TROMPIE – Die hanswors
Topsy Smith
Omtrent 30 kilometer van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Mense op pad Gauteng toe jaag vinnig hier deur en dink dit is ’n mooi plekkie, maar darem té afgeleë. Min weet hulle! As ou inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: “Hulle weet nie van Trompie nie...”
Die Trompie-reeks
1. Trompie
2. Trompie die stouterd
3. Trompie die soet seun
4. Trompie die hoërskoolseun
5. Trompie die dromer
6. Trompie die speurder
7. Trompie die kragman
8. Trompie die hartedief
9. Trompie die held
10. Trompie die mooi seun
11. Trompie die leier
12. Trompie die rugbyreus
13. Trompie die vegter
14. Trompie die krieketspeler
15. Trompie die filmster
16. Trompie die sakeman
17. Trompie die rebel
18. Trompie die waaghals
19. Trompie die sportman
20. Trompie die hanswors
21. Trompie die reisiger
22. Trompie die kaptein
23. Trompie die alleenloper
24. Trompie die atleet
Inhoud
Hoofstuk 1 – Trompie se poets Hoofstuk 2 – Dawie se pet Hoofstuk 3 – Konsert by die weeshuis Hoofstuk 4 – Die Vier Mal Hansworse Hoofstuk 5 – Die wêreldberoemde sirkus Hoofstuk 6 – Platsak Hoofstuk 7 – Trompie die hanswors
1
Trompie se poets
Die sestienjarige Trompie Toerien sit en doen huiswerk in sy kamer. Hy werk nogal hard. Hy het nou net ’n lang Engelse opstel geskryf en hy dink hy gaan sommer goeie punte daarvoor kry. Die onderwerp wat hy gekies het, is “An Exciting Adventure”. Baie in sy skik met homself lees hy die opstel nou weer deur. Sy “Exciting Adventure” is dat hy eendag in die veld geloop en dink het oor skool en rugby en sulke dinge toe hy ’n bende skurke teëkom. Hy het sommer dadelik geweet dis die daggasmokkelaars na wie die polisie al ’n hele tyd lank soek. Hy wou eers hardloop en die dorp se sersant gaan roep, maar toe besluit Trompie hy is mans genoeg vir die drie smokkelaars, wat besig was om sakke dagga op ’n vragmotor laai. Hy het met gebalde vuiste nader gestap en toe hy ’n entjie van hulle af was, het hy ’n bokshouding ingeneem en kwaai gesê: “Hey yous!” Trompie lees nou hardop verder:
The guys stared at me. I could see they were very frightened. Again I said Hey yous! in ’n voice that filld their harts with terror and then I said what do you do? Hey?
Trompie is in sy noppies. Hy is seker hy gaan amper volpunte vir hierdie opstel
kry. Arme Trompie – hy weet nie hoe wemel sy opstel van die foute nie. Volgens hom is dit ’n puik stukkie werk. Soos hy nou ook hardop vir homself sê, hy is ’n ou wat Engels goed kan gooi. Trompie het die bladsye in beroerde Engels volgeskryf. Hy lees verder hardop hoe hy die smokkelaars – terwyl hulle nog so vol “terror” daar staan – bevlieg het:
The one I gave a uppercut. The other one I cracked his jaw with one mighty blou and as the other one tackled me I jumped away and he went falling ed and then I kicked him hard on the place people sit on. So I say get up man and put up your hands. But he saw his two croek friends laying there not knowing what was happing in this world so he also just lay and said mercy mercy.
Trompie lag toe hy dié gedeelte lees. Dit is natuurlik sommer net ’n storie, maar hy is seker dis wat sal gebeur as hy daggasmokkelaars moet teëkom. Aan die einde vertel Trompie hoe hy die drie toe vasgemaak en die polisie ontbied het. Almal het hom gelukgewens met sy kordaatstuk, maar vir hom was dit sommer niks. Soos hy in sy opstel skryf:
Everybody shaked my hand and said I`’m very brave but I said it was just nothing. And that was my exciting adventure.
Trompie bêre sy Engelse opstelboek in sy boeksak. Ja-nee, dink hy, as hy nie vir hierdie opstel amper volpunte kry nie, is dit ’n kroekspul. Hy neem sy dik fisiesewetenskapboek en kyk na die drie eksperimente wat hulle vir môre moet ken. Hulle het dit nie vandag geken nie en Ou Jorsie, ofte wel
meneer Jooste, was baie kwaad. Sy stem was nog dunner en skriller as gewoonlik toe hy gesê het hulle moet dit behoorlik gaan leer vir môre se klas. Hy het gesê hy voel lus om hulle dit by die huis te laat uitskryf. Gelukkig het hy darem nie gesê hulle moet nie. Trompie kyk na die tekeninge en lees hoe die eksperimente gedoen moet word. Hy dink hy verstaan die goed. Die fisiesewetenskapboek word ook in sy boeksak gepak. Nou sit die Boksombende se Grootkaptein sommer net. Hy het mos nou al sy huiswerk gedoen. Hy wonder wat sy makkers – Rooie, Blikkies en Dawie – aanvang. Hulle is seker nog met huiswerk besig. Dinge begin Trompie nou verveel hier in sy kamer. Hy kyk op sy horlosie. Hy moet nog ’n kwartier hier bly. Trompie, Rooie en Blikkies het swak gevaar in hul laaste toets. Hulle ouers het toe besluit hulle moet ná skool ’n uur en ’n half lank in hul kamers bly en huiswerk doen. As Trompie dit nie doen nie, het sy pa hom plegtig belowe, sal hy nie sakgeld kry nie. Die Grootkaptein het al die sakgeld nodig wat hy kan kry en dis nou al die vierde middag van die nuwe reëling dat hy gedwee ’n uur en ’n half lank hier in sy kamer sit. Hy het nie nog huiswerk nie, maar hy weet sy ouers sal dit nie verstaan nie. Hulle sal sê hy kan mos ’n boek vat en sit en leer. Nee, hy sal maar hier moet bly tot die tyd verby is. Anders kry hy dalk nie weer sakgeld nie – en aan so ’n nare gedagte wil hy liewer nie eens dink nie. Trompie sit nou en wonder wat hy kan doen. Hy draai sy kop en kyk na die spieël. Hy glimlag vir homself. Ja-nee, hy is ’n aantreklike ou. Dis nou maar wors. Toe hy ná ’n paar sekondes moeg word daarvoor om te glimlag, begin hy gesigte trek. Hy wil kyk of hy sulke lelike gesigte kan trek dat hy homself bang maak. Hy knyp sy een wang tussen sy wysvinger en duim vas en trek dit so ver moontlik uit sodat sy mond heeltemal skeef is. Dan trek hy sy ander wang ook uit, steek sy tong uit en frons kwaai. Hy probeer om terselfdertyd sy ore ook te wikkel, maar dit is ’n bietjie moeilik.
Die prentjie in die spieël maak Trompie glad nie bang nie. Hy word moeg daarvoor om gesigte te trek en hou op daarmee. Hy kyk weer op sy horlosie. Hy moet nog ’n hele tien minute hier sit en niks doen. Met ’n swaar sug haal hy nou ’n strokiesverhaal onder sy matras uit. Sy pa wil nie hê hy moet strokiesverhale lees nie – dis hoekom hy die goed onder sy matras bêre. Trompie blaai vies deur die gehawende boekie. Hy kyk net na die prente. Dit gaan oor Superman se avonture. Hy het hierdie strokiesverhaal al so baie gelees dat hy dit glad nie meer geniet nie. Die ding is ook al so vuil en geskeur dat niemand dit vir ’n ander een wil ruil nie. Terwyl hy deur die boekie blaai, dink hy dit sal darem wonderlik wees as hy soos Superman deur die lug kan vlieg. Trompie het ’n lewendige verbeelding en hy sien nou hoe hy sommer woerts by die venster uitvlieg, en daar trek hy die lug in. Waarheen gaan hy? Die Grootkaptein se sproetgesig is vir ’n oomblik op ’n plooi soos hy dink, maar dan verhelder dit. Natuurlik! Hy skiet oor die oseane – reguit Nieu-Seeland toe. Hy wil gaan kyk hoe die Springbokke die All Blacks daar in hul eie land opfoeter. Trompie sit nou heerlik en droom. Hy sien hoe hy sommer in ’n kits in NieuSeeland is, daar regs langs die veld. Almal staan op en bring hulde aan hom – aan Trompie, Suid-Afrika se Superman, wat gou oorgevlieg het (natuurlik nie in ’n vliegtuig nie) om te sien hoe die Springbokke vaar. Selfs die Bokke – en by hierdie gedagte glimlag Trompie tevrede – drom om hom saam en vra sy handtekening voor hulle op die veld draf. Salig sit Trompie so en lugkastele bou, maar sy geweldige verbeeldingskrag verflou wanneer hy moet inspring om die Springbokke te help toe die All Blacks vir hulle probleme begin gee. “Watse nonsens sit ek nou en dink,” sê hy vies. Hy staan op en rek hom uit. Hy kyk op sy horlosie. Hy moet sowaar nog vyf minute hier sit.
Hy wonder of Blikkies en Rooie ook so verveeld is. Dawie is baie slim. Hy is twee jaar jonger as hulle en in dieselfde klas, maar hy was nie in die moeilikheid met die toets nie. Hy hoef nie elke middag ’n uur en ’n half in sy kamer te sit as straf nie. Dawie loop seker iewers rond, dink Trompie, en Rooie en Blikkies sit en leer seker fisiese wetenskap. Dit was mos hulle wat nie vanoggend die eksperimente geken het nie en veroorsaak het dat Ou Jorsie sommer teen die hele klas uitvaar. Toe Trompie daaraan dink dat Rooie en Blikkies seker besig is om die eksperimente te leer, begin hy skielik glimlag. Hy dink aan ’n plan. Hoe langer hy daaraan dink, hoe meer hou hy daarvan en hoe breër glimlag hy. Hy gaan hulle ’n poets bak. Hy kan mense mos goed na-aap en dis maklik om ’n fyn stemmetjie soos Ou Jorsie s’n na te maak. Trompie kyk op sy horlosie en pak verlig ’n paar boeke wat nog op sy skryftafel lê in sy boeksak. Die uur en ’n half van marteling is verby. Hy het nou beter dinge om te doen. Hy raap sy pet op en trek dit skeef oor sy ongekamde boskasie. Hy stap by die kamerdeur uit en in die gang af na die sitkamer waar die telefoon is. Trompie lyk soos ons hom ken. Sy hande is diep in sy broeksakke. Sy pet sit windmakerig skeef op sy kop. Sy hemp hang agter by sy broek uit en sy kouse lê op sy skoene. Hy stap diep ingedagte sitkamer toe. Hy dink hoe hy die onderwyser se stem gaan namaak en wat hy alles gaan sê en begin sommer nou al lag. Blikkies en Rooie gaan hard moet werk, maar dit sal hulle goed doen, dink Trompie. Hy stap eers deur die sitkamer en loer om die kombuisdeur. Sy ma is nie daar nie. Sy is seker iewers in die tuin. “Nou gaan die sports begin,” mompel Trompie en maak hom tuis in die groot gemakstoel langs die tafeltjie waarop die telefoon staan. Trompie besluit hy gaan eerste vir Rooie bel. Rooie is ’n sterkgeboude kalant van sestien wat saam met Trompie, Blikkies en Dawie in graad tien is. Hulle vier is leerders aan die beroemde Hoërskool Kwaggaberg. Hulle is al van graad vier af groot vriende, en is gedurig bymekaar. Hulle is beroemd (of is dit miskien
berug?) as die vier lede van die Boksombende. Trompie is natuurlik die kaptein – of liewer, die Grootkaptein, soos hy dikwels na homself verwys. Rooie het, soos ’n mens sou verwag, rooi hare. Sy pa is die skoenmaker op die dorp, maar eienaardig genoeg kan Rooie glad nie skoene aan sy voete verdra nie. Noudat hy op hoërskool is, moet hy skoene dra. Maar sodra die skool uitkom, pluk hy hulle van sy voete af. Die veters word aan mekaar vasgebind en dan word die skoene om sy nek gehang. Blikkies is lank en skraal van lyf. Hy het sy bynaam op laerskool gekry omdat sy knieë altyd teen mekaar gestamp het wanneer hy uit ’n bank opstaan. Die geluid het baie geklink soos twee blikke wat teen mekaar gekap word. Dit was altyd groot pret vir die kinders om hom te laat opstaan sodat hulle lekker kon lag. Blikkies is die besadigde een van die vier. Hy maak altyd beswaar as Trompie die een of ander kattekwaad wil aanvang. Maar nadat hy beswaar aangeteken het, is sy gewete skoon – soos hy altyd sê – en dan gee hy Trompie sy volle ondersteuning. Trompie, Rooie en Dawie ken hom so en hulle ignoreer altyd sy besware. Dawie is baie kleiner as die ander drie. Hy is die jongste en die slimste, en het ’n wakker, ondeunde gesig. Hy volg Trompie altyd blindelings, want Trompie het mos eenkeer sy lewe gered. Dawie het in die dam geval en kon nie swem nie, maar Trompie het ingeduik en hom uitgehaal. Hy weet natuurlik nie dit was Trompie wat hom ingestamp het nie, maar dit maak ook nie saak nie. Trompie het hom gered – en Dawie sal die Grootkaptein altyd as sy held beskou. Toe Trompie die gehoorstuk optel, begin hy grinnik. Hy sit die foon weer neer. Hy moenie lag nie. Dan sal Rooie mos dadelik weet dis ’n gekskeerdery. Met ’n ernstige gesig bel Trompie nou Rooie se nommer. Hy hoor hoe die foon lui. ’n Vrouestem antwoord. Dit is Rooie se ma. “Mevrou,” sê Trompie, “mag ek asseblief met u seun praat?” Trompie dink dis hoe Ou Jorsie sal praat. Hy sit ’n fyn, dun stemmetjie aan wat kompleet soos die fisiesewetenskaponderwyser s’n klink. “Seker,” sê Rooie se ma. Sy herken die stem omdat sy ’n ruk gelede saam met die onderwyser by ’n basaar gehelp het. “Is daar miskien moeilikheid, meneer Jordaan?” vra sy effens bekommerd. ’n Onderwyser bel nie gewoonlik ’n leerder
by die huis nie. Trompie glimlag. Sover werk sy plan uitstekend. “Geen moeilikheid nie, Mevrou,” antwoord hy en aap die onderwyser skitterend na. “Ek wil net met hom oor huiswerk praat.” “Ek roep hom, Meneer. Hy sit juis en skoolwerk doen.” “Dankie, Mevrou,” sê Trompie beleefd. Terwyl Rooie se ma hom gaan roep, kyk Trompie op sy horlosie. Hy is seker sy vriend is nie meer in sy buitekamer nie. Dit is mos al ’n paar minute ná die tyd wat hy daar moet bly om huiswerk te doen. Hy lag nou lekker. Rooie gaan hom boeglam skrik as sy ma vir hom sê meneer Jordaan wil met hom praat. Trompie hoop maar net sy vriend is nog by die huis en nie miskien op pad na hom, Blikkies of Dawie toe nie. ’n Paar sekondes later tel Rooie die foon op. “Middag, Meneer... Ja, Meneer?” sê hy en dit klink asof hy gehardloop het. Toe sy ma vir hom sê meneer Jordaan wil met hom praat, het hy seker so groot geskrik dat hy sommer na die foon toe gehol het, dink Trompie. Hy byt op sy onderlip om nie hardop te lag nie. “Wat maak jy, Rooie?” vra Trompie, terwyl hy die onderwyser se stem nog steeds uitstekend namaak. “Meneer... ek was nou net op pad...” “Waarheen?” Trompie probeer kwaai klink. “Ek was op pad na Trompie toe, Meneer.” “Hoekom?” “Sommer om ’n bietjie by hom te gaan kuier, Meneer.” Rooie klink baie bedees.
Trompie geniet dit geweldig. Hy sit nou agteroor in die groot gemakstoel en laat rus sy voete op ’n bankie voor hom. “Jy bly weg van daardie Toerien-knaap af,” sê hy skril. “Hy is nie goeie geselskap nie.” “Ja, Meneer... Ek-ek... weet, Meneer.” Hmm, dink Trompie, hy sal met Rooie moet afreken. So, sy vriend dink hy is slegte geselskap, nè? Hy wat Rooie is, sal ’n ding sien wat hy nie graag wil sien nie. Vies sê Trompie, terwyl hy natuurlik nog steeds die onderwyser naboots: “Jy is nie ’n kêrel wat dit kan bekostig om rond te loop nie. Jy was vanoggend een van die domkoppe in die klas. Jy kon nie die eksperimente wat ek al soveel keer verduidelik het korrek doen nie, kon jy?” “Nee, Meneer,” sê Rooie ewe gedwee. Trompie glimlag selfvoldaan. Hy aap Ou Jorsie so perfek na dat Rooie niks agterkom nie. Hy kies selfs woorde soos “knaap” en “kêrel” en “domkoppe” – woorde wat die onderwyser gereeld gebruik. Rooie is vas oortuig dis Ou Jorsie wat met hom praat en hy sal enigiets doen wat die onderwyser sê. “Wel,” sê Trompie, “ek wil hê jy moet daardie drie eksperimente vanmiddag vir my uitskryf, verstaan?” Rooie sug swaar. Hy verseker Trompie – of meneer Jordaan, soos hy natuurlik dink – hy verstaan. “Ek wou vir jou gesê het om dit te doen voor ek weg is uit die klas, maar dit het my ontgaan. Dis hoekom ek jou gebel het. Jy doen dit netjies, met die tekeninge daarby. Verstaan?” Hierdie “Verstaan?” is ook kenmerkend van meneer Jordaan. Rooie verseker “meneer Jordaan” weer eens hy verstaan. Trompie dink daaraan dat Rooie miskien te lig daarvan afkom. Hy het dan gesê hy dink nie Trompie is goeie geselskap vir hom nie. “Ek het so pas van plan verander,” sê Trompie met ’n kwaai, skril stem. “Ek wil
hê jy moet elke eksperiment twéé keer uitskryf.” “Jislaaik, Meneer,” sê Rooie onwillekeurig. “Twee keer is darem baie werk, Meneer weet.” Dit sal hom die hele middag en aand besig hou. Trompie bars amper uit van die lag, maar hy hou hom in. “Wat het jy gesê?” vra hy kwaai. “Ek... ek het maar net... net gesê, Meneer,” stamel Rooie verbouereerd, “‘jislaaik, Meneer, twee keer is darem baie werk, Meneer weet.’ Dis maar al wat ek gesê het, Meneer.” Nou kry Trompie vir Rooie jammer. “Nou goed,” sê hy, “skryf elke eksperiment dan maar net een keer uit, maar jy begin nou dadelik en jy werk netjies. Verstaan?” “Ja, Meneer,” sê Rooie gehoorsaam, “ek verstaan. Ek sal nou dadelik begin.” “Nou gaan begin dan,” snou Trompie hom toe en sit die telefoon vinnig neer. Trompie hou eintlik sy maag vas soos hy lag. Hy sal nou-nou gaan kyk hoe Rooie daar in sy buitekamer sit en swoeg, maar nou moet hy eers met Blikkies ook die gek skeer. Blikkies was mos ook een van die leerders wat nie vanoggend die eksperimente kon verduidelik nie. Hy bel Blikkies se huis. Blikkies antwoord self die telefoon en sê ewe gemaklik: “Haai!” Trompie wil amper ook sommer net “Haai!” sê, maar bedink hom net betyds. “Ekskuus?” vra hy kil en klink net soos meneer Jordaan. “Hè... hè?” Blikkies is duidelik heeltemal uit die veld geslaan. “Wie is dit wat praat?” Sy stem klink agterdogtig. “Wie dink jy is dit?” vra Trompie, glad nie vriendelik nie. Blikkies aarsel. Dit klink vir hom of dit meneer Jordaan is. Maar hoekom sal Ou Jorsie hom hier by die huis bel?
“Ek is nie seker wie dit is nie,” sê Blikkies huiwerig, maar hy klink nou baie beleefder ingeval dit miskien wel Ou Jorsie is. “Dit is meneer Jordaan van die skool!” Blikkies sluk. Dis soos hy gedink het. “Ja, Meneer... Goeiemiddag, Meneer,” sê hy vinnig. Trompie glimlag. Hy het Blikkies ook lekker geflous. “Wat doen jy?” “Niks nie, Meneer... Ek het maar sommer hier by die huis gesit, Meneer.” “Kyk, knaap, jy het nie tyd om so te sit en niks doen nie. Jy weet niks, jou domkop!” “Ja, Meneer,” sê Blikkies gedwee. Trompie glimlag weer. Blikkies het hom boeglam geskrik. “Ek wil hê jy moet daardie drie eksperimente waarvan jy vanoggend geen benul gehad het nie in jou huiswerkboek uitskryf.” “Al drie, Meneer?” “Natuurlik – al drie!” “Ja, Meneer.” “Nou gaan begin dadelik!” “Ja, Meneer... Middag, Meneer.” Trompie lui af en lag lekker. Sy plan het uitstekend gewerk. Hy sit en lag nog so in die groot gemakstoel toe sy ma by die sitkamer inkom. “Wat is die grap, Trompie?” vra sy.
“Ek lag maar net, Ma,” sê hy en staan op. “Sommer oor niks?” Sy lyk bekommerd. Dit lyk of sy wonder of hy miskien siek voel. “Nie eintlik oor niks nie, Ma.” Trompie spring op, gryp sy pet en is reg om te verdamp. “Ek lag maar net omdat Blikkies en Rooie sulke swape is.” “En is jy dan nie ook een nie?” vra sy ma glimlaggend. “Ek?” Trompie kyk verbaas na haar. “Natuurlik nie, Ma.” Dan stoot hy sy bors effens uit en met ’n ondeunde blik in sy oë sê hy: “Ma weet mos ek is ’n slim, hardwerkende, aantreklike ou.” Sy ma lyk verbaas en sê: “Ek weet net jy is ’n verwaande ou.” Trompie is nie seker of sy ernstig is, of nie. Hy dink vir ’n oomblik hieroor na, maar besluit dan hy het nie tyd om so rond te staan nie. Hy wil gaan kyk hoe Rooie en Blikkies die eksperimente sit en uitskryf. Hy wil hom properlies siek lag, soos hy dit in sy kop stel, om die twee swape so te sien werk. “Tot siens, Ma,” sê hy en stap deur se kant toe. “Ek gaan vir die ouens kuier.” “Vir die swape,” sê sy ma droogweg. “Dis reg, Ma,” en Trompie is vinnig by die sitkamer uit. Sy ma kyk hom agterna. Daar is ’n sagte glans in haar oë. Ai, dié Trompie darem! Hy is altyd vol kattekwaad en daarom ook alewig in die moeilikheid. Deur die venster sien sy hoe hy vinnig met die tuinpaadjie af na die hekkie toe stap. Hy is duidelik haastig, maar skop nogtans in die verbygaan ’n pragtige dahlia wat oor die tuinpaadjie hang dat dit met ’n boog deur die lug trek. Sy ma kyk nou kwaai na hom. Dan sug sy swaar. Sy het vir hom gesê hy moenie haar blomme skop nie. Sy weet as sy vanaand met hom daaroor praat, sal hy haar met ’n onskuldige gesig om verskoning vra en verduidelik dat hy maar net “gevergeet” het en nie gedink het toe hy dit doen nie. Trompie grinnik by homself as hy dink hoe Rooie en Blikkies op hierdie lekker
middag in hul kamers sit en werk. Al skoppend na klippe, blikke en graspolle – alles wat binne trefafstand is – stap hy na Rooie se huis toe. Sy regterskoen se punt is al ingeduik van alles waarna hy gedurig loop en skop. Naby Rooie se buitekamer gee Trompie ’n lang, uitgerekte fluit wat hy afwissel met ’n lae noot. Dit is die Boksombende se sein. Hy draai sy kop effens skuins en hoor duidelik hoe Rooie op dieselfde manier terugfluit. Hy grinnik. Rooie, die arme drommel, sit hard en werk daar in sy kamer en dis alles verniet. Trompie stap om die huis na Rooie se buitekamer toe. Hy klouter deur die venster. Dis ’n ongeskrewe reël van die Boksombende dat hulle nie ’n deur gebruik om by ’n vertrek in te kom as daar ’n venster is waardeur hulle kan klim nie. Rooie sit en skryf by sy tafel. Hy kyk net vlugtig op en sê: “Haai.” “Haai,” groet Trompie. Trompie swaai ’n stoel om en gaan sit daarop. Hy sit wydsbeen oor die stoel en sy arms, skouers en kop rus op die rugleuning. Trompie het eenkeer in ’n fliek gesien ’n cowboyheld sit so en van toe af doen hy dit ook gereeld. Hy kyk nuuskierig na sy vriend. Rooie het nog nie ’n woord verder gesê nie. Hy sit en teken een van die eksperimente. Hy voel vies. Hy wou net mooi uitgaan, toe bel Ou Jorsie en sê vir hom hy moet die drie eksperimente uitskryf, met die tekeninge daarby. Dis onregverdig, dis wat dit is, mompel hy meer as een keer. “Wat doen jy, Rooie?” vra Trompie kastig belangstellend – asof hy nie weet nie! “Kan jy nie sien nie?” brom Rooie. “Ek skryf daardie eksperimente uit wat ek nie vanoggend geken het nie.” “Maar hoekom?” Trompie doen sy bes om so verbaas moontlik te lyk. “Ou Jorsie het mos nie gesê ons moet dit doen nie.” “Hy’t vir my gesê ek moet dit doen.” Rooie kyk vies op en vertel vir Trompie hoe hy sy huiswerk gehoorsaam gesit en
doen het, en hoe goed hy gevoel het omdat hy so hard werk. Maar net toe hy uitstap om vir Trompie te gaan kuier, het sy ma hom geroep. Ou Jorsie wou met hom praat. “En toe sê die ou so wraggies ek moet die goed alles uitskryf.” Rooie sug so swaar dat Trompie amper vir hom jammer voel. “Maar dit gaan jou minstens twee uur vat,” sê Trompie. “Ek weet, maar wat kan ek doen?” Rooie tel sy potlood op en gaan aan met die tekening. Trompie glimlag. Hy het sy vriend darem lekker om die bos gelei. Hy wonder wat Rooie sal doen as hy nou vir hom sê dit was hy wat gebel het. Rooie sal baie kwaad wees dat die Grootkaptein hom so ’n streep getrek het, maar hy sal darem ook baie verlig wees dat hy die werk nie meer hoef te doen nie. Trompie besef skielik dat hy en Rooie miskien besigheid kan gesels. Rooie sal waarskynlik bereid wees om te vergeet van daardie tien rand wat Trompie hom al so lank skuld as hy nie die eksperimente hoef uit te skryf nie. Trompie dink ernstig hieroor na. Die idee het beslis moontlikhede. Hy wil Rooie net begin pols toe hy skielik twee mense hoor fluit – ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dit is natuurlik Dawie en Blikkies. Trompie en Rooie fluit op dieselfde manier terug. Trompie wonder hoe op aarde Blikkies hier kan rondloop. Hy moet mos nou in sy kamer sit en eksperimente uitskryf. Blikkies en Dawie klim deur die venster. “Haai,” groet hulle. “Haai,” groet Trompie en Rooie. Die twee gaan sit. “Het Ou Jorsie jou ook gebel?” vra Dawie toe hy die oop boeke voor Rooie op die tafel sien.
