeerd sit nie. Haar persoonlikheid en haar handewerk getuig daarvan. “Baie goed, dankie.” “Hy kry ’n pragtige bruid,” glimlag Juliana. “Dankie.” Niks verder nie. Die soom is in en die twee assistente help Minette uit die rok. Sy trek vinnig aan. “Nog een keer aanpas voor die finale pas,” sê Juliana. “As jy iets drasties verander wil hê, moet jy nou praat.” “Nee, niks, ek is tevrede.” Juliana glimlag nogeens en gee haar ’n kaartjie. “Jou volgende afspraak. Geniet die voorbereidings vir jou huweliksdag.”
“O ja!” Die uitroep wat veronderstel was om opgewonde te klink, kom uit soos ’n pynkreet. Minette gryp haar handsak en stap weg. Die aanpaslokaal is ’n saal van ’n plek. Die deur lyk onmoontlik ver en sy voel selfbewus en lighoofdig, maar sy maak dit. Net voor sy die deur agter haar toetrek, hoor sy een van die assistente sê: “Haastig! Is dit sy wat met daai sedige ou prof gaan trou?” “Ja, shame.” Minette is lus en draai om, ruk die deur oop en skree vir hulle niemand hoef haar jammer te kry nie, sy weet wat sy doen. Sy het hom lief, sy het Paul Hagen lief! Sy ken hom, hy is ’n ou prof, maar hy is nie só sedig nie! Sy doen dit nie. Sy vlug en val amper oor haar eie voete soos sy loop om by haar kar te kom. Vanoggend sou sy nog universiteit toe gaan, maar sy sien nie nou kans vir haar medestudente en -navorsers nie. Sy sien allermins kans vir Isadora Papastefanou. Sy laat glip ’n CD in die speler en ry onder die begeleiding van ’n verwoede Rachmaninoff-rapsodie reguit huis toe. Hoe verder sy ry, hoe minder hoor sy daarvan. Haar hoor én sien is ’n warboel van Paul se liefdesverklarings en die erns waarmee hy hul verhouding bejeën. Die baie kere wat hy die ouderdomskwessie met haar bespreek het, die kanse wat hy haar gegee het om kop uit te trek, en sy wat hom altyd gerusgestel en verseker het dat hy vir haar net so sexy soos Sean Connery is en dat sy hom gelukkig wil maak. Teen die tyd dat sy by die hek van haar meenthuiskompleks indraai, is haar oë vol trane en moet sy mooi kyk of sy ry haar garagedeur se kosyn middeldeur. Sy parkeer genadiglik sonder ’n skrapie, maar sit eers ’n ruk en swelg in haar verdriet voor sy die trane met haar vingerpunte afvee, gelate uitklim en die huis instrompel, reguit na haar gunstelingleunstoel. Daar sit-lê sy gestroop van sinvolle gedagtes na die vinke in die pruimboom en staar. Gelatenheid daal mettertyd oor haar neer. Dis ’n uitgemaakte saak: sy trou met Paul. Wat haar betref, is Pierre net ’n lastige randfiguur en ’n spookbeeld van Paul se verlore jeug. Nes Paul sal sy en Pierre ook oud word – sy dalk gouer as
hy omdat sy sogenaamd met ’n ou professor trou. Die tand van die tyd ontsien niemand, ook nie vir Juliana en haar helpers nie. Met dié troos staan Minette op en berei vir haar ’n gesonde middagete van hoenderslaai en rogbrood. Dit smaak na niks, maar sy eet dit nogtans. Daarna klap sy haar skootrekenaar oop en lees haar e-pos. Die redakteur van Global Ecology is tevrede met haar illustrasies; hy prys haar vir haar deeglike werk. “Goed so,” sê sy hardop. “Nou hoef daai simpel Pierre nie naby my werk te kom nie.” Sy skryf ’n kort nota van dank, antwoord haar ander pos en besef nogeens hoe bevredigend haar werk vir haar is – die werk wat sy van nou af vir die res van haar lewe met Paul Hagen gaan deel. Hulle sal saamwerk soos Marie Curie en haar man P . . . Ag nee, sy naam was Pierre! Minette kners op haar tande. Sy het hulle nog altyd bewonder: Marie en Pierre Curie wat saam soveel baanbrekerswerk gedoen het en toe radium ontdek het. Moet meneer Curie se naam nou ook Pierre wees! Wat is aan die gang? Die naam én die man agtervolg haar. Pierre! Pier-re! Pierre! tik sy en vee dit dadelik weer uit. Weg! Skoon! Dis net ’n naam! Simpel skepsel. Die skerm is skoon. Haar kop ook. Sy kyk op haar rekenaar se horlosie. Dis vyfuur, tyd om reg te maak en Paul by sy huis te verras. Sy gaan hom nie bel nie, sy gaan soontoe soos gewoonlik sonder om vooraf te reël, tensy hy natuurlik bel. Hy bel toe sy in die stort is en los ’n boodskap. Sy bel terug en spreek af dat sy vir aandete kom. Hulle sal sorg, sy hoef nie eens slaai te bring nie. Hulle . . . Minette sê wiskundestellings en Bybelversies op om nie aan Pierre te dink nie.
Die afspraak is vir seweuur, maar sy is sesuur reg. Sy laai haar blik Hertzoggies in, haal diep asem en ry. “Pierre is niks en niemand,” sê sy oor en oor, “niks en niemand vir my nie.” Die mantra werk blykbaar, want toe sy by die lang oprit indraai en stilhou, is sy kalm en klim sy selfvoldaan uit. Sy het haar Afrika-romp aan en plat sandale waarmee sy so sag soos die kussingpootjies van ’n kat trap. Ligvoets loop sy onder die koel bome deur huis toe. Die eike is besig om hul blare te verloor en die somerblomme maak plek vir herfsgeure. Die tuinman was seker vanoggend baie besig, want die blare wat verlede week ’n dik tapyt gemaak het, is bymekaargehark en opgetel. Die laatmiddagson vang die Iceberg-rose en laventelbosse om die fontein, die duiwe koer in die bome en mossies pik op die grasperk sonder om agter te kom dat Minette in die omgewing is. Sy asem die koel lug in en voel tevrede. Sy is lief vir hierdie tuin en sy wil graag haar stempel daarop afdruk. Hier en daar is ou verknotte struike wat moet uit, en sy wil graag meer blomme plant en hoekies inrig waar sy bankies kan neersit en fyntuin maak. Die bome is pragtig, maar hulle moet drasties gesnoei word. Maar die tuin was Laetitia s’n en Paul beskou dit as ’n soort monument waaraan daar nie te veel gepeuter mag word nie. Minette maak of sy saamstem, maar sy sal haar kans kry. Sy sal nie in Laetitia se skaduwee bly nie, en sy dink Paul het dit reeds begin agterkom. Die voordeur staan oop en sy stap in die koel gang af, kry die reuk van ou meubels en politoer, verbeel haar sy ruik ook die Brasso en Silvo wat Saar altyd so kwistig gebruik. Alles is rustig en stil; dis net die sang van die voëls wat haar na binne volg. Tot harde manstemme onverwags haar ore deurboor. Dis Paul en Pierre buite op die agterstoep. Sy gee nie ’n tree verder nie. “Pa maak ’n gek van Pa én van Ma.” “Jou ma is dood; dis nou nege jaar.” “Ja, en ek het respek gehad vir Pa omdat Pa haar nie vergeet het nie.”
“Wie sê ek het haar vergeet?’ “Pa gaan trou!” “Ek trou, maar dis nie te sê ek vergeet jou ma nie. Ek sal haar nooit vergeet nie.” “Maar Pa wil ’n nuwe lewe begin!” “My lewe het in elk geval verander die dag toe jou ma dood is.” “Nie soos nou nie.” “Wat is verkeerd met nou?” “Pa is verkeerd!” “Ek sien. Jy hou nie van Minette nie.” “Ek hou van haar, maar sy is nie reg vir Pa nie.” “Te jonk?” “Pa sê dit.” “Minette is anders; sy is ouer as wat sy lyk.” “Nie oud genoeg om Ma se plek in te neem nie.” “Kyk, Pierre, ons het dit uitgemaak, ek en Minette. Sy weet alles van jou ma en sy is bereid om in haar voetspore te volg. Om mee te begin, is sy doodtevrede om in hierdie huis te woon sonder om dinge omver te gooi; sy is lief vir die tuin soos dit is; sy en Francois en Lynette kom goed klaar; en die kinders –” “Pa, asseblief! Francois is net so bekommerd soos ek, oor dieselfde dinge!” “Val jy my in die rede?” “Ja, want ek kan nie langer na Pa se redenasies luister nie. Dink Pa regtig daai meisiekind gaan hierdie huis so los? Ek het haar plek gesien – dis anders, haar tuin ook. Wat van kinders? Sien Pa kans vir kinders? Sien Pa kans vir seks met haar? Elke dag op Pa se ouderdom? Is dít hoekom Pa met haar wil trou?”
“Nou gaan jy te ver!” “Nee, Pa, dis Pa wat reeds te ver gegaan het sonder om te dink.” “En jy? Jy dink nie, jy sê wat jy wil!” “Ek waarsku Pa: daai meisiekind lyk verniet of suiker nie in haar mond kan smelt nie. Sy is vuurwarm, glo vir my. Sy is agter Pa se geld aan, dis wat!” “Hoe weet jy?” “Ek sien, ek het oë!” “Waar gaan jy?” “Afkoel voor ek ontplof.” Dis op dié noot dat Minette blitsvinnig omspring en maak dat sy wegkom. Sy hardloop kar toe, klim in en ry terug huis toe. Die blik met Hertzoggies het sy in haar haas op die eetkamertafel gelos.
13
By haar huis gekom, hardloop Minette kamer toe en gaan lê op haar bed. Dan onthou sy dat sy die garagedeur oopgelos het, spring op en gaan maak dit toe. Die hele tyd maal Paul en Pierre se rusie deur haar kop. Sy kan nie alles presies onthou nie, maar daar is woorde en sinne wat uitstaan – woorde soos “jonk” en “oud” en “seks” en “geld”. Sy het al soortgelyke woorde in skinderstories gehoor, maar altyd gehoop dit kom nie by Paul uit nie. Die ouderdomskwessie het hulle openhartig bespreek, en hulle het so geraak-raak aan seks, maar geld! Paul is nie suinig nie, en oor geld het hulle nog nooit gestry nie. Maar as sy reg onthou, het hy nie eens probeer om haar te verdedig nie, hy het gesê: Hoe weet jy? Met ander woorde, hy dink óók sy is agter sy geld aan. Hoe kán hy? Sy studeer met ’n beurs, en die trustfonds wat haar ouers vir haar nagelaat het, is nog taamlik sterk, hoewel sy soms sukkel om uit te kom met die vasgestelde maandelikse bedrag. Sy hou uit, want die res word aan haar oorbetaal wanneer sy dertig is, en dan het sy dit dalk nodiger. Paul weet tog dat sy haar eie geld het. Sy betaal sommer alles terug wat hy tot nou toe aan haar gespandeer het! Dis alles nog goed en wel, maar wat sy regtig nie geweet het nie, is dat Paul nog so vas is aan Laetitia. Hy sal Laetitia nooit vergeet nie; haar huis bly soos dit is; Minette sal nie die huis omvergooi nie. Dit sê hy nadat hy haar nuwe gordyne en muurpapier belowe het! Sy het ook nooit besef hy is so onwrikbaar oor die tuin nie. Sy het tog al vir hom saailinge en struike aangedra en geplant en nog nooit iets uitgehaal nie, behalwe die ry verflenterde kannas, nadat sy hom maklik oortuig het hulle gebruik te veel
water. Sy is so kwaad en teleurgesteld, sy kan slange vang. Dit pla haar dat Paul haar nie verdedig het nie. Hoe kan hy toelaat dat Pierre sê suiker kan nie in haar mond smelt nie en dat sy seks soek? Dis tog wat hy bedoel het toe hy gesê het sy’s vuurwarm. En Paul soek net seks by haar en dit sal hy nie eens goed kan regkry nie. Sy voel lus en skree: Paul is ook warm, hy is net ordentlik. Hy wag tot ons trou. Die woord is “troukoors”. Sy sal hom wys: sy en Paul gaan trou en dan kan hy vergeet! Minette gryp die kussing en druk dit teen haar lyf vas. Om te dink Pierre beskuldig haar dat sy swanger is en sê dis hoe sy Paul gevang het, en dan wil hy in dieselfde asem weet of Paul kans sien vir seks elke dag met haar! Die man het seks op sy brein, Paul nie. Sy en Paul gaan seks hê, dis vanselfsprekend, dis deel van getroud wees. Maar Paul ken die reëls en hy hou daarby – meer as wat sy van sy seun kan sê. Sy en Paul sál eendag kinders hê, Paul het belowe en hy sal dit regkry, al moet sy teen daardie tyd skelm Viagra in sy koffie gooi. Nie een van sy kinders hoef te weet hoeveel keer sy en Paul bed toe gaan nie. Sy sal stilbly; sy sal nie vertel nie. Sy kan nie glo Francois is net so negatief soos Pierre nie, en hy en Lynette maak of alles reg is. Sy word so kwaad! Kan Lynette so vals wees? Die telefoon lui en sy stoom nog van boosaardigheid, maar sy staan op en antwoord. “Minette hier.” “Mina, waar is jy?” “By die huis.” “Jy moes al ’n uur gelede hier gewees het.”