“Ja,” sê Rooie vies. “Ek wonder of ’n onderwyser die reg het om ’n ou by die huis te bel en werk te gee om te doen. Hy moet dit mos in skooltyd doen.” Trompie is dik van die lag. Hy het Rooie regtig netjies geflous. Hy is nog dikker van die lag toe Blikkies grootmeneer byvoeg: “Ek het darem my sê ook gesê.” “Wat bedoel jy, jy het jou sê ook gesê?” vra Dawie. “Wel, ek het vir hom gesê ek laat nie sommer dat ’n ou – al is dit ook ’n onnie – so op my kop sit nie. Ek het vir hom gesê ek dink dis onregverdig dat hy buitekant die skool huiswerk uitdeel.” “En wat het hy toe gesê?” vra Trompie, wat sukkel om nie uit te bars van die lag nie. Hy weet mos wat Blikkies gesê het – hy was so mak soos ’n lammetjie en het net die hele tyd gesê: “Ja, Meneer... Ek verstaan, Meneer.” “Hy het my gevra,” sê Blikkies, “of ek die werk gaan doen, of nie – en toe vra ek hom wat gaan gebeur as ek dit nie doen nie. Hy het gesê hy gaan my kantoor toe vat en ek gaan gelooi word dat ek dae lank nie sal kan sit nie.” “En wat het jy toe gesê?” vra Trompie laggend. Blikkies is mos nou besig om vreeslik lekker te jok. “Toe het ek gesê ek sal die werk seker maar moet doen. Wat kon ek anders sê? Ek wil mos nie so geslaan word dat ek dae lank nie kan sit nie.” “Nou hoekom is jy nie besig daarmee nie?” vra Trompie. “Hoekom loop jy hier rond?” “Ek wou Dawie se boek leen, maar hy het die ding by die skool vergeet. Nou kom ek Rooie s’n leen.” “Jy kan nie myne kry nie,” sê Rooie. “Ou Jorsie het my ook mos gebel. Ek moet die goed ook uitskryf.” “Het jy ook eers geweier?” wil Trompie nou weet. Sy oë vonkel. “Wel,” sê Rooie, “ek het nie eintlik geweier nie, maar ek het ook my sê gesê. Ek het gesê dis nie fêr dat ’n ou wat hard gesit en werk het en al sy huiswerk gedoen het, sommer so oor die foon nog meer huiswerk kry nie. Dis nie fêr nie, dis wat
ek vir hom gesê het.” Trompie lag lekker. Rooie jok sowaar net so lekker soos Blikkies. “Wat lag jy?” brom Rooie. “Wat sou jy miskien gedoen het as Ou Jorsie jou gebel en vir jou gesê het om die eksperimente uit te skryf?” “Ek sou geweier het,” sê Trompie manhaftig. “Ek sou vir hom gevra het waar dit in die reëls staan dat hy sommer so links en regs oor die foon huiswerk kan uitdeel. Dis wat ek sou gevra het.” “En jy sou nie die werk gedoen het nie?” “Natuurlik nie. Ek is mos nie simpel nie.” Rooie en Blikkies kyk na mekaar. Bedoel Trompie nou hulle is simpel? “Al sê die ou ook hy sal jou slaan dat jy dae lank nie kan sit nie as jy nie die werk doen nie?” wil Blikkies nou weet. “Al sê die ou dit ook,” sê Trompie kamtig ongeërg. Dit is nou stil in die kamer. Die vier sit elkeen met sy eie gedagtes. Dawie sit op die bed en staar by die venster uit. Hy wonder wat hy sal doen as ’n onderwyser hom bel en vir hom ekstra huiswerk gee. Hy sal dit seker maar doen. Hy sal nie teëpraat nie. Hy wonder of Rooie en Blikkies regtig teëgepraat het. Hy twyfel. Hulle het seker nie boe of ba gesê toe Ou Jorsie hulle bel nie. Blikkies sit langs Dawie op die bed. Sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n grashalmpie kou. Blikkies kou altyd. As hy geld het, kou hy kougom, maar as sy finansiële posisie nie te rooskleurig is nie, kou hy ’n grashalmpie – soos vandag. Om die waarheid te sê, hy het nie eens iets soos ’n finansiële posisie nie. Hy is sommer properlies platsak. Daar is ’n vies uitdrukking op Blikkies se gesig. Hy dink aan die werk wat hy nou nog vir Ou Jorsie moet gaan doen. Dit sal hom minstens twee uur vat – dis te sê as hy ’n boek iewers geleen kan kry. Om te wys hoe vies hy regtig is, spoeg hy die grashalmpie waaraan hy kou met ’n boog by die venster uit. Daarna sug hy diep. Die lewe is darem maar moeilik.
Trompie kyk na sy ingeduikte skoenpunt. Hy sit ernstig en dink. Wat sal gebeur as hy vir hulle sê hy het die gek met hulle geskeer – dat dit hy was wat Ou Jorsie se stem nagemaak en vir hulle gesê het hulle moet die eksperimente uitskryf? Miskien pak die twee hom sommer gelyktydig. Maar nee, en nou glimlag hy, hulle sal so verlig wees dat hulle dit nie meer hoef te doen nie dat hulle ook maar sal saamlag oor die poets wat hy hulle gebak het. Miskien – en hy dink weer aan die tien rand wat hy Rooie skuld – sal hulle so verlig wees dat hulle sal betaal om nie die werk te doen nie. Blikkies het natuurlik nie geld nie – dis hoekom hy ’n grashalmpie kou – maar hy het daardie duur rolpuntpen wat nie behoorlik kan skryf nie, die een wat Trompie so graag wil hê. Die Grootkaptein is seker hy sal dit kan regmaak. Hy wou al baie keer sy Joseph Rodgers-mes vir die pen ruil, maar Blikkies wou nog nooit ja sê nie. Blikkies wou nog altyd weet wat ’n mens met ’n mes doen wat nie ’n lem het nie en Trompie kon nog nooit vir hom ’n bevredigende antwoord gee nie. Trompie kyk nou ondersoekend na die twee. Blikkies sit sommer net. Sy oë is half toe en dit lyk amper of hy slaap. Rooie wikkel sy tone. Hy probeer sy groottone beweeg sonder dat die ander ook beweeg. Dis baie moeilik. Een keer kry hy dit amper reg, maar dan begin een van die ander tone ook roer. Rooie hou vies op om sy tone te wikkel. Dan tel hy sy potlood weer met ’n sug op. Hy sal maar met die werk moet aangaan. Trompie besluit nou om besigheid te gesels. “Rooie en Blikkies,” sê hy en kyk ernstig na hulle, “ek het ’n aanbod vir julle.” Verbaas kyk die twee na hom. Dawie staar nou ook nie meer by die venster uit nie. Hy kyk ook belangstellend na Trompie. “Wat’s die aanbod?” vra Blikkies en lyk effens agterdogtig. Rooie lyk ook agterdogtig. Hy sal ook graag wil hoor wat die aanbod is. Hulle lyk so skepties omdat hulle al baie keer vantevore met Trompie se voorstelle te doen gekry het. “Luister nou mooi,” sê Trompie saaklik. Die drie kyk na die Grootkaptein. Hulle sit reg om mooi te luister.
“Nou sê jou sê,” brom Rooie kwaai sodat almal goed moet verstaan hy is ’n ou wat nog baie werk het om te doen.
2
Dawie se pet
“Sê nou maar net,” begin Trompie, “julle hoef nie die eksperimente uit te skryf nie? Dit sal darem lekker wees, nè?” “Natuurlik sal dit lekker wees,” sê Rooie met ’n vies uitdrukking op sy gesig. “Maar ons moet dit nog steeds doen, of ons nou wil of nie. Praat, Trompie. Wat is jou aanbod? Ek het baie werk.” “Ek ook,” sê Blikkies nors. “Kom ek sê julle wat ek vir julle sal doen,” sê Trompie en skuif sy stoel nader terwyl hy sy hande in die lug voor hom vryf. “Ek sal dinge so reël dat julle nie die werk hoef te doen nie. As ek dit regkry, hou ek daardie tien rand wat ek jou skuld, Rooie. En jy, Blikkies, ruil daardie rolpuntpen van jou wat nie kan skryf nie vir my Rodgers-mes.” “’n Mes wat nie eens kan sny nie,” brom Blikkies. “En hoe dink jy miskien,” vra Dawie, “gaan jy dit regkry?” Rooie en Blikkies knik hul koppe heftig. Dis duidelik wat hulle ook wil weet. Hoe gaan hy dit regkry? “Dit maak nie saak hoe nie,” sê Trompie. “Al wat ek wil weet, is – as ek dit regkry, sal jy, Rooie, van daardie tien rand vergeet, en sal jy, Blikkies, jou pen vir my mes ruil? Dis al wat ek wil weet. Dis my aanbod.” Rooie en Blikkies dink na oor die aanbod. Hulle wonder hoe Trompie dink hy kan dit regkry. Maar as hy kan, sal hulle heeltemal bereid wees om sy aanbod te aanvaar.
Rooie sit en dink dat hy daardie tien rand al lank gelede afgeskryf het as slegte skuld. Blikkies dink dat sy pen mos nie veel beteken nie. Dit kan nie skryf nie, en wat is die nut van ’n pen wat nie kan skryf nie? “As ons maak soos jy wil hê,” sê Rooie, “hoe weet ons jy gaan regkry wat jy sê jy gaan regkry?” “Jy bedoel, watse versekering het julle?” sê Dawie. Rooie knik sy kop. Ja, dis presies wat hy bedoel. Watse versekering het hulle? “Julle het my woord,” sê Trompie en stoot sy bors effens uit. “Ek belowe julle mos daar sal niks gebeur nie. Ou Jorsie sal nie eens julle uitskryfwerk wil sien nie.” Rooie, Blikkies en Dawie kyk fronsend na hom. Dan vra Dawie weer: “Maar hoe gaan jy dit regkry, Trompie? Gaan jy sommer net reguit vir Ou Jorsie vra? En as dit jou plan is, hoe kan jy so seker wees hy sal ja sê?” “En sê nou maar,” kom Rooie se stem weer, “jy vra hom en hy sê nee, en dis dan te laat vir ons om die werk te doen en hy slaan ons – wat dan, hè?” “Kyk,” sê Trompie, “dit maak nie saak hoe ek dit gaan regkry nie. As julle my aanbod aanvaar, hoef julle niks uit te skryf nie, en ek belowe julle Ou Jorsie sal vergeet daarvan. Vertrou julle my, of nie?” Rooie en Blikkies kyk Trompie weer agterdogtig aan. Hulle vertrou hom duidelik nie. Maar hulle wens hulle kon, want hulle voel glad nie lus om die eksperimente uit te skryf nie. Dawie, die slimkop, kyk nadenkend na hul Grootkaptein. Trompie is baie seker van sy saak, redeneer Dawie by homself, en as hy so seker is, beteken dit mos hy weet iets wat hulle nie weet nie. “Maar wat laat jou dink,” vra hy nou, “Ou Jorsie sal daarvan vergeet? Dis wat ek wil weet.” Dis duidelik wat Blikkies en Rooie ook wil weet, want hulle knik weer hul koppe. “Ek sê mos vir julle hy sal,” sê Trompie en klink vies. “My woord behoort goed
genoeg te wees. Ek belowe op my woord van eer as ’n verkenner, Ou Jorsie sal niks sê nie. Nou toe, glo julle my nou?” Trompie het duidelik ’n groot indruk op sy drie vriende gemaak. Hulle weet mos hy sal nie op sy woord van eer as ’n verkenner iets belowe en dit dan nie doen nie. Maar hoe op aarde gaan hy dit regkry? Dis vir hulle ’n raaisel. Voor hulle hierdie lastige vraag weer kan vra, sê Trompie vinnig: “En julle hoef nie te weet hoe ek dit gaan regkry nie. Ek belowe julle ek sal en klaar. Julle hoef nie die werk te doen nie, en julle hoef glad nie meer te worrie daaroor nie. Niks sal gebeur nie. Soos ek gesê het, Ou Jorsie sal dit nie eens wil sien nie.” Trompie praat ernstig en die drie is diep beïndruk. Dawie is egter nog agterdogtig. Hy glo nou – nadat Trompie sy woord as ’n verkenner gegee het – dat hy dit sal regkry. Maar hoe op aarde gaan hy dit doen? Dis waaroor Dawie sit en wonder. Blikkies en Rooie voel lus om Trompie se aanbod te aanvaar. Rooie dink die tien rand wat Trompie hom so lank al skuld, is nie baie om op te offer nie. Buitendien twyfel hy sterk of hy daardie geld ooit weer sal sien. Blikkies dink hy sal nogal graag die pen wat nie kan skryf nie, wil verruil vir die mes wat nie kan sny nie – solank hy nie die werk hoef te doen nie. Die twee kyk na mekaar, dan knik hulle en sê soos een man: “Oukei.” “Oukei wat?” wil Trompie nou weet, net om seker te maak. “Oukei,” sê Blikkies, “ons aanvaar jou aanbod. Jy skuld nie meer vir Rooie tien rand nie en ek sal my pen vir jou mes ruil.” “Mooi so!” sê Trompie laggend. “Dan is die saak reg. Julle hoef nou nie meer die werk te doen nie.” “Maar sê nou maar net ons is môre in die moeilikheid by Ou Jorsie?” brom Rooie. “Sê nou maar net hy slaan ons so dat ons vir dae lank nie kan sit nie omdat ons nie die werk gedoen het nie?” “Aag, Rooie, hou nou op, man,” sê Trompie, en hy klink verveeld. “Ek het julle mos gesê julle hoef nie meer die goed uit te skryf nie. Ou Jorsie sal nie eens met julle daaroor praat nie. Vergeet nou daarvan.”
Maar Trompie se twee slagoffers kan nie so maklik daarvan vergeet nie. Hulle is te bekommerd. Sê nou maar net Trompie kry dit nie reg nie? Dan gaan hulle mos lelik deurloop. “Hoekom sit jy nog hier, Trompie?” vra Dawie skielik. Sy hele gesig is op ’n plooi getrek. Hy dink duidelik diep. “Hoekom mag ek nie nog hier sit nie?” vra Trompie verbaas. “Jy moet mos nou op pad wees om Ou Jorsie te gaan sien,” sê Dawie, “om hom te vra om van Rooie en Blikkies se huiswerk te vergeet.” Rooie en Blikkies stem saam met Dawie. Hulle dink ook Trompie moet hom roer. Hy moet mos nou iets doen vir die tien rand wat hy gekry het en vir die pen wat Blikkies vir sy mes gaan ruil. “Ek hoef nie vir Ou Jorsie te gaan sien nie,” sê Trompie saaklik. “Ek weet klaar julle hoef nie meer die werk uit te skryf nie.” “En wie’s jy miskien om dit te weet?” brom Rooie. “’n Mens kan maar sê,” kondig Trompie met glinsterende oë aan, “ek is Ou Jorsie.” ’n Paar oomblikke lank is daar ’n doodse stilte in die kamer. Rooie, Blikkies en Dawie dink oor wat Trompie gesê het – dat ’n mens maar kan sê hy is Ou Jorsie. Vir Rooie en Blikkies klink die storie te ingewikkeld. Rooie brom net: “Probeer jy snaaks wees, hè?” Trompie verseker sy vriend hy probeer nie snaaks wees nie. “As ons môre pak kry,” sê Blikkies vies, “doen ons nie meer besigheid met jou nie – en dan sal jy ’n ding sien wat jy nie graag wil sien nie.” “Soos wat?” Trompie wikkel sy sproetneus om vir Blikkies te wys hy is nie bang vir hom of Rooie nie. “Wat bedoel jy, soos wat?” vra Blikkies vies.
“Watse ding sal ek sien wat ek nie graag wil sien nie?” “Toe maar, jy sal sien,” sê Blikkies net bot. Terwyl hierdie onsinnige argument aan die gang is, sit Dawie nog die hele tyd en dink. Trompie het Blikkies en Rooie verseker – en hulle boonop sy woord as ’n verkenner gegee – dat hulle nie die ekstra huiswerk hoef te doen nie en dat Ou Jorsie niks sal sê nie. Al wat dit kan beteken – so het Dawie intussen sit en redeneer – is dat die onderwyser nie eens daarvan weet nie. Dawie was eers natuurlik nie seker hiervan nie. Maar toe het Trompie gesê ’n mens kan maar sê hy is Ou Jorsie en dit het Dawie weer aan die dink gesit. Sy oë vonkel nou van lekkerkry. Hy dink hy weet wat aangaan. Hy moes al vroeër daaraan gedink het. Dit was natuurlik Trompie wat Rooie en Blikkies gebel en vir hulle gesê het hulle moet die eksperimente uitskryf. Trompie kan mense mos goed na-aap. Hy het natuurlik Ou Jorsie se stem nagemaak. Trompie en Blikkies is nog steeds besig om te argumenteer. Blikkies sê aanhoudend kortaf dat Trompie sal sien wat hy sal sien, en Trompie wil elke slag weet wat dit is wat hy sal sien. “Hou op, julle twee,” sê Dawie laggend. “Trompie sal niks sien nie, want hy sal woord hou. Julle hoef julle glad nie meer oor die werk te bekommer nie.” Dawie kyk na Trompie en knipoog. Trompie lag. Hy weet Dawie het agtergekom dis alles ’n poets. Maar Rooie en Blikkies het nie. Hulle lyk verbaas en wil nou weet hoe Dawie so seker van sy saak kan wees. “Kan ek maar sê, Trompie?” vra Dawie. “Nee, wag,” sê Trompie. Hy wil eers seker maak hulle sal nie sê die twee transaksies val deur die mat as hulle hoor watse streep hy hulle getrek het nie. As Rooie dit sê, sal hy nie juis omgee nie, want hy sal mos bloot weier om Rooie se geld te betaal, maar hy wil darem baie graag Blikkies se pen hê. “Dit maak mos nie saak,” sê Trompie vir sy twee vriende, “hoe ek dit gedoen het of wat ek gedoen het nie. Solank julle nie die eksperimente hoef uit te skryf nie,
en nie pak sal kry omdat julle nie het nie.” Albei verseker hom dit maak glad nie saak nie. Solank hulle maar net nie die werk hoef te doen nie. “Ek skuld jou nie meer tien rand nie, Rooie,” sê Trompie, net om seker te maak, “en môre gee ek vir jou die mes, Blikkies, en gee jy vir my daai pen.” Die twee stem hiermee saam. Dan sê Trompie, en hy waai sy hand deur die lug soos ’n koning wat ’n onderdaan goedgunstiglik toestemming gee om te praat: “Jy kan hulle maar sê, Dawie.” Dawie lag hardop – dan begin Trompie ook lag. En hoe harder die een lag, hoe harder lag die ander een. Rooie en Blikkies sit met suur gesigte na hulle en kyk. Rooie brom: “Ek wonder wat’s kastig so snaaks?” Blikkies sê hy wonder ook. Dan sê hy Trompie en Dawie lag seker vir mekaar. Hulle is mos albei skreeulelik. “Nie so lelik soos jy nie,” sê Trompie so tussen die gelag deur. “En ook nie so onnosel nie.” Hierdie laaste aanmerking laat Trompie en Dawie van voor af skater en hulle lag nou nog harder as vroeër. “Hulle sal seker eendag ophou en ons sê wat so snaaks is,” sê Rooie en begin maar liewer weer sy tone wikkel. Hy probeer nog steeds om sy groottone te beweeg sonder dat die ander roer, maar dit bly moeilik. Uiteindelik bedaar Trompie en Dawie. Trompie vee die lagtrane uit sy oë en sê: “Armoede is niks – maar onnoselgeit!” “Ek het nog nooit twee sulke domkoppe gesien nie,” sê Dawie en vee ook trane af. “Hulle het nou nog nie agtergekom wat gebeur het nie.” “Wie’s jou domkop?” vra Rooie. Hy hou op om sy tone te wikkel en gluur woes na Dawie. “Sê ons wat gebeur het,” sê Blikkies vies en gluur ook na Dawie, “as jy dan so vreeslik slim is.”
“Weet julle rêrig nie hoekom Ou Jorsie nie sal vra om julle werk te sien en niks sal sê nie?” vra Dawie. Die twee “domkoppe” kyk eers na mekaar, dan skud albei hul koppe. Nee, hulle weet nie. “Omdat hy niks daarvan weet nie,” sê Dawie en begin weer hardop lag. Rooie en Blikkies kyk fronsend na mekaar. Is Dawie nou mal? Hoe kan Ou Jorsie nie van die werk weet nie? Hy het hulle dan gebel en gesê hulle moet dit doen. Nou vra Blikkies die groot vraag: “Hoe kan hy nie daarvan weet nie as ons met ons eie ore gehoor het hy sê ons moet dit doen?” “Ja, maar het julle Ou Jorsie met julle eie oë gesien?” “Hoe kon ons hom gesien het as hy oor die foon met ons gepraat het?” snou Rooie Dawie toe. Trompie, wat die storie terdeë geniet, sê nou: “As julle hom nie gesien het nie, hoe weet julle dit was hy?” As hulle nou nog nie snap dit was ’n poets nie, dink Trompie, is hulle dommer as dom. “Natuurlik was dit hy,” sê Rooie kwaad. “Wie anders kon dit gewees het? Ons ken mos sy stem.” Blikkies sê niks nie. Sy voorkop is geplooi soos hy sit en dink. Dan sê hy skielik: “Dit was jy!” Blikkies steek sy wysvinger amper onder Trompie se neus soos hy na hom wys. “Wat was ek?” vra Trompie en klap Blikkies se wysvinger speels onder sy neus weg. “Dit was jy wat Ou Jorsie se stem nageaap het. Dis jy wat met ons gepraat het!” Trompie en Dawie bars weer uit van die lag. Rooie se gesig is die ene verbasing. Dis natuurlik hoekom Trompie so seker was Ou Jorsie sal niks sê nie. Omdat Ou Jorsie absoluut niks van die uitskryfwerk af weet nie.
“Dit was jy, ja!” sê Rooie nou ook oortuig. “Natuurlik was dit ek.” Trompie skater van die lag. “Julle idiote! Ek het julle darem lekker gevang, nè?” Blikkies en Rooie wil eers maak of hulle kwaad is, maar hulle voel so verlig dat hulle nie meer die werk hoef te doen nie dat hulle nou ook begin lag. En hoe meer dit tot hulle deurdring dat hulle dit nie hoef te doen nie omdat Ou Jorsie nie gesê het hulle moet nie, hoe harder lag hulle. Die trane rol later oor hul wange. So deur die gelag sê Rooie een keer: “Jislaaik, Trompie, jy het ons lekker gevang. Dis nou maar wors.” Trompie se twee slagoffers hou woord. Rooie verseker Trompie plegtig hy skuld hom nou nie meer tien rand nie, en die volgende dag bring Blikkies die pen wat nie kan skryf nie skool toe en ruil dit vir die mes wat nie kan sny nie. Nadat Trompie die pen sorgvuldig bestudeer en weer besluit het hy sal dit wel eendag kan regmaak, steek hy dit in sy broeksak. Dan gee hy aandag in die klas. Dis die Engelse periode en sy opstelboek lê oop voor hom op die bank. Juffrou Carelse het van die leerders gevra om hul opstelle voor te lees voordat sy dit inneem. Trompie is op hete kole. Hy wil vreeslik graag hê sy moet hom vra. Hy wil sy meesterstuk – sy “Exciting Adventure” – vir die klas lees. Op die oomblik is Katrien, wat langs Trompie bly en eens op ’n tyd (net vir ’n kort tydjie) sy meisie was, besig om haar opstel te lees. Katrien was eenkeer ’n halwe lid van die Boksombende. Sy moes die seuns vir hierdie voorreg, as ’n mens dit so kan noem, betaal. Toe Trompie-hulle die geld kry, het hulle dadelik afgesit kafee toe en dit was die laaste wat sy van haar halwe lidmaatskap gehoor het. Katrien is baie slim en Trompie is gewoonlik baie vriendelik met haar – veral wanneer sy hom met huiswerk moet help. Trompie kyk nou aandagtig na haar. Twee lang vlegsels hang agter op haar rug. Hy onthou ’n keer – hulle was nog klein en in die laerskool en sy het net voor hom gesit het – toe hy haar vlegsels so hard getrek het dat sy aan die huil geraak
en ’n vreeslike bohaai opgeskop het. Hy het hom properlies siek gelag, maar toe ’n vet pak slae gekry. Die onderwyseres het hom kantoor toe gestuur en die hoof het hom vier van die bestes gegee. Trompie glimlag effens terwyl hy daaraan dink dat die hoof van die laerskool daardie dag heeltemal reg was. Toe Trompie buk, het hy gesê: “Mannetjie, ek gaan jou ’n pak slae gee wat jy nooit sal vergeet nie.” Daarna het die rottang vier keer hard in sy sitvlak ingebrand. En die hoof was reg, dink Trompie. Kyk net – dit het baie jare gelede gebeur en hy het dit nog nie vergeet nie. Trompie dink nou ook dat Katrien deesdae mooier is as wat sy op laerskool was. Toe het sy baie sproete gehad. Nou het sy nog sproete, maar darem nie meer so baie nie. Hy wens sy wil gou maak en vinniger lees sodat hy ook miskien ’n beurt kan kry om sy opstel vir die klas voor te lees. Trompie luister na Katrien en wonder hoekom sy sulke groot woorde gebruik. Hy kan nie kop of stert van haar storie uitmaak nie. “Sy het seker ’n woordeboek ingesluk,” fluister hy vir Rooie wat langs hom sit. Rooie het lankal opgehou om selfs te maak of hy luister. Hy sit en teken sportmotors op sy opstelboek se buiteblad. “Hè?” vra hy net. “Vergeet dit,” mompel Trompie en draai terug na Katrien toe. Hy luister weer na wat sy lees. Haar opstel se titel is “A Summer’s Day”. Trompie hoor van ’n “babbling brook” en ’n “scuttling cloud” en ’n wind wat “whisper through the trees”. Vir hom klink dit na ’n groot spul nonsens. Daar is dan geen aksie nie. Wag maar totdat die klas sý opstel hoor! Dis nou regtig vir jou ’n “Exciting Adventure”! Toe Katrien lees van die son wat in die weste wegsak en die “whole horizon” wat ’n “reddish hue” kry “which slowly turned to a sombre gray,” word Trompie moeg om na haar te luister en begin hy ook sportmotors teken.
Wanneer Katrien uiteindelik klaar is, spring hy vinnig op en vra: “Kan ek myne lees, Juffrou?” “I beg your pardon?” Juffrou Carelse se stem is kil en haar wenkbroue is vraagtekens. Trompie onthou nou sy duld mos nie een enkele woord Afrikaans in die Engelse periode nie en sê vinnig: “We beg your pardon also. Can I now read my thing?” “What thing?” Die onderwyseres se stem is nog steeds kil. “My... my composition ... ‘A Exciting Adventure’, you know, Miss.” “You will have to wait, Trompie. I am first discussing Katrien’s composition and then – if there is time – we’ll listen to your exciting adventure.” Die juffrou glimlag effens sarkasties. Trompie weet die periode is amper verby. Hy sal nie kans kry om sy opstel te lees nie. Norserig sê hy net: “Yus, Miss” en gaan sit. Die klas weet nie wat hulle mis nie, dink hy. Die Grootkaptein het nou alle belangstelling in die les verloor. Hy teken nou net sportmotors. Hy wil mooier en duurder motors as Rooie teken. Hy gee ’n snork van minagting toe hy hoor hoe praat die juffrou van die “marvellous” opstel wat Katrien geskryf het. As sy sý opstel moes gehoor het, sou sy dit seker “super marvellous” genoem het, dink Trompie by homself. Die juffrou het Katrien se opstel net klaar bespreek toe die klok lui. Dit is die einde van die periode en dit is nou pouse. “Put your composition books on the table,” sê juffrou Carelse. Die kinders maak so en borrel by die deur uit. Trompie sou graag sy boek heel bo wou hê sodat die onderwyseres sy opstel eerste kan nasien, maar hy kan nie so lank wag nie. Dis dan pouse. Sy opstelboek is heel onder, want hy is eerste by die deur uit. Die Boksombende stap saam in die gang af. Teen die muur is hake waaraan die seuns hul pette en die meisies hul hoedens ophang voor hulle in die klas ingaan. Trompie raap sy pet sommer so in die verbystap op en plak dit skeef op sy kop.
Rooie en Blikkies gryp ook hul pette. Dawie se hand skiet uit om syne ook te vat, maar dit hang nie aan die haak waar hy dit opgehang het nie. “Haai!” sê hy verbaas. Trompie, Rooie en Blikkies kyk om. “Wat’s dit met jou?” vra Trompie. “Kom ons gaan buitentoe.” “My pet is weg,” sê Dawie verslae. Dawie staan nog steeds met sy hand uitgestrek. Die seuns kyk na die haak ’n paar sentimeter van Dawie se hand af. “Jip,” sê Rooie droogweg, “dis nou maar wors – Dawie se pet is weg.” “Is jy seker dis waar jy jou pet opgehang het?” vra Trompie. “Natuurlik,” antwoord Dawie, “ons gebruik mos elke dag dieselfde hake – die vier onderstes. Eers jy, dan Rooie, dan Blikkies en dan ek.” Dit is waar. Dis al die Boksombende se hake van hul eerste dag op hoërskool af. En die hele skool weet dit. Niemand hang ooit sy pet aan een van daardie vier hake nie. Iemand het Dawie s’n opsetlik gevat. Dawie is verbaas, want so iets het nog nooit vantevore gebeur nie. Trompie, Rooie en Blikkies is ook verbaas. Hulle staan nou nader. Hulle wonder wie die vermetelheid sal hê om Dawie se pet te vat. Soos Trompie nou sê – Dawie is maar klein en dun, maar almal weet mos wie sy vriende is. “Dis iemand wat met ons probeer sukkel,” sê Rooie en bal sy vuiste. Hy sal dié iemand graag in die hande wil kry. “Dink julle enige ou sal so mal wees om dit te doen?” vra Blikkies en versit die grashalmpie wat hy in ’n bolletjie gekou het behendig van die een kies na die ander. “Jy ken mos jou pet, Dawie,” sê Trompie. “Kom ons gaan soek die ou wat met ons wil sukkel.” “Ja, kom ons waai!” sê Dawie dapper. “Ek is lus vir hom!” Hy weet mos hy het niks om voor bang te wees nie. Sy vriende kan al drie goed baklei.
Die vier hardloop by die trap af en gaan uit buitentoe. Op die speelterrein soek hulle die ou wat met hulle wil sukkel. Hulle soek die hele pouse, maar kry nie die een wat Dawie se pet gevat het nie. Toe die kinders in rye inmarsjeer, hang die seuns hul pette aan die hake. Trompie hang sy pet op en net toe hy “Haai!” sê, sê Rooie en Blikkies ook “Haai!” Hulle kyk verbaas na die haak langs hulle s’n. Daar hang Dawie se pet. Dawie is nou ook by. “Hoe het die ding daar gekom?” vra hy en raap sy pet op. Hy kyk na die vuil bruin kol daarop. Ja, dis sy pet. Dan trek hy sy neus op ’n plooi en snuif. “Jig,” sê hy en trek ’n suur gesig. “Die ding ruik snaaks.” Trompie, Rooie en Blikkies ruik ook iets snaaks aan die pet. “Dis seker haarolie,” sê Trompie. “Hoe kan ’n ou sulke stink haarolie aan sy kop smeer?” vra Rooie. Die vier kyk nou goed na die pet se binnekant. Hulle kan die haarolie duidelik sien. “Weet julle wat ek dink?” vra Trompie. Nee, hulle weet nie, maar soos Dawie nou sê, hulle sal nogal graag wil weet. “Ek dink die ou wat die pet gevat het, het dit aspris gedoen – net om met ons te sukkel. Hy het sy hare spesiaal so vol olie gesmeer dat dit op Dawie se pet moes kom.” Rooie, Blikkies en Dawie stem saam. “Nou moet ons die ou net in die hande kry,” sê Dawie, wat veglustig lyk. “Hoe gaan ons dit regkry?” wil Blikkies weet. “Dis maklik,” sê Trompie. “Sy kop sal nog na olie stink. Ons moet hom uitruik.
Hy moet mos in die skool wees. Ruik goed, ouens, sodat julle die reuk kan onthou.” Die vier vriende ruik goed. Hulle dink hulle sal die reuk herken as enige seun met sulke haarolie dit naby hulle waag. “Ons moenie wag tot hy naby ons kom nie,” sê Trompie egter, “ons moet die ou gaan soek. Ons moet aan elke kop ruik.” Die laaste kinders loop verby en die vier sluit agter in die ry aan. By hul klaskamer gaan hulle vinnig by die deur in. Die onderwyser – Ou Jorsie, ofte wel meneer Jordaan – is besig om apparaat uit ’n kas te pak en sien nie hulle is effens laat nie. Die Boksombende mik haastig na hul banke toe. Trompie en Rooie sit langs mekaar en net agter hulle sit Blikkies en Dawie. “Ek het gister gesê julle moet daardie drie eksperimente wat julle nie geken het nie, weer gaan leer,” sê die onderwyser met sy kenmerkende hoë, skril stem. “Ek hoop julle het dit gedoen.” Almal verseker hom hulle het. Trompie glimlag. Noudat hy weer Ou Jorsie se stem hoor, kan hy goed verstaan hoekom hy Rooie en Blikkies so maklik geflous het. Hy het die onderwyser perfek nageboots. “Trompie Toerien!” “Ja, Meneer?” Trompie kom vinnig op die been. “Kom teken die eerste eksperiment op die bord.” “Ja, Meneer.” Trompie glimlag breed. Hy ken die eerste een goed, maar is nie so seker van die ander twee nie. Terwyl Trompie na die bord toe stap, ruik-ruik hy gou aan die seuns wat voor hom sit se koppe. “Wat draai jy jou kop elke slag so?” vra die onderwyser kwaai. “Roer jou. Ons het baie werk.”
“Ja, Meneer,” sê Trompie. Hy hou op om aan die koppe te ruik en stap vinnig bord toe. Hy teken die eksperiment en dan staan hy terug en bewonder sy handewerk. “Dis vir ’n wonder reg,” sê meneer Jordaan. “Gee nou vir ons ’n verduideliking.” Trompie ken die eksperiment en verduidelik sonder om ’n fout te maak presies wat gebeur. “Goed,” sê die onderwyser. “Jy kan gaan sit.” Toe Trompie teruggaan, loop hy tussen die ander twee rye deur tot agter in die klaskamer. Hy stap nie reguit na sy bank toe nie. Hy het mos nog nie aan die seuns in daardie twee rye geruik nie. Sy neusvleuels tril soos hy ruik. Daar is een ou wat haarolie aan sy kop het. Trompie buk by die ou se bank en maak of hy sy skoenveter vasmaak sodat hy behoorlik kon ruik. Maar die haarolie ruik baie lekkerder as die olie aan Dawie se pet. Dit stink glad nie. Toe Trompie gaan sit, fluister hy vir Rooie die ou wat Dawie se pet gevat en op sy oliekop gesit het, kom nie uit hul klas nie. Hy is seker daarvan. Rooie wil net iets terugfluister toe hy die onderwyser se skril stem hoor: “Jy daar!” Hy kyk op en sien meneer Jordaan kyk reguit na hom. “O heng!” sê Rooie binnensmonds en staan op. “Kom doen die tweede eksperiment.” Rooie sug swaar. Hy kon die tweede eksperiment gister nie verduidelik nie en hy sal dit vandag nog steeds nie kan doen nie. As hy maar net so gelukkig soos Trompie was en die eerste eksperiment kon gekry het. Hy ken daai een baie goed. Terwyl Rooie vorentoe stap, dink Trompie dit sal nogal snaaks wees as Rooie vandag gestraf word – veral as die straf is dat hy al drie eksperimente by die huis
moet gaan uitskryf. Dié keer sal Rooie dit moet doen, want hy sal Ou Jorsie dit dan nie net met sy eie ore hoor sê nie, maar hom ook met sy eie oë sien.
3
Konsert by die weeshuis
Rooie probeer hard, maar hy kan die eksperiment nie verduidelik nie. “Ek het jou gesê jy moet die werk leer,” sê Ou Jorsie met sy skril stem. “Vir huiswerk gaan jy al drie eksperimente netjies uitskryf. Verstaan?” Rooie knik mismoedig sy kop. Hy verstaan. Dié keer kan niks hom red nie. Hy sal die werk moet doen. Hy voel nou selfs spyt Trompie het vir hulle gesê dit was hy wat met hulle die gek geskeer het. As Trompie niks gesê het nie, sou hy die werk mos gedoen het en dan kon hy dit sommer nou al vir Ou Jorsie gegee het. En nou is hy boonop nog sy tien rand ook kwyt. Ja-nee, dis geen wonder die skoenmaker se seun sug so swaar nie. Rooie sit skaars toe die onderwyser op Blikkies se nommer druk. “O heng,” sug Blikkies en steek ’n voos gekoude gras-halmpie agter in sy kies weg terwyl hy op die been kom. Blikkies is ook in die moeilikheid. Hy ken ook die eerste eksperiment, maar word gevra om die tweede een – die een wat hy (en Rooie) nie kan doen nie – op die bord te teken en te verduidelik. Blikkies probeer, maar soos die onderwyser tereg sê: “Dis absolute tydmors. Jy ken nie die werk nie, knaap!” “Ek ken die eerste eksperiment, Meneer,” waag Blikkies dit. “Domkop! Ek het jou nie gevra om die eerste een te doen nie. Jy skryf ook vanmiddag al drie eksperimente netjies by die huis uit. Verstaan?”
“Ja, Meneer,” sê Blikkies en sug. Trompie en Dawie kry die twee nogal jammer, maar daar is niks wat hulle kan doen om te help nie. Terwyl die onderwyser Blikkies se straf uitdeel, leun Trompie agteroor en fluister vir Dawie: “Weet jy wat sal ek vir ’n ou sê wat vir my sê die lewe is ’n snaakse ding? Ek sal sê: ‘Jy’s reg, ou swaer, jy’s reg’.” Met kort pouse ruik Trompie en sy vriende ernstig koppe. Die Grootkaptein het die speelterrein in vier verdeel en elkeen van hulle is verantwoordelik vir ’n gedeelte. Elkeen moet aan al die seuns in sy deel se koppe ruik. “Moenie dat iemand iets agterkom nie,” waarsku Trompie. “Gaan staan langs ’n ou en ruik net vinnig aan sy kop. As die ouens sien wat jy doen, sal die een wat die haarolie aan sy kop het, sorg dat hy ver van jou af wegbly.” Elke lid van die Boksombende loop nou in sy gedeelte van die speelterrein rond. Dit is nogal snaaks om te sien hoe hulle elke keer langs ’n seun of groepie seuns gaan staan, ’n paar keer vinnig ruik en dan na die volgende seun of groepie toe beweeg. Trompie en Dawie doen hul werk deeglik. Hulle ruik goed. Hulle kyk ook die hele tyd rond om seker te maak niemand ontsnap nie. Daar moet aan elkeen geruik word. Rooie en Blikkies doen nie sulke deeglike werk in hul gedeeltes van die speelterrein nie. Dis asof hulle nie regtig belang stel nie. Hulle dink aan die werk wat vanmiddag vir hulle voorlê wanneer hulle daardie eksperimente moet uitskryf. Toe Trompie ’n slag sien hoe lui hulle is, dink hy by homself: dis nou vir jou te sê. Wat help dit ek en Dawie probeer so hard om daardie ou te vang as hy daar in Rooie en Blikkies se dele so maklik kan wegkom? Trompie ruik vies verder. Dit is moeilik om seker te maak hy ruik aan almal. Die seuns speel en baie hardloop rond sodat ’n mens nie eintlik naby hulle kan kom om ordentlik te ruik nie. Rooie, Blikkies en Dawie sit natuurlik met dieselfde probleem.
Trompie is later moeg daarvoor om aan elke seun te probeer ruik. Hy dink hy was nou al naby genoeg aan die meeste seuns dat hy die haarolie sou geruik het as een van hulle dit aan sy kop gehad het. Trompie wil net na sy vriende toe gaan om vir hulle te sê hulle moet die soekery maar te los, want dit is tog net tydmors, toe hy ’n groepie seuns agter die fietsafdakke sien. Dit is in sy deel van die speelterrein en hy besluit as hy gou aan daardie paar ouens gaan ruik – hy het hulle nie vroeër daar gesien nie – is sy gewete skoon. Dan het hy feitlik aan almal in sy deel van die speelterrein geruik. Die Grootkaptein stap na die fietsafdakke toe en sien die groepie bestaan uit ’n paar graad agt-leerders. “Haai,” sê Trompie vriendelik en stap vinnig nader. “Haai,” groet hulle effens huiwerig. Trompie weet niemand het agtergekom hy loop en ruik aan almal nie. Hy wonder nou hoekom hulle dan so skrikkerig is. Hy speel vinnig. Voor hulle kans kry om uitmekaar te spat, wikkel hy sy sproetneus en ruik. En toe voel Trompie so ’n krieweling langs sy ruggraat af. As hy nou ’n hond was, het sy stert sommer vanself begin swaai. Hy staan nog nader aan die groepie en nou probeer hy nie eens om so te ruik dat hulle nie moet sien wat hy doen nie. Hy hou sy neus naby elkeen se kop. Een ou, Klasie Pretorius, probeer padgee, maar Trompie is te vinnig vir hom. “Kom hier,” sê Trompie. Hy gryp die seun aan die arm en hou hom vas. “Los my! Wat het ek gedoen?” vra Klasie met ’n klein stemmetjie. “Ek sal jou nou sê of jy iets gedoen het, of nie,” antwoord Trompie kwaai en hou sy neus naby Klasie se kop. Hy ruik en is seker dis die haarolie wat hy aan Dawie se pet geruik het. Hy hou Klasie stywer vas en skree vir Rooie, Blikkies en Dawie: “Ek het hom!” Sy drie vriende kom vinnig aangehardloop. “Wat het ek gedoen?” piep Klasie. “Hoe bedoel jy, jy het my? Ek het mos niks
gedoen nie.” “Jy weet wat jy gedoen het!” snou Trompie hom toe. Hy is effens verbaas. Klasie Pretorius lyk nie soos ’n ou wat met hulle sal wil sukkel nie. Hy is klein vir sy ouderdom en lyk net so pieperig soos sy stem klink. Nogtans is Trompie seker hy kan die haarolie ruik. En as hy reg is, dan moet dit mos Klasie wees wat Dawie se pet gevat het – en as dit hy is, het hy dit mos met opset gedoen. Toe Rooie, Blikkies en Dawie naby die groepie kom, skree Trompie: “Komaan, julle! Kom ruik of julle ook ruik wat ek ruik!” Die drie is nou by hom en hulle druk hul neuse amper in die verbysterde Klasie se hare. Hulle ruik. “Natuurlik is dit hy,” sê Rooie. “Dis dieselfde haarolie wat aan Dawie se pet is,” sê Blikkies. “Dis die ou wat ons soek.” Hy spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog deur die lug. Dawie ruik nog aan Klasie se kop. Dan haal hy sy pet van sy kop af en ruik weer daaraan. Almal hou hom dop. “Toe, Dawie,” sê Trompie, “is dit Klasie wat jou pet gevat het?” Die haarolie aan die seun se kop ruik vir Dawie presies soos die olie aan sy pet. Hy sien ook dat Klasie selfs nog kleiner as hyself is en dit gee hom nou moed. “Dis hy, ja,” sê Dawie, en dan tik-tik hy met sy vuis teen Klasie se bors en sê kwaai: “Wat makeer jou om my pet op jou kop te sit, hè?” “Ek het dit nie gedoen nie,” sê Klasie en lyk baie skrikkerig. “Jy het!” snou Dawie hom toe. “Sê jy ek lieg, hè?” “Nee,” verseker Klasie hom vinnig. Hy sê nie Dawie lieg nie, hy sê maar net hy het nie Dawie se pet op sy kop gesit nie. Dis maar al wat hy sê.
Klasie is duidelik senuweeagtig. Dawie sien dit en raak nou baie dapper. Hy wil mos vir sy vriende en die ander seuns wat staan en kyk wys hy is nie net slim nie, maar ook ’n ou wat weet hoe om te baklei. “Los hom, Trompie,” sê Dawie en probeer sy stem so grof moontlik maak. “Ek sal hom ’n ding wys.” Trompie los vir Klasie. Nou gaan daar sports wees. Die ouens is al twee maar klein en maer. Die Grootkaptein wonder watter soort bakleiery dit gaan afgee. Die ander seuns wonder ook. Almal staan nader. “Het jy my pet gevat en gedra – ja of nee?” vra Dawie en probeer weer om sy stem grof en kwaai te laat klink. “Nee,” antwoord Klasie beslis. Dawie is uit die veld geslaan. Klasie het baie oortuigend “nee” gesê. Dit lyk mos vir Dawie of die graadaggie nie so bang is soos hy eers gedink het nie en dit laat Dawie glad nie meer so dapper voel nie. Maar hy sal nou moet deurdruk. Almal kyk vir hom. “Dit help nie om te jok nie,” sê Dawie kwaai. “Erken nou jy het my pet op jou kop gehad.” Klasie erken niks nie en sê ook niks nie. Die feit dat hy nie antwoord nie, gee Dawie weer moed. Dit lyk mos of sy eerste vermoede reg was – Klasie is bang vir hom. “Ruik!” sê Dawie en druk sy vuis onder Klasie se neus in. Klasie ruik effens. “Ruik weer!” sê Dawie, wat nou baie heldhaftig is. Hy druk sy vuis weer amper teen Klasie se neus. Klasie ruik nog ’n keer. Hy is duidelik bang vir die kapokhaantjie hier voor hom. Dawie het nog nooit in sy lewe vuisgeslaan nie – hy los altyd die bakleiwerk vir Trompie-hulle. Maar vandag gaan hy hulle ’n ding wys. Dis nou maar wors. Hy kan mos sien Klasie is bang – en hy is lus vir hom. Dawie tik-tik met sy vuis teen Klasie se arm en sê: “Daar’s jou kêsj.”
Dan hou hy sy vuiste voor hom en dans liggies voor die graadaggie rond. Dis mos hoe mens voetwerk doen, en hy dink dit sal Klasie en die ander kinders beïndruk en respek vir hom gee. Dawie trippel rond, maar Klasie staan doodstil. Hy wil duidelik nie baklei nie – en dit maak Dawie nog meer manhaftig. Hy begin hierdie storie nou selfs geniet. “Toe-toe,” sê hy en slaan-slaan met sy vuiste teen Klasie se bors. “Moenie so ’n papbroek wees nie. Lig op jou hande!” Maar Klasie weier om sy hande te lig. Hy staan nog steeds doodstil en lyk nou bleek en bang. Die kinders lag. Dis ’n baie snaakse bakleiery – as ’n mens dit so kan noem. Die een dans rond en tart die ander een wat doodstil bly staan. “Daar’s jou kêsj weer,” sê Dawie en slaan Klasie hard op die bors. Dit maak egter geen verskil nie. Klasie staan of hy geplant is. Dit lyk asof hy so sal bly staan en nie sal baklei nie, al gee Dawie hom ook ’n honderd keer sy kêsj. Dawie word moeg daarvoor om soos ’n skoenlapper rond te fladder. Hy staan nou ook stil, maar hou sy vuiste darem voor hom ingeval Klasie hom skielik wil bydam. Hy wonder wat hy nog kan doen om die graadaggie sover te kry om te baklei. Dan trek hy met sy skoen se punt ’n streep op die grond en sê kwaai: “Trap hieroor!” Dit is ’n belaglike bevel. Klasie het mos gewys hy nie wil baklei nie; hoekom sal hy nou oor die streep trap? Hy bly net doodstil staan met sy hande langs sy sye. Die toeskouers lag. Dawie is raadop. Wat doen ’n mens as jy wil baklei en jou opponent wil nie? Jy kan hom mos nie sommer stormloop en begin slaan nie. Dawie staan en gluur na Klasie en maak boosaardige geluide om hom nog banger te maak. Die ander seuns word moeg om na die spulletjie te kyk. Dit word nou vervelig. “Slaan hom, Dawie,” sê Rooie.
Maar Dawie kan Klasie darem nie sommer so koelbloedig bykom nie. Hy sê kwaai: “Het jy my pet op jou kop gehad, Klasie? As jy dit erken, sal ek jou los – anders gaan ek jou dik tik.” Dit lyk of Klasie nou begin belang stel. “Bedoel jy dit?” vra hy. Hy wil seker maak hy het reg gehoor. “Bedoel ek wat?” vra Dawie bars. “Sal jy rêrig van alles vergeet as ek erken ek het jou pet op my kop gehad?” Dawie aarsel. Hy wil graag met Klasie baklei, maar hy kan mos nie as die ou nie wil terugbaklei nie. “Ek sal jou nie slaan nie,” sê Dawie, “as jy dit erken en sê jy is jammer daaroor.” “Oukei,” sê Klasie. “Ek erken ek het jou pet gedra. Ek wou sommer snaaks wees. Ek is jammer daaroor.” “Gmf!” snork Dawie. “Sorg dat jy dit nie weer doen nie, anders sal jy rêrig jammer wees.” Klasie verseker Dawie hy sal dit nie weer doen nie – en dan maak hy hom vinnig uit die voete. Die omstanders loop teleurgesteld weg. “Wat anders kon ek doen?” vra Dawie toe hy, Trompie, Rooie en Blikkies na die skoolgebou toe stap. “Ek kon hom mos nie sommer net slaan nie.” “Jy moes hom ’n les geleer het,” sê Trompie, “en nie so sag met hom gewerk het nie. Hy het jou beledig toe hy jou pet so met daai stink haarolie besmeer het.” Rooie en Blikkies dink ook Dawie moes Klasie ’n les geleer het. Hulle dink ook hy het Dawie beledig. “Oukei,” sê Dawie vies, “miskien moes ek... en miskien moes ek nie. Die storie is in elk geval nou verby.” Ja, die storie is verby – en Dawie is maar bly. Hy hou nie daarvan om te baklei nie en hy was, om die waarheid te sê, self ook goed skrikkerig. Dit was eers toe
hy sien Klasie is banger as hy dat hy moed geskep en die outjie uitgedaag het. Hy is in die stilligheid bly Klasie wou nie met hom baklei nie. By die syingang waar die seuns in rye moet aantree wanneer die klok lui, gaan staan die vier vriende om na die kennisgewingbord te kyk. Trompie staan reg voor die bord. Sy hande is in sy broeksakke, sy pet sit skeef op sy kop en sy hemp hang agter by sy broek uit. Hy lees ’n groot kennisgewing aandagtig. Daar gaan ’n konsert by die weeshuis gehou word. Kwaggaberg se skoolkinders wat dink hulle het die talent word gevra om na die weeshuis toe te kom en die kinders te vermaak. Daar sal ook verversings bedien word. Trompie stel baie belang in hierdie laaste sin. Hy lees daar sal tee, koek, koeldrank en roomys wees. En soos hy die kennisgewing verstaan, sal al hierdie goed verniet wees. “Want ‘gratis’ is mos verniet,” mompel hy. Ja-nee, Trompie stel geweldig belang in die kennis-gewing. In die klas sit hy ernstig daaroor en dink. Die Boksombende kan mos iets opvoer om die weeshuiskinders te laat lag. Hulle sal ’n goeie daad doen as hulle aan die konsert deelneem. En boonop, dink hy – al is dit nie die belangrikste ding nie, moet ’n mens dit darem in gedagte hou – sal daar baie eet- en drinkgoed wees wat hulle verniet gaan kry. Hy en sy makkers het lanklaas ’n goeie daad gedoen, dink Trompie nou. En dit is mos een van hul reëls dat hulle gereeld goeie dade moet doen. Hulle het ook lanklaas ’n amptelike vergadering in hul fort gehou. Ja-nee, die tyd het aangebreek dat hulle weer moet bymekaarkom. Trompie skeur ’n vel papier uit ’n oefeningboek. Terwyl hy dit doen, kyk hy stip na die onderwyser wat besig is om iets uit die geskiedenis te verduidelik en maak asof hy elke woord hoor en alles verstaan. Om seker te maak die onderwyser weet hoe aandagtig hy die les volg, knik hy so af en toe sy kop. Trompie dink hy het nou ’n goeie indruk gemaak en neem sy kans waar toe die onderwyser wegkyk. Hy vat sy pen en skryf vinnig op die vel papier.