“Ek is jammer.” “Wat gaan aan? Is jy siek?” “Ek voel vreeslik.” “Wat is dit?” Ek het jou en Pierre hoor rusie maak, ek is klaar met julle Hagens, ek wil julle nooit weer sien nie! Die gedagtes flits deur haar kop. Sy haal diep asem, klou aan die gehoorstuk vas. Sy is nie impulsief nie; sy het tyd nodig. Sy deurdink en beplan alles wat sy doen en as sy hierdie situasie wil vererger, moet sy nou reageer sonder om die gevolge in ag te neem. Pierre is ’n gevaarlike mannetjie en sy sal hom nie sommerso sy sin gee nie. “Ek dink ek het griep. My kop was seer, toe gaan lê ek ’n bietjie op die bed en toe raak ek aan die slaap.” “Het ek jou wakker gebel?” “Ja . . .” Sy probeer om ellendig te klink. “Hoe voel jy nou? Moet ek jou kom haal?” “Seblief nie. Eet julle, ek is te naar om aan kos te dink. Ek gaan swart tee drink en dan klim ek in die bed.” “Moet ek die dokter bel?” “Nee, ek wil niemand sien nie.” “Jy moenie met jou gesondheid speel nie.” “Ek gaan slaap, ek is moeg.” “Ek kom nou dadelik.” “Los dit, Paul. Ek voel beter as netnou, maar ek is nie lus vir geselskap nie.”
“Is jy seker?” “Doodseker.” “Ek het iets wat ek met jou wil bespreek. Dis dringend.” Minette voel hoe angs soos ’n gogga in haar binnekant begin rondfladder. Dis die troue – hy wil dit afstel noudat die kaartjies klaar uitgestuur is en die trourok halfpad. Pierre het hom deurmekaargekrap. Pierre het alles kom bederf! “O.” Sy klink seker afgehaal, want hy reageer dadelik. “Ek is nie kwaad vir jou nie, iets onverwags het voorgeval. Maar ons praat later daaroor. Lief vir jou, Mina.” “Lief vir jou ook.” Praat ons die waarheid? wonder sy vir die eerste keer vandat hulle dit vir mekaar begin sê het. “Jy seker jy wil nie kom eet nie?” “Doodseker.” “Gee jy om as ek later weer bel?” “Liewer nie, ek gaan slaap.” “Ek is bekommerd oor jou.” “Moenie, dis sommer niks.” “Dan bel ek jou môre. Nie dat ek heeltemal gerus is nie.” “Totsiens, Paul.” Sy sit die gehoorbuis neer voor hy nog ’n beswaar kan opper. Sy wil nie dink aan die iets wat voorgeval het nie. Dis die rusie, wat anders? Sy is bly sy het besluit om by die huis te bly, want nou moet sy van daardie twee af wegbly. Sy skakel die ketel aan en maak vir haar ’n beker sterk swart koffie. Sy is honger, al het Paul haar nog verder omgekrap met sy halwe dreigement oor voorvalle en goed. Hy is ook bekommerd, sy kon dit hoor. Wil mos toelaat dat
Pierre hom terroriseer. Sy haal die blik met brosbeskuitjies uit en tel vier af. Terwyl sy daarmee besig is, onthou sy die Hertzoggies. Sy besef met ’n skok dat sy die blik vol koekies op Paul se eetkamertafel gelos het. Toemaar, soos sy Paul ken, sien hy dit nie raak nie. Sy doop die beskuitjies in haar koffie, kyk nuus op die televisie en gaan tap dan water in die bad. Wat gaan sy doen? As iemand hierdie troue kanselleer, moet dit sý wees, nie Paul of sy kinders nie. Daarna sal sy aansoek doen vir ’n werk iewers oorsee in ’n bos of woestyn waar niemand haar ooit weer sal kry nie. Sy sal weg wees. Maar die rok is perfek en oom Hans het so ’n bohaai gemaak oor die geld wat hy moes uitgee. Die onthaalplek se deposito is reeds betaal en hulle kry dit nie terug nie; die kaartjies is uitgestuur. Dit neem ’n rukkie voor sy besef dat sy nie aan Paul dink nie. Sy is nie spyt om hom te verloor nie, haar hart is nie eens seer as sy aan hom dink nie – al waaroor sy besorg is, is die troureëlings en wat die mense gaan sê. Sy wil nie meer met Paul trou nie, dís wat, maar sy moet. Vandat sy Pierre ontmoet het, is sy totaal en al omgekrap! Voor sy in die bed klim om te slaap, drink sy ’n hele slaappil. Sy droom nie, sy slaap soos ’n klip, tot haar selfoon haar die volgende oggend wakker lui. Dis Paul, wat regtig besorg klink. “Mina, ek bel al van seweuur af. Wat gaan aan?” “Ek het ’n slaappil gedrink. Hoe laat is dit?” “Kwart voor agt, ek staan by die hek.” “Paul, ek gaan nie oopmaak nie.” “Hoekom nie?” “Ek lyk te aaklig.”
“Maak die hek oop, ek sal jou kans gee om te stort en jou tande te borsel. Dan wag ek in die tuin tot jy jou voordeur oopmaak. Maak gou, ek het net ’n uur. Mina! Hek’s oop, ek ry in.” Wat op aarde? Paul is nie so nie, maar vandag klink hy of hy ’n vliegtuig wil haal. Sy kan seker nie vir die res van haar lewe maak of sy siek is nie, hoewel sy vanoggend nie juis vrolik voel nie. Daarom klim sy gou onder die stort in. Die koel water help wonder bo wonder om haar bui te verbeter. Kom wat wil, sê sy vir haarself toe sy die kam deur haar nat hare trek en die voordeur gaan oopmaak. Paul sit by die tuintafeltjie op sy skootrekenaar en werk. “Paul . . .?” groet sy onseker. Hy kyk op en glimlag so breed dat sy vir ’n oomblik van stryk is. Sy het ’n suur frons verwag. “Hallo, liefste.” Hy spring op en kyk haar ondersoekend aan. “Jy lyk nie of jy siek is nie.” “Nou net gestort. Ek voel baie beter, dankie.” Hy kyk haar nog steeds aan, gee ’n tree vorentoe en vat albei haar hande in syne. Hier kom dit, hy gaan haar uitvreet omdat sy gejok het. Maar hy buk oor en soen haar op haar mond. Sy soen hom terug en die teerheid tussen hulle raak haar tot diep in haar hart. “My hare is nat,” keer sy toe hy haar nadertrek en vashou. Al maak haar kop ’n nat kol op sy hemp, los hy haar nie. “Het ek al vir jou gesê jy lyk pragtig met nat hare?” sê hy en druk haar net stywer vas. Sy maak haar uit sy omhelsing los en kyk in sy oë, wat vanoggend so sag soos ’n onskuldige wildsbok s’n lyk. “Nie wat ek kan onthou nie,” antwoord sy. “Dan sê ek dit nou.”
Sy let op dat hy uitgevat is in ’n netjiese broek en hemp met ’n das. Hy lyk vanoggend weer jare jonger as sy drie-en-sestig jaar, niks ouer as veertig nie en sjarmant en vol selfvertroue. “Jy lyk ook pragtig, maar daar is ’n nat kol op jou hemp.” Hy vee daaroor en skuif sy das reg. “Dis niks.” “Kom in, dan blaas ek dit vir jou droog met my haardroër.” Hy kyk op sy horlosie. “Ek glo nie daar’s tyd nie.” “Jy’s haastig?” “Ek wou gisteraand vir jou sê, maar toe jy so olik is, was ek nie seker of ek nog gaan nie.” “Waarheen?” “Johannesburg toe, na die Darwin-simposium. Thomas Bailey van Port Elizabeth sou ’n lesing gelewer het – evolusie van ouersorg by visse. Toe bel hy hulle gisteraand om te kanselleer. Sy vrou is eergister in die hospitaal opgeneem met hartversaking en haar toestand het só versleg dat hy haar nie alleen kan laat nie. My vriende daar by Wits het my al soveel keer uit soortgelyke situasies gered dat ek nie kon weier nie. Maar ek sou hulle vanoggend gebel en gekanselleer het as jy nie beter was nie.” Verligting stroom deur Minette. Dis die Darwin-simposium wat Paul so vroeg aan die gang het, nie die rusie tussen hom en Pierre nie. “Paul, ek het nie hartversaking nie. Gaan as jy wil, dis ’n geleentheid wat jy nie kan mis nie!” “Is jy seker?” “Doodseker.” “Die eerste lesing is vanmiddag – my vliegtuig vertrek tienuur. Ek wil jou nie los met die troureëlings nie, definitief nie as jy siek is nie. Jy beteken vir my meer as enige simposium en ek wil jou nie nou in die steek laat nie. Ek sal amper ’n
week weg wees.” Hy lyk soos ’n seuntjie wat na ’n partytjie uitgenooi is en sy gun hom dit van harte. Drie maande gelede het hy ’n uitnodiging na hierdie spesifieke simposium van die hand gewys, juis omdat dit met die troue se voorbereidings sou bots. Sy het toe al gevoel dat dit ’n onnodige opoffering was. “Ek ken Thomas en Christine al soveel jare, ek en Thomas het ’n pad geloop met hierdie navorsing. Ek weet wat dit behels en hy het gevra dat hulle my nader.” “Paul, beskou dit as ’n teken dat jy daar moet wees. Jy kan dit nie misloop nie en jy is nodig.” “Hulle wil hê ek moet my referaat oor alternatiewe voortplantingstaktieke by vokaliserende vis ook kom voordra, en vrae beantwoord.” “Doen dit.” “Maar dit beteken dat ek ’n reeks lesings moet lewer. Ek sal drie dae weg wees.” “Wat kan verkeerd loop? Jou troupak is bestel.” “Ek kon nog nie skoene kry nie.” “Jy kan skoene koop in Johannesburg – dalk makliker as hier. Die kerk is bespreek en die onthaal is gereël.” Paul lyk of hy afblaas. “Ek het geweet jy sal verstaan. Dankie, my liefste, liefste Mina.” Hy neem haar weer in sy arms en druk haar vas. Sy voel hoe haar borste meegee teen sy benerige ribbekas en teerheid oorweldig haar. Sy slaan haar arms om sy skraal rug, vlei haar kop teen sy bors aan en ontspan. Hy ruik weer so heerlik na die Hugo Boss wat sy vir hom koop. Sy voel klein en veilig in sy omhelsing. Sy is lief vir hom. “Wie vat jou lughawe toe?” vra sy toe hulle mekaar eindelik loslaat. “Isadora gaan ook en sy het klaar ’n taxi bespreek. Hulle kom my sommer hier
oplaai. Gee jy om om die kar huis toe te vat? Pierre sal jou terugbring.” Minette is verstom. Sy het skaars van Isadora herstel, toe kom hy met Pierre. Dit voel soos ’n uitgewerkte plan, maar Paul lyk so onskuldig dat sy nie kan glo hy sal hom by iets verkeerds laat intrek nie. Hy is eenvoudig te toe. Tensy Isadora agteraf gekonkel het. “Isadora is mos genooi om ’n referaat te lewer,” voeg hy by. “Alternatiewe paringstaktieke en ekstreme manlike dimorfie in vyeperdebye?” Minette moes die lesing al by drie geleenthede deursit en apploudiseer. “Hoe het jy geweet?” vra Paul weer so onskuldig dat sy wonder of hy ooit gister agtergekom het Pierre maak rusie met hom. Maar nee, sy het gehoor wat sy gehoor het en Paul was kwaad. Vanoggend maak hy of hy van niks weet nie. Sou hulle dit uitgepraat en vrede gemaak het voor hulle gaan slaap het? Sy durf nie vra nie. Daar is ook nie tyd nie, want Paul se selfoon lui en hy maak verskoning. “Isadora,” sê hy vir Minette. “Hallo, Dora.” Dit grief Minette dat hy haar Dora noem. Klink gans te veel na ’n liefnaampie. Al is hy nie die enigste een wat Isadora soms Dora noem nie, hou Minette nie daarvan nie. Soos gewoonlik praat Isadora dat hoor en sien vergaan. Minette hoor elke woord, al is die selfoon teen Paul se oor. “Skattebol, waar is jy nou?” “By Minette, soos ons afgespreek het.” “Moet ons jou oplaai, kom jy nou saam? Is Minette reg?” “Ja, sy is. Is jy naby?” “Het jy gepak, het jy jou goed of moet ons nog eers weer by jou huis aanry? Dit
word laat.” “My tasse is hier, ek wag vir jou.” “Goed, ons sien jou oor vyf minute, wat druk ons by die hek?” “Veertien a en ’n sterretjie.” “Veertien a en ’n sterretjie. Staan gereed!” Paul klap sy selfoon toe. Hy lyk sowaar opgewonde. “Ek sien só uit na hierdie simposium. Kan ek gou die badkamer gebruik?” Minette volg hom die huis in. Hy gaan badkamer toe en sy gaan kombuis toe en skink gou vir hom ’n glas vrugtesap. Dalk is dit goed dat sy hom ’n paar dae nie sien nie. Dalk is dit net wat sy nodig het om finaal te besluit. Vir Pierre sal sy koel en kalm op ’n afstand hou. Isadora lui die hekklokkie voor die vyf minute behoorlik verstryk het. Paul kan net die helfte van sy vrugtesap sluk en Minette met verspotte piksoentjies groet voor Isadora in haar volle glorie in die kombuisdeur verskyn. Sy is geklee in ’n swart laag-op-laag-uitrusting versier met etniese halssnoere en armbande. Haar swart vlegsel is om haar kop gedraai en met hoedenaalde vasgesteek. “Drink klaar, Paul, ons is laat,” groet sy luid. “Hallo, Minette-skattebol. Maar jy lyk g’n siek nie, wat het jou gisteraand makeer?” “Wat dit ook al was, dis gelukkig nou oor,” antwoord Minette liefies. “Jammer jy kan nie saamgaan nie, maar Paul sou ook nie gegaan het nie,” maak Isadora verskoning en dit klink leedvermakerig. “Ek het werk hier. Julle moet dit geniet.” Minette help Paul om sy tas, handbagasie en skootrekenaar in die taxi te pak. Sy maak seker dat hy sy motorsleutel aan haar oorhandig, sy groet hulle albei en gaan in om die hekkode te druk. Sy luister hoe die taxi wegtrek en voel verlig. Die kans dat hulle mekaar oor die rusie van gisteraand kan beetpak, is vereers heeltemal onmoontlik.