Elke paar sekondes kyk hy vlugtig op om te sien wat die onderwyser doen. As hy sien die onderwyser se oë dwaal oor die ry waar hy sit, hou hy op met skryf en knik sy kop ernstig – asof hy diep nadink oor wat gesê word en alles beaam. En hy maak inderdaad ’n goeie indruk. Die onderwyser kom glad nie agter dat Trompie ’n brief sit en skryf nie. Inteendeel, hy dink die Grootkaptein is vandag besonder oplettend. Toe Trompie sy brief klaar geskryf het, lees hy dit vlugtig deur:
Manne van die Boksombende!
Die tyd het aangebreek dat ons die we^reld weer moet wys ons is nog daar.
Hy krap “daar” uit en vervang dit met “hier”. Dan lees hy verder:
Ek - julle Groot en Bekwame Leier - het iets op die hart wat gese^ moet word. Ons kry mekaar vanmiddag kwart voor vier in ons fort. Blikkies en Rooie behoort dan al klaar te wees met hulle ekstra huiswerk.
Sorg dat julle almal daar is. Julle wil mos lekker eet, ne`? En die een wat nie daar is nie - wel, hy sal nie net my vuis ruik nie.
Ek het gese^ !
Julle Grootkaptein
Trompie
Trompie is baie in sy skik met sy brief. Hy dink die een wat nie vir die “lekker eet” opdaag nie, sal wel kom as hy lees van sy vuis wat nie net geruik gaan word nie. Hy gee die briefie vinnig vir Rooie. Rooie stel duidelik geweldig belang in die vraag “Julle wil mos lekker eet, nè?” Hy knik sy kop. Ja-nee, hy sal daar wees – dis nou maar wors. Hy wil mos lekker eet. Toe die onderwyser sy rug draai, gee Rooie die briefie vinnig aan vir Dawie, wat net agter hom sit. Dawie en Blikkies lees dit en knik ook dadelik om te wys hulle sal die middag kwart voor vier by die fort wees. Trompie het so vlak voor die bord gestaan toe hy die kennisgewing van die konsert gelees het dat hulle dit nie gesien het nie. Hulle wonder al drie wat hul Grootkaptein op die hart het en waar die eetgoed vandaan gaan kom. Nadat Trompie die middag pligsgetrou ’n uur en ’n half in sy kamer deurgebring het (hy het weer die Superman-strokiesverhaal gelees), stap hy deur die veld na die ou waenhuis net buitekant Kwaggaberg. Hierdie murasie is al jare lank die Boksombende se amptelike vergaderplek. Hulle noem dit hul fort. Met sy hande diep in sy broeksakke loop en skop Trompie ’n verroeste konfytblikkie. Hy skop die blikkie ver voor hom uit en stap lui verder tot hy weer by die blikkie kom. Dan trek hy weer los en die blikkie vlieg deur die lug. Trompie se hond, Boesman, draf langs hom. Toe hy naby die ou waenhuis kom, fluit hy. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een – die Boksombende se sein. Iemand fluit op dieselfde manier terug. Trompie ken die fluit. Dis Dawie. So hy is al daar, maar die ander twee het nog nie opgedaag nie. Trompie hoop maar net hulle gaan nie so lank aan die eksperimente sit en uitskryf dat hulle laat is nie. “Haai,” sê Trompie en Dawie groet op dieselfde manier terug.
Dawie sit op ’n paraffienkissie met sy rug teen die een bouvallige muur. Trompie trek ook ’n paraffienkissie nader en kom sit langs Dawie. Boesman draai ’n paar keer in die rondte en plof dan in die son voor Trompie neer. Dit lyk asof hy ’n bietjie wil slaap. “Het die ander al gekom?” vra Trompie. Dawie dink die vraag is die toppunt van onnoselheid en sê sarkasties: “Hoe lyk dit vir jou? Dink jy miskien Rooie is in my een broeksak en Blikkies in die ander een?” Trompie besef ook dit was ’n onnosel vraag, maar sê vies: “Probeer jy miskien snaaks wees, hè?” Nee, verseker Dawie hom, hy probeer nie snaaks wees nie, maar Trompie kan mos sien Rooie en Blikkies het nog nie opgedaag nie. “Oukei,” sê Trompie, “maar moenie probeer snaaks wees nie.” Dawie wil net antwoord toe hy en Trompie die Boksombende se sein hoor. Dit is Rooie en Blikkies wat aankom. “Haai,” groet die twee. Hulle trek ook kissies nader en maak hulle gemaklik. Trompie kyk glimlaggend na Rooie, Blikkies en Dawie. Dit is sy vriende, sy boesemvriende. Hulle is al beste vriende vandat hulle saam in graad vier was en hulle het, soos Trompie dit graag stel, nog altyd soos een man teen die buitewêreld saamgestaan. Dawie sit en kielie Boesman in die maag met sy skoen se punt. Hy wil graag hê Boesman moet lag, want hy het nog nooit ’n hond sien lag nie. Maar dit lyk nie asof hy dit nou gaan sien nie. Boesman tik-tik met sy stert teen die grond om te wys hy hou van die gekielie, maar hy wil nie lag nie. Rooie sit met sy bene voor hom uitgestrek en hou sy voete stip dop. Hy probeer sy groottone wikkel sonder dat die ander tone beweeg. Hy probeer hard, maar kan dit nog steeds nie regkry nie. Blikkies sit-lê sodat net ’n klein deel van sy sitvlak op die kissie is. Sy lang bene is ver voor hom uitgestrek en sy kop, nek en skouers rus teen die muur. Soos
gewoonlik is Blikkies besig om te kou. Sy kakebene beweeg ritmies op en af. Maar soos dit vir Trompie lyk, het Blikkies iewers geld vandaan gekry, want hy kou kougom. So af en toe byt hy die stukkie kougom styf vas met sy tande en trek dit met sy duim en wysvinger uit tot ver voor sy gesig. Dan laat los hy en ryg die kougom weer met sy tong in. Dawie is die eerste een wat moeg word daarvoor om so stil te sit en niks te doen nie. Hy voel vies; Boesman weier om te lag. “Waar’s die eetgoed, Trompie?” vra hy skielik. Blikkies se kakebene is nou stil en Rooie hou op om sy tone te wikkel. Hulle stel al twee baie belang in die antwoord op hierdie vraag. “Ek het nie gesê ek bring eetgoed hiernatoe nie,” sê Trompie. “Ek het julle mos net gevra of julle lekker wil eet.” “Natuurlik wil ons lekker eet,” brom Blikkies. “So waar’s die eetgoed?” “Ek het klaar gesê hier’s nie eetgoed nie,” snou Trompie hom toe. “En ons gaan nou met die vergadering begin.” “Dis omtrent tyd,” brom Rooie. Trompie besluit om hierdie aanmerking liewer te ignoreer. Hulle moenie begin stry nog voor die vergadering begin het nie. Trompie is altyd daarop gesteld dat die Boksombende se vergaderings stiptelik begin en ordelik en volgens die regte prosedure moet verloop. Hy staan nou op. Hy maak eers keel skoon en dan sê hy ernstig: “Is almal teenwoordig?” Hy vra hierdie vraag altyd by amptelike vergaderings en dan brom Rooie altyd: “Kan jy dan nie sien nie? Het jy nie oë in jou kop nie?” Soos gewoonlik ignoreer Trompie hierdie aanmerking. Hy kom nou by die volgende stap van die regte prosedure wat gevolg moet word – volgens hom in elk geval.
“Ek moet tel om te sien of ons voltallig is.” Daar kom ’n snork van Blikkies se kant af. Hy sê altyd hierdie tellery is die simpelste ding wat hy nog ooit in sy lewe gesien het. Die Boksombende bestaan net uit hulle vier en Trompie kan mos sien hulle is almal teenwoordig. Maar alles moet volgens die regte prosedure gedoen word en Trompie tel hulle nou plegtig. Dan sê hy tevrede: “So ja, ons is almal hier.” “Al vier van ons,” sê Blikkies smalend en versit die stukkie kougom van sy een kies na die ander. Trompie kyk kwaai na Blikkies en sê dan: “Van nou af word geen op- of aanmerkings meer geduld nie. Die vergadering het nou amptelik begin.” Trompie het die sin dat geen op- of aanmerkings meer geduld sal word nie, by sy pa gehoor en so baie daarvan gehou dat hy dit onthou het. En dit is nogal besonder effektief. Sy drie makkers is stil. Geen op- of aanmerkings word gemaak nie. Omdat hy so baie van die sin hou en omdat dit so effektief is, besluit Trompie om dit te herhaal. Dit kan mos nie kwaad doen nie. Hy maak weer keel skoon en sê: “Soos ek gesê het, sal daar van nou af geen opof aanmerkings geduld word nie.” Hierdie keer is dit egter nie so effektief nie. Dawie bederf alles toe hy met sy fyn stemmetjie sê: “Ons hét dit mos al gehoor.” “Nou as jy dit gehoor het, hoekom luister jy dan nie?” snou Trompie hom toe. “Hoekom hou jy nie jou bek nie?” Dit lyk asof hierdie laaste sin – al pas dit nie by die regte prosedure nie – baie meer effektief is as die sin waarvan Trompie so baie hou. Die ander lede van die Boksombende is nou tjoepstil. So ja, nou kan Trompie met die vergadering aangaan. Nou kan hy vir hulle vertel hoe hulle ’n goeie daad gaan doen en hulle terselfdertyd ook trommeldik gaan eet.
4
Die Vier Mal Hansworse
“Ons is vanmiddag hier bymekaar onder die blou hemel,” gaan Trompie nou plegtig voort, “om ’n ding te bespreek wat ek op die hart het.” “Watse ding is dit, Trompie?” vra Rooie, maar dit lyk nie of hy probeer snaaks wees nie. Dit lyk asof hy die vraag uit opregte belangstelling vra. “Wie’s jou Trompie?” snou die Grootkaptein hom egter nogtans toe. “Ag ekskuus, ek bedoel... Kaptein.” “Dis beter,” mompel Trompie. Hy is altyd gesteld daarop dat hulle hom op vergaderings Kaptein moet noem. “Ons vier,” gaan Trompie nou weer plegtig voort, “het baie in die lewe om voor dankbaar te wees. Ons is gelukkige ouens, maar daar is ander kinders wat nie so gelukkig soos ons is nie.” Rooie, Blikkies en Dawie kyk na mekaar en dan kyk hulle weer na Trompie. Hulle het nie die vaagste benul waarvan hy praat en waarheen hy mik nie. Blikkies brom: “Wat is jou punt?” Dawie en Rooie knik hul koppe om te wys hulle sal ook graag wil weet wat Trompie se punt is. Rooie vra: “Wanneer praat jy van die eetgoed?” “Ek wens julle wil luister en nie sulke onnosel vrae vra nie,” sê Trompie geïrriteerd. “Ons luister mos,” sê Blikkies en trek die stukkie kougom weer lank by sy mond
uit. “Ons wens net jy wil jou sê nou sê.” Dan ryg hy die kougom weer met sy tong in. “Ek sal my sê sê as julle my net kans wil gee!” Die drie is nou tjoepstil. Trompie gluur kwaai na hulle. Dan maak hy keel skoon en begin weer. Hy vertel vir sy makkers hoe gelukkig is hulle om ma’s en pa’s en kos en klere en sulke klas dinge te hê, en dat daar ander kinders is wat nie so gelukkig is nie – die kinders in die weeshuis. Die Grootkaptein voel dat hulle, die lede van die Boksombende, daardie kinders moet help. “Ons moet goeie dade doen!” Trompie slaan hard met sy regtervuis in die palm van sy linkerhand om sy woorde te beklemtoon. Dit is nogal ’n treffende gebaar, maar ongelukkig slaan hy te hard. Hy waai nou sy linkerhand in die lug rond en sê aanhoudend: “Sjoesjoe-sjoe!” Rooie, Blikkies en Dawie lag, maar hulle smoor hul gelag dadelik toe hulle sien hoe kwaai Trompie hulle aangluur. “Hoe doen ons dié goeie dade?” vra Blikkies. “Ek sal nou vir julle vertel,” sê Trompie en blaas op die rooi kol in sy handpalm. “Soos ek sê,” gaan die Grootkaptein uiteindelik weer voort, “ons moet goeie dade doen en nie net vir onsself lewe nie. Dis hoekom ons hier op aarde gesit is – en dis wat ek vandag op die hart het.” Vir die ander drie lede van die Boksombende klink hul Kaptein se spiets taamlik onsamehangend, maar hulle luister nou maar geduldig. As hulle hom genoeg tyd gee en hom nie so baie in die rede val nie, sal hy seker by die punt uitkom. Trompie vertel nou hoe hy die kennisgewing daar op die bord by die skool gelees het en hoe hy voel hulle moet help om die weeshuis se kinders te laat lag. “Dan doen ons mos ’n goeie daad,” sê hy. “En wat dan?” kom Blikkies se lui stem skepties nadat hy, Rooie en Dawie ’n paar oomblikke oor Trompie se woorde nagedink het.
“Dan voel ons harte goed!” snou Trompie hom toe. “Want dan het ons mos ’n goeie daad gedoen en dan is ons nie mense wat net vir onsself lewe nie.” Daar word nou weer nagedink. Rooie mompel dat hy glad nie van sy hart kan kla nie – sy hart voel goed. “Hoe gaan ons die weeskinders laat lag?” vra Dawie. Trompie vryf sy hande voor hom in die lug en sê in sy skik: “Ek het vir daardie vraag gewag, Dawie. Laat ek verduidelik. Luister nou mooi.” Die drie luister aandagtig en Trompie verduidelik. Hy vertel dat dit sommer so ’n saamgeflanste konsert is. Enigeen kan enigiets op die verhoog doen om die kinders te vermaak. Rooie, Blikkies en Dawie luister met suur gesigte na hom. “En wat dink jy miskien kan ons doen?” vra Dawie. Trompie vryf weer sy hande voor hom in die lug. Hy het duidelik vir hierdie vraag ook gewag. Hy vertel nou hy het lank oor die saak nagedink en toe tot die slotsom gekom dat hulle – as hulle hul talente saamspan – dinge daar op die verhoog kan aanvang wat die kinders baie sal laat lag. Volgens die glimlagte op Rooie, Blikkies en Dawie se gesigte hou hulle van wat Trompie nou sê. Hulle knik hul koppe gevlei. Ja-nee, hulle is ouens met talent. Dit is nou maar wors. Dan begin hulle dink oor watter talente hulle kastig het – maar hulle kan nie eintlik aan iets dink nie. Blikkies is die een wat die vraag vra wat nou duidelik op almal se gesigte te lees is: “Watse talente het ons, Trompie?” “Wel...” sê Trompie. Hy dink nou so hard dat hy sommer gaan sit. Dit lyk of hy van die vergadering vergeet het. Hy raas nie met Blikkies omdat hy hom Trompie en nie Kaptein noem nie. “Wel,” sê hy weer nadenkend, “ons kan mos grappe vertel en ons kan sing en dans.... en... en sulke soort goeters.”
“Noem jy dit talent?” vra Dawie. “Enige ouens kan dit mos doen.” “En wie sê ons kan dans?” brom Rooie. “Ek het nog nooit in my lewe gedans nie.” “Ek ook nie,” sê Blikkies. Trompie sê vinnig: “Nie een van ons het al gedans nie – maar ons kan as ons wil.” Die drie antwoord nie. Hulle dink ook hulle sal kan dans as hulle wil, maar hulle wil liewer nie aan so ’n belaglike idee dink nie. Hoe sal hulle vier lyk as hulle moet dans? Soos Rooie nou vies mompel: “Moet ons soos feetjies daar op die verhoog rondtrippel?” “En wie sê ons kan sing?” vra Blikkies. “Natuurlik kan ons sing,” sê Trompie. “Alle mense kan mos sing.” “Ja... maar hoe?” wil Blikkies weet. “Ons sing dan so vals soos maer katte.” Dawie begin skielik lag. Trompie, Rooie en Blikkies kyk verbaas na hom. “Wat makeer jou?” vra Rooie. “Is jy simpel?” Dawie verseker hulle laggend hy is nie simpel nie. Hy sê hy het sommer begin lag omdat hy in sy verbeelding gesien het hoe hulle vier daar op die verhoog probeer om so liggies soos feetjies te dans terwyl hulle so lomp soos olifante is – en terwyl hulle so lomp daar ronddans, sing hulle ook, en hulle sing so vals soos maer katte. Hierdie prentjie het hom laat lag. Trompie, Rooie en Blikkies sien die toneel nou ook in hul verbeelding en hulle begin ook lag. “Sien julle,” sê Trompie laggend, “dis wat ek vir julle gesê het. Dís ons talent. Ons is hansworse en ons sal die weeshuiskinders laat lag totdat hulle properlies siek voel.” “Dis ons wat properlies siek sal voel,” maak Blikkies beswaar, “as ons simpel goed daar op die verhoog aanvang en niemand lag vir ons nie.”
Daar word nou ernstig hieroor nagedink. Dit sal aaklig wees as hulle vier op die verhoog dans en mekaar rondstamp en oor mekaar val terwyl hulle uit volle bors vals sing, en niemand lag nie – daar is net ’n doodse stilte in die saal. Nee, aan so iets wil hulle liewer nie eens dink nie. “Weet julle wat?” vra Dawie peinsend. Nee, hulle weet nie wat nie, maar hulle sal nogal graag wil weet. “Ons moet ons talente organiseer,” sê Dawie. Hieroor word daar nou ook nagedink. Die drie weet nie wat presies Dawie bedoel nie. Rooie mompel hy het al gehoor mens woeker met jou talente, maar hy weet nie hoe ’n mens jou talente organiseer nie. “As ons hansworse wil wees en mense wil laat lag,” sê Dawie, “moet ons mekaar nie sommer net stamp en stoot en oor mekaar val nie – ons moet alles mooi netjies uitwerk.” Trompie knik sy kop en probeer maak asof dit presies is wat hy ook wou sê – as Dawie dit nie voor hom gedoen het nie. “Die ding is net,” sê Blikkies, “gaan ons rêrig aan die konsert deelneem? Ons het nog nie daaroor besluit nie.” Die vier vriende kyk na mekaar. Dis waar. Trompie wil opspring en amptelik met die vergadering voortgaan, maar hy voel nie lus nie. Dis te veel moeite. Hy sit nou baie lekker. “Dit is een van ons reëls,” sê hy, “dat ons goeie dade moet doen. Ek dink ons moet help. Dit is wat ek op die hart het. Ons moet daardie weeskinders laat lag.” Rooie, Blikkies en Dawie wil ook graag help, maar soos Blikkies sê: “Wat kan ons doen?” Rooie sê aangesien hulle mos nie eintlik iets kan doen nie – ten spyte van hul talente – kan hulle nie help nie, al wil hulle ook. “Ons moet probeer om iets te doen,” sê Trompie. Hy vertel nou ook vir hulle – al maak dit natuurlik nie juis saak nie – dat daar baie eetgoed by die konsert gaan
wees. Daar gaan glo koeldrank, roomys en koek wees en ’n ou sal kan eet en drink soveel soos jy wil. Al sê Trompie die baie eetgoed maak nie juis saak nie, lyk dit asof Rooie, Blikkies en Dawie nou baie meer belangstel. Dis natuurlik wat Trompie bedoel het toe hy in sy briefie gevra het of hulle lekker wil eet. Ja-nee, hulle wil lekker eet. Hulle hou van koeldrank, koek en roomys. “Julle weet,” sê Rooie diep ingedagte, “ek dink ons moet aan die konsert deelneem. Ek dink dis ons plig.” Trompie, Blikkies en Dawie knik hul koppe plegtig. Hulle stem volkome saam. Dit is hulle plig om te help en ’n goeie daad te doen. “Die eetgoed is sommer bysaak,” sê Trompie ongeërg. “Sommer bysaak, ja,” sê Dawie. “Ek dink nie eens daaraan nie,” sê Rooie. “Ek ook nie,” sê Blikkies traak-my-nieagtig. Die vier vriende het nou besluit. Hulle stel nie eintlik belang in die eetgoed nie – al glinster hul oë van genot toe hulle dit sê – maar hulle voel hulle moet help met die konsert. Hulle wil mos iets doen om die weeshuiskinders te laat lag. Nou bespreek hulle die fynere puntjies. Soos Dawie sê, hul talente moet georganiseer word. Almal het planne en is vuur en vlam om op te tree. Hulle wil ’n goeie daad doen; hulle wil help. Die feit dat hulle dit gate uit gaan geniet en dat daar baie eetgoed gaan wees, is natuurlik sommer bysaak. Hulle sê nou weer dis maklik om op ’n verhoog te dans en mekaar rond te stamp en oor mekaar te val en vals te sing, maar niemand sal daarvoor lag nie. Sulke dinge gebeur mos elke dag wanneer ’n klomp seuns bymekaar is. Die Boksombende besluit twee van hulle – Trompie en Dawie – gaan grappe vertel. Omdat Trompie ’n vreeslike goeie verbeelding het, sal hy ook vir hom en
Dawie ’n skets skryf. Blikkies kan mondfluitjie speel terwyl Rooie sing. Ná hierdie voorstel gemaak is, begin Rooie sommer dadelik oefen. Hy tra-la-la tot die ander hom soebat om asseblief op te hou. Selfs toe hou hy nog nie op nie. Eers wanneer Trompie en Blikkies sê hulle gaan sy “bek vir hom toeslaan”, hou hy op. Die plan is dat Dawie en Trompie eers grappe moet vertel en dan gou ander klere sal gaan aantrek terwyl Blikkies mondfluitjie speel en Rooie sing. Trompie gaan hom soos ’n cowboy aantrek en Dawie gaan meisieklere dra. Hulle besluit om by Katrien ’n hoed, rok en die ander nodige goed te leen. Sy is mos ’n halwe lid van die Boksombende en sy sal help, want dis vir ’n goeie doel. Dan gaan die twee – Trompie as ’n cowboy en Dawie as sy meisie – die liedjie “When it’s springtime in the Rockies” sing. Hulle gaan ook hul bes doen om verlief te lyk terwyl hulle die liedjie sing. Toe die woord “verlief” gebruik word, begin hulle almal lag. Daarna gaan die vier vir hul heel laaste nommer saam op die verhoog verskyn en dan gaan hulle sommer behoorlik laf wees. Hulle gaan dans en sing en mekaar rondstamp en stoei en allerhande snaakse dinge doen. “En weet julle wat gaan ons naam wees?” vra Trompie skielik. Hy is nou baie opgewonde. Nee, hulle weet nie. “Ons noem ons groep Die Vier Mal Hansworse.” En so is Die Vier Mal Hansworse toe gebore. Die Boksombende hou die volgende paar dae ’n hele paar repetisies. Dit gaan volgens hulle uitstekend. Hulle lag so vir hul eie snaaksighede dat hulle soms van die toneel-spelery vergeet en hul mae vashou soos hulle lag. Ja-nee, hulle geniet dit geweldig. Hulle sien uit na die konsert by die weeshuis en hulle gaan natuurlik ook baie kan eet.
Katrien het vir Dawie ’n ou rok, hoed en skoene geleen. Die klere is ’n bietjie groot vir hom, maar dit maak nie saak nie. Hy dink hy maak ’n mooi meisie uit. Vir hierdie nommer skryf Trompie ’n skets – nogal in Engels, natuurlik met aansienlike hulp van Dawie – en hy dink die mense sal hulle siek lag. Hy het ook ’n klomp grappe uit ’n tydskrif geknip en hy en Dawie oefen om hulle te vertel. Hulle het ou, gelapte klere wat hulle vir die eerste toneel gaan aantrek. Trompie gaan die aankondiger wees. Die Boksombende sal al vier op die verhoog verskyn en dan sal die Grootkaptein hulle – natuurlik op tipiese Trompie-manier – aan die gehoor voorstel. Dan sal hy en Dawie met die grappe begin. Ná die grappe hardloop hulle gou van die verhoog af om ander klere aan te trek terwyl Rooie en Blikkies aan die beurt kom. Wanneer Rooie en Blikkies klaar is, verskyn Trompie en Dawie weer op die verhoog vir die skets “When it’s springtime in the Rockies”. Daarna is al vier weer saam op die verhoog en dan wys hulle vir die gehoor hoekom hulle Die Vier Mal Hansworse genoem word. Trompie dink dit gaan ’n vertoning wees wat die weeshuis en Kwaggaberg nooit sal vergeet nie. Die middag van die konsert eet Trompie-hulle vinnig. Dan ry hulle na die weeshuis toe wat ’n entjie buite Kwaggaberg aan die voet van die berg geleë is. Langs die pad skiet baie motors by hulle verby. Dit is die dorp se mense wat na die konsert toe gaan. Trompie het ’n groot tas met al die Boksombende se klere by hom. By die deur van die groot saal net langs die hoofgebou vra ’n man vir die vier: “Toeskouers of deelnemers?” “Deelnemers,” sê Trompie trots. Hy wys na homself en sy drie vriende en voeg by: “Ons is Die Vier Mal Hansworse.” “Ek is bly julle is hansworse,” sê die man. “Ek hoop julle gaan die kinders lekker laat lag.” “Hulle gaan hulle vrek lag, Oom,” sê Trompie vol selfvertroue. “Oom sal sien.”
Die man sê net droogweg hy hoop darem nie dit gaan regtig gebeur nie. Hy neem Trompie-hulle na die verhoog toe. Daar is ’n hele klomp ander kinders wat nommers gaan lewer en die hoof van die weeshuis is besig om ’n program op te stel. “Ons rapporteer vir diens, Oom,” sê Trompie vir die man. “Wie is julle?” Trompie antwoord trots: “Die Vier Mal Hansworse.” “Wat presies gaan julle doen?” “Sing, dans en grappe vertel,” sê Trompie. Hy waai sy hande in die lug voor hom en voeg by: “En allerhande goeters wat die mense sal laat lag.” “Ek is bly hier is hansworse,” sê die man en kyk na sy lys, “want dit lyk vir my hier is amper net sang- en klaviernommers. Hansworse behoort goeie afwisseling te wees.” ’n Hele klomp kinders van Hoërskool Kwaggaberg het hul dienste kom aanbied. Hulle wil graag help, maar hulle het natuurlik ook gekom om lekker te eet. Hier is mos baie roomys, koeldrank en koek. Rooie staan die hele tyd en rondkyk. Terwyl die man hulle wys waar hulle hul “hansworsmonderings” soos hy dit noem, kan aantrek, fluister hy vir Trompie hy wonder waar al die eetgoed is. Hy het nog niks gesien nie. Trompie fluister terug dat Rooie nie moet worrie nie. Die eetgoed is seker in die groot eetkamer in die hoofgebou. Dis tien teen een waar die partytjie gehou gaan word. Die hele saal is stampvol weeshuiskinders, en natuurlik ook kinders en grootmense van die dorp af. Die man wat die program opgestel en vir Trompie-hulle gewys het waar hulle hul kostuums moet gaan aantrek, is ook die seremoniemeester. Op die kop drieuur klim hy op die verhoog en kondig die volgorde van die nommers aan.
Die meeste nommers is ’n klaviersolo of ’n sangstuk deur die een of ander Kwaggabergse meisie of seun wat gereeld aan kunswedstryde deelneem. Daar is ’n gezoem van stemme toe die seremoniemeester die vierde nommer aankondig – Die Vier Mal Hansworse. Die kinders in die saal wonder wie die hansworse kan wees. Hulle sien baie uit na die vierde nommer. Hulle sal vandag na baie klassieke musiek moet sit en luister voor die partytjie met al die eetgoed begin. Meer as een kind in die saal sug swaar. Terwyl die seremoniemeester praat, loer Trompie – wat nou verflenterde ou klere aanhet – om die rand van die gordyn na die gehoor. Daar is baie grootmense en kinders wat hy ken. In die voorste ry sien hy die dominee, skoolhoof en landdros met hul vrouens – en sy pa, wat die bankbestuurder is, en sy ma! Dit lyk asof al Kwaggaberg se vooraanstaande inwoners na die konsert en partytjie uitgenooi is. Trompie se ouers weet nie eens hy neem deel nie. Hy het nie gedink dit is belangrik genoeg om dit vir hulle te sê nie. Hulle sou net bekommerd gewees het, want hulle sou gedink het hy kan niks op ’n verhoog doen nie. Hy hoop maar net nie sy pa is kwaad as hy in die skets met Dawie een van sy langbroeke, sy kakiehemp, sy groot rooi sakdoek en sy cowboy-hoed wat hy altyd dra wanneer hy Bosveld toe gaan, herken nie. Die eerste nommer is ’n klaviersolo deur ’n meisie. Sy speel ’n Strauss-wals en die gehoor klap beleefd hande toe sy klaar is. Die grootmense klap baie meer as die kinders in die saal. Hulle het dit meer geniet. Die tweede nommer is ’n gedig wat ’n graadsessie voordra. Hy doen dit nogal goed – dis alles oor ’n “captain” wat op ’n “burning deck” staan. Dan sing ’n meisie uit Trompie-hulle se klas ’n klassieke lied. Sy raak die hoë note besonder goed baas, maar vir Trompie-hulle klink dit soos ’n straatkat wat doodgemaak word. “As ons nie beter as sy sing nie,” mompel Trompie, “eet ek my pa se cowboyhoed op.” Dit maak nie vir Trompie saak dat die meisie wat sing alreeds vyf goue medaljes op kunswedstryde gewen het nie. Vir hom klink sy soos ’n brandsiek kat, soos hy dit stel. Hy sê sy gee hom ’n pyn op die maag. Blikkies, Rooie en Dawie sê
sy gee hulle ook ’n pyn op die maag. Toe sy amper klaar is, sê Trompie vir sy vriende: “Is julle reg, ouens?” Hulle knik. Hulle is gereed. “Voel julle bang?” Nee, hulle voel nie bang nie – al is hul oë maar groot. Rooie mompel net dit sou darem lekkerder gewees het as hulle sommer reguit na die eetkamer met die eetgoed toe kon afsit. “Toe maar, ouens,” sê Trompie, al is hy ook baie senuweeagtig, “ons gaan ’n vertoning gee wat hulle nooit sal vergeet nie. Ons het baie geoefen. Ons weet mos wat om te doen.” Die meisie is uiteindelik klaar en daar word beleefd hande geklap. Sy maak ’n paar elegante buiginkies en stap van die verhoog af. Die seremoniemeester is nou weer op die verhoog. Hy kyk na die papier in sy hand en dan sê hy: “Die volgende nommer op die program is Die Vier Mal Hansworse van Kwaggaberg!” “Nou toe, ouens,” sê Trompie en sy lippe voel maar droog, “ons weet wat om te doen, so kom ons doen dit!” Dan nael Trompie agter die skerm uit aan die kant van die verhoog waar hulle weggekruip het. Rooie, Blikkies en Dawie is kort op sy hakke. Blikkies speel “Hier’s ek weer” op sy mondfluitjie. Die vier staan nou in ’n ry op die verhoog terwyl Blikkies opgewek speel. Toe hy klaar is, stamp al vier met hul regtervoete op die plankverhoog. Hulle lig hul regterhande op en skree hard vir die gehoor: “Haai!” ’n Klomp kinders herken hulle – al het die vier ver-flenterde klere aan – en skree: “Haai, Trompie!” Trompie se ouers kyk verbaas na mekaar. Dan sê sy pa: “Hoe op aarde kom hy daar op die verhoog?” Trompie se ma weet ook nie, maar sy is nou bekommerd. Wat gaan hy alles aanvang? Sy sug swaar. Sy hoop maar vir die beste. “Mense,” sê Trompie met ’n duidelike, helder stem, en hy gee ’n tree voor sy vriende uit, “ek sê vir julle, julle is gelukkig.”
“Hoekom?” skree ’n paar kinders laggend uit die gehoor en dit pas so reg in Trompie se kraal. “Ek het vir daardie vraag gewag, ouens,” sê hy vriendelik en vryf sy hande voor hom in die lug. “So laat ek julle sê!” Die gehoor is stil. Dit lyk asof hulle nogal gretig is om te hoor hoekom hulle so gelukkig is. “Julle is gelukkig,” sê Trompie en wys dramaties met sy wysvinger na die gehoor, “omdat julle ons vandag sien en hoor optree. Ons is Die Vier Mal Hansworse van Kwaggaberg!” Blikkies speel gou weer ’n opgewekte deuntjie. Die grootmense klap beleefd hande. Die weeshuiskinders en die kinders van die dorp klap ook hande en fluit en stamp hul voete, en Blikkies hardloop al spelende saam met Rooie van die verhoog af. Die gehoor skater van die lag toe hulle sien hoe Rooie vir Blikkies pootjie net voor die twee agter die skerm langs die verhoog verdwyn. Die vrolike deuntjie op die mondfluitjie eindig baie skielik. Toe die lawaai bedaar, hou Trompie sy hand in die lug en sê: “Ons is nou nie meer Trompie en Dawie nie.” Hy laat hierdie woorde eers goed insink sodat die mense mooi moet verstaan. Dan sê hy in ’n diep basstem: “Ek is Gô!” Dawie trek los met sy fynste piepstemmetjie en skree: “En ek is Pô!” So ja, die twee het hulle aan die gehoor bekend gestel. Nou kan hulle met die grappe begin. “Pô?” sê Trompie hard. “Ja, Gô?” Dawie draai sy kop sodat hy goed kan hoor wat Trompie gaan sê. “Het jy al hierdie een gehoor?” “Watter een?” “Die een wat ek jou nou gaan vertel.”
“Ek dink so, Gô.” “O.” “Ja.” Die gehoor giggel en dan begin hulle lag. Trompie en Dawie lyk regtig snaaks en hulle speel sowaar nogal goed toneel. “Pô?” “Ja, Gô?” “Wat moet ’n mens doen om sagte handjies te hê?” “Niks.” “Hè?” “Niks. ’n Mens moet niks doen nie om sagte handjies te hê.” En voor die gehoor dit nog mooi snap, skater die twee soos hulle lag. Die mense lag nou ook saam. Dan hou Trompie sy hand weer in die lug vir stilte. Dit is nou Dawie se beurt om ’n grap te vertel of ’n raaisel te vra. “Gô?” piep Dawie. “Ja, Pô?” “Jy dink jy’s slim, nè?” “Ek dink ek is slim, ja,” sê Trompie en stoot sy bors effens uit. “Al die onderwysers in die skool sê ek is slim – en die hoof sê ek is sommer baie slim.” Trompie se ma is bekommerd. Sy loer na die hoof naby haar in die voorste ry, maar dan sien sy hy glimlag en voel beter. “Nou, as jy so baie slim is, Gô,” sê Dawie, “sê bietjie vir my...” “Ja, Pô, wat moet ek sê?” Trompie hou sy hande bak agter sy ore sodat hy Dawie kastig goed kan hoor.
“Sê bietjie vir my, hoe kan ’n ou jouself sien in ’n plek waar jy nog nooit was nie?” “Hmm.” Trompie frons kwaai. “Jy vra hoe kan ’n ou jouself sien in ’n plek waar jy nog nie was nie?” “Dis wat ek vra, Gô,” sê Dawie ernstig. Trompie dink – en dit lyk asof die gehoor ook oor hierdie probleem nadink. Dit is stil in die saal. Uiteindelik sê Trompie: “Nee, Pô, ek weet sowaar nie hoe ’n ou jouself kan sien in ’n plek waar jy nog nooit was nie.” “Gee jy op, Gô?” “Ek gee op, Pô.” “Ka-ka-ka,” lag Dawie. “Ek het jou lekker gevang. Jy kan jouself maklik in ’n plek sien waar jy nog nooit was nie deur net in ’n spieël te kyk! Ka-ka-ka!” lag Dawie weer. Die gehoor lag ook. Dawie het hulle ook gevang. “Ou Pô,” sê Trompie, “jy ken mos vir oom Jan, nè?” “Ek ken hom, Gô. Hy is die ou wat so ryk is, nè?” “Dis reg, Pô, hy het geld soos bossies. Jy weet,” en Trompie leun vertroulik oor na Dawie toe, “hy het so baie goue tande in sy mond dat hy met sy kop in ’n brandkluis moet slaap.” Nou “Ka-ka-ka!” albei van hulle weer. Dis aansteeklik en die gehoor lag ook vir die lawwe grappe. Die twee vertel vinnig nog grappe. “Weet jy wat het Pietie se ma vandag vir hom gevra, Pô?” “Nee. Wat, Gô?”
“Hoe hy in sy geskiedenistoets gedoen het.” “En wat het hy gesê, Gô?” “Hy’t gesê hy’t nie te goed gedoen nie, want die juffrou het vir hom dinge gevra wat gebeur het nog lank voor hy gebore is.” Almal in die saal lag en die hoof lag sowaar die hardste van almal. “Jy weet, Gô,” sê Dawie, “twee boeties, Fanie en Jannie, wou vir hulle ma ’n guns vra. Toe sê Fanie, wat tien jaar oud is: ‘Vra jy haar, Jannie,’ en toe sê Jannie, wat maar net ses jaar oud is: ‘Nee, ek dink dit sal beter wees as jy haar vra. Jy ken haar mos langer as ek.’” “Ka-ka-ka!” lag die twee weer en dan vra Trompie: “Pô, wie is die gewildste kind in die skool?” “Ou Sakkie, natuurlik.” “Hoekom?” “Hy het laas kwartaal masels gehad en toe het ons dit almal gekry en toe hoef ons nie skool toe te gaan nie.” Trompie en Dawie geniet die gegrap vreeslik – en omdat hulle dit so geniet, geniet die gehoor hul vertoning ook. “Ons laaste grappie!” sê Trompie en hou sy hand weer in die lug vir stilte. Hy vertel hierdie grap nie vir Dawie nie, maar sommer direk vir die gehoor. “’n Ou, Gert, sit by sy meisie, Anna. Hulle sit op ’n bankie in die maanlig. Toe sê Gert: ‘Anna, my skat, terwyl ek hier so langs jou in die maanlig sit, wil ek jou graag iets vra.’ Anna sê opgewonde: ‘Ja, Gert, vra maar.’ ‘Wel,’ sê Gert, ‘kan jy nie ’n bietjie opskuif nie? Ek sit op ’n spyker.’” Terwyl die gehoor nog lag, hardloop Trompie en Dawie vinnig van die verhoog af. Blikkies en Rooie kom opgehardloop. Blikkies speel ’n opgewekte deuntjie op sy mondfluitjie en Rooie skree: “Mense, ek sing nie alleen nie! Sing saam!”
5
Die wêreldberoemde sirkus
Rooie en Blikkies se uitbundigheid op die verhoog is so aansteeklik dat die kinders in die saal begin saamsing. Selfs die grootmense val later ook in. Trompie se ma voel nou eers heeltemal gerusgestel. Sy is glad nie meer bekommerd nie, want sy kan hoor hoe sing die hoof hartlik saam: “Hasie, hoekom is jou stert so kort?” Selfs met “Ek vry nie met ’n loskopdolla nie” sing die hoof saam, terwyl Dominee langs hom goedig glimlag en met sy voete op die vloer tik. Blikkies en Rooie eindig die singery met “Daar kom die Alibama” en almal sing uit volle bors saam, selfs Dominee, wat gewoonlik net in die kerk ’n voorsanger is. Sy mooi stem kan duidelik bo die ander gehoor word. Die singery was ’n geweldige sukses. Almal het daaraan deelgeneem en Blikkies en Rooie word luidkeels toegejuig. Hulle is net van die verhoog af toe Dawie verskyn. Hy is soos ’n meisie aangetrek. Die gehoor begin proes – en dan begin hulle hardop lag. Dawie lyk baie snaaks met die groot meisiehoed op sy kop en die rok wat tussen sy knieë en enkels eindig. Dawie hou sy hand op vir stilte en sê: “This next item on the programme of The Four Mad Clowns is a little sketch called ‘When it’s springtime in the Rockies’ and it was written by Trompie Toerien.” Die gehoor klap hande en skuif reg om dit te geniet.
Dawie sê: “Now the play is starting,” en dan kyk hy skielik pateties voor hom uit. Hy sug lank en swaar. Hy moet mos die indruk skep dat hy ’n meisie is wat baie na haar kêrel verlang. Dan sê hy: “Oh! I wish my swain would come back to me!” Hy sug weer swaar. Dawie het nie van die woord “swain” gehou nie, maar Trompie het die woord in die woordeboek gesien en dadelik daarvan gehou. Dawie kon toe niks daaraan doen nie, al het hy Trompie verder natuurlik baie met die Engels gehelp. Die gehoor proes. Dawie lyk baie komieklik soos hy pateties daar staan en vir sy “swain” wag. “He told me he would come back when it’s springtime in the Rockies,” sê Dawie en wring sy hande, “and now it’s springtime in the Rockies and he’s not back yet. He must be killed – oh!” Dawie vee ’n traan uit sy een oog. “Oh! He is lying six feet under the ground. Oh, I know that! Poor miserable me!” Nou huil Dawie, en hoe harder hy huil, hoe harder lag die kinders in die saal. Dis vreeslik snaaks. Baie skree nou sommer vir hom hy moenie so huil nie – Trompie sal mos nou-nou daar wees. Dan hou Dawie skielik op met huil. Hy draai sy kop effens en hou sy hand bak agter sy oor. Dit is vir die gehoor duidelik dat hy nou aandagtig luister. Skielik sê hy: “Hark! What is it I hear?” Agter die skerm aan die kant van die verhoog stamp Trompie sy voete. Die saal kan die gestamp duidelik hoor. Dawie sit sy hand dramaties op sy hart en vra vir die gehoor: “Can it be my swain who is coming back?” “Ja, dis hy, man!” skree ’n klomp seuns laggend. Dawie vra weer vir die gehoor om te “hark” en toe dit stil is, begin Trompie agter die skerm langs die verhoog sing: “When it’s springtime in the Rockies, I’ll be coming back to you”. Hy sing so vals dat die gehoor sommer uitbars van die lag. Dawie skop ’n paar keer in die lug sodat Katrien se rok opwip om te wys hoe bly hy is dat sy “swain” weer teruggekom het. Dan verskyn Trompie skielik op die verhoog en die gehoor juig, lag en klap hande.
Trompie lyk kostelik. Sy pa se langbroek is heeltemal te wyd en te lank vir hom. Hy het die pype opgerol. Sy pa se hemp is ook te groot en hang agter by die broek uit sodat dit lyk asof Trompie ’n nagrok aanhet. Hy het sy pa se rooi sakdoek om sy nek en sy pa se groot cowboyhoed op sy kop. Die hoed sit agter op sy kop, want as dit te ver vooroor kom, val dit oor Trompie se oë en neus. Hy hou sy kop onwillekeurig effens agteroor om die hoed te balanseer sodat dit nie oor sy gesig afgly nie. Trompie het nog nie ’n woord gesê nie. Hy staan en kyk maar net na die gehoor en wag dat die gelag en lawaai moet bedaar. Dominee sê laggend vir Trompie se pa langs hom dat die “swain” darem maar baie snaaks lyk. “Ja, en dis nogal my klere wat die mannetjie aanhet,” sê die bankbestuurder droogweg. Toe die lawaai bedaar, draai Trompie na Dawie, wat die hele tyd met sy arms voor hom uitgestrek en met ’n uitdrukking van verlange op sy gesig na Trompie gestaan en kyk het. Dan sê Trompie: “My angel, I am back!” Net hierdie een sin is genoeg om die gehoor – veral die kinders – te laat skreeu van die lag. Trompie mompel: “Wat’s so snaaks?” Hulle het dan nog nie eens behoorlik begin met die skets nie en die mense gaan nou al so te kere. “I am so glad you are back!” skree Dawie met sy fynste piepstemmetjie. “I thought you were six feet under the ground.” “Not me, my angel.” Trompie stoot sy bors uit. “The Injuns can’t kill me.” Die Grootkaptein maak ’n dramatiese gebaar, maar ongelukkig word dit bederf toe die groot hoed oor sy voorkop gly net toe hy sy bors so uitstoot. Dit glip af tot oor sy oë en kom op sy neus te lande. Trompie kan nie sien nie. Hy gryp die hoed vinnig en skuif dit op sodat dit weer op sy kop sit. Sy “angel” sê nou sy het baie maande vir hom gewag, maar sy het geweet hy sal terugkom. Hy het mos gesê hy sal kom as dit “springtime” is en dit is nou “springtime” en hier is hy nou uiteindelik weer terug by haar. Hy is ’n man van
sy woord. “Yus,” brul Trompie. Hy draai sy oë in hul kaste sodat hy die hoed se breë rand kan sien, want hy wil nie hê die ding moet weer so onverwags oor sy gesig val nie. “That’s me – a man of my word!” Die gehoor giggel en lag, maar hulle skater toe Dawie weer sy arms voor hom uitstrek en hard sê: “Come and kiss me, my swain!” Trompie skop-skop met sy skoenpunt teen die vloer en brom: “Not now, man.” Die “swain” is duidelik maar skaam. “Soen haar, Trompie!” skree ’n klomp kinders. “Sy het mos lank gewag.” Hulle weet hulle gaan hulle siek lag as Trompie sowaar vir Dawie soen. “I have waited so long,” sê Dawie met ’n patetiese stemmetjie. Feitlik die hele gehoor por Trompie nou aan. Sy “angel” het mos baie lank gewag. “Don’t be silly,” skree Trompie net. “She must wait. There are other things to do now, man.” “Watse ‘things’?” skree ’n paar seuns. “We must now sing. That’s how I wrote the thing.” En dis finaal. Trompie het nie in die skets geskryf dat hy Dawie soen nie – en hy sal dit definitief nie doen nie. Selfs al is dit net ’n skets, sal hy die skande mos nooit oorleef nie. Hy kyk na die giggelende Dawie en sê: “When did I say I would be back?” “When it’s springtime in the Rockies.” “That’s right, my angel.” Hy draai weer na die gehoor en sê hy en sy “angel” gaan die liedjie nou sing. Die twee staan langs mekaar. Hulle maak albei keel skoon en dan val hulle weg: “When it’s springtime in the Rockies, I’ll be coming back to you.” Hulle sing vals, maar dit maak nie saak nie. Die gehoor geniet die skets terdeë.
Dawie kyk soos ’n verliefde kalfie op na Trompie. Die manlike Trompie sing met ’n basstem en elke keer tik-tik hy sy “angel” op die skouer. Hulle speel nogal goed toneel. Dawie lyk net soos ’n meisie wat baie na haar kêrel verlang het. Nou is haar kêrel by haar en sy wil hom graag soen, maar hy is te skaam, kastig omdat daar te veel mense is. Toe die ondeunde Dawie onder die singery deur een keer sy arm om Trompie sit, spring die Grootkaptein weg asof iemand hom met ’n speld gesteek het en sê vies in Afrikaans, want hy het nou skoon van die teks vergeet: “Los my uit, Dawie!” Wat die toneeltjie nog snaakser maak, is dat die groot hoed weer afgeval het en nou oor Trompie se ore hang en die hele bokant van sy gesig toemaak. Terwyl hy worstel om die hoed weer op sy kop te druk, sing Dawie nog een stryk deur van lente in die Rotsgebergte. Die gehoor lê soos hulle lag vir die kamtige liefdestoneel. Trompie en Dawie eindig die liedjie op ’n hoë vals noot en toe – soos hulle geoefen het – kom Blikkies en Rooie opgehardloop. Dit is hul laaste toneel en al vier lede van Die Vier Mal Hansworse is daarin. Nou gaan dit dol. Blikkies speel mondfluitjie en die ander drie dans en sing. Rooie gryp Dawie – hy is mos nou ’n meisie – en swaai hom lomp rond. Trompie dink daaraan dat dit darem nie mooi lyk dat ’n ander ou so met sy meisie dans nie – hy het mos teen die Indiane gaan veg en nou net teruggekom – en hy gryp Rooie en stamp hom dat hy op sy sitvlak te lande kom. Dan vat hy Dawie se hande en swaai hom rond. Rooie staan op en vryf sy agterstewe. Hul “talente” is mos nie nou meer “georganiseerd” nie. Hulle kan nou doen wat hulle wil en Trompie het hom deksels hard gestamp. Rooie laat sy kop effens sak en dan bestorm hy die dansende (as ’n mens dit so kan noem) paartjie. Hy stamp Trompie en Dawie met die skouer dat hulle deur die lug trek. Albei maak hard kennis met die verhoog se plankvloer. Dawie val dat Katrien se rok oor sy kop waai en hy niks kan sien nie. Onder die rok steek die verflenterde klere wat hy aangehad het toe hy Pô was uit. Dawie sukkel om die rok van sy gesig af te kry sodat hy kan sien wat aangaan.
Met die val het die groot hoed op Trompie se kop afgegly en die breë rand is nou feitlik om sy nek. Hy sukkel met albei hande om die hoed op te stoot sodat hy ook kan sien wat aangaan. Blikkies speel nog een stryk deur op sy mondfluitjie en Rooie dans alleen op die verhoog rond. Die Boksombende se nommer is nou een groot klug, maar die gehoor geniet die hansworse se manewales baie en elke beweging word hard toegejuig. Trompie en Dawie, wat vergeet het dat hy ’n meisie is, is nou weer op die been en hulle bestorm Rooie. Hulle pak hom en probeer hom plattrek, maar Rooie is sterk en hy staan rotsvas. Terwyl die drie so stoei, begin hulle hul lywe swaai op die maat van die ritmiese deuntjie wat Blikkies speel. Dan vergeet Dawie en Trompie dat hulle probeer om Rooie plat te trek en die drie dans lekker saam. Terwyl hulle dans, sing hulle dat hulle nou weer hier is met hul besem voor iemand se deur, en vertel hulle vir Pollie dat hulle Pêrel toe gaan. Hulle volg dit op met allerhande ander vrolike ou Afrikaanse liedjies en die gehoor geniet dit so dat hulle later ook saamsing. Uiteindelik sê Trompie so in die verbydans vir Blikkies: “Stop nou, man – ons is moeg.” Met ’n paar vinnige blase op sy mondfluitjie hou Blikkies op. Die vier gaan staan langs mekaar en buig diep terwyl die gehoor hard hande klap en hulle toejuig. Hulle het Die Vier Mal Hansworse se kaskenades baie geniet. Elke keer as Trompie buig, sak die hoed af tot oor sy ore en dan moet hy dit weer tot bo-op sy kop oppluk. Later laat staan hy maar die buigings. Hy skud nou bokant sy kop hande met homself – soos ’n beroepsbokser in die kryt wanneer hy gewen het en die mense hom toejuig. “En dis al, mense,” sê Trompie toe die applous bedaar, maar omdat hy dink dit is gepas en hy ’n vriendelike ou is, voeg hy by: “Dankie vir julle ondersteuning.” Dan skree Dawie hard: “Ek sê nog my ‘swain’ moet my soen!” Trompie jaag Dawie by die verhoog af en met ’n paar kunstige dansies wat hulle geoefen het, is Rooie en Blikkies ook van die verhoog af. Ja-nee, die gehoor het baie van Die Vier Mal Hansworse se vertoning gehou.
Hulle dink die nommers wat daarop volg – nóg klavier- en sangsolo’s – is maar vervelig. Dit gebeur meer as een keer dat ’n kind weer aan die toneeltjie dink waar Dawie in die rol van die verlangende meisie wou hê Trompie moes hom soen, en dan begin giggel. So iets is natuurlik aansteeklik. Almal wat naby hom of haar sit, begin dan ook giggel – en later selfs hard lag. By die partytjie in die eetkamer word Trompie-hulle later deur ’n klomp mense gelukgewens met hul skitterende optrede. Die vier is in hul noppies. Hulle eet baie lekker. Hulle het mos ’n goeie daad gedoen en kan nou aan die eetgoed weglê. Eers word een roomys ná die ander verslind. Dan dam hulle die koek by en maak borde vol heerlike roomkoekies leeg. Hierna is hulle dors en drink elkeen ’n paar koeldranke. En toe, voor hulle by die weeshuis weggaan, maak hulle hul sakke vol lekkers. Dit is hul padkos. Die lekkers hou nie lank nie, maar die plesier wat hul goeie daad hulle verskaf het, bly die vier vriende nog dae lank by. Hulle is ook hoog in hul skik met hul puik vertoning. Baie mense praat daaroor en volgens die mense is veral Trompie ’n gebore hanswors. Trompie is natuurlik baie trots. Hy dink dis ’n besondere eer om ’n gebore hanswors te wees. Een middag kom die Boksombende op hul fietse van die skool af en jaag soos gewoonlik met die hoofstraat langs. Hulle is honger en wil gou by die huis kom sodat hulle kan gaan eet. Voor die poskantoor sien hulle ’n klomp mense wat om ’n kennisgewingbord saamdrom. Hulle hoor ook vrolike kitaarmusiek. “Wat is dit?” vra Trompie en begin rem trap. Die ander ry ook stadiger. Naby die groep mense gooi hulle hul fietse op die sypaadjie neer en draf om te gaan kyk wat aangaan. Die vier vleg vinnig deur die skare totdat hulle voor uitkom. Hulle kyk oopmond na die toneel.