Sorgvuldig trek sy Paul se BMW onder die afdak langs haar garage in. Sy is glad nie van plan om Pierre te bel nie. As hy die kar wil kom haal, kan hy haar kontak.
14
Die dag gaan verby, nog ’n dag en nog ’n dag. ’n Stoflaag vorm op die kar onder die afdak. Pierre bel nie. Paul bel elke aand. Hy is opgewonde oor die seminaar en bespreek sommige van die lesings met Minette. Hy belowe om drukstukke saam te bring, hy e-pos vir haar ’n lys webwerwe wat sy getrou besoek en wat haar inspireer om haar eie bydraes te maak. Sy gaan draf elke oggend vroeg, maar vermy die pad Jonkershoek toe. Om halfagt gaan sy werk toe en sit tot sesuur op kantoor; saans val sy doodmoeg in haar bed. Die naweek breek aan – ’n langnaweek, omdat dit Maandag Vryheidsdag is. Paul laat weet hy is uitgenooi na ’n kollega se Bosveldplaas waar hy rare riviervisse ontdek het – lyk of hulle met koi uitgebaster het. Dit moet hy sien. “Waar’s Isadora?” kan Minette nie help om te vra nie. Is sy jaloers? “O, sy kuier by ’n doktor Chris Smith wat ook navorsing doen oor die vyeperdeby,” antwoord Paul vinnig, dalk té vinnig. “Ons haak vas, Mina. Jy weet hoe dit gaan – die werk gryp jou en los jou nie. Isadora sal reël vir ’n later vlug; ek sal bel wanneer sy na my toe deurkom.” “Solank jy betyds is vir die troue.” “Natuurlik, my liefling, wat dink jy!” Wat dink ek? Ek dink niks meer nie, ek leef net van dag tot dag, begrawe my in my werk. Jou kar is nog hier, ingeval jy belangstel. Ek hoor niks van Pierre nie en ek wil ook nie. “Ek terg sommer. Lief vir jou,” sluit sy die gesprek af.
Sy was bang hy vra uit oor die kar. Maar hy sal nie, want as Paul eers betrokke raak by een of ander natuurraaisel soos uitgebasterde koivisse, vergeet hy om te eet. Hy vergeet watter dag dit is, hy skeer nie, hy was nie sy hare nie en hy trek nie ’n skoon hemp aan nie. Hy verander in iemand wat sy nie wil ken nie, maar wat sy tot nou toe met liefde verdra het omdat dit darem net by uitsonderlike geleenthede gebeur. Professors raak nou maar eenmaal soms verstrooid. Sy kan háár professor gewoonlik deur ’n ring trek en hy is oor die algemeen goed in beheer. Maar teen Vrydagaand kan sy hoor hy is vasgevang. Sy gesprekke oor alledaagse dinge raak vaag en langdradig, maar wanneer hy die onderwerp van koivisbesoedeling beetkry, is hy sy ou briljante self. Hy gee sy mening asof hy reeds besig is met ’n uitgebreide dissertasie. Sy kan haar voorstel hoe hy en die Bosveldprofessor ure en dae en nagte in sy tuislaboratorium deurbring, want dié plek het Paul in liriese detail vir haar beskryf. Hulle is ernstig aan die werk, dis ’n feit, maar sy is doodseker Paul se vriend voer hom saans om die vuur met maroela-mampoer. Soms sleep sy tong as hy praat en sy begin dink dis ’n wonderwerk dat hy onthou om haar elke aand te bel. Saterdagmiddag kry sy die BMW jammer en sy staan die kar en afspuit toe haar huisfoon lui. Dis Lynette. “Jammer ek bel nou eers; ons het ’n vreeslike week agter die rug. Die seuns het waterpokkies en nou lyk dit of Ettie ook inval.” Minette voel sleg. “Haai, Lynette, en ek weet nie eens nie. Hoe gaan dit nou?” “Ek kon jou gebel het, maar ek het skaars kans gekry om my te draai. Ons het mos darem Maandag gekuier.” “Toevallig. Ek is jammer, maar ek was besig by die departement.” “Ek glo so, met Isadora en Paul albei weg.” “Nee, wag nou, ek staan nog nie in vir hulle nie. Paul se lesings is afgehandel, en Isadora het seker reëlings getref met Geert. Ek het die kans gebruik om in te haal op voorbereiding vir my navorsing. Ek neem mos nou Junie én Julie vakansie.” “Wittebrood en . . .?”
“Wittebrood en huis regpak; ek trek Julie Hagenhof toe.” “Ja, en Hagenhof het ’n opknap nodig. Ek kan nie wag om te sien wat jy met daai kasarm gaan doen nie. Wat hoor jy van Paul?” “Hy is deurmekaar met gebasterde koivisse, maar hy bel elke aand.” “Tipies! Besef hy nie die troue is om die draai nie?” “Dis nog ’n volle maand, Lynette. En hy kan tog nou niks hier doen nie.” “Jy is te goed. Terloops, ek het vanoggend twee van jou Hertzoggies by my tee gehad.” “Hoe nou?” “Saar se Bettie het kom inslaap om my met die kinders te help, toe vat ek haar Hagenhof toe om Saar te help vensters was.” “En Saar maak vir jou tee?” “Jip, en bedien dit met jou Hertzoggies. Pierre dink dis Isadora wat dit gebak het. Maar dis jou blik en ek weet jy’t dit spesiaal vir Paul gebak. Pierre ryg hulle in.” Minette dink aan die aand toe sy die blik koekies op die eetkamertafel vergeet het. Die volgende dag is Paul Johannesburg toe. Hy het dit seker nie raakgesien nie en nou eet Pierre alles op, die vark. “Ek sal weer vir Paul bak,” sê sy flou. “Pierre stry met my – hy kan nie glo jy weet hoe die binnekant van ’n kombuis lyk nie, wat nog te sê outydse koekies bak! Hy het maar sy idee van hoe sy pa se vrou moet lyk. Wees versigtig.” “Dankie dat jy my waarsku. Maar hy is nie alleen nie, die meeste mense dink steeds ek en Paul gaan nie uitwerk nie.” “Haai, jy moenie jou te veel steur nie! Dis ongewoon, maar dis vir julle om almal verkeerd te bewys.”
Minette wil nie met Lynette stry nie, nie terwyl haar kinders siek is nie en nie terwyl sy haar duidelik wil waarsku oor Pierre se houding nie. Dit terwyl Lynette en Francois volgens wat sy daardie aand gehoor het self twyfel. Wat hét Lynette en Pierre alles met mekaar te prate gehad oor vanoggend se koppie tee en háár Hertzoggies wat sy vir Paul gebak het? “Wel, die troue is op dreef. Oor ’n paar weke is ek mevrou Hagen.” “Hoe gaan dit met die reëlings?” “Koorsig. Die antwoorde op die uitnodigings begin deurkom.” “Jou rok?” “Ongelooflik, Juliana is fantasties!” “Is dit klaar?” “Ek moet die vyftiende weer aanpas. As jy wil, kan jy saamkom.” “Sal graag, die kinders het hopelik teen daardie tyd opgehou krap.” “Jy moet sê as jy hulp nodig het. Ek het meer tyd noudat Paul nie hier is nie.” “Bly weg voor jy dit ook kry en jou wittebrood bederf. Troukoors is erg genoeg!” “Praat jy!” “Sit jy die naweek alleen?” “Glad nie. Leonie kom kuier môre, en Maandag gaan ek na tant Marga-hulle. Hoop jou naweek is beter as jou week.” “Francois is darem hier om te help met Ettie, arme kleintjie.” “Gee haar ’n drukkie vir my part.” “Ek sal. Glo nie sy sal so siek soos die seuns wees nie. Sy drink nog een keer per dag aan my en dit help. Oeps, sy’s wakker. Sien jou weer, baai!”
Die gehoorbuis klap aan die ander kant op die mikkie neer en Minette is skielik tranerig. Sy en Lynette het ’n goeie verhouding opgebou en sy sien uit daarna om vir die res van haar lewe aan Lynette en haar gesin verbind te wees, laggies en trane te deel en raad te vra as sy ook eendag kinders met waterpokkies het. Lynette is gaaf teenoor haar; sy tree op asof sy haar aanvaar as skoonmoeder of skoonsuster of wat hulle ook al van haar gaan maak, maar Lynette moes ’n wilsbesluit neem om daarby uit te kom. Sy het haar wel deeglik probeer afraai. Ná wat Minette nou die aand gehoor het, is sy nie so seker van Lynette se lojaliteit nie. Maar niks is ooit net swart of wit nie, en Lynette is nog steeds haar goeie vriendin. Minette loop yskas toe, haal ’n dosie vrugtesap uit, bekyk dit en besluit dat sy ’n koue bier verdien. Die oproep het tussenin gekom en die kar moet van voor af afgespuit word. Sy sal haar trots in haar sak moet steek, Hagenhof bel en Paul se kar in die garage gaan stoot voor dit weer stof optel. Dalk Sondag ná kerk. Ja, sy sal Sondag kerk toe gaan met die BMW en daarna reguit Hagenhof toe ry. Sy sal vir Leonie bel en haar vra of sy haar daar kan oplaai. Sy neem nog ’n sluk bier en skakel Leonie se nommer. Die foon lui lank en dan neem die antwoordmasjien oor. Minette luister en los ’n boodskap, al vermoed sy dis tevergeefs. Leonie is waarskynlik huis toe na haar ouers se plaas in die Ceres-distrik, of dalk weg vir die naweek saam met die Thys-man wat sy ’n paar maande gelede ontmoet het. Oulike ou met rooi krulhare en sproete, ’n mooi glimlag en spiere om van te droom. Minette blaai deur haar telefoonboekie. Wie kan sy vra om haar by Hagenhof op te laai? Die afspraak was dat Pierre haar sou terugbring, maar sy dooi voor sy hom ’n guns vra. Wat sy ook kan doen, is om ’n kans te waag en as hy nie beskikbaar is nie, die kar weer terug te bring. Om van Hagenhof af hierheen te loop is ver, dit doen sy nie.
So breek Sondag aan. Toe Minette wakker word, reën dit. Sy lê ’n ruk lank en
luister na die druppels wat teen die vensterruit vasslaan. Die eerste herfsreën kom nie altyd so skelm nie, maar sy het nie juis die weervoorspelling dopgehou nie. Die luggie wat van buite af inkom, ruik na nat gras en modderwater. Sien sy kans om uit te ry? Of sal sy liewer lê en lees en koffie en roosterbrood in die bed geniet? Nee wat, dis tog nie lekker as sy dit vir haarself moet aandra nie. Een van die dae gaan sy bederf word. Paul sal dit doen – hy is daardie soort man. Ontbyt in die bed met ’n blommetjie op die skinkbord. Rustigheid en koerante in die bed. Dis hoe hy en Laetitia glo hul Saterdagoggende begin het, maar vroeg, want teen agtuur ry hy universiteit toe en begin Laetitia in die tuin. Altyd ’n vlieg in die salf, altyd iets wat die volmaaktheid bederf. Sy het hom nog nie gewaarsku nie, maar as sy ontbyt in die bed kry, wil sy laat slaap ook. Hy weet dit nog nie, maar wanneer hulle eers getroud is, sal hy baie van sy idees oor die huwelik moet verander. Intussen bly sy stil en maak of sy saamstem. Sy was immers nog nooit getroud nie, en wie is sy om Paul wat ondervinding het op foute te wys? Hy het nie gister gebel nie. Sy is teleurgesteld, maar sy los hom. Miskien wil hy haar verras en stap hy vanmiddag hier in met sy koivisstories en ’n bos blomme wat hy op die lughawe gekoop het. As hy hier was, sou hy haar kom oplaai het vir kerk. Hulle gaan elke Sondag en hulle het hul hoekie waar hulle altyd sit. Vandag sal sy liewer agterlangs plaasneem. Sy sal vroeg gaan sodat die studente nie al die plekke voor haar wegraap nie. Dit word laat en sy sal moet gou maak. Maar toe sy voor haar klerekas staan, kan sy nie besluit wat om aan te trek nie. Met Paul aan haar sy is dit maklik. Hy hou daarvan dat sy afgerond lyk, verkieslik ’n romp en ’n baadjie dra met kouse en hofskoene, én pêrels. Vandag wil sy wegbreek en anders wees. Dit reën steeds. Die stoflagie op die paaie sal modderstraaltjies maak en dit gaan koel wees. Sy haal ’n paar jeans uit, ’n sagte persblou oorhangbloes en insteeksandale. Wanneer laas het sy só kerk toe gegaan? In haar eerste jaar, daardie heerlike mal dae toe sy nog jonk was en graag natgereën het. Vanoggend het sy haar sambreel byderhand. Gelukkig hou die reën ’n rukkie op.