Daar is ’n blonde meisie wat kitaar speel. Sy het ’n kort rokkie aan en is baie mooi. Kwaggaberg se mans kan hul oë nie van haar afhou nie. Trompie-hulle kyk net vlugtig na haar, maar hulle stel nie belang nie. Hulle kyk eerder met groot oë na ’n koddige man – hy is omtrent so groot soos Trompie – wat besig is om ’n groot kennisgewing teen die bord vas te maak. Die man dra ’n wye rooi sybroek wat by sy enkels vasknoop. Daar is ’n groot paar swart skoene met opgekrulde punte aan sy voete. Hy dra ’n wit syhemp en ’n hemelsblou syonderbaadjie en op sy kop is ’n helderrooi en blou mussie. Die man dra ’n mombakkies oor sy gesig. Die een kant van die mombakkies lyk soos iemand wat lag en die ander kant soos iemand wat huil. Trompie-hulle en die ander Kwaggabergers – dié wie se aandag nie op die blondine gevestig is nie – vergaap hulle aan die snaakse man. Toe hy die kennisgewing klaar vasgemaak het, hou hy sy hand in die lug. Dit lyk of hy hulle groet. Die meisie hou skielik op om kitaar te speel. Almal kyk vol afwagting na die man wat amper lyk asof hy van ’n ander planeet af kom. Hulle wonder wat hy gaan sê. Maar in plaas daarvan om iets sê, begin hy uit sy maag uit lag. Hy lag so lekker dat dit aansteeklik is en die skare begin nou ook lag. Hoekom hulle lag, weet nugter alleen. “Julle Kwaggabergse mense,” sê die man toe, “lag al klaar en julle het nog niks eers gesien nie.” En toe – sommer daar op die sypaadjie – slaan hy ’n paar keer bollemakiesie. Hy doen dit so perfek dat die mense almal begin hande klap. “Mense,” sê hy toe weer met ’n growwe basstem wat nie by sy koddige lyf pas nie, “laat ek julle voorstel aan twee belangrike lede van die wêreldberoemde Markof-sirkus. Dit,” en hy wys na die meisie, “is die Blonde Miranda, die beroemde akrobaat. Sy speel kitaar terwyl sy hoog bo in die lug rondswaai. Terwyl sy aan haar voete met haar kop na onder hang, speel sy die mooiste liedjies. Dit is asemrowend!” Die omstanders – veral die jong mans wat net oë vir die Blonde Miranda het – klap hard hande. Die meisie glimlag vriendelik en waai vir almal soentjies. “En Kwaggabergers,” gaan die man voort, “laat ek myself aan julle voorstel.”
Hy stoot sy bors uit en kondig aan: “Julle is bevoorreg, want julle sien in lewende lywe hier voor julle die beste hanswors wat nog ooit in ’n sirkus opgetree het. Ja, die einste Danlo! Danlo, wat al voor konings en koninginne, prinse en prinsesse, presidente en staatsmanne in al die lande regoor die wêreld opgetree het!” Hy het hierdie aankondiging uitgeskree, maar nou sê hy skielik in ’n gewone, alledaagse stem – en hy klink nogal nederig – terwyl hy na sy opgekrulde skoenpunte kyk: “Ja, mense, dis ek.” Die kontras tussen sy gebulder en toe die sagte, nederige “Ja, mense, dis ek,” is so snaaks dat die skare skater van die lag. Trompie ril van opwinding. Mense het mos gesê hy wat Trompie is, is ’n gebore hanswors – en hier voor hom sien hy nou sowaar ’n hanswors wat wêreldberoemd is en al voor konings en koninginne en prinse en prinsesse opgetree het. “Die magtige Markof,” gaan die hanswors nou weer met ’n bulderende stem voort, “het besluit om Kwaggaberg die groot eer aan te doen om sy wêreldberoemde sirkus vir een aand hiernatoe te bring. Buiten die Blonde Miranda, die wêreld se mooiste en beste sweefstokarties, en ek, Danlo die Hanswors, sal julle die magtige Markof self ook sien sterkmantoertjies doen wat ongelooflik is. Dan is daar nog Alfonso die Leeutemmer, Vincent die Towenaar, Magda – ’n aktrise direk uit Hollywood – en baie ander sirkuskunstenaars wat al oral in die wêreld roem verwerf het.” Kwaggaberg se mense is duidelik diep beïndruk deur Danlo se woorde. Te oordeel aan hul geknik, beraam almal planne om hierdie wêreldberoemde sirkus te sien. “En moenie die diere vergeet nie,” basuin die hanswors nou weer. “Daar is perde, ponies, olifante en leeus – en almal haal asemrowende toertjies uit. Onthou, Vrydagaand is ons hier. Lees al die besonderhede op hierdie kennisgewing,” en hy wys na die plakkaat wat hy vasgemaak het. Met ’n “Weg is ons! Sien julle Vrydagaand!” slaan hy gou weer ’n paar keer bollemakiesie en dan hardloop hy en die Blonde Miranda na ’n motor toe en ry weg. Hulle gaan nou na die volgende dorpie toe om daar ook ’n plakkaat te gaan opplak en die mense van die wonderlike, wêreldberoemde Markof-sirkus te
vertel. Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie bekyk die groot plakkaat sorgvuldig. Daar is foto’s van Markof die Sterk Man (hy het ’n groot swart snor en lyk baie kwaai), die Blonde Miranda waar sy hoog in die lug met haar voete aan ’n sweefstok hang, Danlo die Hanswors waar hy op ’n donkie sit, en Alfonso die Leeutemmer waar hy met ’n swart manel en ’n keil op sy kop twee gevaarlike leeus met net ’n lang sweep in sy hand in toom hou. Die seuns lees opgewonde van Miranda se “asemrowende toertjies op die sweefstok,” van Markof, “die enigste man ter wêreld wat ’n groot motor kan vashou sodat dit glad nie kan beweeg nie,” van Danlo, “die wêreld se beroemdste en bemindste hanswors wat die kuns verstaan van lag waaragter ’n traan skuil,” en van Alfonso, “die enigste leeutemmer in die wêreld wat sy hele kop in ’n leeu se bek in steek.” Hulle lees van die ander “ongelooflike” toertjies van “wonderlike, wêreldberoemde kunstenaars” en ook hoeveel ’n mens moet betaal om al dié “verstommende, vermaaklike” dinge te sien. Volwassenes betaal sestig rand en kinders veertig. Hierdie inligting demp die vier se geesdrif effens. Geld is maar ’n skaars artikel by die Boksombende. Rooie vra die vraag wat nou duidelik in almal se oë te lees is: “Waar kry ons die geld?” Trompie, Blikkies en Dawie skud hartseer hul koppe. Hulle weet duidelik nie waar hulle die geld vandaan gaan kry nie. “Maar ons móét gaan,” sê Trompie beslis. Rooie, Blikkies en Dawie kyk weer na die plakkaat. Hulle moet net eenvoudig al die wêreldberoemde sirkusmense sien wat sulke asemrowende toertjies doen. Hulle stem saam met Trompie. Hulle moet gaan. Dis nou maar wors. Die vier ry nou stadig langs mekaar in die hoofstraat af. Hulle bespreek hul finansiële toestand. Dit vat nie lank nie. Nie een van hulle het ’n sent nie en die vooruitsigte om selfs net ’n paar rand by hul ouers te kry, is maar skraal. Hulle het al soveel voorskotte weg dat hul sakgeld weke vooruit gebruik is en hul
ouers sal nie vir hulle nog voorskiet nie. “Hoeveel geld het ons nodig,” vra Blikkies, wat besig is om aan ’n grashalmpie te kou, “as ons al vier gaan?” Dit is ’n maklike sommetjie, maar Dawie is die een wat slim is met skoolwerk – en om ’n som te doen, is mos skoolwerk. Dawie moet antwoord. “Honderd en sestig rand, natuurlik,” sê Dawie. “Maar ons moet nog elkeen ten minste twintig rand hê om lekkers en springmielies mee te koop. Wie kyk nou na ’n sirkus sonder om lekkers en springmielies te eet?” Trompie, Rooie en Blikkies stem saam met Dawie. “Hoeveel is dit dan altesaam?” wil Rooie weet. “Tweehonderd en veertig rand,” sê Dawie en sug swaar. Die ander drie sug ook swaar. Dawie kon maar net sowel tweeduisend vierhonderd rand gesê het – dis vir hulle net so onmoontlik om te kry as tweehonderd en veertig rand. “Ons moet dink,” sê Trompie. Die ander stem saam met hom. Hulle moet dink. Hulle moet ’n plan beraam om voor Vrydag tweehonderd en veertig rand in die hande te kry. En hulle weet dit gaan nie maklik wees nie. “Wat het ons wat ons kan verkoop?” vra Trompie. Nou dink al vier ewe hard. “Ek het ’n goeie rolpuntpen,” sê Trompie, “wat ek nie gebruik nie.” “Die een wat jy met my geruil het?” vra Blikkies. “Ja.” “Hoeveel dink jy gaan jy vir daai pen kry? Die ding kan dan nie eens skryf nie.” “Miskien tien rand of so,” mompel Trompie, maar hy lyk mismoedig. Wie sal tien rand betaal vir ’n pen wat nie eens kan skryf nie? Rooie sê nou hy kan twee van sy duiwe verkoop. Dis te sê as die duiwe nog nie dood is wanneer hy by die huis kom nie. Hulle was gister al twee siek. “Wie sal twee siek duiwe wil koop?” wil Dawie weet.
“Die ou wat die goed koop, hoef mos nie te weet hulle is siek nie,” brom Rooie. “As die goed doodgaan ná hy my betaal het, kan hy mos nie die geld terugvra nie.” Trompie hou nie van hierdie plan nie. Dis nie “mooi” nie, is hoe hy dit stel. Hulle wil mense mos nie kul nie. Dawie en Blikkies hou ook nie van die plan nie. Hulle dink ook nie dis “mooi” om so iets te doen nie. Rooie het self ook nie van die plan gehou nie – hy is buitendien feitlik seker die duiwe is al klaar dood – maar hy het nou darem ’n voorstel gemaak. Hy het mos gewys hy het ook gedink. Nou kan sy vriende maar verder dink. Hy ry nou sommer net. Hy dink nie meer nie. Sy skoene hang – soos altyd wanneer hulle van die skool af kom – om sy nek. Hy hou daarvan as die pedale sy voetsole so kielie. Dawie sê nou alles wat hy dalk sal kan verkoop, is in sy laai by die huis en hy weet nie of iemand daardie laai se inhoud sal wil koop nie. “Wat het jy in die laai?” vra Trompie. “Wel, daar is ’n kettie wat stukkend is,” sê Dawie, “en ’n horlosie wat nie werk nie. Dis eintlik net die horlosie se dop – ek het die binnegoed lankal uitgehaal. Dan is daar ook ’n paar klippies wat ek as ammunisie gebruik het toe die kettie nog heel was. O ja, en daar is ook twee ou strokiesverhale van Die Skim en ’n appel wat half geëet is en bruin geword het.” Dawie frons, maar hy kan nie aan nog iets dink wat in die laai kan wees nie. Die vier vriende ry mismoedig langs mekaar. Dawie kan ook nie help nie. Dit is duidelik. Wie sal nou belang stel in ’n kettie wat stukkend is – al is daar ’n paar klippies by wat as ammunisie kan dien – ’n polshorlosie wat net ’n dop is, twee ou strokiesverhale wat seker al feitlik in repies is en ’n appel wat half geëet en nou droog en bruin is? Blikkies het nog nie met ’n voorstel gekom nie. Toe hy sien almal kyk na hom sê hy saaklik terwyl hy die grashalmpie waaraan hy kou flink van die een kies na die ander versit: “Ek het ’n fietspomp.” Sy drie vriende begin net dink dat ’n fietspomp darem iets is waarin ander
kinders sal belang stel en dat hulle dalk ’n paar rand daarvoor sal kan kry, toe Blikkies byvoeg: “Maar die ding is oud en verroes en werk nie.” Die ander sug swaar. Niemand sal mos ’n fietspomp koop wat oud en verroes is en nie eens werk nie. Hulle boer duidelik nie vooruit wat kontant of aardse besittings betref nie. As iemand nie vir hulle geld gee om sirkus toe te gaan nie, sal hulle by die huis moet bly. “Ek wil daai Danlo-ou baie graag sien,” sê Trompie. “Hoekom juis vir hom?” vra Dawie. “Wel, ek en hy is mos dieselfde soort ouens. Hy is ’n wêreldbekende hanswors en die mense sê ek is ’n gebore hanswors. Van al die sirkusmense wil ek hom die graagste sien.” Die ander dink nou wie hulle die graagste sal wil sien. Dawie sê hy wil graag vir Vincent die Towenaar sien – net om te sien of die ou vir hom wat Dawie is, sal kan flous. Blikkies sê hy wil liewer vir Markof die Sterk Man sien. Hy sal eers glo die ou kan ’n groot motor vashou sodat dit nie kan beweeg nie as hy dit met sy eie oë sien. Rooie is nuuskierig om Alfonso die Leeutemmer te sien. Hy wil graag sien hoe die man sy kop in ’n leeu se bek in druk. Hy wonder hardop wat sal gebeur as die leeu sy kake skielik toeklap terwyl Alfonso se kop nog in sy bek is. “Die ou sal natuurlik sonder ’n kop wees,” brom Trompie. “Ek weet nie hoekom ons eens oor al dié goed praat nie,” sê Dawie. “Ons het mos nie geld nie.” “Ek moet vir Danlo die Hanswors sien,” sê Trompie beslis. “Ons moet iewers geld kry.” “Maar hoe?” vra Blikkies. Dit bly natuurlik die groot vraag. Die seuns ry nog so ingedagte oor hierdie vraag en dink toe hulle skielik ’n bars stem van die sypaadjie se kant af hoor skree: “Haai! Stop! Ek het julle!”
Die seuns hou stil. Op die sypaadjie voor die polisiekantoor staan die dorp se stewig geboude sersant. Hy wink hulle met sy groot hand nader. Hulle het so ingedagte gery dat hulle nie agtergekom het hulle is voor die polisiestasie nie. Die sersant het hulle al hoeveel keer gewaarsku dat hulle nie langs mekaar mag ry nie, veral nie in die hoofstraat nie. Dis te gevaarlik. Die Boksombende se oë is groot. Trompie voel hoe sy hart onstuimig bons. Hy glo nie soebat en mooipraat gaan dié keer help nie. “O heng,” sê hy. “Ons is in groot moeilikheid, ouens.” Rooie, Blikkies en Dawie sê niks nie. Hulle sluk net. Hulle weet hulle is in groot moeilikheid. Die polisiesersant het hulle al genoeg kere gewaarsku. Die vier seuns stoot hul rooigeverfde fietse gedwee op die sypaadjie na die sersant toe. Hulle loop maar stadig. Hulle is glad nie gretig om gou by hom te kom nie. En hulle gaan ook nie te na aan hom staan nie – ingeval hy miskien sommer klappe begin uitdeel. Hulle wil dan buite trefafstand wees.
6
Platsak
Trompie-hulle kom ’n paar tree van die sersant af langs hul fietse tot stilstand. Hulle lig hul pette beleefd en sê: “Middag, Oom.” As hulle in die hof moet verskyn, moet die sersant darem ter versagting kan sê hulle was beleefd met hom. Die sersant groet hulle nie. Hy staan net kwaai na hulle en gluur. Die Boksombende bly ’n paar tree van hom af weg en is baie ongemaklik. “Kom nader!” bulder hy skielik. Trompie-hulle staan vinnig nader – al moet hulle dan ook ’n klap of twee kry. Hulle kan daardie bulderende bevel nie verontagsaam nie. “Het ek julle al gewaarsku dat julle nie langs mekaar moet ry nie?” vra die sersant kwaai. Trompie-hulle kyk na mekaar. Dan pomp Rooie vir Trompie in die ribbes. Hy is mos die Grootkaptein. Hy moet nou die praatwerk doen. “Ja, Oom,” sê Trompie vinnig. “Een keer – of al meer as een keer?” “Meer as een keer, Oom,” sê Trompie gedwee en kyk stip na sy ingeduikte skoenpunt asof dit iets te doen het met die verknorsing waarin hy nou weer beland het. “En hier kom julle sowaar vandag en julle ry weer langs mekaar!” Die sersant sê dit met ongeloof, asof hy dit nie sou geglo het as hy dit nie met sy eie oë gesien
het nie. “Dit was vandag ander omstandighede, Oom,” mompel Trompie. “Watse omstandighede?” kom die gebulder. Die sersant praat so hard dat Trompie, wat reg voor hom staan, effens terugdeins. “Ons het stadig gery, Oom,” begin Trompie verduidelik, “en ons het so diep en ernstig gedink, Oom, dat ons gevergeet...” “Wat het julle gevergeet – ek bedoel, vergeet?” val die sersant hom kwaai in die rede. Trompie wil eers sê dis mos wat hy wil sê – wat hulle “gevergeet” het – maar voor hy dit sê, bedink hy hom. Hy moet vandag buitengewoon beleefd met die sersant wees, anders gaan hulle net in nog groter moeilikheid beland. Die sersant is duidelik lus vir hulle. “Oom, ons het gevergeet ons ry langs mekaar omdat ons so diep en ernstig gedink het.” “En waaroor het julle gedink?” “Oor Vrydagaand se sirkus, Oom. Ons het nie geld nie en ons wil graag geld hê om soontoe te kan gaan, en toe het ons stadig gery en gedink hoe ons geld kan kry om te gaan. Dis maar al, Oom. Ons het nie agtergekom ons ry langs mekaar nie omdat ons so diep gedink het. Oom weet, as ons dit agtergekom het, sou ons dadelik agter mekaar gery het, want ons weet mos dis hoe ’n mens moet ry. Ons het dit eintlik gedoen sonder dat ons dit weet, Oom sien, omdat ons so diep en ernstig gedink het.” Trompie het vinnig en opgewonde gepraat. Hy loer nou na die sersant en deins terug toe hy sien die man lyk nog net so kwaai. “Ons vra om verskoning, Oom,” probeer hy nou weer, “en ons belowe ons sal dit nooit weer doen nie.” Rooie, Blikkies en Dawie besef die tyd het aangebreek dat hulle Trompie moet ondersteun.
“Nooit weer nie, Oom,” belowe Rooie plegtig – en om dit meer indrukwekkend te maak, sit hy ’n vuil hand op sy bors waar hy vermoed sy hart is. “Ons belowe, Oom,” sê Blikkies ook ernstig, “ons sal dit nooit weer doen nie.” En om te wys hoe ernstig hy is, hou hy selfs vir ’n oomblik op om aan die grashalmpie in sy mond te kou. “Ons sal dit nooit weer doen nie, Oom,” kom Dawie se stemmetjie ook, “nooit weer so lank as wat ons lewe nie.” Hul belofte klink nogal opreg, maar die sersant het dié soort beloftes al voorheen gehoor. “Hmm,” grom hy, maar Trompie sien hy lyk darem nie meer so erg kwaad nie. “Gee ons nog net een ou kansie, Oom,” smeek Trompie vinnig. “Groot asseblief.” “Hmm,” grom die sersant weer. Hy dink duidelik nou of hy hulle nog “een ou kansie” moet gee, of nie. Die vier hou sy gesig bekommerd dop. Die sersant haal sy helm van sy kop af en vee tydsaam met ’n groot bruin sakdoek die sweet van die band aan die binnekant van die helm af. Dan sê hy: “En het julle dinkery toe vrugte afgewerp?” “Hè, Oom?” vra Trompie verbaas, maar onthou dan “Hè?” is mos nie beleefd nie en sê vinnig: “Ekskuus, Oom?” “Ek vra of julle dinkery toe vrugte afgewerp het?” Trompie het nog nie behoorlik herstel van die skok dat die sersant hulle so onverwags betrap het nie en sukkel nog om helder te dink. Hy kan nie verstaan wat vrugte te doen het met die penarie waarin hulle beland het nie. Dawie is die een wat antwoord. “Nee, Oom,” sê hy. “Ons het gedink en gedink, maar ons weet nie hoe om geld vir die sirkus in die hande te kry nie.” O, natuurlik, dink Trompie. Hy was darem dom. Die sersant se “vrugte afwerp” is mos maar net ’n manier van sê en het niks met regte vrugte te doen nie.
Nou sê hy: “Ons het hard gedink, Oom, maar ons kan nie aan ’n plan dink nie – en ons weet ons ma’s en pa’s sal nie vir ons geld gee nie, want ons het ons sakgeld al weke vooruit gekry.” “Hmm,” brom die sersant net weer. Maar dit lyk darem asof hy nou glad nie meer kwaad is nie. Dan sê hy: “Toe ek so oud soos julle was, het ek op net een manier geld vir die sirkus en sulke dinge gekry.” “En watse manier was dit, Oom?” vra Trompie belang-stellend. Hy dink dit is ’n goeie teken dat die sersant nou nie meer oor hul oortreding praat nie. Buitendien wil Trompie-hulle graag weet hoe die sersant geld in die hande gekry het om sirkus toe te gaan toe hy so oud soos hulle was. Miskien het hy ’n goeie plan wat hulle ook kan gebruik. Die Boksombende kyk belangstellend na die sersant, maar hy grom net weer: “Hmm.” Ná ’n rukkie sê hy egter: “Ek glo nie julle sal van my manier hou nie.” “Sê maar, Oom,” sê Trompie. “Ons wil baie graag sirkus toe gaan. Ons sal enigiets doen.” En toe bulder die sersant net een woord uit: “Werk!” Trompie-hulle wip soos hulle skrik. Die Grootkaptein sê onwillekeurig: “Hè?” en toe vinnig: “Ekskuus, Oom?” “Ek sê werk! Die enigste manier hoe ’n mens geld op hierdie aarde kan kry, is deur die sweet van jou aanskyn, deur hard daarvoor te werk.” Die vier lyk teleurgesteld. Hulle is nie juis goeie vriende met werk nie. Rooie trek ’n suur gesig. Trompie onthou dat hulle vriendelik en beleefd moet wees. Hulle is mos nog in groot moeilikheid. Hy sê vinnig: “Dankie vir die raad, Oom. Ek dink ook ons moet kyk of ons nie werk kan kry om geld te verdien nie. Dan kan ons mos sirkus toe gaan.” Rooie, Blikkies en Dawie knik instemmend om te wys hulle stem saam met Trompie. Hulle glimlag selfs – hulle wil vir die sersant wys hulle is seuns wat
hou van werk. Blikkies vryf sy hande asof hy sommer dadelik aan die werk wil spring om geld te verdien. “Onthou ook,” vermaan die sersant hulle, “as ’n mens werk, is jy nie ledig nie – en ledigheid is die duiwel se oorkussing.” Hulle knik hul koppe om die sersant te verseker hulle sal dit onthou – ledigheid is die duiwel se oorkussing. Nou kyk hulle vol hoop na die sersant. Sal hy nie dalk sê hulle kan maar gaan en hy sal hulle nie straf nie? Die sersant sien hoe hoopvol hulle hom dophou. Daar speel ’n effense glimlag om sy mondhoeke. Hy kan nou goed verstaan hoekom hulle so langs mekaar gery het. Hulle het net aan die sirkus gedink en aan niks anders nie. En om die waarheid te sê, dis feitlik al waaraan hy ook gedink het vandat hy die Blonde Miranda gesien het. “Goed,” sê hy skielik, “ek laat julle dié keer gaan, maar bewaar julle siele as ek julle weer vang dat julle langs mekaar ry.” “Dankie, Oom,” sê Trompie en sy gesig straal. “Ons sal dit nooit weer doen nie, Oom.” Rooie, Blikkies en Dawie is ook baie verlig en bedank die sersant oor en oor. “Maar onthou,” sê die sersant en glimlag weer effens, “ek is ook Vrydagaand by die sirkus en ek sal mooi oplet of daar kinders onder die seile deurkruip.” “Ons sal mos nooit daarvan droom om so iets aan te vang nie, Oom,” sê Trompie met ’n onskuldige gesig. Sy drie vriende verseker die sersant ook hulle sal nooit daarvan droom om dit te doen nie. Hulle lyk so soet en onskuldig soos engeltjies terwyl hulle daar voor hom staan. “Nou goed, julle kan gaan.” Met ’n “Middag, Oom; dankie, Oom!” spring die vier vinnig op hul fietse en ry weg. Hulle ry nou netjies in ’n ry, die een agter die ander. By die straathoek waar hulle na hul onderskeie huise afdraai, hou hulle stil.
“Dit was darem amper,” sê Trompie. Die ander stem saam. Hulle was byna vandag in groot moeilikheid. “Maar wat dink julle van sy idee dat ons moet werk om geld in die hande te kry?” vra Dawie. Niemand antwoord nie. Rooie trek ’n gesig asof hy nou net ’n sluk asyn gedrink het. Blikkies spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n sierlike boog deur die lug. Trompie se voorkop is op ’n plooi soos hy ernstig nadink. “Julle weet,” sê hy dan, “dit lyk vir my asof ons dit sal moet doen as ons sirkus toe wil gaan.” “Wat?” vra Rooie. “Wát wat?” “Wat moet ons doen?” “Werk, natuurlik. Dis mos waarvan ons praat.” Rooie se gesig lyk nou nog suurder – amper asof hy nog ’n ekstra dop asyn ingekry het. “Kan ons nie aan ’n ander plan dink nie?” wil Blikkies weet. “Daar is g’n ander plan nie,” sê Trompie. “Miskien kry ons nêrens werk nie,” sê Dawie hoopvol. Rooie voel nou ook sommer beter. “Ja, waar en by wie gaan ons nogal werk kry?” vra hy. “Ons moet ons ma’s en pa’s vra,” sê Trompie. “Dit is die enigste manier.” Daar word ’n hele paar oomblikke lank hieroor gedink. “Jy bedoel ons moet hulle vrá vir werk?” vra Blikkies.
“Ja, werk waarvoor hulle ons natuurlik moet betaal,” sê Trompie. Rooie het weer ’n suur uitdrukking op sy gesig. Hy dink aan die groot lap onkruid aan die onderpunt van hul tuin. Dit sal lank vat en swoeg en sweet kos om al daardie gemors uit te skoffel – en hy twyfel of sy pa hom meer as twintig rand daarvoor gaan gee. Trompie sê nou hulle moet hulle die volgende paar dae mooi gedra. Hulle moet in en om die huis help en aanbied om allerhande werkies te doen. Hy is seker hulle sal hul pa’s en ma’s se harte op dié manier kan sag maak en dan sal hulle waarskynlik elkeen sestig rand kry. “Onthou,” sê hy, “as ons die sirkus wil sien, moet ons geld kry. Dis al hoe ons daar gaan inkom.” Al het die vier glad nie daaroor gepraat nie, het hulle almal vroeër daaraan gedink dat hulle – as die ergste gebeur en hulle nie die toegangsgeld kry nie – in die donker onder die tentseil kan probeer deurkruip. Maar hulle sal dit nie nou meer kan doen nie. Die sersant gaan ook daar by die sirkus wees en hy het mos gesê hy sal spesiaal op die uitkyk wees vir sulke kinders. Hulle besluit daarom hulle sal maar soveel as moontlik by die huis help en vir die beste hoop. Toe Trompie by die huis aankom, gooi hy nie soos gewoonlik sy pet sodat dit deur die lug trek en op die kapstok land nie. Nee, sy ma hou mos nie daarvan nie. Sy sê dis ’n slegte gewoonte. En wie weet, miskien sit sy in die sitkamer en kan sy duidelik sien wat hy doen. Hy wil mos ’n goeie indruk maak. Trompie sien haar egter nie, maar dan hoor hy haar in die kombuis en loop soontoe. “Middag, Ma!” roep hy vriendelik. “Middag, Trompie,” groet sy en wys sy kos is ingeskep. Sy dra dit vir hom eetkamer toe. Terwyl Trompie eet, gesels hy gemoedelik. “Ma weet,” sê hy, “die sirkus is Vrydagaand hier.”
“So?” Sy ma sit en brei in ’n gemakstoel. “Ja, Ma.” En dan vertel Trompie haar van die verskillende kunstenaars. Hy praat van die leeutemmer, die sirkusbaas wat sterkmantoertjies doen, die hanswors en al die ander nommers wat daar gaan wees. “Ek sal darem graag die hanswors wil sien, Ma weet. Hy is ’n ou wat al voor konings en koninginne en goed opgetree het.” “So?” “Ja, Ma.” Trompie wens sy ma wil nie net “So?” sê nie. Hy wens sy wil ook ’n bietjie opgewonde raak. “Die hele Kwaggaberg gaan Vrydagaand daar by die sirkus wees, Ma weet.” “So?” Sy ma brei verder. Daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke. Sy ken mos vir Trompie – sy kan goed sien waarheen hy mik. “Heng, ek sal darem graag die hanswors wil sien. Hy is glo die wêreld se beste hanswors, Ma weet.” “So?” “Ja, Ma,” en effens vies voeg Trompie by: “Al die mense sê so.” “So? En wie is al dié mense?” Trompie dink nou wie al die mense is wat so sê. Hy kan net aan een dink wat so gesê het – en dit was Danlo die Hanswors self. “Ek kan nie nou juis aan al die mense dink nie, Ma, maar Danlo het self so gesê. O ja, en dit staan ook swart op wit op daai plakkaat voor die poskantoor.” Sy ma antwoord nie. Sy glimlag net. Sy sê nie eens “So?” nie. Vir ’n paar oomblikke is dit stil. Dan sê Trompie: “Gaan Ma en Pa sirkus toe?”
“Ek glo nie, Trompie. Vrydag is mos die laaste dag van die maand en jou pa werk dan altyd tot baie laat.” Trompie dink aan al die geld waarmee sy pa werk – en hier sit hy, die bankbestuurder se seun, en hy het sowaar nie eens sestig rand vir die sirkus, lekkers en springmielies nie. “Ma weet,” sê hy skielik, “die lewe is darem maar moeilik.” Hy sug om te wys hoe moeilik die lewe is. “So?” “Ja, Ma. Ek kry maar net twintig rand sakgeld ’n week.” “Ek dink dis genoeg – en jy gaan die volgende vier weke nie eens dit kry nie. Jy weet wat jou pa gesê het.” Trompie dink aan wat sy pa gesê het. Hy het elke keer wat hy platsak was nog geld gevra en toe sy pa verlede week vir hom ’n ekstra twintig rand gee, het hy gesê Trompie het nou al sy sakgeld weg en gaan die volgende vier weke nie ’n sent verder kry nie. Hy moet glo die waarde van geld leer – dis wat sy pa gesê het. Trompie weet wanneer die bankbestuurder op so ’n besliste manier praat, help dit nie om te soebat nie. Sy pa sal nie vir hom nog geld voorskiet nie. Dit help nie eens om te probeer nie. “Ja, Ma,” sê hy en sug weer. “Ek weet wat Pa gesê het. Dis wat die lewe so moeilik maak.” Trompie besef hy hoop verniet hy sal sakgeld uit sy ouers kry. Hy sal nou maar kyk of hy kan werk – teen betaling, natuurlik. Dit het dan mos niks met sy sakgeld te doen nie. “Het Ma nie vir my ’n ou joppie nie?” vra hy. “’n Ou wat?” “’n Ou werkie, Ma weet,” en om sy ma darem te laat verstaan dat hy dit nie verniet wil doen nie, voeg hy by: “Ek wil hard werk sodat ek geld kan maak om
sirkus toe te gaan.” Sy ma sê glimlaggend: “Ek het nie eintlik iets vir jou om te doen nie, maar as jy Safanja daar agter in die tuin wil gaan help, sal ek jou ’n ietsie betaal.” “Wat doen hy, Ma?” “Hy trek onkruid uit.” Trompie hou net so min soos Rooie daarvan om onkruid uit te trek. Hy sal liewer iets anders wou doen. Maar, sit hy en dink, as ’n mens geld wil verdien, help dit nie om vol fiemies te wees nie. Hy moet darem net eers een baie belangrike vraag vra: “Hoeveel betaal Ma? Ek hoop nie dis te min nie.” “Ek laat nie vir my voorskryf nie, Trompie. As jy Safanja wil gaan help, kan jy dit doen. As jy nie wil nie, hoef jy nie. Ek sal self besluit hoeveel jy gedoen het en hoeveel ek jou sal gee.” “Goed, Ma,” sê Trompie gedwee, “dan sal ek maar gaan werk.” Sleepvoetend, asof dit iets vreesliks is wat hy nou gaan doen, stap Trompie tot in die voorportaal waar sy pet is. Terwyl hy sy pet skeef op sy kop sit, dink hy dat hy ten minste nie vanmiddag weer ’n uur en ’n half daar in sy kamer met sy boeke hoef te sit nie. Maar dan wonder hy of die tuinwerk nie dalk erger is nie. Trompie stap om die huis na die hoek van die agtertuin waar Safanja besig is. Hy loop en skop na klippies en stap stadig. Hy is glad nie gretig om by Safanja uit te kom nie. Toe hy uiteindelik by die oubaas is, sê hy: “Middag, Safanja.” “Middag, Trompie,” sê die tuinier. Safanja werk al baie jare by die Toeriens, al van voor Trompie gebore is. “Ek het gekom om jou met die onkruid te help.” Safanja kyk op. Dit lyk asof hy glad nie van die idee hou dat Trompie hom moet help nie. Hy ken mos vir Trompie. Hy sal meer in die pad wees as wat hy help.
“Het jou ma so gesê?” “Ja, Safanja.” Die tuinier sug net. Dan kan hy Trompie se aanbod nie van die hand wys nie. “Nou toe, begin dan maar,” sê hy gelate. Trompie trek sy kleurbaadjie uit. Hy hoop sy ma kyk deur die venster en sien dat hy dit doen. Dit behoort mos ’n goeie indruk te maak. Nou is hy reg om te begin werk. Hy gaan sit gehurk op die grond en begin bossies uittrek. Nadat hy ’n bossie uitgepluk het, skud hy eers die grond aan die wortels af en dan gooi hy dit op ’n hopie naby hom. Trompie werk nogal taamlik hard – vir omtrent vyf minute. Dan voel hy dat hy nou darem eers ’n bietjie moet rus. Ja-nee, dis waar wat die sersant gesê het – ledigheid is die duiwel se oorkussing. Trompie is nou lekker ledig. Hy sit sommer net. Hy rus mos nou. Hy tel ’n kluit op wat voor hom lê en speel-speel daarmee in sy hande. Dan kyk hy na waar Safanja omtrent tien tree voor hom hard besig is om kakiebosse uit te trek. Hy werk met sy rug na Trompie toe. Die Grootkaptein wonder wat sal gebeur as hy nou moet lostrek en die kluit tref Safanja mooi agter die kop. Die oubaas sal nie seerkry nie, want die kluit is sag. Dit sal net sand wees wat oor hom spat. Maar hy sal natuurlik groot skrik. Trompie dink dit sal nogal snaaks wees om te sien hoe Safanja wip soos hy skrik. Nou kan die Grootkaptein die versoeking nie langer weerstaan nie. Hy gooi en die kluit vang Safanja netjies agter die oor. Die tuinier wip regop en skree: “Hauk! Jou vullis! Wie’t my gegooi?” Trompie probeer sy bes om so verbaas moontlik te lyk. Hy kyk nou op sy beurt ook om asof hy te kenne wil gee die kluit het hom net skrams gemis en iewers van agter hom gekom. Daar is natuurlik niemand agter Trompie nie. Safanja kyk agterdogtig na die
seun. Trompie probeer lyk asof botter nie in sy mond sal smelt nie. “Hauk,” sê Safanja weer. Dan buk hy en begin verder onkruid uitpluk. Trompie byt hard op sy lip om nie te lag nie. Dit was baie snaaks toe Safanja so vinnig regop gewip het. Vir ’n ruk trek Trompie nou weer bossies uit. Dan besluit hy dit sal snaakser wees om nie die grond aan die wortels voor hom af te skud nie, maar die bossies so te skud dat die grond oor Safanja reën. Trompie doen dit ’n paar keer, maar dan sê Safanja: “Hou op! Ek sê vir jou, jy soek moeilikheid.” Trompie hou op om dit opsetlik te doen, maar ’n rukkie later trek hy ’n groot kakiebos uit en moet dit hard skud om die grond van die wortels af te kry. Hy skud die bos so hard dat van die grond aan die wortels weer op Safanja se kop neerreën. Dit is die laaste strooi. Safanja spring op en sê: “Dis genoeg!” en stap reguit na die huis toe. “Safanja!” roep Trompie benoud. “Hierdie laaste keer het ek dit nie aspris gedoen nie. Dit was ’n ongeluk.” Die tuinier antwoord nie. Hy stap na die huis toe. Hy gaan vir Trompie se ma sê hy wil nie hê die seun moet hom help nie. Trompie sug swaar. Dit gaan die einde wees van sy kanse om geld te verdien. Hy moes natuurlik nie met Safanja gesukkel het nie, maar die vreemde ding is, toe hy die tuinman aspris met kluite bestook het, het daar niks gebeur nie – en toe hy per ongeluk ’n kakiebos so skud dat die grond Safanja tref, is daar skielik moeilikheid. By die huis vertel Safanja vir Trompie se ma wat gebeur het. “Ek wil hom liewer nie daar hê nie, Mevrou,” sê die oubaas verontwaardig. “Hy is net in die pad.” Trompie staan effens eenkant. Hy skop-skop met sy ingeduikte skoenpunt na ’n
witgeverfde klip. “Die laaste keer was net ’n ongeluk, Ma.” “Ongeluk ofte nie, Mevrou,” sê Safanja. “Hou hom liewer hier by die huis. Hy hinder my net as ek werk.” “Goed, Safanja,” sê Trompie se ma. “Ek sal sorg dat hy nie weer daar kom nie.” Toe die tuinier wegstap, sê sy: “Wat het jy nou weer aangevang, Trompie?” “Niks nie, Ma,” antwoord hy. “Ek is onskuldig. Toe ek hom met ’n kluit gegooi en die grond aspris so van die bossies af geskud het dat dit op hom val, het hy niks gesê nie. Maar die laaste keer, toe hy so kwaad geword en vir Ma kom sê het, was dit ’n ou ongelukkie. Ek het dit toe regtig nie aspris gedoen nie.” “Jy moet liewer daar wegbly.” “Ja, Ma.” Trompie voel eintlik nie sleg dat hy van Sefanja af moet wegbly nie. Hy wonder net hoeveel sy ma hom gaan betaal vir die werk wat hy wel gedoen het. Hy het mos ’n hele paar bossies uitgetrek. Sy ma lyk egter glad nie vriendelik nie – en hy voel dis nie nou die regte tyd om haar daarop te wys dat hy ’n hele klomp onkruid uitgetrek het en darem so ’n ietsie daarvoor moet kry nie. Nee, hy sal haar vanaand vra. Hy hoop maar sy sal dan die grappie – dit was mos maar net ’n ou grappie om Safanja met kluite te gooi – kan waardeer. Sy moet hom darem minstens ’n paar rand betaal vir die werk wat hy wel gedoen het. En dit was dan ook die einde van Trompie se soektog na werk om geld in die hande te kry om sirkus toe te kan gaan. Sy ma gee hom dié aand net vyf rand. Dis al wat hy het. Hy kort dus nog vyf-en-vyftig rand as hy die sirkus wil sien en ook nog lekkers en springmielies wil koop. Die Grootkaptein se drie makkers verdien ook nie veel nie. Dawie het sy ma die hele middag gehelp om die meubels in hul sitkamer te skuif. Hy sê hy het nog nooit in sy lewe so hard gewerk nie. Hy moes die hele tyd swaar meubelstukke van die een hoek van die vertrek na die ander rondskuif, maar het net tien rand gekry.
Rooie het vyftien rand verdien. Hy het sy pa ’n ruk in die skoenmakerswinkel gaan help. Hy sê hy moes lank sit en klein stukkies leer netjies volgens grootte in verskillende hopies pak. Blikkies het niks verdien nie. Hy sê sy ma en pa kon aan niks dink nie. Aan Blikkies se houding is dit duidelik dat hy ook nie juis uit sy pad gegaan het om hulle te soebat om tog asseblief vir hom werk te gee nie. Hy is, soos hy nou self sê, nog lank nie so simpel nie. Die Boksombende het dus altesaam maar net dertig rand verdien. Dis nie eens genoeg vir een kaartjie nie. Hulle voel maar mismoedig. Die volgende paar dae gaan hulle uit hul pad uit om hulle te gedra en gehoorsaam te wees en hul ouers te help waar hulle kan, maar dit werk nie, want hulle moet die waarde van geld leer. Hulle het mos almal hul sakgeld al vier weke vooruit getrek. Soos Trompie se pa sê – en die ander pa’s gebruik min of meer dieselfde woorde: “Dit is ’n beginselsaak.” Trompie en sy makkers dink en dink, maar dit help nie. Dit lyk sowaar asof hulle nie die wêreldberoemde Markof-sirkus gaan sien nie. Maar Vrydagoggend in die skool, toe Dawie sê dat hulle darem in elk geval die middag kan gaan kyk hoe die tent en al die diere en dinge lyk, dink die Grootkaptein aan ’n plan. “Weet julle ouens wat?” vra hy. Nee, hulle weet nie wat nie. Rooie is die een wat die nodige doen en die vraag vra. “Wat?” wil hy weet. “Ons eet vanmiddag vinnig en is sommer vroeg daar. Dan vra ons die baas – ou Markof – of ons hulle nie kan help nie. As ons die hele middag hard werk, sal hy dalk vir ons kaartjies gee.” Die ander drie dink dis nogal ’n goeie plan. Hulle is heeltemal bereid om hard te werk by die sirkus, want hulle beskou dit nie juis as werk nie. As hulle daar gaan werk, gaan hulle mos die diere en dinge sien, soos Dawie nou sê. Hulle hoop maar net Markof het vir hulle werk.
Die vier is die middag soos blits by die skool weg toe die laaste klok lui. Hulle jaag deur die hoofstraat. Toe hulle naby die polisiestasie kom, sê Trompie: “Stadig, ouens.” Hulle ry stadig en netjies agter mekaar. Die sersant staan by die hekkie. Die seuns groet hom vriendelik. Hy antwoord nie, maar wys net vir hulle ’n dik, waarskuwende vinger. Hulle moet oppas. Hy hou hulle dop. Die Boksombende eet nie veel nie. Hulle is net ’n paar minute by die huis, dan vat hulle die pad – sirkus toe. Die sirkustent gaan op ’n oop stuk grond langs die kerksaal opgeslaan word. Toe Trompie-hulle nader ry, hoor hulle musiek oor luidsprekers speel. Hulle glimlag vir mekaar. Sirkusmense hou van musiek as hulle werk. “Ek hoop net die ou gee vir ons ’n joppie,” sê Blikkies. Die ander hoop ook van harte so. As hulle vanmiddag vir die sirkusmense kan werk, kan hulle vanaand se vertoning dalk verniet bywoon.
7
Trompie die hanswors
Hoe nader die Boksombende aan die oop terrein langs die kerksaal kom, hoe duideliker hoor hulle die vrolike musiek. Hulle word al meer opgewonde en ry al hoe vinniger. Die sirkus is hier! Kwaggaberg se kinders stroom van alle kante af na die terrein toe. “Ek hoop net nie hulle gaan almal werk vra nie,” sê Trompie bekommerd. Die Boksombende jaag nou op volle vaart soontoe. Dit is baie bedrywig op die terrein. Die diere is almal in hokke op wiele. Party mense is besig om die groot tent se seile op die grond oop te gooi en ander grawe gate. Twee tamaai groot olifante staan geduldig na al die bedrywigheid en kyk. Hulle is aan ’n vragmotor vasgemaak. Almal werk, skree bevele en lawaai – en die musiek oor die luidsprekers blêr oor alles heen. Trompie voel ’n tinteling langs sy ruggraat af. Hier is lewe. Hier is avontuur! Hulle sien die meisie wat die dag voor die poskantoor kitaar gespeel het. Sy was klere in ’n skottel water en lyk nou glad nie so mooi soos toe sy saam met die hanswors by die poskantoor was nie. Trompie wink vir die ander drie en hulle stap na die meisie toe. “Hallo, Miranda,” groet die Grootkaptein haar en lig beleefd sy pet. Rooie, Blikkies en Dawie lig ook beleefd hul pette. “Hallo,” sê sy vriendelik. “Wie is julle?”
“My naam is Trompie en dis my vriende – Rooie, Blikkies en Dawie.” “Dis lekker om julle te ontmoet,” sê Miranda. “Julle kom seker vanaand na ons vertoning kyk, nè?” Trompie frons diep en probeer so afgehaal moontlik lyk. “Ons wil baie graag,” sê hy, “maar ons weet nie of ons sal kan nie.” “Hoekom nie?” “Jy sien, geld is ’n bietjie skaars op die oomblik,” antwoord Trompie. “Maar ons wil natuurlik baie graag kom.” En omdat hy dink dit sal haar hart sag maak, voeg Trompie nou ook by: “Ons wil jou nommer baie graag sien.” “Dis gaaf,” sê sy laggend. “Julle moet maar ’n plan maak.” “Dis hoekom ons hier is, Miranda,” sê Trompie en dan vertel hy haar van hul plan. Hulle wil graag die middag hier by die sirkus werk en dan kaartjies kry as betaling. Trompie vertel vir haar hulle is vier flukse ouens wat nie bang is vir werk nie en hul hande staan boonop vir niks verkeerd nie. “Julle moet met Markof gaan praat. Hy is die baas. Maar ek waarsku julle, hy is vandag in ’n baie slegte bui. Danlo die Hanswors is siek en Markof is bekommerd oor vanaand se vertoning.” Trompie is bitter jammer om te hoor Danlo is siek. Hy is mos eintlik die een wat Trompie so graag wil sien, al sal hy dit natuurlik nie vir Miranda sê nie. Hy het mos klaar gesê hulle wil háár graag sien. Miranda voel jammer vir die vier seuns wat so bekaf lyk en sê: “Kom saam met my. Ek sal julle na Markof toe vat en met hom praat.” “Heng, dankie,” sê Trompie, en die ander bedank haar ook. Dit gaan mos baie help. Hulle stap verby die brullende leeus na ’n groot karavaan toe. Miranda klop aan die deur en gaan in. Die seuns wag buite. “Sy’s darem baie gaaf,” sê Trompie, en sy vriende stem saam met hom.
“As ons vanaand die sirkus sien,” sê Rooie, “moet ons vir haar die hardste van almal hande klap.” Die ander stem saam met hom. Maar dis natuurlik nog glad nie te sê hulle gaan die vertoning kan bywoon nie. ’n Minuut of twee later kom Miranda by die karavaan uit en sê glimlaggend die seuns moet ingaan. Die vier gaan op met die trappie. ’n Groot, sterkgeboude man staan en wag in die karavaan. Hy het ’n dik swart snor. “So, julle wil werk hê?” vra hy met ’n diep stem. “Ja, Oom; asseblief, Oom,” antwoord Trompie onderdanig. Om die man darem te laat verstaan hulle wil nie verniet werk nie, voeg hy by: “Ons het nie geld vir vanaand se vertoning nie. Nou wil ons werk sodat ons verniet kan ingaan en die wonderlike sirkus kan sien.” “Huh,” brom die sterk man net. Hy het geweldige breë skouers en dik arms. Trompie dink as hy ’n ou moet klap, slaan hy seker maklik jou kop van jou lyf af. Daarom staan die Grootkaptein veiligheidshalwe ’n paar tree terug. ’n Mens weet mos nooit wat kan gebeur nie. Nou is hy darem buite trefafstand. “Watse werk kan julle doen?” “Enige werk, Oom. Ons hande,” en Trompie steek sy hande uit, “staan vir niks verkeerd nie.” Dawie voel hy moet Trompie ondersteun en sê plegtig: “Ons is ouens wat glo ledigheid is die duiwel se oorkussing.” “Ja-nee,” gee Blikkies nou sy ondersteuning, “ons is nie ouens wat daarvan hou om niks te doen nie.” Rooie voel hy moet ook darem iets tot die gesprek bydra en brom: “Ons ken van werk.” Die vier glimlag vriendelik.
“Goed,” sê Markof skielik, “ek sal vir julle werk gee en dan kan julle gratis kaartjies kry vir vanaand se vertoning.” “Dankie, Oom.” Die Boksombende se gesigte straal. Hulle gaan nou sowaar die sirkus sien! Markof kyk na Trompie en sê: “Jy moet my help. Ek het iemand nodig wat ek kan rondstuur. Die ander gaan na die voorman toe. Julle kan gate grawe. Hy sal julle wys hoe.” Trompie is baie in sy skik. Die ander drie lyk maar bekaf. Dis mos harde werk om gate te grawe. Trompie is sowaar gelukkig. Toe hulle uitstap, fluister Dawie vir hom: “Wil jy nie met my ruil nie? Hy kan my rondstuur, dan grawe jy gate.” “Dink jy ek is mal?” fluister Trompie terug. Die voorman wys vinnig vir Rooie, Blikkies en Dawie waar hulle gate vir die groot tent se pale moet grawe. Die drie kry nou elkeen ’n koevoet en begin werk. Die eerste ding wat Trompie moet doen, is om die dokter te gaan roep vir Danlo die Hanswors wat siek is. Dan moet Trompie ’n paar inkopies gaan doen en ’n groot plakkaat teen ’n boomstam in die hoofstraat vasspyker. Hy doen sy werk vrolik. Elke keer as hy verby sy drie vriende stap wat elkeen voor sy eie gat met ’n koevoet sit, sê hy laggend: “Haai! Hoe gaan dit, ouens?” Dan gluur hulle vies na hom en begin maar weer grawe. Wanneer Trompie met alles klaar is, gaan hy na die karavaan toe waar Danlo siek lê. Hy weet Markof is daar. Trompie klop aan die deur en toe Markof “Binne!” roep, gaan hy in. Danlo lê op ’n bed aan die een kant van die karavaan. Miranda, Alfonso die Leeutemmer, Vincent die Towenaar en Magda, die aktrise uit Hollywood, sit eenkant op stoele. Markof stap op en af. Hy lyk bekommerd. “Is daar nog iets wat ek kan doen, meneer Markof?” vra Trompie beleefd.
“Sit en hou jou mond,” antwoord die sirkusbaas kortaf. Hy het duidelik nie eens gehoor wat Trompie sê nie. Hy is besig om baie hard te dink. Trompie gaan sit op ’n stoel in die hoek. Miranda kyk na hom en glimlag. “Wel, wat gaan ons doen?” bulder Markof skielik. “Moenie soos houtpoppe daar sit nie! Maak ’n voorstel!” “Watse voorstel kan ons maak?” vra Alfonso die Leeu-temmer. “Danlo is siek, so jy sal maar net eenvoudig moet afkondig dat hy nie gaan optree nie.” “Maar sê nou mense vra dan hulle geld terug!” sê Markof skerp. Dis duidelik dat hy dit as ’n geweldige tragedie sal beskou. “As ons net iemand kan kry,” sê hy nou peinsend, “wat so groot soos Danlo is en wat die mense vir tien minute kan vermaak. Hulle behoort nie agter te kom dis nie Danlo nie – en dan sal niemand dit waag om sy geld terug te vra nie.” Trompie, wat aandagtig sit en luister het, voel hoe hy hoendervleis kry van opwinding. Hy is mos so groot soos Danlo! En hy het mos ondervinding! Mense het dan selfs gesê hy is ’n gebore hanswors. Die Grootkaptein bal sy vuiste. Dan maak hy keel skoon en sê: “Meneer Markof, mag ek iets sê?” Almal kyk nou na hom. “Ja, japsnoet!” kom die bulderende stem. “Ek... ek kan Danlo se plek vat.” “Ha-ha-ha!” bulder Markof. Die ander lag ook. Markof sê dis die beste grap wat hy nog ooit in sy lewe gehoor het. Maar dan hou hy skielik op met lag, kyk nadenkend na Trompie en sê sag, amper vir homself: “Hoekom lag ek nou eintlik?” en dan harder: “Staan op, japsnoet!” Trompie kom vinnig op die been. Almal bekyk hom van kop tot tone. Die ander sirkusmense wonder nou ook hoekom hulle gelag het. Miskien is hier tog ’n oplossing vir hul penarie.