Dit het sterk geval, want die takke van die struike hang swaar van die druppels en die laat-rose is pap van al die water. Sy is bly sy het die kar gister gewas, want hy blink nog toe sy inklim. Parkering by die kerk is altyd ’n probleem, maar Paul was soveel jare ouderling dat hy ’n plek het wat spesiaal vir hom gehou word. Sy ry reguit soontoe. Toe die karwag die nommerplaat sien, haal hy die ketting af en laat haar deur. Die reën het opgehou en die kerkgangers kry kans om met droë sambrele by die banke in te skuif. Minette gaan sit agterlangs soos sy besluit het. Die vrou van een van die ouer professors het haar juis aangekyk asof sy haar nie ken nie – natuurlik die jeans. Minette het vriendelik gegroet, maar ’n stywe kopknik gekry. Sy is dankbaar toe sy in ’n hoekie kan neersak waar niemand haar ken nie. Almal om haar lyk vreemd, behalwe . . . die man met die kortgeskeerde kop en die seester-tatoeëermerk op sy nek. Hy sit twee banke voor haar. Minette weet nie of dit regtig hy is nie. Pierre het hare wat op sy skouers hang en hierdie man se hare is nêrens langer as een sentimeter nie, stomp afgeskeer. Dit laat sy gesig skraal vertoon en beklemtoon ’n paar oulike elfie-ore. Dis koel en ’n briesie waai deur die oop venster, maar sy word onmiddellik warm. Ís dit Pierre? Of soek sy hom waar sy hom beslis nie sal kry nie? Die seester op sy nek is een van sy belangrike kentekens. Die man se skouers is so breed soos Pierre s’n, maar hy het ’n langmouhemp aan en sy kan nie sien of hy gespierde boarms het nie. Sy moet wegkyk en sy probeer, maar hy is reg in haar siglyn en hoe meer sy kyk, hoe meer lyk hy soos Pierre. Dis ’n sangdiens. Die predikant se boodskap is kort, want die orrelis lewer ’n uitvoering. Hy speel Bach en Mozart, en die Universiteitskoor tree op en sing pragtige koorwerke. Die gemeente sing die slotsang saam met die koor. Dis ’n besonderse diens en Minette is bly sy het gekom, maar die man met die seester op sy nek trek haar aandag af. Dit pla haar dat sy aan Pierre bly dink, want dit kan nie hy wees nie, dis nie sy hare nie. Maar as dit hy is, moet sy vinnig wegkom.
Die slotsang hang nog in die lug, toe stap sy uit. Dit het intussen weer hard begin reën. Een ná die ander slaan mense hul sambrele oop. Minette doen dit ook en hardloop om die kerk na die plek waar sy Paul se kar geparkeer het. Sy reën sopnat in die proses van oopsluit en inklim en sit en bewe terwyl sy vir die verkeer wag om minder te word. Sal sy dit waag om by Hagenhof aan te ry? Sy skakel die kar en die lugreëlaar aan en wag. Die verkeer is druk en sy haal haar selfoon uit haar handsak en sit dit aan. Geen boodskap van Paul nie. Sy skakel sy nommer, maar sy foon is af. Sy kan nie eens ’n boodskap laat nie. Was kerk toe, mooi musiekdiens, gaan nou huis toe, hoop jy het ’n lekker dag, SMS sy vir hom. Toe dit veilig is, ry sy agteruit en kies die pad Hagenhof toe. Dis mos waar: sy gáán huis toe. En as hy dalk intussen teruggekom het en tuis is, sal hy baie bly wees om haar te sien. Sy ook, om hom te sien. Hoe verder sy ry, hoe vinniger klop haar hart. Hagenhof se hekke hang oop en daaroor is sy dankbaar, want dit sous. Sy ry stadig met die oprit op. Die dubbelgarage se deure staan oop. Paul se bakkie waarmee hy veldwerk doen, was uit. Sy kan dit deur die BMW se venster sien: die bakkie is nat en staan in ’n plas water. Sy hou stil en sit ’n rukkie voor sy die deur oopmaak. Reën sif op die sinkdak van die afdak voor die garage neer. Sy het ’n sleutel van die agterdeur wat Paul vir haar gegee het om te hou ingeval hy hom uitsluit, maar sy het dit by die huis gelos. As sy vandag hier wil inkom, sal sy moet aanklop. Sy is nou hier. Hoekom is sy bang? Sy ken die huis. Dis Paul se huis – háár huis oor ’n maand of twee. Hoekom voel sy soos ’n onwelkome gas? Sy is die ene bewerasie; sy slaan haar arms om haar lyf. Haar oorhangbloes het natgereën en voel klam en koud teen haar vel. Sy nies. Die lugreëlaar van die kar het nie veel gehelp om haar droog te kry nie. As Paul hier is, kan sy een van sy hemde leen en haar bloes in die tuimeldroër droogmaak. Miskien ís hy hier, miskien het Pierre hom by die lughawe gaan haal, dalk het hulle pas hier aangekom? Maar wat van die man met die seester
wat twee banke voor haar in die kerk gesit het? Sê nou dit was Pierre en hy het voor haar hier aangekom? Sy het ’n ruk by die kerk gesit en wag. Sy haal diep asem. Daar is net een manier om uit te vind: sy moet uitklim en aanklop. Sy slaan die sonskerm met die spieëltjie af, trek haar vingers deur haar hare wat klam aan haar kop vassit. Sy het sleg natgereën en as sy langer hier sit, het sy môre griep of longontsteking. Sy maak die motordeur oop. Reën stort op die dak neer; ’n vlaag fyn druppeltjies waai van buite af in. Die bome in die tuin buig onder die aanslag van die water. Sy glo nie iemand sal hoor as sy aan die agterdeur klop nie en sy gaan nie in die wind staan met haar nat lyf nie. Sy trek die kardeur weer toe en haal haar selfoon uit, bel Paul se selnommer. Dis nog steeds af. Hy het al weer vergeet om dit aan te sit toe hy van die vliegtuig afklim, Paul kan so vergeetagtig wees. Sy vervies haar en bel die huisfoon. Dit lui ’n ruk voor iemand antwoord. “Goeiedag?” Klink soos Paul. “Paul?” vra sy. “Nee, Pierre.” “Pierre,” sê sy en is self verbaas oor die kilheid in haar stem. “Minette hier. Kan ek met Paul praat?” “Ekskuus?” “Kan ek met Paul praat?” “Waarvandaan bel jy?” “Maak nie saak nie, roep vir Paul.” “My pa is nie hier nie. Jy behoort te weet.” “O.” “Bel sy sel.”
“Ek het, dis af. Maar ek dag hy’s dalk hier, ek meen by die huis.” “Het julle twee stry gekry?” “Nee!” “Hoekom soek jy hom dan?” “Ek het gedink . . . Ek sit in die garage, ek het die BMW gebring. Gee jy om om my huis toe te neem?” “Goeiste, vroumens, hoekom sê jy nie so nie!” Kaplaks! val die huisfoon op die mikkie. Minette is rooi van vernedering en woede. Sy kon hom reguit benader het, maar toe moet sy jakkalsdraaie gooi asof sy oor hom verleë is. Sy sit die selfoon in haar handsak terug. Sy bibber só dat haar tande klap en sy haar mond styf moet toeknyp en deur haar neus asemhaal – hard. Klink soos ’n wildekat wat gereed maak om aan te val. Voor sy vergeet, soek sy op die motor se vloer rond vir haar sambreel. Sy kry dit en toe sy opkyk, gaan die agterdeur oop. Die man wat twee banke voor haar in die kerk gesit het, kom te voorskyn. Pierre het sy hare afgeskeer. Waarvoor? Dit laat hom ouer lyk, streng en kwaai. Hy frons en sy gesig word skerp en skraal. Maar hy is nog Pierre en een kyk na hom verander haar lyf in jellie. Nou moet sy kophou. Sy trek die sleutels uit, maak die deur oop en klim uit. Die sementvloer van die garage is koud, die lug is koud en dit reën. “Misverstand!” roep sy uit. Hy tree nader, hou sy hand uit. “Kom in.” “Eintlik kan jy my net huis toe neem, ek het die kar gebring.” “Jy sal ook ’n dag soos vandag kies.”
“Dit het nie so gereën toe ek by die huis weg is nie.” “Kom in, ek maak eers tee.” “Dis nie nodig nie.” “Kyk, ek kom nou net uit die kerk, jy kan my vertrou.” “Ek’s nie bang vir jou nie.” “Drink ’n koppie tee saam met my. Isadora het sulke lekker Hertzogkoekies gebak, ek dink daar is nog een vir ons elkeen.” Dit laat Minette lekkerkry: dat sy weet dis nie Isadora se koekies nie, dis hare en hy is verkeerd. Het Lynette hom nie gesê nie? “Goed,” antwoord sy geamuseerd. “Sal seker nie kwaad doen nie.” Hy hou die kombuisdeur vir haar oop. Sy word verwelkom deur die geur van uie wat braai. “Ek kook sop,” maak hy verskoning. “Eet jy oesters?” Die kombuis is gesellig en warm. Daar staan ’n blikkie oesters op die tafel, ’n mengbak, melk en ’n pakkie sop. “Jy’t gesê jy maak tee.” “Eet hier, ek nooi jou.” Sy bly staan, ’n ent van hom af. “Hoekom is jy skielik so ordentlik?” Hy kyk haar in die oë. Daar is iets in sy uitdrukking wat haar aantrek, iets wat sy bang is om te vertolk, iets soos begeerte? “Ek wag al die hele week vir jou,” sê hy. Sy moet aan die naaste stoelleuning vasklou om nie na hom te hardloop nie. “Ek het die kar gebring, dis al,” hoor sy haarself sê.
“Dis die verskoning.” “Dis wat jou pa my gevra het om te doen.” Hy grinnik. “Sit, ek maak tee.” “Nee, dankie! Vat my huis toe, of moet ek vir Francois bel om my te kom haal?” Hy is op pad om die ketel aan te skakel, maar hy stol in sy spore. “Met die bakkie of met die BMW?” Sy gooi die BMW se sleutels op die tafel. “Maak nie saak nie. Vat my net huis toe.” Hy tel dit op en loop met lang treë agterdeur toe. Minette moet hom volg. Hy klim aan die bestuurderskant van die BMW in en hou die deur van binne vir haar oop, terwyl sy soos ’n simpel natgereënde hoender aan die ander kant moet staan en wag! Sy krul haar in haar sitplek op. Hulle ry die hele ent pad in stilte, ’n wolk stilte wat dik soos die mis in die strate om hulle hang. Sy het haar arms om haar lyf en sy kry koud, maar hy skakel nie die verwarmer aan nie. Hy kyk stip voor hom uit, ’n diep keep tussen sy oë, lyne om sy mondhoeke. Sy wil huil, maar sy hou haar in. Eintlik kon sy maar by hom tee gedrink het, dalk probeer het om hom beter te leer ken.