Trompie kan sien sy voorstel word nou ernstig oorweeg. Hy sê vinnig: “Ek was al ’n hanswors – en mense het gesê ek is ’n gebore hanswors.” Al antwoord wat hierop volg, is ’n paar kreungeluide van die bed waar Danlo siek lê. “Ek het nie ’n keuse nie! Ek gaan dit doen!” bulder Markof dan vasberade. Trompie sug verlig. Sy hele gesig straal. Hy gaan vanaand ’n hanswors in ’n regte sirkus wees. Almal beweeg nou en die bevele kom vinnig. Trompie moet Danlo se kostuum gou agter ’n gordyn aantrek. Hy maak so en dit pas asof dit vir hom gemaak is. “Wat’s jou naam?” bulder Markof. “Trompie, Oom.” “Nou luister mooi wat jy moet doen.” Trompie spits sy ore. Soos hy die ding verstaan, gaan dit nie te moeilik wees nie. Ná Miranda se sweefstoknommer gaan die seremonie-meester – Markof – aankondig dat dit Danlo se beurt is. Trompie sal reg sit op ’n donkie by die ingang waar die kunstenaars hul verskyning maak. Iemand sal die donkie ’n harde hou gee en hy sal dan by die arena inhardloop. “Kan jy donkie ry?” “Ja, Oom.” Markof verduidelik verder. Nadat Trompie ’n paar keer om die arena gery en vir die toeskouers gewaai het, moet hy afklim en soveel as wat hy kan bollemakiesie slaan. Dan moet hy sê hy kan gedagtes lees en fortuin vertel en sommer op ’n paar mense pik en hul fortuin begin vertel. Hy behoort dit maklik te kan doen, want hy ken mos die mense. Trompie verseker Markof plegtig hy sal dit kan doen. Hy ken almal op hierdie dorp.
“En dan,” Markof kyk stip na Trompie, “kom Alfonso die arena binne. Hy gaan in by ’n traliehok waarin daar twee leeus is. Dan lyk jy verbaas en vra hom wat hy doen en hy nooi jou by die hok in om te kom kyk.” Trompie se oë is nou groot. “By die leeuhok in, Oom?” “Ja, maar jy hoef nie bang te wees nie. Die leeus is mak.” Trompie se oë raak nog groter toe hy hoor dat hy dan ewe koel en kalm die een leeu se stert moet oplig en dit moet gebruik soos ’n man ’n skeerkwas gebruik om seep aan sy gesig te smeer. Daarna sal Alfonso die hek oopmaak en Trompie moet weer ’n paar keer bollemakiesie slaan voordat hy onder luide toejuiging by die arena uithardloop. Daar is glo nog baie ander goed wat Danlo gewoonlik doen, maar hulle sal dit vanaand eerder uitlaat. “Kan ons nie maar die storie met die leeu ook los nie?” Trompie klink baie benoud. “Nee, dis die maklikste deel. Vergeet dat dit twee leeus is. Dink aan hulle as twee gewone huiskatte.” Trompie twyfel of selfs sy geweldige verbeelding sterk genoeg is om aan twee brullende leeus as mak huiskatte te dink. “Ek sal jou honderd en vyftig rand betaal as jy dié paar dingetjies goed doen,” sê Markof. Almal hou Trompie dop. Hy sluk. Miranda kyk na hom, glimlag en sê: “Jy hoef nie skrikkerig te wees vir die leeus nie, Trompie. Glo my, hulle is so mak soos lammetjies.” “Is jy bang?” vra Vincent die Towenaar. “Nee, ek is nie bang nie.” Trompie stoot sy bors uit. “Die Boksombende se Kaptein is nooit bang nie.”
“Dan gaan jy dit doen?” vra Markof vinnig. “Ja,” antwoord Trompie, maar net toe hy dit sê, dink hy: Heng, wat het ek nou aangevang? Om sowaar aan ’n leeu se stert te vat – en dan nog daarmee te speel ook! Trompie word gelukgewens omdat hy so ’n dapper seun is. Hy glimlag net flou. Markof verduidelik alles weer noukeurig vir Trompie. Hy sê ook niemand moet weet dis nie regtig Danlo nie. Wanneer Vincent die Towenaar besig is met sy nommer moet Trompie vir sy vriende sê hy wil bietjie buitentoe gaan. Dan kom hy agtertoe, maak of hy die beroemde hanswors is, en gaan weer terug na sy vriende toe. “En onthou, Trompie, jy is dan honderd en vyftig rand ryker.” Alles is duidelik. Trompie praat nie veel nie – hy sit en dink die hele tyd aan die leeus. Maar hy dink hy verstaan wat hy alles moet doen. Markof sê hy kan vir sy vriende gaan sê hulle hoef nie verder te werk nie. Hulle kan maar huis toe gaan. Die sirkusbaas sal sorg dat hulle vier vanaand van die beste sitplekke kry. Rooie, Blikkies en Dawie is baie verlig toe die Grootkaptein hulle kom verlos. Trompie praat nie baie nie. Hy lyk maar bleek. Een keer sug hy swaar en sê: “As julle ouens maar net weet wat ek weet.” Maar toe hulle hom daaroor uitvra, wil hy hulle nie sê wat hy weet wat hulle nie weet nie. Hy sê net met ’n swaar stem: “Wie weet, miskien praat julle ouens môre van my as oorlede Trompie.” By die huis is Trompie ook besonder stil. Die kat hardloop verby hom en sy verbeelding werk nou so oortyd dat hy die mak katjie skielik as ’n wilde leeu sien. Trompie oorweeg dit om vir Markof te gaan sê dis nie meer nodig dat hy as Danlo optree nie. Sy pa het sy werk by die bank klaar gemaak en hoef nie meer die aand te werk nie. Hy en Trompie se ma gaan sirkus toe en hulle het vir hul seun wat so benoud en bleek lyk geld gegee dat hy ook kan gaan.
Trompie wonder of hy alles liewer moet los. Maar dan dink hy weer, nee, hy is mos nie ’n bang ou nie. En hy wil graag as ’n hanswors optree. Die mense sê dan hy is ’n gebore een. Dié aand is feitlik die hele Kwaggaberg by die sirkus. Trompie het vir sy ouers gesê hy gaan saam met sy vriende. Markof het goed vir hulle gesorg en die Boksombende sit heel voor. Hulle sit en eet lekkers en springmielies, want hulle het op die ou end nogal baie geld. Hulle het verniet ingekom en Dawie, Blikkies en Rooie se ouers het boonop vir hulle geld vir eetgoed gegee. Trompie sou die lekkers en springmielies baie meer geniet het as hy nie die hele tyd so stip na die twee leeus in die ystertraliehok in die middel van die arena gekyk het nie. Hy probeer hard, maar hy kan die twee grommende diere nie vir mak huiskatte aansien nie. Sover het Trompie sy geheim nog bewaar. Sy vriende weet glad nie wat vanaand gaan gebeur nie. Hy sug net so af en toe swaar en sê as hulle maar net weet wat hy weet. Maar aangesien hulle nie weet wat hy weet nie en hy hulle ook nie wil sê nie, stel hulle nie eintlik belang nie. Die een nommer volg vinnig op die ander. Die skare geniet die sirkus terdeë en elke toertjie word luidkeels toegejuig. Trompie geniet nie die sirkus nie. Hy dink aan wat vir hom voorlê. Een keer sê Dawie met ’n mond vol springmielies hy wonder wanneer Danlo die Hanswors gaan verskyn. Trompie mompel net dat hy ook wonder. Hy is mos ’n ou wat ’n geheim kan hou. Hulle sal môre darem lekker lag as hy vir hulle vertel dit was sowaar hy wat die leeu se stert as ’n skeerkwas gebruik het. Hy sal natuurlik ook vir hulle die honderd en vyftig rand wys, anders sal sy vriende hom nooit glo nie. Maar dan sug Trompie weer swaar. Wie weet, miskien sien hy hulle nie eens môre nie – miskien is hy dan, ’n mens kan maar sê, al ses voet onder die grond. Hoe hard hy ook al probeer, hy kan maar nie maak of daardie twee leeus mak huiskatte is nie. Nou kom Miranda aan die beurt. Dit beteken Trompie moet agtertoe gaan om Danlo se kostuum aan te trek. Hy sê plegtig vir sy vriende: “Gaan julle goed, ouens.”
Hulle kyk verbaas na hom. “En waarnatoe gaan jy?” vra Dawie. “Ek gaan sommer bietjie buitentoe,” antwoord Trompie met ’n klein stemmetjie. “Ek het pyn op my maag.” Dit voel vir hom asof hy regtig pyn op sy maag het. “Hoekom sê jy ‘Gaan julle goed’?” wil Rooie weet. “Jy’s mos nou weer terug.” “Ek hoop om terug te wees, Rooie,” sê Trompie, “maar ’n mens weet mos nooit wat kan gebeur nie.” Met nog ’n “Gaan julle goed, ouens” stap hy by die tent uit. “Ek wonder wat makeer hom dat hy van vanmiddag af so snaaks is,” sê Blikkies. Dawie en Rooie wonder ook. Maar dan kyk hulle na Miranda waar sy hoog in die lug met haar kitaar van die een sweefstok na die ander swaai en vergeet van die Grootkaptein. Trompie loop vinnig om die tent. By die klein tentjie langsaan wat as kleedkamer dien, kom hy vir Markof teë. Die sirkusbaas is baie bly om hom te sien. Dis nie lank nie of Trompie is in die hanswors se kostuum en het die mombakkies oor sy gesig. Hy dra die rooi en blou mussie en trek die swart skoene met die opkrulpunte aan. “Jy onthou wat jy moet doen?” vra Markof bekommerd. Trompie se gedagtes het skoon gaan stilstaan. Hy onthou niks nie, maar hy knik sy kop. Dan tel hulle hom op die donkie en hy kry sy sit. Hy hoor hoe Miranda kitaar speel. Sy hang nou seker hoog bokant die skare aan haar voete en speel terwyl sy so hang – en hy kan dit nie eens sien nie. Daar kom ’n geweldige applous uit die groot tent en ’n paar sekondes later hardloop Miranda by die arena uit. “Sterkte, Trompie,” sê sy.
Hy sluk net. Die mombakkies voel warm. Hy hoop nie die ding sak af sodat hy nie deur die twee gate wat nou voor sy oë is, kan sien nie. Dit sal mos vreeslik wees om daar in die leeuhok te wees en jy kan nie eens die leeus sien nie. ’n Vrolike mars kom oor die luidsprekers en toe dit ophou, hoor Trompie Markof se basstem: “Dames en here! En nou het julle die groot voorreg om die wêreldberoemde Danlo te ontmoet – die hanswors wat al in lande regoor die wêreld opgetree het! Danlo!” Iemand se hande slaan die donkie en die dier skiet vorentoe. Trompie weet hoe om donkie te ry. Die goed is gewoonlik maar stadig. Jy sukkel jou dood om hulle sover te kry om te beweeg. Maar nie hierdie een nie. Hy skiet soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe en nael met spits ore om die arena. Trompie, die beroemde Danlo, klou so al wat hy kan. Toe die orkes se marsmusiek ophou, hardloop die donkie stadiger en kom uiteindelik tot stilstand. Trompie sit nou regop en maak elegante buiginkies met sy kop. Die skare klap hande en juig hom toe. Rooie, Blikkies en Dawie voel ’n bietjie bekommerd. Hulle wonder hoekom Trompie so lank wegbly. Hy wil dan so graag vir Danlo sien – en hy gaan die hanswors misloop as hy nie nou opskud nie. Toe Trompie dink hy het nou lank genoeg so gesit en buig, spring hy van die donkie af – maar die skoene aan sy voete is so groot dat hy homself pootjie en hard neerslaan. Die skare skater soos hulle lag. Hulle dink dit is deel van die beroemde Danlo se vertoning. Trompie staan op en vryf treurig oor sy sitvlak wat so hard met die grond kennis gemaak het. Nou lag die skare nog meer. Dit is eienaardig, maar die geringste ou dingetjie wat Trompie doen – of liewer, Danlo, soos die mense dink – laat hulle skaterlag. Trompie buig ’n paar keer om te wys hy waardeer hul reaksie en dit laat die skare weer brul van die lag. Terwyl die gehoor so juig en klap, dink Trompie gou wat hy nou moet doen. Hy moet ’n paar keer bollemakiesie slaan en dan een of twee mense se fortuin vertel – en dan moet hy by die leeuhok ingaan.
Trompie staan reg. Die toeskouers is nou stil. Hulle wonder hoekom hy so stil staan. Trompie staan stil omdat hy ’n perfekte bollemakiesie wil maak. Die skare moet hom toejuig. Hy het dit een keer by die skool reggekry – en hy gaan nou weer probeer – om in die lug bollemakiesie te slaan en dan voete eerste op die grond te land. “Kyk mooi, ouens!” skree hy hard met ’n diep stem wat nogal baie soos Danlo s’n klink. Nie net die ouens nie, maar die hele skare – en die tent is stampvol – kyk mooi. Trompie hardloop vorentoe en trap vas, maar die een skoen se punt haak aan die ander skoen en hy skuif oor die aarde. Hy val nog voor hy eens kan probeer bollemakiesie slaan. Dié lomp poging van Trompie word weer eens met luide toejuiging begroet. Die Grootkaptein voel of daar nie dalk ’n been in sy lyf gebreek is nie. En hierdie voelery laat die skare weer bulder van die lag. Trompie is ’n geweldige sukses. Elke gewone, alledaagse beweginkie wat hy maak, word hard toegejuig, waarskynlik omdat die mense dink dis die beroemde Danlo wat dit doen. As Trompie homself per ongeluk pootjie en val, kan die gelag strate ver gehoor word. “Nou,” sê Trompie nadat hy vir die soveelste keer probeer bollemakiesie slaan het en vir die soveelste keer hard met moederaarde kennis gemaak het omdat sy skoene te groot is, “gaan ek iemand se fortuin vertel.” Die skare giggel. Trompie stap op en af voor hulle. Hy struikel effens en toe hy na sy skoene afkyk en onwillekeurig sê: “Jislaaik, maar hierdie goed aan my pote is groot,” skater die skare weer. In die voorste ry sit ’n jong man met ’n rooi das. Trompie ken hom goed. Hy is ’n klerk in sy pa se bank. Die hele Kwaggaberg weet hy is verlief op Bettie, die landdros se dogter. Bettie sit ’n paar rye agter die bankklerk by haar ouers. “Die man met die rooi das,” sê Trompie met ’n diep basstem, “se gedagtes is nie hier in die tent nie.”
Almal draai hul koppe en kyk na die man met die rooi das. Dit is Jan Pienaar, ’n goeie rugbyvleuel. Van sy vriende skree: “Oppas Jan, nou gaan ons al jou geheime hoor!” Jan bloos net. “Nee,” sê Trompie, “hy dink aan ander goed. Hy dink aan ’n meisie – ’n meisie wat vanaand ’n blou rok aanhet. Sy gedagtes is by iemand wat drie rye agter hom sit.” Die toeskouers rek hul nekke en toe hulle Bettie drie rye agter Jan sien sit, lag hulle heerlik. Almal weet mos Jan is verlief op Bettie. Maar die toeskouers voel ook effens ongemaklik. Dié Danlo kan regtig gedagtes lees! “Ek sê vir jou, Rooi Das,” gaan Trompie voort, “net so baie soos jy aan Blou Rok dink, dink Blou Rok aan jou. Moenie tyd mors nie. Vra haar om met jou te trou. Doen dit vanaand nog.” Jan en Bettie sit met rooi gesigte. Die skare klap hande. Hulle is regtig verbaas. Trompie stap nou asof hy baie diep dink. Dan gaan staan hy voor die blok toeskouers waar Rooie, Blikkies en Dawie heel voor sit. “Daardie drie japsnoete,” sê hy en wys na hulle, “se gedagtes is ook nie hier in die tent nie. Hulle voel ’n bietjie bekommerd, want hulle vriend het sommer net uitgegaan. Maar hulle hoef nie bekommerd te wees nie. Hy sal nou-nou by hulle wees.” Trompie draai weg en sê vir homself: “Ons hoop in elk geval so.” Net toe Trompie wegdraai, speel daar weer musiek oor die luidsprekers. Markof voel Trompie het nou genoeg gedagtes gelees. Netnou sê hy later te veel en kom die mense iets agter. Alfonso die Leeutemmer kom die arena met ’n lang sweep binne. Hy buig ’n paar keer, dan maak hy die hok se hek oop en gaan in. Trompie se hart sak in sy skoene. Nou moet hy nader stap. Die toeskouers kyk na die leeutemmer en na Danlo die Hanswors. Hulle wonder wat nou gaan gebeur. Trompie stap met ’n baie swaar hart na die hok toe. Hy staan by die ystertralies en sê hard: “Hierdie leeus is so mak soos katjies!” Dis mos wat Markof gesê het hy moet sê.
“As dit so is,” sê Alfonso, “hoekom kom jy nie in nie?” “Ek is nie bang nie,” sê Trompie die hanswors. “As ek wil inkom, sal ek.” “Nou kom dan in. Ek nooi jou.” “Ek’s nie lus nie.” “Jy ís bang, nè?” “Natuurlik nie.” Nou draai Trompie na die toeskouers toe. Omdat hy regtig skrikkerig is, bewe sy hele lyf sigbaar. Hy sê in ’n klein stemmetjie: “Kyk – lyk ek vir julle soos iemand wat bang is?” “Ja!” skree die skare laggend. Trompie sluk en mompel by homself: “Julle weet nie hoe reg julle is nie.” Dan skree hy hard: “Nou ja, ek sal julle wys ek het nie een bang haar op my kop nie!” En daar stap arme Trompie om die traliehok na die hek toe. Hy lyk en voel soos ’n patetiese figuur wat met oop oë by die kake van die dood in loop en baie grootmense in die gehoor fluister dat hierdie Danlo werklik ’n kunstenaar is. Rooie, Blikkies en Dawie hoop van harte Trompie gaan nou terugkom. Danlo is daar by die leeuhok en Trompie is nie eens hier om dit te sien nie. Dawie fluister vir die ander dat Trompie darem wraggies ’n yslike pyn op sy maag moet hê. Trompie staan voor die hek en Alfonso maak dit oop. “Kom binne,” sê hy vriendelik. Trompie se oë is groot agter die mombakkies. Hy kyk na die twee leeus wat hom stip dophou. Trompie kyk na waar sy ouers sit en dan na sy vriende. Hy waai met ’n patetiese gebaartjie vir die toeskouers. Hy lyk alleen en verlate. Die skare is stil. Ja-nee, hierdie Danlo is inderdaad ’n kunstenaar. En dan stap Trompie by die hok in. Alfonso swaai die hek agter hom toe en fluister: “Moenie bang wees nie. Niks sal gebeur nie. Hulle is gewoond daaraan dat Danlo elke aand hier inkom. Hulle sal hulle nie aan jou steur nie.”
Trompie wens hy kan dieselfde doen en hom nie aan die leeus steur nie, maar hy moet die een se stert mos soos ’n skeerkwas gebruik. “Sê nou maar net hulle ruik ek is nie Danlo nie,” fluister Trompie met ’n bewerige stem. “Hulle sal nie. Moenie bekommerd wees nie – loop maar net ’n bietjie heen en weer.” Trompie stap versigtig in die hok rond. Hy bly ver van die leeus af. Alfonso gaan aan met sy toertjies. Elke keer as hy sy sweep klap, doen die leeus iets. Dan beveel Alfonso die leeus om te gaan lê. Albei lê nou uitgestrek op die grond. Alfonso kyk na Trompie en knipoog. Dit is die teken dat Trompie nou aan een van die leeus se sterte moet vat. Trompie lyk kleiner en patetieser as ooit waar hy in die hok se een hoek staan. Hy draai na die gehoor en sê hard: “Dink julle ek is bang?” “Ja!” skree die toeskouers. “Nou ja, kyk... Kyk wat gaan ek nou doen.” Trompie stap versigtig nader aan die een leeu wat lyk asof hy enige oomblik aan die slaap gaan raak. Trompie fluister vir homself: “Dis maar net ’n katjie... ’n mak ou katjie.” Die Grootkaptein is nou agter die leeu. Alfonso staan naby en hou sy sweep reg. As iets miskien verkeerd gaan, sal hy vinnig met die sweep slaan en bevele gee. Die leeus is geleer om op sy bevele te reageer. Trompie sit gehurk agter die groot leeu. Hy sê vir die toeskouers: “Om... om te wys ek is nie bang nie, gaan ek hierdie leeu se stert nou as ’n skeerkwas gebruik.” Die skare klap hande. Trompie hoor hulle nie eens nie. Sy hart bons. Dan steek hy sy hand stadig voor hom uit – nader en nader aan die kwas agter aan die leeu se stert. Sy hand is nou omtrent ’n handbreedte van die stert af. Sy oë dwaal oor die groot
leeu se massiewe, logge liggaam. Dit lyk vir hom asof die leeu slaap. Hy hoop met sy hele hart die dier gaan nie wakker word nie. Trompie se hand kom nader en nader. Dan vat hy aan die kwas aan die punt van die leeu se stert. Hy hou dit vas en lig dit stadig en versigtig op – en die leeu se stert daarmee saam. Daar gebeur nog steeds niks nie. Die leeu draai nie eens sy kop om te sien wat hier agter hom aangaan nie. Trompie skep nou moed. Hy bring die stert se punt na sy gesig toe – en dan maak hy ’n paar kastige kwashale oor sy gesig met die hare aan die punt. Maar dan begin die probleme. Net toe Trompie dink hy het nou genoeg gewys hoe hy ’n leeu se stert as ’n skeerkwas kan gebruik en die stert versigtig wil neersit, lig die leeu skielik sy kop op. Trompie skrik hom boeglam en los die stert. Die leeu spring op, swaai om en brul en wys tande. Trompie skree: “Heng! Help!” en swaai om en hardloop – vas in die tralies. Die skare hyg na asem. Hulle is nie seker of dit deel van die vertoning is, of nie. Daar is nou ’n oorverdowende lawaai. Al twee leeus brul en wys tande. Alfonso klap sy sweep en skree bevele. Trompie begin snik en huil – en toe hy sien die een leeu kom nader, klouter hy soos ’n bobbejaan teen die ystertralies op. Hy klou nou soos ’n neet aan die tralies, ’n goeie paar voet bokant die brullende leeus se koppe. Die Grootkaptein skree verskrik vir die mense: “Help, julle! Dis ek, Trompie! Julle Trompie!” Die skare hoor die skril stem duidelik bo die lawaai. Dan kom dit asof uit een keel: “Dis Trompie! Ons Trompie!” Almal is nou op die been. Trompie se ma sê: “My seun... my seun...” en val flou. ’n Paar vroue drom om haar saam om haar te lawe. Rooie, Blikkies en Dawie skree hard: “Trompie! Red vir Trompie!” Markof is nou in die middel van die arena en skree: “Mense! Mense! Bedaar! Hy verkeer nie in gevaar nie!” Trompie huil nou nie meer nie. Die leeus het bedaar. Dit lyk asof hulle hulle glad nie meer aan hom steur nie. Hulle lê nou weer en Alfonso staan met sy sweep oor hulle.
“Jy kan maar afklim, Trompie,” sê die leeutemmer, “daar is geen gevaar nie.” “Aikôna, boetie,” sê Trompie. “Vat die goed eers hier uit, dan sal ek afklim.” Markof stap vinnig buitentoe en gaan haal die hok op wiele waarin die leeus bly. Trompie besef nou hy is glad nie in gevaar solank hy hier bo aan die tralies vasklou nie. Hy begin dit geniet. Almal weet mos nou dit is hy wat Trompie is. Hy waai vir die toeskouers, wat teen dié tyd almal op hul sitplekke staan om beter te kan sien wat aangaan. Dan skree hy: “Ma, Pa! Moenie worry nie. Ek is oukei! Rooie, Blikkies en Dawie – haai, julle ouens!” Die Grootkaptein waai vir sy vriende, wat sprakeloos na hom staan en kyk. Dawie mompel dat dit sowaar towery of iets is. Die een oomblik is Trompie hier langs hulle met ’n geweldige pyn op sy maag – en die volgende oomblik is hy daar in die leeuhok. Dis nou vir almal duidelik dat daar geen gevaar is nie en die skare begin lag. Trompie lyk baie snaaks daar waar hy aan die leeuhok se tralies vasklou. Miskien is dit ’n skokreaksie, maar die toeskouers se uitbundige gelag kan nou weer ver buite die tent gehoor word. Trompie se ma het intussen bygekom en selfs sy en Trompie se pa skater soos hulle lag. Tot Markof die kragman lag so hartlik dat hy eintlik sy maag moet vashou. Alfonso het die leeus in die hok op wiele gejaag en hulle word onder luide toejuiging by die arena uitgestoot. Dan klim Trompie – nadat hy eers ’n paar keer vir die skare gewaai het – teen die tralies af. Dit was ’n heuglike aand in Kwaggaberg se geskiedenis. Die dorp se mense het ’n vertoning nog nooit so geniet nie. Trompie se pa wou eers ’n saak teen Markof maak omdat die sirkusbaas sy enigste seun sonder sy toestemming by die leeuhok laat ingaan het, maar hy het toe besluit om dit liewer nie te doen nie. Alles het mos goed afgeloop. Trompie was weke lank Kwaggaberg se held – veral Bettie en Jan s’n. Jan het “Danlo” se raad gevolg en Bettie gevra om met hom te trou. Hulle twee is nou verloof. Trompie het toe nie sy beloofde honderd en vyftig rand gekry nie. Markof was
so in sy skik met die seun se vertoning dat hy hom driehonderd rand daarvoor betaal het. Die Grootkaptein kon sy geluk nie glo nie. Hy het al die geld wat sy pa hom voorgeskiet het terugbetaal, ’n honderd rand gespaar en daarna het hy en sy makkers dae lank by die kafee geboer. Ja-nee, soos Kwaggaberg se grootmense gereeld sê, en veral nou weer ná die sirkus: “Ai, dié Trompie darem! Waar hy is, gebeur daar altyd iets.”
Die einde
Uitgegee in 2008 deur Human & Rousseau, ’n afdeling van NB-Uitgewers, Heerengracht 40, Kaapstad
Kopiereg © 2008 NB-Uitgewers
Oorspronklik uitgegee as Trompie die hanswors (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1956)
Derde uitgawe, eerste druk
Alle regte voorbehou Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting
ISBN: 978-0-7981-4774-3 EPUB: 978-0-7981-5408-6