15
Die nag slaap sy sleg. Sy is bang Paul bel en sy wil nie ’n slaappil drink nie. Teen middernag gee sy op en drink warm melk en Dormica. Die wekker maak haar die volgende oggend sesuur wakker, maar sy is nie uitgeslaap nie. Sy draai om en slaap tot agtuur. Toe bel sy vir Paul, maar kry weer nie antwoord nie. Dis ’n reënerige vakansiedag en sy het nêrens om te gaan nie. Sy bly in die bed tot skuins voor twaalfuur, eet ’n kaastoebroodjie en klim terug in die bed. Kry haarself jammer. Paul se foon bly dood. Waar ís hy? Sy oorweeg dit om Lynette te bel, maar besluit daarteen. Reën spat teen die ruite. Die vinkwyfie het die nes weer stukkend geruk. Die mannetjie het sy bouwerk gestaak en sit kroes tussen sy vere en pik. Minette probeer lees. Sy is in die middel van Empire Falls wat Leonie vir haar geleen het, maar sy het so lanklaas kans gekry om te lees dat sy die draad van die storie verloor het. Sy gooi die boek eenkant en blaai tydskrifte deur, lees artikels oor hoe om jou man te vang en te hou. Sy het hom gevang, vir Paul, maar wil sy hom nog hê? ’n Aaklige gedagte skiet haar te binne. Sê nou hy het verdwyn, hy en sy Bosveldkollega, iewers in die Maricorivier met visnette agter basterkoi aan? Hul bootjie het omgeslaan. Hulle het – selfone en al – in die water beland, is aangeval deur krokodille, onherkenbaar vermink. Dan word sy ’n tragiese weduwee-bruid, en niemand sal ooit weet dat sy ’n fout sou gemaak het nie. Om met Paul te trou terwyl sy op Pierre verlief is . . . Sy snak na haar asem. Maar dis dalk die ding wat sy aan haarself moet erken. Pierre se skraal gesig spook by haar, die vasberade trek om sy mond toe hy haar
gister huis toe gebring het – daardie mond wat sy so graag weer wil soen. Sy verag haarself vir haar gedagtes en probeer Paul weer bel. Geen antwoord nie. Sy het Isadora se nommer, maar dit sal die laaste uitweg wees. Die dag sleep reënnat verby. Minette steek nie haar neus by die deur uit nie. Sy maak nie haar bed op nie. Sy trek nie haar voorste gordyne oop nie. Sy wil nie hê iemand moet weet sy is tuis nie. Sy sit die antwoordmasjien van haar huistelefoon aan; sy wil met niemand praat nie. Maar niemand probeer ook om haar in die hande te kry nie. Die aand voel sy moeg en afgeskeep. Sy bad vroeg en klim in die bed. Dormica sus haar in ’n droomlose slaap. Die eerste ding wat sy doen toe sy die volgende oggend wakker word, is om Paul te bel. Niks behalwe die standaardboodskap: Not available at present, please try again later. Sy is lus en gooi die foon teen die muur. Eintlik raak sy nou al effens bekommerd. Sy begin wonder of sy nie iets moet doen nie. Sy stort, trek aan en gaan kampus toe. Die paar studente wat skynbaar onbesorg op die kampus ronddwaal, lyk vir haar gans te gelukkig en tevrede. Hulle verteenwoordig ’n stuk van haar lewe wat sy glans te gou verloor het. Oud voor haar tyd, dis hoe sy voel toe sy haar kantoordeur oopsluit en een van die honneursstudente haar respekvol groet: “Môre, juffrou Faber.” Sy wens sy kon teruggroet met ’n: “Hi, dude!” Maar dit het sy lankal verbeur. “Goeiemôre,” sê sy sedig en klink vir haarself nes ’n ou tannie. Sy pluk die deur van haar kantoor oop en glip vinnig na binne. O, die genadige, veilige ruimte. Sy laat plons haar skouersak op die leunstoel voor die venster neer, trek die blindings oop en staar na die skoongewaste tuin. Sonkolle en skaduvlekke wissel mekaar af en alles is helderskoon gewas, maar sy voel vanoggend net so vaal en verlep soos die potplante op haar kantoor se
vensterbank. Sy kan dit nie so los nie en sy vat haar waterbeker en loop badkamer toe om water te tap. In die spieël bokant die wasbak word haar gesig geweerkaats. Sy lyk nie soos ’n meisie met ’n knoets van ’n verloofring aan haar vinger en die vooruitsig van ’n sprokiestroue met ’n wonderlike man nie. Dis vandag stil in die gange. Nie dat dit vakansie is nie, maar die meeste studente het hul kans waargeneem om ’n paar ekstra dae by die huis te bly. Daar is steeds lesings – hulle volg Maandag se rooster – want die formele lesings sluit eers die vyftiende. Dis die dag waarop sy haar trourok vir die voorlaaste keer gaan aanpas, twee weke voor haar troue. Die gedagte maak haar nie bly nie, maar doodbenoud. Wat doen ek? dink sy toe sy in die gang afstap, só ingedagte, sy loop haar byna vas teen ’n man met ’n enorme rangskikking van suikerpienk proteas en heide gemeng met rose, angeliere en byende satynstrikke. “Jammer,” sê sy en skuur by hom verby. Sy mis dit, die blomme. Paul het aan die begin van hul verhouding meer dikwels vir haar blomme gestuur. Die laaste tyd koop hy soms ’n enkelroos, maar so ’n massa . . . Is hy dalk besig om suining te raak? wonder sy. Of gemaklik noudat hy haar gevang het? Is sy op pad om swaar te kry? Sy is besig om haar kantoordeur oop te maak toe iemand agter haar keel skoonmaak. Dis die man met die ruiker. “Verskoon my, is dit Minette . . . Faber se kantoor hierdie?” Sy druk die deur oop en beweeg effens weg van hom. Dis regtig ’n ruiker der ruikers. “Ja, dis ek . . . Ek is Minette Faber.” “Blomme vir juffrou,” sê die man. “Mag ek?” Voor sy hom toestemming kan gee, stap hy in en sit die ruiker op die tafel tussen
haar stapels lêers neer. “Dankie, hoor!” “Geniet dit!” En weg is hy, voor sy hom ’n fooitjie kan gee. Sy stoot die deur saggies toe. Dierbare Paul, hy dink tog aan haar. Sy sit die beker water neer, draai die blomme reg. Die kaartjie spog met een van die eksklusiewe bloemistes op die dorp se embleem – ’n koevertjie met goud verseël, ’n briefie met woorde wat net vir die ontvanger bedoel is. Dit moes ’n plaas se prys gekos het. Haar hart loop oor; sy dink aan die moeite wat hy gedoen het. Hy het heel waarskynlik voor die naweek op die naaste dorp met Interflora gereël, of dalk self hierheen gebel. ’n Verrassing vir haar omdat hy iewers op ’n ekspedisie is waar daar nie selfoonontvangs is nie. Paul is so bedagsaam; dis die een eienskap wat haar altyd sal help om hom sy vergeetagtigheid en verstrooidheid te vergewe. Sy haal die kaartjie af, maak dit oop. Voel vir die eerste keer in dae opgewonde en lus vir die lewe. Ek is verlief op jou, ek kan dit nie help nie. Vergewe my, maar ek is smoorverlief op jou! Pierre Hagen. Sy kan nie glo wat sy sien nie. Sy knyp haar oë toe, haar hande bewe. Lees sy reg? Pierre Hagen. Sy probeer fokus, vervloek haar bysiendheid, spring om, ruk haar skouersak oop. Pluk haar bril uit die sysakkie, kan dit nie gou genoeg opsit nie. Dis nie troukoors wat haar nou so brand nie, dis opwinding en angs en duisende uitroeptekens. Pierre! Pierre Hagen is verlief!!! Sy vou die kaartjie weer oop. Daar staan dit: Ek is verlief op jou . . . Vergewe my . . . Ek is smoorverlief op jou! Pierre Hagen.
’n Netjiese, egalige handskrif, blykbaar sy eie. Kan dit wees? Of is dit ’n studentegrap? Nee, niemand weet van haar en Pierre nie. Isadora het iets vermoed; vreemdelinge het hulle daardie oggend – dit voel so lank gelede – in Jonkershoekweg sien soen. Niemand sou twee en twee bymekaar kon sit nie, niemand sou die afleiding kon maak nie. Net Pierre, wat dae geneem het om te dink en te besluit. Soos sy. Ek is ook verlief op jou, Pierre. Vergewe my, Paul, maar ek is smoorverlief op jou seun. Sy krimp onder die aanslag van die volle waarheid. Sy trou met Paul, die kaartjies is uitgestuur, die koek gebak, die rok gemaak, die kerk en die predikant bespreek, die hotel op Mauritius, die meubelvervoerwa wat haar goed na Hagenhof moet vervoer – haar toekoms, haar nuwe huis waar sy Pierre se ma se plek gaan inneem. Waar daar nie plek is vir Pierre nie. Met trane in haar oë frommel sy die kaartjie in haar hand, hou dit vas, voel hoe die stywe papierhoekies in haar palm inboor. Sy wil, maar sy kan nie. Sy kan nie nou haar verlowing verbreek nie. Alles is beplan, alles is klaar gereël, niks is aan die toeval oorgelaat nie. Dis nie hoe haar lewe werk nie. Sy reël haar lewe. Vandat haar ouers in daardie ongeluk dood is, het niks haar nog ooit weer onverhoeds betrap nie. Sy het ’n vyfjaarplan uitgewerk tot in die fynste detail. Pierre kan nie, hy mág nie inmeng nie. Haar hande bewe toe sy die water wat vir die potplante bedoel was in die ruiker se houer gooi, terugstaan en deur traanbenewelde oë daarna kyk. Sy kan nie haar rekenaar aanskakel nie; sy kan nie vandag werk nie. Sy haal haar bril af en sit dit in haar skouersak terug, plak ’n donkerbril op, sluit die kantoor en loop na haar motor. Hoe sy by die huis gekom het, weet sy nie, maar toe sy haar kom kry, draai sy by die hek van haar meenthuis in. Sy sit ’n rukkie in die kar. Die warm blos op haar gesig het vererger en sy kan skaars asem kry.
Die kaartjie is in haar broeksak. Sy kyk rond voor sy dit uithaal, op haar skoot oopstryk en weer lees. Iets is besig om met haar lyf te gebeur. Haar bloed bruis deur haar are, elke pols is aan die klop en die klamheid tussen haar bene beteken begeerte. As sy nou met hom praat, sal hy weet hoe sy voel. Eers kalmeer, dan bel sy hom. Sy sit ’n rukkie, haal diep asem en wil net uitklim toe haar selfoon in haar skouersak lui. Dalk Paul. Is dit die teken wat sy soek? Sy kan nie, sy kan nie nou met hom praat nie. Die foon lui lank en hou dan op. Sy loop in, reguit kamer toe, sit haar sak op die bed neer, skop haar skoene uit. Lees die SMS sonder om haar bril op te sit. Dit is toe Paul. Was die naweek in die berge, het nog twee weke op die rivier nodig, bel jou vanaand, liefde. Droog en onromanties, maar sy weet ten minste hy leef. Eintlik is sy dankbaar dat sy hom nie binnekort in die oë hoef te kyk nie. Sy het tyd nodig om Pierre se liefdesverklaring te verwerk, tyd om diep na te dink, te oorweeg en te besluit. Dalk is dit beter dat Paul nooit hiervan uitvind nie – nie Paul nie en ook nie een van sy ander familielede of vriende of kollegas nie. Sy en Pierre moet praat. Sy voel ysig kalm toe sy opstaan en Hagenhof se nommer skakel. As Saar antwoord, sal sy ’n storie opmaak oor miere in die kombuiskaste of silwer wat gepoets moet word. Haar hart klop hoorbaar terwyl sy wag dat iemand die telefoon aan die ander kant optel. Klik! “Professor Hagen se huis, Pierre Hagen hier.” “Pierre, dis Minette.” “Hallo, Minette.”
“Ek het jou blomme gekry.” “En?” “En jou kaartjie . . .” “Ek bedoel dit.” “Ek . . . ek dink ons moet praat.” “Ek kom haal jou. Waar is jy?” “By my huis.” “Pak vir jou iets vir die strand. Ons ry Weskus toe, Paternoster of so.” Hy wag nie vir haar antwoord nie, sit die gehoorbuis neer voor sy ’n geluid kan uitkry. Moet sy see toe gaan saam met hom? Nou? Maar sy wil. Weskus toe, Paternoster toe, na die einde van die wêreld, solank sy saam met hom kan wees. Sy sal die dag gryp en een dag in haar lewe volmaak gelukkig wees. Hierdie een enkele dag. Daarna kan sy hom mooi vertel hoe dit werk. Haar strandsak staan altyd gepak met alles wat nodig is. Sy mors nie tyd daarmee nie. Maar dit neem ’n rukkie om te besluit wat om aan te trek. Sy kies die kortbroekie en laag uitgeholde T-hempie wat sy ’n jaar gelede gekoop het en nog nooit kon waag om voor Paul aan te trek nie. Dalk vir die wittebrood, maar sy het getwyfel. Nou nie meer nie. Sy pluk haar kampusklere uit, glip die hempie aan. Sy vervel! Die ware Minette tree te voorskyn. Begeerlik. Jonk, lig en vry. ’n Piekniekmandjie! Sy het koue wyn in die yskas, olywe en fetakaas, ’n slaaimengsel, nog nie brood gekoop nie. Niks vleiserigs nie, behalwe ’n blikkie gerookte mossels en neute. Hulle sal by ’n winkel moet aanry.
Sy sit wat sy het in ’n koelsak, ontdek nog ’n halfdosyn Hertzogkoekies, glimlag toe sy hulle inpak. Hy moet die spoedgrens oortree het, want sy is skaars daarmee klaar toe lui die hektelefoon. Vir een vreeslike oomblik dink sy dit kan nie wees nie, dis nie hy nie. Sy lig die gehoorstuk. “Minette?” “Ek maak oop!” As sy geweet het wat haar woorde sou ontketen, sou sy dit nie so maklik kon sê nie. Dis Paul se bakkie wat met skreeuende bande voor die deur stilhou, sy wat voordeur toe hardloop en Pierre na binne trek. Hartstog is ’n wilde perd; as hy wil losbreek, is daar geen keer nie. Pierre stoot die voordeur met sy een voet toe, gryp haar om die lyf, lig haar op en soen haar só verwoed dat sy haar bene om hom moet slaan om regop te bly. In die proses beland sy op haar rug op die bank en voor sy haar kom kry, trek haar T-hempie deur die lug en is sý van alle mense besig om Pierre se broek van sy lyf af te skeur. Teen die tyd dat hulle in haar slaapkamer beland, het nie een van hulle meer ’n draad klere aan nie. Pierre gee die netjies opgemaakte bed een kyk en pluk die duvet af, maar onthou darem om die gordyne toe te trek. Dis sy wat hul klere in die sitkamer gaan optel en die deur agter hulle sluit. Dalk is dit die laaste stuiptrekkings van haar sin vir orde: kos in die kombuis, boeke in die studeerkamer en seks in die slaapkamer. Pierre lê op sy sy en sy gespierde lyf glinster. “Kom hier, juffrou Faber,” sê hy en klap op die bed langs hom. “Maak klaar wat jy begin het.” Sy kan stop, hy gaan haar nie dwing nie, maar sy wil nie ophou nie. Sy loop na hom, klouter bo-oor hom en kruip agter sy rug in, begin rustig die dolfyne met haar wysvinger natrek.
Hy lê ’n rukkie voor hy na haar omdraai en haar saggies soen. Sy hand trek agter haar rug af tot dit op die ronding van haar heup tot rus kom. “Ek is regtig lief vir jou, verstaan jy dit?” “Ek is lief vir jou ook,” antwoord sy. “Al verstaan ek dit nie.” Toe trek hy haar stywer teen hom aan. Die teerheid waarmee hy haar liefkoos en deel maak van homself, oortref haar wildste drome. Dit hou hulle besig tot dit aand word en Pierre nog een van haar reëls verbreek. Hy pak die piekniekmandjie op haar bed uit. Hulle drink wyn uit een glas, voer mekaar mossels net so uit die blikkie en vee hul hande aan die lakens af. Daarna klim hulle saam onder die stort. Minette trek die bed skoon oor en Pierre parkeer die bakkie onder die afdak. Sy is dronk van liefde, sy sweef, sy het geen skaamte meer nie, en sy kan nie wag dat hy weer by haar moet kom lê nie. Hulle gesels tot lank ná middernag, vertel mekaar van skooldae en ou liefdes. Hy maak sy hart oop oor sy ma. “Sy was ’n pragtige mens, ’n sagte mens – te sag vir my pa. Maar hulle was gelukkig, ons was ’n gelukkige gesin. Dis hoekom ek my hare afgesny het. Ek was by haar graf, toe raak ek hartseer.” Daar is trane in sy oë. Sy soen hulle weg en vertel hom van haar ouers en die ongeluk, van hoe sy ná vyftien jaar nog steeds na haar ma verlang. Hulle noem nie een keer Paul se naam nie. Hulle raak in mekaar se arms aan die slaap. Die volgende oggend word sy wakker met Pierre se hand op haar bors. Sy voel nie skuldig nie, sy gee haarself aan hom oor. Hy liefkoos haar tot die son op haar bed skyn. Toe eers trek hulle aan. Ry Weskus toe en soek die eensaamste strand waar hulle saam alleen kan wees. Impulsief teken hulle by ’n gastehuis in en bly vir drie dae. Paul is gelukkig iewers waar geen selfoon hom kan bereik nie en sy hoef nie met hom te praat nie. Net soms as sy vir ’n oomblik alleen gelaat word, dink sy
skuldig aan hom. Die res van die tyd is dit of haar verstand tydelik ophou werk het. Sy het net een behoefte en dis om Pierre beter te leer ken. Hulle loop lang ente langs die see en gesels baie. Pierre wil terugkom SuidAfrika toe; hy wil rekenaarprogrammatuur inspan om te help met die wêreld se energiekrisis. Hy wil verder studeer, hy wil huis opsit en kinders verwek. Hy wil vrede maak met sy pa. “Dit gaan ná dese nie maklik wees nie,” antwoord sy nadat sy woorde ingesink het. “Dit sal baie van jou afhang.” “Ek besef dit, maar ek wil nie nou daaraan dink nie.” “Jy sal moet.” “Ek weet.” Skuld rys soos ’n swart wrak uit die see op, dit versper haar uitsig, dit maak haar benoud. Pierre buk oor en raak met sy vingerpunte aan haar wang. “Jy is die beste ding wat nog met my gebeur het. Jy maak my die gelukkigste man op aarde – jy is mooi en slim én jy bak die lekkerste Hertzogkoekies.” Hulle het klaar gepraat oor die rusie daardie aand toe sy die blik koekies op die eetkamertafel gelos het. Sy pa, het hy haar vertel, het die manier om hom terug te trek en te maak of alles perfek is. Hy weet sy pa is lief vir haar, maar hy kan nie insien hoekom sy pa met haar wat so jonk is wil trou nie. Minette kan nie waag om vir hom te sê dis oor sy die ou man verlei het nie. Pierre sal haar tog nie glo dat sy nog nooit al haar klere voor Paul uitgetrek het nie. Hulle is vir mekaar bedoel, sy en Pierre. Hy het net betyds gekom. Sy is syne, sy behoort aan hom. Hy het haar nog nie gevra om met hom te trou nie, maar sy weet hy sal sodra sy vry is.
“Ek sal met Paul praat, maar bly jy solank stil,” sê sy toe hulle Woensdag die dertiende Mei van mekaar afskeid neem. Sy weet wat die datum is, want Pierre het vroegoggend na die wekker op haar bedtafel gekyk en dramaties verklaar: “Skuins ná ses, dertien Mei, ek hoor ’n vliegtuig druis.” Paul het laat weet dat hy en Isadora negeuur op die Kaapse lughawe sal land. Sy moenie moeite doen om hulle te kom haal nie; die universiteit het ’n taxi gereël. Agtuur staan Minette in die voordeur van haar meenthuis en kyk hoe Paul se bakkie in die rigting van die hek verdwyn. ’n Hand kom by die venster uit. Dit waai, wys duim in die lug. Sy glimlag. Die bure praat seker. Sy wil nie weet wat hulle sê nie. Toe die telefoon lui, draai sy traag om. Dit kan nie Pierre wees nie, en sy wil nie met iemand anders praat nie. Paul se vliegtuig het nog nie geland nie. Sy antwoord die foon half deur die blare. “Minette, dis Lynette.” “Lynette? O, hallo!” “Was jy besig?” Was ek besig! “Ja, nogal.” “Die kinders is eindelik gesond. Wil jy kom tee drink?” “Paul kom vandag terug.” Sy weet sy klink moeg. “O, dan verstaan ek. Wil julle nie Sondag hier kom eet nie? Ek nooi weer die hele ou lot, Isadora en Pierre ook?” Minette kan haar nie iets ergers voorstel nie. Maar sy gaan nie nou al die bom laat bars nie, sy sal eers met Paul praat.
“Ek sal vir Paul sê, dan bel ons jou.” “Minette, voor jy neersit . . .” Minette wil gaan huil, sy wil op die bed gaan lê op die lakens wat nog na Pierre ruik en huil. “Is jy oukei?” vra Lynette besorg. “Ja! Ja, ek is! Hoekom?” “Jy klink nie lekker nie . . . Ek verbeel my seker.” “Definitief!” “Dis my moederinstink wat oorwerk is, ek wil my deesdae oor almal bekommer. Pierre het die pad gevat. Saar sê hy het een oggend in Paul se bakkie geklim en weggejaag en nooit weer teruggekom nie. Hy antwoord nie sy sel nie. Francois wou al die polisie in kennis stel.” “Moenie!” “Ekskuus?” “Ek bedoel, moenie dit doen nie. Pierre is groot genoeg om na homself te kyk. Hy . . . hy en Paul het kontak gehad, hy is terug.” Dis ’n leuen, dis ’n vreeslike leuen en sy gaan gestraf word, vir al haar leuens die laaste tyd. “Dis ’n verligting, ek bel dadelik vir Francois. Laat weet ons nou oor Sondag!” “Maak so,” sê Minette en sit die gehoorstuk saggies neer. “Minette Faber,” sê sy hardop vir haarself, “jy is in groot moeilikheid.”
16
Dit help nie om te lank verwese op die bed te sit en staar nie. Sy trek die duvet oor die lakens. Een of ander tyd sal sy hulle moet aftrek en was, maar nie nou nie, nie vandag nie. Gelukkig sit Paul nooit sy voet in haar slaapkamer nie. By sy huis het hulle wel soms Sondagmiddae saam gaan rus, maar nooit in die hoofslaapkamer nie, altyd in die vrykamer, asof hulle gaste is wat die huisreëls oortree. Paul so konserwatief, sy so versigtig. Wel, dit was toe goed, want dit het haar rein gehou vir haar ridder. Pierre . . . Kom hy toe oor die golwe aangery op sy branderplank. Hy wil haar Hawai toe neem, haar ook leer. Haar huis is netjies en sy het ’n praktiese hemprokkie aan toe die telefoon lui. Dis Paul wat moeg en hees klink. Hy sê hy is jammer, hy is grieperig en gedaan, hy gaan nou in die bed klim en slaap. Kan hulle mekaar môre sien? Dis ’n verligting, maar sy voel nogtans spyt dat die weersiens uitgestel word – die weersiens én die konfrontasie. Pierre bel van sy selfoon af. “Ek staan in die tuin, wil nie hê hy moet hoor nie. Hy is bloedrooi gebrand en siek, ek vat hom môre dokter toe. Isadora is ook bekommerd. Hy en daardie kollega van hom het dit erg oordoen. Hoe voel jy? Ek verlang na jou.” “Ek ook, ek mis jou.” “Sien jou vanaand.” “Nee!”
“Hoekom nie? Hy is siek in die bed.” “Ek moet eers met hom praat, asseblief.” “Goed, ek sal geduldig wees. Jy wil nie hê ék moet met hom praat nie?” “Nee, ek sal. Kyk mooi na hom.” “Natuurlik, Minette, hy’s my pa.” “Moenie so kwaad wees nie.” “Ek is nie kwaad nie! Maar jy het belowe.” “Ek weet.” “Ek is lief vir jou.” “Soms . . . soms wonder ek.” “Wat nou?” “Soms wonder ek of jy nog lief sal wees vir my as ek en jou pa nie meer op trou staan nie.” Hoekom sy dit sê, weet sy nie, maar dis uit voor sy kan keer. Hy bly ’n lang ruk stil. Sy raak naderhand so benoud, sy wil haar woorde terugtrek, hom om verskoning smeek. Hy hét haar gehoor, anders sou hy dadelik gevra het sy moet weer sê. “Ek wou dit nie oor die telefoon doen nie, Minette,” sê hy eindelik. “Sal jy asseblief met my trou?” Sy klou die gehoorstuk vas, trane stroom oor haar wange. “Ja!” snik sy. “Ek sal.” “Huil jy?” Hy klink bewoë. “Nee! Ja, ek huil, ek is hartseer.” “Ek ook.” “Ek wil nie jou pa seermaak nie.”
“Ek ook nie. Maar dit het gebeur en jy kan nie hierdie leuen leef nie.” “Die troudatum is oor ’n bietjie meer as twee weke!” “Baie kan in twee weke gebeur, ons weet mos nou.” Toe moet sy lag. “Kom seblief vanaand, al is dit net vir ’n uur,” sluit sy die gesprek af.
Die aand kom Pierre teen negeuur by haar aangedraf. Hy wou nie die bakkie gebruik en agterdog wek nie. Hy bly by haar tot die hane begin kraai en toe moet hy hom uit haar omhelsing wegskeur. ’n Uur later bel hy vervaard en sê hy kry die ambulans om Paul te kom haal, sy koors is hoog en hy yl. “Ek kom dadelik!” Minette laat val haar selfoon in haar haas om op te staan. Dis haar straf: Paul is dodelik siek. Dis oor haar heimlike begeerte om ’n weduwee te wees; dis omdat sy hom met sy seun verkul het. Sy het haar maagdelikheid wat Paul so hoog op prys gestel het so maklik weggegee. Sy gaan hom verneder en in die skande steek; sy gaan hom seermaak – dierbare Paul wat so baie vir haar gedoen het. Dit neem haar presies twintig minute om te stort, aan te trek en tot by Hagenhof te ry. “Die ambulans is al weg,” sê Saar, wat handewringend in die voortuin staan en Minette met beskuldigende oë aankyk. “Watter hospitaal?” “Seker . . . Nee, ek weet nie.” “Is Pierre hier?” “Hy is agterna met die bakkie.” Minette draai gefrustreerd in die rondte. “As ek net kan weet watter hospitaal!”
“Kom in, ek skink koffie,” troos Saar. “Dan bel jy vir Pierre op sy selfoon.” Sy is verplig om te luister. Terwyl Saar met die koffiepot doenig is, bel sy vir Pierre. Hy antwoord dadelik: “Ek ry, maar jy kan praat.” “Waarheen gaan julle?” “Kan nie sê nie, ek sal jou laat weet sodra ons daar is. Waar is jy?” “By Hagenhof, Saar maak koffie. Bel my so gou as moontlik, ek is só bekommerd.” “Bly kalm, alles sal uitwerk.” Sy frons toe sy die foon toeklap. Wat bedoel hy daarmee? Sal hy tevrede wees dat sy pa sterf om hulle geluk te verseker? Nee, sy glo nie, sy ken Pierre nie só nie. Maar tog, sy het dan self gewens die krokodille vreet Paul op! Sy laat sak haar kop en bid en huil deurmekaar. As Paul iets oorkom, gaan sy en Pierre reguit hel toe. Laat Paul net regkom, ek sal enigiets doen, ek sal met hom trou, ek sal hom oppas tot hy van ouderdom doodgaan, ek belowe! smeek en bid sy. Dink vaag dat Pierre dan maar vir haar sal moet wag. As hy haar regtig liefhet, sal hy nie omgee om te wag nie; dalk is dit net tien of vyftien jaar. Sy hou haar kop vas, kreun en snik deurmekaar. Vyftien jaar is amper lewenslank! So kry Saar haar. Sy sit die skinkbord met koffie en beskuit op die tafel neer en troos Minette tot sy eindelik tot bedaring kom. “Ai, jy is lief vir daardie ou man, ek sien dit,” sê Saar. Toe huil Minette éérs hard. Dis hoe Lynette haar ’n halfuur later kry. Pierre het haar gebel en haar gevra om Minette te gaan haal. Lynette en Saar moet haar letterlik kar toe help; Minette is dronkgehuil.
Sy sien Paul deur ’n waas van trane in ’n spierwit hospitaalbed in die ICU se afsonderingshoekie lê. Hy het ’n buis in sy lugpyp en kan nie praat nie. Sy gesig lyk so skraal en maer en sy grys haartjies so uitgedun dat Minette oorweldig word deur deernis en angs. Die dokters doen nog bloedtoetse. Almal om Paul se bed het wit jasse aan en maskers op ingeval die koors wat hy opgedoen het een of ander tropiese aansteeklikheid is. Die volgende paar uur tot die uitslae bekend is, is van kritieke belang. Almal wat langer as ’n dag met hom in aanraking was, se bloed word ook getrek. Hulle word aangeraai om nie in openbare plekke rond te loop nie en byderhand te bly. Die besoekers sit verwese in die wagkamer en praat saggies met mekaar. Lynette maak verskoning toe sy later die seuns by die skool moet gaan haal en los Minette en Pierre alleen. “Ek kan dit nie doen nie,” sê sy toe Pierre haar hand vat en met sy vingerpunte daaroor begin streel. Ten spyte van haar kommer en hartseer oor Paul begin begeerte na Pierre in haar lyf roer. Sy trek haar hand uit syne en skuif van hom af weg. Hy kyk af, druk sy vingerpunte teen mekaar, kyk voor hom uit. “Dis moeilik, ek weet,” sê hy. “Vir my ook.” Minute gaan verby voor Minette die moed bymekaargeskraap het om te praat. “Ons moet vergeet van ons,” fluister sy. “Ja, tot hy gesond is.” “Nee, vir goed.” Sy kop ruk op, hy kyk na haar. “Jy is nie ernstig nie!” “Ek ís. Dis ons straf, ek moet met hom trou.” Pierre antwoord nie. Hy bly voor hom uitkyk, ’n frons op sy gesig. “Ons sal sien,” sê hy ná ’n lang ruk.
Hulle het niks verder om vir mekaar te sê nie en bly sit met ’n kloof wat gaap tussen hulle. Daarom lyk hulle volkome onbetrokke by mekaar toe Francois daar aankom. Hy druk Minette vertroostend en begin praat toe met Pierre, sy arm steeds om haar. Sy huil saggies. Die dokters verseker hulle dat Paul se toestand stabiel is en dat hulle eerder huis toe moet gaan. Die uitslae van die toetse sal eers teen die aand beskikbaar wees. Pierre ry Hagenhof toe en Francois laai vir Minette by haar huis af. Hy is baie simpatiek en praat haar moed in, belowe om haar besoektyd te kom oplaai. Sy onthou skielik dat haar kar by Hagenhof is. “Dan vra ek vir Pierre,” sê Francois en groet. “Hy kan sommer met jou kar ry en dan kan hy saam met ons terugkom van die hospitaal af. Is jy seker jy is oukei?” Minette kan nie haar stem vertrou nie. Sy knik en strompel die huis in. ’n Gevoel van gelatenheid daal oor haar neer. Die vyfjaarplan sal onveranderd voortgaan. Sy hoop en bid net Paul is gesond teen die einde van die maand. Laat dit tog net nie malaria of geelkoors of iets ergers wees nie. Sy vee haar trane af en blaas haar neus en bel vir tant Marga. “Moet ons kom?” vra tant Marga. “Dis nie nodig nie, Francois en Lynette is hier. Dink net aan ons.” “Ek sal sy naam deurgee vir die kerk se bidgroep.” Minette se keel trek toe, sy voel opnuut benoud. “Dankie, tant Marga, ek waardeer dit,” sê sy heserig en sit die gehoorstuk neer nog voor hulle behoorlik gegroet het. As tant Marga moet weet hoe vals en onbetroubaar sy is, gee sy haar naam by die kerk in dat hulle vir haar sondes kan bid! As tant Marga moet weet sy is nie meer ’n maagd nie . . .! Sy gaan lê op die bank. Sy het nie laas nag geslaap nie en sy is moeg, maar sy
kan nie op daardie bed lê nie. Sy sluimer in, tot die huisfoon haar wakker lui en sy moet opstaan om te antwoord. Dis Pierre. Sy begin sommer weer huil. “Ek kom haal jou met jou kar, seweuur,” sê hy. “Moenie jou so ontstel nie,” voeg hy by toe sy net aanhou snik. “Ek kan nie anders nie,” huil sy. “Dis ’n gemors . . .” Hy sug lank en uitgerek. Sy huil reddeloos. “Moet ek nou na jou toe kom?” vra hy naderhand. “Nee . . . Nee, ek sal oukei wees, dis nie jou skuld nie.” “Dalk is dit,” sê hy en hy klink werklik jammer. “Ek moes nie.” “Óns moes nie.” “Wat gaan ons doen?” “Wag, Minette, gee tyd.” “Ja . . .” “Sien jou vanaand. Sterk wees, jy is mos sterk.” Sy is kalm toe sy die gehoorbuis neersit. Sy loop badkamer toe en tap water in die bad, lê tot haar moeë spiere beter voel. Nadat sy uitgeklim en aangetrek het, besef sy dat sy nog niks geëet het nie. Sy maak ’n toebroodjie en kitssop en sit by die kombuistafel en eet toe die telefoon lui. Dis Isadora.
“My skattebol, ek is só jammer, ek moes eerder gesien het daar’s fout, maar ons was saam en ek het niks oorgekom nie. Hy het natuurlik weer nie sy hoed opgesit nie en Chris is gewoond aan die Bosveldson, toe sleep ek Paul saam na hierdie vyeboord, ek verwyt myself, ek sal myself nooit vergewe nie.” Minette is verlig om te hoor dat daar nog iemand is wat verwyte het oor Paul. “Isadora, as jy nie siek is nie, kon hy dit nie saam met jou opgetel het nie. Dis seker maar iets wat hy in die Marico gekry het, dalk ’n muskiet waarvoor hy allergies is. Hy het my vertel hulle sit saans om die vuur.” “O, het hy?” “Die paar keer wat hy ge-SMS en gebel het. Ek het nie veel van hom gehoor nie.” “Jy weet hoe dit gaan – as ons eers snuf in die neus kry van ’n dreigende ramp, vergeet ons almal en alles en vat die spoor. Die koivis-indringing is werklik iets om te ondersoek, Paul is so aangevuur, hy gaan dit beslis opskryf by nagraads. Jou onderwerp is nie vis nie, of hoe?” “Nee, nie vis nie,” sê Minette en wonder hoe vis en vye by mekaar uitgekom het. Sy kry al die gevoel dat Isadora en Paul meer van mekaar te sien gekry het as wat Paul laat blyk het. Of anders is dit net weer Isadora wat besitlik raak. Moet sy nie onder kwarantyn kom nie? Maar sy klink sterk en gesond. “Skattebol, toe ek hom so sien lê, so siek en gedaan, het my hart amper gaan staan. Ek kon nie glo ons het saamgevlieg nie, en ek hét vir die dokters gesê ek was op dieselfde ekspedisie, ek bedoel in dieselfde bootjie . . . die plaas saam met Chris, wat praat ek alles? Hulle het jou seker al laat weet? Hy is skoon, geen malaria nie, dis longontsteking. Hy’t mos misgetrap en in die water beland, dis die aand toe ek en Chris daar gebraai het. Jy weet hoe koppig Paul kan wees – hy wou nie hê ons moet omdraai en droë klere kry nie. Toe het hy al begin hoes. Sien ek jou vanaand met besoektyd?” “Ja, Isadora. En dankie dat jy probeer het om te kyk.” “Goed dan. Jy kan ontspan en jou trourok gaan aanpas. Paul is binne twee weke perdfris. Lynette sê my jy is so in die wolke, ek meen met die rok, die wolk-effek
werk glo?” “Juliana is baie talentvol. Dis presies wat ek gevra het.” “So bly vir jou onthalwe. Nou ja, totsiens.” Minette sit die gehoorbuis neer. Haar ore tuit. Die vrou kan darem praat! Isadora is ontsteld ook – vanselfsprekend. Sy is erg oor Paul. Dis ook nie vreemd dat sy reeds die uitslag van die bloedtoetse weet nie, sy was immers self in gevaar. Sy het seker ’n draai by die hospitaal gemaak. Sy is bly Isadora het gebel en haar gerusgestel. Sy bel tant Marga om die goeie nuus oor te dra en hou haar dan besig met e-pos en nuus lees op die internet. Op die ingewing van die oomblik tik sy koivis-indringing en sit die soekenjin aan die gang. Sy kry baie inligting, maar niks oor koi in die Marico nie. Sy tik koi fish invasion in Marico river en kry steeds niks. Weer een van daardie ou fossiele wat nie sy inligting op die net bekendstel nie, dink sy vies en gee moed op. Dis ’n uur voor hospitaalbesoektyd en sy trek een van Paul se gunstelingrokkies aan. Sy skil vir haar ’n appel terwyl sy vir Pierre wag. Sy eet nie lekker nie; die vooruitsig om Pierre te sien en langs hom in die kar te sit, maak haar so opgewonde dat sy naar voel. “Goeie nuus,” sê hy toe sy die voordeur opmaak. “Ek het gehoor.” “Van my pa?” “Isadora het gebel. Dis longontsteking, darem nie geelkoors of malaria nie.” Hy trek die deur agter hom toe en soen haar baie teer op die mond, so teer sy wil huil. “En jy, het jy nog troukoors?” Sy draai haar kop weg. “Nee, maar ek kan hom nie in die steek laat nie, hy is
siek.” “Hy gaan gesond word en ons gaan eerlik wees.” Sy buk om haar handsak op te tel. “Moenie nou daaroor praat nie.” Hy sug net saggies, slaan sy arm om haar en stuur haar by die voordeur uit. Die bakkie staan in die oprit. “En dit?” vra sy. “Jy’t nie jou sleutels vir my gegee nie.” Sy pluk haar handsak oop en kry die bondeltjie in die een hoek. “Ek’s jammer.” “Kom daarvan om ou professors te soen, jy steek aan.” Hy hou vir haar die bakkie se deur oop. “Dit raak ’n gewoonte. Daai eerste dag het jy ook jou sleutel vergeet.” “Maar dit was jou pa se skuld.” “Dis alles sy skuld. Die feit dat ons nou saam is ook. As hy nie besluit het om met jou te trou nie, as hy nie al daai foto’s vir my gestuur het nie, het ek nooit op jou verlief geraak nie.” “Jy het wát?” “Oeps, praat ek my mond verby.” Sy draai na hom. Hulle staan by ’n stopstraat en sy kan in sy oë kyk. “Jy jok nie vir my nie?” “Nee, Minette. Ek kan nie die waarheid langer vir myself hou nie en as jy nie vir my pa gaan sê nie, gaan ek. Ek is verlief op jou vandat julle begin uitgaan het. Die fout wat ek gemaak het, was om te wag tot dit te laat was. Maar dis nie te laat nie, jy is nou myne.” Iemand blaas toeter agter hulle en hy moet die bakkie in rat kry en ry. Sy glo wat hy vir haar sê; hy sê dit so oortuigend. En diep in haar hart weet sy
dis wat met haar ook gebeur het. Sy het dit probeer wegredeneer, probeer dink dis Paul wat sy begeer soos hy gelyk het toe hy jonk was. Maar sy was en is verlief op Pierre – Pierre op die foto’s in sy kamer waar sy altyd gaan uittrek het, altyd haar swemklere gelos het. Vir wie sy so bang was om hom die eerste keer in lewende lywe te sien en teen wie sy gestry het tot twee weke gelede. Die man met wie sy dalk nooit sal trou nie . . . Omdat sy besluit het om terug te gaan na Paul, met hom te trou en haar skuld af te betaal.
17
Dis hoekom Minette die volgende dag haar trourok gaan aanpas. Dis hoekom sy elke dag hospitaal toe gaan en ure langs Paul se bed sit en selfs vir Isadora daar verduur. Dis hoekom sy allerhande verskonings uitdink om Pierre te vermy, en so lieftallig soos nooit tevore nie teenoor Paul optree. Maar iets pla haar. Hy is nie so entoesiasties oor die troue soos eers nie. Praat nie meer graag daaroor nie. Hy glimlag net skaapagtig wanneer sy opgewonde vertel hoe haar rok lyk en hoeveel gaste hulle verwag en dat al die regte soort proteas in presies die regte skakering van pienk beskikbaar gaan wees, dat die bergrosies en skaamrosies vanjaar volop blom. Paul se pak hang in sy kas, sy het die regte kleur hemp vir hom gekry, en Thys van Leonie sal instaan vir Guillaume. Hulle is ’n oulike paartjie en kan sommer vir hul eie huwelik oefen. Sy kwetter, so voel dit, en niemand luister nie. Pierre het stil geword. Hulle sien mekaar langs Paul se bed en dan kyk hulle weg. Dit maak haar seer. Sy sien uit na die uurtjies wat sy saam met hom by Paul kan kuier. Kam haar hare, grimeer, trek aan vir Pierre – nie vir Paul nie. Sy glimlag soveel, dit voel of haar mondhoeke permanent optrek. Dis om Paul op te beur. Altans, sy probeer, want hy bly moeg. Snags huil sy haar aan die slaap en verlang na Pierre. Sy moet keer of sy bel hom in die middel van die nag. Drie dae voor die troue is Paul sterk genoeg om al ’n lang ent te stap. Hy kom selfs kantoor toe en raak so besig dat hy skaars tyd het om tee te drink. Die datum maak Minette gespanne en bekommerd. Drie dae en hy is so stil en afgetrokke dat dit haar sleg affekteer. “Ek het die gevoel Paul is nog nie gesond nie,” sê sy vir Isadora. Dié lyk die laaste tyd ook maar oes lyk. Sy was elke besoektyd op haar pos by Paul. “My skattebol, ja, ek is baie besorg oor hom. Julle moet dalk oorweeg om die
troue uit te stel.” Minette het dit verwag en tog is sy verbaas. “Hoe stel jy ’n troue uit? Dis oor drie dae! Die blomme is al bestel.” “Jy bel die predikant, jy bel die onthaalsaal en jy kanselleer. Sê jou verloofde is siek; hulle sal verstaan. Julle sal julle deposito verbeur, maar geld is nie alles nie.” “Wat van die gaste? Hoe kontak ons hulle?” “Ons vat die lys en begin bel. Ek sal help.” Minette frons en kyk stip na Isadora. Haar hare is vandag in ’n stywe bolla agter haar kop vasgeknoop. Sy het oorbelle aan wat tot op haar skouers hang en haar Griekse profiel goed pas. Maar haar skouers is krom en dit lyk of sy gewig verloor het. “Ek glo nie ek kan dit doen nie,” sê Minette. “Ek het Paul belowe.” “Ja, jy sal met hom moet praat,” sug Isadora. “Soms wonder ek of die insekte nie ’n beter bedeling het nie. Kyk nou maar na my vyeperdebytjies. Wyfies en mannetjies soek mekaar uit vir die oorlewing van die spesie en nie omdat hulle verlief is nie. Die wyfie doen alles moontlik om haar eiers in die vytjie te beveilig en die mannetjie alles om eerste daar te wees vir die bevrugting. Hy moor selfs sy teenstanders uit. Sy gee nie om om haar vlerke te verloor nie, solank sy net in daardie vytjie kan inkom om haar eiers vir hom te los. Daarna sterf sy. Sulke opoffering gaan alles om die oorlewing van die spesie – nie oor die status om met een van die vooraanstaande bye getroud te wees, sy huis oor te neem en sy van by joune te las nie. Ek moet gaan voor ek te veel praat. Doen wat jy goed dink, skattebol, maar dink!” Isadora loop so krom toe sy by Minette verbydruk na haar kantoor aan die punt van die gang dat Minette haar jammer kry. Isadora het lanklaas klokkies om haar nek gehad en sy dra die laaste tyd te veel grimering. Met ’n glimlag besef Minette wat dit beteken. Isadora is nie net jaloers op haar nie, sy is werklik lief vir Paul. Minette kon dit sien aan die klein gebaartjies langs sy bed. Hoe sy die waterglas volmaak, die lakens onder sy ken platstryk. Daar was dit nie so opvallend nie, want almal wat om sy bed gestaan het, wou
die lewe vir Paul makliker maak. Minette wil Isadora agternasit, haar keer, praat, iets doen. Maar nie hier nie. Dalk is dit nog nie te laat nie. Vyfuur toe sy huis toe ry, gaan sy by die bloemis aan en koop ’n bos blomme – ’n deurmekaar rooibont bos met roesbruin krisante en oranje en geel rose. Hoe sy so blind kon wees en hoe sy haar so blind kon hou, gaan haar verstand te bowe! Die oplossing vir die probleem, vir die hele misverstand, is voor die hand liggend. Sy moet uitvind wat die afgelope twee weke tussen Isadora en Paul gebeur het. Sy gaan Isadora nie aggressief konfronteer nie, sy gaan rustig en vriendelik met haar praat. Wie weet, dalk gaan hulle eindelik soos susters uitmekaar. Dis nie of haar wolk van ’n trourok Isadora sal pas nie, maar die troue sal voortgaan – met ’n ander bruid. Minette is so opgewonde sy kan bars. Sy sit in die kombuis en vrugte eet toe haar blik vir die soveelste keer op die almanak agter die deur val. Die datum wat haar so pla, is met rooi omkring en deeglik gemerk. Dis ’n week dat sy agter haar tyd is. Dit kan wees dat sy verwag, al het sy en Pierre beskerming gebruik – ’n paar keer darem. Dalk as die spanning van die troue wat sy moet kanselleer agter die rug is, kom dit reg en menstrueer sy tog, het sy eers gereken. Sy was juis so bly dit val nie in haar wittebrood nie. Noudat sy tot ’n besluit gekom het, wil sy seker wees; sy kan nie meer so onseker leef nie. Sy wil Pierre vertel hy gaan pa word. Dis skemer toe sy Isadora se blomme in die kar laai en die pad vat na Vyeplasie. Sy is verbaas toe sy Paul se BMW onder die hanepootprieel geparkeer sien, veral aangesien hy vroeër die middag by die werk van haar afskeid geneem het met ’n piksoentjie en ’n gemompelde verskoning oor ’n vriend wat van oorsee af gaan bel. Sy parkeer haar Mazdatjie agter die BMW. Dalk help dit om Paul van die begin af by die gesprek te betrek. Die moontlikheid bestaan dat hy wel vir Isadora omgee, selfs dat hulle meer tyd
saam in die Bosveld deurgebring het as wat Isadora suggereer. Minette maak die deur van die kar saggies toe. Sy het haar katvoetsandale aan en al loop sy ook vinnig, sal niemand haar hoor nie. Haar hand huiwer op die voordeurklokkie. Binne speel musiek, romantiese Chopin. Sy ruik wierook en kerse. Tipies Isadora! Die voordeur is nie gesluit nie en Minette maak dit oop. Sy roep nie, dis of iets haar keer. Nuuskierigheid? Kan wees. Hulle is nie in die sitkamer nie, maar daar brand kerse van allerlei groottes en die kaggel is ook aangesteek. In die kombuis? Minette staan in die skemer gang en luister fyn. Die blomme in haar arms ritsel. Iewers agter die musiek hoor sy Paul se stem; dit klink of hy een of ander beswaar het. Isadora wat soos altyd te hard praat. “Vye is Cleopatra se liefdeskos. Kom, kry nog, toe, Paul. Eet en drink.” Hy lag, sy lag. Minette herken die klank: dis hoe twee mense lag wat mekaar in die middel van ’n dubbelbed voer. “Nog wyn?” Glase klink, nog gelag. “Jy móét haar sê. Jy kan nie voortgaan met die troue nie, dis ’n bespotting. Jy is ongelukkig ná ons petalje in die bootjie, jy was amper dood. Sy sal verstaan, sy is jonk. Sy kan weer voor begin, maar ons?” “Dis drie dae, Dora, drie dae voor die troue. Hoe stel jy ’n troue uit? Dis oor drie dae! Die blomme is bestel.” “Jy bel die predikant, jy bel die onthaalsaal en jy kanselleer. Sê jy is siek; hulle sal verstaan. Julle sal julle deposito verbeur, maar geld is nie alles nie.”
“Wat van die gaste? Hoe kontak ons hulle?” “Ons vat die lys en begin bel; ek sal help. Paul, jy kan nie toelaat dat daai kind met jou trou nie – nie ná ons petalje nie.” Minette wonder nie meer watter petalje nie, sy weet, want sy het ook so ’n petalje gehad, en nie eens in ’n bootjie nie. Sy is nogal nuuskierig om by die kamer in te loer en te kyk of die twee oues kaal is, maar sy hou haar in. Sy loop voordeur toe, lui die klokkie en gee hulle genoeg tyd om hulle ordentlik te maak voor sy weer lui. Isadora is vinniger as Paul. Sy maak die voordeur oop. Haar hare hang los en sy het ’n pragtige geborduurde Griekse japon aan, om haar middel met klokkies vasgebind. Sy lyk minstens tien jaar jonger. Minette prop die ruiker in haar hande. “Alles is reg,” sê sy. “Veels geluk. Sê vir Paul die troue gaan voort en jy is die bruid.” Isadora se mond gaan oop om iets te sê, maar Minette is eerste. “Ek is verlief op Pierre.” “Skattebol! Ek het so vermoed!” gil Isadora. “Eintlik het ek so gehoop! Geweet!” Sy gooi haar arms om Minette en druk amper haar asem uit. “Dink jy ’n dubbelhuwelik kan werk?” vra Minette toe sy haar loslaat. “Dan gee ons die dorp iets om die skinderklub vir jare hierna nog aan die gang te hou.” “Ek dink dis beslis die moeite werd!” “Met wie praat jy, Dora?” Dis Paul en hy klink so rustig soos Minette hom lanklaas gehoor het. “Jou verloofde. Sy het jou kom vrystel van jou belofte aan haar en sy het ’n goeie voorstel. Moenie nou omspring en weghardloop nie, Paul Hagen, dis tyd om die waarheid in die oë te kyk. Minette, skattebol, bel jy vir Pierre. Ons maak hierdie ding vanaand klaar en uit!”
So gebeur dit ook. Die dubbelhuwelik wat Stellenbosch vir maande in ’n toestand van skok en verbasing laat, vind drie dae later plaas. Nie een van die bruide trou toe in wit nie. Isadora is in swart soos gewoonlik, en Minette in die fynste pienk slooprokkie wat Juliana in drie dae kon aanmekaarslaan. Dit val sag om haar volmaakte figuur en vou glad om haar plat magie. Net sy en Pierre weet dat die klein Hagentjie reeds sy of haar wonderlike lewetjie begin het. Minette kan dit nie vir haarself hou nie. Sy vertel maande later vir Lynette dat die tweeling wat sy verwag nie wittebroodsbabas is nie, maar liefdesbabas soos Lynette en Francois s’n. Die twee skoonsusters is besig om muurpapier en gordyne uit te soek vir die restourasie van Hagenhof. Paul en Isadora woon op Vyeplasie en Pierre het die ou huis by sy pa gekoop. Lynette kyk op van die boek met materiaalmonsters en grinnik. “Wys jou: dit gebeur in die beste van families! Maar ek het dit vermoed, hoor.” “Moenie vir Paul en Isadora vertel nie!” “Asof hulle so sedig is.” “Ja, wat van daai boot-petalje van hulle? Maar daaroor praat ons nie.”
In Ettie Bierman se ’n Man vir môre betrap Cecilia haar verloofde saam met ’n ander lugwaardin in sy hotelkamer. Sy bedank by Jakaranda-lugdiens en neem haar voor om nooit weer ’n man te vertrou nie. ’n Pos as skakelbeampte by die vyfsterhotel Mlala Lodge lyk na ’n droom wat kan waar word – so ook Melt Meiring, haar nuwe baas met die goue oë. In Alexa Slabbert se Winterman, somerhart is Donna ’n swemdragmodel wat vir die jaarlikse fotosessie van ’n bekende sporttydskrif na die Comores toe gaan. Tifone en ander struikelblokke maak die eilandervaring iets totaal anders as wat sy geantisipeer het. En dan is daar boonop die tydskrif se redakteur, Simon, bekende flankeerder en rok-, oftewel, bikinijagter, met wie sy moet rekening hou. En in Helena Hugo se Troukoors kan Minette nie wag om oor ses weke mevrou professor Paul Hagen te word nie. Aan die besware, bespiegelings en beskinderings van almal om haar steur sy haar nie meer nie. Dit het niks met enigiemand te doen dat Paul met een van sy studente trou en dat daar so ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle is nie. Behalwe één persoon: Pierre Hagen, Paul se seun . . .
Ettie Bierman is ’n alombekende en hoogs gewilde skrywer van romantiese verhale. Haar vroeëre boeke het gewoonlik ’n reistema, dikwels met ’n lugwaardin as hoofkarakter. Die afgelope paar jaar skryf sy vir die Satynreeks, waarvan Sonnet sonder woorde en Sterre is vir ewig maar enkele titels is. Sy en haar man, Roelf, woon in KwaZulu-Natal.
Alexa Slabbert is die skuilnaam van ’n baie ervare, gewilde liefdesverhaalskrywer. Dié skrywer het ’n natuurlike aanvoeling om liefdestonele te skryf, en is sonder twyfel iemand by wie veral jonger lesers sal aanklank vind.
Die veelsydige Helena Hugo was al onder meer aktrise, omroeper, dramaregisseur en -dosent en uitgewer. Sedert 1995 skryf sy voltyds en talle boeke het reeds uit haar pen gevloei. Uit haar huwelik met Henk Hugo is drie kinders gebore. Sy en Henk woon in Roodepoort.
Jasmyn ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad www.liefdesverhale.co.za
Kopiereg © Die skrywers 2013
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Eerste uitgawe van: ’n Man vir môre (2007) Winterman, somerhart (2007) Troukoors (2009)
Omslagontwerp: Susan Bloemhof Omslagfoto: Gallo Images
E-boekontwerp: Nazli Jacobs
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-624-06554-8
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-624-06555-5 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-624-06556-2 (mobi)